Die opstanding van Christus as die wortel van ons nuwe lewe

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2010-02-28
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 17
Preek Inhoud: 

Lees: Rom 6:1-14
Sing: Ps 9:1,2,7; SB 10; Ps 21:1-3; Apost Gel; Ps 9:8-10

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die Bybel plaas Christus se opstanding reg in die midde van ons Christelike lewe.  In 1 Kor 15 wys Paulus dat die hele Christelike geloof staan of val met die boodskap van die opstanding.  As Christus nie opgewek is nie, is alles verlore.  Dan is ons prediking vergeefs.  Dan is ook julle geloof vergeefs. 

Wat die apostoliese prediking betref sê Paulus: dan word ons valse getuies van God bevind, omdat ons teen God getuig het dat Hy Christus opgewek het, wat Hy nie opgewek het nie, ten minste as die dode nie opgewek word nie.  Mbt die geloof van die lidmate sê hy: as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes.  Dan is alles ’n tragiese vergissing.  Dan is jou hele Christelike godsdiens ’n illusie.  Jou verlede is dan nie versoen (reg met God gemaak) nie, jy is nog in jou sondes.  Jou toekoms is dan ook niks anders as ’n droom, wensdenkery nie.  Dan is die wat in Christus gesterf het verlore.  Jou huidige stryd is dan sinloos: ons is dan die bejammerenswaardigste van alle mense.

Hier sien julle brs en srs hoe belangrik die geloof in Christus se opstanding is.  Alles hang daarvan af.  As Christus nie werklik opgestaan het nie, dan is alles verlore, dan is daar geen hoop nie, dan is daar geen verandering in die lewe van God se kinders nie, ja, dan bly jy onderworpe aan die ewige oordeel. 

Laat ons nou nader kyk na die opstanding van Christus as die wortel van ons nuwe lewe.
1. wat ons in Christus ontvang – ons nuwe status
2. wat in Christus van ons verwag word – ons nuwe gehoorsaamheid

Romeine 6 sê pragtige dinge oor die nuwe lewe van die gelowiges.  Paulus gryp terug na die vorige hoofstuk.  In vers 1 begin hy met die vraag: “wat sal ons dan sê?  Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word?”   Daarmee reageer Paulus op ’n verkeerde gevolgtrekking wat mense sou kan maak uit die voorgaande.  Die verkeerde gevolgtrekking naamlik dat dit nie saak maak hoe jy lewe nie, solank as jy maar deel het aan die genade.  Of selfs die gevolgtrekking dat jy gerus kan aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem.  Paulus verwerp so ’n gevolgtrekking radikaal.

In die voorgaande hoofstuk – Rom 5:12-21 – plaas Paulus Adam en Christus teenoor mekaar.  Deur Adam het die sonde in die wêreld gekom.  Maar deur Christus die geregtigheid.  So het Adam ook die dood in die wêreld gebring, terwyl Christus die lewe gebring het.   Ondanks die groot teenstelling tussen Adam en Christus is daar een belangrike ooreenkoms.  Adam en Christus word beide geteken in wat hulle vir ander, wat aan hulle verbind is, beteken.   Die gedagte “een vir almal” beheers daardie gedeelte.  Wat die een mens Adam in sy sondeval gedoen het, is beslissend vir almal wat aan hom behoort, vir al sy nakomelinge.  Wat die een mens Jesus in sy gehoorsaamheid gedoen het, is eweneens beslissend vir almal wat aan Hom behoort.

Paulus se woorde het ’n sterk juridiese klank.  Die oortreding van Adam geld regtens vir almal wat aan hom behoort.  Die gehoorsaamheid van Christus geld regtens vir almal wat aan Hom behoort.   Almal wat aan Adam verbind is, is daardeur aan die sonde en die dood onderworpe.  Almal wat met Christus verenig is, mag die geregtigheid en die lewe geniet.

Gemeente, teen hierdie agtergrond sê Paulus in Rom 6:2 dat die gelowiges die sonde afgesterf het.  Daarom kan jy nie maar in die sonde bly voortlewe nie, met die verskoning dat sodoende die genade des te oorvloediger kan word.  Jy, as gelowige, het jou tyd met die sonde gehad.  Jy is nie meer onder die heerskappy van die sonde nie.

Is dit nie te optimisties nie?  Hoe kan Paulus sê dat ons dood vir die sonde is?  En dit as ’n werklikheid wat reeds plaasgevind het?  Paulus sê immers nie dat dit nog moet gebeur nie.  Nee, hy aanvaar dat dit ’n werklikheid is: ons het die sonde afgesterf.  Dis iets wat reeds plaasgevind het.  Dis ’n feit.

Maar wanneer en waar het dit dan gebeur?  Hoe het dit gebeur?  Ek het nog voortdurend las van sy sondes.  Ek is nog nie baas daaroor nie.  Hoe kan Paulus dan sê dat ek dood vir die sonde is?

Paulus maak duidelik wat hy bedoel deur na julle doop te wys.  Jy is gedoop.  En wat sê die doop vir jou?  Die doop bring jou simbolies in gemeenskap met Christus.  Deur die doop is jy in Christus ingelyf, is jy een met Hom.

Natuurlik is dit nie outomaties die geval nie.  Hier het jy met die sakramentele spreekwyse te make.  Die doop bly net teken en seël van wat Christus aan jou wil gee.  As jy dit in geloof aanvaar, dan sien jy dat die teken en dit wat daarmee aangedui word een is.  Jy het die teken ontvang van jou inlywing in Christus.  Dat baie mense hul doop verwaarloos is geen rede om te dink dat daardie wonderlike werklikheid nie aan jou doop verbind kan word nie.

As ’n gelowige sien jy daarom in jou doop jou inlywing in Christus.  En as jy met Christus verenig is, dan is jy een met Hom in sy dood en opstanding.  Jou doop neem jou saam in Christus se dood en opstanding.  Dit wat Christus deurstaan het, het jy ook regtens deurstaan.  Christus se dood is jou dood, jou dood as straf op die sonde.  Jou dood vir die sonde.  Het Christus nie as een vir almal gesterwe nie.  Hulle wat in Hom gesterwe het, is dus regtens vry van die sonde.  Die vereiste straf is betaal. 
Christus se dood is daarom jou dood. 

Maar ook: Christus se opstanding is jou opstanding.  Sy lewe is jou lewe.  “Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons sekerlik ook met Hom een wees in sy opstanding.” En: “As ons dan saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe, omdat ons weet dat Christus, nadat Hy opgewek is uit die dode, nie meer sterf nie.  Die dood heers oor Hom nie meer nie.”   Christus leef.  Hy het die oorwinning behaal.  Hy leef nou vir God, dws tot eer van God.  So mag jy nou ook in Hom vir God lewe.

Sinds Pase mag jy glo in daardie nuwe werklikheid: jy leef vir God.  Daardie lewe vir God is van nou af aan ’n normale saak in hierdie wêreld.  Die begin is reeds hier en nou sigbaar, in die gelowiges.  En dit sal kompleet wees sodra ons by die Here is: saam met Christus lewe tot eer van God.

Brs en srs, in vers 11 maak Paulus die gevolgtrekking: So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, ons Here.  Danksy Goeie Vrydag en Pase het jy in ’n nuwe situasie tereggekom.  Jy het regtens oorgegaan van die dood na die lewe.  In geloof moet jy reken dat jy vir die sonde dood is.  Jy kan niks verwag van iemand wat dood is nie.  Deur die geloof in Christus mag jy reken dat die sonde niks meer van jou kan verwag nie.  Die sonde kan regtens niks meer van jou eis nie.  Jy is dood vir die sonde.  Jou situasie mbt die sonde is die van ’n dooie persoon.  Maar mbt God kan van jou gesê word: jy is lewend vir God in Christus Jesus.  Die oorwinning is in beginsel reeds behaal, deur Christus.  So mag jy jouself beskou: ’n oorwinnaar in Jesus Christus.  So mag jy jou situasie beoordeel.  Want dit is God se oordeel oor jou.  Dis hoe God oor jou dink in Christus Jesus.

Maar geliefdes, is dit nie te idealisties nie?  Durf jy dit van jouself te sê: dood vir die sonde en lewend vir God in Christus Jesus?  Is dit realisties?  Die sonde is tog nog nie dood nie?  Is die sonde inteendeel nie lewend en aktief in ons lewens nie?  Tot my skande moet ek dit daagliks erken en ervaar.

Maar, brs en srs, let goed daarop dat Paulus nie sê dat die sonde dood is nie.  Hy weet van beter.  In hoofstuk 7 beskryf hy die invloed wat die sonde nog in sy lewe het: “As ek die goeie wil doen, is die kwaad by my aanwesig.”  Nee die sonde is absoluut nog nie dood nie.  Paulus sê iets anders.  Hy sê: jy is dood vir die sonde.  Dit is jou nuwe regterlike status in Christus.  Die sonde kan jou lewe nie meer opeis nie.  Christus het jou lewe opgeëis.  Met sy bloed.  In beginsel is jy reeds in Hom oorwinnaar.

Dink jy dit is te gedurf om dit van jouself te sê?  Jy is tog gedoop?  Jy ontvang tog die evangelie?  Nou, wat is die boodskap van die evangelie anders as die verlossing in Jesus Christus?  Glo dit net.  Aanvaar hierdie wonderlike genade van God.  Omhels Jesus Christus, hou vas aan Hom.  Wees een met Hom deur die geloof.  Dan is wat ek gesê het inderdaad waar vir jou: jy is dood vir die sonde en lewend vir God in Christus Jesus.  Dit is jou nuwe status in God se oë.  Dis hoe Hy jou beskou.

Maar dan is daar ook die tweede deel van die verbond: die roeping tot nuwe gehoorsaamheid.  Dis die tweede gedagte van die preek: Wat God in Christus van jou verwag – jou nuwe gehoorsaamheid.

Geliefdes, julle nuwe status moet ook jou leefwyse word.  Die oorwinning in beginsel moet gevolg word deur die oorwinning in die praktyk.  Daarom is daar die imperatiewe in Rom 6:12 & 13, daardie bevele: “Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie.  En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God.”

Let daarop brs en srs in watter volgorde Paulus die dinge noem.  Hy begin nie met die bevele nie: doen dit en moenie dit doen nie.  Nee, Paulus kom eers met God se verlossingswerk in Jesus Christus.  Hy laat jou eers sien hoe ryk jy is.  Hy wys eers jou nuwe posisie in Jesus Christus.  Jy is dood vir die sonde en lewend vir God.  Dis afgelope tussen die sonde en jou.  Die sonde kan geen regte in jou lewe meer opeis nie.  Nee, jou lewe vir God eis volle regte op.  Jesus Christus het daarvoor gesorg.

Nadat Paulus dit alles gesê het, kom hy met die bevele.  Vanweë die heerlike werklikheid in Christus verwerp Paulus radikaal die suggestie dat jy rustig in die sonde kan voortleef sodat die genade oorvloediger kan word.  Immers, hoe kan iemand wat vir die sonde gesterf het, daarin voortlewe?  Dis onmoontlik.  As daar ’n breuk tussen jou en die sonde gekom het dan kan jy tog nie aan die kant van die sonde bly staan, daarin bly lewe nie?  God se verlossingswerk soek sy uitwerking in die praktyk van die lewe.  Waarom verlos God mense?  Tog dat hulle weer tot sy eer lewe?  Daarom is daar die imperatiewe, die bevele.  

Paulus se oproep kom hierop neer: toon in jou lewe, wat jy reeds in Christus ontvang het.  Laat die vrugte van Christus se oorwinning oor sonde en dood sigbaar wees.  “Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie.”   Hier word die sonde vergelyk met ’n koning wat wil heers.  En waar wil dit heers?  In jou sterflike liggaam, sê Paulus.  Dis die gebied waar die sonde jou aanval.  Dis die werktuig waardeur die sonde sy invloed uitoefen.  Ons swak sterflike liggame, is, so te sê, die wegkruipplek van waaruit die sonde ons te gronde wil rig.  Via die liggaam met sy begeertes wil die sonde jou bly bestook.  Dis waar jy nou teen moet veg.  Laat die sonde nie langer heers nie.  Dit het geen reg daarop nie en moet buite die deur gehou word.  Laat die liggaam wat deur die sonde bedreig word, eerder in diens van God gestel word.   Is Christus nie jou koning nie? 

Daarom: moenie julle lede – jul oë, ore, verstand, tong, jul hande en voete ens - stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie.  Br, sr, seun, dogter, jy weet hoe maklik dit kan gebeur.  Die lede van ons liggaam word so maklik tot beskikking van die sonde gestel.  Wat maak jy met die pragtige skepping van God, jou liggaam met sy onderskeie ledemate?  Wat maak jy met jou oë en ore?  Dink net aan die dinge wat jy kies om te sien en te hoor.  Watter programme, watter videos, DVD’s kyk jy na?  Stel jy jou oë en ore in diens van die sonde of in diens van God?  Die sonde lok ons so maklik.  Wat maak jy met die tong wat God aan jou gegee het, daardie wonderlike gawe van spraak?  Word God daarmee geëer en die naaste gedien?  Watter leuens, laster en vuil taal word soms nie geuit nie.  Jy voel later sleg daaroor, maar jy het dit tog maar gesê.  En jou verstand, jou intellektuele vermoëns?  Wat maak jy met hulle?  Wie dien jy daarmee?  Hoe dikwels stel ons ons verstand nie in diens van die sonde nie?  Dalk is ons trots op ons vermoëns?  En rig ons alles op ons eie eer, posisie, loopbaan: ons beskou onsself as die belangrikste persoon, nie God nie.  Hou daarmee op, sê Paulus.  Moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde nie.  Laat jou lede nie langer funksioneer as werktuie van ongeregtigheid nie.  Gee jouself, al jou lede, as ’n offer aan God.  As mense wat oorgegaan het van die dood tot die lewe.  Jy is tog in Christus Jesus dood vir die sonde en lewend vir God?  Wys jou nuwe status in die praktyk van jou lewe, by die huis, by die werk, by die skool, in jou sport en ontspanning.  As jy dood vir die sonde is, kan jy tog nie jou lede bly gebruik in diens van die sonde, as werktuie van ongeregtigheid nie?

Geliefdes, ons bely dat Jesus werklik uit die dood opgestaan het.  Jesus leef.  ’n Geweldige belydenis.  Hou dit vas.  Leef ooreenkomstig daarmee.  As jy sê: Jesus leef dan beteken dit dat jy ook lewend is in Hom.  Dan is daar geen manier dat jy kan bly lewe in jou ou sondige lewenstyl.   Dat Christus leef, moet ook in jou lewe sigbaar wees.  Anders sou jou belydenis net ’n holle frase wees, ’n leuen.   As Jesus Christus leef – en dit glo jy tog - dan leef jy ook.  Dan floreer jou lewe weer tot eer van God.  Jy kan Christus se lewenskrag nie keer nie.  Dit sal homself wys.

Geliefdes, Paulus sluit sy vermaning af met die ryke belofte: Want die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade. 

Die sonde sal oor jou nie heers nie.  Is dit nie te sterk gesê nie?  Wat van die sondes wat nog in ons is, waaroor ons eerder gepraat het?  Ly ons nie dikwels weer nederlae nie?  Lyk dit nie dikwels asof ons aan die verloorkant is nie?

Paulus het ’n antwoord op hierdie probleem.  Hy verwys jou nie jou jouself nie, na jou veggees of jou geestelike krag nie.  Hy sê nie: spring daarvoor, maak seker dat jy nie verloor nie.  Sou hy dit gedoen het, dan sou ons saak inderdaad ’n verlore saak wees, soos die situasie onder die wet met sy bevel: doen dit en jy sal lewe.

Nee, Paulus rig ons aandag weg van onsself op Jesus Christus, op God se genade.  Jy is nie onder die wet nie, maar onder die genade.   In Jesus Christus het die genade verskyn.  En genade beteken: God gee jou alles in Jesus Christus, daarom vra hy ook alles.  Ja: God gee wat Hy beveel.

En gemeente, onder die heerskappy van die genade ontvang jy die waarborg dat die sonde nie die oorhand sal kry nie.  Voorlopig bly daar die stryd.  Maar in Christus is jy meer as oorwinnaar.  Die beslissende stryd is reeds gestry.  Christus het oorwin.  Danksy daardie oorwinning mag jy seker wees van die finale oorwinning.  Jy het ’n Here wat leef en seëvier.  Sy krag wek jou op tot ’n nuwe lewe.  Die sonde het nie die laaste woord nie, ook Satan nie, maar Jesus Christus jou Here.

Vind jy dit te groots om waar te wees?  Reageer jy soos ’n kind wat verleë is met ’n groot verrassing: is dit werklik vir my?  Christus antwoord: ja seker, dit is my genade vir jou.  Dis hoe groot die waarde van my dood en opstanding is.  Dink net aan jou doop.  Luister na die evangelie.  Aanvaar dit in geloof.  Dit alles is ook vir jou.  Ek leef, daarom mag jy ook lewe.  Wys dit dan. 

Amen

Liturgie: 

(kyk in preek)