Hoe sal die gemeente groei as ék nie groei nie?

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2010-02-28
Teks: 
Judas 1:20-21
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Hoe sal die gemeente groei as ék nie groei nie? Hoe sal die gemeente opgebou word as ek nie “sáám opgebou word tot ‘n woning van God in die Gees” nie (Ef. 2:22)? Hoe kan ons verwag dat die gemeente in ‘n periode van dertien jaar moet groei – dit is omtrent hoe lank die gemeente van Maranata nou bestaan – as die lidmate nog op dieselfde vlak van geloof is as dertien jaar gelede? Dus, broers en susters, ons kan nie oor die opbou van die gemeente praat as iets wat dáár plaasvind nie, iets wat los van my gebeur nie. Nee, elkeen van ons is immers sélf deel van die gemeente! Ons is mede-bouers, ja, maar ons is sélf ook lewende stene wat deel van die gebou uitmaak. En dan ontstaan die vraag: Maar hoe lewendig is die stene in hierdie gebou? Is daar groei en opbou in jou en my persoonlike geloof? Bou lidmate hulleself op, sodat daardeur ook die gemeente gebou kan word? Kom ons luister vandag na die oproep van Judas, die Here Jesus se jonger boetie, wat self ook moes leer wat dit beteken om te groei in geloof.

Volgens vers 3 skryf Judas in hierdie brief oor die “gemeenskaplike saligheid” van die gelowiges (hy sê daar: “Geliefdes, terwyl ek alle ywer aanwend om aan julle oor ons gemeenskaplike saligheid te skrywe…”); dít is dus waaroor sy brief gaan! Nou, broers en susters, dit is ‘n baie opmerklike uitdrukking wat Judas hier gebruik – “ons gemeenskaplike saligheid”. Hierdie uitdrukking was naamlik in die politiek van daardie dae ‘n gebruiklike aanduiding vir dié dinge wat met die algemene staatsbelang te make gehad het; ons kan sê dat hierdie uitdrukking na die staatsveiligheid verwys het. Wanneer dit met die gemeenskaplike saligheid goed gesteld was, dan het dit met die staat ook goed gegaan. En hierdie uitdrukking word deur Judas nou toegepas op die kerk. Sy doel met hierdie brief is dus om te skryf oor ‘n saak wat van algemene belang is vir die heil en veiligheid van die kerk, naamlik – só sê hy aan die einde van vers 3 – die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is.

En wat sê hy oor hierdie geloof? Wel, volgens Judas moet die gelowiges kragtig stry vir hierdie geloof. Aangesien dit hier gaan oor die heil en veiligheid van die kerk en van die gelowiges persoonlik, moet die geloof – en dan bedoel hy spesifiek die inhoud van die geloof – ten alle koste verdedig en uitgedra word. Daar is ‘n groot stryd wat gevoer moet word vir die geloofsinhoud. En die rede hiervoor, sê Judas in vers 4, is dat sekere mense die kring van die gelowiges binnegesluip het, en ‘n bedreiging vir die geloof begin vorm het. Hierdie mense was ‘n groot gevaar vir die veiligheid – die ‘gemeenskaplike saligheid’ – van die kerk. Maar hoekom eintlik? Wat het hulle presies gedoen?

Broers en susters, Judas wy vervolgens die hele middelste gedeelte van sy brief (verse 5-16) daaraan om duidelik te maak hoe hierdie binnesluipers ‘n bedreiging gevorm het. En dit wil voorkom asof hy hom spesifiek bekommer het oor die lewenswyse van hierdie – wat hy noem – “goddelose mense”. Hierdie mense binne die kring van die gelowiges het skynbaar baie vrysinnige morele waardes gehad; hulle het in hulle lewenwandel totaal verwêreldlik. Ja, hulle het sekulêr geword. Ons lees naamlik verskeie kere dat hulle volgens hulle eie goddelose begeerlikhede gewandel het (verse 16 en 18). Hulle het, in die woorde van vers 4, die genade van God verander in ongebondenheid – dit beteken dat hulle die waarde van God se genade sodanig verlaag het, dat losbandigheid en immoraliteit vrye teuels gekry het; asof God se genade ‘n vrypas is om te lewe soos wat jy wil, en asof God by voorbaat in elk geval alle sondes vergewe! Hierdie mense wou wel christene wees, maar hulle wou nie hê dat dit hulle lewenswandel moes beïnvloed nie; hulle wou wel by die kerk behoort, maar hulle wou nie hul lewens inrig volgens die gebooie van die Here van die kerk nie. Los van hulle christenskap wou hulle intussen lewe soos wat dit hulle pas. En ja, op só ‘n manier het hulle inderdaad ‘n bedreiging gevorm vir die heiligheid van die kerk en vir die veiligheid van die gelowiges.

Let wel, broers en susters, Judas is hier nie maar net besig om ‘n denkbeeldige gevaar te skets nie, ‘n donker lugkasteel van gevaar nie. Nee, Judas staan met altwee voete op die grond. En hy herinner sy lesers daaraan dat hy nie die eerste is wat hierdie waarskuwing aan hulle rig nie: “… onthou wat tevore gespreek is deur die apostels van ons Here Jesus Christus, dat hulle vir julle gesê het: In die laaste tyd sal daar spotters wees wat volgens hul eie begeerlikhede wandel… sinnelike mense wat die Gees nie het nie” (verse 17-19). Ons het hier te make met ‘n reële gevaar, mense wat werklik ‘n bedreiging is vir die gemeenskaplike saligheid in die kerk. Hulle is ‘n bedreiging vir die lewenswandel van die gelowiges, hulle is ‘n bedreiging vir die morele waardes in die kerk, hulle is ‘n bedreiging vir die gesinne en die huwelike van die gelowiges. En Judas word, vanweë hierdie dreiging, geforseer om die rooi ligte te laat flikker – gevaar! Oppas asseblief!
Broers en susters, ons tyd is nie werklik anders, of hoe? In ons tyd behoort ons maar al te goed te weet waarvan Judas praat. Ons ken ook hierdie – kom ons noem hulle maar – sekulêre christene; mense wat sê dat hulle glo, maar wie se lewenswandel ‘n totaal ander storie vertel; mense wat mooi oor die Here Jesus kan praat, maar wat intussen goddeloos lewe. En ook in ons eie lewens, in ons eie huise en gesinne dreig hierdie gevaar: ek glo, ons glo, maar intussen skep ons ons eie morele waardes, lewe ons volgens eie goeddunke. Ek is ‘n christen, veral op Sondae, maar vir die res van die week weerspieël my lewe baie weinig hiervan. Ja, ons behoort Judas se waarskuwing baie goed te verstaan; ons lewe immers in ‘n land waarvan ‘n groot deel van die bevolking hulleself christene sal noem, maar wat intussen lewe soos goddelose mense. En hoeveel daarvan het al by onsself ingesluip?

Maar voordat ons nou dink dat hierdie dreigende gevaar met die gepaardgaande waarskuwing die kern van Judas se brief vorm, en dat ons daarom vandag niks anders as ‘n negatiewe boodskap gaan hoor nie, kom ons lees verder. Die gevaar en die waarskuwing daarteen is naamlik nie die kern nie. Dit is belangrik, ja, want dit skep die agtergrond vir Judas se loflied in die laaste verse, dit skep die bastoon waardeur die melodie van die loflied soveel skoner na vore kom, máár dit is nie die belangrikste nie! Die belangrikste in hierdie brief is dat God ons, te midde van hierdie gevaar, bewaar! Dít is die kern van hierdie brief!

En Judas beklemtoon dit wanneer hy sy brief hiermee begin én eindig. Luister maar na vers 1: “Judas, ‘n dienskneg van Jesus Christus en broer van Jakobus, aan die wat geroep, in God die Vader geheilig en vir Jesus Christus bewaar is.” En in die slot lees ons: “Aan Hom nou wat magtig is om julle vir struikeling te bewaar…” (vers 24). In sowel die opening as die slot van hierdie brief word die lesers van Judas se brief dus daarvan verseker dat God hulle, ten spyte van die dreigende gevaar, vashou en bewaar. Deur hierdie boodskap van bewaring só in die begin en aan die einde van die brief te plaas, wys Judas dat God sy kinders as’t ware omarm, in sy arms toevou. Veilig in die arms van God – dít is waar die gelowiges hulleself mag bevind, maak nie saak wat die bedreiging is nie!

Broers en susters, Judas teken dus in hierdie brief vir ons die dreigende gevaar van ‘n verwêreldlikte lewenswandel om daardeur God se genadige bewaring soveel skoner na vore te kan bring. Want sou iemand, wat nie besef dat hy in gevaar verkeer nie, enigsins beskerming en bewaring soek? Nee, slegs teen die agtergrond van die gevaar verstaan ons dat ons dringend bewaring nodig het, en dat Gód daar is om dit te verskaf! “Bewaar my tog, o God, op wie ek vertrou! Ek skuil by U, my toevlug in die lewe.”

Maar goed, hoe doen God dit? Hoe bewaar Hy sy kinders van die dreigende gevaar? Hoe gaan Hy jou lewe en die lewe van jou opgroeiende kindertjies en die lewe van jou tienerkinders teen die gevaar van verwêreldliking beskerm? Wanneer ons mooi na Judas se brief luister, dan wil dit voorkom asof God ons hierby inskakel, ons neem aktief deel in ons eie bewaring. Want terwyl ons weet dat ons vir Jesus Christus bewaar is (vers 1), word ons vervolgens in vers 21 opgeroep om nou ook onssélf te bewaar… in God se liefde! Dit herinner ‘n mens aan die woorde van die Here Jesus in Johannes 15:9, waar Hy sê: “Soos die Vader My liefgehad het, het Ek julle ook liefgehad. Bly in hierdie liefde van My.” Die inisiatief gaan dus van God uit – Hy bewaar my in sy liefde, en dit is ‘n heerlike sekerheid om te mag hê – maar daarna word ons opgeroep om ook binne die veilige sone van God se liefde te bly!

En nou moet ons nie dink, broers en susters, dat ons veiligheid skielik ons verantwoordelikheid geword het nie; dit is nie so dat God sy deel gedoen het, en nou moet ons ons deel doen nie. Nee, ons bewaring tot die ewige lewe is voluit God se werk, en gelukkig ook maar! God verdien daarvoor alle lof en heerlikheid en majesteit en krag en mag, nou en tot in alle ewigheid! Maar… dan moet ons ook by Hom bly, dan moet ons in ons hele lewe Hom ook navolg! Kom ek gee ‘n voorbeeld: as ‘n mediese dokter, wat in Bagdad werk, tydens opstande en bomaanvalle deur die polisie uit die stad begelei word, dan is daardie dokter veilig solank as wat hy binne die polisie-begeleiding bly. As hy sou besluit om sy eie pad te gaan, dan is hy blootgestel aan die gevare, en dan kan die polisie ook nie meer sy veiligheid waarborg nie. Net so is dit ook in ons verhouding met God: God belowe bewaring, maar daardie bewaring is net by Hóm te vinde, dit is slegs wanneer ons by Hóm bly! Dáár moet ons dan ook wees. En só kan ons die opdrag van ons teks verstaan: Bewaar julleself in die liefde van God – bly dus veilig by die Here, moenie afdwaal nie!

En, gemeente, wanneer ons na die Grieks van ons teks (verse 20 en 21) kyk, dan is dit ook presies hoe die hoofsin in hiedie twee verse lui: “Maar julle, geliefdes, moet julleself in die liefde van God bewaar…” Dit is die hoofsin, en dan volg daarop as toevoeging en as konkretisering die woorde van vers 20: “terwyl julle julself opbou in jul allerheiligste geloof en terwyl julle in die Heilige Gees bid…” Dus, ons kry die duidelike  opdrag om onsself in die liefde van God te bewaar – en aan hierdie opdrag gee ons uitvoering wanneer ons enersyds onsself opbou in die geloof en wanneer ons andersyds in die Gees bid. Nou goed, kom ons bestee ‘n bietjie aandag aan hierdie twee aspekte waardeur ons in God se liefde kan bly…

1. In die eerste plek word ons opgeroep om onsself op te bou in die allerheiligste geloof. Die woord wat hier vir ‘opbou’ gebruik word, beteken om verder te bou op ‘n fondament of op ‘n bestaande struktuur. Dus, as gelowige hoef jy nie van die grond af te begin bou nie, jy hoef nie met niks te begin nie; nee, as gelowige bou jy bo-op iets wat reeds bestaan. En daardie iets is die allerheiligste geloof, waarvan Judas in vers 20 praat. Ons bou bo-op die geloof – die geloofsinhoud – wat God aan ons geskenk het. En daarom word dit ook die ‘allerheiligste’ geloof genoem, want dit kom van God af. Dus, broers en susters, dit gaan hier oor die inhoud van ons geloofsbelydenis! Dáármee moet jy jouself opbou, en dáárin moet jy groei! Dít is die belangrikste middel wat die Here gee sodat jy veilig in sy liefde kan bly, naamlik die geloofsinhoud, soos wat ons dit vind in die Bybel en soos wat dit vir ons verwoord word in ons belydenisgeskrifte.

Gemeente, werk ons aktief met hierdie genademiddel wat die Here aan ons skenk? En as ek dit vra, dan vra ek daarmee uiteraard na jou omgang met die Skrif en die belydenis, dan vra ek na jou persoonlike Bybelstudie, na jou bywoning van die eredienste, na jou bywoning van die gemeentelike Bybelstudies en die weeklikse katkisasies. Dit is van die grootste belang! Maar, let wel, dit gaan ook oor meer. Want die vraag is nie net of ek al hierdie dinge doen nie, die vraag is veel eerder: wérk ek aktief daarmee? Want onthou wat Judas sê: julle moet julleself opbou in julle allerheiligste geloof. Opbou! Om te bou is harde werk – dit vra aksie, dit vra insette, dit vra aktiewe betrokkenheid. Ek kan daarom nie maar net tevrede sê dat ek die eredienste getrou bywoon nie, want ek moet myself vervolgens ook afvra: wat doen ek met die preke? Hoor ek dit, maar plaas ek dit vervolgens langs my neer wanneer ek Maandagoggend die werksweek binnejaag? Dit is nog nie opbou-werk nie, broers en susters! Ek kan ook nie slegs sê dat ek persoonlike bybelstudie doen nie, want die volgende vraag is: hoe werk dit deur in jou lewe? Wat werk dit uit? Of is jy maar net tevrede wanneer jy ‘n stukkie gelees het? Is jou gewete gesus wanneer jou Bybel oop was? Dit is nog nie opbou-werk nie! Jy kan ook nie maar net sê dat jy die gemeentelike Bybelstudie bywoon nie, want daarmee saam kom die vraag: Het jy deeglik daarop voorberei? Het jy voorstudie gedoen? Het jy nagedink wat ‘n sekere gedeelte vir jou en jou mede-gelowiges beteken? Of is jy alreeds tevrede met die blote feit dát jy daar was? Weereens, broers en susters, die feit dat jy daar was is nog nie opbou-werk nie!

Persoonlike bybelstudie, die gemeentelike bybelstudies en die eredienste is nie slegs iets wat ek ondergaan nie; ek kan nie maar net sê: “Ek was daar, en ek het dit gedoen nie.” Nee, om met die genademiddel van God se Woord en van ons belydenis te werk, vra aktiewe inset. Jy moet dit só gebruik, jy moet só daarmee werk, dat jy daadwerklik daardeur in jou geloof opgebou word. En in die lig van die konteks van Judas se brief is dit veral belangrik dat ons onsself deur middel van die Woord sal toerus om ‘n Godvresende lewenswyse te kan hanfhaaf, dat ons onsself sal bewapen teen ‘n sekulêre, vrysinnige moraliteit. En dit is ook presies waarvoor die Woord bedoel is. Paulus sê immers in vir Timotheus in 2 Timotheus 3 dat “die hele Skrif deur God ingegee is en nuttig is tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.” Só moet ons met die geloofsinhoud besig wees. Dit moet só wees dat, elke keer wanneer ek klaar bybel gelees het, elke keer wanneer ek by die kerk uitstap, elke keer wanneer ek huistoe gaan vanaf jeugvereniging, daar nog ‘n stukkie toerusting in my rugsak bygekom het waardeur ek as kind van God in hierdie wêreld kan gaan lewe. En dít vra insette, dit is harde werk, dit vra toewyding. Maar die resultaat, broers en susters, is lewende stene, wat ‘n lus vir God se oog is, en wat saam opgebou word tot ‘n woonplek vir God se Gees.

Om jouself te bewaar in God se liefde – dít is kerklike opbouwerk wat gebaseer is op die algemene en ontwyfelbare christelike geloof! Hierdie fondament vra voortdurende bou-aktiwiteit – vir jou en my persoonlik, maar ook vir ons almal saam! Kom ons doen dit dan ook! Kom ons kry mekaar vanmiddag weer hier in die eredienste om in ons geloof gebou te word; kom ons ontmoet mekaar hierdie week by die bybelstudies om saam deur die Woord opgebou te word; kom ons wend opnuut ‘n poging aan om ons huisgodsdiens ‘n kragtige middel te laat wees tot opbou van ons geloof!

2. Die tweede aspek waarop Judas ons aandag rig waardeur ons onsself in God se liefde kan bewaar bewaar, is die gebed. Judas roep ons immers in vers 20 op om in die Heilige Gees te bid. Ja, dit is ‘n logiese opeenvolging. Wie homself in geloof met die Skrif en die inhoud van die geloof besighou, ontvang as gawe daarby ook die Gees van Christus. Dié twee gaan altyd saam! En wie die Gees ontvang, kan vervolgens ook gaan bid. Slegs wanneer ons eers na die Here in sy Woord luister, ons ore gespits hou om sy duidelike stem te hoor, slegs dan kan ons ook gééstelik daarop antwoord in ons gebede. Want ons is nie van nature geestelike mense nie, ons besit die Gees nie outomaties nie. Nee, Christus skenk die Gees aan ons in en deur sy Woord. En dit staan in skrille kontras tot dié persone waarteen Judas waarsku. Net hiervoor, in vers 19, waarsku Judas sy lesers teen die sinnelike mense, mense wat die Gees nie het nie. Ja, hulle noem hulleself christene, maar hulle lewe nie volgens die Woord en wil van die Here nie. Hulle het nie die Gees nie, en daarom kan hulle ook nie na behore bid nie.

Maar as gelowiges mag ons weet dat die Gees in ons woon. Bid dan ook in die Gees. Deur die gebed betree ons die wonderlike kragveld van die Heilige Gees, Hy wat aan ons die krag gee om onsself in God se liefde te bewaar. Ook die apostel Paulus wys op die krag van die gebed in die Gees – die Gees is ons geheime wapen in die stryd teen die bose geeste (lees maar Ef. 6:18), die Gees leer ons hoe ons moet bid (Rom. 8:26-27), en die Gees lê die belydenis van Jesus op ons lippe (1 Kor. 12:2-3). Gemeente, ‘n diepe afhanklikheid van die Heilige Gees wat ons beleef in ‘n intensiewe gebedslewe, bewaar die gelowiges vir geestelike verval en stimuleer hulle tot ‘n heilige lewenswandel. Moet daarom nie hierdie kragtige middel in jou lewe verwaarloos nie. Die gebed is waarskynlik die kragtigste wapen teen die gevare wat op ons afkom. Gebruik dit! As daar moeites kom, as jy bekommerd is, as jy vrae het waarop jy self nie antwoorde het nie – ja, wat die geval ook al mag wees – gaan op jou knieë en bid! Verwoord teenoor God dat jy Hom liefhet en dat jy sy bewaring en sy liefde so nodig het.

Woord en gebed – dit is die middele wat God gee waardeur ons veilig in sy liefde kan bly. En dit is geen verdienste van ons kant af nie; nee, ons gebruik eenvoudig die middele wat God gee. God, ons Bewaarder en Beskermer, gee vir ons sy Woord en die gebed. En as ons mooi na die kombinasie van hierdie twee kyk, dan kan ons in feite sê: God gee vir ons hemelse kommunikasie. Hy spreek, ons antwoord – en dit verbind ons aan mekaar! Dit hou my binne sy invloedsfeer, só word ek in sy liefde bewaar.

Lees jou bybel bid elke dag – hoe nodig het ons nie, gemeente, om onsself hiermee besig te hou nie. Die gevaar is so groot dat ons sekulêre christene word, christene wat met die mond die Here Jesus bely maar met die daad Hom verloën, christene wat sê dat hulle glo maar wat intussen soos goddeloses lewe. En daarom moet jy aktief hierdie middele gebruik! Want dit trek ons aandag af van wat hierdie wêreld ons wil bied, dit trek ons aandag af van die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe (1 Joh. 2:16). En dit laat ons eerder met verwagting uitsien na die barmhartigheid van Jesus Christus tot die ewige lewe (vers 21). Wie in God se liefde bly, sien uit na die vervolmaking van daardie liefde en sien uit na die wederkoms van Jesus Christus. Sy fokus is nie meer op aarde nie; nee, daardie persoon bou vir die ewigheid! En dit beteken nie dat jy geen twyfels meer gaan hê nie; dit beteken nie dat jy geen vrae meer gaan hê nie. Nee, Judas verwys na hierdie lidmate wat kan twyfel, wat vrae het. Aan hulle moet barmhartigheid bewys word. Hulle mag en hulle moet rustig voortgaan met die Woord en in die gebed.

Maar, gemeente, let ook op die teenoorgestelde… Mense wat hulleself nie meer opbou in die allerheiligste geloof nie en wat ook nie meer in die Gees bid nie, mense wie se bybelstudie en gebed en bywoning van die eredienste platgeval het – dit is húlle wat kwesbaar word vir die wêreldse lewenswandel van die goddelose. Dit is hulle wat agteruit gaan in die geloof, dit is hulle wie se lewens uitmekaar begin val en wat hulleself in ‘n helse gevaarsone bevind. Hulle kan nie sag hanteer word nie; nee, hulle moet uit die vuur geruk word, ‘n vinnige en harde reddingsaksie is hier nodig. Gemeente, kom ons let op hierdie broers en susters, hulle wat agteruitgaan in die geloof omdat hulle nie meer hemelse kommunikasie beoefen nie. Kom ons gryp hulle voordat dit te laat is – bel hulle wanneer hulle nie in die eredienste is nie; roep hulle op om saam bybelstudie te kom doen; vra hulle hoe dit met hulle gebedslewe gaan. Laat ons hulle nie aan hulle lot oorlaat nie.

Broers en susters, hoe sal die gemeente opgebou word as ek nie self opgebou word nie? – dit is die vraag waarmee ons begin het. Judas het vir ons, in die lig van die dreigende gevare, die groot belang van hierdie vraag gewys. Maar hy het ook vir ons die weg gewys hoe ons onsself behoort op te bou. Laat bybelstudie en gebed daarom die kern-aktiwiteit van hierdie gemeente wees. Nee, nie die enigste aktiwiteit nie, maar wel die kern-aktiwiteit, die brood en botter waarsonder ons as gemeente nie kan groei nie. En hoor dan die belofte van die Here Jesus: “Omdat jy die Woord bewaar het van my lyde en lydsaamheid, daarom is Ek jou ook ‘n Bewaarder in die uur van sware stryd. Ek kom gou! Hou dan bestendig wat my mond aan jou beloof.”

Amen

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Votum Ps. 121:1
Seëngroet: Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen. Sing Ps. 92:1, 2 en 5
Sing as voorbereiding op die wet Skr. 26:1
Wetslesing
Sing Skr. 26:10 en 11
Gebed
Lees: Judas 1
Sing Ps. 16:1
Teks: Judas 1:20-21
Preek
Amenlied Skr. 43:1, 2, 4 en 5
Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 121:2 en 4
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)