Christus se lyding bring vir ons sondaars bevryding

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2010-02-14
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 15
Preek Inhoud: 

Lees: 2 Kor 5:11-21
Sing: Apost Gel; SB 7:4,5,8; SB 8:1,2; Ps 99:1,2,5

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons staan vanaand stil by Christus se lyding.  ’n Mens sou kan sê: ons weet ondertussen wel wat lyding is.  Ons word daagliks daarmee gekonfronteer.  Verskriklike lyding in die wêreld maar ook in ons eie land.  Dink net aan die lyding as gevolg van die aardbewing in Haiti,  en aan die geweld en marteling wat dikwels gepaard gaan met plaasmoorde in ons land.  Wie weet nie wat lyding is nie.  Ons vind dit verskriklik om iemand pyn te sien ly.

Maar gemeente, Christus se lyding, besef ons wel wat dit beteken.  Die menslike lyding wat jy rondom jou en via die media sien is verskriklik.  Moenie dit onderskat nie.  Maar kan ons Jesus se lyding daarmee vergelyk?  Nee, dis baie anders en swaarder.  Wat is dan die verskil tussen Christus se lyding en ons lyding?  Nou, sy lyding was ’n offer, ’n betaling, ’n losprys.  As ons ly dan betaal ons niks daarmee nie, seker nie die skuld van ander nie.  Christus het gely as volkome onskuldige terwyl ons almal skuldige sondaars is en die ergste lyding, naamlik die hel, verdien het.  Christus het gely as mens sonder sonde.  Nie afgestomp soos ons deur die sonde nie.  Hy het haarfyn aangevoel wat Hom aangedoen is.  Hy het die toorn van sy Vader herken en in sy volle skerpte gevoel.  Die kruis was vir hom nie net die foltering van sy liggaam nie en die spot van die mense nie, maar dat God die Vader hom verstoot het.  Ons kan nie soos Hom ly nie, want niemand stel homself tot ’n losprys vir ander nie, niemand is sonder sonde nie, en niemand weet wat die helse kwelling is nie.

Ons stel Jesus se lyding dus nie op een lyn met ons lyding nie.  Dis volkome uniek.  Hy ly vir ander, in die plek van ander.  As onskuldige neem Hy die lyding op Hom om skuldiges te bevry.  Sy lyding is ’n losprys vir baie sondaars.

Ek vat die boodskap soos volg vir julle saam:

Christus se lyding bring vir ons sondaars bevryding
1. die oorsaak van die lyding: Hy is vir ons tot sonde gemaak
2. die doel van die lyding: sodat ons in Hom regverdig voor God kan wees.

Christus se heilige ontvangenis en geboorte beteken ’n volstrek nuwe begin.  Adam en sy vrou kon nie anders as die sonde en die dood aan hul kinders deurgee nie.  Dit het ’n ononderbroke ketting van sonde en dood geword.  Orals waar nuwe menselewens begin het, daar was die lewe in skuld en vloek voor God verlore.  Dit kon nie anders nie: elkeen is in sonde ontvang en gebore.  Maar Christus het die ban van die sonde en die dood deurbreek.  Ontvang van die Heilige Gees was Hy van meet af aan heilig gewees.  Hier het jy die eerste mens sonder sonde, sonder erfskuld en sonder erfsmet.  Want Jesus het nie deel aan Adam se sonde nie.  Hy is vry daarvan.  ’n Volstrek nuwe begin.

En tog: Hy wat geen sonde geken het nie, het God sonde vir ons gemaak.  Hy het geen sonde geken nie.  Reeds van die eerste aanvang af deur die Heilige Gees geheilig.  Daarom sal hy wat uit die maagd Maria gebore is, heilig genoem word, die Seun van God.  Hy is die volstrek heilige.  Die sonde is van nature vreemd vir hom.  Hy is nie vertroud daarmee nie.  Hy ken dit nie uit ervaring nie.  Wat geen sonde geken het nie.  Hy is die sondelose.

Nogtans het God Hom vir ons sonde gemaak.  Vir ons dws ter wille van sondaars soos ek en jy, sondaars wat in skuld verlore was.  By alles wat die Vader Christus aangedoen het, het hy ons saligheid op die oog gehad.

Christus is sonde gemaak.  Wat word daarmee bedoel?  Dit word duideliker deur wat in 2 Kor 5 volg, naamlik die woorde: “sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom”.  Dat ons geregtigheid van God word, kan nie anders beteken as dat ons deur God as regverdiges gereken en behandel word.  Nou, dat Christus sonde gemaak is, wil sê dat Hy as sonde gereken word.  God sien hom aan en behandel hom as sonde.

Let daarop, daar staan nie dat Hy tot sondaar gemaak is nie.  Hy bly die sondelose.  Die sonde bly hom innerlik vreemd.  Maar nou word Hy van buite af so te sê een stuk sonde gemaak.  Die sondige beginsel waardeur die mens die doel gemis het, waardeur die mens totaal misluk het, waardeur die mens in skuld en vloek voor God verlore was, daardie sondige beginsel word Christus toegereken.  Hy word deur God beskou en behandel as belaai met die sonde wat ons almal van nature eie is.  Die sonde van die hele menslike geslag kom op Hom.

Hier moet jy, broers, suster, egter nie aan die sonde dink as die optelsom van alle sondes wat mense ooit gedoen het nie.  God staan nie teenoor Jesus met ’n rekenboek in die hand waarin alle individuele sondes opgeteken staan nie.  Nee, ons moet terug na die een sonde waaruit alle ander sondes voortgekom het, die een sonde waardeur ons al ons uitnemende gawes verloor het en aan die verdoemenis onderworpe is.  Die sonde is ’n mag, ’n beginsel.  As daardie sonde weggedra, gebreek word, dan kan daar herstel kom.  Dan word ook die sondes, wat uit die bron voortgekom het, uitgewis.

So is Christus tot sonde gemaak.  Wanneer het dit plaasgevind?  ’n Mens sou kan sê: by sy menswording.  Hy het homself ontledig.  Hoewel hy ryk was, het Hy terwille van ons arm geword, sodat ons deur sy armoede ryk kan word (vgl 2 Kor 8:9).  Hy het vir ons ’n vloek geword.

Vanaf daardie oomblik het God in Hom ons sondes gesien.  Hy is teen sy heilige natuur in behandel asof hy ons sonde self was.  Sodat uiteindelik die sonde in sy vlees geoordeel en vernietig sou word.  Wat anders deur die veroordeling van almal sou geskied het, geskied nou deur die veroordeling van een.  God reken so te sê eers en vir altyd af met die sonde.  Hy handhaaf sy reg.  Hy stil sy toorn.  Hy breek die mag van die sonde sodat dit nie langer oor sy kinders kan heers nie.

God het ons met liggaam en siel geskape.  Ons het met liggaam en siel gesondig.  Ons hele menswees het onder die vloek gekom.  Alles was verdorwe.  Christus het dan ook na liggaam en siel die vloek gedra.  Bewus.  Daarom is Hy uiteindelik ook in lewende lywe aan die kruis gehang en is nie net sy dooie liggaam aan die paal gehang nie.  Hy moes na liggaam en siel die uiterste lyding ondergaan. 

En vergis jou nie in die uur en in die duur van sy lyding nie.  Dit begin sodra Christus tot sonde gemaak word, dus van die begin van sy lewe op aarde.  En dit gaan deur tot die einde daarvan.  Tydens sy hele lewe op aarde het hy die toorn van God teen die sonde gedra.  Dit begin reeds by sy geboorte.  Die krip waarin hy lê, dat daar geen plek vir hom in die herberg is nie, sy besnydenis, sy vlug na Egipte.  Jesus Christus is nouliks in die wêreld of Hy moet reeds begin om te betaal.  Sy lewe is van begin tot einde ’n losprys.  Hy word gereken as sondaar, as skuldige in ons plek.  God begin al dadelik om alles van hom af te neem. 

Ons mense tob dikwels oor die lyding in hierdie wêreld.  Daar word inderdaad onnoemlik baie gely.  Maar mense vergeet so dikwels dat Jesus Christus die alleswaarste lyding op hom geneem het.  En waarom het Hy dit ondergaan?  Om juis die lydende en sterwende wêreld weer in die gemeenskap van God se liefde terug te bring.

Die kategismus noem afsonderlik twee belangrike momente uit Christus se lyding.  Allereers dat Hy onder Pontius Pilatus gely het.  Christus staan onder die amptelike instrument van God.  Pilatus verteenwoordig immers die deur God ingestelde owerheid.  Hy tree op as ’n dienaar van God.  Wanneer hy Jesus na die kruis verwys, doen hy dit as instrument in diens van God.

In ons kategismus bely ons dat Christus onskuldig deur die wêreldlike regter veroordeel is sodat ons daardeur van die streng oordeel van God, wat oor ons moes kom, bevry sou word.  As daar iemand is wat dit raakgesien het, is dit ons Here Jesus.  Hy het sy lyding uit die Skrifte gelees.  Hy kwalifiseer Pilatus se mag dan ook as ’n mag wat hy van bowe ontvang het.  God self bring die hele Romeinse mag- en regstelsel in beweging om Jesus te veroordeel en na die kruis te bring.  Want God het ’n saak met hierdie heilige man Jesus.  Hy is inderdaad uit homself onskuldig.  Tog is Hy tot sonde gemaak .  Daarom moet Hy ondanks sy eie onskuld, terwille van ons sondes, veroordeel word.  So word die regterstoel van Pilatus die regterstoel van die lewende God self.   So word Pilatus se uitspraak God se uitspraak: onskuldig veroordeel. 

En God se Seun laat hom deur sy eie Vader veroordeel, verdoem.  Jesus ons Borg.  Want Hy staan hier belaai met ons sondeskuld.  So sien God hom daar staan, belaai met die sonde van jou en my.  So kom hy ook aan die kruis.  Dit is die tweede moment uit Christus se lyding waarop die kategismus ons aandag vestig.

Die kruisdood is ernstiger as elke ander dood.  Want die hele regstelsel in hierdie wêreld kan nie meer doen as iemand die doodsvonnis oplê nie.  Verder kan hulle nie gaan nie.  Die liggaamlike dood is vir mense die uiterste.  Tog is daar onder God se volk ’n bepaalde vorm van straf wat meer as net die fisiese dood beteken.   Dit is die kruisdood, om aan ’n paal te hang.  Volgens die wet van Moses is iemand wat aan ’n paal hang deur God en mense vervloek.  Die persoon hang tussen hemel en aarde.  Hy is uitgestoot uit die gemeenskap van God en mense, deurgeskuif na die helse verlatenheid. 

So is ons sonde vernietig.  Petrus skryf oor die Here Jesus: “wat self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het.”  Al ons sondes het so te sê op hom gelê.  Hy het dit saamgeneem in sy liggaam toe Hy op die kruis gespyker is.  Hy het die sondes omhoog gedra soos ’n priester die offer op die altaar moes opdra.

Daarmee het Hy ook die sondes laat verdwyn.  Wanneer Hy aan die kruis sterf, sterf ook in Hom die sonde, dit word tot niet gemaak.  Soos ons dit nav Kol 2:14 in ons nagmaalsformulier sê: “Hy het sy geseënde liggaam aan die kruis laat spyker om die skuldbrief van ons sonde daaraan vas te heg en so tot niet te maak.”  Daarom kan die apostel Petrus ook praat van die afsterwing van die sonde van hulle wat aan Christus behoort: “wat self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe.”

Hier vind ’n wonderlike wisseling, ruil plaas.  Hom wat geen sonde geken het nie, het God sonde vir ons gemaak sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.  Die volmaakte heilige word deur God as een en al sonde beskou en behandel.  Terwyl ons wat een en al sonde is, deur God as regverdiges beskou en behandel word.  Die sonde moes feitelik in ons veroordeel gewees het.  Maar wat het God gedoen?  Hy het ons en ons sonde van mekaar geskei.  Daarenteen het Hy Christus en ons sonde aan mekaar gekoppel.    Die sonde word van ons, wat die sonde liefhet, weggeneem.  Dit word op Hom wat die sonde haat, gelaai.  Waarom?  Sodat Christus se geregtigheid op ons oorgedra sou word.  Daarmee is die wisseling, die ruil kompleet.  Christus belaai met ons sonde, ons beklee met Christus se geregtigheid.  Paulus druk dit uit met die woorde: sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.  Hier vereenselwig Paulus ons, die sondaars, met die geregtigheid.  Ons word in Christus beskou as volkome regverdig.  Ons kan voor God bestaan sonder verskrikking, as onskuldig.  

Gemeente, God het Christus sonde gemaak, nie net om sy reg te handhaaf nie.  Dit kon hy ook gedoen het deur die hele menslike geslag aan die verderf oor te gee.  Maar God wou ons ook terug in sy gemeenskap kry.  Hy wou ons van die oordeel bevry en ons voor Hom stel as regverdiges,  asof ons alle gehoorsaamheid volbring het.  Deur Christus se gehoorsaamheid, selfs tot die dood aan die kruis, het Hy ons geregtigheid geword en het Hy ons nie net vrygespreek nie, maar ons ook die lewe teruggegee.  Soos Adam deur sy ongehoorsaamheid ons skuldig gemaak het en die dood oor ons laat heers het, so het Christus deur sy gehoorsaamheid tot die kruisdood toe, ons geregtigheid voor God geword.  Daarmee is God se doel bereik.  God kan ons nou met volle reg vryspreek van skuld en ons weer in sy gemeenskap opneem.  Onder Pontius Pilatus het die regsproses teen my plaasgevind.  Daar het God die proses teen my geopen en ook beëindig.  Daar is my skuld deur die heilige God veroordeel.  ’n Ander regsproses wag my na hierdie proses nie meer nie, of dit moet wees my allerlaaste definitiewe vryspraak by Christus se wederkoms.  Dit waarvoor ons by die doopvont gebid het, mag dan volle werklikheid word: Ek mag op die laaste dag sonder verskrikking voor die regterstoel van Christus, God se Seun, verskyn.  Ek mag Hom as regter uit die hemel verwag wat hom tevore in my plek voor die regbank van God gestel en alle vervloeking van my weggeneem het.

En broers en susters, daardie vryspraak word vir julle verkondig in die bediening van die versoening.  Julle hoef die laaste vonnis van die Regter nie onseker af te wag nie.  Dit word julle onthul in die prediking wat in die naam van Christus aan julle gebring word.  Daarin word verkondig dat een vir almal gesterf het.  God wil alles wat Jesus gedoen het op jou en my rekening plaas.  Dus het hulle almal gesterf, sê Paulus.  Dus het ons almal saam met Christus gesterf.

In Naam van Christus bid ons: laat julle met God versoen.  Deur Christus het God die wêreld met homself versoen.  Die versoening is deur God self.  En Hy het ons die bediening van die versoening toevertrou.  Ons mag dit bedien, opdis, aanreik.  Aanvaar daardie woord van versoening.  Aanvaar die woord van die kruis.  As ’n krag van God tot redding van elkeen wat glo.  Aanvaar Jesus Christus as jou plaasvervanger, as jou losprys.  Leef vanuit die versoening wat God reeds tot stand gebring het.  Leef as verloste kinders van God.  In geloof en vertroue.    Regverdiges, laat hoor die blye tyding! Sing voor die Heer ’n lofsang van bevryding, ’n sang wat juig oor skuldvergiffenis.  Sing, wie opreg van hart en wandel is!

Amen

Liturgie: 

(kyk in preek)