Die Here Jesus se ontvangenis en geboorte

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2010-02-07
Teks: 
I Johannes 4
Preek Inhoud: 

Lees: 1 Joh 4; Mt 1:18-25
Sing: SB 27; SB 4: 1-5; Ps 98:1,2; Ps 71:4,9,10

Elke kind wat in die gemeente gebore word, word gedoop.  Daardie babas ontvang die teken van die afwassing van die sondes.  Water moet gebruik word – ons babas het reeds die afwassing van sondes nodig, hulle is in sonde ontvang en gebore.  Water word gebruik – die babas ontvang simbolies die afwassing van sondes. 

Vanaand preek ek oor Christus se menswording.  Die Seun van God het mens geword.  Hy het ons menslike natuur aangeneem.  Hy het ’n kind soos ons kinders geword.  ’n Ware kind, ’n ware mens, soos elkeen van ons.  Met die swakhede wat onder mense normaal is.  As kind moet Hy nog alles leer.  Hy moet leer om te loop, om te praat, om te lees en om te skryf.  Hy het ook honger en dors kry, pyn en verdriet ervaar.  Hy sou ook moeg word na ’n besige dag.  Hy kon ook huil wanneer iets hom bedroef het.  Hy het werklik een van ons geword, in alle opsigte soos ons, maar sonder sonde.

Nou gemeente, wat het hierdie twee dinge: die doop van ons kinders en Christus se menswording, met mekaar te make?  Dit het alles met mekaar te make.  Indien die Seun van God nie ’n baba geword het nie, sou ons babas nie gedoop kon word nie en sou daar vir hulle en vir elkeen van ons geen uitsig wees nie. 

Ek verkondig vir julle: die Here Jesus se ontvangenis en geboorte

1. die ontkenning van hierdie belydenis
2. die noodsaak van hierdie belydenis
3. die nut van hierdie belydenis

’n Mens kan so gewoond raak aan die belydenis van die heilige ontvangenis en geboorte van Jesus Christus dat jy nouliks meer besef wat dit vir jou beteken.  Dit klink als so bekend dat dit nie by jou opkom om dit te betwyfel nie. 

Maar gemeente, vanaf die begin tot vandag toe het mense hierdie belydenis ontken en bestry.  Deur hierdie belydenis vas te hou, kom jy in die moderne wêreld steeds meer alleen te staan.  Mense wil net nie die maagdelike geboorte van Christus aanvaar nie.  Dit lyk vir hulle waansinnig.  Probeer om dit voor te stel: Maria was swanger met Jesus voordat sy seksuele omgang met ’n man gehad het.  Onder ons mense is dit onmoontlik.  Die moderne mens kan baie. Teenwoordig kan jy selfs ’n kind in ’n proefbuis voortbring.  Maar daarvoor is altyd wel nodig die eiersel van ’n vrou en die saadsel van ’n man.  Maar by Jesus was daar geen man betrokke nie.  Deur die krag van die Heilige Gees het Maria swanger geword.

Onder ons mense is dit onmoontlik.  Daarom glo baie mense dit nie.  Mense wil nie in sulke wonders glo nie.  Selfs onder mense wat hulleself as Christene beskou, vind ’n mens hierdie ongeloof.  Hierdie mense sê dan: wat maak dit saak hoe die Here Jesus gebore is.  As dit so belangrik is, waarom bly twee van die vier evangeliste stil daaroor?  Waarom noem die apostels hierdie maagdelike geboorte nie in hul briewe nie?

Dit lyk dalk slim vrae te wees.  ’n Mens kan egter nie ontken dat die Skrif hierdie wonder van Jesus se maagdelike geboorte tog baie uitdruklik in Mt en Lukas vermeld nie.  Daarom indien mens die maagdelike geboorte ontken, ontken jy feitelik die absolute gesag van die Skrif.  Jy ontken dan dat die Bybel in sy verslag van Jesus se geboorte betroubaar is.  Dis nie meer die onfeilbare woord van God nie, maar dit het ’n feilbare woord van mense geword.

Bowendien, hierdie leer van die maagdelike geboorte is van fundamenteel belang.  Die mense wat nie glo dat ons Here Jesus uit die maagd Maria gebore is nie, ontken feitelik dat ons Here Jesus ware en ewige God is.  Want daardie baba Jesus is nie net ’n gewone baba nie.  Nee, Hy is gelyktydig ook God.  En as God het Hy reeds lank, ja ewig bestaan.  Hy het bestaan lank voor sy geboorte, lank voordat sy moeder Maria bestaan het.  Hy was reeds ware en ewige God, die ewige Seun van God.

Die nuwe van sy geboorte in Bethlehem was dit: Hy wat God was, het nou ook mens geword. Hy het mens geword terwyl Hy God gebly het.  Dis iets wat ’n mens nie kan verstaan nie.  Hoe kan Hy tegelykertyd God en mens wees?  Maar dit is wat die Bybel oor ons Here Jesus sê.  En dit is wat ons moet glo.  Want juis in daardie wonder sien jy God se onmeetlike liefde.

Maar baie wil nie aanvaar dat Jesus God is.  Hul probleem met die maagdelike geboorte is verbind aan hul probleem met die feit dat Jesus God is.  Sulke ongeloof is nie net iets van die laaste tyd nie.  Daar is niks nuuts onder die son nie.  Die Bybel het ons reeds op hierdie teenstand voorberei.  Vanaf die begin het mense hulle vererg aan wat Jesus gesê en gedoen het.  Die evangelies beskryf dit vir ons.  Die teenstand is reeds daar aan die begin van Jesus se publieke optrede in sy vaderstad Nasaret.  Die mense sê: Is Hy nie die seun van die timmerman nie?  Is  die naam van sy moeder nie Maria en die van sy broers Jakobus en Joses en Simon en Judas nie?  En sy susters, is hulle nie almal by ons nie?  (Mt 13:55,56).  Dis hoe Mt die reaksie van die mense uit Jesus se vaderstad verwoord.  Daar is geen verwondering oor die misterie van Jesus Christus nie.  Hulle verwoord eerder hul ergernis oor hom: wat dink hy wel van homself, hy is niks meer as ander nie, hy kom uit ’n gewone en eenvoudige gesin.  

Uit die Evangelies weet ons dat hierdie ergernis gegroei het.  Joh 5 vertel ons dat hulle probeer om Jesus dood te maak.  Waarom?  Omdat Hy God sy eie Vader genoem het, waardeur Hy homself aan God gelykgestel het.  Hulle noem dit godslastering.

Dit lyk asof die Jode opkom vir die eer van God.  Hoe durf ’n mens hom aan God gelykstel?  Maar skyn bedrieg.  Seker hier.  Dis nie die grootheid van God wat die Jode dryf om Jesus dood te wil maak nie.  Hulle stel meer belang in hul eie grootheid.  Dit verhinder hulle om Jesus te aanvaar as die God van hul verlossing.  Wanneer jy Jesus as die God van jou verlossing aanvaar, dan kan jy nie langer roem in jou eie werke of prestasies nie.  Daarom neem die Jode en so baie mense vandag aanstoot aan Jesus.  As jy Hom nie as die Seun van God aanbid nie, as jy jou verlossing nie as sy genadewerk wil aanvaar nie, dan sal jy aanstoot aan hom neem.

In die gedeelte wat ons uit 1 Joh 4 gelees het, word ons opgeroep om die geeste te beproef om te sien of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan.  Joh het te make gehad met mense wat ontken het dat die Seun van God in die vlees gekom het.  Die mense het waarskynlik ’n skerp teenstelling gesien tussen stof en gees, liggaam en siel.  Die gees is beskou as goddelik en goed terwyl die stof geskape en sleg sou wees.  Daarom is ons menslike liggaam minderwaardig en sleg beskou.  ’n Mens moet probeer om op ’n hoër vlak te kom en ’n geestelike wese te word.  Nou gemeente, as volgens hierdie opvatting daar so ’n skerp kontras tussen God en die geskape stoflike wêreld is, dan is dit ondenkbaar dat God hom met hierdie stoflike wêreld sou verenig.  Daarom word dit as onmoontlik beskou dat die Seun van God mens sou geword het.  Hulle het toe die konstruksie bedink van ’n skynbare menswording.  Volgens Cerinthus, ’n ketter uit Joh se tyd,  was Jesus die seun van Josef en Maria.  By Jesus se doop sou die goddelike Christus op hom neergedaal het, waardeur Jesus wonders kon doen.  Voor die kruisiging het die goddelike Christus Jesus weer verlaat sodat net die mens Jesus gely het.  Daar was dus geen blywende eenheid tussen Christus en Jesus nie.  Die seun van God het nie werklik mens geword nie, Hy het net tydelik op die mens Jesus neergedaal. 

Joh noem sulke valse leraars wat die menswording van Christus ontken Antichriste.  Die gees van die Antichris is in hulle.  Joh skryf: “Hieraan ken julle die Gees van God: elke gees wat bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het, is uit God; en elke gees wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie, is nie uit God nie; en dit is die gees van die Antichris waarvan julle gehoor het dat hy kom en hy is nou al in die wêreld.”

Ons leer om te onderskei tussen die gees van die waarheid en die gees van die leuen.  In 1 Joh 2:22,23 lees ons: “Wie is die leuenaar, behalwe hy wat ontken dat Jesus die Christus is?  Dit is die Antichris wat die Vader en die Seun loën.  Elkeen wat die Seun loën, het ook nie die Vader nie.”  Dit wys brs en srs die erns van ons belydenis.  As jy ontken dat Jesus God se Seun is wat die Vader in die wêreld gestuur het, verloor jy ook die Vader.  Loëning van die maagdelike geboorte van Christus beteken ’n loëning van God se groot liefde vir die gevalle mensdom.  Daarom benadruk Joh in sy brief voortdurend God se groot liefde.  “Hierin is die liefde van God tot ons geopenbaar, dat God sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan lewe” (4:9).  Daarom is dit so ernstig om die werklikheid van ons belydenis te ontken: ontvang van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria.  God se liefde gaan dan aan jou verby en jy het ook geen deel aan God die Vader nie.  Dis die gees van die Antichris.  Laat ons dit goed besef. 

Aan die ander kant: “Elkeen wat bely dat Jesus die Seun van God is – God bly in hom en hy in God” (4:15).  Daarom geliefdes, wees waaksaam.  Stel die geeste op die proef of hulle uit God is.  Hou vas wat jy het en laat niemand jou kroon wegvat nie.  Hou aan om Jesus te bely as die Seun van God wat mens geword het uit die vlees en bloed van die maagd Maria.  Jou verlossing hang daarvan af.  Immers, as Jesus net mens sou wees, dan sou Hy jou nie kan verlos nie, jou nie met God kan versoen nie.  Dan sou jy geen Middelaar hê wat jou sondes voor God bedek nie.

So kom ons by die tweede gedagte: die noodsaak van hierdie belydenis.

Die kategismus noem my sonde waarin ek ontvang en gebore is.  Moenie dit vergeet nie.  Soms is ons geneig om te dink dat ons sondes en sondigheid nie al te sleg is nie.  Dit spreek vanself dat ons vergewing van sondes nodig het.  Ons is nie volmaak nie.  Maar aan die ander kant: Ons doen tog nie so sleg nie. 

God praat anders daaroor in die Bybel.  Paulus skryf in Rom 3: “almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God.”  Hy verwys ons terug na die eerste sonde van Adam en Eva in paradys.  Daar het ons menslike natuur so bedorwe geword dat ons almal in sonde ontvang en gebore is.  Die sonde is ons natuurlike element waarmee ons gebore is.  Vanaf die eerste begin van my persoonlik bestaan is die sonde daar.  En die sonde maak my ’n voorwerp van God se toorn.

Koning Dawid het die ernstige werklikheid daarvan weer ontdek na sy sonde met Batseba en Uria.  Hy noem dit in Ps 51: “Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.”

Ja, dis die miserabele situasie wat ons deur ons sondeval in Paradys oor onsself gebring het.  Daarom is ons en ons kinders vanaf ons ontvangenis aan allerhande ellende, ja selfs aan die ewige oordeel onderworpe. Met ander woorde: van nature is ons as gevolg van die sonde bestem vir die hel.  En van ons kant is daar absoluut geen moontlikheid om ’n nuwe begin te maak nie.  Die sonde bly by ons.  En daarom verdien ons die toorn van God.  Ons het God verlaat, sy verbond verbreek.  Van benede uit is daar geen vooruitsig nie.  Ons kan onsself nie red nie.  Geen gewone mens kan ons van die hel na die hemel lei nie.  Selfs nie konings soos Dawid of Salomo nie.  Dink aan die geslagsregister van Mt 1.  Daardie geslagsregister belig die menslike mislukking.  Wat ’n fiasko.  Hoe was die groot aartsvaders Abraham, Isak en Jakob?  Het hulle die mensdom gered? Hulle was self sondig.  En wat van Dawid en sy nakomelinge?  Het hulle Israel van die oordeel gered en hulle na die nuwe hemelse paradys gelei?  Nooit nie.  Inteendeel, hul regering het uitgeloop op die Babiloniese ballingskap.  Die hele geslagsregister eindig met die onaansienlike Josef.  Daar is niks wat jy van die mens kan verwag nie.  God moes ingryp.  ’n Nuwe begin was nodig.  ’n Verlosser wat nie deel het aan die gemeenskaplike sonde en skuld nie.  Een wat nie in sonde ontvang en gebore is nie.

Nou, God het inderdaad met die oplossing gekom, die oplossing vir die geslagsregister wat die menslike fiasko belig.  Julle lees daarvan in Mt 1:18-25, onmiddellik na die geslagsregister.  God gryp in.  Hy maak die onmoontlike moontlik.  Hy gee die Verlosser.  Jesus is sy naam, wat letterlik beteken: die Here verlos.  By hierdie beslissende oomblik word die menslike inisiatief, aksie aan die kant gesit.  Josef, die man met wie Maria verloof is, is nie nodig om die Verlosser in die wêreld te bring nie.  Sou hy betrokke wees, dan sou die sonde net deurgegee word.  Want orals waar babas langs die normale weg – deur die intieme eenheid van man en vrou – verwek word, word die sonde en skuld deurgegee.  Daarom laat God Josef opsy.  Die verlosser is ontvang van die Heilige Gees.  Die Heilige Gees berei ’n liggaam vir Jesus Christus in Maria se skoot.  Hier breek God die normale, natuurlike orde: ontvang van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria.  Sodat Jesus Christus in alle opsigte soos ons sou wees, maar sonder sonde.  Hier het jy die radikale nuwe begin in ons menslike vlees.  God verbreek die ketting van sonde en skuld.  Hier het jy ’n mens sonder sonde.  Een wat nie aan die ewige oordeel onderworpe is.  En dit is van groot belang vir jou en my.

Dis die derde gedagte: die nut van hierdie belydenis

Die vraag: “watter nut verkry jy uit die heilige ontvangenis en geboorte van Christus”, word baie persoonlik beantwoord: “Dat Hy ons middelaar is en met sy onskuld en volkome heiligheid my sonde waarin ek ontvang en gebore is, voor God bedek.”

God se nuwe begin in Adam se vlees het alles met my te make.  Dit raak my juis daar waar my verdorwenheid begin het, in my ontvangenis en geboorte, in die aanvang van my bestaan.  Verlossing is radikaal.  Dit gaan terug na die wortel van my bestaan.  My sondige oorsprong word bedek deur daardie volmaakte start wat Jesus Christus gemaak het.

Jesus Christus was volmaak vanaf sy ontvangenis en geboorte.  Hy het alles oorgedoen wat ek bederf het.  Hy het op my voetspore teruggegaan in onskuld en volkome heiligheid.  Hy het sy lewe in die plek van my lewe geplaas.  Hy het sy heiligheid oor my onheiligheid geplaas.  So kan ek as heilig beskou word.  God kan my nou behandel asof ek net so onskuldig en heilig as Christus is.

Daarom kan ons weer werklik bly wees met die geboorte van ’n kind.  Inderdaad, ons kinders deel in die ketting van sonde – hulle is in sonde ontvang en gebore en daarom aan allerlei ellende, ja, selfs aan die ewige oordeel onderworpe.  Hulle word groot in ’n sondige en gebroke wêreld.  Jy sou amper huiwer om in so ’n wêreld nog kinders te kry.  Hulle staar lyding en dood in die oë.  Maar wanneer jy Jesus Christus ken – ontvang van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria – dan word dinge anders.  Daar is weer lig, lewe en vreugde.  Jesus Christus het die pad na lig en lewe geëffen.  Daarom mag ons kinders heilig genoem word – in Christus geheilig.  Daarom behoort hulle gedoop te word.  Van nature skuldig en onheilig, mag hulle as onskuldiges en heiliges gereken word, deur Jesus Christus wat uit die maagd Maria gebore is.

Daarom mag elkeen van julle in hoop lewe.  Daar is nog die sonde en die dood.  Dit kan jou moedeloos maak.  Wat ’n mislukkings.  Wat ’n teleurstellings.  Maar dit is nie die einde van die verhaal nie.  Daar is lig aan die einde van die tonnel.  Ja, daar is nou reeds lig.  Die ketting van sonde en verderf is verbreek.  Jesus Christus is ontvang van die Heilige Gees en gebore uit die maagd Maria.  Hier het jy jou ware Verlosser: God en mens in een persoon.  Jou verlossing is radikaal en totaal.  Van begin tot einde.  Want Jesus Christus het jou plek van geboorte na die dood toe ingeneem.  Daarom mag jy lewe, nou en vir ewig.

Amen

Liturgie: 

(kyk in preek)