Verloste volk van God: loof die Here

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2010-02-14
Teks: 
Jesaja 12
Preek Inhoud: 

Lees: Jes 11:11-12:6
Sing: Ps 96:1,2; Ps 96:5,6; Ps 126:1,2; Ps 105:1-3; Ps 146:1,3

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

God bly sy verlossing aan ons verkondig.  In Woord en sakrament.  Hy het my verlos.  My bevry uit die mag van satan en sonde.  Sodat ek vry as kind van Hom mag lewe.  Met Ps 124 sing ons: “Die troue Heer het self ons vrygemaak: die strik is los en ons het vrygeraak, vry soos ’n voël wat vind sy vryheid weer.  Die ewige God, van alle dinge Heer, Hy is ons hulp, Hy het ons vrygemaak.”

Broers, suster, wat is jou reaksie op daardie verlossing?  So ’n duidelike blyk van verlossing kan nie anders as ons dring tot lof en dank.   Dit blyk duidelik uit ons teks: “En julle sal in die dag” – dws in die dag van jou verlossing – “sê: Dank die Here, roep sy Naam aan” ens.  Die verlostes roep mekaar toe en spoor mekaar aan: Verhef die Here in woord en lied.  Vanweë sy groot verlossingsdade. 

Ja, dis die verloste kerkvolk wat daartoe opgeroep word.  Dis die nuwe inwoners van Sion.  Sien vers 6: “Juig en jubel, o inwoners van Sion!”  Die kerkvolk word opgeroep tot feestelike vreugdebetoon.  Die vreugde kan en mag nie onder stoele of banke weggesteek word nie.  Dit moet uiting kry en vir elkeen sigbaar en hoorbaar wees.  Verloste mense is sigbaar bly met hul verlossing.

Ek verkondig vir julle: verloste volk van God: loof die Here
1. die uitgangspunt van die lof: God se inwoning
2. die doel van die lof: God se eer
3. die bereik van die lof: die wêreld

Waarom word die kerkvolk tot vreugdebetoon opgeroep?  Vers 6 noem die rede: “want die Heilige van Israel is groot in julle midde.”  Die Here is in jul midde.  Hy is aktief onder julle aanwesig.  Letterlik staan daar: “Want groot in jul midde is die Heilige van Israel.”  Daardeur val ’n sekere nadruk op die woord “groot”.  God is die almagtige wat grootse dinge gedoen het en nog doen.  Nou nie teen sy volk nie, maar vir sy volk.  Hy wil as die almagtige Verlosser onder julle woning maak.  Met Hom in jul midde is julle onvoorstelbaar sterk en magtig.  Niemand kan julle skade doen nie.

Hierdie aanwesige God word immers die Heilige van Israel genoem.  Hy is die Heilige.  Dink aan die lied van die serafs in hoofstuk 6.  Hulle sing mekaar toe: “heilig, heilig, heilig is die Here van die leërskare”.  Daarmee besing hulle die Here in sy goddelike verhewenheid en majesteit.  As die Heilige is Hy ’n verterende vuur vir alle onheiligheid.  Dit sal sy vyande ontdek.  Jesaja profeteer reeds van die vernietiging van die vyande van God se volk.  Die Heilige van Israel wys homself in sy heilige vuur teenoor die skenders van sy heiligheid.  En die skenders is nie net buitelandse vyande nie.  As die heilige van Israel gaan die Here ook die onheiligheid van sy volk verwyder.  Blykens Jesaja se profesie was daar heelwat om te suiwer.  Binne die eie verbondsvolk was daar die lewenskending.  Pleks van reg was daar bloedvergieting en regsverkragting.  Dis die situasie waarin die volk verkeer wanneer Jesaja vir eers sy profesie laat hoor.  Wat ’n ryke toekoms vir die volk wanneer hulle die weldadige teenwoordigheid van die Heilige van Israel mag ken.  Pleks van die lewensskending is daar die lewensbeskerming.  Die Heilige van Israel sal homself in hul midde as die Verlosser van Israel wys.  In sy heiligheid sal Hy die sonde oorwin en sy volk tot heiligheid bring.  Sodat Hy onder hulle kan woon sonder om rondom hom te moet verteer.  Wat ’n geweldige troos vir die getroues in Israel, wat nog aan die lywe soveel skending ondervind, en vir die volk wat nog voor die ballingskap staan.  ’n Mens sou onder sulke oordele elke perspektief verloor.  Daarom gee God van te vore hierdie trooswoorde sodat die volk hom daaraan kan optrek.  God sal in die toekoms groot wees in hul midde as die Heilige van Israel.  En as die Heilige onder sy kerkvolk is, dan hoef hulle niks te vrees nie.  Sy heiligheid is immers ’n verterende vuur vir almal wat dit bly skend.  Sy heiligheid is so ’n beskermende vuur rondom sy volk.  Daar is niemand wat daardeur kan binnedring.  Wie die getroue volk wil aanrand, kry met die Heilige van Israel te make.

Wat ’n onvoorstelbare rykdom word hier aan die kerkvolk, wat nog onder druk leef, voorgehou.  God beloof sy weldadige, heilsame inwoning by die verloste volk van die toekoms.  Die oorblyfsel van Israel, die res, sal tot ongekende heerlikheid kom.

Hier het ons, brs en srs, ’n duidelike Emmanuel profesie.  Dit word aanvanklik, maar slegs ten dele en op ’n gebrekkige wyse vervul in die terugkeer uit die ballingskap.  Dit vind ten volle vervul met Kersfees en Pinksterfees.  Die woord het vlees geword en onder ons gewoon.  In Christus het God woning onder sy volk kom maak.  En met die Pinksterfees word die volk ’n woning van God in die Gees.  As ooit gesê kan word: groot in julle midde is die Heilige van Israel, dan wel nou sinds Pinkster.  Want deur sy Gees is die Here julle God in julle midde.  En wat het Hy nie in julle midde gedoen nie.  Tydens elke erediens, deur woord en sakrament verkondig God Christus die versoening van al ons sondes.  Christus se verlossingsdade word aan julle voorgehou en aangereik.  Deur sy Gees gee God gemeenskap aan Homself en voed Hy ons tot die ewige lewe.  Wie sou dan nie in verwondering uitroep: Groot in julle midde is die Heilige van Israel.  Julle het ’n sterke held wat julle bystaan en omring.  God wat in jul midde woon.  Die Heilige van Israel sal julle bevry van en beskerm teen alle kwaad.  Teen alles wat julle vreesagtig en moedeloos kan maak.  Hy is immers nie net in jul midde nie, maar ook werksaam in jul midde, as die almagtige Verlosser.

Gemeente, wat ’n rykdom, so ’n inwoning van so ’n God.  Hoe is dit moontlik.  Wie dit in verwondering sien, sal die Here gaan loof.  Jou lof kan nie uitbly nie.  As jy tenminste weet van die heilsame inwoning van jou heilige God.

Nadat ons die uitgangspunt van die lof op die Here gesien het: naamlik God se heilsame inwoning, wil ons in die tweede plek let op die doel van die lof.

Die verloste volk sal mekaar toeroep: Dank die Here, roep sy Naam aan, ... psalmsing tot eer van die Here   Dit gaan daaroor dat die Here die eer ontvang wat Hom toekom.  Die Here het groot dinge gedoen.  En dit nie verniet nie.   Hy wil ’n volk hê wat Hom eer, ’n volk wat Hom aanbid en Hom verhef.  Die Here wat soveel gedoen het en nog steeds soveel doen, wil blyke van dankbaarheid ontvang.

Onder die blyke van dankbaarheid val die loof of dank van die Here.  Daarmee aanbid jy die Here as die bron van alle heilsame krag.  Jy gee daarin uiting aan jou vertroue en verwagting dat jy alle heil van Hom ontvang.  God word as die God van heil verhef.  Daarby kom die aanroeping van sy Naam.  Wie God se naam aanroep, die rig hom persoonlike en publiek tot die Here.  Jy bely jy sy grootheid en jou vertroue in Hom.  Wie anders sou jy aanroep en aanbid?  Die publieke aanbidding is so ’n geweldige erkenning van God se verhewenheid en nabyheid.  Dis so ook ’n onmisbare bestanddeel van jou lof op God.  Daarom kom ons saam in ons eredienste
Daar kom nog by die Psalmsing tot eer van die Here.  Daarmee word bedoel die sing onder begeleiding van instrumente.  In liedere en met instrumente wil God verheerlik word.  Alles moet die Here loof: al jou woorde, jou gebed, jou erediens en jou lied.  In al jou uitinge moet jy die God van jou verlossing, wat in jou midde woon, grootmaak.

Ja, wie die weldadige inwoning ken, die kan nie nalaat om met die daad in hierdie God te roem nie.  Wanneer jy in die eredienste God se inwoning in jul midde bely en beleef, dan kan jy nie nalaat om die God van jou verlossing te loof nie.  Daarom is dit ongehoord wanneer mense tydens die eredienste nie saamsing tot lof van die Here nie, tensy daar natuurlik van siekte sprake is.  God wil die offer ontvang van elkeen van julle se lippe.  Hy wil deur jou geprys word.  Hy wil blyke van dankbaarheid en verwondering ontvang.  In Ps  22 word van God gesê: “Tog is U die Heilige wat woon onder die lofsange van Israel”.   Die Psalmiste hou aan om julle tot lof en aanbidding van die Here op te roep.  Dink maar aan Ps 33:1: “o Regverdiges, jubel in die Here!  ’n Loflied betaam die opregtes”.  Dit pas dus die opregtes, dit pas my en jou wat opreg glo, om ’n loflied op te hef.  Onder die verloste volk pas dit beslis nie dat jy bly swyg nie.    Waar bly dan God se lof?  Waar bly die verwondering en dankbaarheid?

En, brs en srs, dit is nie net ’n saak van die Sondagse eredienste nie.  Jou God en Verlosser wil hê dat jy elke dag van jou lewe Hom eer.  Hy, die Heilige van Israel, woon in jul midde, nie net hier nie, maar ook in jul huise.  Selfs jul liggame word tempels van die Heilige Gees genoem.  Dink vir ’n oomblik daaroor na.  Jou liggaam ’n tempel van die Heilige Gees, God se woning.

Nou, as hierdie God by jou kom woon het, dan sal jy voortdurend tot sy lof bereid moet wees.  Hier geld in ’n heel letterlike sin: Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.  Waar jou hart vol van God is, - God woon tog in jou - loop jou mond van Hom oor.  Verwondering en dankbaarheid laat hulle nie opsluit in die skuilhoeke van jou hart nie.  Dit wil gesien en gehoor word. 

Hier pas opregte selfbeproewing.  In watter mate kom die lof op die Here tot uiting  in jou daaglikse lewe?  Kan ’n mens nog wel sien en hoor dat die Heilige van Israel in jul midde woon?  Onthou: dis nie ’n kleinigheid dat die Heilige van Israel in jul midde wil woon nie.  Loop jou mond nog oor van lof.  Sing julle nog wel?  Ja, ken julle die onnoemlike ryke verbondsliedere nog wel.  Lê dit nog op ons lippe of word dit oorskreeu deur wat die wêreld aan musiek en versies te bied het?  As jy weet dat die Heilige van Israel in jou woon dan kan jy moeilik saamsing met allerlei God en mens onterende populêre liedjies.  Die Heilige van Israel sou dit nie kan verdra nie.  Hy laat nie met hom spot nie.  Weet daarom goed waar jy mee besig is, wanneer jy jou laat meesleep met liedjies wat God en sy skepping onteer.  Weet waar jy mee besig is wanneer jy sulke liedjies op jou lippe neem en die stemming in jou motor, huis of kamer daardeur laat beheers.  Hier sal blyk wie by jou woning het.  Is dit God die Heilige van Israel of die wêreld.  Waar God woon, daar sal die sfeer anders wees.  Immers verwondering oor sy inwoning – hoe bestaan dit dat Hy by my sy intrek wil neem? – bring tot lof op God, nie net in die eredienste nie, maar ook by die huis, op my kamer of waar ek my ook al bevind.  God se inwoning is juis daarop gerig dat Hy die eer ontvang wat Hom toekom.  Laat ons brs en srs, seuns en dogters hierdie God dan ook voortdurend loof in ons lied en met ons musiek.  Loof Hom, psalmsing tot sy eer.  Leer gerus die ou verbondsliedere en neem hulle op jul lippe.  Die Psalms, wat so pragtig die lof op die Here verwoord, sy groot dade besing.  Die liedboek wat God vir ons gegee het.  Jy hoef jou werklik nie daarvoor te skaam nie.  Want God wil jou juis tot so ’n lof verlos.  Die liedere is juwele in God se ore.

Tenslotte, let ons op die bereik van die lof op die Here.

Die teks benadruk dat die loof van die Here nie net ’n saak van die binnekamer is nie,  Nee, dit moet na buite toe gehoor word.  Dit is in die eerste plek op die Here gerig, maar dit moet ook die wêreld bereik.

“Maak sy dade onder die volke bekend, verkondig dat sy Naam hoog is.”  Die verloste kerkvolk, julle, het ’n boodskap vir die wêreld.  Daardie boodskap moet gehoor word tot aan die eindes van die aarde.  Dis wêreldnuus.

Wat is dan die boodskap?  Jou persoonlike ervarings?  ’n Boodskap van aardse vrede en voorspoed, van die onmiddellike oplossing van al jou probleme?  ’n Boodskap van onderlinge liefde en van die aanvaarding en waardering van alle kulture en godsdienste asof hulle almal gelykwaardig is?  Nee, die boodskap lui: die Naam van die Here is hoog verhewe, want Hy het heerlike dinge gedoen.  Ons boodskap as Nuwe Testamentiese gemeente is: God se groot dade van verlossing in Jesus Christus.  Die apostel Petrus noem ons uitsonderlike posisie as volk van God met daarby ons roeping wanneer hy skryf: “Maar julle is ’n uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige volk, ’n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig” (1 Petr 2:9).  Let op die woorde: om te verkondig die deugde van Hom wat julle geroep het, wat julle verlos het.

In die wêreld besef mense nie wie God werklik is nie, dat sy Naam verhewe is nie.   Of mense wil dit nie besef nie.  Dikwels word gemaak asof God nie bestaan nie.  God word in die daaglikse praktyk van die lewe, in die publieke en politieke lewe meesal geïgnoreer.  Hy word verwys na jou persoonlike lewe, jou hart en na die kerk se eredienste.  Daar sou Hy ’n plek hê.  Feitelik word Hy daarbuite dood verklaar.  Ook die modernistiese teologie het ’n streep getrek deur God se alomteenwoordigheid en verhewenheid.

Wie moet dan die wêreld en die van God vervreemde kerk van God se verhewenheid in kennis stel?  Dis die verloste kinders van God.  So moet daar van julle ’n boodskap uitgaan.  Eers dig by huis, in jou eie omgewing.  Laat mense rondom jou merk dat God werklik bestaan en dat Hy verhewe is.  Laat die sfeer in jou huis en jou gedrag dit uitstraal sodat jou woorde bevestig wat mense reeds by jou sien.  Laat mense deur julle sien en hoor dat die Here werklik daar is en dat Hy verhewe is.  Dit kan oa blyk uit die manier waarop jy voorspoed en teenspoed hanteer.  Hoe gaan jy om met rykdom?  Hoe gaan jy om met teenslag?  Daar gaan ’n boodskap vanuit.   Ja, dit sê baie vir mense rondom jou as jy in voorspoed nederig en sorgsaam bly en jy van jou afhanklikheid van God getuig.  Dit spreek ook boekdele wanneer jy in moeite en stryd jou geloof en vertroue in die Here bly bely.  Dis geloof in die praktyk.  So sien ’n mens iets van God se krag in menslike swakheid.  Mense sien dan dat jou godsdiens werklik is en leef, ja dat jou God leef en kragte gee.

Gemeente, verkondig so deur woord en daad die deugde van Hom wat julle uit die duisternis tot sy wonderbare lig beroep het.  Maak sy groot dade van verlossing onder die mense bekend.  Laat weet dat sy naam werklik hoog is, dat elkeen op alle gebiede van die lewe met Hom rekening moet hou.

God roep julle as sy volk op om Hom te loof.  Groot in julle midde is immers die Heilige van Israel.  En Hy soek die eer van sy naam.  Laat die lof dan nie verstom nie.  Loof Hom, prys sy Naam met gesang en musiek, met woord en daad.  Laat die wêreld dit sien en hoor: die Naam van die Here, ja die Here self, is werklik verhewe.

Amen

Liturgie: 

(kyk in preek)