Die vrug van die Messias se regering

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2010-02-07
Teks: 
Jesaja 11
Preek Inhoud: 

Jesaja 11:6-10
Sing: Ps 23 (1ste ber); Ps 79:5,6,9; Ps 72:1,2,4; Ps 72:9-11; Ps 133

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die takkie uit die stomp van Isai, die Messias, is werklik besonder.  Hy is anders as alle aardse en tydelike heersers.  Hy besit die volheid van die Gees.  Hy is volmaak in sy regering, regverdig en trou.  Bevrydend vir hulle wat Hom soek, maar veroordelend teenoor hulle wat in hul sondige opstand volhard.  Deur sy Gees en woord rig Hy die wêreld.

Sy koninkryk is daarom ook anders as die koninkryke wat ons gewoond is, die koninkryke van hierdie aarde.  Sy koninkryk is ’n koninkryk soos dit behoort te wees, paradyslik, volmaak.  Alle vyandskap sal verdwyn, nie net tussen mense nie, maar ook tussen die diere. Ja selfs tussen die mense en die diere sal daar volkome vrede wees.   Hierdie Messias word in Jes 9 nie verniet Vredevors genoem nie.  Hy stig ’n ryk van vrede.

Wanneer ontstaan dan sy ryk van vrede?  Ons teks begin met die woordjie “dan”.  Dan wei die wolf by die lam ens.  Daarmee word by die voorgaande aangesluit.  In Jes 11 lyk dit daarop dat met die koms van die nuwe koning uit die huis van Dawid, ook die ryk van vrede gevestig sal word.  In werklikheid blyk daar egter ’n lange periode te wees tussen Christus se koms en die volkomenheid van sy ryk.   Die beloofde koning is gebore, Hy het uit die dood opgestaan.  Hy het opgevaar na die hemel waar Hy sy troon bestyg het.  Daarmee het sy vrederyk egter nog nie volle werklikheid geword nie.  Dis nog iets van die toekoms. 

Tog moet ons, brs en srs, die vervulling van die profesie oor die vrederyk nie net na die toekoms verwys nie.  Jesus Christus het reeds gekom en sy koningskap aanvaar.  Hy sit nou aan die regterhand van die Vader van waar Hy alle dinge regeer.  Sou jy daar vandag dan niks van merk nie?  Hy is vandag reeds besig om die Vrederyk op te rig.  Vers 10 noem dat die nasies in die dag sal vra na die wortel van Isai.  Heidene sal hierdie Messias soek om Hom te dien.  Dis nie iets wat net in die toekoms lê nie.  Dis nou reeds volle werklikheid.  Die feit dat ek en jy Christus mag ken en dien is ’n bewys daarvan.  Ons het immers in ons voorgeslag tot die heidense nasies behoort.  Laat ons daarom oog hê vir die vervulling van die profesie hier en nou in ons midde.  Christus is reeds besig om sy ryk op te rig.  Die begin is daar. Ons sien tewens uit na die volkome vervulling daarvan wanneer God werklik alles in almal sal wees.

Ek verkondig vir julle: die vrug van die Messias se regering
1. universele vrede
2. universele kennis

Die hele aarde sal in die seën van die Messiaanse koning deel.  Ons kry ’n idilliese beskrywing van volkome vrede in God se skepping, tussen die diere onderling en tussen mens en dier.   Diere wat in die natuur nie in vrede saamleef nie, kom nou saam voor, sonder dat hulle mekaar kwaad aandoen.  Die wolf wei by die lam, ja, vind by die lam beskerming.  Dit lyk wel op die omgekeerde wêreld.  Waar vind jy dit?  Gewoonlik sou die wolf die lam juis wil verslind.  So ook die volgende beelde.  Die luiperd gaan lê by die bokkie.  Ons sien gewoonlik prentjies van ’n luiperd wat ’n bokkie gevang het.  Die luiperd soek gewoonlik die bokkie as prooi.  Die kalf en die jong leeu en die vetgemaakte vee is bymekaar.  Dit sien jy nie in die wild nie.  Daar jaag die leeu juis die kalf, die kwesbaarste van die kudde, en die vetgemaakte vee.  En dan is daar ’n klein onervare seuntjie wat daardie diere wat gewoonlik nie in vrede saamleef nie nou rustig aanja sonder vrees of gevaar.  Die koei en die berin wei en hulle kleintjies is bymekaar en die leeu eet strooi soos die os.  Die babatjie speel by die gat  van ’n adder en ’n klein kindjie steek sy hand uit na die kuil van ’n basilisk sonder gevaar vir ’n slangbyt.  Kan jy dit voorstel?  Dis hoe God die Messiaanse vrederyk aan ons voorstel.   

Gemeente, hoe moet ons dit verstaan.  Word hiermee ’n terugkeer na die Paradys geteken?  Of moet ons die prentjie net verstaan as ’n beeld van die vrede wat daar onder die mense gaan wees?  Daar is inderdaad verskillende verklaarders wat meen dat die diere wat genoem word net figuurlik wys op allerlei soorte mense wat in onmin met mekaar lewe en mekaar te na kom.  Dit sou net beeldspraak wees. Jesaja sou hierdie beeldspraak gebruik het om te teken hoe mense wat voorheen goddeloos en onhandelbaar was, eendag vroom, sagsinnig en vredeliewend sal wees. 

Ongetwyfeld wil die profeet ons leer hoe mense gaan verander.  In vers 10 gaan dit duidelik oor vrede onder mense.  “Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my heilige berg nie.”  Tog word aan die teks geen reg gedoen as dit net as beeldspraak mbt mense gesien word nie.  Jesaja sê ook iets mbt die dierewêreld.  Waarom sou Jes anders naas die genoemde diere ook die mens self in die prentjie invoer, in die vorm van die klein seuntjie, die suigeling en die gespeende kind?  Ons word herinner aan die eerste paradys. Voor die sondeval was die diere daar tot voordeel van die mens en het die mens beheer oor hulle gehad.  Adam het hulle almal name gegee.  Daar was geen vyandskap tussen die mens en die diere nie.  Deur die sondeval het diere vir die mens ontembaar en gevaarlik geword. 

Ons sondeval het drastiese gevolge vir die natuur gehad.  Met ons sondeval het ons die skepping (waaronder ook die dierewêreld) in die verderf gestort.  Daarom skryf Paulus in Rom 8 dat die skepping aan die nietigheid onderworpe is en dat die hele skepping tesame sug en in barensnood is.  Deur ons sonde het ons die skepping saam met ons in die verderf gestort.  Maar die omgekeerde gaan ook waar wees: Deur ons redding kom daar herstel vir die skepping.  Die skepping sal deel in ons verlossing en heerlikheid.  So skryf Paulus in Rom 8:19-21: “Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God.  Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe ... in die hoop dat ook die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God.”  Wanneer mense geen kwaad en verderf meer aanrig nie, dan sal dit deurwerk na die dierewêreld toe.  Om net iets te noem wat nou reeds sigbaar is: wanneer mense die diere goed behandel, dan kan die diere ook makliker genader word. Uiteindelik sal daar blykens ons teks ook vrede onder die diere self heers.  Hoe dit presies sal wees, weet ons nie.  Ons moet ook oppas dat ons besonderhede van die teks nie forseer om allerlei gevolgtrekkings daaruit te maak nie.  Die Bybel teken die lewe van die toekomende eeu gewoonlik in beelde en simbole.  Ons moet daarmee rekening hou.   Sonder om op allerlei besonderhede in te gaan, mag ons stel dat daar blykbaar tussen die diere vrede gaan wees. 

Jesaja teken vir ons die volmaakte harmonie in die skepping.  Iets wat eers later volle werklikheid sal wees.  Tog moet ons dit alles nie deurskuif na die toekoms nie.  Christus is nou reeds besig daarmee.  Jy kan hom reeds besig sien.  Dit begin nie by die dierewêreld nie, maar by die mense.  Die Messias is met sy Gees en Woord reeds onder mense besig om onder hulle vrede te stig.  Die vrede is by die geboorte van Christus op aarde afgekondig.  Die engele het gesing: “Vrede op aarde, in die mense ’n welbehae.”  En waar daar vrede met God is, daar gebeur dit in hierdie wêreld dat mense, wat van nature mekaar haat, nou in vrede naas mekaar gaan lewe.  Harmonieus, eensgesind, omdat God sy liefde in hulle harte uitgestort het en hulle deur liefde tot Hom beheers word.

Allerlei mense, groot en klein, wilde en rustige mense, opvlieënde en bedagsame mense, felle en sagmoedige mense, allerlei mense leef saam as broeders en susters in die Here.  Saam verenig.  Deur wie?  Deur die takkie uit die stomp van Isai.  Vrug van sy werk.  Gevorm en verander deur sy Woord en Gees.  Tot oorgawe gebring sodat hulle van harte hulle vir sy ryk inspan, die ryk van vrede, van die gemeenskap met Hom en met mekaar.  Dis die ryk waarin elkeen die ander wil dien, die ander tot ’n hand en voet wil wees.

Sinds die sondeval woon die sonde in elke mens se hart.  Nee, dit sien jy nie altyd ewe skerp en duidelik nie.  Daar is in hierdie wêreld nog baie mensliewendheid waarvoor ons dankbaar mag wees.  Maar die Here leer ons: uiteindelik is elke mens geneig om God en die naaste te haat, geneig om nie diensbaar aan God en die naaste te wil wees nie. 

Uit sulke mense maak Christus nou ’n gemeenskap van heiliges.  ’n Gemeenskap van mense wat mekaar in liefde wil dien, van mense wat nie hul natuurlike instinkte en gevoelens volg nie, maar in vrede saam lewe en saam werk.  ’n Wonderwerk.  Net so groot ’n wonder as wanneer ’n wolf en ’n lam in vrede by mekaar bly; net so groot ’n wonder as wanneer die luiperd en die bokkie vredig naas mekaar gaan lê.  Net so groot ’n wonder as wanneer die kalf veilig by die leeu kan bly en die koei by die berin. 

Brs en srs, glo julle nog in daardie wonderwerk van Christus?  Glo julle nog wel dat Christus die onmoontlike moontlik kan maak, dat Hy mense se natuur kan verander?  Ons lees in Jer 13:23: “Kan ’n Kusiet sy vel verander of ’n luiperd sy vlekke?  Dan sal julle ook in staat wees om goed te doen, julle wat gewend is om kwaad te doen.”  Deur Christus gebeur hierdie onnatuurlike dinge.  Die mens wat gewend is om kwaad te doen, begin om goed te doen.  Immers: “Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my heilige berg nie.”  Glo jy dit nog?  Hoe maklik sê ons nie van onsself of van ander: ons is nou eenmaal so, ons kan ons natuur nie verander nie.  Mense sal dit moet aanvaar.  Kan ’n luiperd sy vlekke verander?  Ja, sê die Here.  Dis wat Ek kom doen het.  Ek verander mense wat hulle soos wilde diere onder mekaar gedra.  Mense wat eers goddeloos en onhandelbaar was, maak ek vroom en sagmoedig, liefdevol en geduldig.  Niks is vir my onmoontlik nie.  Glo jy dit?  Herken jy dit?  Aanvaar jy dit ook in jou eie lewe, en in die lewe van jou mede-broeders en susters.  Hoe groot en goed is die Messias se verlossingswerk.  Ongelooflik.  Gee jou daarom aan Hom gewonne.  Staan Hom in sy vernuwingswerk nie teen nie.  Moenie jou sondige natuur bly koester nie.  Breek met die sonde.  Laat jou deur Christus vorm tot ’n nuwe mens.  Glo in Christus.  Lees uit die geloof. 

So kom ons by die tweede gedagte: die kennis as die tweede vrug van die Messias se heerskappy.

Ons lees in ons teks (vers 9b): “Want die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek.”  Let op die woordjie “want”.  Dit verbind die twee dele van die vers aan mekaar.  Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig nie, want die aarde sal vol wees van die kennis van die Here.  Die vrede waarvan die begin van die teks praat, is ’n direkte gevolg van die kennis van die Here.  Mense sal in vrede saam leef en saam werk as gevolg van die feit dat hulle die Here ken.
Die kennis van die Here gaan dus feitelik vooraf aan die vrede wat eerste genoem word.

Sonder die kennis van die Here, sal ’n mens nooit verander nie.  Ware kennis van die Here bring egter ’n radikale verandering in jou lewe.  As jy werklik die Here ken, dan sal jou luiperdvlekke en jou wilde dierestreke verander.  Dan sal jy geen kwaad wil doen of verderf wil aanrig nie.  Dan sal jy die liefde najaag.  Die teks praat van God se heilige berg.  Dit is Sion, die plek waar God woon.  Die plek waar God sy volk vergader, die kerk van Christus.  Van die kennis van die Here word gesê dat die aarde daarvan vol sal wees soos die waters die seebodem oordek.  Nou, die waters laat op die seebodem geen droë kolletjie oor nie.  So sal die kennis van die Here die hele aarde oordek.  Dit sal orals aanwesig wees, sodat daar geen plekkie oorbly waar daar geen kennis van die Here is nie. 

Vers 10 vul dit aan met die woorde: “En in die dag sal die nasies vra na die wortel van Isai, wat daar staan as ’n banier van die volke, en sy rusplek sal heerlik wees.”  Christus sal alle volke en nasies na homself trek.  Tydens sy bediening op aarde het Christus daarop gewys.  Eers sê hy in Joh 3:14: “en soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die mens verhoog word.” In Joh 12:32 voeg hy daaraan toe: “En Ek, as Ek van die aarde verhoog word, sal almal na My toe trek.” Nou lees ons in ons teks dat Christus as ’n banier van die volke daar sal staan, as ’n saamtrekpunt.  Die banier was in daardie tyd die veldteken van ’n leër, die vlag waar rondom die troepe saamgetrek het.  Alles is op Christus gerig.  Rondom Christus gesentreer.  Hy sal die middelpunt van die aarde wees.  Mense moet by Hom wees.  Mense uit alle volke en tale sal dan ook na Hom toegaan.  Om by Hom kennis van God, ja, redding te vind.  Hier sien julle die algemene Christelike kerk, uit alle volke en tale.  Waarvan jy ’n lidmaat mag wees.  Daarom nie iets wat eers later werklikheid word nie, maar iets wat nou reeds werklikheid is.  Ook ’n heerlike werklikheid.  Sy rusplek sal mos heerlik wees.  Die kerk wys sy heerlikheid op aarde.

Dis opvallend dat Christus hier nou skielik die wortel van Isai genoem word.  Hy is nie net die loot wat uit die wortel van Isai vrugte dra nie.  Hy is ook self die wortel van Isai.  Aan Hom het Isai en die hele huis van Dawid sy bestaan te danke.  Hy is die bron van lewe en bloei.  Vir Isai, vir Dawid, ja vir al God se kinders.  Deur Hom sal die kennis van die Here werklik die hele aarde oordek.

Watter soort kennis is dit?  Daardie kennis behels ’n verstandelike kennis, maar ook ’n praktiese, persoonlike liefdesband.  Jy kan die twee nie van mekaar skei nie.  Hoe kan jy die Here ken, sonder dat jy iets oor hom weet.  Jy moet weet wie en wat Hy is ens.  Maar ook: hoe kan jy die Here ken, sonder dat jy in liefde aan hom verbind is, sonder dat jy op Hom vertrou.  Mense sal die Here daarin ken dat hulle weet wie en wat Hy is, en hulle sal die kennis ook ervaar in hul liefde en toewyding tot hom.  Vanuit daardie kennis van die verstand en van die hart sal die lewens van die mense verander.  So kom die eerste vrug wat van die Messias se ryk genoem word tot stand: “Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig nie”. 

Dink net aan die reeks preke wat ek laas jaar oor die vrug van die Gees gehou het.  Dis nie verniet dat ek elke preek begin het met die deugde van die Here self nie.  Eers as jy werklik die Here ken, wie en wat Hy is, sal jy sy deugde gaan weerspieël.  Sonder die kennis leef ’n mens nog in sy sonde.  Leef ’n mens in vyandskap, haat en nyd.  Sonder die kennis wys ’n mens die werke van die vlees.  Soos wilde diere val jy mekaar aan, maak jy mekaar seer en kom jy mekaar te na.  Paulus praat in Gal 5 selfs van ’n mekaar byt en opeet.  Vrede kan daar net ontstaan deur die kennis van die Here.  Met ’n oop Bybel.  Waar jy van harte jou Bybel lees en die verkondiging daarvan soek.  Met ’n hart waarin God se liefde uitgestort het.  Met ’n hart wat glo en vol liefde is.  So ontstaan die vrederyk van die Messias.  Mense wat uit hulleself niks van God wil weet nie en daarom van nature vyandig teenoor die Messias staan – hulle word deur die evangelie oorwin.  Wolwe, luiperds, leeus en bere, hulle word almal skape van die een kudde van die goeie Herder.

Vrede, dit is reeds te sien daar waar Christus sy kerk vergader.  Maar dit is nog nie die einde nie.  Daar is nog baie bedreigings van die vrede.  Daar is ook die gevaar dat die vyandskap teenoor broeders en susters tog weer kop op steek deur allerlei onhebbelikhede, irritasies, skinder, onregverdige veroordeling, afbrekende kritiek ens.  Die gevaar is daar dat ons bewus of onbewus die vrede wat Christus besig is om te stig, skaad of breek.  Nee, die einde is nog nie daar nie.  Die aarde is nog nie vol van die kennis van die Here nie.  Dit kom eers ten volle na die jongste dag, in die volkomenheid van Christus se ryk, waarin God alles in almal sal wees.  Dan sal daar werklik geen kwaad gedoen of verderf aangerig word nie.  Daarheen is ons op pad.

Salig die gemeente wat in hierdie wêreld iets van daardie toekoms laat sien.  Salig is jy wanneer jy die vrede met God ken en daardie vrede in al jou verhoudings uitstraal. 

Amen

Liturgie: 

(kyk in preek)