Die stene van skuldvergewing is hoekstene vir enige gemeente van Christus!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2010-02-07
Teks: 
Matthéüs 18:11 & 33
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Met die lees van Mattheus 18 het u dalk gewonder of ons dan nog steeds besig is met die reeks oor die opbou van die gemeente. Want wat het hierdie hoofstuk eintlik met gemeente-opbou te make? Wel, die verband is eintlik baie eenvoudig… en baie kragtig! Kom ek verfris net weer u geheue oor die inhoud van vorige week se preek. Ons het verlede Sondagoggend vanuit 1 Korinthiërs 3 gesien dat Jesus Christus die fondament van die kerk is en dat elke bouer – elkeen van ons, dus – geroep word om op hierdie fondament te bou! Dit is in kort waarop verlede week se preek neergekom het.

Nou, probeer vervolgens gou vir jouself in een sinnetjie uitmaak: waaroor gaan hierdie fondament eintlik? Met ander woorde: waarvoor staan Jesus Christus, Hy wat die fondament is? Is ek reg as ek sê dat Jesus Christus staan vir die vergewing van ons sondes en vir die herstel van ons verhouding met God? Sou dit ‘n goeie een-sin-omskrywing wees van die fondament waarop die kerk gebou is? Dit lyk vir my so. Ons kan dus sê dat die kerk stewig vasstaan op die basis van die vergewing van sondes; dít is waarop hierdie gemeente gebou is: op God se genadige goedheid en guns oor ons in Jesus Christus, op God se vergewingsgesindheid en liefdebolle aangesig oor ons. En onthou nou wat ons verlede week ook nog gesê het: net soos wat die fondament lyk, só moet die bouwerk daar bo-op ook lyk. Dus, as die fondament rooi gekleur is deur die bloed van Jesus Christus waardeur daar vir ons – vir my en vir jou – vergifnis van sondes is, hoe dink jy moet ons bouwerk lyk? Wat dink jy moet dan die kleur van ons bouwerk wees?

Nou, as dít vir ons duidelik is, dan is die verband met Mattheus 18 waarskynlik nie meer so onduidelik nie. Hooplik het duidelik geword dat die vergewing van sondes nie sommer ‘n bysaak in die kerk is nie. Inteendeel, dit is waarskynlik die hart van ons kerk-wees. Dit bepaal immers die kleur van die fondament – die rooi van Christus se bloed – en daarom moet dit ook die kleur van die mure bepaal. Vergifnis is die kern van die fondament, en daarom behoort vergifnis ook ‘n belangrike deel van elke steen uit te maak. En só kan ek in een asem bely: ek glo ‘n heilige, algemene, christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges, en onmiddellik daarmee saam glo ek ook die vergewing van die sondes – die vergewing van my sondes deur Jesus Christus, maar ook die vergewing van my broeder en my suster se sondes deur my én die vergewing van my sondes deur hulle.

Tema: die stene van skuldvergewing is hoekstene vir enige gemeente van Christus!

Gemeente, die Skrif bly maar ‘n wonderlike skat waaruit ons telkens weer nuwe dinge te voorskyn kan haal. En ‘n mens kan dit by elke Skrifgedeelte en by elke preek sê, maar dit het my in besonder weer opgeval by die bestudering van Mattheus 18 wat ons saam gelees het. Mattheus 18 is ‘n ongelooflike hoofstuk, sowel in terme van die sentrale boodskap, as in terme van die lyne en verbande wat die Here Jesus hier trek. Kom ons volg eenvoudig wat Jesus hier doen en sê…

Aan die einde van Mattheus 17 lees ons die geskiedenis van Jesus wat die tempelbelasting betaal. Ja, inderdaad, Hy betaal dit, maar eintlik hoef Hy dit nie te doen nie. Immers, aardse konings laat mos nie hulle seuns belasting betaal nie? (verse 25 en 26) Dus is die Seun van die hemelse Koning ook vrygestel van belasting! Nou, broers en susters, Petrus en die ander dissipels het baie goed die implikasies van Jesus se woorde verstaan; hulle het verstaan dat Jesus hier na sy eie majesteit en vryheid as God se Seun verwys het. Hy is die Seun van die hemelse Koning wat nie nodig het om belasting te betaal nie. Maar meer nog: as Hy die Seun van die hemelse Koning is, dan beteken dit dat ‘n nuwe orde voor die deur staan, dat die ryk van die hemele gekom het! Maar – was die dissipels se onmiddellike reaksie – wat dan van hulle? Hulle is immers Jesus se direkte volgelinge, so wat sal hulle posisie in die nuwe koninkryk wees? Dit is dan ook presies die vraag van die dissipels aan die begin van hoofstuk 18: wie is die grootste in die koninkryk van die hemele?

Uiteraard is hierdie vraag van die dissipels nie vry van naywer en selfsug nie; hulle sou graag wou weet wat die rangorde binne die koninkryk is en wat hulle eie posisie sal wees. En kom ons wees eerlik: Wie van ons, wat werklik betrokke is by die kerk van Christus, wonder nie soms oor ons plek en belangrikheid in die gemeente en in die kerklike lewe nie? Dit sit maar in ons om hierdie soort vrae te stel. Maar tog is daar ook ‘n positiewe sy aan hierdie vraag van die dissipels. Want dit blyk duidelik uit hierdie vraag dat die leerlinge juis sáám met Jesus die belange van hierdie hemelryk wil behartig; hulle wil graag saam met Hom aan die koninkryk bou; hulle wil graag bouers wees! Wie van ons sal ontken dat dit ‘n mooi strewe is? Dit is mos pragtig wanneer gelowiges werklik bouers wil wees! Nou toe, vra die dissipels dan eintlik, wat is die prioriteite en wie het watter posisie?

In antwoord op hierdie vraag roep Jesus ‘n kind om in hulle midde te kom staan, en dan sê Hy daarby: “as julle nie verander en soos die kindertjies word nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemele ingaan nie.” Is dit nie opmerklik hoe Jesus die aandag verskuif nie? Sy leerlinge wonder wie die belangrikste taak en posisie binne die koninkryk het, maar Jesus sê: “Maak julle maar eers seker dat julle die koninkryk binnekom. En dit gaan julle nie regkry wanneer julle julleself bly sien as volwassenes wat ‘n bydrae het om te lewer nie.” Jesus wys dat hulle soos die kindertjies moet word wat deur sy roeping in die koninkryk ingebring word!

Dit is waarskynlik nie die antwoord wat die dissipels op hulle vraag wou gehad het nie; dit wil selfs voorkom asof Jesus bietjie vergeet het wat die oorspronklike vraag was. Maar, gemeente, vir Jesus is dít die antwoord op die vraag – wie is die grootste in die koninkryk van die hemele? Hy wat klein en nederig daar ingaan, hy is groot! Nou, dít vra van volwasse mans nederigheid; nederigheid om te besef: wie vordering wil maak in God se ryk, moet eers daar ingaan. Die ingaan – daarop lê die fokus! Maar hoe gaan ons dan in, broers en susters? Hoe ontvang ons Jesus Christus en sy koninkryk? Waar moet ons Jesus soek? By die kindertjies! “Elkeen dan wat een van sullke kindertjies in my Naam ontvang, ontvang My” (vers 5). Ja, die dissipels wil graag groot en belangrik wees, hulle wil graag naby die Meester wees, maar Jesus sê: “Kom kry My by die kindertjies; dáár sal julle My vind!” Die grootste taak vir die dissipels lê dus by die kleinste lede van die liggaam van Christus.

Sien u hoe Christus die fokus van die dissipels volledig omgooi? Dit gaan nie oor die glorie van die dissipels nie, dit gaan nie daaroor wie van hulle die grootste is nie. Nee, dit gaan oor die belange van die koninkryk en dit gaan daaroor dat mense daardie koninkryk kan binnegaan! Dáárop moet die dissipels fokus: hulle moet klein en nederig wees in hulle eie binnegaan, en wanneer hulle binne is, moet hulle in nederigheid hulleself rig op die binnegaan van ander. Só bou hulle saam aan die koninkryk. Want, broers en susters, dit is presies waarvoor Jesus self ook gekom het: “… die Seun van die mens het gekom om te red wat verlore is” (vers 11). Jesus Christus buig Homself neer na die verlorenes, Hy verneder Homself om húlle te red. Die koninkryk van God het dus nie tot doel om aan ménse eer en glorie te bied nie; nee, die koninkryk kom as ‘n reddingsaksie in die grootste nood – en dit is waarvoor Jesus gekom het, soos wat Hy so pragtig illustreer aan die hand van die gelykenis van die verlore skaap. Die koninkryk is ‘n ryk van liefde wat verlorenes terugbring, en daarom het die verlorene prioriteit! En leerlinge wat hulle dáárvoor wil insit, húlle is groot!

Gemeente, dit is opmerklik om te sien hoe die volgende gedeelte – verse 15-20 – baie nou by die voorafgaande aansluit; ook hier is die behoud van die sondaar die fokus. Ons ken hierdie gedeelte dikwels as die prosedure by tughandelinge – eers persoonlik gaan praat, daarna onder vier oë en vervolgens word dit aan die gemeente bekend gemaak. Maar Jesus is hier nie besig met prosedures nie. Nee, Hy probeer sy leerlinge wys dat hulle soveel as moontlik moet doen om die broeder of suster wat teen hulle persoonlik gesondig het, te wen. Soos wat Jesus die negen-en-negentig skape laat staan om daardie een skaap te gaan soek, so moet ons ook in die koninkryk alles moontlik doen om iemand, wat teen ons gesondig het, terug te wen. Jesus laat sy leerlinge nie vir een oomblik toe om hulleself hoog te hou teenoor mense wat aan hulle tekort gedoen het nie; ons mág nie net verby die een stap wat ons te na gekom het nie. Inteendeel, Jesus gee aan sy dissipels die opdrag om die behoud van die sondaar as die hóógste prioriteit te beskou. Die leerling teen wie gesondig is, moet aan die sondaar diens bewys; hy moet na hom toe gaan en sonder hoogmoed voor hom neerbuig om hom te help. Deur sy sonde was hierdie sondaar ‘verlore’, net soos die verdwaalde skaap in die gelykenis, maar die leerling maak groot wins wanneer hy die sondaar tot berou en bekering kan bring. Hierin lê die ware grootheid van die leerlinge, wanneer hulle in nederigheid aan sondaars die evangelie kan voorhou tot hulle behoud.

Dus, gemeente, samevattend kan ons sê dat Jesus in hierdie hele gedeelte die prioriteite van sy dissipels verander. Die vraag is nie meer: wie is die grootste in die koninkryk van die hemele nie; of anders gestel: wie is die groot klip in die bouwerk van hierdie gemeente nie? Nee, die vraag is eerder: wie is bereid om homself, net soos die Here Jesus, te verneder, en alles moontlik te doen om die sondaar te behou, juis ook wanneer daardie persoon jou te na gekom het? Dit is wesenlike vrae vir ons bouwerk hier in die gemeente: waarop fokus ons in ons bouwerk? Wat is vir ons prioriteit? Soek ek myself of soek ek die ander persoon, ook al het daardie persoon my bitter seergemaak? Dít is die soort vrae waarmee Jesus sy dissipels konfronteer…

Broers en susters, dit wil voorkom asof Petrus verstaan het wat Jesus sy dissipels probeer leer het. Hy verstaan dat liefde en nederigheid in die koninkryk ook moet lei tot vergifnis van die broeder wat teen hom gesondig het. Want dit is hoe ‘n mens die sondaar behou – en dit is mos die fokus! Maar, is sy vraag nou vervolgens, hoe dikwels sal my broeder teen my sondig en ek hom vergewe? Kan dit by herhaling gebeur, selfs tot sewe maal toe? Petrus se vraag is nie uit hardheid nie; eintlik is hy baie rojaal, want die rabbynse tradisie ken slegs ‘n vergewing tot maksimaal drie keer, terwyl Petrus van sewe maal praat. Nee, Petrus is nie hard nie, hy wil maar net vir praktiese redes die grens weet van vergewingsgesindheid: hoe ver kan hy gaan? En dan gee hy as maksimum-grens: sewemaal…

Maar Jesus laat Hom nie deur Petrus se maksimum-grens beperk nie: “Ek sê vir jou, nie tot sewe maal toe nie, maar tot sewentig maal sewe toe.” Baie meer dus as waartoe ‘n mens vanuit homself bereid is; hier is ‘n vergewingsgesindheid wat eksponensieel toeneem. En sien dan die kontras wat Jesus stel met die vergeldingsdrang van die goddelose waarvan ons gelees het in Genesis 4: Kain word sewemaal gewreek, maar Lameg sewe-en-sewentig maal. Teenoor die altyd-opbouende wraaksug van Lameg – iets wat, terloops, in ons almal sit – wys Jesus met vergelykende getalle die weg van vergewingsgesindheid wat nooit doodloop nie. Om jou broer te vergewe moet gebeur uit volledige liefde en nie binne die grense van ‘n aftel-sisteem nie. Moenie aan jou broeder ‘n paar geskenkbewyse uit die vergifnis-winkel gee wat hy by jou kan kom opgebruik nie. Nee, gee aan hom jou hele hart!

Gemeente, in Petrus se vraag in vers 21 skuil daar nog steeds iets van die vraag in vers 1: wie is die grootste? Steeds gaan hy uit van die veronderstelling dat hy groot sal wees in die koninkryk van die hemele. Hy vra immers nie hoe dikwels ‘n ander hóm moet vergewe nie, maar hoe dikwels hy welwillendheid teenoor ‘n mindere, ‘n sondigende broeder, moet betoon. En dan wys Jesus nog ‘n laaste maal in die gelykenis van vers 23 en verder vir Petrus sy nederige posisie. Ons hoor van ‘n koning wat met sy diensknegte wou afreken. Op ‘n stadium word daar toe een dienskneg na hom gebring wat aan hom tienduisend talente skuldig was – dit is ‘n onvoorstelbare groot bedrag. Reken maar vir jouself uit: 1 talent is gelyk aan 10 000 denaria, en 1 denarius was die dagloon van ‘n eenvoudige arbeider. Dus, 10 000 talente was ‘n bedrag waarmee aan omtrent 300 000 arbeiders ‘n jáár se loon betaal kon word. ‘n Onnoemlike groot bedrag. Maar hoe kom hierdie dienskneg aan so ‘n groot bedrag? Hoe is dit moontlik om soveel skuld te maak? Wel, dit lyk asof hierdie dienskneg waarskynlik die belasting van die koning beheer het, of hy was dalk verantwoordelik vir baie groot beleggings. Hy moes dus voorwaar een van die grootstes in die koninkryk van hierdie koning gewees het. Wie was meer werd as hierdie man wat soveel geld beheer het?

Maar dan wys die vervolg van die verhaal dat ook hierdie groot man in die koninkryk die genade en guns van die koning nodig het om te bly lewe. Hy is, vanweë die skuld wat hy gemaak het, niks meer nie as ‘n begenadigde. Selfs die grootste in die koninkryk van die hemele is ‘n begenadigde. En wanneer hierdie dienskneg dít nie besef nie, word hy net daarna ‘n verhindering vir God se genade om deur te werk in die lewe van sy mede-dienskneg. Hy verag God se genade vir sy eie lewe, en hy gun dit ook nie vir sy broeder nie. En ons moet goed raaksien wat sy mede-dienskneg hom skuld – dit is nie maar ‘n persoonlike leningtjie tussen hierdie twee kollegas nie. Nee, die geld wat sy mede-dienskneg hom skuld, is deel van die ontsaglike skuld wat hy by die koning gemaak het. Maar die koning het dan sopas hierdie skuld kwytgeskeld? Hoekom wil hy dit dan nog invorder? Hierdie man speel met die genade van die koning; meer nog: hy verspeel die genade van die koning. Hy het genade gekry, maar hy weier om sy broeder daarin te laat deel…

Gemeente, met die eerste lees sukkel ons om die eenheid in Mattheus 18 raak te sien, maar wanneer ons dit rustig bestudeer, dan sien ons dat die hele hoofstuk 18 in al sy onderdele hierdie een hoof-fokus het: sien ek my posisie voor God, en kan ek dít vervolgens tot uiting laat kom in my omgang met broers en susters? Sien ek dat die Seun van die mens gekom het om te red wat verlore is (en vul dan asseblief jou eie naam in by ‘dié wat verlore is’), sien ek dat God my barmhartig was en is, sien ek die onbetaalbare skuld waarvan God my vrygespreek het? En moet ek dan nie ook my mededienskneg barmhartig wees nie? Sien ek dat God daarop uit was om my te behou, en kan ek myself daarom vervolgens toelê op die behoud van my broeder of suster, ook al het hy of sy swaar teen my gesondig? Sien ek dat, ook al is ek een van die ‘grotes’ in die gemeente, ek nogtans ‘n begenadigde voor God is?

Om ‘n bouer hier in die gemeente te wees – en ons almal is veronderstel om een te wees – dit is nie ‘n posisie van eer nie. Of dalk beter gestel: dit het nie die bedoeling om ‘n posisie van eer te wees nie. Wanneer Christus ons as mede-bouers aanneem, dan wil Hy nie hê dat ons na rangorde begin vra nie: wie van ons is nou eintlik die belangrikste? Wie van ons het die meeste aansien hier in Maranata? Nee, om ‘n bouer te wees, beteken om ‘n dienskneg te wees; dit beteken om die Here Jesus na te volg in nederigheid en diensbaarheid aan jou mede-diensknegte, jou broers en susters hier om jou heen. Om ‘n bouer te wees, beteken daarmee saam óók om te vergewe, soos wat jy deur die Here vergewe is. Ja, vergifnis is van die mees kosbare stene in die opbou van die gemeente; vergifnis is voorwaar hoekstene waarop die gebou van die gemeente kan floreer.

Immers, die fondament self bestaan uit vergifnis, en dit is ‘n onwrikbare fondament. Sou ons dan nie daarop moet bou met stene van vergifnis nie? En moet dan nie sê: “Hierdie saak het niks met jou of die res van die gemeente te doen nie, dit is iets tussen my en hom” nie. Nee, broer en suster, hoe persoonlik ook al, dit raak ons almal hoe julle-twee met mekaar omgaan; julle is immers stene binne hierdie gebou. En daarom sê ek weer: die fondament is rooi met die bloed van Christus – moet die stene wat ek in hierdie gemeente lê, dan nie ook rooi geverf wees met sy bloed nie? Is dit nie ‘n logiese gevolg nie? Aan die ander kant is onbereidwilligheid om te vergewe van die mees afbrekende faktore in die gemeente; waar lidmate nie bereid is om mekaar te vergewe vir wat ander aan hulle gedoen het nie, daar ly die gebou as geheel skade. Hierdie onbereidwilligheid tot vergifnis werk homself deur – dit is nie maar net ‘n enkele steen wat daardeur beïnvloed word nie; nee, uiteindelik loop die kraak deur die hele gebou. Almal van ons ly daaronder.

Broers en suster, hier in die gemeente kan ons mekaar baie seer maak, ons kan diep in die skuld kom by mekaar. Dit is moontlik; die bouwerk van die kerk bly altyd gebrekkig. Maar die groot vraag is: wat maak ons dan daarmee? Is dit maar net ‘n kwessie van: “ons sit nie om dieselfde vuur nie”, en daarom vermy ons mekaar? Daarom praat ons nie meer met mekaar nie? Dit kan mos nie wees nie! Dit is mos onmoontlik in ‘n liggaam waarvan ons bely dat nie een lid kan sê dat hy die ander nie nodig het nie. Maar wat moet dan gebeur? Wel, daar moet eenvoudig herstel van die seer plaasvind, daar moet versoening kom. Dit is immers die voorbeeld wat ons by die koning in die gelykenis sien: hy het sy diensknegte geroep om met hulle af te reken; daar moes rekenskap kom, die boeke moes versoen word. Nou, so is dit ook onderling tussen die diensknegte van die koning – daar moet versoening kom. En daarom was die eerste dienskneg heeltemal reg toe hy met sy mede-dienskneg oor dié se skuld gaan praat het. Hy was 100% reg; dit is presies wat moes gebeur het. Ons moet praat oor die skuld wat ons bymekaar gemaak het; die seer moet uitkom. Want onthou: dit is nie ‘n seer waarin net ek en jy deel nie; nee, die hele liggaam word daardeur geraak; as een lid seerkry, kry almal saam seer.

Maar die eerste dienskneg het ongelukkig vergeet hoe hy deur die koning behandel is; hy het vergeet dat dit slegs deur die koning se genade was dat versoening moontlik geword het. Waar hy ontelbare skulde gehad het, het hy ontelbare genade in ruil daarvoor ontvang. En in plaas daarvan om sy mede-dienskneg aan die keel te gryp, moes hy van die koning se genade uitgedeel het. Want die skuld van die mede-dienskneg was skuld aan die koning, daarom moes die koning se genade ook aan hom bewys word.

Dus, broers en susters, daar moet versoening plaasvind waar daar skuld is; waar ons mekaar te na gekom het, waar ons mekaar seergemaak het, daar moet dit versoen word, daar moet vergewe word. Ja maar, hoe kan ek vergewe as hy my so seer gemaak het? Hoe kan ek vergewe as sy my soveel leed aangedoen het? Onthou dan: ook die grotes in die koninkryk is begenadigdes. Jy hoef nie genade te bewys nie; al wat jy moet doen is om die Here se genade – wat aan jou bewys is – verder te versprei. Jy hoef nie iets van jouself uit te deel nie; jy moet eenvoudig uitdeel wat aan die Here behoort. Dit is dan ook waarvoor ons eendag verantwoording sal moet doen: die Here gaan nie eendag vir ons vra hoekom ons nie vergewe het nie, maar Hy gaan vra hoekom ons sy vergifnis vir onsself gehou het. Hy gaan vra hoekom ek nie die behoud van my broeder of suster gesoek het nie, terwyl Hy sy eie Seun oorgegee het om my behoud te bewerk. As ons nie vergewe nie, gaan ons uiteindelik aangekla word van diefstal en selfverryking: “Jy het my genade vir jouself gehou!” Vergifnis is eenvoudig om ander te laat deel in die genade van die Here; dit is eenvoudig om te sê: “Hier, my broer, my susters, ek het dit ook maar net ontvang. Ek vergewe jou, verniet, want verniet het ek dit ontvang. Kom ons gaan saam verder!”

Wie deur die krag van God se Gees sover kan kom om te vergewe, en wie deur die Gees die bereidheid kan opbring om te vergewe, het in hierdie gemeente ‘n steen van onskatbare waarde en skoonheid gelê, een waaroor ons jare later nog bly kan wees, een wat vir die toekoms heerlike vrugte sal oplewer.

Amen

 

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Votum Ps. 121:1
seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 47
Wetslesing + NT weergawe
Sing Ps. 86:3, 6 en 8
Gebed
Lees:  Mattheus 17:24-18:35
 Genesis 4:19-24
Kollekte
Sing Ps. 37:15, 16, 23
Teks: Mattheus 18:11 en 33
Preek
Gebed
• Ek begin met gebed
• Sing as gebed van die gemeente Ps. 51:5 en 6
• Ek voltooi gebed
Slotsang Skr. 21:4-6
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)