‘n Ernstige roeping in verbondenheid aan God se Gesalfde

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2010-02-07
Teks: 
Heidelbergse Kategismus, Sondag 12
Verwysing: 
HK 12-1
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

Geliefde gemeente van Christus,

As gelowiges sukkel ons dikwels daarmee om ons lewens voluit in diens van die Here te wy; om ons hele bestaan – elke aspek daarvan! – as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer aan God oor te gee, soos wat Paulus daaroor praat in Romeine 12:1, gaan vir ons soms een tree te ver. Dit is vir ons soms net té radikaal.

En dit kom op verskeie maniere tot uiting… Dit kom onder andere tot uiting in ‘n bepaalde onbetrokkenheid by die kerklike lewe. Lidmate sal dit geensins oorweeg om hulle kerklidmaatskap te beëindig nie – hulle is immers gelowiges! – maar hulle staan ook beslis nie voor in die ry om hulle gawes tot nut en saligheid van die ander lidmate aan te wend nie (lees maar Sondag 21 van die Kategismus). Om mense te kry om met bepaalde funksies te help, of om in ‘n kommissie te dien, of om barmhartigheidsdiens te verrig wanneer iemand siek is, is soms maar ‘n gesukkel; om jeuglede sover te kry om belangstelling te toon in die lewe van daardie onbetrokke jeuglid, is dikwels te veel gevra. En “as jy verwag dat ek nog een van my kosbare aande moet opoffer vir ‘n bybelstudie, dan maak jy ‘n fout…” – is ‘n uitspraak wat nie totaal vreemd is in ons tyd nie.

Hierdie gebrek aan oorgawe kom verder ook tot uiting in ons christelike lewensstyl – ons wil die Here dien, maar om sekere sondes in ons lewens te laat staan om sodoende Christus na te volg, is vir ons baie moeilik. Om jouself te bekeer wanneer jy deur die ampsdraer vermaan word… “natuurlik het ons gehoor wat hy sê, maar hy moet ook nie te veel verwag nie, hy moet nie onredelike eise stel nie.” 

Sien u, die volle oorgawe in diens van die Here, dit is dikwels een te veel. En een van die groot redes hiervoor, broers en susters, is ‘n gebrek aan ampsbesef; baie keer weet ons nie meer watter roeping ons in hierdie lewe het nie. O ja, ons is bereid tot groot inspanning om sodoende die maatskaplike leer te kan klim; ons werk sonder enige moeite oortyd om sodoende ‘n bevordering of bonus te verseker. Maar die besef dat ons eendag as ampsdraers voor die Here verantwoordelikheid sal moet aflê, dit ontgaan ons. Om jou gawes en talente te gebruik om verder in hierdie wêreld te kom, dit is amper vanselfsprekend, maar die bereidheid om offers te bring ter wille van die koninkryk van God…?
Nou, gemeente, dit is presies waaroor Sondag 12 gaan – ampsbesef, roepingsbesef. Nie omdat’n ampsdraer of mede-gelowige sê dat dit so behoort te wees nie, maar omdat jy aan Christus verbonde is!

Tema: ‘n ernstige roeping in verbondenheid aan God se Gesalfde
1. Die salwing van die Hoof
2. Die salwing van die lede

1. Gesalfde – dit was ‘n bekende titel in die Ou Testament. Sowel konings as priesters is met hierdie titel aangedui. Dink byvoorbeeld aan wat daar staan in Numeri 3:3, waar ons lees: “dit is die name van die seuns van Aaron, die gesalfde priesters, wat hy aangestel het om die priesteramp te bedien.” En in 2 Samuel 23:1 lees ons hoe Dawid van homself as koning sê: “Dawid spreek, die seun van Isai, en die man wat hoog geplaas was, spreek, die gesalfde van die God van Jakob…” Dus, hier is die term ‘gesalfde’ toegepas op mense wat in ‘n baie besondere amp gedien het. Maar, gemeente, buiten hierdie gebruik van die term ‘gesalfde’ soos dit op mense toegepas is, was daar natuurlik ook nog die belofte van God se komende Gesalfde, waarna die gelowiges van die Ou Testament uitgesien het – in Hebreeus staan daar dan vir ‘Gesalfde’ die woord ‘Messias’, en in Grieks word die woord ‘Christus’ gebruik. Ons Verlosser is dus ‘n Messias, ‘n Christus, ‘n Gesalfde. Meer nog: Hy is die Gesalfde!

Nou, hierdie naam ‘Christus’ is nie ‘n persoonsnaam, soos die naam ‘Jesus’, waarna ons verlede week gekyk het nie. Nee, dit dui baie eerder op ‘n titel. Die naam ‘Christus’ is ‘n aanduiding van ons Heiland se posisie, die amp wat Hy beklee het. Miskien is dit net goed om dit vir die kinders onder ons te verduidelik: wat is ‘n amp? Wel, ‘n amp is ‘n taak wat iemand ontvang het, dit is ‘n roeping wat iemand in sy lewe moet vervul. En kenmerkend van ‘n roeping is dat iemand nie homself daarvoor aanstel nie. Nee, vir ‘n roeping – die woord sê dit al! – word jy geroep. Dink maar aan die ampsdraers wat hier voor sit – hulle het hulleself nie op ‘n mooi dag by die kerkraad kom aanmeld om die amp op hulle te neem nie: “Hier is ek. Ek is nou ook ‘n ouderling, en as jy moeites het, kom praat gerus.” Of: “As jy in liggaamlike of finansiële nood is, ek is nou jou diaken, ek het myself daarvoor aangemeld.” Nee, ons almal weet dat dit nie so werk nie. Ouderlinge en diakens en predikante word geroep, en om aan hierdie roeping uiting te gee, is daar vervolgens ook ‘n openbare bevestiging waartydens die ampsdraers hulle roeping aanvaar.

Nou, presies só was dit ook met die Here Jesus. Hy is deur die Vader geroep tot ‘n baie spesifieke taak of amp. Hy was ‘n ampsdraer, en Hy is deur Johannes die Doper in sy amp bevestig – ons het daarvan gelees uit Mattheus 3. Ja, Johannes die Doper, hy het voor die Here Jesus uitgegaan. Hy het die pad voorberei vir die koms van die Here Jesus. Hy moes die volk roep tot berou en bekering, en vervolgens moes hy hulle doop met die doop van bekering tot vergifnis van sondes. Só moes hy die volk gereed maak, voorberei om die Verlosser te ontmoet. Maar… dan moet Jesus mos nie gedoop word nie?! Hy het mos geen bekering en vergifnis van sondes nodig nie? Ons kan Johannes se ontsteltenis verstaan wanneer Hy vir Jesus sê: “Ek het nodig om deur U gedoop te word, en kom U na my toe?” Maar dan antwoord Jesus hom: “Laat dit nou toe, want so pas dit ons om alle geregtigheid te volbring.” So pas dit ons, so moet dit gebeur, dít is ons onderskeie take, ons onderskeie roepings tot redding van die volk Israel – deur My te doop, vervul jy jóú taak, Johannes. En deur Myself te laat doop, vervul Ek mý taak. Só moet dit wees. 

Ja, gemeente, deur Homself te laat doop, begin Jesus met die vervulling van sy Godgegewe taak. Maar hoe presies? Wel, deur Homself te laat doop, verklaar Jesus dat Hy een is met sy volk; Hy gaan gemeenskap aan met verlore sondaars, Hy plaas Homself op dieselfde vlak as hulle; Hy laat Homself inskryf in dieselfde doopregister as hulle. Op dié manier aanvaar Hy sy taak, sy amp, sy roeping om vir sy volk vergifnis van sondes en verlossing te bewerk. Hier by sy doop verkeer ons dus op ‘n geweldige belangrike moment in die lewe en werk van die Here Jesus. Jesus is van ewigheid af deur die Vader geroep om die werk van verlossing te verrig, en op hierdie moment van sy doop… nóú aanvaar hy amptelik en in die openbaar hierdie taak. Vanaf hierdie oomblik wórd Jesus die Christus.

En dan is merkwaardig om te sien dat, wanneer Hy hierdie eerste tree geplaas het op die pad om sy amp na te kom, dan hoor ons die bevestigende stem van die Vader wat Hom geroep het: “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het.” En daarmee saam ontvang Jesus ook die Heilige Gees wat Hom bekwaam sal maak vir die werk wat Hy sopas begin het; die Gees sal saam met Hom gaan, die Gees sal Hom krag gee vir die vervulling van sy taak. Jesus staan van hierdie oomblik af in volle ampsdiens! Van hierdie oomblik af is sy lewensloop nie vrye keuse nie, maar word Hy stap vir stap gedra deur die opdrag van sy Vader. Alles wat Hy van hier af gaan doen, is ampsdiens – diens aan sy Vader, en diens aan die sondige volk tot hulle verlossing. Elke woord, elke wonderdaad, elke gedagte is van hier af gerig op daardie ampsdiens. En gemeente, ons weet vanuit die Skrif dat dit die swaarste ampsdiens was wat ooit bestaan het: sy geboorte, sy werk, sy lyding, sy dood aan die kruis, sy helse verlatenheid… – dit was loodswaar, ‘n pad van selfverloëning en opoffering. Maar, onthou wat Hy self in Mattheus 3:15 sê: só pas dit Hom! Só moes dit wees! Slegs op hierdie manier kon Hy verlossing bewerk vir sy volk Israel en vir ons vandag.
En ons weet, broers en susters, dat Hy hierdie pad enduit gestap het. Hy het nie halfpad tou opgegooi nie; Hy het nie op moeilike momente gesê dat Hy nie meer kans sien nie. Selfs tydens sy moeilikste oomblik – daar in die tuin van Getsemane kort voordat Hy gevange geneem is – het Hy nie sy goedjies gepak en huistoe gegaan nie. Nee, hoor Hom bid: “Abba, Vader, alle dinge is vir U moontlik; neem hierdie beker van My weg; nogtans nie wat Ek wil nie, maar wat U wil.” Dít is nou ware ampsdiens in die aangesig van die grootste gevare; dít is wat dit beteken om getrou te wees aan jou roeping, naamlik om jou diepste nood teenoor jou Opdraggewer te verwoord, en dan nogtans te sê: “Maar as U wil dat Ek verder moet gaan, dan gaan Ek verder. In die krag van die Gees waarmee Ek gesalf is.”

Gemeente, laat ons die Here prys vir ‘n Verlosser wat werklik Christus was, Gesalfde! Pligsgetrou in alles wat Hy gedoen het. Sy roeping en sy roepingsbesef het Hom voortgedryf: “Ek kom om u wil te doen, o God” – lees maar Hebreërs 10. En nooit vir een oomblik het Hy sy roeping versaak nie. Terwyl almal rondom Hom Hom verlaat het, ontrou was, hulle plig versuim het, het Hy voortgegaan om God se wil te doen. En só is daar verlossing vir jou en my; só kan ons weer die mense wees wat God bedoel het. Dit was die pad van ons Hoof, Jesus die Christus, die Gesalfde.

Maar, gemeente, dit het gevolge vir dié wat Hom wil navolg. Die pad van die lede sal nie anders wees as die pad van die Hoof nie. Want hulle vorm saam met Hom een liggaam. En jy en ek is mos deel van sy liggaam?

Dit bring ons by ons tweede gedagte: die salwing van die lede.

2. Ek is ‘n christen; jy is ‘n christen. Ons sê dit soms so maklik, so vanselfsprekend. Maar weet ons werklik wat dit beteken, broers en susters? Om ‘n christen te wees, beteken nie in die eerste plek om allerhande christelike dade van liefde en barmhartigheid te verrig nie – ja, dit natuurlik ook. Maar christen-wees beteken heel eerste om deel te hê aan Christus, dit beteken om in Hom ingelyf te wees, om ‘n goddelike eenheid met Hom te vorm. Én dit beteken daarmee saam ook dat jy deel mag hê aan sy salwing. Hy het, as die volmaakte Ampsdraer, die Gees sonder enige beperkings ontvang, en as gelowige mag ek nou daarin deel. Die Gees van Christus word ook aan my belowe. Wonderlik, nie waar nie? Die Heilige Gees is ook vir my! Dit is iets waaroor daar onder ons maklik misverstande kan wees: wanneer kry ek die Gees? Is dit ‘n tweede stap nadat ek in Christus begin glo het? Nee, wanneer ek in Christus glo, dan het ek die Heilige Gees! Want Hy is die Gees van Christus. Maar onthou dan, gemeente, dat Christus hierdie salwing ontvang het… waarvoor? Hy het die salwing met die Gees ontvang om sy táák te kan uitvoer, om sy ámp te kan volbring! Hy ontvang die Gees daarom ook baie bewustelik by die moment van die aanvaarding van sy amp – dáárvoor is die Gees aan Hom gegee.

Dit is so anders as wat ons dikwels in kerkgroepe om ons heen sien – daar kry die Gees so maklik ‘n totaal ander funksie. Daar vervul die Gees dikwels die funksie om die mens as mens goed te laat voel, om hom te laat voel dat hy in die sewende hemel is. Daar is die Gees die vriend van die gevoel en die belewenis. Vervulling met die Gees word dan ‘n saak van emosie en ekstase, van “praise and worship”. Terloops, in die BY-Beeld van enkele naweke gelede was daar ‘n artikel waarin die skrywer die oppervlakkige “praise and worship” wat ons so dikwels teëkom, beskryf as geestelike selfbevrediging. En dit is nou presies die soort funksie wat die Gees dikwels kry – Hy word die instrument om my goed te laat voel; dít is inderdaad niks anders nie as geestelike selfbevrediging.

Nou hoef ons natuurlik nie te ontken dat die Gees die gevoel en die emosies in beroering bring nie; ons hoef nie bevrees te wees vir die belewenis nie. Maar die werk van die Gees gaan nooit daarin op nie; ek kan Hom nooit gebruik vir mý behoeftes nie. Dit is eerder andersom: Hy neem my in beslag om sý doel te bereik, om Christus se doel te bereik. Ons deel in die salwing met die Gees om ons toe te rus en krag te gee vir ons ampswerk, vir die roeping wat ons van die Here ontvang het.

En daarom lees ons in die Skrif dat die Gees mense in beweging bring, dat die Gees hulle aan die werk sit. Ons sien dit by Christus self: net nadat Hy die salwing met die Heilige Gees ontvang het, word Hy deur daardie einste Gees die woestyn in gelei om sy groot vyand te gaan trotseer, om die eerste stap van sy werk in die stryd teen die Satan te gaan aanpak (Matt. 4:1). En so geld dit ook vir die gelowiges: die Gees is nie net daar om ons goed te laat voel nie; nee, die Gees bring ons in beweging, rus ons toe vir ons Godgegewe taak, gee ons krag vir daardie ampsdiens. Dít is die doel waarmee Jesus in Handelinge 1 die Gees aan die apostels belowe het. Hulle kry die taak, die amp, om getuies te wees in Jerusalem, Judea, Samaria en tot aan die uiterste van die aarde. En vir daardie taak, só sê Jesus, sal julle krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom.

Die Gees, wat aan die hele gemeente gegee, is daar om ons krag te gee en by te staan in die toewyding van ons lewens aan die Here. En daarom is dit so belangrik, broers en susters, dat ons ons lewens sal sien as ampsdiens. En dan geld dit nie slegs vir die manne wat hier voor sit nie. Dit geld vir elkeen van ons! Daar moet weer ‘n christelike ampsbesef kom! Elkeen moet ons onsself afvra: Wat kan ek doen in diens van die Here? Wat beteken my lewe voor sy aangesig? Gebruik ek my gawes tot sy eer en tot opbou van die gemeente? Is ek bereid om offers te bring in sy diens? O, dit is maklik om onsself voluit in te sit om ons eie plek in die samelewing te verbeter, of om onsself vir ons eie ideale te beywer. Ons werk kliphard om daardie graad te kry, ons sit ure en ure oortyd in om ons baas gelukkig te hou, ons maak opofferings om ons dagtaak gedoen te kry. Ons het nie baie moeite om daarvoor te gaan nie! Dit kom as’t ware vanself vir mense wat van nature op hulleself gerig is. Maar sien ons in die eerste plek nog ons roeping in die ryk van Christus? Of het dít wat eerste prioriteit in ons lewe behoort te wees, laer af op die lysie verdwyn? Verstaan ons nog ware, christelike roepingsbesef? Verstaan ons nog wat dit is om Christus van harte na te volg? Ons sê dit so maklik, maar kry dit ook uitwerking in ons lewens?

Nou, gemeente, om aan hierdie soort vrae hande en voete te gee – om dit konkreet te maak – kom ons gebruik die driedeling van profeet, priester en koning waarvan ons in die Kategismus lees om ons te help.

In die eerste plek is daar ons profetiese taak; dit beteken “om sy Naam te bely”, soos die Kategismus dit verwoord. Ons kry die taak om getuies te wees. En dit geld nie slegs formele evangelisasie-werk nie. Nee, laat jou hele lewe spréék van die genade van die Here – jou lewenswandel, jou optrede teenoor jou naaste, jou woord- en taalgebruik, jou gedagtes – laat uit dit alles blyk dat jy God ken en nie oor Hom kan stilbly nie. Neem as Christen die Woord! – nie om kwaad te spreek of om met woorde te mislei nie, maar om profeet van God te wees. Ons laat so dikwels toe dat die ongelowiges die woord annekseer, dat hulle die Naam van God beskimp; ons sit stil terwyl goddelose mense satansprofete is. Gemeente, laat ons daardie woord terugneem en laat ons spreek, laat ons in ons lewens getuies wees, enige tyd bereid om rekenskap te gee van die hoop wat in ons is. En weereens, ek probeer nie een of ander adverteerder vir evangelisasie-werk te wees nie; ek wys eenvoudig wat jou taak is – of jy nou daarvan hou of nie, of dit nou jou persoonlikheid pas of nie. Dit is jou roeping, en die salwing met die Gees maak jou geskik daartoe! Sien u, die Here vra nooit iets as Hy nie ook die krag en die middele daarvoor gee nie. Hy rus jou toe met alles wat jy nodig het, en dan is daar geen rede om te sê: “ek kan nie profeet wees nie.”

Vervolgens is daar ons priesterlike taak: “om jouself as lewende dankoffer aan God toe te wy”, soos die Kategismus sê. Hier word jy dus gevra om jouself volledig in die diens aan die Here te wy! En daarmee hoef jy nie iets te verdien nie; nee, die versoeningsoffer is reeds gebring deur ons enigste Hoëpriester. Maar bring met jou diens aan die Here offers van dankbaarheid. Offers van dankbaarheid wat uiting vind op elke terrein van jou lewe – en dan stort jy jouself nie meer in die sonde nie, dan wandel jy nie meer in die duisternis van hierdie wêreld nie; nee, as priester word jy dan deur die Here geheilig om sy wil te doen; Hy gee vir jou ‘n ware priesterhart waaruit liefde vir God en jou naaste na vore kom.

Broers en susters, priesters soek daarom nie nog ‘n bietjie van die sonde en probeer ook ‘n bietjie die Here dien nie. Nee, priester-wees beteken om ‘nee’ te sê, waar jou hart moontlik vir jou ‘ja’ sê; priester-wees beteken om volledig toegewy te wees in diens aan God en die naaste. En dit kos soms iets; die offers wat die Here vra, is nie altyd maklik nie. Inteendeel, dit is soms bitter swaar. Miskien moet jy iemand laat gaan ter wille van Christus, terwyl jou hart uitskreeu dat jy nie sonder daardie persoon kan klaarkom nie. Miskien moet jy soms lewensdrome en ideale laat vaar, omdat die Here jou vir ‘n sekere taak geroep het. Maar dit is nou priesterskap – om jou eie ideale en wense agtertoe te skuif om aan God en sy wil gehoorsaam te kan wees.

Gemeente, wees christene waar die priesteramp voluit ‘n plek kry – wees priesters teenoor mekaar, dien mekaar; wees priesters vir God, wy jouself aan Hom. En as ek soms uit swakheid in sonde val – soos die nagmaalsformulier dit so pragtig stel – dan vlug ek na my enigste Hoëpriester wat steeds gedurigdeur met sy voorbidding by die Vader vir ons intree. Dan wy ek opnuut my lewe aan die Here – immers, ons is nog nie volmaakte priesters nie. Maar priesters is ons, deur Jesus Christus.

En ten slotte is daar ons taak as konings. Konings wat bereid is om teen die sonde en die duiwel te stry, wat bereid is om die sondes in hulle lewens aan te spreek, veral die sonde van laksheid in die diens aan die Here. Ons is maar al te gou tevrede met ons diens aan God, en intussen kan ons baie maklik die tekortkomings in ander se dienswerk aantoon. Maar dit is die uitdaging om as koning jou eie lewe in die lig van die Woord van God te toets, en te doen wat nodig is sodat Christus heerskappy in jou lewe voer. Jy is ‘n koning wat die groot Koning toelaat om jou lewe te beheer; jy is ‘n koning wat deur die krag van die Heilige Gees die sonde uit jou lewe verban. Heers in sy krag!

Gemeente, die wêreld het ‘n ontsaglike aantrekkingskrag op ons lewens. So maklik, so subtiel lê ons ons ampsdiens af, want daar is mos soveel ander dinge wat ons aandag opeis; ons is mos so besig. Maar dink weer mooi na: as ek sê ek is ‘n christen, dan het Christus prioritiet in my lewe. Dan is ek – lank voordat ek direkteur is of voordat ek top-student is of voordat ek onderwyser is of voordat ek mamma is of voordat ek prefek by die skool is – lank voor dit alles is ek profeet, priester en koning. Ek het ‘n roeping, ek het ‘n amp. Mag Christus met sy Gees ons help om dit uit te voer.

Amen

 

Liturgie (aand)

Groet en afkondigings
Votum Ps. 121:1
Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 150
Lees: Mattheus 3:13-17
 Handelinge 1:4-9
Gebed
Teks: HK, Sondag 12
Sing Ps. 143:8 en 9 as gebed
Preek
Amenlied Skr. 13:4 en 7 + Skr. 14:2
Gebed
Belydenis van geloof (singende)
Kollekte
Slotsang Skr. 25
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen

Liturgie: 

(kyk in preek)