Kerkbou is nie klippe kou nie!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2010-01-17
Teks: 
Nehemía 2:20
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

Geliefde gemeente, broers en susters,

“… tot opbouing van die liggaam van Christus” – só praat Paulus oor die kerk in sy brief aan die Efesiërs. Tot opbouing van die liggaam, van die kerk – klaarblyklik is die kerk dus nie ‘n voltooide, afgewerkte grootheid nie; die kerk is nie soos een van die voltooide en indrukwekkende stadions wat vir die wêreldbeker sokkertoernooi later vanjaar gebruik sal word nie. Nee, die kerk is ‘n werk in aanbou, die kerk is ‘n werk van opbou; tot op die dag van die wederkoms van Jesus Christus sal die kerk permanent in steiers staan – of ‘scaffolding’ soos wat ons bouers daarvan praat. In hierdie bedeling sal die opbou van die kerk nooit sy voltooiing bereik nie. Ja, ons weet dat eendag, wanneer Christus terugkom, dan sal die kerk – die nuwe Jerusalem – soos ‘n stralende bruid in al haar glorie Hom tegemoetgaan (Openb. 21:9 e.v.), maar tot op daardie dag word daar voortgegaan met die bou-proses.

En u sal waarskynlik saam met my stem dat ‘n onvoltooide gebou nie altyd ewe mooi is nie. Voor ons geestesoog sien ons die skoonheid van die voltooide produk, maar wanneer ons na die halfgeboude bouwerk kyk, kan dit effens teleurstellend wees. Só is dit ook met die kerk. Dít wat ons vandag van die kerk sien, kan teleurstel – kerkmense stel teleur, preke stel teleur, kerkrade stel teleur, die onderlinge liefde en ondersteuning is nie wat dit moet wees nie. Dit is inderdaad ‘n werk in aanbou… Maar voor ons geestesoog – die oog van die geloof! – sien ons die voltooide en volmaakte kerk, daardie ontelbare skare wat van aangesig tot aangesig met haar Here staan! En met daardie hoopvolle toekoms voor oë gaan ons, saam met ons groot Boumeester, voort om te bou. Rustig, gelowig, en tog ywerig.

Kom ons dink in die komende maande saam na oor hierdie werk van kerkbou, van gemeentebou, en ons begin vanoggend daarmee vanuit die boek Nehemia waar ons iets beleef van die opbou van die kerk ná die ballingskap.

Tema: Kerkbou is nie klippe kou nie! Solank as wat…
1. God se eer gesoek word
2. Die kerk ‘blind’ is vir die omstandighede

1. Het u in die afgelope week die beelde op televisie en in die koerant gesien van die verwoestende aardbewing in Haiti? Het u gesien hoe volledige geboue in puin gelê is? Mure wat omgeval het, stene wat die omgewing vol lê? Wel, broers en susters, iets soorgelyks moes Nehemia gesien het toe hy in die grootste geheimhouding sy nagtelike ekspedisie langs die mure van Jerusalem onderneem het. In een van die mees dramatiese tonele in hierdie boek sien ons hoe Nehemia sy pad probeer vind tussen rotsblokke, ruïnes en verbrande poorte deur. Dit was so erg dat sy rydier – waarskynlik ‘n esel – op ‘n stadium nie eens meer verder kon stap nie; die terrein het eenvoudig onbegaanbaar geraak, en Nehemia moet te voet verder gaan. Van Jerusalem – daardie stad waarvan ons in Psalm 122 sing: “Jerusalem is goed gebou en glinster in die son se vlamme” – van daardie stad en sy mure het daar weinig oorgebly wat nog geglinster het. Jerusalem was woes en die poorte is met vuur verbrand (vers 17). Was dit dalk simptomaties van hoe dit met God se volk, met die kerk van daardie tyd gegaan het? Ek dink so… En wat moes nie alles deur Nehemia se kop gegaan het toe hy dit alles so aanskou het nie – die verwoesting en verval, nie slegs materieel nie, maar ook geestelik?

Nehemia, as ek jy was, sou ek gou-gou my goed gepak het en teruggegaan het na Susan, na die bekende, na jou goeie betrekking in diens van die koning, terug huistoe! Huistoe? Ja, gemeente, Nehemia was miskien ‘n Jood, maar hy was ‘n boorling van óf Babilonië óf êrens in die Persiese ryk; die stad Jerusalem het hy in sy lewe nog nooit gesien nie – ons lees naamlik in Nehemia 2:1 dat al hierdie verwikkelinge waarvan die boek Nehemia ons vertel, begin het in die twintigste jaar van koning Artasasta – dus rondom die jaar 445 v.C.; bedink daarby dat die ballingskap ongeveer 140 jaar daarvoor in 586 v.C. plaasgevind het, dan kan ons uitwerk dat dit onmoontlik was dat Nehemia toe al gebore was. Nee, Nehemia was ‘n tweede- of selfs derde-generasie balling. Hy was gebore en getoë in die land van ballingskap, dáár het hy sy werk gehad, daar was sy lewe. Dít is waarskynlik ook die rede waarom sy ouers en hy ook nie saam met Serubbabel tydens die eerste terugkeer, óf saam met Esra tydens die tweede terugkeer hulleself in die beloofde land gaan vestig nie. Nee, hulle het in die land van ballingskap gebly; dáár het Nehemia vir homself ‘n lewe en ‘n netwerk van kontakte opgebou; daar het hy ‘n goeie werk gehad. Oos wes, tuis bes – dít was vir Nehemia in Persië, in Susan.

Maar wat het hom dan besiel om hierdie dwase onderneming te begin? Wat het hierdie vervreemde Jood, hierdie vreemdeling in Jerusalem besiel om te dink dat hy ‘n projek sal laat slaag wat jare lank nog nie van die grond af kon kom nie? Gemeente, ons moenie dink dat Nehemia onder enige illusie oor sy eie vermoëns was nie; Nehemia het nie vir een oomblik gedink dat hierdie sy persoonlike gemeentebou-projekkie was nie. Nee, die Here self het dit in sy hart gegee om Jerusalem te herbou (Neh. 2:12). Die Here self gee aan Nehemia ‘n nuwe betrekking – die skinker van Artasasta, die heerser van die toenmalige wêreldryk, hy word kerkbouer vir die God van die hemel! En wanneer God hom in diens neem, dan wil Nehemia ook voluit vir hierdie God werk; in sy diens wil hy staan. Ja, Nehemia wys in alles dat hy met hierdie skynbaar onmoontlike projek die eer van God soek! Niks anders nie. As dit oor homself gegaan het, dan was daar vir Nehemia geen wins in hierdie projek nie. Maar Nehemia wys duidelik dat kerkbou Godverheerlikend is en moet wees!

En dit is ook hoe ons sy woorde in vers 17 aan die leiers moet verstaan: “kom, laat ons die muur van Jerusalem opbou, dat ons nie langer ‘n voorwerp van smaad kan wees nie.” Die smaad waarvan Nehemia hier praat, is vir hom ‘n geestelike smaad, wat baie erger was as die fisiese verlatenheid van Jerusalem. Ja, die gevalle mure was ‘n veragting vir die Naam van God, ‘n saak van spot onder Jerusalem se heidense bure. Die sien van daardie vervalle mure vir langer as ‘n eeu het naamlik in die heidense verstand die gedagte laat posvat dat die Israeliete se God sy rebelse volk verlaat het en dat hy nie langer aan hulle kant was nie. En só is God se Naam onteer, só het God nie die eer gekry waarop Hy geregtig is nie – en dít is waaroor dit vir Nehemia hier gaan; dáárom is hy so ywerig en gewillig en gedrewe om Jerusalem weer op te bou! Nehemia soek die eer van God! En, gemeente, as ons aan die kerk wil bou, as ons in diens van God hierdie gemeente wil opbou, dan mag slegs daardie een motief ons dryfveer wees: die eer van God! Dan is dit ‘n vraag wat ons onsself voortdurend moet afvra: is die projek wat ons nou aanpak, tot eer van God? Wat is my motief vir hierdie daad? Hoekom bring ek hierdie bak kos vir daardie gesin wat dit nodig het? Wat is my motief om vir daardie bejaarde persoon te gaan kuier? Hoekom gaan ek kerktoe, of jeugvereniging toe of mannevereniging toe? Wat is diep in my hart die rede hoekom ek in hierdie of daardie kommissie wil dien, of nie wil dien nie? Die eer van God – daarna moet ons soek.

En, broers en susters, waarin kom hierdie motief om God se eer te soek, waarin kom dit mooier na vore as in Nehemia se gebedslewe? In die hele boek Nehemia, ‘n boek wat in sy geheel gaan oor die opbou van die kerk, word vir ons vertel van nie minder nie as nege spesifieke gebede van Nehemia; nege gebede te midde van dertien hoofstukke vol kerkbou-aktiwiteite. Dis reg, Nehemia kon nie kerkbou sonder om homself voor God te verootmoedig nie; hy kon nie kerkbou sonder om by God sy hulp te soek nie; hy kon nie kerkbou sonder om God te erken as die Verbondsgod, die God van die hemel, die grote en gedugte God nie (Neh. 1:5).

En een van die mees sprekende van al sy gebede is die gebed waarvan ons die inhoud nie ken nie, die ‘skietgebed’ van hoofstuk 2:4: “Daarop vra die koning my: Wat is jou begeerte? En ek het tot die God van die hemel gebid en aan die koning gesê…” Opmerklik, nie waar nie? In hoofstuk 1 sien ons nog dat Nehemia dae lank voor God gevas en gebid het, gesmeek het dat God hom sal laat slaag en aan hom barmhartigheid sal verleen voor die koning. Maar wanneer dan die kritieke geleentheid kom waarvoor hy die Here gevra het, dan kan hy nie anders as om nog eenmaal na sy God te kyk om in sy behoeftes te vervul nie. Die lot van duisende volksgenote het immers afgehang van wat hy in die volgende paar minute sou sê; dit was vir Nehemia ‘n te groot verantwoordelikheid om op sy eie te moet dra. Hy het hulp van buite nodig gehad. En daarom stuur hy sy ‘skietgebed’ op; daar en dan, in die teenwoordigheid van die aardse koning wat op hom gewag het vir ‘n antwoord – en jy het nie die Persiese koning laat wag nie! – op daardie oomblik bevind Nehemia homself voor die troon in die hemel.

Doen ons dit nog, broers en susters? Eer ons God nog met ons ‘skietgebede’ (ek noem dit maar ‘skietgebede’ by gebrek aan ‘n beter benaming) wanneer ons by die voordeur staan van ‘n moeilike huisbesoek? Eer ons God met ons roep om hulp wanneer ons op die punt staan om ‘n vergadering te open of ‘n bybelstudie te lei of ‘n lesing in die gemeente aan te bied? Eer ek God met my smeking vir krag wanneer ek alreeds met die telefoon in my hand staan om my broeder sterkte toe te wens in sy moeilike dae of my suster te vermaan wanneer sy gesondig het? En behalwe die skietgebede, eer ek God ook met my daaglikse gebede vir die opbou van sy kerk? Doen ons dit nog genoeg in ons gesinne?

Nehemia het! Want hy het verstaan dat hy hierdie werk nooit op sy eie sal kan doen nie. Dwarsdeur hierdie boek, dwarsdeur sy werk van reformasie en opbou van ‘n volk en ‘n stad in nood, bevind Nehemia homself telkens op sy knieë voor die hemelse troon: “Hoor, onse God…” (4:4), “versterk dan nou my hande” (6:9), “ontferm U oor my na die grootheid van u goedertierenheid” (13:22), “dink aan my, my God, ten goede” (13:31). Nehemia het verstaan dat kerkbou in sy diepste wese ‘n gebedsaak is, want juis in die gebed eer en erken ons God as die ware Boumeester van die kerk.

En, gemeente, laat ons dít elke dag opnuut leer! Want ja, die kerk is vir ons belangrik – baie van ons weeklikse aktiwiteite draai rondom die kerk, ons gaan vir ‘n groot deel om met kerkmense, ons gooi ons kragte in by kerklike aktiwiteite, ons wend ons gawes aan in die kerk, dit is vir ons belangrik hoe dit met die kerk gaan. Maar bid ons ook genoeg vir die kerk? Bid ons genoeg vir die opbou van die kerk? Hef ons nog ons oë op tot God wat in die hemel sit in die erkenning dat Hy die Boumeester van sy kerk is?

Wanneer ons dít verleer, dán word kerkbou klippe-kou, dán word dit ‘n onmoontlike projek, ‘n projek waaraan almal wat daaraan deelneem hulleself sal uitbrand. En dan word dit daarby ook ‘n projek tot eie eer; iets wat ons doen om gesien te word, iets wat ons doen tot selfbevrediging, tot opbou van ons eie selfbeeld. Wie hierdie las probeer dra, sal te gronde gaan. ‘n Kerkraad wat dink dat die opbou van die gemeente hulle verantwoordelikheid is, sal struikel onder die las; ‘n gemeente wat soos besige bye rondhardloop om die gemeente te laat groei, sal van vermoeidheid in mekaar sak. Ons kan nie, broers en susters.

Kom ons gaan daarom op ons knieë en ons eer God in ons gebede as die onfeilbare Boumeester, ook van hierdie gemeente: “Laat voor die Heer ‘n lofsang rys, hoe goed is dit om God te prys, hoe lieflik om die lof te sing, die lof wat ons aan Hom moet bring.” HOEKOM? “Want Hy wil ons in guns aanskou, Hy wil Jerusalem herbou…” (Ps. 147:1, ber.). Kerkbou is die mooiste werk, want Gód doen dit. Hy staan waarborg vir hierdie werk, Hy belowe dat hierdie werk sal vorder en sal klaarkom. En ek mag Hom daarby help. Kom ons eer Hom dan ook deur gereeld vir die opbou van ons gemeente te bid. En wanneer ons gebid het, staan dan op en sê in vertroue saam met Nehemia in ons teks: “Die God van die hemel, Hy sal ons dit laat geluk…”

[sing Ps. 147:1, 4 en 5]

Vervolgens: Kerkbou is nie klippe kou nie, solank as wat die kerk ‘blind’ is vir die omstandighede.

2. Gemeente, behalwe dat Nehemia God geëer het deur sy oë op te hef na die hemel, het hy ook nog iets anders gedoen wat van groot belang is in die opbou van die gemeente. Want kom ons wees eerlik, as ons in Nehemia se skoene was, sou ons waarskynlik – met alle eer wat ons graag aan die Here sou wou gee – tog maar ons eseltjie gelaai het en teruggekeer het na die gemak van ons eie huise. En moenie te maklik sê: “Ek sal nie! Ek sal bly en die werk doen.” Want het jy die omstandighede gesien? Het jy gesien hoe verskriklik haglik die omstandighede was waaronder Nehemia met sy taak begin het?

In die eerste plek was daar die gebreekte mure, ‘n verskriklike puinhoop. Op verskeie plekke in die Skrif lees ons van die verskriklike verwoesting wat die Babiloniese leërs gesaai het. Dink byvoorbeeld aan Psalm 79:1: “o God, heidene het gekom in u erfdeel, hulle het u heilige tempel verontreinig, Jerusalem tot puinhope gemaak.” En dink ook aan Jeremia se beskrywing van die toestand van Jerusalem in die boek Klaagliedere. Dit moes ‘n verskriklike gesig gewees het. Elke keer as ek in die afgelope week na die beelde van die aardbewing in Haiti gekyk het, het dit my onder andere met ‘n gevoel van moedeloosheid en magteloosheid gelaat. Want waar begin ‘n mens met die opruimingswerk? Hoe lank gaan dit vat om die paaie en geboue te herstel? Wie moet dit doen as daar nie behoorlik kos en water is nie? Nou, iets soorgelyks moes Nehemia ook gevoel het: waar begin ek? Wie gaan al hierdie werk doen? En hoe gaan ek die volk sover kry om gemotiveerd saam met my te werk – ja, dit is nie verniet dat Nehemia sy planne aanvanklik hoogsgeheim gehou het nie. 
En buiten hierdie interne probleme was daar ook nog probleme van buite-af: die vyande van die volk, daardie lastige driemanskap wat die lewe vir die volk baie moeilik gemaak het: Sanballat, Tobia en Gesem. Kyk met watter opmerking kom hulle toe hulle hoor van Nehemia se plan om die muur te herbou: “Wat is dit vir ‘n ding wat julle doen? Wil julle teen die koning rebelleer?” (Neh. 2:19). Hierdie woorde moes pynlik bekend geklink het in die ore van heelwat Israeliete. Want was dit nie Rehum en Simsai wat in Esra 4 presies dieselfde soort aanklag teen die volk by Artasasta ingedien het nie; lees maar Esra 4:12: “aan die koning word bekend gemaak dat die Jode wat van u af na ons opgetrek het, in Jerusalem aangekom het. Hulle is besig om die rebelse en slegte stad op te bou: die mure voltooi hulle en die fondamente herstel hulle.” Artasasta het net daar opdrag gegee dat die werk gestop moes word. Van daardie tyd af het niks aan die toestand van die mure verander nie. En nou dreig Sanballat en sy trawante om by dieselfde koning dieselfde beskuldiging in te dien. Hoe sou hy reageer? Wat sou word van Nehemia se werk in die koninklike paleis as die koning sou hoor dat hy die leier was van hierdie muurbou-projek?

Gemeente, die omstandighede waarbinne Nehemia homself bevind het, was dus ver van ideaal af. Was dit nou werklik die regte tyd om met sy kerkbou-projek te begin? Kon dit nie maar wag tot die tye verbeter het nie? Maar Nehemia staar hom nie blind op die omstandighede nie. Nehemia ignoreer nie wat die Here in sy hart gegee het omdat hy eers vir beter tye wou wag nie. Nee, gelowige hoor ons hom sê: “die God van die hemel, Hy sal ons dit laat geluk, en ons, sy knegte, sal ons klaarmaak en bou.” Nehemia kyk op na sy God en dit maak hom op ‘n gesonde, gelowige manier blind vir die omstandighede.

Blind vir die omstandighede? Is dit wys? Ons moet mos realisties wees? Ons kan mos nie die omstandighede net ignoreer nie? Gemeente, miskien kan ons dit die beste vergelyk met ‘n foto waarop daar ‘n voorgrond en ‘n agtergrond is. Die voorgrond is die fokus van die foto, dít waaroor die foto eintlik gaan. Die agtergrond verskaf slegs die omraming, die konteks. Nou, so is dit ook met die werk van kerkbou. God se opbou van sy gemeente is die fokus, die omstandighede verskaf die agtergrond waarbinne die opbou van die gemeente plaasvind. Maar wat doen ons dikwels? Ons fokus op die agtergrond – die omstandighede – terwyl die voorgrond na die agtergrond toe verskuif. God, wat ons fokus behoort te wees, verskuif na die agtergrond, terwyl die omstandighede – die moeilike tye, die onbetrokke mense, die slegte finansies – bepalend word. Met die gevolg dat ons, net soos die volk in die tyd van Haggai 1:4, veronskuldigend en met ‘n skoon gewete kan sê: “Nog het die tyd nie gekom, die tyd dat die huis van die Here gebou moet word nie.” Maar dit is nie wat Nehemia doen nie! Nehemia is uiteraard baie goed bewus van die omstandighede – hy het nie verniet ‘n inspeksie van die mure onderneem nie; en toe hulle eers begin bou het, het hy nie verniet ‘n deel van die bouers laat wagstaan teen die gevare van Sanballat en sy trawante nie. Maar hierdie omstandighede word vir Nehemia nie bepalend nie. Binne die omstandighede kan Nehemia steeds sê: die God van die hemel sal ons dit laat geluk, en ons sal bou!

Broers en susters, hierin lê vir ons ‘n les van onskatbare waarde in die werk van die opbou van die kerk. Ons moenie dink dat die Here vir sy kerk ideale omstandighede skenk waaronder sy kan groei nie. Ons moenie dink dat die kerkskippie in hierdie bedeling vir lang tye deur rustige waters sal vaar nie. Nee, sowel interne as eksterne omstandighede kan die lewe vir die kerk baie moeilik maak. Van buite-af is daar die spot van die wêreld, die druk en vervolging van die owerheid, die invloed van die sekularisasie. Maar amper nog erger is die interne moeites: mense wat nie saam wil bou nie, lidmate wat nie gemotiveerd is in die kerklike lewe nie. Mense wat voortdurend op die kantlyn staan met kritiek, of wat ander seermaak wat wel aktief wil deelneem in die kerklike lewe. Daar is ampsdraers wat gebrekkig is in hulle funksionering en nie altyd wyse besluite maak nie. En die finansiële middele ontbreek soms.

Maar word hierdie omstandighede bepalend? Maak dit ons moedeloos? Laat dit ons maar tou opgee, sodat ons onsself terugtrek? “Ek was altyd betrokke, maar die reaksie is so power dat ek dit ook nie meer gaan doen nie”? “Ek werk so hard, maar ek sien geen vrugte nie”? Nee, broers en susters, gelowig-blind vir die omstandighede! My betrokkenheid in God se werk in hierdie gemeente word nie bepaal deur die omstandighede nie. God is my fokus, en daarom sal ek – sy kneg – myself klaarmaak en bou. En op hierdie God-gefokusde, gelowig-blinde manier mag ons voortgaan om in diens van God in hierdie gemeente te arbeid. En laat ons mekaar daartoe aanspoor! As ek moedeloos raak, spoor my dan aan deur my op God te laat fokus. Hy bou sy kerk! En as jy moedeloos en onbetrokke raak, dan mag ek dieselfde met jou doen.

En ek weet: daar bly altyd spanning tussen wat ons van die kerk sien – haar gebrekkigheid en onvoltooidheid – en wat ons van die kerk mag glo, naamlik dat God met haar oppad is na die volmaaktheid. Aan die een kant stamp jy gereeld jou neus teen menslike kleinheid en beperkings. In die lig daarvan is ons soms geneig om die werk op te gee as onmoontlik en onuitvoerbaar. Maar wie, aan die ander kant, God sien werk, wie die krag van die Gees in sy eie lewe ken, weet dat menslike kleinheid in die gemeente nie die laaste woord het nie. Wat onmoontlik is by mense – dinge soos geloof, bekering van spesifieke sondes, naasteliefde, barmhartigheid teenoor mekaar – dit alles is moontlik by God: “en die muur is voltooi op die vyf-en-twintigste van Elul, in twee-en-vyftig dae” (Neh. 6:15). Onmoontlik? Moontlik, ten spyte van die haglike omstandighede!

Gemeente, kerkbou is nie klippe kou nie. Dis ‘n geloofsaak, al biddende en werkende. En die God van die hemel sal ons dit ook geluk. Ook in Maranata.

Amen

 

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Votum Ps. 121:1
Seëngroet: Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen. Sing Ps. 45:1, 6, 10 en 16
Wetslesing + NT-verkondiging
Sing Ps. 68:4 en 8
Gebed
Lees: Nehemia 1
Sing Ps. 143:1, 5, 7 en 9
Lees: Nehemia 2
Teks: Nehemia 2:20
Preek
• Ná 1ste punt Ps. 147:1, 4 en 5
• Amenlied Ps. 73:7, 10, 12
Geloofsbelydenis van Arnold Pouwels
Sing Ps. 134:3 en 4
Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 87
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)