Jesus, bringer van ware geluk...

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2010-01-31
Teks: 
Heidelbergse Kategismus, Sondag 11
Verwysing: 
HK 11-0
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

Geliefde gemeente van Jesus Christus, ons Here,

Wie van ons soek nie na geluk nie? En as ek sê “ons”, dan bedoel ek nie slegs kerkmense nie; nee, elke mens in hierdie wêreld soek na geluk. En om hierdie geluk te kan bereik, vorm mense vir hulleself ideale en drome, hulle probeer hier op aarde vir hulleself geluk skep. Helaas breek eintlik al hierdie ideale en drome stukkend op die realiteit van die sonde en die dood. Mense wat oorspronklik afkomstig is uit die paradys kan in die huidige, sondige wêreld nooit heeltemal gelukkig wees nie. En tog bly diep in menseharte die begeerte leef na ware geluk, die heimwee na ‘n iets anders, na iets beters.

Nou is dit opmerklik om te sien dat Jesus sy openbare optrede onder die volk juis begin deur die mense te onderrig oor hoe hulle gelukkig kan word, salig kan word. Want Jesus weet beter as enige iemand anders dat mense, ook al is hulle nie werklik ongelukkig in hulle lewens nie, tog nooit die ware geluk besit nie. En daarom begín Hy sy bergrede (Matt. 5-7), wat eintlik ‘n uiteensetting is van die wet van die Koninkryk, daardie bergrede begín Hy deur te spreek tot die harte van die volk wat onrustig op soek is na ware geluk. Jesus gee aan die skare ‘n hele reeks saligsprekinge wat as wegwysers dien tot die ware geluk; Hy wil die mense tot sy volgelinge maak omdat Hy aan hulle die onbereikbare wil gee. Hy is immers Jesus, die Saligmaker, die bringer van ware geluk!

Tema: Jesus, bringer van ware geluk…
1. Hierdie geluk vra gehoorsaamheid
2. Hierdie geluk is hemels
3. Hierdie geluk moet groei

1. Ons lees teen die einde van Mattheus 4 dat Jesus deur die hele Galilea rondgegaan en gepreek het en siekes genees het. Mattheus is selfs baie uitgebreid oor die genesing van siekes: hulle het na Hom gebring almal wat ongesteld was, wat gekwel was deur allerhande siektes en pyne en wat van duiwels besete was, en maansiekes en verlamdes – en Hy het hulle almal gesond gemaak. Van alle kante stroom die mense toe om Jesus se werk te ervaar, soms aan hulle eie lyf. En Mattheus sien hoe hulle almal saamstroom – vanuit Galilea, Dekapolis, Jerusalem, Judea, en van oorkant die Jordaan af.

Maar, wanneer hulle by Jesus saamgedrom het om sy wonderdade te aanskou en te ervaar, dan blyk dat Jesus nou ook iets van hulle verwag. Hulle het na Hom toe gekom omdat hulle sy wonders wou ervaar, omdat hulle onder die indruk was van sy kragtige dade. Maar nou wil Hy ook hê dat hulle Hom vérder moet volg, Hy wil hulle saamtrek in sy spoor.

En daarom lees ons dat Jesus, toe Hy die skare gesien het, opgegaan het na die berg. Ons vertaling (hy het op die berg geklim) gee nie weer wat daar eintlik staan nie. Letterlik staan daar: “Hy het opgegaan na die berg” – Hy was dus nog nie by die berg nie, maar Hy gaan op daarnatoe; en dit pas ook presies by hoofstuk 4:23 en 25 waar ons sien dat Jesus nog in Galilea was. Daarvandaan gaan Hy dan op na die berg, en verwag Hy dat die skare Hom sal volg. Dus, soos ‘n pelgrim opgaan na Sion, na Jerusalem, so gaan Jesus op na hierdie berg, wat vir Homself en sy dissipels skynbaar baie bekend was. Hy lei die skare na hierdie berg toe, Hy lei hulle in sy spoor! Ja, die volk wat na Jesus toe kom, bemerk dat Hy die leiding van hulle lewens oorneem; húlle kom vir die wonders en genesings, maar dan neem Hý hulle saam na die berg. En hulle moet volg!

En by die berg aangekom, blyk vervolgens ook dat die skare nie maar ‘n vryblywende houding kan inneem nie. Hulle moes Jesus volg tot by die berg, hulle moes dus volgelinge word, maar nóú moet hulle ook nog sy leerlinge word. Jesus stel Hom op in die posisie van ‘n leraar; Hy gaan sit, en sy dissipels neem hulle plek rondom Hom in (5:1). En dan vertel Mattheus op baie plegtige wyse dat Jesus begin het om die skare te onderrig; ons lees in 5:2: “… en Hy het sy mond geopen en hulle geleer…” Met hierdie hele opstelling wys Jesus dat Hy nie maar ‘n vryblywende opelugsamekoms hou nie; nee, Hy wil in die bergrede, wat nou gaan volg, sy hoorders leer wie Hy is en wat Hy kom doen het. Hy is nie maar soos die ander leraars van die volk nie, en die volk het dit besef – kyk maar na die laaste verse van die bergrede, hoofstuk 7:28-29: “En toe Jesus hierdie woorde geëindig het – wat Hy in 5:2 begin het – was die skare verslae oor sy leer; want Hy het hulle geleer soos een wat gesag het, en nie soos die skrifgeleerdes nie.” En dit si logies, want God self is hier aan die woord; die Saligmaker, die Een wat ware geluk gee, Hy spreek hier sy volk toe – en dáárom moet die volk luister, dáárom moet hulle hul aan Hom oorgee, en gehoorsaam wees! Hulle kan nie maar net onaangeraak omdraai en huistoe gaan nie.

Gemeente, hierin lê vir ons vandag ‘n geweldige belangrike les. Ons lewe in ‘n tyd waarin mense nie noodwendig afkerig teenoor Jesus staan nie. Inteendeel, dikwels stroom mense toe om te sien hoe kragte en wonders in sy Naam gedoen word; mense is onder die indruk van die skouspelagtige, hulle is eintlik meer navolgers van wonderdoeners as van Jesus; mense kom na Jesus omdat hulle wil sien dat Hy hulle probleme kan oplos, kitsoplossings kan gee vir finansiële moeite, huweliksmoeites en siekte; hulle wil sien dat die Here Jesus hulle sommer vinnig ryk kan maak.

Maar om Jesus self te ontmoet, om jou Verlosser te ontmoet, jou Saligmaker – die Een wat ware geluk skenk – daarvoor moet jy Hom volg na waar sy stém klink, moet jy gaan waar jy deur Hom onderrig word! Dáár vind jy saligheid, die verlossing van al jou sondes. En gemeente, uiteindelik is dit hier in die kerk – hier hoor u die Goeie Herder se stem, hier word u deur Hom onderrig. Jesus kom met sy verlossing vandag via die prediking – deur gebrekkige Woordverkondiging hoor u Jesus tot u spreek, hoor u oor die verlossing van sondes. Jesus kom met sy verlossing vandag via die katkisasie – deur weeklikse onderrig aan ons jeug leer hulle ken wie al hulle sondes wegneem, leer sien hulle wat ware geluk is, in teenstelling tot wat die wêreld aanbied as geluk. Jesus kom met sy verlossing vandag via die huisbesoek – wanneer die ouderling by u huis aankom, mag u weet dat Jesus hom gestuur het om aan u te verkondig dat u in Jesus alles het wat vir u saligheid nodig is.
Ja, broers en susters, hier hoor u die stem van Jesus wat die héle lewe verlos uit die greep van sonde en dood. Van hieruit word die héle lewe vernuwe deur Jesus. Gehoorsaam daarom sy stem wanneer Hy tot jou spreek – daarin lê jou geluk!

Ons let vervolgens daarop dat hierdie geluk, wat Jesus gee, hemelse geluk is.

2. Jesus gaan vervolgens oor tot die uitspreek van wat onder ons algemeen bekend staan as die saligsprekinge. Let daarop dat elke saligspreking uit twee reëls bestaan; in die tweede reël van elke saligspreking omskryf Jesus watter geluk – watter saligheid – ons kan verwag, wanneer ons Hom gehoorsaam navolg en na sy stem luister. Nou is dit opvallend om te sien dat ons in vers 3 en vers 10 dieselfde saligspreking vind: “… want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.” Ons kan dus sê dat al die saligsprekinge tussen-in omarm word deur hierdie een saligspreking; al die ander saligsprekinge word as’t ware bepaal deur hierdie een saligspreking. Die kern-saligspreking is dus dat aan die volgelinge van Jesus die koninkryk van die hemele behoort. Nou moet ons goed besef dat die koninkryk van die hemele nie dieselfde is as die hemel nie; hierdie saligspreking is daarom nie slegs bedoel vir eendag nie, dit is nie slegs vir die gelowiges wat reeds gesterf het nie, dit is nie vir mense wat êrens in die lug sweef nie. Nee, die koninkryk van die hemele is ‘n aanduiding vir dié gebied waar die hemel die toon aangee. Dit word ook die koninkryk van God genoem: dit dui dus op dié gebied waar Gód die seggenskap het. Daar waar God regeer, dáár is die koninkryk van die hemele, daar heers die hemelse geluksaligheid!

Ons moet besef, gemeente, ons leef in ‘n wêreld wat byna volledig losgeweek is van God, wat in opstand gekom het teen die hemel. Maar God laat dit nie net daar nie; nee, Hy het vanaf die begin, in die paradys al, belowe dat Hy sal kom om die opstandige aarde weer onder die gesag van die hemel te stel; Hy het belowe dat die hemel weer die toon op aarde sal aangee! En deur Jesus se werk aan die kruis vir die sonde van die mense word daardie belofte werklikheid, deur geloof in Christus word die blokkade tussen hemel en aarde opgehef. Oral waar in Christus geglo word, daar breek daar ‘n nuwe tyd op aarde aan: daar groei ‘n nuwe mensheid wat weer tot sy reg sal kom deurdat daar weer hemels geleef en gedink word. Jesus bring vir ons hierdie hemelse geluk deurdat Hy ons weer met God in die hemel versoen!
Dus, broers en susters, hierdie kern-saligspreking (in verse 3 en 10) maak ons nie los van hierdie aarde nie, dit laat ons nie met ons kop in die wolke loop nie, maar wat dit wel doen, is om ons hier op aarde te verenig met God. En wat meer wil ons hê? God is uiteindelik die Enigste wat die mens werklik gelukkig kan maak. In Jesus, ons Saligmaker, ontvang ons op aarde ware geluk, hemelse geluk, deurdat God weer ons lewens bepaal, Hy staan weer in die sentrum van ons bestaan.

Maar hoe lyk hierdie hemelse geluk dan? Wat behels die koninkryk van die hemele konkreet? Wel, gemeente, dít vind ons in die saligsprekinge tussen verse 3 en 10. Daarin blyk so pragtig die rykdom van die hemelse geluk, daarin blyk wat die hemelse geluk inhou, vandag al ten dele, maar binnekort ten volle.

Die hemelse geluk beteken in die eerste plek dat God se kinders getroos word (vers 4) – in alle moeite en hartseer wat ons hier op aarde nog beleef, is God daar om aan ons uitsig en rus te gee. Waar die sonde en die gevolge van die sonde nog ‘n verwoestende werking kan hê, gee God troos en maak Hy ons oë oop vir ‘n groter en mooier werklikheid. En eendag sal Hy die trane, wat vandag nog onkeerbaar kan vloei, finaal van ons oë afdroog. Die hemelse geluk beteken verder dat ons die aarde beërwe (vers 5) – hierdie aarde wat deur die wêreldmagte en deur die sondige praktyke van mense stukkend gemaak en verwoes word, sal geleidelik aan begin herlewe onder die heilsame bewerking daarvan deur God se kinders; en maak dit maar gerus konkreet in ons omgang en hantering van die natuur en die omgewing. En eendag, broers en susters, sal daar ‘n nuwe aarde kom, waar die leeu en die lam saam sal lê. Die hemelse geluk beteken vervolgens ook dat ons versadig word met geregtigheid (vers 6) – ons sal vol daarvan word om te doen wat vir God reg is, en miskien ervaar alreeds jy iets daarvan: dat dit vir jou ‘n lus en liefde is om te doen wat God van jou vra; eendag sal die bestaan van elke gelowige slegs onskuld en geregtigheid uitstraal. Die hemelse geluk beteken ook nog dat aan ons barmhartigheid bewys word (vers 7) – ja, ons moet besef dat barmhartigheid – die genade van God – die enigste manier is waarop ons die Koninkryk van God en die hemelse geluk sal ontvang. Die hemelse geluk beteken verder dat ons God sal sien (vers 8) – vandag al sien ons Hom in Christus Jesus, ervaar ons God se vriendelike aangesig oor ons en ons kinders, en eendag sal ons Hom van aangesig tot aangesig sien; dan sal die verhouding volmaak herstel word. En die hemelse geluk beteken ten slotte ook nog dat ons kinders van God genoem word (vers 9) – ‘n nuwe bestaan dus, ons lewe nie meer in eie naam en in eie krag nie, maar God se naam staan geskrywe op al ons dade, op al ons woorde en selfs op ons gedagtes. Ons benaming het verander van mensekinders tot Godskinders!

Broers en susters, dít is die koninkryk van die hemele, konkreet en tasbaar. Dit is ware geluk. En dit wil Jesus vir ons gee, hiervoor stáán Hy: Jesus, Verlosser, Saligmaker! Hy hef die vloek op wat oor hierdie lewe lê; Hy verwyder die uitsigloosheid waarbinne mense lewe; Hy gee hoop en toekoms. Salig is daarom elkeen wat in Hom glo, en Hom navolg, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele!

Ons let ten slotte daarop dat die hemelse geluk moet groei.

3. Ons het tot dusver nog die hele tyd gekonsentreer op die tweede reëltjie van elkeen van die saligsprekinge. Daarin word telkens die aard van die geluk aangetoon. Maar daar is ook nog iets om te sê oor die eerste reëltjies; daarin word aangedui vir wie die geluk bestem is. En in hierdie eerste reëltjies is dit opmerklik om te sien dat wanneer Jesus se volgelinge die hemelse geluk vandag in beginsel al ontvang, daarmee nie eensklaps alle moeite en sorge en onvolmaakthede weg is nie. Luister maar: salig is die wat treur, salig is die wat vervolg word, salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek. Die hemelse geluk hef nie alle aardse moeites op nie. Nee, die geluk wat ons in beginsel ontvang, moet nog groei!

Ons het as mense immers ‘n verlede van skuld opgebou, en ons is slegs gedeeltelik bewus van die onreg en hartseer wat ons die goeie Skepper aangedoen het. Ons besef moet daarom ryp word, en ons kry van God ook die tyd daarvoor. God plaas ons nie met een towerwoord van ‘n vuil lewe oor in ‘n volmaakte bestaan nie. Hy vat tyd daarvoor, en Hy loop ‘n pad met ons. Herstel van die hemelse geluk vereis groei, groei in vertroue, groei in berou, groei in liefde vir die Here. Nie as voorwaarde om die geluk te kan ontvang nie, maar wel as voorwaarde om, met die geluk wat jy alreeds ontvang het, werklik gelukkig te kan wees!

En daarom vind ons in die eerste reël van elkeen van die saligsprekinge nie volmaakte ontvangers nie; nee, ons vind daar mense wat oppad is, mense wat groei. Ons vind daar die armes van gees, die sagmoediges, die barmhartiges, die vervolgdes. Al hierdie beskrywings wys vir ons in watter rigting ons moet lewe, in watter rigting ons moet groei. Wie as volgelinge van Jesus só lewe, groei in die regte rigting.

Heel eerste vind ons die oproep om arm van gees te wees. Die woord wat hier met ‘arm’ vertaal is, dui nie soseer op iemand wat dag vir dag sy behoeftes verdien nie – só iemand is wel arm, maar hy het elke dag tog wat hy nodig het. Nee, hierdie woord dui op die bedelaar wat sonder hulp sal omkom omdat hy te min het om aan die lewe te bly; die bedelaar, totaal afhanklik van dié wat iets vir hom wil gee. Weet ons nog wat dit is om geestelik te bedel, broers en susters? Besit ons nog die wete dat ons sonder die genade van God nie kán lewe nie? Die hemelse geluk kan ons slegs van God afbedel wanneer ons daardie geluk nie meer by onsself of ander soek nie. Die Here sê immers self in Jesaja 66:2: “Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord.”

Ná hierdie eerste saligspreking oor die armes van gees, volg daar eers drie saligsprekinge wat betrekking het op ons houding teenoor God. In vers 4 noem Jesus die treurendes gelukkig. Nou is dit nie Jesus se bedoeling om ons ongelukkig te maak nie; nee, Hy leer ons die houding wat nodig is vir egte geluk. Nie die houding van selfvoldane mense wat heeltemal tevrede is oor hulleself nie, maar die houding van mense wat rou oor hulle sondes. Salig is dié wat teleurgesteld is oor hulleself, wat hulle in sak en as voor God neerbuig. In vers 5 noem Jesus die sagmoediges gelukkig. Sagmoediges is dié wat nie probeer om met geweld hulle eie regte te verdedig nie; immers, die hemelse geluk is nie iets wat ons moet verower nie; nee, dit moet aan ons gegee word. Salig is daarom die sagmoediges, want hulle het alles van God verwag! En in vers 6 noem Jesus dié gelukkig wat honger en dors na die geregtigheid. Baie mense praat vandag oor geregtigheid, maar daar is baie min wat erken dat hulle eie lewe leeg is van geregtigheid. En daarom gebruik Jesus hier die woorde ‘honger en dors’ – dit wys dat ons dit self hier binne nodig het. Salig is dié wat besef dat hulle leeg is hier binne, en wat daarna smag om deur God se reg gevul te word.

Die laaste drie saligsprekinge, broers en susters, wys dat ons houding van nederigheid en geloof teenoor God, ook moet blyk in die liefde vir ons naaste. Jesus sê in verse 7-9 dat ons barmhartig moet wees teenoor ons naaste – dus, geen kwaad met kwaad moet vergeld nie; dat ons rein van hart moet wees – sodat ons bedoelings suiwer is wanneer ons met ons naaste omgaan; en dat ons vredestigters moet wees – ons moet dus nie daarop uit wees om twis te veroorsaak en eie reg te handhaaf nie.

Gemeente, in al bogenoemde beskrywings blyk dat ons moet groei na die geluk toe, dat ons in ‘n proses is. Nee, ons hoef die geluk nie te verdien nie, maar ons moet wel na die vervolmaking daarvan groei. En dit vra by ons ‘n sekere houding, ‘n houding van nederigheid teenoor God sowel as liefde teenoor ons naaste. So kan die verhouding tussen God en myself weer herstel word. So kan ek, deur die geluk wat my Saligmaker vir my verdien het, ook werklik gelukkig wees. Vandag alreeds in beginsel, eendag volmaak. Hou vas aan hierdie saligheid, broer en suster; meer nog, hou vas aan hierdie Saligmaker, ook al word ons vervolg, ook al word daar allerhande kwaad van ons gepraat. Verbly en verheug jou, want jou loon is groot. Hulle het die profete ook vervolg toe hulle van Christus geprofeteer het; toe al… En noudat Christus gekom het, ja, moet nie verwag dat die vervolging ligter sal raak nie. Maar stry die stryd, volg Jesus op die spoor, gehoorsaam Hom, en ontvang van God die geluk wat alle verstand te bowe gaan, hemelse geluk!

Amen.

 

Liturgie (aand)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 106:1 en 2
Gebed
Lees: Matt. 4:23-5:12
Sing Ps. 103:2
Teks: HK, Sondag 11
Preek
Amenlied Ps. 34:1, 4 en 8
Gebed
Kollekte
Slotsang Skr. 16:1, 2, 8 en 10
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)