Die kerk het net een fondament, en dit is Jesus Christus…

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2010-01-31
Teks: 
1 Korinthiërs 3:10-11
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

In die afgelope twee weke se preke oor die opbou van die gemeente het ons baie sterk die fokus op God geplaas. Miskien was dit effens verwarrend/teleurstellend vir u wat graag aan die werk wil spring, en tog was dit vir my van die grootste belang dat ons dáár moes begin. Juis vanweë die gevare wat ek toe reeds aangedui het, naamlik dat ons die kerk kan begin sien as ‘n sosiale verskynsel wat deur menslike middele opgebou kan word. Maar, broers en susters, in beide preke het duidelik geblyk: die kerk is nie “made in China” of “made in Taiwan” nie; die kerk is ook nie “trots Suid-Afrikaans” nie. Die kerk is “made in heaven” – die kerk het sy oorsprong in die hemel. Bo die kerk is die groot Bouer!

Nou, gemeente, soos enige goeie Bouer maar maak, het God onder sy bouwerk ‘n stewige fondament gelê! En almal van ons besef die belangrikheid van ‘n goeie fondament. In die slot van sy bergrede (Matt. 7) draai Jesus nie doekies hieroor om nie. Hy vergelyk almal wat nie na Hom luister en sy woorde nie uitleef nie, met ‘n onverstandige man wat sy huis op die sand gebou het – ‘n baie onbetroubare fondament. En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm, en… Nou ja, ons weet almal wat die uiteinde van daardie huis was. Daarteenoor weet ons dat die verstandige man – hy wat wel na Jesus geluister en volgens sy woorde gelewe het – dat sy huis bly staan het omdat hy op die rots gebou het; sy fondament was goed! Sonder goeie fondament kan die gebou hoe mooi wees, dit is ‘n ongeluk wat wag om te gebeur.

En só is dit met die kerk ook. God weet dat dáár by die fondament die beslissing val oor die toekoms van die kerk. En daarom het Hy in sy kerkbou-werk voorsiening gemaak in die dringende behoefte wat die kerk het aan ‘n stewige fondament, meer nog: ‘n onwrikbare fondament. Hy het vir ons Jesus Christus gegee. Niks of niemand anders kan of mag die kerk probeer staande hou nie. Slegs op daardie fondament is ons veilig! En dit is waarop ons vandag wil let; dus, van die goddelike Bouer bo die kerk, beweeg ons nou na die stewige fondament onder die kerk.

Tema: Die kerk het net een fondament, en dit is Jesus Christus…
1. Paulus en Apollos? Nee!
2. Goud en silwer? Ja!
3. Die Heilige Gees? Asseblief!

1. Die gemeente van Korinthe, dáár in die suide van Griekeland, het gebuk gegaan onder grootskaalse verdeeldheid. Omtrent die hele eerste vier hoofstukke word deur Paulus aan hierdie verdeeldheid gewy, en hoofstuk 3 is hierop geen uitsondering nie. Paulus sê vir die broeders en susters daar in Korinthe dat hulle, as gevolg van jaloersheid en twis en tweedrag, vleeslik is. Dus, hulle is nie geestelik nie; hulle is ongeestelik. Hulle volg die maniere van hierdie wêreld, maar nie die weg van God nie; hulle lewe asof die teenwoordigheid van die Heilige Gees in hulle lewens van geen waarde is nie.

Nou, die rede vir hierdie verdeeldheid in die gemeente was dat sommige gesê het: Ek is van Paulus, terwyl ander weer gesê het: Ek is van Apollos. Terloops, dit is nie die eerste keer dat Paulus hierdie klag teen die Korinthiërs lê nie. Reeds in hoofstuk 1:11 en 12 gee Paulus openlik te kenne dat die huisgenote van Chloë hom van hierdie probleem op die hoogte gebring het. Maar waaroor het hierdie probleem presies gegaan, broers en susters?

Wel, Paulus en Apollos was beide ‘predikante’ van die gemeente in Korinthe. Ons weet vanuit Handelinge 18 dat Paulus die eerste een was wat met die evangelie in hierdie stad kom arbei het; hy het vir ten minste ‘n jaar en ses maande daar gebly en die evangelie verkondig. ‘n Jaar en ‘n half – dit klink vir ons miskien kort, maar dit was lank vir ‘n man soos Paulus, wat normaalweg nie lank op ‘n plek gebly het nie. Hierdie tyd het hom ‘n goeie geleentheid gebied om ‘n stewige basis te lê onder die nuwe gebou, of om die ander beeld te gebruik wat ons ook in hierdie gedeelte teëkom: om goeie saad te saai in die jong akker.

Kort nadat Paulus uit Korinthe weg is, só leer Handelinge 19:1 ons, het Apollos daar aangekom en het hy die nuwe ‘predikant’ van Korinthe geword. Nou, uiteraard was daar verskille tussen hierdie twee manne – ons weet dat Paulus ‘n baie goeie onderwyser was, terwyl Apollos weer sterk na vore gekom het as ‘n welsprekende en kragtige prediker. Ja, die werkers in God se akker verskil van mekaar in gawes en talente. En Paulus het ook geen moeite daarmee om dit te erken nie; waarmee hy wel moeite het is dat hierdie verskille in bediening by die Korinthiërs gelei het tot partyvorming, groepsvorming. Daar was enersyds waarskynlik van die eerste gelowiges wat maar net nie aan die styl van die nuwe predikant gewoond kon word nie, en wat sonder skaamte te kenne gegee het dat hulle terugverlang na hulle vorige predikant, Paulus. Andersyds was daar miskien nuwe lidmate, wat deur die werk van Apollos tot geloof gekom het, wat nie werklik ‘n band met Paulus gehad het nie. En vir hulle was Apollos ‘die man’! Nou, vir mense wat nie geestelik dink en lewe nie, kan hierdie verskille sommer maklik ‘n twisappel word waardeur die gemeente in kampe verdeel word – jy hoort by hierdie, ek hoort by daardie… En dit is presies wat in Korinthe gebeur het.

Maar is dit nie bietjie kinderagtig nie? Ja, natuurlik is dit, sê Paulus. Want wie is Paulus en Apollos eintlik? Gaan dit oor hulle? Nee! Hulle is maar net diakens – dit is die woord wat hy in die Grieks gebruik. Hulle is maar net diensknegte, instrumente van God – en onthou, sê Paulus, dit is Gód wat aan julle die geloof gee, nie Paulus of Apollos nie. En daarby is Paulus en Apollos ook nog diensknegte wat nie in stryd staan met mekaar nie; immers, só sê Paulus in vers 9, ons is medewerkers. Apollos en ek werk sáám in diens van die Here, elkeen met sy eie gawes en talente en elkeen op sy eie tyd, maar nogtans het beide van ons dieselfde doel voor oë! En nou is júlle besig om ons eensgesindheid in diens van die Here te verskeur; julle is besig om verdeeldheid te bring waar daar geen verdeeldheid is nie!

En hoekom is daar nie verdeeldheid nie? Hoekom kan Paulus en Apollos saamwerk, ten spyte van die verskille in styl en karakter en gawes? Omdat die fondament dieselfde is, gemeente! Paulus, wat eerste in Korinthe gewerk het, het die fondament gelê. En, volgens vers 10, bou Apollos nou verder op daardie einste fondament. Dít is die rede waarom daar ‘n eenheid in die dienswerk van hierdie twee knegte van God is. En dáárom is dit so ongeestelik wat julle besig is om te doen, broers en susters daar in Korinthe. Julle kyk na mense, terwyl julle na Christus, die fondament moet kyk. Want as julle dít sou gedoen het, en as julle vanuit daardie fondament na ons dienswerk gekyk het, sou julle gesien dat ek en Apollos dieselfde werk doen – ons verkondig Christus!

Broers en susters, dit is van die grootste belang dat ons sal leer uit die fout van die Korinthiërs. Ons kyk ook so dikwels vleeslik na die gemeente; ons kyk na mense; ons sien die gebreke en die skewe bouwerk. Maar ons moet leer om geestelik na die gemeente van Christus te kyk. En om geestelik te kyk – in besonder na hierdie gemeente waarvan ons deel is – beteken dat jy kan raaksien wat nie noodwendig met die blote oog sigbaar is nie; om geestelik te kyk, beteken om in die diepte te kan kyk. Die fondament van hierdie gemeente is nie noodwendig met die blote oog sigbaar nie, maar wanneer ons geestelik kyk, in die geloof, dan sien ons Christus. Hy is die fondament waarop elke volgende steen in hierdie gemeente rus. En daarom is hierdie fondament ook die verbindingslyn, die band, wat álle bouwerk met mekaar verenig, en wat álle bouers – en ons almal is bouers! – met mekaar verenig. Natuurlik het ons met ‘n ander geval te make wanneer iemand nie meer op die fondament bou nie – dan bring dit skeiding. Maar wanneer mense saam op die EEN fondament bou – elkeen met sy eie gawes, op sy eie tyd, met sy eie aksente en nuanses, en uiteraard ook met sy gebreke – dan is daar géén rede vir partyskappe in hierdie gemeente nie. Wanneer jy jou mede-jeuglid bel om te hoor hoe dit gaan met sy/haar moeite, en wanneer jy daardie bejaarde suster besoek en ‘n goeie gesprek voer, en wanneer jy daardie lidmaat in liefde vermaan, en wanneer ek vir die kinders katkisasie aanbied, en ons doen dit almal in geloof in die Here Jesus, dan is daar géén rede vir jaloesie en twis en tweedrag hierin ons midde nie. Immers, elkeen van ons het ‘n steen bygedra op die EEN fondament! Dít bind ons dienswerk saam!

Maar hoekom sien ons dan nog steeds partyskappe? Hoekom is daar steeds tweedrag? Hoekom sien ons steeds dat lidmate wat met suiwer bedoelings ‘n steen bydra tot die opbou van hierdie gemeente, afgekraak word? Hoekom kyk ons soms verkleinerend na die werk wat ander in die gemeente doen? Ag natuurlik, ons is almal ‘ook maar net mense’ met foute en gebrek. Maar, broers en susters, dit lyk vir my dat Paulus ons nie toelaat om agter hierdie verskoning te skuil nie. Hy roep ons op om geestelik te word, om geestelik te leer dink! Hy roep ons op om die fondament raak te sien, om Christus raak te sien, en om daardeur tot die besef te kom dat ons almal medewerkers is, saamwerkers. Elkeen met sy sterk punte én swak punte, maar nogtans sáám in diens van Christus. Hoe mooi moet dit nie wees as ons sodanig kan groei dat ek vir my broeder of suster kan sê: “Dankie vir daardie steen in die muur van die kerk; ek het nie die gat gesien nie.” Of: “Dankie vir daardie steen in die muur; ek het die gat gesien, maar ek was nie in staat om dit toe te maak nie.” En dan gaan dit nie oor die persoon wat die steen gelê het nie; nie Paulus en Apollos nie. Nee, Christus – sy koms in die vlees, sy lyding, sy dood, sy opstanding en hemelvaart, sy werk van vergifnis en herstel vir elkeen wat Hom in geloof aanvaar. Daarop bou ons, en daarin verbly ons onsself!

In die tweede plek: goud en silwer? Ja!

2. “Maar elkeen moet oppas hoe hy daarop bou…” Goed, ons moet dus nog iets ekstra sê by punt 1. Dit wil voorkom asof nie alles wat op die fondament gebou word ewe goed is nie. Ook as mense wél op die fondament bou, is die manier van bou en die kwaliteit van die boumateriaal skynbaar nie onbelangrik nie. Ja, ons God is ‘n God van die hoogste orde, en daarom behoort ons werke ook van die hoogste kwaliteit te wees. Christene kan daarom nie mense wees wat met die minste tevrede is nie.

Miskien is dit net goed om, voordat ons verder gaan, hier te noem dat as ons in hierdie punt oor die kwaliteit van ons bouwerk en oor die kwaliteit van die boumateriaal gaan praat, dan is dit geen saligheidskwessie nie, maar wel ‘n loon-kwessie. Daarmee bedoel ek dat ons bouwerk op die een fondament, Jesus Christus, nie ons saligheid bepaal nie – ons werke maak ons nie salig nie – maar die kwaliteit van ons werke bepaal wel die loon wat ons eendag sal ontvang. En ek sê dit op grond van verse 13-15.

Uit hierdie verse blyk duidelik dat almal van ons se bouwerk eendag getoets sal word. By die oordeelsdag sal die boeke geopen word en sal elkeen se werk aan die lig kom en beoordeel word (Openb. 20:12). Sommiges se bouwerk sal die toets van die vuur deurstaan en hulle sal loon ontvang, ander se werk sal verbrand word. Maar dít bepaal nogtans nie of jy gered sal word, of nie! Want selfs daardie een wie se werk verbrand word, sal gered word volgens vers 15! Ten spyte van die verlies wat hierdie persoon sal ly – en dit sal ‘n pynlike verlies wees – ontvang hy steeds uit genade God se gawe van verlossing. En ek sê dit nie om ons daarmee nonchalant en onverskillig te maak teenoor ons bouwerk hier in die gemeente nie; so asof dit dus nie saakmaak hoe ons bou nie. Nee, ek sê dit om misverstand te voorkom en vrees by ons weg te haal wanneer ons die gebreke in ons eie bouwerk raaksien; ons bou nie om gered te word nie, ons bou omdat ons gered is! Maar, gemeente, ten spyte van hierdie gerusstelling is dit mos nie vir ons onbelangrik hoe ons in God se heilige tempel bou nie? Gelowiges wat werklik die fondament raaksien, wil mos ook daarop bou met die beste wat hulle het, of hoe?
Dit daar gelaat; terug na Paulus se betoog…

Paulus noem in vers 12 ‘n hele aantal soorte boumateriaal op: goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels… Dit lyk asof hierdie materiale in ‘n neerdalende orde van belangrikheid geplaas is – heel eerste goud as die kosbaarste, en saam met goud kan ons ook die silwer en die kosbare stene as waardige boumateriaal beskou. En as onwaardige boumateriale noem hy hout, hooi en heel laaste stoppels as die mees waardelose materiaal. Nou, wat Paulus met hierdie beeld van die boumateriale wil sê, is dat die gebou moet korrespondeer met die fondament. Die materiaal wat gebruik word om die struktuur mee te bou, moet gelyk wees in duursaamheid en kosbaarheid as die fondament waarop dit gebou word. As die fondament goud is, dan kan ons mos nie met hooi of stoppels daarop gaan bou nie? As die fondament wat God aan sy kerk gegee het sy openbaring in Christus is, dan moet die gebou hierdie fondament reflekteer in elke fase van die konstruksie; dan moet ook die mure en die dak en elke afwerking van die gebou Christus uitstraal. Die fondament bepaal die boumateriaal!

En nou, broers en susters, kom die vraag na ons toe, persoonlik, maar ook gesamentlik: hoe bou ons? Hoe is ons besig hier in die gemeente? Wat maak ons met die fondament wat God onder hierdie gemeente gelê het, wat maak ons met sy openbaring in Jesus Christus? Ken ons hierdie fondament? Bepaal dit werklik die manier waarop en die materiaal waarmee ons bou? Kom ons maak dit konkreet…
Sommiges onder ons leef van harte by die Woord van Christus, hulle pas dit toe in hulle daaglikse lewens, hulle groei geestelik en hulle is daarop uit om sowel hulleself as hulle mede-gelowiges op te bou; hierdie lidmate streef daarna om in leer en lewe getrou te bly aan die Woord van die Here. Hulle is betrokke in die gemeente, hulle leef saam met hulle broers en susters in moeilike maar ook in mooi tye, hulle sien die nood van die ander raak. Hulle bou met baie kosbare materiale aan die gemeente.

Maar dan is daar ook ander wat oppervlakkige lewens lei, lewens waaroor daar slegs ‘n dun lagie van christelikheid voorkom; hulle is heeltemal tevrede daarmee om hout en hooi en stoppels in hulle bouwerk te gebruik. Hulle is laks in hulle bouwerk – getroue kerkgang, bybelstudie, liefdevolle sorg vir broers en susters, aanwending van hulle gawes, dit is alles dinge wat vir hulle nie so belangrik is nie. En as hulle wel bydra, dan doen hulle dit dikwels al sugtende.

Dus, broers en susters, hier is rede tot selfondersoek. Ons word opgeroep om die fondament, Jesus Christus, en ons werke op daardie fondament langs mekaar te hou en te kyk of dié twee dieselfde lyk. Aan die een kant het ons Christus, my Heiland, my Verlosser, Hy wat my so lief gehad het dat Hy bereid was om vir my mens te word, Hy wat in sy liefde sondaars en tollenaars opgesoek het, wat goed gedoen het oral waar Hy gekom het, wat die helse Godverlatenheid nie probeer ontduik het nie, maar dit in al sy brutekrag ondergaan het vir jou en my. Jesus Christus – pure goud! En aan die ander kant is daar my werke: my bydrae in hierdie of daardie kommissie, my deelname in die erediens, my houding in die erediens, my gebed vir broers en susters, my finansiële bydraes, ensovoorts – hoe lyk dit? Is dit ook pure goud, werke wat geheilig is in Christus?

En nee, dan gaan dit nie daaroor om die ánder se werke te beoordeel nie, maar dan word ek opgeroep om my werke te beoordeel. Hoe bou ek? En as hele gemeente: hoe bou ons sáám? Hierdie soort eerlike selfondersoek kan baie help om die jaloesie en tweedrag en partyskappe, waarvan ons in die eerste punt gehoor het, uit die weg te ruim. Saam klein voor God – in verwondering oor Jesus Christus, die goue fondament, maar terselfdertyd nederig oor ons eie steentjies. Kom ons streef in Christus daarna om met die beste materiaal te bou. Let wel, in Christus – dit is bepalend! Ons kan ‘n bord kos vir iemand bring net om erkenning te kry, maar dan is dit soos hooi of stoppels voor God; of ons kan dit doen uit ware liefde en met ‘n houding van diensbaarheid, en dan is dit voor God se aangesig soos goud of silwer. Ons het hier dus te make met ‘n geloofsvraag: het ek Christus lief? Wil ek diensbaar wees, soos wat Hy diensbaar was? Dan word my gebrekkige werke goue werke – deur God se genade.

Ten slotte nog: die Heilige Gees? Asseblief!

3. In vers 16 sit Paulus die beeld van geboue voort, maar hier wys hy dat die gebou waarvan hy tot dusver gepraat het, nie sommer enige struktuur is nie. Dit is nie ‘n struktuur wat in die eerste plek vir mense bedoel is nie. Die gebou waaraan ons werk, broers en susters, word nie gebou vir ons gemak nie. En in die tyd waarbinne ons lewe, is dit baie goed om dit raak te sien en vir mekaar te sê. Ons lewe in ‘n tyd van selfgesentreerdheid en selfgerigtheid – iets werk as dit vir my werk; iets is gemaklik as dit vir my gemaklik is. Ook in die kerk word daar dikwels so geredeneer – die kerk is daar om in my behoeftes te vervul, ek kom kerk toe om kos vir myself daar te ontvang. En dit kan baie maklik die manier begin bepaal waarop ons bou. Ek bou slegs daar waar vir my voordele is; ek sit my kragte in as dit my pas; ek help slegs daardie broer of suster as ek iets daaruit kan haal. En só word die kerk ‘n luukse restaurant, waar almal van ons op die rekening van die besigheid – die kerk self – van die spyskaart kan kies wat ons wil hê. En om die beeld nog net een treetjie verder deur te trek: die ampsdraers word dan die kelners wat moet voorsien in die behoeftes van die kliënte.

Maar dan sê Paulus vir die gelowiges in Korinthe en vir ons vandag: “Maar besef julle waaraan julle bou? Meer nog: besef julle watter gebou julle is? Hierdie gebou, die gemeente, is nie maar net ‘n gebou volgens jou spesifikasies en wense nie. Jy kan nie maar na eie goeddunke nog ‘n kamertjie bybou sodat jou gemak gedien kan word nie. Nee, hierdie is die tempel van God; hier woon die lewende God!” Ja, broers en susters, die gemeente van God is apart geplaas – is heilig – vir Gód om in te woon; hier woon Hy deur sy Gees! Dit is iets anders as ‘n restaurant waar daar in my behoeftes vervul word, nie waar nie? U voel hooplik ook aan dat die atmosfeer skielik geskuif het. Waar grootmeneer mens eers sy behoeftes kom vervul het, besef ons dat ons nou in die troonsaal van die Almagtige God verkeer. Die blote feit dat ons in sy teenwoordigheid mag kom, bring ons op ons knieë: “vol blydskap is my siel wanneer ek voor U kniel wat woon waar aardse lig verdwyn. Hoe lief het ek u woning, die plek, o Hemelkoning, waar U in heerlikheid verskyn.” Hier woon God! Maar ek is dit nie werd nie! Wie is ek om in hierdie heiligheid te wil woon? Meer nog: wie is ek om in hierdie heiligheid te kom bou? Dit is geldige vrae – Paulus waarsku daarom ook dat ons nie die heilige tempel van God mag skend nie.

Maar gemeente, sien dan raak dat God deur sy Gees hier in ons midde is. Deur die verkondiging van God se Woord ontvang ons hier in ons midde en in ons harte die Gees van heiligmaking, die Gees wat Here is en lewend maak. Hy is die Gees van Christus; Hy verbind ons aan Christus, die fondament. Hy sorg daarvoor dat alle opregte bouwerk geheilig word in die bloed van Christus. Hy maak lewend, Hy bring skoonheid en vitaliteit, Hy is die Binnenshuise-versierder van die kerk! Deur Hom is ons werke bruikbaar. Deur Hom leer ons geestelik kyk, verby die krake en die skewe bouwerk, na die skoonheid van God se woonplek. Sien raak, broers en susters, die skoonheid van wat die Gees in ons midde werk! En kom ons bid vir die Gees, kom ons bid vurig dat Hy ons lewens sal vervul, dat Hy van ons ‘n charismatiese gemeente sal maak (‘n gemeente wat ons charismata, ons gawes, sal benut).

Broers en susters, soek ons die Heilige Gees? Asseblief! Want sonder Hom is alle bouwerk sinneloos, en sal hierdie gemeente afgeleef en vervalle raak, ongeskik vir bewoning deur God. Kom Heilige Gees, kom versier hierdie gemeente tot ‘n waardige woonplek!

Amen

 

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Votum Ps. 121:1
Seëngroet: Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen. Sing Ps. 76:1 en 6
Gebed
Lees: 1 Korinthiërs 3
Sing Ps. 118:11 en 14
Teks: 1 Korinthiërs 3:10-11
Preek
Amenlied Ps. 26:1, 5 en 7
Wetslesing (waterpas van ons bouwerk in die kerk)
Ps. 40:3 en 4
Gebed (lees 2 Kor. 9:5-8)
Kollekte
Slotsang Ps. 84:1, 2 en 6
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)