Die nuwe loot uit die dooie wortels sal vrugte dra!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2009-12-13
Teks: 
Jesaja 11:9-10
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Ek het dit goed gedink om vir die adventsprediking – die prediking wat ons voorberei op die herdenking van Jesus Christus se geboorte volgende week Vrydag – om vir daardie prediking voort te bou op ds. Kleijn se preek van verlede week uit Jesaja 11. Hy het spesifiek gefokus op vers 1 en die voorafgaande verse in hoofstuk 10. Daarin het hy gewys hoe die profeet op verskillende maniere die beeld van bome gebruik – aan die een kant verwys dit na die bosreuse van Assirië wat deur die Here in sy toorn omgekap sal word; maar aan die ander kant verwys dit ook na die omgekapte boom van Isai, daardie stomp waaruit die Here deur sy genade nuwe lewe sal laat voortkom: “… daar sal ‘n takkie uitspruit uit die stomp van Isai” (Jes. 11:1). Die Here gee dus nuwe lewe in die skynbaar dooie koningshuis van Dawid! Tot sover die bemoedigende preek van ds. Kleijn…

Maar, broers en susters, die Here gee ook nog meer, en ons sien dít wanneer ons vers 1 nog ‘n slag mooi lees. Want daar is nie slegs ‘n takkie wat uitspruit uit die stomp van Isai nie, maar hierdie takkie uit die stomp van Isai – wat in die tweede helfte van vers 1 “’n loot uit sy wortels” genoem word – sal self ook vrúgte dra (vers 1b)! Dus, eers het Jesaja vir ons vertel van die nuwe Koning – dit is die takkie, die loot – maar nou sien ons vervolgens wat hierdie Koning se heerskappy gaan uitwerk – dit is die vrugte! Vrugte wat nie uit hulle eie krag groei nie, maar wat geproduseer word deur ‘n Koning wat self vol van die Gees van die HERE is (vers 2) en wat deur sy Woord ‘n regverdige en getroue heerskappy voer (vese 3-5)! Vrugte wat voortkom deur Woord en Gees!

En só, gemeente, ontvang ons ‘n kykie in die vrugbare lewe binne die koninkryk van die beloofde Koning uit die huis van Dawid, Jesus Christus. En dit is nie in die eerste plek ‘n lewe vir eendag, êrens in die toekoms nie; nee, dit geld reeds vir vandag! En daarby geld dit ook persoonlik vir elkeen van ons, want óns – die gelowiges – óns is die vrug van Christus se heerskappy; die kérk is die vrug van sy heerskappy! Jy kan dus nie uit die kerk uitstap en sê: “Dit is vir eendag en vir iemand anders nie…” Nee, dit is vir jou, vandag! Ek het die boodskap vir die preek soos volg saamgevat:

Tema: die nuwe loot uit die dooie wortels sal vrugte dra! Daardie vrugte is:
1. Vrede
2. Kennis
3. Groei

1. Toe ons in Julie vanjaar in die Wildtuin was, het ons gesien hoe ‘n klompie leeus ‘n klein zebratjie vang; dit was indrukwekkend om hierdie tafereel te aanskou. In antwoord op die vrae van die kinders moes ons vervolgens verduidelik dat dít is hoe die natuur werk, dat leeus ‘n natuurlike instink het om zebras en bokkies te vang en te eet. Maar, gemeente, wanneer ‘n mens dan Jesaja se beskrywing van die lewe binne die koninkryk van Jesus Christus lees (11:6-8), dan wil dit voorkom of dít wat ons in die Wildtuin gesien het nie so natuurlik is nie! In een van die mees bekende en geliefde beskrywings van die lewe in die koninkryk sien ons ‘n idilliese prentjie van diere wat in harmonie saamleef. Diere, wat in die natuur nie in vrede naas mekaar sal leef nie, word in hierdie tekening saamgevoeg sónder die dodelike gevolge wat ons sou verwag – die wolf wei by die lam, die luiperd gaan lê by die bokkie, die kalf en die jong leeu en die vetgemaakte vee word saam in een trop deur ‘n klein seuntjie aangejaag. Die koei en die berin wei saam en hulle kleintjies lê bymekaar asof hulle huisvriende is; babatjies speel by die gat van ‘n adder en steek hulle hande uit na die kuil van ‘n basilisk. Amper ondenkbaar – só word die lewe in Christus se koninkryk vir ons uitgebeeld…

Voordat ons verder gaan, is daar net twee gevare waarop ons bedag moet wees wanneer ons hierdie beskrywing probeer verstaan. Die eerste gevaar is dat ons hierdie beskrywing uitsluitlik letterlik gaan lees asof dit hier net oor diere gaan, en dit terwyl Jesaja hierdie beeldspraak gebruik om eintlik vir ons die omgang te beskryf tussen die mense in die koninkryk. En die tweede gevaar is dat ons hierdie beskrywing sien as iets wat eers op die nuwe hemel en aarde ‘n werklikheid sal word, terwyl hierdie beskrywing juis verwys na ‘n werklikheid wat vanaf die koms van Jesus Christus – vanaf die oomblik dat die takkie uitgespruit het – hier op aarde bestaan. Dus, broers en susters, dit gaan hier nie oor ‘n boodskap vir een of ander toekomstige diereryk nie. Nee, deur middel van hierdie beelde het die Here ‘n boodskap vir sy kérk sedert die koms van Jesus Christus op aarde, en daarom ook vir ons vandag!

En hierdie boodskap vind ons in die eerste woorde van ons teks (vers 9), waar ons lees: “Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie…” In hierdie woorde vind ons ‘n soort samevatting van dít wat in verse 6-8 in idilliese taal beskryf word. Dít wat in verse 6-8 in beeldende taal beskryf word, word nou in vers 9 sonder verdere omhaal van woorde verklaar: in die ryk van Jesus Christus – op sy heilige berg, wat verwys na die berg Sion – dáár sal die burgers van die ryk nie kwaad doen of verderf aanrig nie. Net soos wat die wolf, in die beskrywing van verse 6-8, nie die lam bespring nie maar eerder as gas by hom vertoef, en soos wat die luiperd nie die bokkie aanval nie maar in vrede by hom lê, en soos wat die berin nie die koei verskeur nie maar saam met haar wei, en soos wat ‘n babatjie by die gat van ‘n adder speel sonder dat hy hoef bang te wees om gebyt te word – hoe wonderlik is dit nie, gemeente! – net so sal die burgers van Christus se koninkryk nie meer hulle natuurlike instinkte volg om mekaar seer te maak en af te breek nie, maar hulle sal in vrede met mekaar saamleef.

Dít, broers en susters, is die eerste vrug wat te sien is op die takkie wat uit die stomp van Isai uitgespruit het. Dít is waarvoor Jesus Christus gekom het! Hy het gekom om, deur middel van geregtigheid en trou en deur middel van sy Woord en Gees, ‘n koninkryk te skep waarin daar vrede heers – nie net eendag nie, maar vandag reeds! Daarvan het die engele immers gesing tydens daardie stille nag in Betlehem, toe Jesus Christus sy bedjie gevind het in die stal by die diere; toe het die engele gesing: vrede op aarde (Luk. 2:14)! Vrede in sy koninkryk! Ja, Christus het gekom om harmonie en vrede ‘n daaglikse werklikheid te maak onder mense wat van nature geneig is om mekaar te byt en op te eet (Gal. 5:15).

Die volgelinge van Jesus Christus, die gelowiges – u en ek! – wat vroeër soos wilde diere was, wat daarop uit was om seer te maak en wreed te wees, wat daarna gesoek het om te plunder en ander te vertrap, ja, ons word deur sy Woord en Gees mild en sagmoedig, ons word liefdevol en geduldig. Wat ook al ons natuurlike en sondige neiging was, wanneer die Gees van Christus in ons kom woon, dan word ons soos wat Hy was toe Hy nederig in ‘n stal op aarde gebore is. Wanneer die Gees van Christus in ons kom woon, dan word die vrugte sigbaar waarvan Paulus praat in Galasiërs 5 vanaf vers 22: liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing. Nie óns vrugte nie, want hierdie vrugte gaan teen ons natuur in, maar die vrugte van die Gees!

Gemeente, in die koninkryk van Jesus Christus gebeur daar wonders, gebeur daar onnatuurlike dinge: mense verander van natuur! Mense verander, hulle word nuut! In antwoord op Jeremia se vraag in Jeremia 13:23: “verander ‘n luiperd sy vlekke?”, kan ons sê: “Ja, in die koninkryk van Christus verander ‘n luiperd sy vlekke! In die koninkryk van Christus verander mense, sodat wat voorheen natuurlik was – naamlik om kwaad te doen en verderf aan te rig – nou onnatuurlik word, en sodat wat voorheen ondenkbaar was – naamlik om in vrede saam te woon – nou denkbaar word. Hoe goed is dit dat die volgelinge van Christus kan saamwoon, dat broeders en susters in een huis in vrede met mekaar kan saamlewe. Hoe goed is dit dat die kalf en die jong leeu en die vetgemaakte vee bereid is om hulleself te onderwerp aan die leiding van die klein seuntjie – dus, dat mense wat van nature rebelle is, bereid is om hulleself te onderwerp aan die ampsdraers wat die Here oor hulle gestel het, ook al lyk hulle vir ons soos klein seuntjies. Dít is die wonderlike werklikheid in Jesus Christus se koninkryk van vrede, soos dit ook hier in die gemeente gestalte kry!

Doen dit?
Lewe ons inderdaad in vrede met mekaar? Het die luiperde onder ons inderdaad hulle vlekke verander? En die wolwe en die bere onder ons, is hulle werklik bereid om saam met die lam en die koei te lewe? Is die vrugte van Christus se Gees werklik sigbaar onder ons? Is klein Wian veilig in hierdie gemeente, of moet sy ouers bang wees vir die giftige adders onder ons? Dit is pynlik as ons moet erken dat ons mekaar nog steeds byt en opeet; dit is hartseer om te moet sê dat die werke van die vlees steeds sy kop uitsteek in hierdie gemeente: vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap, afguns, moord… (Gal. 5:19-21). Dit is jammer dat in hierdie woning van die Gees mense mekaar steeds afjak en te na kom. Want op dié manier doen ons te kort aan hierdie eerste vrug wat Christus graag op sy heilige berg en in sy gemeente wil sien.

Let wel, daarmee lê ek nie die onus op ons om nou skielik hierdie vrug te begin produseer nie. Dit is immers nie óns vrug nie, dit is die vrug van die takkie uit die stomp van Isai, dit is die vrug van Christus. Hy werk dit, Hy skenk dit uit genade en in oorvloed, ook hier onder ons! Maar laat ons hierdie geskenk dan nie onder ons voete vertrap nie, broers en susters. Moenie net hierna uit die kerk uitstap en jou broeder of suster met ‘n skewe woord seermaak nie; moenie die vrede wat Christus op ons lê – juis ook in die seën aan die einde van die diens – van jou afgooi en met afguns of haat na hierdie broeder of daardie suster kyk nie. Laat ons nie word soekers van ydele eer wat mekaar uittart en mekaar beny nie – dit is die oproep in Galasiërs 5:25-26. Jongmense, dit geld ook vir julle wanneer julle hierdie week kongres gaan hou. As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel. Laat Christus hier regeer deur sy Woord en Gees, en sien dan hoe die onmoontlike moontlik word en hoe die onnatuurlike natuurlik word.

Die volgende vrug waarna ons wil kyk, en een wat saamhang met die vrede, is die vrug van kennis.

2. “Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie…” – dit was die eerste vrug waarna ons gekyk het. Maar, gemeente, daar is eintlik nog ‘n vrug wat hieraan voorafgaan. Lees mooi hoe vers 9 geformuleer is: “Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie, want – sien u, hier kry ons die voorafgaande rede – want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem bedek.” Die vrede in die koninkryk van Jesus Christus, die begeerte om geen kwaad te doen en geen verderf aan te rig nie (waarvan ons in die eerste punt gehoor het), dit is dus ‘n direkte uitvloeisel, ‘n direkte gevolg van kennis – die kennis van Gód! Wat die profeet dus sê, is dat daar kennis van God nodig is vir die vrede om hier in die gemeente te kan heers.

En dit is so waar, gemeente! Dit is inderdaad slegs hy en sy wat ware kennis van God het, wat ook geen kwaad meer wíl doen en geen verderf meer wíl aanrig op God se heilige berg nie. Hy wat God ken, soek ook werklik die vrede! En verder is dit slegs wanneer ek ware kennis van God het, dat ek vervolgens tot my skaamte myself as ‘n wolf of as ‘n luiperd of as ‘n leeu of as ‘n berin kan leer ken; kennis van God is die enigste manier waarop ek die gevare, wat ek as adder of basilisk vir ander inhou, kan leer raaksien. Ja, kennis van God gaan hand aan hand met kennis van myself. Dit is inderdaad soos Calvyn sê in die heel eerste woorde van sy Institusie: “Byna die volle eindtotaal van die leer bestaan uit twee dele: kennis van God en kennis van onsself.” En daarvan is die eerste deel – die kennis van God – die belangrikste; dit gaan vooraf aan die kennis van myself; daardie kennis van God is nodig om myself reg te leer ken. Soos Calvyn sê: “die mens kan nooit tot suiwer kennis van homself kom nie, tensy hy eers die aangesig van God aanskou het en uit die aanskoue van God tot ‘n ondersoek van homself neerdaal.”

Sien u, gemeente, hierdie vrede waarvan ons sopas gehoor het en wat ons so dikwels maar weer met ons liefdeloosheid vertrap, dit kom slegs wanneer ons werklik Gód leer ken! Dit is wanneer jy en ek saam buig oor God se openbaring, saam ons oog rig op God, dat ons ook saam in een kerkbank kan sit en saam vir mekaar kan bid en saam – een van hart en een van siel – ons geloof teenoor mekaar kan bely! Dit is slegs wanneer jy en ek leer dat ons dieselfde Vader het, dat ons ook in broederlike en susterlike harmonie met mekaar verbind word. Dit is slegs wanneer ons die Hoof van hierdie gemeente werklik leer ken het, dat ek en jy sal ophou om mekaar met ons woorde seer te maak en sekeres uit ons groepie uit te sluit. Dit is slegs wanneer ek Christus werklik in die nagmaal geproe het, dat ek deur sy Gees die bereidheid kry om my luiperdsvlekke en my wolfklere te verander. Ja, broers en susters, vrede in die kerk kom wanneer die bybelstudies volgepak sit en elkeen van ons se bybels deurgelees is. Vrede in die kerk kom wanneer die eredienste getrou besoek word en ons ons God daarin ontmoet. Vrede in hierdie gemeente kom wanneer ons saam aan Jesus Christus, as ons Koning, verbonde is – want dán mag ons ook deel in sy Gees van wysheid en verstand, van raad en sterkte, van kennis en van die vrees van die Here. 

En, broers en susters, weereens is dit nie iets wat ons moet gaan doen nie. Hierdie kennis is geen prestasie van ons kant af nie. Nee, net soos in die geval van die vrede is ook die kennis ‘n geskenk van Christus, Hy gee dit in oorvloed. Om die waarheid te sê, Hy maak die aarde vol van sy kennis. Soos wat die waters die seebodem oordek en geen droë kolletjie laat nie, so is die aarde vol van die kennis van God (vers 9b). Geen mens het enige verontskuldiging dat Hy God nie ken of nie kan ken nie. Geen mens kan uiteindelik vir God sê dat Hy Hom nooit ontmoet het nie. Want God het Homself dan bekend gemaak! Soos wat ons lees in Romeine 1: “sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie.”

Ons het geen rede waarom ons God nie kan ken nie; ons het ook geen rede waarom die vrede onder ons nie kan heers nie. Ook die sonde is geen rede nie; ons kan nie telkens maar weer agter die sonde gaan skuil wanneer ons luiperdsvlekke of ons leeu-streke weer kop uitsteek nie. Natuurlik is ons sondig, maar die aanwesigheid van die kennis van God is ‘n groter werklikheid as my sonde – só leer vers 9 ons! Gryp daardie kennis aan, broers en susters. Naby jou is die Woord, in jou mond en in jou hart. Jy hoef nie ver te gaan soek nie; jy hoef nie ‘n ontdekkingsreisiger te wees om kennis van God op te doen nie; jy hoef geen teoloog te wees nie. Nee, die aarde is vol daarvan! Soek en jy sal vind, en aanvaar dit dan ook in geloof. Omhels Jesus Christus en kry so deel aan die Gees van kennis!

Die laaste vrug waarna ons wil kyk, is die groei.

3. Ons bely in artikel 27 van die Nederlandse Geloofsbelydenis dat Jesus Christus ‘n ewige Koning is wat nooit sonder onderdane kan wees nie. Nou, as bewysteks hiervoor kon die opsteller van die belydenis gerus maar Jesaja 11:10 ingevoeg het, want dit is presies waaroor hierdie vers gaan. Jesus Christus word in hierdie vers op ‘n besondere wyse aan ons voorgehou as die ewige Koning, want waar Hy in vers 1 beskryf word as ‘n loot uit die wortels van Isai, word Hy hier self die wortel van Isai genoem. Hy kom dus nie slegs as loot/takkie uit Isai voort nie, maar Hy is self ook die wortel van Isai, Hy is die rede en die grond vir die bestaan van Isai; Hy laat Isai groei. Koning Christus is nie slegs ‘n nakomeling van Dawid nie, maar Hy is ook Dawid se Heer, soos wat ons lees in Psalm 110 en soos wat Jesus self dit in Mattheus 22 verklaar. As wortel, wat van ewigheid af bestaan as die Seun van God, verskaf Jesus Christus self die groeikrag, die bron van lewe, vir almal wat in sy koninkryk lewe. En watter bron van lewe is dit nie!

Vers 10 beskryf vir ons pragtig watter kragtige lewensbron, watter kragtige wortel Koning Christus is. Hy sorg naamlik daarvoor dat sy koninkryk nooit ‘n statiese grootheid word nie, dat sy kerk nooit ‘n kwynende bestaan in hierdie wêreld voer nie, maar voortdurend toeneem in getal. Want, só lees ons in vers 10, die nasies vra na hierdie wortel van Isai; hulle soek na Jesus Christus. Sy kennis, waarvan die aarde vol is, trek mense tot geloof in Hom – Hy sorg daarvoor! En lees dan maar die res van hoofstuk 11 (vers 11-16) om te sien watter kragtige dade Hy verrig om sy volk rondom Hom te vergader. Die taal wat hierdie gebruik word, herinner ons aan die uittog uit Egipte – die Here strek sy hand uit, Hy kloof die Eufraat sodat mense met skoene daardeur kan loop; Hy maak ‘n grootpad uit Assur sodat sy volk daarlangs kan optrek. Christus verrig asemrowende wonderwerke om mense te trek en rondom Hom te vergader. Ja, Hy presenteer Homself in hierdie wêreld as ‘n banier!

Nou, gemeente, die banier was in daardie tyd die veldteken van ‘n leër, die vlag waar rondom die leër bymekaar gekom het. Ons kan dit miskien die beste vergelyk met die spandoeke van die verskillende spanne tydens die atletiekdag van ons gereformeerde laerskool. Die rooispan het sy eie spandoek, en alle lede van die rooispan kom rondom hierdie spandoek bymekaar. Die lede van die rooispan sit nie elkeen op sy eie plek op die pawiljoen nie, hulle gaan sit ook nie sommer tussen die lede van een van die ander spanne nie. Nee, saam rondom hulle spandoek – só is die rooispan verenig. Op dieselfde manier verenig Christus uit alle volke, nasies en tale sy leër wat bereid is om saam met Hom in die stryd te gaan. Of soos wat ons sing in Psalm 110:3: “U volk, gereed tot dapper krysgsmansdade, sal met u uittrek op die dag van stryd. Hul sal verskyn in heilige feesgewade, in diensplig een en al gewilligheid.”

Só sien ons hier die derde vrug wat uit die nuwe loot sal voortkom – die vrug van groei. Ons is deel van ‘n groeiende koninkryk, broers en susters. Geen ekonomiese resessie, geen vervolging, geen sekularisasie kan die groei van kerk en koninkryk keer nie. Moet daarom nooit dink dat die kerk se plek in die samelewing uitgedien is nie; moet nooit toelaat dat die wêreld jou wysmaak dat ons irrelevant geword het of dat ons nie werklik meer ‘n boodskap vir mense het nie. Jesus Christus waarborg groei in sy koninkryk; Hy waarborg die vrug van groei wanneer ons sonder onderskeid die evangelie aan alle mense verkondig. Oor die groei hoef ons onsself nie te bekommer nie; ons kan eenvoudig vir die wêreld gaan vertel: “Kyk, ek was ‘n wolf, maar ek het ‘n lam geword; ek was ‘n luiperd, maar Christus het my vlekke verander. Kom saam en deel saam met ons in die vrede van Christus; kom saam met ons en deel in sy heerlike rusplek” (soos wat ons lees in die laaste woorde van vers 10). Wanneer ons só Christus as banier ophef, dan sal die kerk groei. Christus sorg daarvoor! Want Hy is Wonderbaar, Hy is ons Raadsman, ons sterke God, ons Ewige Vader, ons Vredevors!

Amen

 

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Votum Ps. 121:1
Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 136:1 (almal saam), 8 (vroue + refrein almal), 19 (mans + refrein almal), 20 (almal)
Wetslesing + Nuwe Testamentiese verstaan
Sing Ps. 102:5, 6, 8 en 9
Gebed
Doopsformulier + bediening
Sing Skr. 14
Lees:  Jesaja 11:1-10 (lees hele Jesaja 11)
 Galasiërs 5:12-26
Sing Ps. 133
Teks: Jesaja 11:9-10
Preek
Amenlied Ps. 67
Gebed
Kollekte
Slotsang Skr. 2:4 en 5
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)