Geloof

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2009-12-13
Teks: 
Heidelbergse Kategismus, Sondag 7
Verwysing: 
HK 7-0
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Verlede week het ons gesien dat Jesus Christus, God en mens, die Middelaar is wat tussen God en die mens kan staan om versoening te bewerk. Elke mens het hierdie Middelaar nodig, niemand van ons kan sonder Christus weer tot God se kind aangeneem word nie, niemand kan buite Christus om gered word nie.

Maar die voor die handliggende vraag, wat die Kategismus dan ook stel, is: wórd almal ook deur Christus gered? Vir die Remonstrante, teen wie die Dordtse Leerreëls geskryf is, was dit ‘n reële moontlikheid. Volgens hulle is die moontlikheid om gered te word deur God se genade in Christus vir alle mense gegee. Of hierdie moontlikheid ook ‘n werklikheid word, hang van elke persoon se reaksie af. Jou vrye wil kan self besluit om wel of nie met die genade saam te werk. Jy bepaal dus self of jy gered word of nie; wat Christus gedoen het met sy kruisdood, is slegs om vir jou die móóntlikheid van redding te bied.

Hierteen, gemeente, het die Dordtse sinode met reg gereageer. Hulle leer onder andere in Verwerping van die Dwalings 2:6 die volgende: “Die sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: dat God, vir sover dit Hom betref, aan alle mense die weldade wat deur die dood van Christus verkry word, in gelyke mate wou meedeel. Dat sommige die vergifnis van sonde en die ewige lewe deelagtig word en ander nie, hang van hulle vrye wil af, wat hom aanpas by die genade wat sonder onderskeid aangebied word.” Sien u wat sê die remonstrante? Almal kan gered word; dit hang maar af of jy wil of nie. Daarteen verset die Dordtse sinode homself, want hoe anders praat die Skrif en ons belydenisskrifte nie: Christus se kruisdood gee nie maar net ‘n moontlikheid nie; nee, dit gee álles. Maar, en dit is die groot vraag, hoe kry jy dit alles? Slegs deur die geloof…

Gemeente, ek bedien vanaand aan u die Woord van God oor die geloof.
1. Geloof en Woord
2. Geloof en kerk
3. Geloof en ‘n nuwe lewe

1. Die gelykenis van die bruilof is die laaste in ‘n kort reeks van gelykenisse waardeur Jesus tot die volk gespreek het. Aan die einde van die vorige gelykenis het ons vlugtig ‘n kykie gekry in die harte van die Fariseërs en die Skrifgeleerdes. Hulle het besef dat Jesus van hulle spreek, en die gevolg was dat hulle probeer het om Hom in hulle mag te kry en Hom dood te maak. Máár hulle was bang vir die skare, omdat dié Hom vir ‘n profeet gehou het. Die gelykenis van die bruilof is nou ‘n reaksie op hierdie houding van die Fariseërs.

Jesus vergelyk die koninkryk van die hemele met ‘n menslike koning wat ‘n bruilof vir sy seun, die kroonprins, aanrig. Sulke feeste is in daardie tyd met groot luister en oordadigheid gevier – trouens vandag sien ons dit nog steeds. Nadat alles in gereedheid gebring is, stuur die koning vervolgens sy diensknegte uit om die genooides na die bruilof te roep. Dit is dus duidelik dat sekere mense alreeds voor die tyd genooi is, ‘n algemene uitnodiging ontvang het, maar nou word hulle opgeroep om ook daadwerklik te kom.

Die genooides se weiering op die oomblik dat alles gereed is, moes vir Jesus se luisteraars totaal onverwags gekom het – dit was immers nie asof die genooides nie voorbereid was nie, hulle het geweet van die fees, hulle was vooraf al ingelig. En tog wys hulle dit af!? Maar, gemeente, die heer laat hom nie daardeur afsit nie – hy stuur weer nuwe diensknegte, en hulle kry die opdrag om die aanloklikheid van die gereedstaande feestafels aan die genooides voor te hou: “Kyk, my maaltyd het ek berei, my beeste en vetgemaakte vee is geslag en alles is gereed.” ‘n Mens sien die prentjie voor jou, jy kry water in jou mond. En amper soos ‘n smeking word hieraan nog toegevoeg: “Kom na die bruilof.” Maar die reaksie is weer dieselfde. Hierdie keer brei Jesus egter uit op die verskillende reaksies. Aan die een kant is daar dié wat hulle eenvoudig nie steur aan die boodskappers nie, en na hulle landerye of besighede vertrek. Aan die ander kant is daar dié wat wél reageer deur die boodskappers te gryp, te mishandel, en dood te maak.

Gemeente, die reaksie van die koning is begryplik: sy leërs kry die opdrag om die moordenaars dood te maak en hulle stad met vuur te verbrand. “Hulle” stad is hier nie die stad van die koning self nie; anders sou die bruilof ook nie meer kon plaasvind nie. Nee, ons moet hier eerder dink aan ‘n selfstandige stad, waarvan die vooraanstaandes deur die koning uitgenooi is, omdat die stad binne die ryksgebied van die koning geval het. Om so ‘n stad aan die brand te steek was in daardie tyd ‘n gebruiklike vorm om wraak uit te oefen. Nadat die wraak uitgevoer is, sê die koning vervolgens vir sy diensknegte: “Die bruilof is wel gereed, maar die genooides was dit nie werd nie.” Eintlik was hierdie genooides, as die hoogwaardigheidsbekleërs, wel die mense wat vir die fees in aanmerking gekom het. En tog, omdat hulle die gesante van die koning genegeer en doodgemaak het, beskou die koning hulle as onwaardig!

Ons sien egter tot ons verrassing dat die feesmaal wél voortgaan! Omdat die eerste genooides nie wil aansit nie, word die boodskappers nou uitgestuur om enige iemand wat hulle teëkom, uit te nooi. En dan gaan dit hier oor mense wat nie landerye en besighede besit nie, wat nie vooraanstaand en welgesteld is nie, maar wat op die kruispaaie staan as werksoekers en bedelaars. Deur sonder onderskeid die mense te nooi, of hulle nou goed of sleg is, word die feessaal uiteindelik tog vol.

Gemeente, kom ons hou hier vir ‘n oomblik stil… Want waaroor gaan dit hier? Wat wil Jesus met hierdie deel van die gelykenis vir ons sê? Wel, ons het gesien dat Jesus hierdie gelykenis vertel in reaksie op die houding van die Fariseërs. Húlle is die leiers van die volk, die vooraanstaandes. Húlle behoort van oudsher tot die genooides. En dit het die leiers van die volk ‘n gevoel van veiligheid en sekerheid gegee: “Ons sal nie verlore gaan nie, ons is immers die uitverkorenes, die genooides.” Maar wanneer die bruilof van die kroonprins daadwerklik aanbreek, dan wys húlle die uitnodiging af; wanneer die koninkryk van God in die persoon van Jesus Christus naby gekom het, dan wys húlle die uitnodiging van Johannes die Doper en sy leerlinge, en vervolgens ook die uitnodiging van Jesus self af! Dan staan hulle onwillig en onverskillig teenoor hierdie uitnodiging, dan het hulle beter dinge om te doen, dan wil hulle Jesus selfs doodmaak!

En op daardie oomblik laat Jesus hulle deur middel van hierdie gelykenis voel dat ‘n mens die koninkryk van die hemele slegs kan ingaan deur die uitnodiging ernstig op te neem. Die koninkryk van die hemele kom immers na ons toe via ‘n uitnodiging, en daardie uitnodiging vra aanvaarding, dit vra dat ons die draers van daardie uitnodiging sal respekteer. Maar die aanvaarding en respek het by die leiers van die volk ontbreek. Sommige van hulle het totaal onverskillig teenoor Jesus en sy volgelinge gestaan, ander weer het agressief opgetree. Maar wat hulle nie besef het nie, was dat hulle hier op die kruispad van lewe en dood gestaan het…

Ons leer dus deur hierdie deel van Jesus se gelykenis dat niemand deur sy stand of status toegang tot die feessaal verkry nie, maar slegs deur die uitnodiging ernstig op te neem. Slegs deur die boodskap in geloof te aanvaar, mag ons saam bruilof vier. Die weg na die feessaal loop via respek en aanvaarding vir die boodskappers en die boodskap, en nie via jou status in die maatskappy nie.

En nou weet ek, die verhaal lyk baie vreemd – watter koning gaan haal vir elke Jan Rap en sy maat van die strate af wanneer sy oorspronklike gaste nie wil kom nie? En dit het sommige geleerdes selfs daartoe gebring om hierdie gelykenis as onwerklik en absurd af te skryf. Maar ons moet goed onderskei tussen wat normaalweg nie gebeur nie, en dít wat nie kán gebeur nie. Hierdie gelykenis bevat ‘n verhaal wat baie onwaarskynlik is, maar wat tog kán gebeur! Dit is baie onwaarskynlik dat God na sondige mense soos u en ek kom, dat Hy hom steur aan die geringes van hierdie wêreld – en tog het Hy die onwaarskynlike gedoen, tog het Hy sy Woord van bevryding gestuur na die uithoeke van die aarde, na alle volke, nasies en tale. En bepalend is nie of u van sodanige status is om dit te mag aanneem nie, bepalend is nie of u tot dusver ‘n goeie lewe gelei het nie. Bepalend is, of u die uitnodiging glo! En dan behels dit nie slegs om kennis te neem van die uitnodiging nie; geloof is nie slegs ‘n vasstaande kennis nie, maar ook ‘n vaste vertroue. Dit beteken om God se uitnodiging, wat deur die verkondiging van die evangelie na jou toe kom, vas te gryp. Broeder en suster, aanvaar God se belofte dat jy uit loutere genade slegs op grond van die verdienste van Christus vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid ontvang – aanvaar dit, omhels dit in geloof!
Ons let vervolgens op geloof en kerk.

2. Ons lees in vers 10 van Jesus se gelykenis dat die diensknegte uitgegaan het op die paaie en almal versamel het wat hulle gevind het, slegtes sowel as goeies, en die bruilofsaal het vol gaste geword. Die bruilofsaal het vol geword… Van oral af het almal, wat die uitnodiging aanvaar het, dus gekom en saam in die bruilofsaal vergader. Gemeente, dit is nie ‘n onbelangrike stukkie inligting nie. Inteendeel, dit wys aan ons dat die evangelie mense in beweging bring; mense aanvaar nie die uitnodiging en bly dan op hulle plek sit nie. Nee, hulle voeg hulself daadwerklik by hul medegaste.

En dít, broers en susters, is nou die basis van die kerk. Wie op die kruispaaie die uitnodiging van die Koning aanvaar, kan nie op die kruispaaie bly sit nie; wie die Woord van verlossing in geloof aanvaar, kan en mag homself nie in selftevredenheid van die bruilofsaal, die kerk, afsydig hou nie, wat sy stand en status ook al is. Inteendeel, almal is verplig om daarby aan te sluit en hulle daarmee te verenig om die eenheid van die kerk te bewaar – so bely ons woordeliks in artikel 28 van die NGB. Jy kan nie sê dat jy ‘n kind van God is, maar dat lidmaatskap van die kerk onbelangrik is nie. Dit is wel wat ons dikwels in ons tyd teëkom – mense wat meen dat hulle God ook op hulle eie kan dien, mense wat meen dat lidmaatskap van die kerk jou nie salig maak nie, sogenaamde christene wat slegs by die groot gebeurtenisse in hul lewe (doop, huwelik, begrafnis) in die kerk kom, lidmate wat versoek dat daar nie te veel oor die kerk gepreek word nie, aangesien dit die persoonlike geloof en die persoonlike belewenis belemmer, jongmense wat van kerk na kerk ronddwaal, want ja… oral word God mos gedien? Gemeente, die kerk word op só ‘n manier die vergete artikel van ons christelike geloof; miskien moet ons maar die twaalf artikels herdoop na die elf artikels…

Maar gemeente, hoe anders en hoe pragtig praat die Kategismus nie. Die Kategismus wys dat, wanneer ons die uitnodiging met ‘n ware geloof aanvaar, ons op daardie oomblik in Christus ingelyf word en al sy weldade aanneem. Ons word dus in Christus ingelyf, ons word ‘n lid van die liggaam van Christus, of dit nou die hand, of die voet, of die oog is. Ons bely dit ook in die doopsformulier: “as ons in die Naam van die Seun gedoop word, verseker die Seun aan ons dat Hy ons in sy bloed was en reinig van al ons sondes. Hy maak ons een met Homself in sy dood en opstanding…” Ons word een met Christus, ons word deel van sy liggaam. Gemeente, dít is ‘n onvermydelike konsekwensie van die geloof: wie die uitnodiging aanvaar, gaan die bruilofsaal binne; wie glo, word deel van die liggaam van Christus. En die liggaam van Christus – wat is dit anders as sy kerk hier op aarde? Die kerk, die nuwe mensheid, dít is die liggaam van Christus. Wie dus glo, wórd ‘n lid van die kerk!

Gemeente, wat beteken dit vir u die lidmaatskap van die kerk? Beteken dit vir u slegs dat u naam in die lidmateregister opgeskrywe is? Beteken dit slegs dat u kerk toe mag kom en jy katkisasie mag loop? Beteken dit slegs dat die ouderlinge een keer in ‘n jaar – gelukkig nie meer nie! – huisbesoek kom aflê? En beteken dit dat die Finansiële Kommissie u bydrae vra? As u só na die kerk kyk, dan kan u net sowel lid word van ‘n vereniging wat religieuse samekomste belê. Maar die kerk is nie ‘n vereniging nie, die kerk is nie soos die sokkerklub waarvan jy lid is nie. Nee, die kerk is die liggaam van Christus, die kerk is die gemeente van almal wat deur die geloof in Christus ingelyf is, die kerk is die liggaam van almal wat een is met Christus in sy dood en opstanding.

Wie homself van hierdie liggaam afsydig hou, wie homself van hierdie liggaam afsny, se geloof gaan dood. Wie die uitnodiging aanvaar, maar vervolgens nie die bruilofsaal binnegaan nie, het geen voordeel van die feesvieringe en genietinge wat binne-in die bruilofsaal plaasvind nie. Nee, dit is slegs hier in die liggaam waar die bloed van Christus deur jou are vloei; dit is slegs hier in die liggaam waar die suurstof jou kan bereik, sodat jou geloof kan opbloei en sterker word; dit is slegs hier in die liggaam waar die Here vir jou ander lidmate gee tot ‘n hand en ‘n voet, tot ‘n oor en ’n oog. Hier, in die liggaam van Christus, is die lewe, broers en susters. Hier is dit fees, saam met ons God, saam met sy Seun, Jesus Christus. 

En daarom geld dit vir elke persoon wat deur jou en my getuienis tot geloof kom, dit geld vir elkeen wat op die sendingsveld deur die werk van ons sendelinge tot bekering kom, dit geld ook vir ons – wie glo, word in Christus ingelyf, en is daarom verplig om hom by die kerk te voeg. Daar ontvang jy Christus – elke week in die prediking; daar ontvang ons mekaar, mede-lidmate van die liggaam van Christus.
Ons let nog ten slotte op geloof en ‘n nuwe lewe.

3. Daar is nog ‘n laaste stukkie van die gelykenis waarna ons moet kyk. Hierdie laaste stukkie is uniek in die evangelie volgens Mattheus; ons vind dit nie in die dieselfde gelykenis in Lukas se evangelie nie.

Nadat alle gaste die bruilofsaal binnegekom het, gaan die koning ook in om na die gaste te kyk. Hoe dan anders – hy is immers die gasheer! Maar tot sy verbasing vind hy daar iemand wat nie ‘n bruilofskleed aan het nie. Miskien – dink ons – is dit iemand wat baie arm is, wat nie ‘n bruilofskleed kon bekostig nie; immers, die koning het sy gaste uit elke hoekie en gaatjie gaan krap. Dan kan hy mos nie help as hy nie ‘n bruilofskleed het nie? Of is ‘n bepaalde vlak van rykdom en vermoë dan tóg ‘n vereiste om die bruilofsaal te kan ingaan? Maar gemeente, ons weet vanuit verskeie voorbeelde uit daardie tyd dat die gasheer sélf so ‘n feeskleed beskikbaar gestel het. Die man, wat hier deur die koning aangespreek word, het dus geen verskoning om nie so ‘n feeskleed te dra nie. Wanneer die man inderdaad dan ook geen verskoning kan gee hoekom hy nog sy straatklere aan het nie, word hy deur die koning se diensknegte in die buitenste duisternis gewerp, waar daar geween sal wees en gekners van die tande. Ten slotte is hy nie deel van die fees nie.

Gemeente, ons moet raaksien dat hierdie man nie so baie verskil van dié wat die uitnodiging nie wou aanvaar nie. Ja, hy het wel die uitnodiging aanvaar, hy het nie by die huis gebly nie. Tog ontbreek ook by hom die respek; hy toon weinig respek vir die koning wat hom genooi het, en vir die grootsheid van die bruilofsfees. Die aanvanklike genooides het iets beters gehad om te doen as om te kom, hierdie man het niks beters gehad om te doen as om te kom nie, maar in wese is hulle presies dieselfde.

Al verskil is dat hierdie persoon ook in die bruilofsaal was, hy was ook in die kerk. Hy tipeer die lewenshouding van dié wat hier in die kerk is, maar dit nie as iets besonders beskou dat hulle God se fees mag bywoon nie. Hy tipeer die houding van kerklidmate wat meen dat hulle hulself nie vir God se fees hoef voor te berei nie. Maar gemeente, die kleed wat ons behoort aan te trek – nie deur eie verdienste nie, nee, dit word vir ons gegee – is die kleed van totale vernuwing, die kleed van ‘n nuwe lewenswyse. Ja, ons mag kom met ons straatklere, maar by die deur van die bruilofsaal kry ons ‘n nuwe kleed! Iemand wat hierdie kleed nie aan het nie, het wel op die roepstem gereageer, maar nie toegelaat dat sy lewenswyse verander word nie; hy wil glo sonder om te gehoorsaam; hy aanvaar die uitnodiging maar wil nietemin nog aan sy ou lewe vashou. Maar God eis ons hele lewe!

Christus wys met hierdie laaste gedeelte dat Hy nie gekom het vir ‘n sekere groep mense nie. Die Fariseërs en leiers van die volk kon maklik daardie idee gekry het. Hulle was immers die genooides wat deur Jesus afgewys word; dus, dan het Hy seker slegs gekom vir dié wat láter genooi is; maar dan wys Jesus dat daar ook van hierdie groep iemand uitgeval het. Christus is dus nie die partyleier van één groep mense nie.

Dit is wat verskillende teoloë vanuit Afrika en Suid-Amerika ons wil laat glo; volgens hulle het Christus gekom vir die onderdruktes, vir die armes, vir die vrou. Natuurlik wil Christus geregtigheid bring vir die sosiale onreg in die wêreld, maar sy evangelie is nie ‘n sosiale evangelie nie, Hy het nie in die eerste plek gekom om vir mense fisies brood en water te gee nie, maar om vir hulle die lewende brood en water te gee, wat mense se lewens vernuwe.

En daardie vernuwing, broers en susters, moet ook by ons sigbaar word. Wanneer ons in Jesus Christus glo, sy uitnodiging aanneem, dan het dit ‘n uitwerking op ons lewenswandel. Dan kan ons nie bly soos wat ons altyd was nie. Nee, dan moet daar verandering kom. In dié geval “maak klere inderdaad die man” – d.w.s. mense behoort aan jou lewensstyl te kan sien dat jy leef soos ‘n feesganger, soos iemand wat ‘n gas van die Koning is. En dan beteken dit uiteraard dat ons nie meer kan voortgaan met dinge wat nie pas by die bruilof nie, en aan die ander kant beteken dit dat ons dié dinge moet begin doen wat wel pas by die bruilof en wat wel pas by die styl van die Koninkryk van God.

Dan is daar ten slotte nog die laaste woorde van hierdie verhaal: “Want baie is geroep, maar min uitverkies.” Ons moet hierdie uitspraak van die Here Jesus lees binne die geheel van die gelykenis: van die oorspronklike genooides het niemand ingekom nie, en van die uiteindelike gaste kon ook nie almal binne bly nie. Die uitnodiging het slegs effek wanneer ons dit in geloof aanvaar en daarvolgens lewe. Só iemand is uitverkies.

Gemeente, die woord “uitverkies” dui in hierdie konteks op ons bevoorregte eindposisie; wie tot die einde by die fees mag bly, behoort tot die ‘gelukkiges’. Ja, baie behoort tot die genooides, maar min behoort tot die gelukkiges. Vertrou uself aan God toe om u in die geloof te bewaar, sodat u ook deel van die gelukkiges mag wees, beklee uself met wit klere, klere wat gewas is en wit gemaak is in die bloed van die Lam. So wil Jesus Christus ons ontmoet by sy wederkoms, so mag ons eendag ingaan in die ewige bruilof van ons Heer.

Amen

 

Liturgie (aand)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 101:1, 2 en 4
Gebed
Lees: Mattheus 21:45-22:14
Sing Ps. 5:4, 6, 10 en 11
Teks: HK, Sondag 7
Preek
Amenlied Skr. 42:4 en 5
Gebed
Belydenis van geloof (staande en singende)
Kollekte
Slotsang Ps. 118:11, 12 en 14
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)