God se geregtigheid, totaal anders!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2009-11-22
Teks: 
Heidelbergse Kategismus, Sondag 4
Verwysing: 
HK 4-0 (2009)
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

Geliefde gemeente van Jesus Christus, ons Here,

31 Oktober 1517 – die datum waarop die Reformasie van die 16e eeu begin het. Natuurlik het dit al vroeër begin, maar op 31 Oktober 1517 is die afkeer van die Rooms Katolieke dwalinge en die terugkeer na die Woord van die Here vir die eerste keer sistematies verwoord in die 95 stellings wat Luther teen die deur van die kerk van Wittenberg vasgespyker het. Maar voordat Luther sover kon kom om sy Skriftuurlike oortuigings te verwoord, het daar baie gebeur. Hy het baie geworstel; baie vrae het aan sy stellings voorafgegaan.

Luther was naamlik met hart en siel Rooms-katoliek; hy het vol ywer die goeie en goddelike lewe probeer lei; hy het met pynlike nougesetheid die voorskrifte nagekom, gebid, gemediteer, gevas… Hy sê later dat as daar ooit ‘n monnik was wat deur goeie werke salig sou word, dan was dit hy (en sy kollegas het dit bevestig). Maar al hierdie goeie werke het nie rus by die jong Luther gebring nie. Elke week het hy gaan bieg, maar elke keer moes hy maar weer bely dat hy nie in staat was om die eenvoudigste dele van God se wet na te kom nie. Luther het al meer besef dat sy werke voor God niks beteken het nie, dat sy strewe na volmaaktheid hom juis dieper die oordeel in gejaag het. Hoe meer hy probeer het om die goeie te doen, hoe dieper het hy besef dat hy dit nie kon regkry nie, en hoe groter het sy angs vir die hel geword. In die skets van die mens soos wat ons dit gelees het in Romeine 3:9-20 het Luther homself gesien: daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat goed doen nie, daar is niemand wat God soek nie, daar is niemand regverdig nie!

En dáár het Luther se groot angs gelê! Want, hoewel hy eerstehands geweet het dat geen mens regverdig is nie, het hy ook geweet dat God dit wél is! God was vir Luther die streng Regter wat sy wette gegee het, en uiteindelik van elke mens rekenskap sou eis. Al wat Luther die hele tyd gehoor het, was: “Ek is die HERE, jou God” en vervolgens die tien gebooie wat hy moes onderhou – dit het deur sy kop bly maal, sodanig dat hy uiteindelik uitgeskreeu het: “U is nie God nie, maar die duiwel. Ek wens dat daar geen God was nie!” Luther se beeld van die God wat elke mens regverdig oordeel, wat aan elke mens gee wat hom toekom, het hom gedryf om al hoe meer te ywer om aan hierdie God se geregtigheid te voldoen, net om elke keer te moet besef: “Maar ek kan nie!” En dit, gemeente, het Luther radeloos gehad: “Waar vind ek ‘n genadige God?” Hy het eintlik gevra wat die Kategismus ook vra: “Is God dan nie ook barmhartig nie?”

Gemeente, herken jy iets van Luther se stryd? Hierdie stryd hang dikwels saam met wat ons onder ‘geregtigheid’ of ‘regverdigheid’ verstaan. Die algemene omskrywing van geregtigheid wat deur die loop van die eeue van die Griekse filosowe af oorgeneem is en wat ons ook in die Romeinse reg terugvind, is: om aan elkeen na verdienste te gee; elkeen kry wat hom toekom. Die Rooms Katolieke teologie het hierdie beskrywing oorgeneem, en so het dit in Luther se tyd steeds bestaan: God gee aan elkeen wat hy verdien – op so ‘n manier is God regverdig. En so verstaan ons dit vandag ook nog…

Nou, binne die Roomse denke is dit geen probleem nie, want daar kan die mens deur sy goeie werke heelwat by God verdien. Dus, as jy goeie werke doen, aflate koop, en gereeld gaan bieg, dan is hierdie geregtigheid van God nie so ‘n skrikwekkende gedagte nie. Maar vir die jong Luther, wat ten spyte van al sy goeie werke, sy totale verdorwenheid besef het, was dit ‘n beangstigende gedagte. Luther het die woorde van Dawid uit Psalm 143 geken: “… gaan nie na die gereg met u kneg nie, want niemand wat leef, is voor u aangesig regverdig nie.” Niemand is regverdig nie – dus, as God na verdienste moes gee, ja, dan sou niemand kon bestaan nie.

Só het Luther na God gekyk; God was vir hom ‘n harde en toornige Regter. En hierdie God, voor wie se aangesig hy gebeef het, wat onmoonlike dinge van hom geëis het – hierdie God moes hy nog met sy hele hart liefhê ook!? Hy kon nie! Hy het die geregtigheid van God gehaat! Totdat God aan hom die lig laat sien het oor wat God se geregtigheid in werklikheid beteken.

Tema: God se geregtigheid, totaal anders!
1. God bewys sy eie geregtigheid in Christus
2. Ons ontvang vreemde geregtigheid deur die geloof

1. Gemeente, dit is van die begin af belangrik wat ons onder God se geregtigheid (of: regverdigheid) moet verstaan. Want die gevaar is groot dat ons ons gevoel van regverdigheid op God van toepassing maak, en dan bepaal of Hy regverdig is of nie. Ons sien byvoorbeeld hoe mense wat brandarm is en in sinkhuisies woon, die ergste deur die reëns van die afgelope week of wat getref word, en dan dink ons: dit is darem nie heeltemal regverdig van God nie. Of: ‘n gesin wat swaarkry, word skielik deur nog meer moeite getref terwyl dit met ander net goed gaan, en dan wonder ons of ons ‘n regverdige God het.

Maar, broers en susters, dit is belangrik dat wanneer ons oor die geregtigheid van God praat, ons dit as ‘n verbondsterm sal sien. Wat bedoel ek daarmee? Ek bedoel daarmee dat ons God se geregtigheid nooit los kan sien van die verhouding waarin Hy tot elke mens staan nie. Ons mense kan dit wel doen: ‘n regter kan in die hof regverdig oordeel, sonder om in enige verhouding tot die beskuldigde te staan. Maar dit is nie hoe dit is tussen God en die mens nie; nee, God staan in ‘n verhouding tot die mens, tot elke mens. So is dit vanaf die begin. Vanaf die begin wou God ‘n liefdesverhouding met die mens hê. God het die mens aangeneem as sy kind; en uit pure genade het Hy vir die mens gesê: Ek is jou Vader.

En onmiddellik toe God dit gesê het, het Hy Homself sekere verpligtinge opgelê: die verpligting om die mens ook as kind te behandel, die verpligting om die mens te laat deel in die rykdom van die wêreld, die verpligting om die mens te laat saam geniet van die skoonheid van die skepping. En aan die ander kant het hierdie liefdesverhouding ook sekere verpligtinge vir die méns beteken: die verpligting om God lief te hê, die verpligting om Hom te gehoorsaam en Hom te eer. En, gemeente, beide God en mens doen reg, d.w.s. hulle is regverdig, wanneer hulle, binne hierdie verhouding, hulle verpligtinge nakom.

En toe kom die sondeval… Die mens word ontrou aan God, hy weier om hierdie verpligtinge verder na te kom. Dit is die ongeregtigheid van die mens dat hy nie meer hierdie liefdesverhouding met God wil hê nie. Ons sien dit om ons heen, ons sien dit in ons eie lewens: ons soek van nature nie meer na die verhouding met God nie, ons volg ons eie kop, ons eie pad. En hoe, dink u, moet God nou reageer? Wat moes God vir Adam en Eva gesê het? Moes Hy hulle maar hulle gang laat gaan het? Moes Hy maar vir hulle gesê het: “Goed, julle wil nie meer met My in ‘n verhouding staan nie, loop dan nou maar…”? Moes Hy maar gesê het: “Julle kan tog nie langer doen wat Ek van julle vra nie, so nou is dit ook nie meer nodig nie”? Nee, gemeente!

As my seun by die hek wil uitloop om op die besige pad te gaan speel, moet ek dan maar vir hom sê: “Gaan maar…”? Nee, dan sou ek onregverdig wees, dan sou ek nie my verpligtinge as pa nakom nie! My verpligting is om hom daar weg te vat, en as hy nie wil luister nie hom te straf, miskien ‘n pak slaag te gee. Dán is ek regverdig, dán kom ek die verpligting na wat ek as pa op myself geneem het! Laat mens nogal dink, né, kinders en jongmense? Ons is so gou om te dink dat pa en ma onregverdig is wanneer hulle ons straf, wanneer ek ‘n pak slaag kry omdat ek stout was, of wanneer ek vir ‘n maand lank nie mag uitgaan nie omdat ek verby die afgesproke tyd by die huis gekom het. Ja, dan dink ons pa en ma is onregverdig, en dan voel ons onsself verontreg. Maar dink hieraan: as jou pa en ma nie omgegee het nie, as hulle jou stoutigheid of verkeerde optrede goed gepraat het, dan het hulle die verpligting wat hulle op hulle geneem het as pa en as ma, nie nagekom nie; dán was hulle onregverdig, want dan het hulle nie die beste vir jou gesoek nie.

En net só, broers en susters, sou God onregverdig gewees het as Hy die mens maar aan sy lot sou oorlaat. Gód het immers die Vader-kind verhouding ingestel, Hy het die verpligting op Hom geneem om die beste vir sy kinders te soek – en niemand beter as Hy self weet wat die beste vir sy kinders is nie. Sou dit dan regverdig gewees het as Hy ná die sondeval vir die mens gesê het: “Loop, jy wil nie meer nie, nou los Ek ook maar hierdie verhouding…”? Sou dit regverdig gewees het om vir die mens te sê: “Los maar my wette, jy wil dit tog nie nakom nie”? Nee, dan sou God die mens se ongeregtigheid met sy eie ongeregtigheid beantwoord het! Dan sou Hy die mens se versuim om sy verpligtinge na te kom, beantwoord deur self sy verpligtinge te versuim! En dit is nie wie God is nie, broers en susters. God is regverdig, en sy geregtigheid beteken dat Hy beide kante van die liefdesverhouding met die mens handhaaf! God verlaag nie die standaarde nie, Hy verander nie die verpligtinge wat Hy Homself opgelê het nie, Hy verander nie die verpligtinge wat Hy ons opgelê het nie.

Onveranderd bly staan wat Hy in die paradys al belowe het: Ek wil jou as kind behandel, Ek wil vir jou sorg. Onveranderd bly staan wat in die paradys al die eis was: Ek verwag van jou gehoorsaamheid en liefde en trou. Onveranderd bly die dreiging staan wat in die paradys al gegeld het. Geen kompromie nie!

Sien u gemeente, God se geregtigheid beteken nie: gee aan elkeen wat hom toekom, nie. Dit is ‘n koue verstaan van God se geregtigheid; dan word God die afstandelike regter wat maar net na verdienste oordeel. Maar nee, God se geregtigheid beteken: Ek staan in ‘n verhouding met jou, en Ek wil hierdie verhouding handhaaf, selfs ná die sondeval. In hierdie verhouding wil Ek aan jou bly gee wat ek belowe het, in hierdie verhouding bly Ek van jou vra om jou verpligting na te kom, en bly Ek jou waarsku dat die straf sal volg wanneer jy nie jou verpligting nakom nie. Slegs só is Ek regverdig, slegs só is daar vir die mens lewe!

Maar gemeente, kom God hier nie in ‘n doolhof nie? Want enersyds wil Hy die verpligtinge wat Hy Homself opgelê het, handhaaf – dus, Hy wil die mens as kind bly behandel. Maar andersyds moet Hy die mens met die dood straf, omdat die mens nie meer sy verpligtinge wil of kan nakom nie. Hoe nou gemaak? Hoe handhaaf Hy sy liefde teenoor dooie mense?

En dit is op hierdie punt, broers en susters, dat die rykdom van Romeine 3 vir ons oopgaan. Nadat Paulus in verse 9-20 die doemwaardigheid van elke mens beskryf het, verkondig hy vanaf vers 21 God se meesterplan om uit hierdie skynbare doolhof te kom. God se liefde strand nie op die mens se sondigheid nie; sy straf op die sonde is geen verhindering vir sy liefde nie. Nee, want daar is Jesus Christus! Jesus Christus – deur Hóm kom God sy verpligting na om vir u en my ‘n Vader te wees; Jesus Christus – in Hóm word ons verpligting om God as Vader te eer, volmaak vervul; Jesus Christus – op Hom word God se toorn en straf oor ons ongehoorsaamheid gestil. Jesus Christus is God se geregtigheid, want deur Hom kan die verhouding tussen God en mens voortgaan!

God se geregtigheid is meer as net om aan elkeen te gee wat hom toekom, God se geregtigheid is meer as net ‘n straffende geregtigheid. God se geregtigheid beteken die instandhouding van sy verhouding met die mens en met die hele skepping. Dit sou onregverdig van God gewees het om die kroon van die skepping, die mens, in die ellende te laat waarin hy homself gewerp het. Maar in Jesus Christus bewys God dat Hy regverdig is – Hy handhaaf die straf, heeltemal reg, maar meer nog: Hy handhaaf die verhouding met die mens! Sy geregtigheid in Christus beteken dat daar toekoms is vir u en my!

Ons let nou vervolgens daarop dat ons die vreemde geregtigheid uit geloof ontvang.

2. Hierdie sig op God se geregtigheid was ‘n wonderlike openbaring vir Luther. Hy vertel dat, toe hy dit raakgesien het, dit was asof die poorte van die paradys vir hom oopgegaan het; soveel as wat hy eers God se geregtigheid gehaat het, soveel het hy dit nou begin liefkry. Die hele Skrif het vir hom oopgegaan. Hy het veral begin sien dat ons nie meer ons eie geregtigheid voor God hoef te verdien nie, meer nog: dat ons dit nie eens kan verdien nie. Immers – so sê Romeine 3:19-20: “uit die werke van die wet kan geen vlees voor Hom geregverdig word nie”; die teenoorgestelde is juis waar: die wet stop juis elke mond, en verklaar elke mens doemwaardig voor God. Nee, Luther het leer sien dat die geregtigheid nie uit onsself is nie, maar dat ons deur die geloof God se geregtigheid ontvang; deur die geloof verkry ons ‘n vreemde geregtigheid, dit wil sê ‘n geregtigheid wat nie ons eie is nie.

Want ons is self onregverdig, broers en susters; dit is die werklikheid van ons almal se lewens, naamlik dat almal gesondig het en dat dit almal aan die heerlikheid van God ontbreek; dit beteken: almal van ons mis die nabyheid van God, almal van ons het die verhouding met God verbreek en is daardeur onregverdig. Maar die evangelie, die evangelie van Gód se geregtigheid, wil elke mens teruglei na daardie volmaakte liefdesverhouding waarin God en mens oorspronklik gestaan het.

God neem die inisiatief om hierdie verhouding weer te herstel, Hy sélf stel Christus voor as versoening – Hy het dit voor die grondlegging van die wêreld alreeds gedoen, maar Hy doen dit ook baie konkreet elke keer wanneer Jesus Christus verkondig word; elke keer wanneer die evangelie gepreek word, dan is dit asof God die bloed van Jesus Christus oor jou laat druppel, die offer van Christus aan jou voorstel. En dan roep Hy jou op om hierdie geregtigheid, wat van buite-af kom, in geloof te aanvaar, jou eie te maak. Ons bely dit so pragtig in artikel 22 van die NGB: “Die geloof omhels Jesus Christus met al sy verdienstes. Dit maak Hom ons eie  en soek na niks anders as na Hom nie.” Ja, Jesus Christus is nie ons eie nie, Hy is God s’n, God se geregtigheid; maar Hy kan ons s’n word, Hy wil ons s’n word.

En wat God van u vra, broers en susters, is geloof. Wie in geloof aanvaar wat Christus vir hom of vir haar gedoen het, word deur God geregverdig, word deur God regverdig verklaar – ons verkeer hier in die sfeer van die regstelsel: ons staan doodskuldig voor die hoogste regter, niemand twyfel oor ons skuld nie; en dan skielik kom ons Advokaat, Jesus Christus, en wys Hy op die gate in sy hande en sy sy – Hy het die skuld betaal – en dan kan die regter nie anders nie, dan wil Hy nie anders nie as om ons saak van die rol te skrap nie; ons word regverdig verklaar deur die toedoen van ‘n Ander: dit is vreemde geregtigheid. Deur die geloof word sy geregtigheid my geregtigheid. Deur die geloof vind die vrolike ruil plaas, waarvan Luther praat: die Here het die ongeregtighede van ons almal op Jesus Christus laat neerkom, en dit terwyl Hy geen onreg gedoen het nie, en daardeur het Hy my en baie ander regverdig gemaak! En dan kyk God na my asof ek nog altyd gehoorsaam was, asof ek nog altyd aan Hom eer en liefde bewys het, asof ek nog nooit enige sonde gedoen het nie.

En gemeente, vir wie dít leer raaksien, word Paulus se vraag in Romeine 3:27 ‘n retoriese vraag: “Waar is dan die roem?” Dus, is daar rede tot hoogmoed? Nee, enige roem is uitgesluit! Alle trots word afgebreek, daar is geen rede tot hoogmoed nie. “Deur watter wet?” Deur die wet van die werke? Met ander woorde, word ons trotsheid afgebreek deur die feit dat ons elke keer weer besef dat ons werke sondig en gebrekkig is? Dit sou eerlik gewees het as die mens op hierdie manier elke keer weer platgeslaan word, bloedneus geslaan word, tot erkentenis gedwing word. Maar God het ‘n ander manier verkies om ons ons roem en trotsheid af te leer. ‘n Manier wat ons nie bloedneus slaan nie, maar een wat ons juis ophef! Ons word alle trotsheid ontneem wanneer God ons tegemoet kom met die offer van Jesus Christus. Die manier waarop God ons alle roem ontneem, druk ons nie in die grond nie, maar tel ons op; dit is die manier van die geloof.

Paulus noem dit hier die “wet van die geloof” – hy gebruik hierdie uitdrukking om die kontras aan te toon met die wet van die werke. Die wet van die geloof staan teenoor die wet van die werke. Hy wys daarmee dat geloof ‘n nuwe soort wet is. Nie ‘n wet wat ons, soos elke ander wet, aan die werk sit nie, maar ‘n wet wat aan ons die rus van die geloof voorskryf. En wie homself geloof laat voorskryf, moet homself outomaties weerhou van enige roem. Want daar is niks meer om oor te roem nie, ons word immers vrygespreek, geregverdig, deur te glo! Ons word geregverdig sonder ‘n werke-wet, maar deur ‘n geloofswet.

Broers en susters, God se geregtigheid is ‘n geregtigheid wat soek na die harte van mense; mense wat gemaak is om in verbondenheid met God te lewe, maar wat daardie lewe verruil het vir ‘n lewe in hierdie wêreld. En ons sien dit om ons heen, mense wat jaag na die sukses wat ons omgewing bied, mense wat hulleself werp in die genot van hierdie wêreld, mense wat bewustelike of onbewustelik God die rug toekeer.
Maar daarteenoor wil die Here ons terugbring in die verhouding met Hom, die Here wil ons deur Jesus Christus, die Regverdige, regverdig maak. Gee jouself daaraan oor, werp jouself liggaam en gees in sy arms. Laat Christus se geregtigheid joune word. En dan sal jy sien hoe heilsaam dit werk; heilsaam, nie slegs vir die geloofslewe nie, want die liefdesverhouding met die Here is nie slegs iets vir die kerk nie. Nee, heilsaam vir elke aspek van ons lewe; die heil in Christus maak gesond, dit maak heel, dit gee nuwe vreugde, nuwe moontlikhede in ons huwelike en gesinne, dit gee uitsig in ons daaglikse werk, dit help ons om elke dag nuut te aanskou. Die goeie ontvang ons dan weer uit Gods hand, as halme buig op vrugbare akkerland. Geregtigheid gaan voor Gods aangesig, en bloei omhoog waar Hy sy voetstap rig. Wie met God wandel, sy voetstappe volg, mag deel in sy geregtigheid, want oral waar Hy gaan bloei sy geregtigheid op en gee dit nuwe lewe.
En wie sy voetstappe volg, weet waarheen dit lei; ook al is daar vandag nog baie ongeregtigheid, ook al is daar vandag nog baie onreg, ook in ons eie lewens, weet ons dat eendag die geregtigheid volmaak sal heers, die verhouding volmaak herstel sal wees. God sal dan waarlik ons Vader wees, ons sal volmaakte kinders wees. En dan vra ons nie meer: “Waar vind ons ‘n genadige God nie”, want dan is die genadige God en die Lam self by ons.

Amen

 

Liturgie (aand)

Groet en afkondigings
Votum Ps. 121:1
Seën: Genade vir julle en vrede van God ons Vader en ons Here Jesus Christus. Amen
Sing Ps. 66:7-9
Gebed
Lees: Romeine 3:9-31
Sing Ps. 49:1-3
Teks: HK, Sondag 4
Preek
Amenlied Ps. 98
Gebed
Belydenis van geloof (staande en singende)
Kollekte
Slotsang Ps. 85:3 en 4
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)