God se liefde sny diep in die lewe van sy volk!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2009-11-15
Teks: 
Deuteronómium 10:16
Verwysing: 
Deut. 10 (2009)
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

Geliefde gemeente van Jesus Christus, ons Verlosser,

Ons het verlede week saam nagmaal gevier. Ons kon sien en proe hoe God sy Seun vir ons oorgegee het. Ons kon die evangelie, die goeie nuus, voor ons afgebeeld sien. Ons kon ervaar dat Jesus Christus Homself laat boei het om óns vry te maak; dat Hy onskuldig tot die dood veroordeel is, sodat óns voor die gerig van God vrygespreek kon word; dat Hy deur God verlaat is, sodat óns nooit meer deur Hom verlaat sal word nie – dit is hoe mooi die nagmaalsformulier dit stel.

Nou, broers en susters, as jy die grootsheid van hierdie daad op jouself laat inwerk, dink jy dat dit moontlik is dat hierdie heerlike nuus die gelowiges koud kan laat? Is dit nie amper vanselfsprekend dat hierdie verstommende daad van God in Christus ‘n sekere reaksie by ons behoort op te roep nie? Immers, ons lewe mos saam met die Here in ‘n liefdesverhouding! ‘n Liefdesverhouding van gee en ontvang en teruggee, van woord en antwoord, van soek en vind, van klank en weerklank, van liefde en wederliefde. U ken tog die huwelik? Of het u dit al verloor? Daardie liefdevolle soeke na mekaar – die soeke om die ander te behaag, om die ander gelukkig te maak, met die gevolglike soeke na wederliefde in die ander se oë, die soeke na begrip, na ondersteuning. Só is die lewe in die liefdesverhouding met die Here ook ‘n wedersydse lewe – die inisiatief kom van die Here, en die hartlike antwoord kom van ons. Nou, broers en susters, die Here soek daardie hartlike antwoord in ons hele lewe. Hy wil dit sien, Hy smag daarna… veral nadat Hy ons gevoed het aan sy tafel!

Tema: God se liefde sny diep in die lewe van sy volk!
1. Die inisiatief van God se liefde
2. Die prioriteit van ons wederliefde
3. Die verpligting wat God se liefde meebring

1. Die boek Deuteronomium speel hom af op daardie oomblik in die geskiedenis wanneer die volk op die punt staan om Kanaan binne te trek. Dit speel hom dus af op die kruispunt tussen die woestynreis van meer as veertig jaar én die nuwe toekoms in die beloofde land – kyk maar na hoofstuk 9:1: “Hoor, Israel, jy trek vandag deur die Jordaan…” Dit is ongelooflik as ‘n mens daaroor nadink – ná alles wat gebeur het in die woestyn het die volk tog tot hier gekom, ná soveel jare van rondswerf en rampe is dit nou so ver.

Maar Moses gee die volk geen kans om enigsins in hulleself te roem nie; die feit dat hulle sover gekom het, is geen rede om mekaar op die skouer te klop nie. Kyk maar na hoofstuk 9:4, 5 en 6: “moenie in jou hart spreek en sê: Die HERE het my ter wille van my geregtigheid ingebring om hierdie land in besit te neem nie… Nie ter wille van jou geregtigheid en die opregtheid van jou hart kom jy in om hulle land in besit te neem nie… Weet dan dat die HERE jou God nie ter wille van jou geregtigheid jou hierdie goeie land gee om dit in besit te neem nie, want jy is ‘n hardnekkige volk.” Tot drie maal toe: nie vanweë jou geregtigheid nie… Daar is geen rede in die volk waarom God juis húlle uitgekies het nie, daar is geen rede in die volk waarom God juis met húlle verder gegaan het nie.

En Moses vertel ons alles daarvan in hoofstuk 9; hy sê in vers 7: “Dink daaraan, vergeet nie hoe jy die HERE jou God in die woestyn vertoorn het nie; van die dag af dat jy uit Egipteland opgetrek het, totdat julle by hierdie plek gekom het, was julle wederstrewig teen die HERE.” En dan begin hy om uitgebreid die sonde van die volk met die goue kalf in herinnering te roep, daardie duistere geskiedenis van die volk se afval van die Here. En net om te wys dat dit nie die enigste geval van hardnekkigheid was nie, voeg hy in vers 22 en 23 ook nog by: “Ook by Tabéra en by Massa en by Kibrot-Hattaäwa het julle elke keer die HERE vertoorn. En toe die HERE julle uit Kades-Barnea gestuur het met die woorde: Trek op en neem die land in besit wat Ek julle gegee het – was julle wederstrewig teen die bevel van die HERE julle God en het julle Hom nie geglo en na sy stem nie geluister nie.” En dan is Moses se konklusie in vers 24: “Wederstrewig was julle teen die HERE van die dag af dat ek julle ken.”

Nee gemeente, daar was in die volk geen enkele rede waarom God met hulle verder sou moes gaan nie. Meer nog, as dit nie was dat Moses keer op keer tussen die volk en God bemiddel het nie, dan het die Here die volk lankal in sy toorn vernietig. Maar in plaas van vernietiging sien ons genade; in plaas van verdelging sien ons vernuwing! In plaas daarvan dat die Here die volk gee wat hulle verdien het, dat Hy sy rug op hulle draai en hulle vernietig, sien ons dat Hy Hom in sy genade tot hulle wend om die verbond, wat hulle verbreek het, te vernuwe – ons het daarvan gelees in die eerste deel van hoofstuk 10. In die eerste plek moet Moses twee nuwe kliptafels gaan kap, en opnuut skryf die Here daarop die tien woorde van die verbond en laat dit in ‘n ark van akasiahout bewaar (10:1-5). In die tweede plek gee die Here in sy genade dat die priesteramp kan voortgaan; ná die dood van Aaron word sy seun, Eleasar, hoëpriester – die diens van die versoening kan dus voortgaan (10:6). Verder bring die Here uit genade sy volk by ‘n land van waterstrome, sodat daar in hulle fisiese behoeftes voorsien word; Hy sorg dus vir hulle soos ‘n Vader (10:7). In die vierde plek sien ons dat die Here daarvoor sorg dat die stam Levi afgesonder word om spesifiek in sy Naam die volk te seën (10:8-9) – die volk lewe dus onder die voortdurende seën van die Here God. En ten slotte sien ons ook nog dat die Here uit genade sy volk verder laat trek om aan hulle die land te gee wat Hy aan die vaders met ‘n eed beloof het (10:11).
Sien u, gemeente, die volk het verbreek, die Here vernuwe. Die volk was hardnekkig, die Here is sag van hart. Die volk was wederstrewig, die Here is vergewingsgesind. Daar was absoluut geen rede in die volk waarom God met hulle verder sou gaan nie. Gaan lees maar op u eie hoofstuk 9 – dit is een lang relaas oor die hardnekkigheid, die wederstrewigheid, die verbondsverbreking van die volk.

Maar hoekom gaan die HERE, aan wie die hemel, ook die hoogste hemel, die aarde en alles wat daarin is, behoort (10:14), die Here wat vir Hom enige volk kan kies wat Hy wil, wat selfs sonder ‘n volk kan klaarkom – hoekom gaan Hy dan met hierdie volk verder? Watter rede was daar vir die Here om sy volk sover te bring dat hulle nou op die grens van die beloofde land gestaan het? Hoekom? Gemeente, die Here neem die rede uit Homself, uit sy liefde! Lees maar vers 15: “Maar net aan jou vaders het die HERE ‘n welgevalle gehad om hulle lief te hê, en Hy het julle, hulle nageslag ná hulle, uit al die volke uitverkies, soos dit vandag is.” Hier, in die Vaderhart van God, lê die rede vir God se liefde… Onbegryplik! En dis nie ‘n liefde wat die een dag só sê, en die ander dag sus nie; dis nie ‘n wispelturige liefde wat die een dag die volk kies, en die ander dag die volk weer verwerp nie. Nee, dit is ‘n troue liefde, dit is die liefde van die troue Bondsgod van weleer, God van wordende geslagte, tot in ewigheid die Heer (Psalm 146). Dit is die liefde van ‘n God wat nie vergeet van die beloftes wat Hy aan die vaders, Abraham, Isak en Jakob gemaak het nie. Dit is die liefde van ‘n God wat selfs ‘n teken gegee het – die besnydenis – waardeur Hy Homself sigbaar aan hierdie volk verbind het: “Gaan kyk na die manne van hierdie volk; dáár by die voorhuid, dáár waar die nageslag verwek word – sien daar die teken van die verbond tussen My en julle tot in die verre nageslag.” In sy onverdiende liefde het die God van hemel en aarde Homself aan hierdie volkie verbind – dit moes sigbaar op die manne van hierdie volk ingesny word…

So diep gaan God se liefde – Hy het die hardnekkigheid van hierdie volk geken, Hy het geweet hulle gaan ontrou wees. En tog begin Hy nie ‘n vryblywende verhouding nie, tog begin Hy nie ‘n verhouding waarin daar ‘n ontsnappingsklousule is nie. Nee, ‘n verbond van geslag tot geslag; só bind die Here Homself! Kyk maar net na die besnydenis… En, gemeente, só het ons verlede week ook nagmaal gevier; só het ons hier kom sit – onthou, ons kom nie na die nagmaal om daarmee te kenne te gee dat ons in onsself volmaak en sonder enige sonde is nie. Inteendeel, ons erken juis, noudat ons ons lewe buite onsself in Christus soek dat ons midde in die dood lê. Midde in die dood, en tóg sê God vir jou: “Kom eet saam met My…” Midde in die dood, en tóg nooi Hy jou…
Dit bring ons dan ook by die volgende gedagte: die prioriteit van ons wederliefde.

2. En nou, Israel, wat eis die HERE jou God van jou…? (vers 12) Moses het net hiervoor die rykdom van God se liefde uitgelig; hy het gewys op God se genade wat telkens maar weer na vore kom, hy het dit opgebou tot ‘n klimaks: Ek wil die volk in die beloofde land bring, wat hier in Deuteronomium 10 ook op die punt staan om te gebeur. En nou, volk van God, hoe antwoord julle hierop? Wat maak julle met hierdie liefde en genade? En gemeente, dit is waar dit dwarsdeur die geskiedenis van Israel se volksbestaan skeefgeloop het. Dwarsdeur die Ou en Nuwe Testament sien ons dat die verbond vir die volk ‘n gemaksone geword het, ‘n veilige omgewing vanwaaruit die volk hulle teenoor die heidene kon beroem op hulle afkoms en geskiedenis: “Ons is die volk wat God uitverkies het, ons is besny!”

Paulus wys dit ook in sy brief aan die Romeine wanneer hy die Jode op hierdie punt aanval: “Kyk, jy dra die naam van Jood en steun op die wet en beroem jou op God, en jy ken sy wil en onderskei die dinge waar dit op aankom, omdat jy uit die wet onderrig word, en jy is oortuig dat jy ‘n leidsman is van blindes, ‘n lig vir die wat in duisternis is, ‘n opvoeder van onverstandiges, ‘n leermeester van onervarenes, omdat jy die beliggaming van die kennis en die waarheid in die wet het…” Ja, heeltemal reg, maar dit is nie genoeg nie! Besnydenis van die vlees is nie die einde nie, dit is slegs die begin van God se verhouding met jou! Dit is die teken van God se liefde; dit is die teken van ‘n liefde wat te hoog en te breed en te diep is vir ons om te begryp; dit is ‘n teken wat onvermydelik oproep tot wederliefde! Ons kan dus nie net by daardie uiterlike teken bly nie; nee, God se liefde sny baie dieper as die voorhuid. Hy sny regdeur tot by die kern: Hy soek die harte!

En dit is wat Moses op ‘n baie opmerklike manier in ons teks sê: besny dan die voorhuid van julle hart. Onder die heidense volkere is die voorhuid dikwels beskou as ‘n belemmering vir vrugbaarheid. Dus, besnydenis het die vrugbaarheid verhoog. Nou, op soortgelyke wyse, maar net in geestelike sin, is in Israel na die voorhuid gekyk. Die voorhuid, wat afgesny en weggegooi is, was simbolies van die onreinheid van die mens, en daarom het die besnydenis ‘n afsnyding van hierdie onreinheid beteken. Dit wat die mens verhoed het om met God te kan lewe, is as’t ware weggesny.

Iets wat nie besny was nie, het dus nie goed gefunksioneer nie – daarom kan Moses ook in Exodus 6:11 sê dat hy ‘n man is wat onbesnede van lippe is, hy kon dus nie goed praat nie; en Jeremia sê in hoofstuk 6:10 van die volk dat hulle ore onbesnede is, sodat hulle nie kan luister nie. Wanneer dit egter besny word, dan word die belemmering weggeneem en dan kan dít wat besny is weer goed funksioneer. En dít is waartoe Moses die volk oproep: besny die voorhuid van julle harte, neem alles weg wat julle verhinder om die Here van harte te dien. Gemeente, die volk moes leer dat dit nie oor die uiterlike teken gaan nie… Nee, die Here se liefde is nooit tevrede met uiterlikhede nie; Paulus sê in Romeine 2:28: “Want nie hy is ‘n Jood wat dit in die openbaar is nie, en nie dít is besnydenis wat dit in die openbaar in die vlees is nie; maar hy is ‘n Jood wat dit in die verborgene is, en besnydenis is dié van die hart, in die gees, nie na die letter nie.”

God se liefde, wat so onpeilbaar diep is, sny diep in ons lewens in, broers en susters, só ‘n diep liefde is nie tevrede met uiterlikhede nie. Kyk hoe gaan God gal af teen sy volk wat in skeinheiligheid dink dat die uiterlike dinge genoeg is. Lees maar ‘n slag Jesaja 1:11-15, waar God sê dat Hy sat is van die offers van die volk, waar Hy die volk vra om asseblief op te hou met hulle feestye, want hulle is vir Hom ‘n oorlas, en waar Hy sê dat Hy nie meer na hulle menigvuldige gebede luister nie. Ons kan nie die God van hemel en aarde tevrede hou met uiterlike vertoon nie; nee, God se liefde soek ons harte! God se liefde vra dat ons Hom sal vrees, in sy weë sal wandel, Hom sal liefhê, Hom sal dien met ons hele hart en siel, en sy gebooie sal hou – kyk maar vers 12.

Broers en susters, ons stuit hier op iets wat ons nie as minder belangrik kan afmaak nie; hier is iets onmisbaars vir die geloof! Kind-van-God-wees vra jou lewe! Om maar net ‘n lidmaat van die kerk te wees, is nie genoeg nie; om elke dag bybel te lees en te bid, is nie genoeg nie. Sê ek nou dat ons ‘n geweldige klomp dinge moet gaan doen? Nee, die Skrif leer ons dat God alles gedoen het, Hy het ons uit die slawehuis van die sonde gelei, Hy was ten spyte van ons hardnekkigheid trou in die verbond. Wat Hy nou vra, is: gee My jou lewe! Hier, by die enjinkamer van jou lewe, hier wil God woon. Hy het vir jou sy hart gegee deur sy eie Seun as Middelaar aan die kruis te laat sterf, nou vra Hy niks minder as jou hart nie.

Gemeente, deur die werk van Jesus Christus hoef ons vandag nie meer die bloedige teken van die besnydenis te bedien nie. Sy bloed het gevloei, eens en vir altyd. Ons mag nou die water van die doop laat vloei. Maar die aard van God se verbond bly presies dieselfde, die oproep is nog steeds net so ernstig: besnydenis van die hart, totale oorgawe aan God. Doen dit persoonlik, en leer ook julle kinders om dít te doen. En, broers en susters, laat elkeen van ons onsself voortdurend op hierdie punt ondersoek: Is ons verhouding met die Here een van uiterlikhede? Of is dit ‘n verhouding van ware liefde? Gee ons formeel antwoord op sy liefde, of antwoord ons met ons lewe?
Ons let ten slotte op die verpligting wat God se liefde meebring.

3. Die hart wat besny is, dus die hart waaruit enige belemmering weggeneem is, kan nou ook na behore begin funksioneer. Daardie hart kan nou dieselfde soort liefde tot God en die naaste uitstraal as wat die Here self uitstraal. En, broers en susters, ons moet nie verwag dat ons daarin sal slaag as ons harte nog nie aan die Here behoort nie, dus as dit wat ons sopas genoem het nog nie ‘n werklikheid in ons lewens geword het nie. Eers wanneer die liefde van God tot in die sentrum van ons bestaan deurgedring het, eers wanneer enige verhindering daar verwyder is – die voorhuid van ons harte besny is – slegs dan kan ons die verpligting tot liefde nakom soos dit in God se volmaakte wet vervat is.

En hierop spreek Paulus die Jode in Romeine 2 dan ook aan – Hy het hulle in verse 17-20 daarop gewys dat hulle hulself beroem op uiterlike dinge, dat die besnydenis van die vlees vir hulle belangriker is as die besnydenis van die hart. Maar dan wys hy in verse 21-23 watter effek dit het. Julle Jode – sê Paulus – julle beroem julle daarop dat julle die wet van God het – en dit is waar! – maar wat word daarvan sigbaar? Behoort julle ook tot die dáders van die wet? Julle preek vir ander dat ‘n mens nie mag steel nie, maar steel julle nie sélf nie? Julle sê dat ‘n mens nie owerspel mag pleeg nie, maar pleeg julle nie self ook owerspel nie? Julle het ‘n afsku van die afgode, maar pleeg julle nie self tempelroof nie?

Die Jode wat hulle beroem het op die wet, het self ver onder die vereiste standaard gebly deurdat hulle daardie wet nie nagekom het nie. En, gemeente, wat Paulus hier vir die gemeente in Rome skryf, is nie sommer ‘n teoretiese saak nie. Nee, in Rome het die Jode verskeie kere in opspraak gekom omdat hulle die wet van God gruwelik geminag het. So vertel die geskiedskrywer Josefus van vier Jode wat hulself in Rome gepresenteer het as verklaarders van die wysheid van die wet en ‘n ryk vrou aangespoor het om haar purper en goud af te staan vir die tempel in Jerusalem, waarna hulle die rykdomme eenvoudig in hulle eie sak gesteek het. Die voorbeelde wat Paulus hier noem, is dus nie uit die lug gegryp nie. Nee, die gemeente in Rome het vanuit hulle eie stadsnuus geweet waarvan hy praat. En deurdat die Jode se lewenswandel nie ooreengekom het met dit waarop hulle hulself uiterlik beroem het nie, het God se saak skade gely, God is oneer aangedoen! Omdat die liefde van God in Christus Jesus nie deurgedring het tot die harte nie, kon die Jode in Rome ook nie daarin slaag om daders van God se liefdeswet te word nie. Slegs wanneer dit hier – in die hart – begin, kan dit na buite vrug dra.

En dit is waartoe God sy volk in Deut. 10 ook oproep: as jou hart besny is, laat dit dan ook sigbaar word teenoor jou naaste en teenoor God. En dan gee die Here in vers 17 Homself as voorbeeld. Hy herinner sy volk daaraan wie Hy is. Hy is die God van die gode, die HERE van die here, die grote, magtige en gedugte God – as daar iemand is wat selektief kan wees in die uitdeel van liefde, dan is dit God. Maar Hy doen dit nie, Hy sien die persoon nie aan nie, Hy word ook nie deur iemand omgekoop om aan hom liefde te bewys nie. Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges (Matt. 5:45). En só ‘n onpartydige liefde vra die Here nou ook van hulle wie se harte besny is, wie se harte weer reg werk: bewys liefde sonder aansien van die persoon, moenie omgekoop word om liefde te bewys nie, moenie selektief wees nie. As die Allerhoogste God dit nie doen nie, wie is ons om as mense onder die mense dit wel te doen?
En soos so dikwels in die Ou Testament vra die Here in besonder aandag vir die wees en die weduwee en die vreemdeling, die verdruktes in die samelewing. Juis omdat ons so geneig is om hulle oor die hoof te sien. Sien hulle raak! Hulle kan niks teruggee nie, hulle kan jou posisie in die samelewing nie help verbeter nie. Maar onthou: in God se Koninkryk het jy reeds alles ontvang. Laat sy liefde wat jou hart geraak en vernuwe het, nou ook uiting vind teenoor die naaste.

En gemeente, as ons so lewe, is ons nie meer die oorsaak daarvan dat God se Naam gelaster word nie. Nee, wanneer ons só ons geloof uitleef, dan word God ons lof – soos vers 21 sê. Dan kom alle lof aan God toe wat ten spyte van alle hardnekkigheid en wederstrewigheid van ons kant af volhard in sy liefde, wat nie ophou om met sy liefde verder en verder deur te dring totdat Hy die kern van ons mens-wees bereik het nie. Daardie liefde gooi alles omver in ons lewens, dit deurbreek alles wat vir ons van soveel waarde was, en dit maak van ons nuwe mense. Dan word ons self ‘n fontein waaruit die water van die lewe opborrel. En mag dít die gevolg wees van die viering van die nagmaal verlede week. Laat dit so wees dat, omdat Christus ons eerste so uitnemend liefgehad het, ons nou ook aan mekaar liefde bewys, en nie alleen met woorde nie maar ook met die daad.

Amen

 

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 125:1-3, 7
Gebed
Doopsbediening en dankgebed
Ps. 105:5
Lees:  Deuteronomium 10
 Romeine 2:17-29
Sing Skr. 24:2
Teks: Deuteronomium 10:16
Preek
Amenlied Ps. 146:1, 4, 5, 7 en 8
Wetslesing
Sing Ps. 105:23-24
Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 25:2, 4 en 7
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

 

 

Liturgie (aand)

Groet en afkondigings
Votum Ps. 121:1
Seën: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 113
Gebed
Lees:  Deuteronomium 10
 Romeine 2:17-29
Sing Skr. 24:2
Teks: Deuteronomium 10:16
Preek
Amenlied Ps. 18:1, 11
Gebed
Belydenis van geloof (staande en singende)
Kollekte
Slotsang Ps. 25:2, 4 en 7
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)