Die wonder dat volmaaktheid en gebrokenheid meng!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2009-11-08
Teks: 
Jesaja 57
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

Geliefde gemeente van Jesus Christus,

Water en olie meng nie – ons weet dit vanuit die wetenskap. Om gewig te verloor terwyl jy swanger is… dié twee gaan eenvoudig nie saam nie – ons vrouens ervaar dit in die praktyk. Geloof en ongeloof meng ook nie met mekaar nie – God het self daarvoor gesorg toe Hy die vyandskap in Genesis 3:15 ingestel het.

Ja, broers en susters, daar is sommige dinge wat, vanweë hulle aard, eenvoudig nie meng nie. Daar is selfs sekere dinge waarvan God in sy Woord gebied dat hulle nie mág meng nie; so lees ons byvoorbeeld in Levitikus 19:19: “Twee soorte van jou vee mag jy nie laat paar nie. Jou akker moet jy nie met twee soorte saad besaai nie. En ‘n kleed van twee soorte goed, van gemengde stof, mag nie op jou kom nie” (sien ook Deut. 22:9-11). Nou, die beginsel agter hierdie insettinge in Levitikus 19 is dat die heiligheid, wat God by sy volk wou raaksien, dat dit skeiding vereis. Die Here soek skeiding tussen dit wat heilig is en dit wat onheilig is, tussen dit wat aan Hom behoort en dit wat deur die bose beheers word. Dit is die denke van die Here agter hierdie skynbaar vreemde wette – sekere dinge meng by die Here eenvoudig nie…
Maar as dít die geval is, gemeente, hoe is dit dan moontlik dat die heilige en verhewe en volmaakte God met onheilige, nietige en klein mensies omgaan? Hoe is dit moontlik dat ek en jy net hierna saam met hierdie God aan die nagmaalstafel mag sit? Hoe is dit moontlik dat iets wat van nature nie meng nie, tog meng? Dit is dan ook die boodskap van die preek…
Die wonder dat volmaaktheid en gebrokenheid meng!

Gemeente, die gedeelte wat ons saam gelees het in Jesaja 56 en 57 vertel vir ons van die verskriklike sondes van die volk Israel, veral van die leiers van die volk. En dit is daardie sondes wat uiteindelik daartoe aanleiding gegee het dat die Here sy aangesig weggedraai het van sy volk, sodat hulle deur die Babiloniërs in ballingskap weggevoer is. Maar in die tweede helfte van vers 13 sien ons alreeds iets van ‘n wending: “… wie op My vertrou, sal die land beërwe en my heilige bergland in besit neem.” Hier is dus die belofte van terugkeer uit ballingskap! En iemand – dit is nie heeltemal duidelik wie nie – reageer in vers 1 op hierdie belofte deur opdrag te gee om voorbereidings vir die terugkeer te begin tref: “Vul op, vul op, berei die weg, verwyder die struikelblok uit die weg van my volk.” Daar mag dus geen verhindering vir God en sy volk wees om weer op sy heilige berg te kan saamwoon nie!
Maar weereens kom die vraag na vore: is dit moontlik? Is dit moontlik dat twee sulke totaal verskillende werklikhede – God en mens – met mekaar kan meng? Want kyk net hoe kontrasterend hierdie twee werklikhede in ons teks en in die Skrifgedeelte daaromheen vir ons beskryf word…

Aan die een kant is daar God… Hy word vir ons beskryf as die Hoë en Verhewene. Dit verwys na sy posisie op sy hemelse troon, soos wat ons daarvan lees in Jesaja 6:1: “ek het die Here sien sit op ‘n hoë en verhewe troon, terwyl sy some die tempel gevul het.” En van hierdie hoë en verhewe Koning word verder gesê dat Hy in die ewigheid woon – dit wil sê sy heerskappy is duursaam, dit oorskry alle grense van tyd en ruimte. En boonop word Hy ook ‘Heilig’ genoem – ja, Hy is die driemaal-heilige God, soos wat die serafs mekaar toeroep in Jesaja 6:3: “Heilig, heilig, heilig is die Here van die leërskare…” In sy heiligheid is Hy in alle opsigte anders as die mens, totaal anders. En ten slotte word ook nog toegevoeg: “Ek woon in die hoogte en in die heilige plek…” Ja, wanneer God êrens woon, dan word daardie woonplek deur sy blote aanwesigheid onmiddellik ook hoog en heilig.

Nou, daarteenoor, en in skrille kontras, lees ons van die verbryselde en nederige van gees. Dit dui op die teruggekeerde volk. Die volk wie se gees en hart, volgens vers 15, as’t ware doodgegaan het. Die volk wat, volgens vers 16, sal versmag voor die aangesig van hierdie heilige God as Hy sy toorn sou behou. Die volk wat, ook al het die Here hulle getugtig, tog afkerig voortgegaan het op hulle eie weg (vers 17).

Hoe is dit moontlik dat hierdie twee uiterste pole tog bymekaar kan kom, tog iets gemeenskapliks het wat hulle saambind? En dit is nie slegs ‘n vraag vir Israel in ballingskap nie, dit is ‘n vraag vir jou en my: hoe kan ek met God omgang hê? Hoe kan ek net hierna gaan nagmaal vier? Wat maak dit moonlik? En dan is dit belangrik, gemeente, om heel eerste te besef: maar daar is niks gemeenskapliks tussen God en sy volk nie, daar is niks waardeur hierdie twee totaal verskillende werklikhede met mekaar verbind kan word nie. Die sonde het alle bande, wat daar wel was, verbreek. Alle bande wat God in die skepping ingebou het om met die mens te kan lewe en omgaan, is deur óns afgesny!

Maar dan… die wonder waarvan Jesaja in vers 19 praat: God skep die gemeenskap wat deur ons verniel is, God skep ‘n nuwe band, God skep vrede! Ja, ‘skep’ – dit is presies dieselfde Hebreeuse woord wat ons ook in Genesis 1:1 vind: “In die begin het God die hemel en die aarde geskape.” Hierdie woord beteken om iets uit niks te maak. Jy en ek kan nie skep nie, ons is nie in staat om uit niks tog iets te maak nie. Nee, slegs Gód kan dit doen. En dit is presies wat nodig was om as God weer met sondige mense te kan omgaan en om sondige mense weer met God te kan laat omgaan: ‘n skeppingsdaad! Om iets te maak wat daar nie was nie! En daarvan lees ons in vers 19: “Ek skep die vrug van die lippe…” – die vrug van die lippe verwys hier na die woorde wat God spreek. God het dus gespreek, en Hy het dit wat Hy gespreek het ook ‘n werklikheid gemaak! God het gesê: “Laat daar vrede wees”, en daar was vrede; vrede vir die wat ver is, en vrede vir die wat naby is! Dít is die wonder, broers en susters, waardeur die volmaakte God en gebroke mense met mekaar kan meng; dít is die wonder waardeur die Hoë en Verhewene en Heilige by die verbryselde en nederige kan woon en hulle weer kan laat herleef. God het hierdie moontlik uit niks geskep! En dit is presies die wonder waarvan Maria so uitbundig in Lukas 1 sing.

Ja, ons hoor in Maria se loflied heelwat ooreenkomste met Jesaja 57 – sy sing onder andere óók van God wat magtig is, en wie se Naam heilig is, maar wat tog ook barmhartigheid bewys van geslag tot geslag, en wat die nederige toestand van sy diensmaagd aangesien het deur haar die moeder van die Here Jesus te maak. Ja, broers en susters, in Maria sien ons God se skeppingswonder van Jesaja 57 werklikheid word, daardie skeppingswonder waardeur God weer in vrede mét die mens en ín die mens kan woon. Binne-in Maria groei die nuwe lewe van Jesus Christus, en Hy is God se wonder van vrede!

Want onthou, Jesus Christus is nie gebore deur die normale seksuele omgang tussen ‘n man en ‘n vrou nie. Nee, Hy is ontvang van die Heilige Gees, deur ‘n besondere skeppingsdaad van God self. God het iets uit niks gemaak! Sonder die toedoen van ‘n man het God gesê: laat daar lewe wees! En op dié manier het God vrede geskep tussen Homself en sy volk. Deur die wonderbaarlike geboorte – en gevolglike lewe en sterwe – van Jesus Christus! Dit was die enigste manier waarop God en sy volk weer in vrede saam kon woon; Christus was die enigste antwoord om hierdie twee totaal verskillende werklikhede weer aan mekaar te verbind. God wat mens geword het, was die wonder wat God en mens weer in vrede saam laat woon het.

Broers en susters, sien ons nog hierdie wonder?
Ons lewe soms met die Here asof dit die normaalste ding in die wêreld is; ons lewe soms so onbewustelik en onnadenkend met hierdie Verhewene. Ons sit dikwels hier in die kerk asof dit volledig alledaags is; dis mos waar ons hoort, dit is mos ons plek, ons kerk, dit is mos wat ons elke week doen. En by die huis en in ons binnekamers tel ons die bybel op en lees vinnig ‘n stukkie daaruit asof dit nooit anders was nie. En ons bid daarna soos wat ons nog altyd gebid het, dikwels sonder nadenke en met weinig eerbied. En ons praat soms by ‘n bybelstudie met mekaar oor God asof Hy een of ander wikipedia-onderwerp op die internet is, een van vele ander onderwerpe. Ons godsdiens word soms ‘n proses, een wat ‘n mens met ‘n handleiding op koers kan hou…

Maar vir wie van ons is die omgang met God nog die wonder wat dit in werklikheid is? Wie van ons staan nog verstom wanneer die Hoë en Verhewene sê dat Hy by die verbryselde en nederige van gees wil woon? Wie van ons sing nog die lofsang van Maria: “in nederige staat wou Hy my nie verlaat”? Gemeente, hier aan die nagmaalstafel mag ons dít weer kom ervaar. Hier mag ons, wanneer ons die brood eet en die wyn drink, proe en ervaar dat die Here se verhouding met my en my omgang met Hom ‘n wonder van die hoogste orde is – die Hoë en Verhewe God wil by my woon, of anders gestel: die woord het vlees geword en het onder ons kom woon. Hier aan die nagmaal word hierdie skeppingswonder sigbaar en tasbaar.

Maar let wel, broers en susters, dit is dan ook slegs vir die nederiges en verbryseldes. Dit is slegs vir dié wat weet dat hulle niks verdien nie, vir dié wat stukkend is deur hulle sondes en skaam is oor dit wat hulle verkeerd doen. Die Here sê baie duidelik in Jesaja 57:20 en 21 dat hierdie wonder nie vir die goddelose bedoel is nie. Geen vrede vir hulle nie! Maar vir jou en vir my wat in die afgelope week selfondersoek gedoen het, en wat onsself elke dag in die lig van God se heiligheid plaas, en wat gevolglik ons lewe buite onsself in Christus soek – vir ons is daar vanoggend vrede. Twee werklikhede wat nie kan meng nie, het gemeng! ‘n Wonder het plaasegvind, ‘n wonder vir my hele lewe.
Dan mag ek weet dat ek more-oggend opstaan en werk toe gaan met God by my in die motor – twee werklikhede wat van nature nie meng nie, het tog gemeng! En ek gaan skryf my eksamen met die wete dat die Here langs my sit – twee werklikhede wat nie saamgaan nie, gaan dan saam daardie lokaal binne. En ek sit by my jong kind waar hy siek lê en ek weet God is met my – die onmoontlike het moontlik geword.

Gemeente, die gaping tussen God en mens is enorm, onbeskryflik wyd en diep. En hoe kleiner ons daardie gaping maak – dikwels baie onbewustelik in ons denke en optrede – hoe verder word ons van God verwyder. Maar hoe meer ons die omvang besef van die gaping tussen … nee, nie tussen dáárdie een en God nie, maar tussen my en God, hoe nader kom ek aan God. Hoe nader kom Hy aan my. En dan wil Hy by my kom woning maak. Dan is my werk en my speel, my hartseer en my blydskap, my moeites en suksesse vir Hom van die grootste belang. Kom daarom, alle nederiges en verbryseldes, en kom proe dat die Here goed is. Want wie klein is voor sy oog, wil God in eer verhoog. En wie honger is, wil Hy versadig.

Amen

 

Liturgie (oggend)

Votum: sing Ps. 121:1
Seën: Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus.  
Sing Ps. 65:3-5
Kort gebed 
Lees: Jesaja 56:9-57:21
Lukas 1:46-56  
Sing Ps. 125:1, 4, 5 en 7
Teks: Jes. 57:15
Preek
Sing Ps. 144:2, 5 en 6
Lees formulier en die wet
Terwyl die tafel in gereedheid gebring word, sing ons Ps. 23:3
Viering van die nagmaal
o Eerste tafel – Skr. 1:1 en 2
o Tweede tafel – Skr. 1:3 en 4
o Derde tafel – Skr. 1:5 en 6
Voltooi formulier & dankgebed
Kollekte
Slotsang Ps. 122
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)