Die vreugde van die huwelik met die Here!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2009-11-07
Teks: 
Sefánja 3
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

Geliefde gemeente van Jesus Christus, ons Here,

Toe ek vanoggend die formulier vir die aflegging van openbare geloofsbelydenis inpak, wou ek eintlik ook die huweliksformulier saamgevat het. Nie omdat een van julle tans op die punt staan om die knoop deur te haak nie; ons is nie hier bymekaar om die huwelik te bevestig van twee jongmense wat trou aanmekaar belowe nie. Nee, ses jongmense wil vanoggend in die openbaar hulle geloof bely. Maar tog is daar iets in hierdie daad van geloofsbelydenis wat herinner aan ‘n huweliksbevestiging; ons kan sê dat julle vandag, deur julle ja-woord, as’t ware in die huwelik tree met die HERE, julle God! Of anders gestel: julle word vandag in volle regte deel van die bruid van Christus.

Natuurlik het God Homself lankal aan julle verbind – vanaf die begin van julle lewens alreeds, soos wat dit uitgebeeld word in die doop. Vanaf die vroegste begin alreeds het Hy die mooiste beloftes aan julle gemaak en het Hy sy trou aan julle belowe. Maar kom ons wees eerlik, dié verbintenis was op daardie oomblik nog eensydig – dit het volledig van God se kant af gekom (amper soos ‘n jongman wat met volle oortuiging sê: “met daardie meisie gaan ek eendag trou!”, terwyl die meisie hom nog skaars leer ken het). Só het die Here ook gesê: “Met jou, en jou, en jou, en jou, en jou, en jou wil Ek deur die lewe gaan”, ook al het jy op daardie oomblik nog niks van Hom geweet nie.
En vervolgens het die Here begin om elkeen van julle treetjie vir treetjie voor te berei sodat julle eendag sy liefde sou kon beantwoord; via die huisgesinne waarin julle opgegroei het en via die kerklike kategese wat julle bygewoon het, wou Hy hê dat julle op ‘n punt moes kom waarop julle persoonlik ‘ja’ kon sê op sy liefde en op sy beloftes (amper soos daardie jongman wat eers gesê het: “met daardie meisie gaan ek eendag trou”, en wat daarna begin het om treetjie vir treetjie haar hart te wen). Nou, broers en susters, vandag is die dag waarop julle openlik verklaar dat die Here julle harte gewen het! En só kry vandag dan ook die plegtigheid van ‘n soort huweliksbevestiging; meer nog: dit kry die uitbundige vreugde van ‘n huweliksbevestiging. Julle trou vandag met die Here, julle God!

En dit is presies die beeld wat Sefanja ook in ons teks gebruik. Sefanja beskryf hier iets van die vreugde tussen ‘n bruid en ‘n bruidegom op hulle troudag; die vreugde tussen God en sy volk, tussen God en die gelowiges wanneer hulle in die huwelik tree. Enersyds sien ons God se volk, wat hier voorgestel word as ‘n rein bruid: “Jubel, o dogter van Sion, juig, o Israel. Verheug jou en jubel van ganser harte, o dogter van Jerusalem” (vers 14). En andersyds is daar die Here, die bruidegom, wat hier as ‘n held voorgestel word (vers 17). Hierdie kombinasie van bruidegom en held vind ons terug in Psalm 19:6, waar daar spesifiek van die son gesê word: “dié is soos ‘n bruidegom wat uitgaan uit sy slaapkamer; hy is bly soos ‘n held om die pad te loop.” En wat is mooier as wanneer die stralende bruid haar bruidegom ‘my held’ noem?
So sien ons dus hier ‘n soort huweliksluiting tussen die Here en sy volk, een wat vir ons pragtige aanduidings gee vir julle huwelik vandag met die Here. Kom ons luister daarom na ons teks as ek aan julle die Woord van die Here verkondig onder die volgende tema:

Tema: die vreugde van die huwelik met die Here!
1. Die Here is ‘n bruidegom uit een stuk
2. En daarom hoef die bruid nie te vrees nie

1. Volgens hoofstuk 1:1 het die profeet Sefanja opgetree in die dae van Josia, die koning van Juda. Nou weet ons vanuit die geskiedenis wat vir ons in die boeke Konings en Kronieke beskryf word, dat Josia ‘n vroom koning was, een wat gelewe het volgens die wil van die Here. Maar goed, as dit die geval was… hoekom moes Sefanja dan soveel bedreiginge en oordele oor Jerusalem gaan verkondig, waarvan ons onder andere in die eerste deel van hoofstuk 3 gelees het? Wel, gemeente, ons moet natuurlik onthou dat, hoewel Josia in die weë van die Here gewandel het, hy eers op ‘n later stadium van sy een-en-dertigjarige bewind met sy bekende hervormings begin het. Ons kan dus aanneem dat Sefanja in die tyd vóór hierdie hervormings geprofeteer het – ‘n tyd waarin die koning sélf miskien gelewe het soos wat die Here van hom gevra het, maar waarin ‘n groot deel van die volk waarskynlik steeds afgewyk het van die weg van die Here – soos wat ook blyk uit die ingrypende soort hervormings wat Josia deurgevoer het. En dit is in hierdie tyd dat Sefanja die oordeel en straf van die Here oor Jerusalem en Juda, asook oor die omringende nasies, moes gaan verkondig (hoofstuk 1 tot en met hoofstuk 3:8), ‘n oordeel en straf wat uiteindelik in die Babiloniese ballingskap sy vervulling gevind het. En dit bring mee dat daar oor die grootste deel van hierdie kort profetiese boek die donker wolke van dreiging hang…

Maar, gemeente, soos so dikwels in die profete, is daar ook in Sefanja ‘n silwer randjie om hierdie donker wolke, is daar lig aan die einde van die donker tonnel. Want Sefanja het ook ‘n boodskap van heil en troos vir die volk. Vanaf hoofstuk 3:9 vertel die Here naamlik van ‘n tyd – en dan verwys Hy daarmee na die tydperk ná die ballingskap – wanneer Hy die oordele oor sy volk sal ophef en hulle vyande sal wegveeg (vers 15). Dit sal ‘n tydperk van herstel en genesing wees, van terugkeer en bekering; ‘n tydperk waarin daar geen onreg en leuentaal onder die volk sal wees nie, en wanneer die volk die Here weer in waarheid sal aanbid. Nou, dit is in hierdie konteks van herstel dat Sefanja die beeld van die huwelik tussen die volk (die dogter van Jerusalem) én die Here (die held) gebruik. Daar kom ‘n nuwe huwelik tussen die Here en sy volk, daar kom ‘n herstelde verbintenis!

En watter wonderlike man ontvang die volk nie, broers en susters! Die heel eerste wat Sefanja van hierdie man sê (in verse 15 en 17), is dat hy altyd dáár sal wees vir sy bruid. Hy sal by haar wees! Dit is die eerste wat van hierdie man gesê word. En watter kosbare boodskap is dit nie vir mense wat enersyds weet hoe afvallig en ontrou hulle van nature is en daarom nie die teenwoordigheid van die Here verdien nie, maar wat andersyds tog besef dat hulle sonder God nie kan lewe nie. Gaan kyk maar na die geskiedenis van die volk Israel om te sien hoe verskriklik dit vir die volk was as die Here, vanweë hulle eie sondes, nie meer by hulle was nie, nie meer in hulle midde wou woon nie.

• Ons sien dit byvoorbeeld in Exodus 33:3 ná die sonde met die goue kalf waar die Here sê: “…want Ek sal in jou midde nie optrek nie, omdat jy ‘n hardnekkige volk is…” En wat is die reaksie van die volk daarop? “Toe die volk hierdie onheilspellende woord hoor, het hulle getreur; en niemand het sy versiersels aangesit nie.” (Ex. 33:4)
• Ons sien dieselfde in 1 Samuel 4 ná die wegvoering van die verbondsark deur die Filistyne – wanneer dit gebeur, dan noem die sterwende vrou van Pinehas haar pasgebore seuntjie baie bewustelik ‘Ikabod’, want sê sy: “weggevoer is die eer uit Israel” Die ark is weggevoer deur die sonde van die volk, en dit is ‘n teken dat God Homself van sy volk teruggetrek het.
• En ons vind dit ook tydens die ballingskap; hoor hoe kla Jeremia daaroor in Klaagliedere 3: “Al skreeu ek ook en al roep ek om hulp, Hy laat my gebed onverhoord” (v. 8) en “U het Uself in ‘n wolk gehul, sodat daar geen gebed kon deurdring nie.” (v. 44) Dit was verskriklik vir die volk om te moet lewe sonder die teenwoordigheid van God.

En nou hierdie wonderlike boodskap van Sefanja: “Die HERE jou God is by jou!” Ja, sê die Here, Ek is met julle! Hoor u in hierdie Ou Testamentiese profesie alreeds die Immanuel-belofte, gemeente? Immanuel, wat beteken: God met ons! In Jesus Christus, die Immanuel, het God baie naby aan ons gekom, het Hy onder ons ko woon. En deur sy Gees gaan Hy ook nooit weer van ons af weg nie; Hy bly trou in hierdie huwelik! Wat ook al gebeur, deur hoeveel swaar tye hierdie huwelik ook al gaan, watter moeite daar op die pad ook al mag wees, jou God is daar! Jou held sal aan jou die verlossing skenk!

Daarom kan jy vandag ook met soveel vertroue ‘ja’ sê – let wel, nie selfvertroue nie, maar vertroue. Vertroue in God – Hy is by jou, en Hy sal by jou bly vir ewig. God staan persoonlik borg vir hierdie huwelik! En dit is ook wat ons bely in hoofstuk 5 van die Dordtse Leerreëls; in paragraaf 3 van daardie hoofstuk lees ons: “Maar God is getrou. Uit barmhartigheid bevestig Hy hulle in die genade wat eenmaal aan hulle gegee is, terwyl Hy hulle ook tot die einde toe kragtig bewaar.” En dit verkondig ek op hierdie dag van julle huweliksluiting met die Here aan julle: Hy is by julle! Hy bly by julle!

Maar, luister mooi, want dit word nog mooier…
Want God bly nie maar net by sy volk omdat Hy geen ander opsie het nie; dit is nie maar net ‘n kwessie van: “Ek doen dit, want Ek kan nie anders nie”. Dit is vir Hom geen noodgedwonge huwelik waarin Hy Homself berus het nie. Nee, sê Sefanja in vers 17: “Hy verheug Hom oor jou met blydskap; Hy swyg in sy liefde; Hy juig oor jou met gejubel.” Sien jy voor jou geestesoog hierdie wonderlike prentjie van die Here, wat soos ‘n liefdevolle man vol teerheid na sy vrou kyk, en wie se emosies as gevolg van sy liefde heen en weer gejaag word soos golwe van die see? Die een oomblik is Hy vol van uitbundige vreugde, die volgende oomblik kyk Hy in stille verwondering na haar en het Hy geen woorde nie, net om daarna weer uit te bars in sang en gejubel. Kom ons kyk…

In die eerste plek lees ons dus in vers 17 dat God Homself met blydskap oor jou verheug – dit is die realiteit wat die Bybel hier vir ons skets wanneer God na jou kyk. Sy hart word geweldig bly as Hy na jou kyk, en as Hy na sy kerk as geheel kyk; Hy is nie vir een oomblik spyt oor die prys wat Hy in Jesus Christus vir jou en vir ons almal betaal het nie. Hy verheug Homself met groot blydskap oor jou!

Vervolgens lees ons in vers 17 dat God swyg in sy liefde – hier het ons die volmaakte beeld van vergenoegdheid; die man wat in sy vrou se oë kyk en sprakeloos is; geen woorde lyk asof dit sy liefde na reg kan beskryf nie. Broers en susters, kan ons dit verstaan? God wat met volledige vergenoegdheid op sy gesig na jou en my kyk. Ons wat sondig is, gebrekkig is, en wat Hom so dikwels teleurstel – Hy weet dit, ons weet dit. En tog sien Hy in ons die onvoltooide beeld van sy Seun, en dit wek in Hom ‘n onbeskryflike liefde. Ongelooflik, nie waar nie? Die heilige en regverdige God is sprakeloos van liefde wanneer Hy na my en jou kyk. Hy wat deur sy woord die wêreld en alles daarop gemaak het, het skielik geen woorde nie…

En dan lees ons ten slotte nog dat God oor jou juig met gejubel – sien u, die stille vergenoegdheid hou nie lank nie. God kan dit nie langer inhou nie, en Hy bars uit in sang! Kan jy jouself voorstel: God wat sing? Kan jy hoor hoe die stem, wat gesê het: “Laat daar lig wees”, hoe daardie stem deur die hemel weerklink met blye gesang? Want ons is syne! En wanneer ek sy sang hoor, dan staan ek verstom, sprakeloos, omdat Hy oor my sing. Hy sing van vreugde oor my met sy hele hart en met sy hele siel. En dit alles deur Jesus Christus, in Wie Hy by ons kom woon het. Dit is wat dit beteken om in Christus te wees!

Broers en susters, en in besonder julle wat vandag belydenis van geloof aflê, hoe dink jy voel ‘n meisie, wat uiterlik onaantreklik is en nie werklik deel is van ‘die’ groep nie, hoe dink jy voel sy wanneer ‘n aantreklike en gewilde jongman eendag met haar wil uitgaan? Hoe dink jy voel sy wanneer hy uiteindelik met haar trou en haar ook nog van harte liefhet? Wat dink jy doen dit aan so ‘n meisie? Wel, iets soortgelyks vind ons hier: God – die liefdevolle, heilige, regverdige God – wil met my – sondige, opstandinge en ondankbare mens – in ‘n verhouding staan. Langtermyn – ons het immers gelees: “Die HERE jou God is by jou!” En daarby is Hy ook nog onbeskryflik lief vir jou!

Wel, dit is die wonder waarop julle vandag mag ‘ja’ sê. Julle ‘ja’ is nie een van selfvertroue nie, dit is geen ‘ja’ terwyl jy in verwondering na jouself kyk nie. Dit is ‘n ‘ja’ in verwondering teenoor die Here, dit is ‘n dankbare ‘ja’ teenoor Hom: “Here, ek verstaan dit nie, dit is vir my onbegryplik, maar ja, ek wil saam met U verder gaan!” Laat ons nooit vergeet met wie ons in hierdie huwelik staan nie. Herinner jouself voortdurend daaraan Wie jou man is. En dit kan jy slegs doen deur gereeld sy liefdesbrief aan jou, die Bybel, te lees. Hoor daarin sy stem, en sien daarin sy werke. En weet dan: Ek, en ons almal saam as kerk, het voorwaar ‘n Bruidegom uit een stuk.
En daarom, dit is ons tweede gedagte, hoef die bruid nie te vrees nie.

2. Net soos Sefanja tot tweemaal toe verkondig het dat die Here by sy volk is, so verkondig hy ook tot tweemaal toe dat daar geen rede meer is om te vrees nie. En dit is ‘n logiese gevolg, gemeente. Die een vloei uit die ander voort: omdat God in sy liefde by sy volk is, verdwyn gevolglik ook alle rede tot vrees. Of, soos wat ons gelees het in 1 Johannes 4:18: “die volmaakte liefde dryf die vrees buite.” En dan gaan dit hier nie oor óns liefde vir God nie, maar oor Gód se liefde vir ons; ons het, volgens vers 16, die volmaakte liefde wat God tot ons het, leer ken en geglo. Meer nog: ons het God self leer ken, en God is liefde. En wanneer Hy met sy liefde by en in ons kom woon, dan word daarmee alle vrees uitgedryf; dan is daar geen rede meer om bang te wees nie.

Want wat is die probleem met vrees, broers en susters? Wel, vrees verlam ons, vrees verdoof alle ywer, vrees ontneem ons die vermoë om aktief te wees. Wanneer vrees ons oormeester, is ons nie meer in staat om behoorlik in God se diens besig te wees nie. Wanneer vrees oorneem, dan word ons onaktief en kan ons omtrent nie meer ‘n vinger verroer om iets te doen nie. En ons weet almal waarskynlik hoe dit voel: as iets ons baie groot laat skrik, dan is ons kort daarna lam en bewerig. Dan moet ons dikwels eers gaan sit en ‘n bietjie suikerwater drink om weer energie te kry. Dit is wat vrees doen…

Maar God se inwoning by ons het juis tot doel om ons van alle vrees te bevry. Soos wat Sefanja in vers 15 sê: “die koning van Israel, die HERE is by jou, jy sal geen kwaad meer vrees nie. In dié dag sal aan Jerusalem gesê word: Vrees nie, o Sion…” God wil juis die vrees uitdryf; God soek die teenoorgestelde van vrees. Hy wil ons juis deur sy inwoning aktiveer tot wederliefde aan Hom. En dit is dan ook presies wat Johannes in hoofstuk 4 sê: “Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het.” Dus, God se liefde dryf die vrees, wat die mens van nature vir God het, uit en vervang dit met wederliefde. En die liefde tot God wil ook graag uiting vind in liefde tot die naaste – dit is dan ook presies wat Johannes kort daarna sê: wie God liefhet, moet ook sy broeder liefhê (vers 21). Dus, God wil ons met sy teenwoordigheid in ons lewens nie verlam nie, broers en susters, maar ons juis opwek. Hierdie huwelik bring ons nie in nuwe slawebande van vrees nie, maar bring ons eerder tot ware liefde teenoor God en teenoor ons naaste. Dit is wat God wil bereik!

En daarom dat Sefanja, nadat hy verkondig het dat God by sy volk wil woon en watter soort eggenoot die Here is, dat Sefanja die volk vervolgens ook kan oproep: “Laat jou hande nie slap hang nie.” Moenie toelaat dat vrees julle verder verlam nie, want God is met julle in sy liefde. Broeder en susters, die huwelik waarin julle vandag met God begin staan, het presies dít op die oog. Die verhouding met God wil julle juis bring tot ‘n lewe in ware liefde. ‘n Liefde wat nie net hier, in die hart, sit nie. Natuurlik, dit begin in die hart, maar die liefde wat die Here soek, vind ook uiting in dade. Daarom dat Sefanja ook spesifiek kan sê dat die hande nie slap moet hang nie, want die hande verwys na die wérke, na dít wat jy doen, na die dade van liefde wat die Here soek!

Ja, die Here soek sy liefde konkreet terug in ons lewens. Hy wil sien dat jy Hom liefhet deurdat jy besig is met sy Woord. Hy wil sien dat jy Hom liefhet deurdat jy getrou die eredienste bywoon, deurdat jy gewilliglik jou gawes aan Hom skenk, deurdat jy voortdurend in gesprek is met Hom in jou gebede. En dit is een van die vrae waarop julle net hierna ‘ja’ gaan antwoord: “Is dit jou voorneme om deur die genade van God … die verbondsgemeenskap met God te onderhou, Hom van harte lief te hê…?”

En die Here wil verder ook sien dat jy jou broeders en jou susters liefhet – deurdat jy ‘n oog het vir die broeders en susters in die gemeente, deurdat jy hulle help wanneer hulle in nood is, deurdat jy diegene betrek wat op die rand van die gemeente staan. En weereens is dit een van die vrae waarop julle net hierna ‘ja’ gaan antwoord; jy gaan belowe om as ‘n lewende lid van die kerk jou gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander lede en tot uitbouing van die koninkryk van God aan te wend.

Broers en susters, wanneer ons Goddelike eggenoot sy liefde in Christus in ons uitstort, kan dit nooit slapheid tot gevolg hê nie. As ons slap is in ons Bybelstudie, as ons slap is in ons kerkgang, as ons slap is in die beoefening van die gemeenskap met broers en susters, as ons slap is in ons betoning van liefde teenoor die naaste daarbuite, dan het die liefde van God nog nie volmaak in ons geword nie! Onthou wat Jakobus sê: Geloof sonder werke – sonder liefdeswerke! – is ‘n dooie geloof!

Laat ons daarom soek, gemeente… nee, nie in die eerste plek na die werke nie, maar in die eerste plek na die liefde van God in Christus. Laat ons onsself in die eerste plek daarvoor beywer om die liefde van God te leer ken. Leer ken jou eggenoot! Laat dit jou passie wees om God se liefde vir jou te ondersoek, na te speur, in stille verwondering dop te hou – net soos wat ‘n man die liefde van sy vrou, of ‘n vrou die liefde van haar man in stille verwonder dophou en raaksien. En laat daardeur ons hande sterk gemaak word tot ‘n lewe wat gekenmerk word deur daardie einste liefde! Kom ons word daardeur ‘n rein bruid – dogter van Jerusalem, dogter van Sion. Dit is wie ons mag wees!

En ja, ek het toe maar die huweliksformulier by die huis gelos, en slegs die formulier vir die aflegging van geloofsbelydenis saamgevat. Hooplik kan ons vir elkeen van julle nog eendag die huweliksformulier gebruik om julle in die huwelik te bevestig met ‘n christelike man of vrou. Maar vandag bevestig ons eers die mooiste van alle huwelike – julle huwelik met die Here. Julle word vandag in volle regte deel van die bruid van Christus. In die Naam van ons Here Jesus Christus heet ons julle hartlik welkom in die volle gemeenskap met die volk van God, en ons hoop om volgende week saam met julle die maaltyd te vier wat by hierdie huwelik pas, die nagmaal. Geniet daarvan! En mag die Here gee dat ons eendag almal saam met Christus die bruilofsmaal van die Lam sal vier.

Amen

 

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Votum Ps. 121:1
Seëngroet: Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen. Sing Ps. 75:1, 4, 6
Wetslesing
Sing Ps. 4:2 en 3
Gebed
Lees:  Sefanja 3
 1 Johannes 4:16-21
Sing Ps. 45:9, 10, 12, 14, 16
Teks: Sefanja 3:14-17
Preek
Amenlied Ps. 46:1, 3 en 6
Geloofsbelydenis
• Formulier
• Antwoord, met elkeen ‘n teks
• Sing Ps. 134:3 en 4
Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 116:1, 7, 9 en 10
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)