Wat is jóú troos?

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2009-11-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus, Sondag 1
Verwysing: 
HK 1-1
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,
Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe? – dit is die klassieke vraag waarmee die Heidelbergse Kategismus begin. En vir ons klink hierdie vraag deur en deur bekend in die ore. Maar ons moet besef, gemeente, dat hierdie vraag – hoewel vir ons bekend – baie uniek is. In geen ander van die tientalle kategismusse wat in die tyd van die Reformasie ontstaan het, vind ons so ‘n aanvangsvraag nie. Ja, ons dink soms dat die Heidelbergse Kategismus die enigste kategismus was, maar in die 16de eeu het omtrent elke stad, wat na die reformasie oorgegaan het, sy eie kategismus gehad. En van al hierdie kategismusse is die Heidelbergse Kategismus feitlik die enigste wat op hierdie wyse die behandeling van die geloofsleer afskop. En die meeste van ons wat die pad deur die jare van katkisasie gevolg het, ken hierdie vraag – en ten minste ‘n deel van die antwoord – uit ons koppe. Dit is bekende klanke…

Maar, gemeente, verstaan ons nog die volle omvang van wat in hierdie vraag en antwoord geleer word? Want by die vraag “Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe” kan baie maklik ook die teenvraag ontstaan: Maar het ék dan troos nodig? Is troos nie bedoel vir dié wat hartseer en gebroke is nie? Is troos nie bedoel vir die treurendes nie? Neem byvoorbeeld ons jongmense: watter jongmens, wat in die fleur van sy lewe is, wat in die komende weke gaan vakansie hou, en wat sopas ‘n oulike jongmeise of kêrel ontmoet het, het op die oog af behoefte aan troos? Of watter gesin, waarin dit met almal goed gaan en wat finansieel welaf is, wil werklik hoor van troos? Dus, hoe bekend en aangenaam hierdie vraag en antwoord ook al mag klink in die ore van dié wat dit eens op ‘n tyd geleer het, moet ons onsself wel afvra of ons nog werklik verstaan waaroor dit gaan…

Want, broers en susters, die Kategismus spreek hier nie slegs die treurendes aan nie; die Kategismus wil met hierdie vraag nie slegs diegene bereik wat hartseer is nie. Nee, vraag en antwoord 1 is bedoel vir elke gelowige. Aan elke gelowige, maak nie saak wat sy of haar omstandighede is nie, word gevra: Wat is jóú troos? Nie: wat is jou troos vir die dag as jy hartseer is, of vir die dag wanneer gebrokenheid of teenslag jou gaan tref nie, of vir die dag wanneer jy ‘n geliefde aan die dood afstaan nie. Nee, wat is jou troos in lewe en in sterwe. Dus, wat is nou, en elke dag van jou lewe as gelowige – goed of sleg – asook die dag wanneer jy sterwe, jou troos?

Dit wil dus voorkom, gemeente, asof die Kategismus in hierdie vraag en antwoord impliseer dat almal van ons, elke dag van ons lewens, troos nodig het… Ons almal besit skynbaar iets gemeenskapliks wat hartseer veroorsaak, of wat in elk geval veronderstel is om hartseer by ons te veroorsaak. Iets maak dat die Kategismus vir elke gelowige kan vra: wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe? En daardie iets, broers en susters, is die sonde! Die sonde, met al die verskriklike ellende wat daarop gevolg het, in besonder die dood. Met ons sonde het ek en jy die wêreld so stukkend gemaak, dat dit voortdurende ongelukkigheid veroorsaak. Die sonde is die grootste nood waaronder ons in hierdie wêreld gebuk gaan, die sonde bring voortdurende onrus, daaglikse hartseer, sodanig dat die Kategismus in Sondag 9 kan praat van ‘n “jammerdal” waarin ons, vanweë ons sondes, verkeer.

Hierdie realiteit van die sonde en die ellende in die wêreld, en in ons persoonlike lewens, maak van troos ‘n daaglikse noodsaaklikheid. Troos is daarom geen luukse artikel nie, iets vir elke nou en dan nie. Nee, troos is lewensbelangrik, troos is soos stapelvoedsel. Ons kan nie daarsonder nie! Dit is dus nie slegs die treurendes wat troos benodig nie; nee, elke sóndaar het troos nodig. En wie kan nou nog die relevansie van vraag en antwoord 1 vir sy lewe betwyfel…?

En dit is opmerklik om te sien, gemeente, dat die wêreld ook hierdie noodsaak vir troos aanvoel – en met ‘die wêreld’ bedoel ek dan die ongelowige wêreld. Die ongelowiges het ook behoefte aan vertroosting; hulle voel immers ook aan dat dinge in hierdie wêreld nie is soos wat dit moet wees nie. Ja, die ongelowiges se begrip van sonde is dalk baie oppervlakkig, miskien hét hulle nie eens ‘n sondebegrip nie, maar tog voel hulle saam met ons wel die gevólge van die sonde. Hulle voel saam met ons die effek van ongelukke en dood, van rampe en gebroke verhoudings, van seerkry en uitsigloosheid. Dit is nie asof die ongelowiges ongevoelig daarvoor geword het nie. En sélfs wanneer dit in hulle lewens goed gaan, bly daar by ongelowiges altyd ‘n stuk onrus en ontevredenheid. Die ongelowige wêreld het, bewustelik of onbewustelik, dus ook ‘n diep behoefte aan vertroosting…

En soos wat die ongelowige en kortsigtige mens maar is, as die behoefte vir troos daar is, dan voorsien ons in daardie behoefte; as troos nodig is, dan sorg ons daarvoor. En so vind ons dat allerhande soorte trose aangebied word om die mens in sy ellendige toestand te vertroos. Op allerhande maniere word gesoek om aan die mens maar net ‘n bietjie vertroosting en geluk te bied. As jy vorme van vertroosting soek, vaar maar net die wêreld in; die alternatiewe is legio. Geestelike begeleiers, allerhande soorte godsdienstige leiers en oosterse meditasiemeesters staan gereed om vir jou siel die rus te bied waarna jy smag; kundiges op die gebied van selfbeeldontwikkeling en selfverwesenliking skryf artikels en bied seminare aan oor hoe om werklik gelukkig te kan wees; universiteite en ander tersiêre instellings belowe om deur middel van geleerdheid aan jou ‘n blink toekoms te gee; aan die ander kant van die spektrum is daar nog die ligter vorme van vermaak – die flieks, die teaters, die dansklubs, die kroeë en die vakansieoorde, wat almal daarop roem dat hulle jou sal laat ontspan en laat geniet. En as niks anders werk nie, dan is daar altyd nog die getroue Mammom – gaan koop vir jou ‘n nuwe trui of ‘n nuwe rok; of as jy genoeg geld het, gaan koop vir jou ‘n nuwe kar om jou te troos van die moeites en hartseer van die lewe. Ja, om elke hoek en draai is ‘troosters’ besig om mense oor te haal om by húlle vertroosting te kom soek – sommige uit suiwer motiewe, ander eenvoudig om geld te maak.

Maar helaas, gemeente – al hierdie troosters is swak troosters, en die onrus bly… Die Skrif leer dit baie duidelik vir ons wanneer Salomo in die boek Prediker verskeie kere sê dat hy al hierdie vorme van wêreldse vertroosting en bevrediging ondersoek het, maar dat dit alles slegs ‘n gejaag na wind was. En die praktyk bewys dit vir ons – van die rykste en invloedrykste en mees gesiene mense in hierdie wêreld en in die geskiedenis moes teen die einde van hulle lewens erken dat hulle nooit werklik rus gevind het nie, dat hulle nooit werklik gelukkig was nie. Dit is onmoontlik vir die groot hoeveelheid trose en troosters van hierdie wêreld om die onrus en die onbehae in die diepte van die menslike hart weg te neem, omdat dit nie die werklike nood aanspreek nie. En iemand wat dit eerstehands ervaar het, was Augustinus. Voordat hierdie kerkvader tot geloof gekom het, het hy ‘n wilde en uitspattige lewe gelei. Hy het die wêreld van daardie tyd deurgereis, hy het êrens langs die pad ‘n buite-egtelike kind verwek, en hy het by die beste universiteite in die klassieke vakrigtings van daardie tyd gaan studeer. Maar wanneer hy in sy bekende Confessiones – ‘n gelowige terugblik op sy lewe – op daardie deel van sy lewe terugkyk, dan maak hy hierdie merkwaardige uitspraak: die hart blý onrustig, totdat dit rus vind in U!

Totdat dit rus vind in U – gemeente, geen wêreldse troos kan die mens vertroos in sy grootste nood nie. Ons grootste nood, naamlik die sonde, vra immers ook vir die grootste moontlike troos. Die diep en rou wonde van ons lewens vra nie vir die pleisters van hierdie wêreld nie; nee, dit vra vir die diep chirurgiese ingreep van God waardeur genesing moontlik word. Die sonde, wat onrus veroorsaak en ons hartseer maak, vra dus vir ‘n troos wat daarby pas. En dáárom, broers en susters, kan die Kategismus in vraag 1 sê: wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe? Teenoor die talle troospleisters van hierdie wêreld, vra die Kategismus: Wat is die enigste troos wat die onrus hierbinne stil maak?

Goed, nou het ons na die vraag gekyk, maar kom ons kyk vervolgens ook na die antwoord. En die fokus van die antwoord lê vir my in die eerste deel, en daaraan sal ons dan ook die meeste aandag bestee; hierdie eerste deel lui: “Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort. Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos.”

Wanneer ons hierdie antwoord goed op ons laat inwerk, besef ons watter merkwaardige antwoord dit in werklikheid is. Volgens die Kategismus is die enigste troos, wat ek besit, die feit dat ek nie meer aan myself behoort nie, dat ek nie meer van myself is nie, maar dat ek nou van Jesus Christus is. Maar … dit is dan presies die teenoorgestelde van dít waarna die ongelowige wêreld streef. Ongelowiges is immers juis daarop uit om hullesélf te vind, om heer en meester van hulle eie toekoms te wees; ongelowiges troos hulleself deur in alle opsigte selfstandig te wil wees – ons het alreeds gekyk na die verskillende soorte trose wat in hierdie wêreld aangebied word; dit is alles daarop uit om jou tot jou reg te laat kom. Die ongelowige wêreld is vas daarvan oortuig dat dit onderdrukkend is om aan iemand anders te behoort, en dat dit die egte vryheid is om aan jouself te behoort. En hier kom die Kategismus nou met die boodskap dat dit jou enigste troos is om juis nie aan jouself te behoort nie, maar ‘n dienskneg van Christus te wees! Is dit werklik die vertroostende boodskap van die Skrifte? Is dít nou werklik die troos wat jy en ek nodig het?

Gemeente, ons sien iets van die diepte van die antwoord van die Kategismus in die gedeelte wat ons saam gelees het uit Daniël 3. Luister mooi na hierdie spannende verhaal, en beleef iets van die enigste troos in lewe en in sterwe.

Koning Nebukadnesar het ‘n beeld laat bou – sestig el hoog, ses el breed. In vandag se terme beteken dit dat hierdie massiewe beeld omtrent dertig meter hoog en drie meter breed was. Hierdie beeld was ‘n poging van Nebukadnesar om die mag van sy ryk uit te beeld. Die mag van sy ryk? – ag, uiteindelik het dit oor Nebukadnesar se eie mag gegaan, uiteindelik het dit oor homself gegaan! Die beeld is ‘n poging van Nebukadnesar om self alle eer te ontvang! En daarom nooi hy vervolgens ook al die belangrikste manne van sy ryk om hulle tydens die inwydingsfees voor hierdie beeld neer te kniel, ja, om hulle voor hóm neer te kniel. Só probeer Nebukadnesar sy grootheid bewys, só probeer hy wys dat hy die groot man van die Babiloniese ryk is – dit is wat Nebukadnesar aan die gang hou, dit is sy manier om lewensvervulling te vind. Dít is sy troos… ‘n Tipiese soort troos wat ons in vandag se wêreld volop om ons heen kan waarneem.

Net een probleem: Nebukadnesar het waarskynlik self besef dat nie almal hulle voor die beeld sal wil buig nie. Daaraan moes dan iets gedoen word. En daarom volg die dreigement van die brandende vuuroond: elkeen wat nie voor die beeld buig nie, sal in die vuuroond gegooi word. Dit is die swak plek in Nebukadnesar se sisteem; hierdie vuuroond, wat as versekeringspolis teen “onbuigbare” onderdane moes dien, is die dolksteek in Nebukadnesar se poging om gelukkig te wees, om in sy aardse troos rus te kan vind. Maar goed, ten minste help hierdie vuuroond om ‘n 100% ‘buig’-rekord voor die grote Nebukadnesar te kan handhaaf.

Maar dan is daar ook Sadrag, Mesag en Abednego, Daniël se drie vriende. Hulle doen presies wat Nebukadnesar gevrees het; hulle weier om hulleself voor die beeld van die koning neer te buig. Wanneer hulle, as gevolg hiervan, voor die koning moet verskyn en ‘n laaste waarskuwing ontvang om dit wel te doen, spreek hulle die volgende geloofsbelydenis uit: “As onse God wat ons dien, in staat is om ons te verlos, dan sal Hy ons uit die brandende vuuroond en uit u hand, o koning, verlos; maar so nie, laat dit u dan bekend wees, o koning, dat ons u gode nie sal dien nie en die goue beeld wat u opgerig het, nie sal aanbid nie.”

Gemeente, sien u die kontras tussen Nebukadnesar en hierdie drie manne? Aan die een kant die groot koning wat sy lewensvervulling, sy troos, probeer soek in mag en eer en selfverheerliking; aan die ander kant drie manne, wat nie die troos in hulleself soek nie, maar hulleself volledig oorgee aan die God wat hulle dien. Aan die een kant ‘n man wat aan homself wil behoort en dit op verregaande wyse probeer bewerkstellig deurdat ander voor sy beeld moet kniel; aan die ander kant drie manne wat nie meer aan hulleself behoort nie, maar aan God, en wat gevolglik hulle lewens aan Hom kan oorlaat: “As ons God in staat is om ons te verlos, dan sal Hy ons verlos…” En wie vind uiteindelik ware troos…?

Nebukadnesar is woedend oor die antwoord van Daniël se drie vriende. Sonder enige verdere verhoor word die oond sewe maal warmer gemaak as wat eintlik nodig was, en word hierdie drie manne daarin gegooi. Dit was só warm dat selfs die soldate, wat hulle in die vuur moes gooi, doodgebrand het. Maar die drie manne dan? Wat het van hulle geword? Het hulle dan nie doodgebrand nie? Ons ken die verhaal… Die drie manne het intussen vier geword; ‘n godeseun, ‘n engel van God, het hulle in die dodelike vuur vergesel. Die drie manne was dus nie alleen nie. Selfs Nebukadnesar moet ten slotte tot die erkenning kom: “Geloofd sy die God van Sadrag, Mesag en Abednego, wat sy engel gestuur en sy knegte verlos het wat hulle op Hom verlaat het en die bevel van die koning oortree het, en wat hulle liggame oorgegee het om geen ander god te dien of te aanbid nie, behalwe hulle God.”

Broers en susters, Sadrag, Mesag en Abednego het iets verstaan van Sondag 1 van die Kategismus, naamlik die troos dat hulle nie meer aan hulleself behoort nie. Daarom was dit vir hulle ook nie meer nodig om hulleself te wil handhaaf nie. Hulle het hulle troos in lewe, maar ook in die dodelike vuuroond, nie in hulleself gesoek nie, maar in die reddende en verlossende God! Hulle het hulle lewens en hulle liggame aan hierdie God oorgegee, omdat hulle geweet het dat Hy aan húlle die lewe sou gee! En Hy het! Die vuur het geen mag oor hulle liggame gehad nie, dit het die hare van hulle hoof nie geskroei nie, hulle mantels het geen verandering ondergaan nie, en selfs die reuk van die vuur was nie aan hulle liggame te bespeur nie. In die woorde van koning Nebukadnesar: daar is geen ander god wat so kan verlos nie! Gemeente, hier blyk eerstehands dat dit werklik die moeite werd is om jouself as dienskneg aan Hom prys te gee!

En, broers en susters, dít is dan ook die geheim van die enigste troos, naamlik om jouself volledig oor te kan gee. Jouself volledig oor te gee, omdat jy weet dat daar in jouself geen redding is vir jou grootste nood nie. Die oplossing vir die sonde is nie in jóú nie; die enigste vertroosting vir die sonde is nie in jou en my nie. Gee jouself daarom oor aan Hom wat wel die enigste troos kan bied! Verloën jouself, gee jouself prys, en wees gewilliglik God se onderdaan, soos wat Sadrag, Mesag en Abednego dit gedoen het! In die aangesig van die vuurdood was hulle nie bang vir die dood nie, maar het hulle geglo in die God van hulle lewe. Hulle was verseker dat hierdie Meester mooi na sy eiendom sou kyk. In daardie vertroue mag ook ons onsself oorgee, onsself laat gaan…

En dit is verskriklik moeilik in ‘n wêreld waar selfhandhawing aan die orde van die dag is, waar dit so belangrik is om ‘iemand’ te wees. En ons sien dit voortdurend om ons heen – ons sien dit by die klein kind wat voortdurend wil kompeteer, ons sien dit by die student wat daarvoor ywer om eerste in sy klas te wees, ons sien dit by die ma wat wil wys dat alles in haar huis agtermekaar is. Dit is die siekte van die selfhandhawing waarin elkeen van ons so dikwels maar weer ingesleep word. En as jy môre of oormôre weereens dreig om in hierdie ingesleep te word, stel vir jouself die volgende vraag: wil ek ‘n slaaf van die satan wees, of wil ek ‘n dienskneg van Jesus Christus wees. Wie is my meester – dít is die vraag!

Wie homself probeer verhoog en homself probeer handhaaf, en wie sy eie troos in hierdie wêreld probeer uitwerk, daardie persoon het die satan as meester – dít is immers die werkwyse van die satan van die begin af. Maar wie deur die bloed van Jesus Christus vrygekoop word uit die heerskappy van die satan, soek nie meer homself nie, hy hoef ook nie meer homself te soek nie. Daardie persoon vergeet van homself, en dit is vir hom heerlik. Hy fokus slegs op sy Heer, en dit is vir hom nog heerliker.

Gemeente, dit is die enigste troos in lewe en in sterwe, teenoor die legio trose van ons verbruikersamelewing. Slegs daar kom die mens tot rus. Nie meer rondhardloop nie, nie meer myself bewys nie, nie meer die beste wil wees nie, nie meer myself handhaaf omdat daar niks anders is om te doen nie. Nee, ek behoort nou aan Jesus, niks wat my ooit van Hom sal skei. Deur sy kosbare bloed het Hy my vrygekoop, Hy’s my anker, my vaste hoop!

Nou ja, in die res van antwoord 1, sien ons dan die uitwerking van hierdie nuwe eienaarskap in die praktyk van die gelowiges se lewens. Dus, wat werk dit uit om nou Christus as Heer en Meester te mag hê… In die eerste plek, “Hy bewaar my op so ‘n wyse dat, sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie. Alles moet inderdaad tot my saligheid dien.” Hierdie nuwe eienaar kyk dus mooi na sy kosbare besittings; Hy sorg vir ons. En wanneer Hy wel toelaat dat iets met ons gebeur, dan is dit nie tot ons ondergang nie, maar tot ons saligheid. Christus se liefde vir ons maak dat Hy nooit iets met ons doen of laat gebeur waardeur ons sieleheil skade ly nie. Soos wat ons in Romeine 8 gelees het: “Wie sal ons skei van die liefde van Christus – verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard?” In ‘n wêreld waarin here en meesters net daarop uit is om hulle besittings, hulle diensknegte, uit te buit, hulle vir eie gewin te misbruik, het ons Heer óns welstand op die oog. Hy soek die beste vir ons; deur Hom wat ons liefgehad het, is ons voorwaar meer as oorwinnaars!

Vervolgens die tweede praktiese uitwerking: “Hy maak my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe.” Gemeente, ons Meester is dus nie ‘n Nebukadnesar wat sy onderdane met die dreiging van geweld moet dwing om voor hulle te buig nie. Nee, hierdie Meester bewerk die verandering van die hárte van sy diensknegte, sodat hulle vrywillig hulle lewens aan Hom gee. En dit kom na vore in die manier waarop ons daagliks in gehoorsaamheid volgens sy wette lewe.

En dan nog die laaste praktiese uitwerking: “Hy verseker my deur sy Heilige Gees van die ewige lewe.” Gemeente, hoe dan ander? Ons troos is immers ‘n troos in lewe én in sterwe, ‘n troos vir liggaam én siel.

Broers en susters, die sonde en die gevolge van die sonde laat diep spore in ons lewens agter – die seer van die dood, die moeites wat met siekte gepaardgaan, die hartseer van gebroke verhoudings en eensaamheid, die wroeging oor ongelukke en foute. Dit is werklik ellendig. Maar God kom deurbreek die ellende met die enigste troos, Jesus Christus. Mag Hy ons hele lewe – elke aspek, elke dag – beheers! Mag Hy ons lewens oorneem, sodat – soos wat Paulus sê in Filippense 1 – die lewe vir ons Christus sal wees en die sterwe wins!

Amen

 

Liturgie (aand)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 48:4 en 5
Gebed
Lees: Daniël 3:14-30
 Romeine 8:31-39
Sing Ps. 138:1, 3 en 4
Teks: HK, Sondag 1
Preek
Amenlied Ps. 71:1, 9, 12 en 14
Gebed
Belydenis van geloof (staande en singende)
Kollekte
Slotsang Skr. 22:1, 2 en 9
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)