In die sesde bede vra regverdiges vir die heiliging van hulle lewens!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2009-10-25
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 52
Verwysing: 
HK 52-2
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Dit is pragtig om te sien hoe volmaak die Here Jesus die stukkies van die Onse Vader-legkaart inmekaargepas het. Elke stukkie, elke bede is op sy regte plek; elke woord word op die regte tyd gespreek. En ons sien dit baie duidelik wanneer ons vandag die sesde bede gaan behandel, en daarby die verband raaksien met die vyfde bede.

Eers was daar die vyfde bede: vergewe ons ons skulde. Hierdie bede veronderstel iets van ons posisie voor God, ons regsposisie: hoe staan ek voor my hemelse regter? Hoe kyk Hy na my? Dit gaan hier oor ons regverdigverklaring voor God, juis sodat ons kan bid: “Vader, ook al dwaal ons daagliks van U af weg, ook al sondig ons daagliks teen U en ons naaste, vergewe asseblief ons skulde en bevestig daarmee ons posisie voor U, onderstreep elke dag ons name wat in u boek geskrywe staan, sê elke dag ‘amen’ vir Uself wat betref ons posisie as u kinders, wat – deur Jesus Christus – reg het op die ewige lewe!”

En dan volg dáárop die sesde bede: lei ons nie in versoeking nie. Waar dit in die vyfde bede oor ons posisie voor God gaan – danksy God se genadige uitspraak van vergifnis – gaan dit in die sesde bede oor ons huidige lewenswandel, hoe ek in werklikheid van binne en van buite lyk. Ja, gemeente, in die sesde bede gaan dit oor ons heiligmaking: “Vader, noudat ek vandag (net soos gister én môre) in u boek geskrywe staan as regverdig, nou kom ek op grond van daardie posisie om vir u te vra vir ‘n lewe wat by daardie posisie pas! Ek ís regverdig, ek ís uitverkies tot heiligheid; nóú, Vader, laat my dan ook heilig wéés! Laat my wees wat ek is – ek is regverdig, laat my dan nou ook soos ‘n regverdige in alle heiligheid léwe!”

Broers en susters, ek is uit pure genade deur God geplaas in ‘n posisie van regverdigheid, en nou bid ek dat my hele lewe – elke woord en elke daad en elke gedagte – ook daarby sal pas. Ek het God lief, en daarom bid ek: “Vader, omdat U God is en elkeen van my woorde en dade en gedagtes op U gerig moet wees, daarom wil ek alles verwyder wat nie by U en by my posisie as regverdige pas nie. Maar ek kan dit nie sonder U doen nie – kom U daarom om die sonde uit my lewe weg te sny en om my voete te plaas op die weg van heiligheid.”
Dus, gemeente, eers die regverdigmaking: vergewe ons ons skulde. En vervolgens die heiligmaking: lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose! En dit bring ons dan ook by die boodskap vir vandag se preek…

Tema: In die sesde bede vra regverdiges vir die heiliging van hulle lewens! Hierdie bede…
1. word gebore uit ons besef van swakheid
2. word gedryf deur ons verlange na die Gees
3. word gedra deur ons lofsang tot God

1. Gemeente, daar is ‘n Versoeker in hierdie wêreld, ‘n Verleier! Met hierdie aanduiding in 1 Thessalonicense 3:5 verwys Paulus na die satan. Die satan is die verleiding in eie persoon! Om te verlei is eie aan hom, dit is wat hom kenmerk, dit is wat hy doen! Hy het selfs probeer om die Here Jesus in die woestyn te verlei – lees Mattheus 4:3, waar die satan weereens ‘die versoeker’ genoem word. En jy kan maar weet dat, as hy dit met die Here Jesus probeer het, dan gaan hy dit met jou ook probeer. Ja, broers en susters, die satan is iemand wat gelowiges tot ‘n val wil bring deur versoekings en verleidings. En in sy werk van versoeking en verleiding gebruik hy enersyds die wêreld, en andersyds die swakheid van ons eie sondige natuur. Dít is die drie doodsvyande waarvan Sondag 52 van die Kategismus praat – die satan, die wêreld en ons eie sondige natuur; dié drie werk saam om gelowiges van die Here af te trek, om hulle van die lewe weg te trek na die dood.

Doodsvyand nommer 1 is dus die satan – hy is die eintlike een teen wie ons stryd is. Onthou wat ons gelees het in Efesiërs 6:12: Ons worstelstryd is immers nie teen vlees en bloed nie. Nee, ons groot stryd is teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug! Menslike ongehoorsaamheid word veroorsaak deur duiwelse ongehoorsaamheid, gemeente. Ook in die wêreld van die 21ste eeu is dit nie vlees en bloed teen wie ons stry nie. Dit is nie mense wat ons groot vyande is; die groot gevaar wat ons, as gelowiges, in die gesig staar, is nie die regering of die televisie of die internet of selfs die grootste ongelowige nie. Nee, ons groot stryd is teen die bose magte in die lug, wat hulleself agter die wolke verskuil en soek wie hulle kan aanval. Húlle is die aanhitsers van dít wat onder mense as sondig en vyandig te voorskyn kom.

Doodsvyand nommer 2 is die wêreld – dit is die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe, waarvan Johannes praat in 1 Johannes 2:16. Die duiwel gebruik hierdie wêreldse verleidelikhede om ons tot sonde te bring. En hy weet waar  elkeen van ons se swakpunt lê – hy ken jóú liefde vir geld, hy ken háár skindertong, hy weet van sý seksuele begeertes. En hy speel daarop in!

En dan doodsvyand nommer 3, my eie sondige natuur – ja, gemeente, dít is amper die gevaarlikste vyand. Want dit help nie om maar net ‘n laer rondom my eie lewe te trek nie; die vyand sit hierbinne. Ek het ‘n verraaier in eie geledere. Ek verlustig my wel in die wet van God na die innerlike mens, soos wat Paulus sê in Romeine 7, maar ek sien ‘n ander wet in my lede wat stryd voer teen die wet van my gemoed en my gevange neem onder die wet van die sonde wat in my lede is. Met die gevolg dat ek die goeie, wat ek wil doen, tog nie doen nie; terwyl ek die kwaad wat ek nie wil nie, wel doen.

Nou, gemeente, dít is die dodelike trio – doodsvyand nommer 1, 2 en 3 – wat hulle pyle van verleiding op ons rig. En stel jouself nou die vraag, broer en suster: is ek self in staat om weerstand te bied? Is ek self in staat om die geloof te behou? Is ek sterk genoeg om die verleiding te weerstaan van lus, gierigheid, jaloesie, woede, skinderpraatjies, of watter ander spesifieke verleiding my lewe ook al mag teister? Nee, ek is nie! Ons is nie opgewasse teen hulle nie; dit is vir ons, vanuit onsself, onmoontlik om nie te sondig wanneer hierdie drie doodsvyande hulle pyle op ons rig nie! Moenie daaroor enige illusie by jouself hê nie. Jy en ek ís nie sterk genoeg nie!

En juis daarom word ons gedryf om die sesde bede te bid, daarom moet ons die sesde bede bid – omdat ons ons eie swakheid ken. En onthou: ons bid hierdie bede nie as heidene nie; nee, ons bid dit as gelowiges. Want selfs as wedergebore Christene moet ek erken dat ek sal val tensy God my staande hou. Hy is die wynstok en ons die lote – as ons in Hom bly, sal ons vrug dra, maar los van Hom kan ons niks doen nie (Joh. 15:5). God moet met die volheid van sy krag in my werk, of anders sal ek misluk. Hy moet voortdurend aan my sy genade skenk, of anders sal ek val – indien nie vandag nie, dan wel môre. Ek bid daarom die sesde bede omdat ek volledig van God afhanklik is. Jy en ek is slegs sterk wanneer ons ons totale swakheid en onvermoë leer ken! Dit is hierdie besef van swakheid wat agter die sesde bede lê. “Waak en bid, sê Jesus, dat julle nie in versoeking kom nie.” Hoekom moet ons dit doen, Jesus? Want “die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.” Hierdie besef van swakheid dryf my op my knieë, om te bid: “Lei my nie in versoeking nie, maar verlos my van die bose!” Moet daarom nie jouself oorskat nie, moenie dink dat jy sterk genoeg is om sekere situasies van verleiding te hanteer nie. Erken eerder jou swakheid, en gaan soek jou krag in die Here soos wat ons sing in Psalm 28: “Ek roep U aan, o HERE, hoor! Verleen my bystand, neig u oor. O, hoor as ek, my stem al week, om hulp U aanroep in gesmeek.” Hoor u die afhanklikheid? Moet daarom nie ‘n held probeer wees nie, God se geheiligdes is nooit helde nie! Die heiliges is diegene wat sê: My hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het! Dít is waar die heiliging van ons lewens begin… op ons knieë, omdat ek nie self heilig kan word nie!

In die tweede plek word die sesde bede gedryf deur ons verlange na die Gees.

2. Ons bid dus, in besef van ons swakheid, vir die krag van God. Dit is die enigste manier waarop ons staande kan bly teen die aanvalle van die bose, en vordering kan maak in die heiligheid wat God van ons vra. Nou is dit opmerklik, gemeente, dat die Kategismus hierdie krag van God baie spesifiek interpreteer as die krag van die Heilige Gees; ons lees in antwoord 127: “Wil U ons tog deur die krag van u Heilige Gees staande hou en versterk sodat ons teen hulle sterk teenstand kan bied en in hierdie geestelike stryd nie beswyk nie…” Deur die krag van u Heilige Gees – en onthou dan, broers en susters, dat die Gees altyd die Gees is van Jesus Chrístus wat in ons woon, soos wat ons in die afgelope reeks preke gehoor het. Die Gees is nooit los van Christus verkrygbaar nie; Hy kom doen ook nie sy eie ding nie, Hy kom werk nie op individualistiese wyse hier in ons nie! Nee, sê Jesus self in Johannes 16:14: “Hy sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig.” Die Heilige Gees se krag lê dus daarin dat Hy Chrístus se werk in ons lewens kom toepas! En wat is hierdie werk van Christus presies?

Wel, Paulus verwoord hierdie werk van Christus baie treffend in 1 Korinthiërs 1:30, waar hy sê: “Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing.” Sien u dit? Christus het nie slegs vir ons sondes gesterf nie, Hy het nie slegs ons geregtigheid en ons verlossing voor God verdien nie. Nee, Hy het ook ons heiligmaking verdien; vir jou en my heiligmaking is daar reeds ten volle betaal! Op die kwitansie van ons volmaakte heiligheid staan daar in groot letters: BETAAL! Die lewe met God is daarom nooit ‘n vyftig-vyftig vennootskap, waarin God eers sý deel en ons vervolgens ons deel doen nie. Nee, die lewe met God is vir 100% die werk van Jesus Christus, óók ons heiligmaking!

En dít, broers en susters, is nou presies wat die Gees in ons lewens kom toepas: Hy kom maak ons heilig met die heiligheid van Christus. En daarom ook dat Paulus in Romeine 1:4 die Heilige Gees “die Gees van heiligheid” kan noem – of dalk beter vertaal: “die Gees van heiligmaking”. Die Gees werk in ons die heiligheid wat Christus deur sy werk verdien het; die Gees gee aan ons die krag wat ons nie in onsself het nie. Hy help ons om staande te bly wanneer die drie doodsvyande saamspan om ons onder te kry, Hy help ons om die sonde radikaal uit ons lewens te verban en om die goeie daarin sy regmatige plek te gee. Die heiligmaking is dus nooit ons werk nie; dit is nie óns deel van die vennootskap, soos wat ons so dikwels dink nie. Heiligmaking is goddelike werk! Dit is voluit die werk van Christus wat Hy deur sy Gees in ons tot stand bring. Juis omdat óns nie staande kan bly nie, daarom het ons hierdie ‘Geestelike’ hulp van buite so bitterhard nodig!

En daarom, broers en susters, is heiligmaking nie in die eerste plek ‘n saak van aksie en dade nie; dit is nie ‘n saak van “aan die werk spring en doen” nie. Nee, heiligmaking is heel eerste ‘n saak van hande vou en bid, bid vir die Gees van heiligmaking. Want onthou wat Sondag 45 ons geleer het: “God wil sy genade en Heilige Gees alleen aan hulle gee wat Hom met hartlike versugtinge sonder ophou daarom bid en daarvoor dank.” Die Gees wat ons heilig maak, is dus volop, Hy’s beskikbaar, maar slegs vir diegene wat op hulle knieë gaan en bid. Bid daarom, gemeente, vra vir die Gees van heiligmaking om jou hart en lewe in beslag te neem; bid dat Hy jou sal lei, sodat jy nie in versoeking kom nie maar verlos mag word van die Bose. Bid dat Hy jou mag lei om nie na daardie verkeerde televisieprogram te kyk nie, om nie daardie lelike woord te gebruik nie, om nie jou tong te misbruik om ander seer te maak nie. Bid vir die Heilige Gees om jou die insig te gee, sodat jy in staat mag wees om alle dinge te beproef en die goeie te behou, soos wat Paulus in 1 Thessalonicense 5:21 en 22 sê.

Ja, “beproef alle dinge, en behou die goeie”, dit is bekende woorde in ons ore. Paulus dra hier die Thessalonicense op om alles te toets waarmee hulle in hierdie wêreld gekonfronteer word; hy roep hulle op om te beproef wat goed is en wat verkeerd is. En nee, dan bedoel hy dit nie soos wat ons hierdie teks gemaklikheidshalwe dikwels verstaan nie: dit is geen proef-ondervindelike toetsing nie. Dit is geen toetsing wat sê: “Gaan doen dit maar, en dan besluit jy vervolgens self of dit goed of kwaad is nie” (gaan maar bioskoop toe en dan besluit jy daarna of ‘n christen daardie film kan kyk of nie; gaan maar kroeg toe en kyk hoeveel drank jy kan vat voordat jy dronk word). Nee, gemeente, vir hierdie toetsing word duidelike kriteria en riglyne aan ons gegee, naamlik die Gees en die profesieë (let maar op verse 19 en 20). Die Heilige Gees en die Woord moet ons dus lei om te onderskei wat reg en wat verkeerd is, wat goed en wat kwaad is. Die Heilige Gees en die Woord moet ons lei om te doen wat goed is en om weg te vlug van wat kwaad is. Beproef alle dinge, behou die goeie – dit is ‘n geestelike saak, dit is ‘n gebedsaak vir die heiliging van ons lewens, dit is iets wat jy doen vóórdat jy tot dade oorgaan. Bid vir daardie Gees om jou te lei in die spore van geregtigheid, en om jou weg te lei van alle versoeking van die Bose.

En, gemeente, die keersy van hierdie gebed is dat ons nie die Gees sal uitblus nie, soos wat Paulus in 1 Thessalonicense 5:19 sê. Die Gees is die goddelike vuur in ons lewens, Hy is die lig wat ons weghou van die duisternis. Maar dit kan so maklik gebeur dat ons, vanweë ons ongehoorsame optrede of sondige begeertes en dade, hierdie Gees bedroef of teenstaan. Op so ‘n manier verloor ons die riglyn wat ons nodig het om tussen goed en kwaad te kan onderskei en berokken ons skade aan ons geestelike lewens. Gelukkig dat God sy Gees nooit heeltemal van sy kinders wegneem nie, en gelukkig dat Hy sy kinders ook nie toelaat om die sogenaamde sonde teen die Heilige Gees te begaan nie (ons bely beide in hoofstuk 5 van die Dordtse Leerreëls). Dit is God se groot genade! Maar, let wel, dit is intussen geen vrybrief vir ons om maar die Gees onder ons vuil voete te vertrap nie. Nee, kom ons gee aan die Gees alle ruimte in ons lewens, laat ons bly bid vir die vervulling van die Gees om ons staande te hou en om ons te laat voortgaan op die weg van heiligmaking.

Ten slotte: die sesde bede word gedra deur ons lofsang tot God.

3. Gemeente, heiligmaking is dus heel eerste ‘n gebedsaak. Ons vra dat God ons deur die Gees van Christus heilig sal maak. Of, om dit hande en voete te gee: ek bid dat Hy my sal verlos van daardie aaklige sonde in my lewe, ek bid dat Hy my sal help om ontslae te raak van daardie swak gewoonte, ek bid dat Hy my sal help om daardie vuil optrede te laat staan. Ek bid verder dat Hy sal keer dat ek my in ‘n posisie van verleiding sal begewe, ek bid dat Hy my sal verhoed om daardie woorde uit te spreek wat in my mond gereed lê om uitgespreek te word. Ek smeek dat Hy hierdie of daardie persoon van my af sal weghou, of my van hierdie of daardie produk of plek af sal weghou. En uiteraard verskil dit van persoon tot persoon. Jou swakheid en verleiding is anders as myne. Jy weet waarvoor jy bid… Jy weet wat jy voor die Here neerlê…
Ja, gemeente, dit is dikwels harte vol van sonde en berou, harte oorlaai met vrees vir hierdie of daardie verleiding, harte wat weet dat ons self nooit kan staande bly nie. Ons bid dikwels vir verleidings waarvan niemand anders weet nie, sondes wat ons selfs nie vir ‘n sielsgenoot sal vertel nie. By die Here kom ons dikwels met die hele sak patats vorendag, en ons lê dit alles voor Hom neer. Ons maak ons harte leeg voor Hom – dáár lê dit in ‘n hoop voor sy troon…

Maar gemeente, wat maak dat ons dit kan doen? Wat maak dat ons juis by die Vader in die hemel hierdie hele berg met vrae en moeites en verleidings en sondes kan neerlê? Watter gronde het ons daarvoor? Watter pleitgrond het ons om ons gebede voor die Here uit te spreek? Watter reg het ons om dit te doen?

Nou, dit is hier, broers en susters, waar blyk dat die afsluiting van ons gebed so ‘n onmisbare deel daarvan is. Die afsluiting van die Onse Vader kan nie van die bede om heiligmaking geskei word nie, want dit verskaf juis die pleitgrond, dit verskaf die rede waarom ons tot die Vader kan bid. Lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose – ek kan dit van die Vader vra, want aan Hóm, en aan niemand anders nie, behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid, tot in ewigheid! Ons kán die sesde bede bid, want aan Hom behoort die koninkryk – dus, as Koning soek Hy die beste vir sy onderdane, Hy wil ons verhoor! Ons kán die sesde bede bid, want aan Hom behoort die krag – dus, behalwe dat Hy ons wil verhoor, kan Hy ons ook verhoor! En ons kán die sesde bede bid, want aan Hom behoort die heerlikheid, sodat wanneer ons bede tot sy eer en heerlikheid strek, Hy ons ook sal verhoor!

Ons kan daarom nie die afsluiting weglaat nie, want dit verskaf die enigste rede hoekom ek my heiligmaking as ‘n saak van God voor sy troon kan neerlê! Wanneer ons daarom tot die Vader bid – “lei ons nie in versoeking nie” – dan doen ons presies dít waarvan die Hebreërskrywer praat in hoofstuk 6:19 – ons werp ons geloofsanker tot binnekant die voorhangsel. U ken mos die beeld, ook die kinders weet hoe dit werk. Die kaptein van die skip gooi mos die anker tot op die bodem van die rivier of die see. Daar, op die bodem, moet dit vasslaan en bly lê. Maar die anker dien slegs sy doel wanneer die bodem vas en betroubaar is. As die bodem onbetroubaar is, as die bodem geneig is om te verskuif of in te sak, dan sal geen kaptein sy anker op daardie plek uitgooi nie.

Nou gemeente, so is ons ook in hierdie wêreld. Daar is in hierdie wêreld geen vaste grond waarop ek kan bou nie; die wêreld met sy verleidings is geen vaste bodem nie. In hierdie wêreld kan ek dus nie ‘n kaptein wees wat my anker ondertoe uitgooi nie, want daar is geen bodem nie, of die bodem wat daar is, is onbetroubaar. Hier op aarde is geen vaste grond nie; ja, ons dink miskien soms so, maar telkens word ons weer teleurgestel deur dit wat ons as so vas en sterk en betroubaar beskou het. Nee, daar is slegs een manier om tog die anker in die bodem te kry, en dit is deur die anker boontoe te gooi. Dit klink na ‘n belaglike beeld, maar so praat die bybel daaroor. Die enigste bodem wat veilig en vas is, is in die hemel agter die voorhangsel, want daar regeer die God aan Wie die koninkryk en die krag en die heerlikheid behoort. 

En só kry die heiligmaking van my lewe ‘n sekerheid wat nie in my geleë is nie, en ‘n voltooiing waarvoor God borgstaan! En daarom dat Paulus in 1 Thessalonicense 5:23 kan bid: “… mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus!” Paulus bid hier dat die proses van heiligmaking in die lewens van die Thessalonicense sal voortgaan, dat dit nie êrens sal stagneer nie. Hy bid vir ‘n gestadigde vooruitgang in heiligmaking tot op die dag van die wederkoms. En weereens sien ons dat dit nie ‘n werk van die gelowiges is nie, maar van God, want (vers 24): “Hy wat julle roep, is getrou; Hy sal dit ook doen.” God sal die gelowiges heilig maak en Hy sal hulle bewaar tot die wederkoms van Christus. God laat die werke wat sy hande begin het, nooit vaar nie! Sy Gees hou ons staande totdat ons eindelik die oorwinning ten volle behaal. Dan sal ons volmaak heilig wees, soos wat God heilig is.

Ek weet, tans sien ons dit nog nie altyd nie. Ons sien maar dikwels die baie sondes; ons sien en voel dikwels Paulus se bekende “ek, ellendige mens”. Maar wees gerus, gemeente, God is besig. Die resultaat is seker. Hoe mooi gaan dit nie wees nie, wanneer ons mekaar eendag weer sal sien in wit klere – skoon, rein, heilig. Dan is die foute en gebreke, wat ons vandag maar alte maklik by onsself en mekaar raaksien, weg. Skoonveld. Geen Bose meer nie, geen wêreldse versoeking en verleiding meer nie, geen swak natuur meer nie – die drie doodsvyande is dood! God het sy werk van heiligmaking klaargemaak.

Daarom, broers en susters, heiligmaking is van begin tot einde ‘n gebedsaak!

Amen

 

Liturgie (aand)

Groet en afkondigings
Votum Ps. 121:1
Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
In antwoord op seëngroet: ek lees Geloofsbelydenis
Sing Ps. 63:1, 3 en 6
Gebed
Lees: Efesiërs 6:10-20
 1 Thessalonicense 5:16-24
Sing Ps. 34:2, 4 en 5
Kollekte (geen sang daarna)
Teks: HK, Sondag 52
Preek
Amenlied Ps. 28:2, 6-8
Gebed, en direk in aansluiting daarop die slotsang (ek sal my gebed afsluit met iets soos: “in die gebed wat die Here Jesus ons self geleer het…”, en dan begin die orrel/klavier dadelik speel)
Slotsang Onse Vader, Skr. 28b
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)