Die Gees van die waarheid word opgeroep om ons te help!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2009-10-11
Teks: 
Johannes 14:16-17
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Ons het ‘n ver pad gekom sedert ons enkele maande gelede begin het met ‘n reeks oor hoe ons God kan ken. Ons het gesien dat God Homself aan ons openbaar. Maar die vraag het hom toe aan ons opgedring: hoe gebeur dit presies? Hoe openbaar God Homself aan ons? Wel, ek het probeer om die pad wat ons gevolg het om hierdie vraag te beantwoord, baie eenvoudig – met die gevaar van oorvereenvoudiging – uiteen te sit op die bladsy wat u vanoggend ontvang het. Daarop sien u dat God, die Vader, Homself aan ons openbaar deur sy Seun, Jesus Christus. Jesus Christus is vervolgens vir ons kenbaar in die Woord; meer nog: Hy is self die Woord. Daardie Woord kom na ons toe om – in die lig van Jesus Christus – deur ons gehoor en gelees en bestudeer te word. En op dié manier leer ken ons die Seun en die Vader en kan ons met hulle in ‘n lewende verhouding staan.

Maar, gemeente, die gevaar bestaan dat hierdie uiteensetting vir ons ‘n skema word, ‘n skema van gebruiksaanwysings wat ons getrou navolg, en dan… ja, dan is die resultaat mos gewaarborg, of hoe? En om dít te voorkom, om te voorkom dat hierdie uiteensetting ‘n kliniese skema word, is daar nog een laaste en onmisbare element waaraan ons aandag moet gee, en dit is: die Heilige Gees. Sonder die Heilige Gees, sonder die betrokkenheid van hierdie laaste Persoon in die Drie-eenheid, kan ons die Bybel bestudeer soos wat ons wil, maar sal ons nooit in ‘n lewende verhouding met die Vader en die Seun kom nie. Dit is die Gees wat aan ons verhouding met God ‘n dimensie gee wat bo die normale uitstyg; ons verhouding met God is bo-natuurlik!

Nou, broers en susters, sekerlik een van die mooiste gedeeltes om die rol van die Heilige Gees te belig in hierdie hele proses om God te leer ken, is die sogenaamde afskeidsrede van die Here Jesus in Johannes 14-16. Tot drie maal toe in hierdie hoofstukke – en nêrens anders nie! – word die Heilige Gees aan ons voorgestel as die Parakleet. In ons vertaling word dit met “Trooster” vertaal, maar letterlik verwys die Griekse woord ‘Parakleet’ na iemand wat opgeroep word om iemand anders, wat hulp nodig het, met raad en daad by te staan. Ná die vertrek van die Here Jesus word die Heilige Gees, die hemelse Parakleet, dus opgeroep om God se kinders hier op aarde by te staan. Hy is die onmisbare Helper wat ons nodig het om ons, deur middel van die Skrif, te laat groei in ons kennis van die Here Jesus, en om ons sodoende al hoe nader aan die Vader te bring. As ons daarom praat oor ons kennis van God, gemeente, dan kan ons die Heilige Gees nooit ignoreer nie. Hy is as’t ware die sluitsteen van die openbaring van die Drie-enige God aan die mens. En daarom maak ons Hom vandag ook die sluitsteen van hierdie reeks oor ons kennis van God. 

 Tema: Die Gees van die waarheid word opgeroep om ons te help!
1. Hy lei ons in die waarheid
2. Hy bring ons in gemeenskap

1. Jesus se vertrek na die hemel skep tydelik afstand tussen Homself en sy volgelinge hier op aarde. Hy gaan immers na die hemel, hulle bly op die aarde. En tóg laat Hy hulle nie alleen nie. Want, sê Hy, Hy sal die Vader bid om vir hulle ‘n ander – ‘n tweede – Helper in sy plek te gee. Hyself was die eerste Helper, maar daar kom ‘n ander Helper – die Heilige Gees. En hierdie tweede hemelse Helper sal te alle tye – dus, in die hele periode tussen die hemelvaart en die wederkoms – ekstra ondersteuning kom bied. By Jesus se vertrek bly sy leerlinge nie alleen agter nie.

Ons sien dus ‘n dubbele beweging, gemeente. By die hemelvaart styg Jesus, God se gesalfde, van die aarde na die hemel op. En hierdie eerste Helper neem die Gees, wat Hy ter wille van sy werk ontvang het, saam boontoe. Daar bo sit Hy sy werk by die Vader voort. En die heel eerste daad wat Hy dan daar in die hemel verrig, is om te versoek dat ‘n ánder Helper na sy leerlinge gestuur sal word. Vervolgens daal die Gees – daardie ander Helper – op die Pinksterdag neer, vanaf die hemel na die aarde. Nie om daar slegs tydelike hulp te bied nie, maar om permanent sy intrek te neem in die kerk van Christus. So sal almal wat die Naam van Jesus Christus bely met sy Gees vervul word, totdat Hy self terugkom. En daarom dat Jesus in vers 18 kan sê: “Ek sal julle nie as wese agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe.” Uiteraard verwys hierdie laaste woorde ook na die wederkoms en die ewige saamwees van God en sy kinders. Maar meer direk en onmiddellik verwys dit na die koms van die Heilige Gees op die Pinksterdag – Ek sal julle nie as wese agterlaat nie, want Ek kom in die Gees weer by julle woon. En dít is die Gees wat elkeen mag hê wat die Naam van Jesus Christus bely.

Nou, broers en suster, vervolgens word hierdie beloofde Helper vir ons in vers 17 beskryf as die Gees van die waarheid. Ons vind hierdie beskrywing ook weer in hoofstuk 15:26 en in hoofstuk 16:13. En dít moet ons sommer dadelik op die spoor plaas van watter soort Helper die Gees is, en watter soort hulp Hy aan die kerk van Christus en aan die gelowiges individueel kom bied. Die Heilige Gees het naamlik as Gees van die waarheid gekom om die wáárheid te openbaar en om, soos hoofstuk 16:13 sê, die apostels én ons in die hele waarheid te lei. Die Heilige Gees is daarom die gids op die terrein van die waarheid; Hy sal die weg van die waarheid wys – eers aan die apostels, maar deur hulle ook aan die kerk van alle eeue. Dít is die manier waarop die Gees help, só is Hy vir ons die Helper van bo – Hy lei ons in die waarheid!

Maar goed, van watter waarheid praat ons hier? Dit is geen onsinnige vraag vir mense van die 21ste eeu nie; dit is ‘n belangrike vraag vir mense wat in ‘n tyd lewe wat van een, vaste waarheid niks meer wil weet nie. Kan ons dan nog sê dat die Gees ons slegs in een, vaste waarheid lei? Of kan ons sê dat die Gees se waarheid vir elkeen van ons anders is? Miskien sê die Gees vir jóú dít, en vir mý dát… of hoe? Deel die Gees nie eenvoudig ‘n hele spektrum van waarhede uit soos wat Hy dink dit by elke individu sal pas nie? Dit klink baie mooi, gemeente, maar as ons ‘n bietjie verder lees in die ander plekke in Johannes 14-16 waar “die Gees van die waarheid” genoem word, dan sien ons dat die Gees nie hierdie soort vrymag het nie; die Gees het nie vrye teuels wanneer dit kom by die waarheid nie; die Gees kom nie maar met sy eie boodskap nie. Nee, wat die Gees vir die dissipels – en deur hulle aan ons – te vertel het, kom nie uit Homself nie. Die Gees se boodskap van waarheid kom uit ‘n gesaghebbende informasiebron: dit kom regstreeks vanuit die hemel. Want Hy is mos die Gees wat vanaf die Vader in die hemel én in die Naam van die verhoogde Christus kom (14:26, 15:26). Dáárvandaan kry Hy sy boodskap! En daarom spreek Hy nie uit Homself nie, maar alles wat Hy hoor – by die Vader en die Seun! – dít sal Hy spreek (Joh. 16:13).

Buiten dat die Gees dus spreker is, is Hy eers hoorder; Hy luister fyn na die Vader en die Seun om te weet wat Hy moet verkondig. En daarom is die boodskap, wat die Gees vir ons bring, ‘n hémelse waarheid! Hy kom boodskap vir ons Jesus Christus! Die Gees van die wáárheid verkondig aan ons Christus, want Christus is die waarheid (volgens Johannes 14:6). En daarom dat Jesus in hoofstuk 16:14 vir sy dissipels kan sê: “Hy sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig.” Ja, die Gees sal Jesus Christus verheerlik – dit is waarvoor Hy gekom het, dit is waarin Hy ons lei.

Gemeente, die Heilige Gees het dus niks nuuts om te vertel nie; aan die onderwys wat Jesus alreeds gegee het, het Hy niks om toe te voeg nie. Hy kom nie met ‘n ander boodskap as die boodskap van Jesus Christus nie; Christus en die Gees is nie in teëspraak met mekaar nie. Nee, in die woorde van die Here Jesus in hoofstuk 14:26: “Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.” Die Gees kom vertel dus eenvoudig van Jesus Christus in sy vernedering en verhoging, in sy kruisiging en opstanding. In daardie einste boodskap kom gee Hy aan die dissipels en aan ons ekstra klasse en herhalingslesse. Want die bron waaruit Hy sy informasie put, is niemand anders nie as die Seun van God, die verhoogde Christus, in wie se Naam Hy gestuur is! Alles wat die Gees aan die dissipels meedeel, kom van Jesus Christus af en gaan oor Jesus Christus. En nadat die dissipels – oftewel: die apostels – dit neergeskryf het in die briewe en die evangelies, kan ons vandag daarvan lees in die Woord, in die Bybel. En dít is dan ook waarby die Gees ons vandag bepaal: die boodskap van die Bybel, wat oor niks anders gaan nie as oor Jesus Christus.

Verstaan u, broers en susters, dat die Gees nie daarop uit is om die aandag op Homself te rig nie! Hy is nie daarop uit om mense na Homself te laat kyk nie. Dit is dikwels die gedagte wat ons kry in charismatiese kringe – die Gees word dan ‘n los entiteit wat met soveel as moontlik opspraak gesien en gehoor wil word. Mense wat lag in die Gees, en mense wat val in die Gees, en mense wat in vreemde tale praat – op allerhande maniere dring die Gees Homself in hierdie kringe op die voorgrond. Of altans: só word Hy deur mense op die voogrond gepláás. Maar dit is nie wat die Gees self wil doen nie, broers en susters! ‘n Kollig – ‘n ‘spotlight’ soos wat ons dit noem – skyn mos nooit na homself toe nie!? Nee, hy skyn weg van homself, sy doel is mos om iets anders te verlig. Nou, op presies dieselfde wyse werk die Gees ook – Hy soek nie daarna om die fokus op Homself te rig nie; Hy praat nie oor Homself nie. Nee, Hy soek daarna om die fokus volledig op Jesus Christus te plaas. In dáárdie waarheid, in die waarheid van Christus, wil hierdie Helper ons lei. Hy wil ons help om die waarheid van Jesus Christus in die Skrifte te ontdek en raak te sien; Hy wil ons help om die Skrif reg te lees en te verstaan. Daar is vir Hom geen groter vreugde as om Christus in die kollig te plaas en mense by Hom te bring nie.

Om dus Jesus Christus in die Bybel te leer ken, en om in en deur Hom die Vader te leer ken, is die Heilige Gees onmisbaar. Om in die waarheid gelei te word, móét ons vol word van die Gees. Maar hoe doen ons dit, gemeente? Hoe gebeur dit? Wel, die Gees is ‘n belofte van Jesus Christus; Hy belowe aan ons sy Gees as Helper. En as Hy dit belowe, laat ons dan ook in ons gebede daarvoor vra en daarop aanspraak maak. As God dit belowe, eis dit dan ook vrymoedig van Hom! Dink aan vraag en antwoord 116 van die Kategismus: Waarom is die gebed vir die Christene nodig? Omdat God sy genade en Heilige Gees alleen aan hulle wil gee wat Hom met hartlike versugtiginge sonder ophou daarom bid en daarvoor dank. En dink ook aan wat die Here Jesus ons leer in Lukas 11:9: “As julle dan wat sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid?”

Bid vir die Heilige Gees, broers en susters, sodat Hy jou mag lei om die Skrif te verstaan en Christus daarin te ontdek. Want dit is die hulp wat Hy aan ons wil bied, en wat jy en ek so nodig het! Moet daarom nie die werk van die Heilige Gees in jou lees en verstaan van die Bybel onderskat nie. Moenie dink dat jy genoegsaam in die Skrifte onderlê is om die Skrifte reg te kan verstaan nie. Moenie dink dat jou gereformeerde opvoeding en jou daaglikse gebruik van die Skrif genoeg is nie. Daar is duisende teoloë en gewone lidmate wat die Skrif goed ken, maar wat nog steeds nie in staat is om dit op geestelike wyse te lees nie. Die natuurlike mens, só sê Paulus in 1 Korinthiërs 2:14, neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word. Dít is wat ons nodig het, broers en susters: geestelike beoordelingsvermoë! 

En wie is daar uiteindelik beter om dit vir ons te skenk as die Heilige Gees? Immers, die Gees van God ken God deur en deur. Paulus vergelyk die Gees van God in 1 Korinthiërs 2:11 met die gees van die mens. Wie ken jou beter as jyself? Wie weet beter wat op hierdie einste oomblik hier binne-in jou aangaan as jyself? Jou gees, jou siel, weet mos die beste wat hier binne leef? Nou, so is dit ook met die Gees van God. Natuurlik kan ons die Gees nie verlaag tot die siel van God nie; nee, die Gees is self God, Hy is ‘n selfstandige Persoon binne die Drie-eenheid. Maar tog is die vergelyking treffend, want net soos wat niemand my beter ken as my eie siel nie, so ken niemand God beter as sy eie Gees nie. En daarom is daar ook niemand beter om God aan ons bekend te maak nie as die Heilige Gees. As hierdie Gees aan mense gegee word, dan stel Hy mense in staat om God te ken.

Gemeente, verlang daarom ook na meer van die Gees, bid vir sy volheid in jou lewe. Hier het ons die onmisbare sluitstuk van ons kennis van God bereik. Sonder Hom bly alles, wat ons tot dusver in die afgelope maande gesê en geleer het, kennis, maar sonder hart! Verstandelik, maar gevolglik ook afstandelik. Mag die Heilige Gees daarom ons harte volmaak sodat ons kennis van Jesus Christus lei tot ‘n lewende verhouding met Hom!

Dit is waarop ons vervolgens let: Die Gees bring ons in gemeenskap.

2. Gemeente, die einddoel van die werk van die Gees in ons, is natuurlik nie slegs dat ons die Bybel reg leer lees en dat ons ‘n deeglike Bybelkennis opbou nie. Bybellees en die bestudering van die Bybel is daarom ook nooit ‘n doel in sigself nie. En dit is belangrik om dit in gedagte te hou by jou persoonlike bybelstudie – dit gaan ten slotte nie oor die letters en die sinne en die paragrawe van hierdie boek nie. Nee, deur die Gees leer ons juis om Christus – die waarheid! – in die letters en sinne en paragrawe van die Skrif raak te sien, en só bring die Gees ons tot ‘n lewendige band met Hóm en met die Vader.

Ons kan selfs sê dat die inwoning van die Gees die ekwivalent is van / gelyk is aan Christus se eie inwoning in ons harte; ja, deur die inwoning van die Gees woon Christus sélf in ons! Hy sê immers in vers 18 dat Hy weer na ons toe kom. Nog ‘n klein tydjie, só sê Jesus, en die wêreld sien My nie meer nie (dit verwys na Jesus se hemelvaart); maar – vervolg Hy – julle sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe (vers 19). Dus, met sy hemelvaart leef Jesus in die hemel by die Vader, maar terselfdertyd lewe Hy deur sy Gees ook werklik in ons! Deur sy Gees! Want die Gees – Hy wat aanwesig en aktief was by Jesus Christus se ontvangenis en geboorte, Hy deur Wie Jesus Christus gesalf is by sy doop, Hy wat Jesus Christus gelei het by sy versoeking in die woestyn, Hy wat Jesus Christus bekragtig het by die doen van sy wonderdade, Hy deur Wie Jesus Christus Homself sonder smet aan God geoffer het, en deur Wie Jesus Christus geregverdig is by sy opstanding – daardie einste Gees woon nou in God se kinders. En wanneer Hy in ons kom woon, dan bring Hy alles wat met Jesus Christus te make het – al sy lyding en heerlikheid, al sy opoffering en verdienste – dit alles bring die Gees saam met Hom wanneer Hy in ons kom woning maak. Op dié manier woon Jesus Christus in ons! Dit is ‘n lewende werklikheid!

En dáárom, gemeente, dat Jesus in hoofstuk 16:7 kan sê dat dit vir die dissipels en vir ons voordelig is dat Hy weggegaan het. Want toe Hy weggegaan het, het die Gees op die Pinksterdag gekom! En in dié dag – só sê Jesus in vers 20 met verwysing na die Pinksterdag – in dié dag sal julle weet dat Ek in my Vader is, en julle in My, en Ek in julle. Die Gees bring dus die volheid van alles wat Christus gedoen het, die volheid van Christus self, in ons lewens. En só ontstaan daar gemeenskap! Die gelowiges mag deel in die gemeenskap wat daar tussen die Vader en die Seun bestaan, en hulle mag ook in ‘n wedersydse liefdesverhouding met Jesus Christus staan. Enersyds kom daardie liefde van ons kant af deurdat ons sy gebooie nakom (vers 21), en andersyds kom daardie liefde van Jesus se kant af deurdat Hy en die Vader by ons kom woning maak (vers 23).

En hierdie liefdesgemeenskap is iets wat die wêreld nie beskore is nie, broers en susters – dit is wat Jesus in die tweede deel van vers 17 sê: die wêreld kan die Gees nie ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie. En na aanleiding daarvan vra Judas in vers 22 sy vraag oor hoekom Jesus Homself aan die dissipels sal openbaar, maar nie aan die wêreld nie. En dan wys Jesus dat die wêreld niks verstaan van die misterieuse eenheid wat daar kom tussen sondige mense en die lewende God nie. Die wêreld is nie in staat om hierdie geestelike dinge te beoordeel nie, want hulle is natuurlik, en hulle dink en redeneer natuurlik. Geestelike dinge daarenteen moet geestelik beoordeel word! Geestelik – dit wil sê, deur die Gees!
En ons moet oppas, broers en susters, dat ons ook nie natuurlik begin dink nie. O ja, nugterheid is goed. En om met beide jou bene op hierdie aarde te staan, is goed. Ons moet inderdaad nie swewerig begin raak nie, ons moenie tred verloor met die werklikheid nie. Maar in ons nugterheid moet ons altyd geestelik bly dink, moet ons altyd bly verstaan en ervaar dat die Gees iets ongeloofliks in ons uitwerk: Hy bewerk gemeenskap, Christus woon in my! Julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in in julle sal wees! In ons persoonlike geloofslewe, maar veral ook in ons kerklike lewe, moet ons daarom hierdie geestelikheid – die Heilige Gees in ons! – dit moet ons bly voed en koester. Ons moet daaraan bly werk dat geloof en kerkwees nie verval in skemas en prosedures nie. Geloof en kerkwees gaan altyd daaroor om Christus in my te hê en om sy liefde te vertoon; dit gaan daaroor om die Skrif, hierdie heilige boek, in die lig van sy werk en sy liefde te lees en in ons 21ste-eeuse werklikheid toe te pas; dit gaan daaroor dat Christus in my lewe sigbaar word in my daaglikse omgang met Homself en met die mense om my heen.

Ek sluit af…
Christus gee sy Gees van waarheid om jou te help. Hy help jou om die Skrif te lees en die waarheid van Jesus Christus daarin te leer ken. En Hy bring jou tot gemeenskap met hierdie Christus en met die Vader. Nou die vraag, aan die einde van die paadjie wat ons die laaste tyd gestap het: ken jy God? En teen dié tyd verstaan jy waarskynlik dat ek met ‘ken’ nie slegs ‘n verstandelike kennis bedoel nie, maar ‘n geloofskennis, ‘n kennis wat weet én ervaar, ‘n kennis wat ken én vertrou.

Ken jy God? En ek stel hierdie vraag – en dit was ook die aanvanklike aanleiding tot hierdie reeks preke – omdat ons onsself soms nogal beroem op ons kennis, en dan bedoel ons daarmee bybelkennis. Maar in die eerste plek is dit beslis nie deurgaans die geval nie; die kennis is nie altyd daar nie. En daarom roep ek u op om daaraan te bly werk, te bly studeer om God beter te leer ken. Maar in die tweede plek beteken bybelkennis nog nie altyd Godskennis nie, bybelkennis bring ons nog nie noodwendig tot ‘n lewende verhouding met God nie!
Ken jy God? Is Hy ‘n werklikheid in jou hart en lewe? Of is Hy slegs ‘n deel van die oorlewering wat jy saamgekry het? Is Hy jou lewe, of is Hy ‘n aspek van jou lewe? Ken jy Hom eerstehands of tweedehands? En verder: getuig ons gemeentelike lewe van ware Godskennis of is dit iets wat in ‘n groef beland het? Kan mense in hierdie gemeente Christus sien?

Wat die antwoord op hierdie vrae ook al mag wees, kom ons gaan eenvoudig weer op die weg wat God vir ons aanwys. Kom ons smeek vir die Helper – die Heilige Gees – om ons by te staan. En kom ons bewandel deur sy genade die weg van die ‘geestelike’ middele – die Woord en die sakramente. En laat op dié manier Christus in ons groei; laat op dié manier Hy steeds meer word in ons, en ons steeds minder.

Amen

 

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Votum Ps. 121:1
Seëngroet: Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen. Sing Ps. 122
Wetslesing + NT-weergawe
Sing Ps. 32:1, 3, 5
Lees: Johannes 14:16-26
 Johannes 15:26-27
 Johannes 16:7-15
 1 Korinthiërs 2:6-16
Sing Ps. 71:9, 12 en 14
Gebed
Teks: Johannes 14:16-17
Preek
Amenlied Skr. 38:3, 39:5, 40:5, 41:7
Gebed
Kollekte
Slotsang Skr. 42:5, 43:6, 44:5
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)