Jesus Christus leer sy dissipels Bybel lees

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2009-10-04
Teks: 
Lukas 24:44-47
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Hoe kan ons die Vader ken? Slegs deur die Seun, want – sê Jesus in Mattheus 11 – “… niemand ken die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun dit wil openbaar.” Tot sover het ons verlede week gekom. Maar hoe ken ons dan die Seun? – dit is die volgende vraag waarna ons wil kyk.

Maar wag eers… Hoe ver moet ons nou nóg gaan om die ware bron van ons Godskennis te vind? Het ons dan nie verlede week reeds gehoor dat die Seun, dat Jesus Christus, die ware bron is vir al ons kennis van God nie? Het ons nie gehoor dat Hy die eksklusiewe weg tot kennis is, en dat ons sonder Hom altyd in die duister sal bly rondtas oor die Vader nie? Heeltemal reg, maar onthou, Hy is nie meer in die vlees hier by ons nie. Hy is in die hemel. Hoe nou gemaak om uit hierdie bron van Godskennis te put? Wat moet ons nou doen om deur Hom die Vader te leer ken? Wel, broers en susters, vir dié doel gee Christus aan ons die Bybel (natuurlik, Hy gee ook nog sy Gees – baie belangrik! – maar daarop sal ons, as die Here wil, volgende week let. Vandag fokus ons eers net op die Bybel).

Nou goed, die Bybel… Maar is die Bybel dan ‘n ander bron van kennis as Jesus Christus? Is die Bybel en Jesus Christus twee verskillende roetes na die Vader toe? Is dit so dat sommige van ons die Bybel nodig het om die Vader te leer ken, en dat ander sommer direk via Jesus na die Vader gaan? Nee, gemeente, Jesus Christus – die Seun van God – is en bly die eksklusiewe weg na die Vader; iemand wat ‘n ander roete wil volg, sal sonder enige twyfel verdwaal. Máár… ons leer Jesus Christus in die Bybel ken; in die Bybel lees jy van Jesus Christus. En nie net hier en daar nie, nie net in die vier evangelies – Mattheus, Markus, Lukas en Johannes – nie; nee, die Bybel gaan as geheel oor Jesus Christus. Van Genesis tot Openbaring is een en al profesie en vervulling van Jesus Christus. 

En dit is nou presies wat Jesus in die verwarrende tyd net ná sy opstanding aan sy dissipels leer. Ja, die arme dissipels – hulle het ook nie meer geweet wat om te glo nie. Jesus was dood, hulle het dit dan met hulle eie oë gesien. Maar nou kom vertel die vroue vir hulle snaakse verhale van ‘n leë graf en van engele. En Petrus, hy lyk sowaar asof hy dit begin glo. En dan staan daar skielik ‘n gees in hulle midde. ‘n Gees? Maar het ‘n gees dan vlees en bloed? Miskien moet ons net seker maak deur Hom met ‘n stukkie oorskiet-vis en –heuningkoek te toets of Hy werklik ‘n mens in lewende lywe is. En só word die dissipels in hulle twyfel heen en weer gewaai – wat moet ons nou eintlik glo? En wat doen Jesus te midde van al hierdie verwarring? Jesus leer sy dissipels Bybel lees… Dít is sy antwoord op hulle twyfel oor Hom en oor sy lyding en opstanding – Hy leer hulle Bybel lees.

Tema: Jesus Christus leer sy dissipels Bybel lees.

En daarby gee Hy vir hulle ten minste drie reëls (uiteraard is dit nie die enigste reëls vir die lees van die Bybel nie, maar dit is rofweg die reëls wat ons uit hierdie teks kan haal)

1. Soek Chrístus in die Skrif!
Dit is vroeg in die môre op die eerste dag van die week toe die vroue by die graf kom om die liggaam van Jesus te versorg. Tot hulle verbasing is die graf reeds oop en die liggaam van Jesus is skoonveld. En dan staan daar skielik twee engele by hulle wat vir hulle vertel van die opstanding van die Here Jesus: “Onthou hoe Hy vir julle gesê het toe Hy nog in Galilea was: Die Seun van die mens moet oorgelewer word in die hande van sondige mense en gekruisig word en op die derde dag opstaan. En hulle het sy woorde onthou.” Hy moet oorgelewer word en gekruisig word en opstaan – hoekom moet dit? Wat is so noodsaaklik daaraan?

In elk geval lyk dit asof die elf en al die ander saam met hulle ook nie werklik oortuig is van die noodsaaklikheid van Jesus se kruisiging en opstanding nie. Want volgens vers 11 glo hulle nie die vroue se verhaal nie, dit lyk vir hulle na onsinnige praatjies. Twee onder die groep trek dan ook die konsekwensies uit hierdie ongeloof en besluit om huis toe te gaan – hulle het niks meer hier te soek nie. Maar oppad word hierdie twee drostende dissipels gekonfronteer met ‘n mede-reisiger; dis Jesus, maar hulle herken Hom nie. En tot hulle verbasing weet hierdie man nie eens wat die laaste tyd in Jerusalem gebeur het nie – vreemde figuur, seker bietjie wêreldvreemd. Nadat hulle Hom egter alles vertel het en daarby hulle eie ongeloof blootgelê het, spreek Jesus hulle gesagvol aan: “o Onverstandiges, met harte wat traag is om te glo alles wat die profete gespreek het! Moes die Christus nie hierdie dinge ly en in sy heerlikheid ingaan nie?” Moes – hoekom moes dit? Wat was so noodsaaklik daaraan?

Hoe dit ook al sy, wanneer hierdie twee dissipels later saam met Jesus aan tafel sit en Hy die brood breek, word die blinddoek voor hulle oë weggeneem en herken hulle Hom: “Toe is hulle oë geopen en hulle het Hom herken.” Maar… toe is Hy ook weg. Dadelik het hulle die pad teruggevat na Jerusalem, terug na die broederskap, terug na die kerk. Hulle glo nou, en hulle het ‘n boodskap om te vertel. Maar toe hulle uiteindelik terugkom by die groep in Jerusalem het dié ook alreeds geglo. En saam was hulle besig om hulle ervarings met mekaar te deel, toe Jesus skielik in hulle midde staan. En ná die aanvanklike emosies begin Jesus om hulle, net soos in die geval van die Emmausgangers, te onderrig: “So is dit geskrywe en so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan.” Hoekom moes dit? Wat was so noodsaaklik daaraan?

Sien u, gemeente, tot drie maal toe ná die opstanding sien ons hoe die twyfelende dissipels daarop gewys word dat dít waaroor hulle gewonder het – Jesus se lyding, sy opstanding en sy verheerliking – dat dit só moes gebeur. Maar hoekom? Omdat dít die woord van die Here was! Só het God gespreek! Só het Hy, volgens vers 44, gespreek deur middel van die wet van Moses en die profete en die psalms – die drie dele wat Jesus hier opnoem, is die bekende drie dele waaruit die ou testamentiese kanon bestaan het. Ons kan dus sê dat God in die héle Ou Testament – in die wet, die profete en die psalms – alreeds gespreek het van sy Seun se lyding, opstanding en verheerliking. God se spreke daaroor lê alreeds in die Ou Testament. Die Ou Testament, as Woord van God, verkondig Christus! En omdat God alreeds in die Ou Testament gespreek het, daarom moes dit ook vervul word – só moes dit gebeur!

Dit is dus nie so, broers en susters, dat die dissipels en die skrywers van die Nuwe Testament ná die tyd dele uit die Ou Testament gaan herinterpreteer het omdat hulle toe eers Jesus Christus leer ken het nie; hulle het nie ná die tyd aan die Ou Testament ‘n nuwe betekenis gaan gee omdat hulle toe gesien het dat sekere dele toevallig mooi na Christus sou kon verwys nie. Nee, die dissipels en die Nuwe Testamentiese skrywers het uit die Ou Testament gehaal wat alreeds daar in was – Jesus Christus! En met hierdie Ou Testament as basis het hulle vóórtgegaan om Jesus Christus onder die Jode sowel as die heidene te verkondig, en het hulle briewe geskryf met Jesus Christus as die inhoud daarvan, en het hulle Jesus Christus se lewe en werk gaan beskryf in die vier evangelies – met die gevolg dat ons vandag ‘n Ou sowel as ‘n Nuwe Testament het wat beide voluit van Christus spreek! Of miskien kan ons beter sê: Gód spreek van Christus in sowel die Ou as die Nuwe Testament. En dáárom moes dit alles gebeur! God se spreke vra om vervulling; sy spreke oor Christus vra om vervulling deur Christus.

En dít is die eerste Bybellees-les wat Jesus sy dissipels én ons leer – soek My in die Bybel! Want die hele Bybel gaan oor My, Ek is die Woord! As die predikant daarom die Woord verkondig – of dit nou uit Levitikus of Handelinge of Openbaring is – dan verkondig hy Christus, of so behoort dit in elk geval te wees. En as jy vanmiddag die Bybel oopmaak om daaruit te lees en jou gesin daarin voor te gaan, dan lees jy van Jesus Christus – of jy nou uit Ester of Maleagi of Hebreërs lees. En as julle, jongmense, Dinsdagaand weer Jeugvereniging het en julle bespreek ‘n gedeelte uit die Skrif, waak daarteen om te verval in allerhande details oor hoekom hierdie woordjie daar staan, en hoekom die skrywer hierdie woord gebruik en nie daardie woord nie. Nee, vra julleself af: waar pas hierdie Skrifgedeelte in binne die geheel van God se openbaring oor Jesus Christus? Wat sê hierdie gedeelte oor Christus?

Gemeente, ons ken die Vader deur die Seun, deur Jesus Christus. Maar hoe ken ons Jesus Christus? Vanuit die Bybel! Moet daarom nie, soos wat Paulus ons in Romeine 10 leer, by jouself sê: Wie sal in die hemel opvaar, naamlik om Christus af te bring nie. Of: wie sal in die afgrond neerdaal, naamlik om Christus uit die dode op te bring? Nee, naby jou is die woord! Jy hoef nie Christus in die hemel te gaan soek nie, jy hoef Hom ook nie in die hel te gaan soek nie. Moet Hom nie gaan soek in jou belewenis of in die getuienis van ander nie. Nee, maak jou Bybel oop en léés, en vind daar jou Heiland. Soos wat Jesus so treffend sê in Johannes 5:39: “Julle ondersoek die Skrifte, omdat julle meen dat julle daarin die ewige lewe het; en dit is dié wat van My getuig.” Dit is dus die eerste reël vir die lees van die Bybel: soek Christus daarin.

2. Christus open ons verstand deur middel van die Skrif
Dit is eintlik ongelooflik wat ons in vers 45 lees: “Toe open Hy hulle verstand om die Skrifte te verstaan.” Ná ongeveer drie jaar waarin hulle op ‘n konstante basis saam met Christus gelewe en gewandel het, waarin hulle aan sy lippe gehang en elkeen van sy wonderdade aanskou het, waarin Hy húlle in besonder geleer en onderrig het, verstaan hulle nou vir die eerste keer die Skrifte! Natuurlik het hulle wel dele van die Skrif verstaan, maar die Skrif as geheel het vir hulle geslote gebly. Natuurlik het hulle wel ‘n sekere samehang gesien tussen dít wat die profete verkondig het en die optrede van Christus tydens sy lewe op aarde. Maar dat wet, profete en psalms in álles van Christus getuig het en in Hom na vervulling gestreef het, dit het hulle nog nie verstaan nie.

Maar nou, ná sy opstanding en kort voordat Hy na die hemel gaan vertrek, nou open Jesus hulle verstand, nou laat Hy hulle verstaan hoe hulle die Skrif in sy lig moet lees. En hoe doen Hy dit? Hoe open Hy hulle verstand? Wel, gemeente, dit is uiteraard ‘n daad van goddelike alvermoë om mense wat blind en verduister in hulle verstand is, te laat sien. God maak blindes siende! Dit is ‘n werk van die Heilige Gees, waarop ek – soos ek reeds gesê het – volgende week nog verder sal uitbrei.

Maar tog is dit belangrik dat ons die opening van die dissipels se verstand nie sal sien as ‘n daad wat losstaan van die voorafgaande les in Bybellees nie. Nee, ons moet verse 44 en 45 in noue samehang met mekaar lees. Op die moment dat Jesus met hulle praat oor alles wat met betrekking tot Hom geskrywe is in die wet van Moses en die profete en die psalms – op dáárdie einste moment open Hy ook hulle verstand! Langs dáárdie weg open Hy hulle verstand. Ja, gemeente, die opening van die Skrifte is die weg tot die opening van die menslike verstand sodat mense Christus en die Vader kan leer ken en sodat hulle kan sien dat Hy móés ly, opstaan en verheerlik word. Dus, Christus gebruik eenvoudig die opening van die Skrif om mense se verstand te open!

En dit is presies wat ook met die Emmausgangers gebeur het, nie waar nie? Hulle het dit self eers heelwat later besef, maar wanneer hulle in vers 32 terugkyk na hulle reis saam met Jesus, dan moet hulle met verbasing erken: “Was ons hart nie brandende in ons toe Hy met ons op die pad gepraat en vir ons die Skrifte uitgelê het nie?” Brandende harte deur die uitleg van die Skrifte! En baie opmerklik, dan gebruik hulle vir die uitleg van die Skrifte presies dieselfde Griekse werkwoord as wat in vers 45 vir die opening van die harte gebruik is. Dus, wanneer die Skrif gelees en uitgelê en as’t ware oopgemaak word, dán – op dié manier – word ook ons harte geopen sodat dit vlam kan vat met die brandende vuur van die Gees van Jesus Christus!

Broers en susters, wie van ons voel nie soms die frustrasie wanneer ons die Bybel lees, maar eenvoudig nie verstaan wat ons lees nie. Wie van ons het nie al Esegiël of Openbaring of een van Paulus se myle-lang sinne in Efesiërs gelees, en agteraf besef: maar hiervan verstaan ek eintlik niks nie? En wie van ons het nie al daardeur moed verloor en besluit om die Bybel maar so bietjie toe te laat nie. Maar, gemeente, moenie moedeloos raak nie. Want Christus leer ons dat om opening van die verstand te verkry sodat jy die Bybel reg kan verstaan wanneer jy dit lees, daarvoor hoef jy nie in die hemel op te styg nie. Nee, om die Skrif reg te kan verstaan, om die Skrif in die lig van Christus te kan verstaan, moet jy eenvoudig die Skrif léés en bly lees. En om te sien hoe die Skrif deurgaans van Christus spreek, daarvoor hoef jy nie vooraf een of ander openbaring te kry nie; nee, léés eenvoudig die Skrif en ontmoet Christus daarin. Dít is die weg wat Christus gekies het om ons verstand te open – deur middel van die lesing en bestudering van die Skrif.

Moet daarom nie dink dat jy iets gaan verstaan van Christus se lyding en sy opstanding en sy hemelvaart sonder dat jy jou bybel oopgemaak het nie. Moenie dink dat jy Christus gaan leer ken en deur Hom die Vader gaan leer ken as jou bybel nog net so nuut lyk soos vyf jaar gelede toe jy hom geskenk gekry het nie. Ons moet weer leer om met die bybel besig te wees, daarmee te worstel, daarin te studeer – nie as ‘n boek van eeue gelede nie, nie as ‘n soort ensiklopedie waarin ons allerhande tekste gaan vind as bewys vir ons eie standpunt nie, maar as die weg tot ‘n lewende verhouding met die Vader en met die Seun. En daarom die ernstige waarskuwing vandag aan elkeen wat hulle bybelstudie afskeep en nie die erns daarvan besef nie – jy is besig om by Christus verby te loop, jy is besig om jou eie verstand te verduister. Begin daarom weer om die weg te bewandel wat Christus vir ons aanwys. En vir elkeen wat wel met die Skrif besig is, maar dalk in ‘n groef beland het: soek opnuut na Christus. Hou aan, moenie moedeloos word nie. Elkeen wat op die weg gaan wat Christus aangewys het, sal deur Christus nie teleurgestel word nie. As jy ‘n ywerige soeker in die Skrifte is, sal jy sekerlik vind; ja, Christus sal Homself láát vind! Hy sal jou verstand open sodat jy Hom leer raaksien in sy vernedering en in sy verhoging vir jou! Dit is dus die tweede Bybellees-reël: Christus open ons verstand deur middel van die Skrif.

3. Bybellees lei tot bybelverkondiging
“So is dit geskrywe, en so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan” – ja nee, só moes dit inderdaad gebeur. Dít verstaan ons nou hooplik. En ons is, tereg, dankbaar dat dit so gebeur het. Maar daar is nóg iets wat moes én moet gebeur waarby ons soms maar al te maklik verbylees. Want Jesus se woorde stop nie by vers 46 nie; nee, Hy gaan sonder onderbreking verder in vers 47: Christus moes ly en opstaan – vers 46 – “en bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word aan al die nasies, van Jerusalem af en verder.” Dit, broers en susters, is skynbaar ook ‘n deel van bybellees wat die dissipels moes leer. Bybellees bring tot verkondiging, tot prediking, tot getuienis; só sê Jesus in vers 48 “julle is getuies van hierdie dinge.” Noudat die disspels se verstand geopen is sodat hulle leer verstaan het, nou word hulle ook uitgestuur as apostels.

Nou is dit natuurlik so dat die eerste dissipels – die apostels – ‘n baie unieke plek vervul het in die taak van die verkondiging. Hulle was die eerstes wat die evangelie moes gaan uitdra. Hulle was die grondleggers van die Nuwe Testamentiese kerk, juis omdat hulle vanaf die begin getuies was van alles wat Jesus gesê en gedoen het. Hulle was eerstehandse ooggetuies. En daarom kry hulle ‘n baie besondere opdrag.

Maar Jesus gee hier ‘n les in bybellees wat uiteindelik vir alle gelowiges geld. Wanneer ons verstand geopen is om die Skrif te verstaan, en wanneer ons Christus raaksien in elke gedeelte wat ons lees en bestudeer, dan verstaan ons ook dat Christus, wat die inhoud van die hele Skrif is, nie die Verlosser van ‘n klein, beperkte groepie is nie. Christus se kruisiging en opstanding is nie maar net vir ‘n snaakse klompie mense nie. Nee, as ons Christus in die hele Skrif raaksien, dan sien ons Hom in Genesis by die skepping – die skepping van alle dinge en van elke mens het dus met Christus te make; en ons sien Hom in Openbaring by die voleinding van alle dinge, by die oordeel wat daar oor elke mens sal kom, by die skeiding tussen skape en bokke. En dan besef dat elke mens van hierdie Christus moet hoor – dit kan nie anders nie! Die Christus van die Skrifte wil gepreek en verkondig word, Hy wil uitgedra word na alle volke, nasies en tale. En wanneer ons deur ons lees van die Skrif werklik die Vader en die Seun leer ken, dan sal dit ook ons begeerte wees om Hom te verkondig.

En ons moet besef, broers en susters, dat dit geen vryblywendheid by ons lees van die Skrif is nie. Ons kan nie opreg die Bybel lees sonder om onmiddellik ook onder die verantwoordelikheid geplaas te word om ook getuies van die boodskap te wees nie. Om die Woord te verkondig staan nie lós van die lees van die Bybel nie. Ons kan nie dink dat die verkondiging-deel en die getuienis-deel iets is vir predikante en sendelinge en ‘n paar welsprekende mense nie; ons kan dit nie gemaklikheidshalwe aan húlle oorlaat nie. Nee, sê Christus aan álle Bybellesers: só moet dit wees: Ek moes ly en opstaan, en dit moet julle gaan verkondig! Gaan verkondig bekering en vergewing van sondes aan mense wat deur My geskape is, maar wat onder My oordeel staan indien hulle hul nie bekeer nie!

Dit klink effens vreemd wanneer ons sê dat verkondiging en getuienis deel is van Bybellees, dat dit een van die reëls van Bybellees is. En tog is dit die verantwoordelikheid waaronder Christus ons plaas wanneer ons ons Bybels oopmaak en Hom daarin ontdek. Dan sê Hy: as jy my leer raaksien het in elke Skrifgedeelte, gaan verkondig My dan ook. Maar, broers en susters, as jy Christus leer raaksien het, dan het waarskynlik ook sy belofte raakgesien: sy belofte van krag uit die hoogte. Getuie-wees doen jy nie alleen nie, maar dit doen jy slegs in die krag van die Heilige Gees. Gaan dan heen, maak dissipels van alle nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees. Doen dit as getroue Bybelleser.

Gemeente, om Jesus Christus te leer ken en deur Hom die Vader te leer ken, gee Christus aan ons die Bybel. Lees die Bybel in daardie lig! Moenie die Bybel losmaak van Christus nie, want dan begin ons afgodery bedryf met letters, dan word die Bybel ‘n afgod. En dan kan ons hoe mooi vertel dat ons ons Bybel lees, maar dan mis ons die punt. Ek vertel altyd vir die katkisante dat as ‘n kêrel en ‘n meisie ‘n langafstand-verhouding het, dan skryf hulle briewe vir mekaar (deesdae eposse). En as jy so ‘n brief van jou kêrel of meisie kry, dan lees jy dit oor en oor om iets van hom of haar te proe, te ervaar. Nou, so is die Bybel God se liefdesbrief aan ons. Daarin sien ons sy hart klop in Jesus Christus. Ons sien Jesus Christus voor ons afgebeeld in die letters van die Skrif. En dít moet ons weer leer raaksien. Ons moet weer magtig word in die Skrifte. En om magtig in die Skrifte te wees, beteken om klein voor Christus te wees, en om Hom met jou hele hart te omhels. En as jy dan jou Bybel toemaak, dan sê jy nie: ek het so en so in hierdie en daardie vers gelees nie. Maar dan sê jy: Ek het my Here ontmoet en my hart is brandende in my!

Amen

 

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Votum Ps. 121:1
Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 76:1, 5 en 6
Wetslesing
Sing Skr. 6:1, 2, 4 en 6
Gebed
Lees: Lukas 24
Sing Ps. 69:8, 9 en 14 (n.a.v. Lukas 24:44)
Teks: Lukas 24:44-47
Preek
Amenlied Skr. 2:1, 2, 4 en 5
Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 89:1 en 6
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)