Die Vader maak Homself bekend in Jesus Christus!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2009-09-27
Teks: 
Matthéüs 11:27
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus, broers en susters (ook kinders…)

Om God te ken – daaroor het dit in die afgelope maand gegaan. Net om weer u geheue te verfris: ons het vanuit Psalm 147 en Genesis 18 gesien dat God Homself aan ons openbaar, en dat ons selfs sy gedagtes mag lees. Vervolgens het die Skrif ons voor die vraag gestel: maar wat doen ons met hierdie openbaring van God? Hoe reageer ons daarop? Is ons soos die volk in Hosea 4 wat hulleself nie onder die kritiek van die Woord wil plaas nie, of is ons – soos wat Paulus ons oproep in 2 Korinthiërs 3 – leesbare briewe van Jesus Christus?

Vandag wil ons die sirkel nog ‘n bietjie nouer trek: want ja, God openbaar Homself aan ons, maar hoe presies? Hoe ken ons God? Dit gaan hier dus nie oor die vraag óf ons God kan ken nie, maar hoe ons Hom kan ken. Wel, deur die bybel natuurlik – só sal die meeste van ons antwoord. En dit is heeltemal reg! Die Sola Scriptura – die Skrif alleen! – van die Reformasie is ‘n groot skat en ‘n geweldige insig wat ons nie mag verloor nie. En daarom dat ons elke geleentheid wat die Here bied om na sy Woord te luister en daarmee besig te wees, moet aangryp. Ek hoop om in die komende weke nog daarop voort te bou.

Maar, broers en susters, voordat ons daarby uitkom, is dit nodig dat ons ‘n treetjie terugplaas. Want dit is reg dat ons God vanuit die bybel leer ken, maar daar is nog ‘n dieper dimensie wat ons eers móét uitdelf. As ons daardie dieper dimensie uit die oog verloor, dan word die beskuldiging wat vanaf die tyd van die Reformasie teen die protestante gerig is, naamlik dat ons van die bybel ‘n “papier pous” gemaak het, ‘n teregte beskuldiging. Ja, só lui die beskuldiging, Rome het die pous, maar die protestante het in die plek van die pous die bybel geplaas, en so het hulle vir hulleself ‘n pous van papier geskep. Natuurlik was dit nooit die bedoeling van die reformatore in die sestiende eeu om met die Sola Scriptura ‘n papier pous te skep nie, maar die gevaar bestaan wel dat ons die bybel op só ‘n manier gaan hanteer dat dit soos ‘n pous begin funksioneer; die gevaar bestaan dat die bybel ‘n hinderlike plek tussen God en die mens inneem, dat die bybel in die plek van Christus kom! En dít is die ‘dieper dimensie’ waarvan ek gepraat het – Jesus Christus. Ons kan God net reg ken as ons Jesus Christus leer ken het. Dit is dan ook die boodskap van die prediking vanuit Mattheus 11:27…

Tema: Die Vader maak Homself bekend in Jesus Christus!

Gemeente, baie dinge word ontdek en ons doen kennis van baie sake op deur middel van die wysheid en die kennis van die ‘slim’ mense van hierdie wêreld. Die filosofie, die wetenskap en die tegniek ontsluit baie dinge wat voorheen verborge was vir ons oë. Dink maar net aan die ontdekking van die boekdrukkuns in die tyd net voor die Reformasie – wie sou voor die tyd ooit kon dink dat ‘n mens so baie boeke in so ‘n kort tydjie kan druk? En dink aan die ontdekking van elektrisiteit – wie sou dít voor die tyd moontlik geag het? En wat van die uitvinding van epos en internet in ons eie era – ongelooflik as ‘n mens daaroor nadink. Ja, die wyse en verstandige mense van ons wêreld ontdek geweldige dinge. En dit gebeur nog elke dag!

En tog het geen wyse, of sy naam nou Plato of Einstein was, ooit die geheim van die Vader en sy Seun ontdek nie. Ja, God het baie wysheid gelê in die siel van die wyses en verstandiges, maar die grootste van alle geheime het Hy vir die ondersoekers en denkers en slim mense verborge gehou. Die wysgere van die Areopagus daar in Athene in die tyd van die vroeë kerk het niks daarvan geweet nie, en geen van die wyses van hierdie eeu, waarvan Paulus in 1 Korinthiërs 1 praat, het dit ooit agtergekom nie. Jesus, die Seun van God, het nie hierdie wêreld binnegekom as die slotsom van wat wyse of verstandige mense hier op aarde bedink of nagevors het nie. Nooit het dít eens naastenby in hulle gedagtes opgekom nie. Nee, God se openbaring in Christus is ‘n diep geheim wat vir eeue lank bewaar is, verborge gehou is vir die verstand van selfs die diepste denkers.

En toe, sommer op ‘n dag, staan Hy onder ‘n volk wat in die oë van die wêreld ‘n dwase en agterlike volkie was, totaal onbelangrik vir die wysgere, denkers, staatshoofde en digters van daardie tyd. En Hy kom maak Homself bekend aan onbenullige plekkies soos Gorasin en Betsaida, terwyl Hy by Rome verbygehou het. Ja, Hy kom na die onbelangrikes van die wêreld, ‘die kindertjies’ waarvan Jesus in vers 25 praat; dáár loop Immanuel in lewende lywe op húlle strate. Geen navorsing en geen doktorsproefskrif kon dít uitwerk nie.
En presies daaroor loof Jesus nou die Vader. Hy prys die Here van hemel en aarde – let wel, nie die Here van Israel nie, nee, die Here van die hemel en die aarde – vir die weg waarlangs die Seun gekom het tot verlossing van die hemel en die aarde. Hy het nie neergedaal langs die trappe van die geleerde se verstand nie, maar Hy het net skielik te midde van die volk Israel gestaan tot redding van ‘n wêreld en ‘n mensdom in nood. Geen mens het dit uitgedink nie, en selfs vir die mees wyse en verstandige mense het hierdie geheim verborge gebly. En nou was hierdie geheim sommer ewe skielik openbaar, dáár het Hy dan gestaan: selfs vir kindertjies bereikbaar en bekend.

Maar … is die wyse en verstandige mense dan nou uitgesluit van hierdie openbaring? Is die koms van God se Seun tot verlossing van mense net vir die kindertjies en die gewone mense bedoel, en nie vir professore en filosowe nie? Nee, gemeente, dit is nie waaroor dit hier gaan nie; dit gaan hier vir Jesus nie daaroor wie die Seun van God as Verlosser mag ontvang nie. Dit gaan vir Jesus dáároor dat die weg waarlangs die Seun moes kom, die manier waarop Hy geopenbaar is, dat dít nie deur die slim mense van die wêreld uitgedink is nie.

Dít is Gód se plan, sy wysheid, sy geheim, sy welbehae soos wat Jesus in vers 26 sê: “Ja, Vader, want so was dit u welbehae.” Daarmee wys Jesus dat God met hierdie plan die beste vir die mensdom gesoek het, só het Hy sy welwillendheid teenoor die wêreld bewys. Want wat die mensdom nodig gehad het, was nie hulle eie wysheid nie, maar die Middelaar! Dáárom het God die oë van die wyse en verstandige mense toegehou, totdat Hy sy Seun gestuur het. Op dié manier word die verlossing nie iets wat ‘n bevoorregte groepie deur middel van hulle wysheid en kennis verwerf het nie, maar ‘n geskenk vir elkeen wat dit soos ‘n kindjie aanneem. Hier sien ons God se welwillendheid – sowel vir die wyses as vir die kindertjies. Hier sien ons God se welwillendheid vir die hemel en die aarde. Die kosmiese verlossing waarna die wyses en geleerdes van die wêreld steeds maar weer soek, wandel onverwags en kinderlik-eenvoudig ons wêreld binne. Só goed is God se bedoeling met die wêreld. En dít moet deur almal op kinderlike wyse aangeneem word. 

Broers en susters, die hele wêreld soek na verlossing, soek na uitkoms uit die probleme, soek na iets waaraan hulle kan vashou. Daar is ‘n G8- en ‘n G20-beraad oor ekonomiese sake, daar is ‘n Verenigde Nasies wat vrede probeer bewerk, daar is verdrae wat gesluit word om die klimaat te beskerm. En so dikwels soek ons naarstiglik saam met hulle! As die misdaad-statistieke uitkom, dan is ons tog te bly om te sien dat sekere vorme van misdaad met enkele persentasiepunte gedaal het – sjoe, dalk gaan dit tog beter met ons land. En as ons hoor dat die ekonomie weer tekens van opbloei begin vertoon, dan sien ons weer lig. En ons blaai die koerante deur, op soek na daardie snippertjie goeie nuus. En ons luister na die geleerdes en verstandiges wat voorspel waarheen die klimaat en die ekonomie en die politiek oppad is – miskien het húlle vir ons goeie nuus.

Maar uiteindelik mag en moet ons weet dat die geheim van die goeie nuus slegs by ons alwyse Vader te vinde is. Want, sê Jesus in die eerste deel van vers 27, niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader. Daarmee wil Jesus sê: niemand ken die ware Verlosser en die ware verlossing nie, behalwe die Vader, Hy wat die weg van verlossing bedink het. Hy het die goeie nuus, die evangelie, bedink! By die Vader vind ons ware welwillendheid vir ‘n mensdom in nood en by Hom vind ons ook die oplossing van daardie nood. En daarom is dit so belangrik om ons Vader te leer ken, broers en susters. Ons moet by Hom wees!

Goed, tot sover is dit duidelik, maar nou kom ons weer terug by ons aanvanklike vraag: hoe kan ons hierdie Vader ken? Want dit is nou mooi dat die goeie nuus by Hóm is en dat die Verlosser van Hóm af kom, maar hoe kom ons by Hom uit? Hoe ken ons Hom? Dit is ‘n belangrike vraag, broers en susters: hoe ken ons hierdie Vader? En aanvanklik lyk Jesus se woorde in ons teks asof dit nie werklik ‘n antwoord bied nie; Hy sê in vers 27: niemand ken die Seun nie behalwe die Vader – dít het ons sopas gehoor – maar aan die ander kant, sê Jesus, ken ook niemand die Vader nie, behalwe die Seun… Dit klink miskien mooi, maar dit help ons nog nie werklik verder nie, want ons sit hier in ‘n geslote sirkel van Vader en Seun. Die een ken die ander op ‘n volmaakte wyse – pragtig! – maar ons is nie deel daarvan nie. Die Vader ken die Seun en die Seun ken die Vader, maar waar pas ons in…?

Dit voel amper soos die talle geheime organisasies wat daar in die geskiedenis van ons land en die wêreld was: almal binne die organisasie ken vir almal, maar dié wat buite staan, weet van niks nie. Of ‘n voorbeeld vir die kinders: dit voel miskien soos by die skool waar ‘n paar kinders saam ‘n groepie vorm, terwyl hulle my nie toelaat om deel daarvan te wees nie; ek kan daar by hulle gaan staan, maar ek is nog steeds  nie deel van hulle nie; ek weet nie waaroor hulle praat nie, en ek ken ook nie hulle groepie-taal nie. Is dit nie wat hier tussen die Vader en die Seun gebeur nie? Groepie-taal, en ons staan buite…

En tog, broers en susters, word hierdie kennis van God waarin niemand deel nie en wat in beginsel vir ons verborge is, egter nie verborge gehou nie. Want Jesus kom juis om die geslote kring van Godskennis oop te maak. Hy wil die Vader aan ons bekendmaak: “niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader; ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun dit wil openbaar” (vers 27). Wonderlik, daar is ‘n opening! God máák ‘n opening deur sy Seun sodat Hy geken kan word! Maar… tog lyk dit asof hierdie opening beperk is – elkeen aan wie die Seun dit wil openbaar. Wie is hierdie ‘elkeen’? Beperk hierdie woorde van die Here Jesus nie die aantal mense wat in die kennis van God kan deel nie? Word sekeres nie maar tog weer uitgesluit nie?

Nee, gemeente, ons moet goed raaksien dat die klem nie lê op ‘n moontlike beperking van die aantal mense wat die openbaring mag ontvang nie; daar is nie ‘n beperking van kennis-oordrag nie. Nee, die klem lê op die eksklusiwiteit van die weg tot kennis! Slegs deur Jesus Christus kan ons God en sy geheim van verlossing leer ken; daar is geen ander manier nie! Wanneer jy jou kennis nie van Hóm ontvang nie, sal jy altyd in die duister bly rondtas. Niemand ken uit homself die Vader of die Seun nie; niemand ken uit homself God Drie-enig nie. Om daarom tot kennis van Hom te kom, is jy volledig afhanklik van die Seun. Daar is geen kennisweg na die Vader los van die Seun nie. Jy sal absoluut en verseker by Hom moet wees. Daar is dus net een moontlikheid om die Vader te leer ken: naamlik deur die erkenning van sy Gevolmagtigde, die Een aan Wie Hy alles oorgegee het, sy eie Seun. En Jesus loof die Vader vir hierdie unieke en hoogheilige kennisweg wat die Vader aan ons ontsluit deur Jesus Christus. 

Sien u nou, gemeente, hoekom ek die vraag hoe ons God kan ken, nog nie onmiddellik wou beantwoord deur dadelik na die Bybel te verwys nie. Want streng gesproke is dit nie die Bybel wat God aan ons openbaar nie. Streng gesproke is dit nie ‘n boek wat ons God leer ken nie; dit is God sélf wat ons God leer ken. As jy God se hart wil leer ken, dan moet jy daar wees waar God se hart klop: by Jesus Christus. Dit is Hy wat ons God leer ken! Ek kan die inhoud van die hele bybel ken en tog nog nie werklik vir Gód ken nie; ek kan die hele bybel deurlees en tog nog koud wees van binne; ek kan met die bybel opgroei tot dit by my ore uitkom, en nog steed nie ‘n lewende verhouding met Jesus Christus hê nie.

En moet nou nie dink dat ek vir een oomblik die Woord geringskat nie, maar ons moet besef dat Jesus Christus self die Woord is (Joh. 1)! Hy is nie maar net in die Woord, in die Bybel nie, Hy is die Woord! Hy is die dieper dimensie, waarvan ek in die inleiding gepraat het, wat ons in en agter die Skrif moet leer raaksien. Dus opsommend, gemeente: om die geheim van ons verlossing te leer ken, moet ons by die Vader wees, maar om die Vader te leer ken, moet ons by die Seun wees. En Hy máák God nie slegs bekend nie, Hy is sélf die Godsopenbaring, Hy is self God. In Hóm sien ons die Vader in al sy liefde en welwillendheid, in al sy nederigheid en sagmoedigheid (vers 29)! Wanneer Filippus in Johannes 14:8 sê: “Here, toon ons die Vader, en dit is vir ons genoeg”, dan antwoord Jesus half verontwaardig: “Ek is so lankal by julle, en het jy My nie geken nie, Filippus? Hy wat My gesien het, het die Vader gesien. En hoe sê jy: Toon ons die Vader? Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie?”

Gemeente, dit is nie vir een oomblik my bedoeling om, vir ons kennis van God en vir die kennis van ons saligheid, ‘n skeiding te maak tussen Jesus en die Bybel nie. Maar ons moet besef: om net die bybel te ken, is nie genoeg nie; om net die letters te lees, is nie genoeg nie. Ons moet Jesus Christus ken! Want Hy is die wysheid van God, waarvan ons in Spreuke 8 gelees het, wat van ewigheid af bestaan. Hierdie wysheid van God was daar toe die wêreld nog nie gemaak is nie, toe daar nog geen geen wêreldvloede was nie, toe die aarde en die velde en al die stoffies van die wêreld nog nie gemaak is nie. Hierdie wysheid was ‘n kunstenaar naas God toe Hy alle geskape het. Wie beter om ons in te lei in die geheimenisse van God? Wie beter om ons te leer luister na die hartklop van die Vader? En daarom dat Hy in die laaste verse van Spreuke 8 kan sê: “Luister dan nou na my, seuns; want gelukkig is hulle wat my weë bewaar… Gelukkig is die mens wat na my luister, … want hy wat my vind, het die lewe gevind.” Die lewe vind ons by Jesus Christus! En hoe vanselfsprekend dit ook al mag klink vir gereformeerdes, tog sien ons nog te veel dat gereformeerdes van die bybel die voorwerp van hulle saligheid maak, terwyl ons vergeet dat Jesus Christus ons Saligmaker is. Hy is die Een wat ons inlei in die hartsgeheime van die Vader!

En dáárom ook sy dringende uitnodiging in vers 28: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is…” En let goed op, gemeente, dit is nie maar ‘n vriendelike Jesus met sagte oë wat hier smeek om die aandag van mense nie. O nee, ons moet die klimaat in hierdie hoofstuk baie goed aanvoel; die klimaat van vers 21: “Wee jou, Gorasin, wee jou, Betsaida”; die hitte van vers 23: “Kapérnaum, jy sal tot die doderyk toe neergestort word”. Ons is hier in die sfeer van oorlog. Die woord wat Christus in ons teks gebruik vir “kom”, staan daarom ook in die bevelsvorm, dit is dus ‘n opdrag: Kóm, jy móét by My wees! Want by My leer jy God ken; God, die Meesterbrein agter die geheim wat vir eeue verborge was maar nou geopenbaar is; God, die Argitek van Verlosser en verlossing. Kom daarom, en leer van My!

Gemeente, ons kom dus nie na Christus omdat of wanneer ons God leer ken het nie. Nee, ons kom na Hom juis om God te léér ken! Wanneer ons na Christus toe kom, dan ontvang ons in-diens-opleiding van Hom. En dan leer ons nie maar net iets wat interessant is vir kennisname nie. Nee, dan leer ons kennis van God wat tot diep in ons harte neerslag vind. Ons word toegerus met kennis van God en met kennis van ons verlossing. Jesus Christus is die goddelike Onderwyser deur Wie ons God leer ken.

Gee u daarom gewillig oor aan die onderwysing van u Heiland, broers en susters, want Hy gee aan ons almal die goeie onderwys. Leer van Hom, wat sagmoedig en nederig van hart is, wie God is. Ja, in Christus wys God vir ons sy sagmoedigheid en nederigheid. ‘n Sagmoedigheid en nederigheid wat so diep gaan dat Hy bereid was om ons laste op Homself te lê; ja, Hy wat jou vermoeidheid en swakheid ken, was bereid om tot die dood toe vir jou vermoeid en swak te wees. Dit is jou God! Glo daarom dít wat Jesus Christus aan jou leer en verkondig, aanvaar wat Hy aan jou oor God bekendmaak. Want dit is werklik ‘n sagte juk en ‘n ligte las. Die juk wat ons onsself oplê om self die geheim van redding te vind en ons eie god te probeer skep, is ‘n ondraaglike las. Maar Christus se juk stel ons in staat om voort te gaan in hierdie lewe en nie van vermoeidheid inmekaar te sak en te sterf nie. Dit is die sagte juk wat van ons wandelaars maak op die koninklike weg na God toe!

Gemeente, hierdie uitnodiging van die Here Jesus kom in alle erns na ‘n ieder en ‘n elk van ons toe vandag, of jy tot nou toe werklik God geken het of nie. Die reikwydte van Christus se uitnodiging word nie bepaal deur jou persoon nie, maar deur die liefde van die Here. Daar staan immers nie: Kom tot my, almal wat gereeld hulle bybel lees; of: almal wat kan sê dat hulle God ken nie. Daar staan eenvoudig: Kom, almal wat vermoeid en belas is. Hiermee sluit Jesus nie aan by jou gevoel van vermoeidheid of nie-vermoeidheid nie. Hy sluit ook nie aan by jou kennis van jou belastheid en vermoeidheid nie. Nee, Hy sluit aan by die werklikheid van ons almal se lewens, naamlik die feit dat ons vermoeid en belas IS, of ons dit nou voel of nie voel nie, of ons dit nou weet of nie weet nie, of ons dit nou wil weet of nie wil weet nie. Dit is die realiteit by ons almal.

En omdat Christus nie aansluit by hoe ons na onsself kyk nie, maar na hoe ons in werklikheid IS, daarom kan Hy alle mense by hierdie uitnodiging insluit: Kom na my, almal! As Christus jou dan insluit in sy uitnodiging (omdat Hy weet dat jy só nodig het om God te leer ken), watter rede het jy dan om te wonder of die uitnodiging ook vir jou is…? Wie in die uitnodiging van Christus die insluiting van alle mense hoor, kom vandag, op hierdie oomblik en vra dan nie meer: “wat was ek in die verlede?”, nie; hy dink nie meer by homself: “ek het nog nie regtig met God gelewe nie”; sy dink nie meer: “maar ek ken God nog nie regtig nie.” Nee, hy en sy, jy en ek, kom dan en sê: dankie Here Jesus, dat U my geroep het om God te leer ken! Dankie dat U bereid was om mens te word, dankie dat U hier op aarde kom wandel het. Want dit is deur my sonde dat daar ‘n kloof tussen my en God gekom het. Dáár in die paradys was dit anders; daar het God en mens saam in die tuin gewandel, daar was alle geleentheid om God tot in sy diepste wese te leer ken. Maar die sonde het dit verander – ek wou en ek kon God nie meer leer ken nie. Here Jesus, dankie dat U daarom mens wou word, sodat ek God mag leer ken.

Gemeente, laat dít weer sentraal staan onder ons. Laat ons dít ons kinders leer en voorleef; leer en leef dít vir julle seun wat julle van die Here ontvang het. Wys hom wat dit is om Jesus Christus lief te hê en sy juk te dra. Want daardeur word ons, soos Petrus sê, deelgenote van die goddelike natuur. Gaan na Jesus Christus wat die weg, die waarheid en die lewe is.

Amen

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Votum Ps. 121:1
Seëngroet: Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen. Sing Ps. 29:1 en 5
Wetslesing + NT-bewerking
Sing Ps. 5:4-7
Doopsformulier en dankgebed
Sing Ps. 87:1 en 5
Lees: Spreuke 8:22-36
Mattheus 11:20-30
Teks: Mattheus 11:27
Preek
Amenlied Ps. 147:1, 2, 4
Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 43:3-5
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)