In die derde bede bid ons dat God se geopenbaarde wil in ons lewens sigbaar sal word

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2009-09-27
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 49
Verwysing: 
HK 49-0 (2009)
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

“Laat u wil geskied” – as ons praat van God se wil, waaroor gaan dit dan? Wat bedoel ons daarmee?

Wel, dit kan in die eerste plek verwys na God se raadsplan, daardie deel van sy wil wat vir ons verborge is. Dit is daardie deel van sy wil waarmee ons dikwels so worstel. Dit is vir ons so moeilik om te verstaan dat ek of my man of my vrou hierdie siekte moes kry. Dit is vir ons so verskriklik moeilik om te aanvaar dat die Here besluit het om my man, of my vrou of ons kind tot Hom te neem. En verder sou ons so graag wou weet wat God se wil vir my lewe is: watter werk gaan ek eendag doen? Gaan ek eendag ‘n man of vrou kry? Is hierdie een vir my bedoel? Watter keuse moet ek in hierdie of daardie geval maak?

Gemeente, hier gaan dit oor God se verborge wil, waarvan ons in artikel 13 van die NGB bely: “ons wil ook nie verder as wat ons kan verstaan, nuuskierig ondersoek instel na dié dinge wat God bo die vermoë van die menslike verstand doen nie; inteendeel, ons eerbiedig juis in alle nederigheid en in aanbidding die regverdige oordele van God wat vir ons verborge is. Ons is tevrede daarmee dat ons leerlinge van Christus is om slegs te leer ken wat Hy aan ons in sy Woord openbaar, sonder om die grense daarvan te oorskry.” In God se raad, sy verborge wil, het ons dus niks te soek nie. Ons bely slegs, en dit dikwels met groot moeite en tussen die trane deur, dat niks per toeval oor ons kan kom nie maar alles deur die beskikking van ons hemelse Vader oor ons kom.

Maar dan, broers en susters, is daar in die tweede plek ook God se geopenbaarde wil. Sy geopenbaarde wil is sy gebooie, sy wette vir ons lewe. Daarvan kan ons wel alles weet – vanuit sy Woord. God het sy Woord, die Bybel, aan ons gegee om aan ons te openbaar hoe Hy wil hê dat ons met Hom en ons naaste moet lewe.

Dus, wanneer ons praat oor God se wil, dan onderskei ons tussen God se verborge wil en sy geopenbaarde wil. En van hierdie twee moet ons saam met Moses in Deut. 29:29 sê: “Die verborge dinge is vir die HERE onse God; maar die geopenbaarde dinge is vir ons en ons kinders tot in ewigheid, om te doen al die woorde van hierdie wet.” Die geopenbaarde dinge is vir ons en ons kinders tot in ewigheid, om te doen al die woorde van hierdie wet – en gemeente, daarvoor bid ons in die derde bede: Laat u wil geskied! In die derde bede gaan dit dus nie oor die verborge dinge nie, maar oor die geopenbaarde dinge…

Tema: In die derde bede bid ons dat God se geopenbaarde wil in ons lewens sigbaar sal word.
1. God gee die bron, wat hierdie bede moontlik maak
2. God gee die voorbeeld, wat hierdie bede prakties maak
3. God gee die belofte dat dit eendag ons en alle mense sal wees

1. In die derde bede het ons dus te make met God se geopenbaarde wil, sy normatiewe wil vir ons lewe: hoe moet ons lewe voor sy aangesig, hoe moet ons optree teenoor ons naaste, wat is reg in verskillende situasies. Eenvoudig gestel: in die derde bede het ons te make met God se wette en gebooie wat ons gehoorsaam moet onderhou.

Maar hoekom dan daarvoor na God toe gaan? Die nakoming van God se gebooie is tog óns dankbare antwoord op God se genade, sy verlossing? Die verbond, waarin ons met God mag lewe, bestaan (volgens die doopsformulier) tog uit twee dele, ‘n belofte en ‘n eis? En die belofte is mos God se deel, terwyl die eis ons deel is? Ja gemeente, God se eis is inderdaad dié deel van die verbond waarin ons gelowig en gehoorsaam antwoord gee op sy liefdevolle verlossingswerk. Maar dit beteken nie dat ons hier met twee gelyke partye te make het nie – God doen sy deel, nou moet ons ons deel doen nie. Nee, broers en susters, ook wanneer ons opgeroep word om gehoorsaam op God se liefde te antwoord, dan nóg is ons van God afhanklik, dan nóg het ons nodig om van God alles te kry wat ons nodig het om aan hierdie eis gehoor te kan gee. “Here, laat u wil geskied” – wil U dit bewerk, wil U dit gee! Want ons, ons kan dit nie doen nie; ons het geen dryfkrag in onsself om God se geopenbaarde wil uit te voer nie.

En gemeente, dit is hier waar Johannes 15, wat ons saam gelees het, so belangrik is. Jesus het sopas die laaste Pasga met sy dissipels gevier en hulle is oppad na Getsemane waar Hy gevange geneem sal word. En dan begin Jesus sy laaste onderwys met die woorde: “Ek is die ware wynstok.” Wat die aanleiding hiervoor was, weet ons nie – miskien dat hulle oppad verby wingerde gekom het, of miskien het hulle by die tempel gestop waarvan die ingang met goue wynranke versier was. Wat die rede ook al was, die beeld wat Jesus hier gebruik, is vir die dissipels in elk geval nie onbekend nie. Die wynstok was in Israel ‘n nasionale simbool, nie slegs as aanduiding van die vrugbaarheid van die land nie, maar ook omdat God self die volk sy wynstok noem wat Hy uit Egipte uitgegrawe en in nuwe grond kom plant het. En daarom kan Jesus ook na die Vader verwys as die landbouer.

Die rede hoekom Jesus hierdie beeld gebruik, is omdat Hy wil aandui wat die verhouding tussen Homself en sy dissipels is. En dit is belangrik dat die dissipels dit weet, juis nou dat sy einde nader kom: wat is die verbintenis tussen hulle? En vir dié doel wys Jesus op die verbintenis tussen die wynstok en die lote. Die lote – sê maar, die uitlopers of die takkies – is aan die wynstok verbonde. En dit is ook nodig, want dit is die wynstok wat met sy wortels in die grond geplant is, en wat van daaruit alle nodige voedsel haal. Hierdie voedsel word dan via die sappe van die wingerdplant na alle lote vervoer, sodat die lote gesond kan wees en druiwe kan voortbring. Die loot kan nie op sy eie bestaan nie, hy het die wingerdplant, die wynstok, nodig om te bestaan en om vrugte voort te bring.

En elke nou en dan kom die landbouer om die wynstok te ondersoek. En dan doen hy twee dinge. In die eerste plek snoei hy – alle lote wat onvrugbaar is, word afgebreek en verwyder; sulke lote kán ‘n mens ook redelik maklik afbreek; hulle word weggegooi en naderhand verbrand. Maar in die tweede plek maak die landbouer ook skoon – die lote wat wel vrugbaar is, word skoongemaak van alles wat die groei kan verhinder; die jong druiwetrossies word uitgedun deur die klein of slegte vruggies tussen die ander uit te pluk om sodoende groter druiwe te kry.

En gemeente, dít is nou ook die verbintenis tussen Jesus en sy dissipels. Hy is die wynstok, hulle die lote. Om vrug te kan dra, moet hulle aan Hom verbonde bly, want dit is deur Hom (die wynstok) dat die lewenssappe met die nodige voedsel by hulle (die lote) uitkom. En elke nou en dan kom die landbouer om te snoei en skoon te maak. Dit is interessant om te sien dat Jesus se leerlinge reeds vroeër op daardie selfde aand met beide hierdie aksies te doen gekry het. Toe reeds is daar gesnoei en skoongemaak. Tydens die paasmaaltyd het Judas Iskariot homself immers uit hulle midde verwyder, en daarmee het God self hom afgesnoei; die aantal lote aan die wynstok Jesus het met een verminder, tot elf. Maar ook binne hierdie elf was daar ‘n skoonmaak-aksie – met die voetwassing tydens dieselfde aand, waarvan ons lees in Johannes 13, het Jesus die vrot vruggies van hoogmoed en selfversekerheid onder sy getroue dissipels verwyder, en aan hulle geleer wat ware diensbaarheid is. Die dissipels word dus hier geleer wat dit beteken dat Christus die wynstok is: hulle moet van Hóm lewe, hulle is van Hóm afhanklik!

Dus gemeente, om in gehoorsaamheid die eis van die verbond na te kom, beteken nie om as selfstandige party teenoor God te gaan staan, en jou deel van die ooreenkoms na te kom nie. Ons kán nie…! Erger nog: ons wíl nie! Nee, broers en susters, u en ek is nie die wynstok nie, ons is die lote. ‘n Wynstok kan op sy eie bestaan, die lote nie; die lote het nodig om aan die wynstok verbonde te wees, het nodig om uit die wynstok alles te haal wat nodig is om vrugte te kan dra. En wanneer ‘n loot losraak van die wynstok, dan verdroog dit, gaan dit dood – “sonder My kan julle niks doen nie”… (vers 5).

Slegs wanneer ons uit die lewenssappe van ons wynstok, Christus, drink, kan ons veel vrug dra; slegs wanneer ons put uit die bron, is die lewe moontlik; slegs in verbondenheid aan Jesus Christus kry jy wat nodig is om die gevraagde vrugte te dra. En daarom, gemeente, roep die derde bede nie in die eerste plek op tot aktivisme nie: “Ah, nou kan ons ons deel gaan bydra…” Nee, die derde bede is ‘n smeking wat in die eerste plek vra vir geloof in Jesus Christus; in die derde bede gee ons onsself oor aan die bron van ons lewe, klou ons onsself vas aan die wynstok. En dan… dan vloei die lewenssappe deur ons lewe! Dán vind ons die krag om ons eie sondige wil prys te gee, dán is ons in staat om te doen wat die Here van ons vra, om sonder enige teëpratery aan God se wil, wat alleen goed is, gehoorsaam te wees.

Dan werk die wynstok self dit in ons; eintlik is dit dan die wynstok self wat vrugte voortbring. Ja, dit is die wonder: óns moet vrugte van geloof en gehoorsaamheid dra, maar wanneer ons dit doen, dan moet ons bely: ek het niks anders gedoen as om maar net uit die wynstok te put nie, want – so skryf Paulus in Fil. 2:13 – dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae (sien NGB art 24).

Broers en susters, gryp daarom Jesus Christus in die geloof aan, groei in die band wat u met Hom het. Laat daardie band al hoe stewiger en hegter word, want slegs deur daardie band is die vloei van lewenssappe vanaf Hom na u gewaarborg. En doen dit spesifiek deur Jesus Christus se woorde in u te laat woon – kyk maar vers 7: “As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry”, en vers 3 wys ook op die reinigende krag van hierdie woorde: “Julle is alreeds rein deur die woord wat Ek tot julle gespreek het.” Wees daarom besig met God se Woord, deur saam in u huwelik bybelstudie te doen – soggens en saans. Laat ná die maaltyd die bybel oopgaan in u gesin, lees dit, verduidelik dit vir u kinders, wys hulle wie die Here Jesus is en wat die gebooie van sy koninkryk is. Neem die tyd om saans voor bedtyd met u kinders uit die kinderbybel te lees, bring hulle onder die indruk van die verhale, en van wat Jesus gedoen het. En soek na maniere om een van die bybelstudiegroepe in die gemeente te besoek, leer om voor mekaar te getuig wat Jesus in u lewe bewerk het. Gemeente, só kan ons lote wees wat vrugte voortbring, verbonde aan ons wynstok. Hier is die bron wat ons in staat stel om die bede “laat u wil geskied” vorm te gee in die praktyk van elke dag.

Daarop let ons nou vervolgens: God gee die voorbeeld, wat hierdie bede prakties maak.

2. “Laat u wil geskied” is egter nie al nie. Nee, Jesus voeg nog iets by: “soos in die hemel, net so ook op die aarde”. Die hemel – en uit die verklaring van die Kategismus kan ons aflei dat dit hier spesifiek oor die engelewêreld gaan – word as voorbeeld aan ons gegee. In die engelewêreld heers daar naamlik die grootste moontlike orde. Dit is ‘n goed georganiseerde samelewing, waarin elkeen sy taak het. Ja, daar is verskillende stande – ons lees in die Skrif van aartsengele, cherubs, serafs ensovoorts. En elkeen van hierdie engele het sy eie taak – die een moet veg, die ander moet God se oordele uitvoer, en weer ‘n ander moet boodskappe oorbring, soos die engele by die graf op die Paasoggend. Elkeen sy eie plek, elkeen sy eie funksie. En geen gemor onder mekaar oor wie nou eintlik die belangrikste is of wie wat moet doen nie. Hulle betwyfel nie die opdragte wat hulle kry nie, hulle gaan gewillig om die woord van die Here te volbring, hulle is gehoorsaam aan die stem van sy woord (lees maar Ps. 103). En omdat hulle wil volledig ooreenstem met die wil van God, heers daar in die hemel volmaakte harmonie. Daar is geen wanklank nie.

En dít, gemeente, word nou vir ons as voorbeeld gegee – die hemel, waar die engele sonder teëpratery, met groot vreugde, met totale oorgawe die taak doen wat God hulle gee, word aan ons voorgehou: só behoort dit ook op die aarde te wees! Dit behoort só te wees dat elkeen van ons sy amp en beroep net so gewillig en getrou sal uitvoer soos die engele in die hemel. En nie net op sondae nie; ons doen nie slegs die wil van die Here op die dag van die Here nie. Nee, amp en beroep verwys ons na die daaglikse lewe. Ons word opgeroep om in die gewone dinge God se wil uit te voer.

In die amp van profeet word jy, jongmens, geroep om te getuig van God se liefde vir sondaars teenoor jou ongelowige mede-student. In die amp van priester word jy, broer en suster, geroep om daardie arm bedelaar te help, vir hom te gee, hom te versorg. In die amp van koning word jy geroep om in die gemeenskap waarin jy leef die vreemde mag van die sonde teen te staan en te beveg, die onreg in die ryk van jou groot Koning te bestry! So volbring jy God se wil in die amp van profeet, priester en koning. Maar kyk, dit word nog meer alledaags en gewoon: ook in jou beroep is God se wil jou rigsnoer. Of ons nou kantoorpersoneel, winkeliers, bouers, huisvroue, predikante is. Elke beroep is ‘n roeping, ‘n goddelike roeping: “Laat my wil geskied daar waar jy jou daaglikse werk doen.”

Gemeente, God vat ons dus na ons huise, ons binnekamers, die kantoor, die straat, die skool, en dan sê Hy: “Dáár wil Ek sien dat julle ander mense is, dáár wil Ek sien dat julle aan Christus verbonde is, dat julle gevoed word deur Hom, dat julle gesonde vrugte voortbring.” En hoe dikwels in die geskiedenis het die Koninkryk van God nie al skade gely deur die lewensstyl van sy kinders nie? ‘n Lewensstyl wat nie klop met wat ons glo en leer nie… ‘n Lewensstyl wat vloek met die wynstok waaraan ons verbonde is, of dink te wees… Ons is dikwels so inkonsekwent wanneer dit kom by ons lewensstyl, ons vroomheid voor die Here. Ons sukkel so om ons eie wil prys te gee, en daarmee berokken ons God se Naam en sy Koninkryk skade, ons gee die wêreld rede om te spot en te lag.

En daarom dwing die derde bede ons op ons knieë om die Here te smeek om ons die gehoorsaamheid te leer waardeur sy Naam geheilig word, en sy Koninkryk kom! Ons gee onsself heeltemal aan Hom oor om van ons mense te maak wat ons eie wil prys om aan sy wil gehoorsaam te wees. En dan is dit nie slaafse gehoorsaamheid nie; nee, gewillig en getrou! God vra nie dat ons oë- en lippediens sal bewys nie, maar Hy vra ons harte. Jesus gebruik so ‘n pragtige beeld om dit aan sy dissipels te leer. Hy sê in Joh. 15:15: “Ek noem julle nie meer dienskengte nie, omdat die dienskneg nie weet wat sy heer doen nie. Maar Ek het julle vriende genoem, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het.” Vriende – vriende van God en van Christus, vriende vir wie Christus sy lewe oorgegee het, vriende wat gewillig en getrou ons taak in hierdie wêreld nakom. Ons verrig vriendediens, en vriendediens is altyd liefdesdiens! Dan word ons nie meer gedryf deur vrees nie, maar deur liefde.

En daarom beveel Christus sy dissipels ook tot twee keer toe in hierdie hoofstuk dat hulle mekaar moet liefhê. Nie ‘n liefde wat uit hulleself kom nie; nee, dit is ‘n liefde wat spruit uit hul verbondenheid aan Hom: “Soos die Vader My liefgehad het, het Ek ook julle liefgehad. Bly in hierdie liefde van My.” Dit is wat Christus vra: die liefde wat julle, in jul verbondenheid aan My, ontvang het, leef dit uit na mekaar. Bewys jul liefde in die gewone lewe, in die werk en in die speel, in mooi tye, maar ook in swaar tye. En gemeente, só kry die lewe vorm, só sien ons iets van die lewe in die hemel, daardie goed georganiseerde en liefdevolle samelewing waar elkeen van die engele gewillig hul taak volbring. So begin ons reeds iets sien van die ewige lewe waar dit hemel op aarde sal wees.

Daarop let ons nog ten slotte: God gee die belofte dat dit eendag ons en alle mense sal wees.

3. Die kategismus het ‘n opvallende invoegsel in die eerste sin van die verklaring van die derde bede: “gee dat ons en alle mense…” Of dalk is dit nie so opvallend nie. Ons bid immers: “Laat u wil geskied, soos in die hemel, net so ook op die aarde.” U sien die breë gesigsveld wat die derde bede hier na vore bring. Sover as wat die aarde reik, en waar daar ookal mense woon: Laat daar u wil geskied! En alhoewel ons weet, broers en susters, dat nooit alle mense aan God gehoorsaam is of ooit sal wees nie, moet ons nie daarom hierdie bede vernou tot slegs die kerk nie. Ons gaan sit nie maar in ons hoekie om daar God se wil te doen nie; ons is nie maar ‘n groepie met vreemde reëls en gewoontes nie. Nee, ons is burgers van God se Koninkryk, daardie Koninkryk waarvan ons verlede week gesien het dat dit ‘n ewige Koninkryk is wat alreeds die oorwinning behaal het.

En daarom is God se wil nie iets vir onsself nie, dit is geen privaat lewensstyl nie. Nee, ons het immers reeds in die vorige punt gesien dat hierdie bede ons in die gewone lewe van elke dag plaas, daar waar ek in my werk die ongelowige en die godslasteraar teëkom, daar waar ek by die skool weerstand teen God se wet ontdek, daar waar ek in die straat ongehoorsaamheid bemerk. Dáár het ek die opdrag om God se wil uit te leef, nie as ‘n eienaardigheid waaraan mense hulle vergaap nie, maar as ‘n roepende: alle mense moet só lewe, alle mense moet hul eie wil prysgee, alle mense moet gewillig, HEER, u wil volbring.

Maar gemeente, wanneer ons dít bid, dan bid ons ook vir eendag wanneer alle mense God se wil gewillig sál volbring. Dan sal dit hemel op aarde wees, dan is alle goddeloses en sondaars van die aarde verwyder. Alle mense wat dan die aarde sal bevolk, sal mense wees wat aan Christus verbonde is. Dan sal werklik alle eer en heerlikheid aan God behoort, dan sal God se wil, wat alleen goed is, volmaak heers.
In die derde bede bid ons dus dat dit eendag op die aarde sal lyk presies soos wat dit vandag alreeds in die hemel lyk: ‘n gemeenskap, ‘n samelewing van vrede en harmonie, die skare van 144 000 waarvan nie ‘n enkele persoon se wil sal verskil van dié van God nie. Dan sal ook hierdie bede stil word, wonderlik stil, want dan sal almal doen wat God behaag.

Amen

 

Liturgie (aand)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 47:1, 3 en 4
Gebed
Lees: Johannes 15:1-17
Kollekte
Belydenis van geloof (staande en singende)
Teks: HK, Sondag 49
Preek
Amenlied Ps. 40:3 en 4
Gebed
Slotsang Ps. 103:9-11
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)