God kla volk en priesters aan omdat hulle sy openbaring misbruik...

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2009-09-06
Teks: 
Hoséa 4:1-9
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Enkele weke gelede het ons vanuit Psalm 147 gesien dat God Homself aan ons bekend maak; ons kan God kén. Daarna het ons vanuit Genesis 18 gesien dat God selfs toelaat dat ons sy gedagtes kan lees; God steek vir ons niks weg wat vir ons saligheid nodig is nie. En ons is bevoorreg, broers en susters, wanneer die Here Homself só aan ons en aan ons kinders openbaar, want Hy doen dit nie met almal nie, nie alle mense het die geleentheid om God so persoonlik te mag ken nie. En ek dink nie ons besef dit genoeg nie – die rykdom om die Here op soveel maniere en so dikwels in ons gemeentelike lewe te hoor spreek.

Maar nou is die vraag – en daarmee wil ons onsself vandag besighou – hoe reageer ons op hierdie bekendmaking van God? Wat doen ons met hierdie rykdom aan kennis? Want u ken waarskynlik die uitdrukking: adeldom verplig. Baie eenvoudig beteken dit dat wie baie ontvang het, van hom sal ook baie meer rekenskap geëis word. As die Here Homself aan sy kerk bekend maak, as Hy aan sy kinders die geleentheid gee om sy gedagtes te lees, ja, dan spreek dit vanself dat Hy ook baie meer van hulle sal verwag as van mense aan wie Hy Homself nie geopenbaar het nie. Die verantwoordelikheid van die kenners van God is soveel groter as dié van die onkundiges. Van jou en my wat in gelowige gesinne opgegroei het, wat die geleentheid gehad het om ‘n gereformeerde skool by te woon, wat die voorreg gehad het om katkisasie te ontvang, elke week die suiwer prediking te hoor, ‘n opbouende bybelstudie te mag beleef – van ons sal groot rekenskap geëis word. Dit is nie verniet dat Petrus sê dat die oordeel by die huis van God sal begin nie. Dáár het Hy Homself immers bekend gemaak, dáár sal Hy dan ook heel eerste vra: wat het julle met hierdie reddende kennis gedoen? Dit bring ons dan ook by ons Skrifgedeelte vir vandag…

Tema: God kla volk en priesters aan omdat hulle sy openbaring misbruik...
1. Die volk
2. Die priesters

1. “Hoor die woord van die Here, o kinders van Israel. Want die Here het ‘n regsaak met die inwoners van die land...” – so begin ons Skrifgedeelte. Dit is nie die eerste en enigste keer in die Ou Testament dat ons sien hoe die Here met sy volk – en hier in besonder met Israel, die tienstammeryk – ‘n regsaak aangaan nie. Nee, daar is verskeie ander voorbeelde hiervan. En dit is ook nie vreemd nie, broers en susters, want hoewel die Here in ‘n liefdevolle verhouding met sy volk staan, is dit tewens ‘n verhouding met regsgronde, ‘n verhouding met regte en verpligtinge waarop die verskillende partye mekaar kan aanspreek. En dit is presies wat God dan ook verskeie male in die geskiedenis van sy omgang met sy volk doen – Hy, wat trou is aan sy verbond en wat sy beloftes hou, Hy kla sy volk aan dat hulle nie die antwoord gee wat hulle aan Hom verskuldig is nie. Hy begin met hulle ‘n regsaak!

Maar goed, wat is dan in hierdie spesifieke geval die aanklag, hoe lui die klagstaat? Wel, volgens vers 1 het die Here ‘n regsaak met sy volk, omdat daar geen trou en geen liefde en geen kennis van God in die land is nie. Geen trou en geen liefde meer nie – dit is ernstige gebreke! Gebreke wat tot uiting kom in die lys van sondes wat Hosea in vers 2 opnoem: “Hulle sweer en lieg en moor en steel en pleeg owerspel; hulle breek in, sodat bloedbad aan bloedbad raak.” Ja, só kom die troueloosheid en die liefdeloosheid van die volk op ‘n skokkende wyse tot uiting. Maar, gemeente, ons is hier nog nie by die kern van die saak nie. Dit is belangrik om raak te sien dat ons die werklike oorsaak van hierdie gebreke eers in die laaste deel van die klagstaat vind – daar is geen kennis van God meer nie! Hierdie gebrek aan kennis is die eintlike probleem; hier vind ons die wortel en die fontein van die ander gebreke. En dít vorm dan ook in die vervolg van Hosea 4 die fokuspunt van die Here se regsaak met sy volk, naamlik hulle gebrek aan kennis.

Nou, gemeente, as hier gepraat word van ‘n gebrek aan kennis, dan moet ons nie dink dat die volk min of niks van God af geweet het nie. Nee, dit kon nie die geval gewees het nie, want die Here het Homself dan op allerlei maniere aan hulle geopenbaar; onthou u nog Psalm 147: “Hy maak aan Jakob sy woorde bekend, aan Israel sy insettinge en sy verordeninge. Só het Hy aan geen enkele nasie gedoen nie!” En wat van Genesis 18: “Sal Ek vir Abraham verberg wat Ek gaan doen?” Nee, broers en susters, hierdie gebrek aan kennis is geen onkunde nie; dit is eerder ‘n verbondsterm wat ‘n gebrek aan erkenning aandui. Die volk het God verseker geken, maar die vraag is: wat het hulle met daardie kennis gemaak? Het hulle daardie kennis hulle eie gemaak en dit vrugbaar op hulle lewens laat inwerk? Het hulle God se openbaring aan hulle beantwoord met ‘n lewe van liefde en trou? Nee, en dít is dan ook die Here se klag: die kennis het kennis gebly en dit het nie tot erkenning gelei nie. Wat die Here eintlik van die volk se kant af gesoek het, het maar net nie gekom nie!

Nou, hierdie kennis-sonder-erkenning het op ‘n baie spesifieke wyse onder die volk tot uiting gekom – Hosea praat daaroor in vers 4: “Laat net niemand met ons twis of ons berispe nie! Nogtans is jou volk soos die wat die priester twis.” Om hierdie vers goed te kan verstaan, moet ek u eers saamvat na Deuteronomium 17, wat ons saam gelees het.

In die laaste verse van Deuteronomium 16 reël die Here wat moes gebeur as daar tussen volksgenote ‘n regsaak ontstaan het. Vir daardie gevalle was daar plaaslike regters en opsigters wat regverdige uitsprake moes lewer. Dit wil voorkom asof daar vir elke stam sulke regters en opsigters was. Maar, sê die Here dan in hoofstuk 17:8 en 9, “as ‘n saak vir jou te swaar is om te beslis … dan moet jy klaarmaak en opgaan na die plek wat die HERE jou God sal uitkies; en jy moet kom na die Levitiese priesters en na die regter wat daar in dié dae sal wees, en jy moet uitvra; dan sal hulle jou die geregtelike uitspraak te kenne gee.” Dus, in moeilike sake het die tabernakel – en later die tempel – as ‘n soort hoërhof diens gedoen; dáár het die priesters uitspraak gelewer in hierdie moeilike sake. 

Maar hoekom moes die priesters hierdie werk verrig? Dit was mos nie asof die priesters meer geweet het as die plaaslike regters en opsigters nie, of hoe? Nee, broers en susters, ons vind die rede in vers 9, waar ons lees “en jy moet uitvra” – die Hebreeuse woord wat hier gebruik word, het dikwels die betekenis “om ‘n woord van die Here te soek”. Dus, die betrokke partye moes nie soseer die priester uitvra nie, hulle moes nie voor die priester kom omdat hy ‘n klinkklare antwoord vir hulle saak gehad het nie, maar hulle moes van die priester ‘n woord van die Here vra. Hulle moes na die priester gaan sodat die Here uitspraak in die betrokke saak kon gee, sodat die Here se woord kon klink. En ons wéét vanuit ander gedeeltes in die Skrif dat dit die taak van die priester was om as ‘n soort bemiddelaar tussen God en die volk op te tree – enersyds moes hy namens die volk tot God offer en bid, maar andersyds moes hy ook God se woorde aan die volk oordra. En hierdie laaste is nou presies wat hier die geval is – wanneer ‘n regsaak te swaar is vir die plaaslike regters, kom dan na die priester, sodat hy die woord van die Here oor hierdie saak kan spreek.

En dit is dan ook die rede waarom ons vervolgens in vers 11 lees: “Ooreenkomstig die wet wat hulle jou leer en volgens die regspraak wat hulle jou sê, moet jy handel; jy mag nie regs of links afwyk van die uitspraak wat hulle jou te kenne gee nie.” Die uitspraak van die priester was dus finaal. Iemand kon nie appél daarteen aanteken nie; geen hoër beroep was moontlik nie – immers, jy het jouself dan sopas op die hoogste moontlike gesag beroep: die Here! Die lewende God het sopas uitspraak in jou saak gelewer, en wie sou nie sy uitspraak – sy Woord! – gehoorsaam nie!? Gevolglik lees ons in vers 12: “Die man wat vermetel handel, dat hy nie luister na die priester wat staan om daar die HERE jou God te dien, of na die regter nie – dié man moet sterwe. So moet jy dan die kwaad uit Israel uitroei.” As iemand dit durf waag het om die uitspraak van die Here te verontagsaam, dan moes hy doodgemaak word. Die Here het nie sulke rebelse hoogverraad onder sy volk geduld nie. Sy uitspraak, sy woord, moes deur elkeen erken word as die hoogste gesag!

Gewapen met hierdie kennis gaan ons nou terug na Hosea 4, en dan lees ons teen hierdie agtergrond die laaste gedeelte van vers 4: “Nogtans is jou volk soos die wat met die priester twis!” Die volk twis met die priester – maar wat het nou geword van Deuteronomium 17? Wat het geword van respek vir die uitspraak van die priesters? Wat het geword van die opdrag dat die volk, met die dreiging van die dood in hulle ore, volgens die regspraak van priesters moes handel? Sien u wat hier gebeur, gemeente? Die volk het nie meer die uitsprake van die priesters aanvaar nie. Teen die bindende uitsprake van die priesters, wat in wese die woord van die Here was, het die volk hulle voortdurend verset. Hulle wou hulle nie meer by die daardie uitsprake neerlê nie, hulle wou nie meer die woord van die Here erken nie!

O ja, hulle het nog die woord van die Here geken – hulle was immers God se volk! – maar hulle wou daardie woord nie meer erken nie; hulle was nie meer bereid om dit hulle eie te maak en daarvoor te buig nie. Indien hulle dit wel sou gedoen het, sou dit met die gesweer en gelieg en gemoor en gesteel en met die owerspel van vers 2 verseker stukke beter gegaan het; terloops, dit geld maar vir enige samelewing – waar die reg nog gerespekteer word, daar word die sonde van die mens binne sekere perke gehou; maar waar die reg verag word, daar vier die sonde en die misdaad hoogty.

Gemeente, God se volk het sy woord nog geken, hulle het God sélf nog geken, maar hulle het hul nie meer aan Hom gesteur nie, hulle het Hom nie meer erken nie! Hulle het selfs kritiek op sy gesagvolle woord geuiter.

Intussen egter, en dit tipeer nou die arrogansie van die volk, kon hulle geen kritiek op hulleself verduur nie: “laat net niemand met ons twis of ons berispe nie…” (lees maar die eerste deel van vers 4). Terwyl die volk oorgeloop het van kritiek op die uitsprake van die priesters, en daarmee uiteindelik God se Woord verag het, kon hulle dit nie vat dat ander hulle teregwys nie. Niemand moes dit waag om hulle voor die regter te daag nie, niemand moes dit selfs waag om hulle te bestraf of versigtig op hulle sondes te wys nie. Hulle het hulleself die reg van kritiek op die woorde van die Allerhoogste toegeëien, maar wee diegene wat ‘n woord sou sê oor hulle of hulle lewenswandel! Dít was die haglike toestand van die volk in die dae van Hosea; dit was ‘n omgekeerde wêreld: die mens kritiseer God, maar wee God as Hy deur sy ampsdraers die mens teregwys. 

Gemeente, sien ons vandag nie baie hiervan terug nie? Lê hierdie woord van Hosea nie gedeeltelik die seer plek van ons kerklike lewe bloot nie? Ons is dikwels tot oorlopens toe vol met priesterkritiek – en dan gaan dit nie daaroor dat ons teregte kritiek uitoefen op die ampsdraers of op die prediking nie. Dit mag en dit moet gedoen word! Nee, dit gaan daaroor dat ons die Woord van die Here – en natuurlik kom daardie woord deur die diens van die ampsdraers na ons toe – maar dat ons die Woord van die Here dikwels eenvoudig ignoreer. Ons sien lidmate wat deur ampsdraers opgeroep word om die gemeentelike bybelstudie by te woon, jongmense wat opgeroep word om die jeugverenigings by te woon, wat hulle eenvoudig nie daaraan steur nie; ons sien broers en susters wat tydens huisbesoeke vanuit die Woord van die Here vermaan word oor ‘n spesifieke aspek van hulle lewenswandel, wat uiteindelik eenvoudig hulle eie kop volg; ons sien gemeentelede wat deur die prediking opgeroep word, en wat hier uitstap en vergeet dat dit ook vir húlle bedoel is. En intussen loop ons oor van priesterkritiek!
Maar besef, broers en susters, dat priesterkritiek so maklik Skrifkritiek kan word! Skrifkritiek – ‘n verskriklike woord vir gereformeerde ore. En nee, ek bedoel dit ook nie in die gewone sin van die woord nie. Niemand van ons sal dele uit die Skrif weglaat of sê dat dit nie God se Woord is nie; almal van ons sal Genesis 1 letterlik lees en die opstanding van Christus as ‘n liggaamlike opstanding erken. Nee, dit is nie die soort Skrifkritiek wat ek bedoel nie. En tog kan gereformeerde mense intussen wel die ergste Skrifkritici wees wat daar is, deurdat ons die Woord lees en dit hoor, maar dit daarna eenvoudig langs ons neersit en ons nie daaraan steur nie. Ons is soms net soos Israel wat die regterlike uitsprake van die priester gehoor het, maar dit vervolgens ook misken het. Ons wil ons nie daaraan onderwerp nie, ons wil nie daarvoor buig nie. En laat nou ‘n slag iemand dit waag om my te vermaan, laat tydens ‘n huisbesoek die ampsdraer my oproep om met die sonde te breek, of my voorhou dat ek die minste moet wees teenoor my broer of suster… Ja, dan vlam die protes op, dan word daar aan my onreg gedoen, dan teken ons appél aan! En onbewustelik kan daar ‘n gees groei van voortdurende kritiek op dié wat met die Woord kom, terwyl ons nie meer bereid is om onsself onder die kritiek van die Woord te plaas nie.

Gemeente, ons is ryk in die wyse en in die oorvloed waarin die Here met sy Woord na ons toe kom. Maar wat maak ons met daardie Woord? Erken ons dat die Here daarin spreek? Laat ons daardie woord vrugbaar op ons lewens inwerk?

Waak teen die Skrifkritiek! Waak daarteen om God se Woord te hoor en te ken, maar intussen vol te wees van die priesterkritiek. En waak verder vir wat daarmee saamgaan, naamlik ‘n weiering van elke vorm van kritiek op jou eie lewe. Want die Here se kritiek oor die kritieklose Skrifkritici sal verskriklik wees. Hulle sal eendag vir die Here sê: “Ons ken U, ons ken U baie goed, ons het baie van U gehoor, want U het op ons strate geleer.” En dan sal die Here sê: “Ek ken julle nie!”

Broers en susters, wanneer die Woord na ons toe kom, kom ons aanvaar dit as die hoogste gesag. Daar is geen appél daarteen moontlik nie, ook al word dit deur ‘n gebrekkige mens gebring. En as daardie woord jou roep tot bekering van ‘n spesifieke sonde in jou lewe, buig dan daarvoor; as daardie woord jou roep om die eredienste getrou by te woon, moenie jou eie kop volg nie; as daardie woord jou roep om aan jou kinders die goeie voor te hou, moet hulle dan nie die verkeerde gee nie. As daardie woord roep, luister!  Want die Here spreek daarin, en Hy vra dat ons Hom sal ken en erken. En ons het alle geleentheid daartoe, want die Woord woon ryklik in ons midde. Op allerhande maniere spreek die Here in ons gemeentelike lewe; kom ons luister en glo dan, en kom ons maak sy Woord ons eie!

In die tweede plek let ons nog kortliks op die priesters.

2. Gemeente, Hosea is nog nie klaar met sy bestraffing nie. Hy het nou wel die volk vermaan, maar hy laat nie vervolgens die priesterstand met rus nie. Hy het die volk vergelyk met diegene wat met die priester twis, maar dit wil nie sê dat alles met die priesterstand in orde was nie. Nee, beslis nie, en daarom gaan Hosea nou daartoe oor om ook priesterkritiek te beoefen. Maar nie priesterkritiek van dié soort wat die volk beoefen het nie. Nee, hy beoefen gegronde priesterkritiek, priesterkritiek wat hy van die Here ontvang het. Maar wat was dan die probleem met die priesters in Israel?

Wel, ons het gesien dat dit nie goed gegaan het met die volk nie: diefstal, moord en egbreuk was aan die orde van die dag. En hoewel die volk beslis nie sonder skuld was nie, was hierdie situasie vir ‘n groot gedeelte tog die skuld van die priesters. Hulle het immers die taak gehad om die volk te onderrig in die woord en wet van die Here, maar hulle het dit nie gedoen nie! En die gevolg is dat die volk besig was om te gronde te gaan weens ‘n gebrek aan kennis, kennis wat die priesters hulle eintlik moes bybring.

Maar daar was meer… Daar was nie slegs nalatigheid om die volk die nodige kennis by te bring nie; nee, daar was van die kant van die priesters selfs ‘n doelbewuste verlustiging in die sonde van die volk. Kyk maar na vers 8: “Hulle lewe van die sondoffer van my volk, en na dié se ongeregtigheid verlang hulle siel.” Letterlik staan daar: “Hulle eet die sonde van my volk.” Hierin hoor ons ‘n verwysing na die sondoffer, want as ‘n lid van die volk ‘n sondoffer kom bring het, dan was die vleis van daardie sondoffer vir die priesters om te eet. Maar Hosea sê nie – soos in ons vertaling staan – hulle eet die sondoffers van my volk nie, want dit was nie verkeerd nie. Nee, hy sê: hulle eet die sonde van my volk! Dit was vir die priesters van Hosea se dae voordelig dat die volk so gesondig het, want hoe meer sonde, hoe meer sondoffers, met die gevolg dat daar meer vleis was vir hulle. Hulle het met groot tevredenheid toegesien hoe die mense met hulle sondoffers aangekom het; dit was vir hulle goeie besigheid. En hoe meer hulle aansien by die volk gestyg het – omdat hulle niemand oor hulle sondes vermaan het nie – hoe meer het hulle voor die Here gesondig (vers 7).

Maar dan verkondig die Here dat Hy die priesteramp van hulle sal wegneem. Want ‘n ware priester sou liewer doodgaan van die honger as om op só ‘n wyse sy maag te vul. Ons groot Hoëpriester, Jesus Christus, Hy was só ‘n priester. Hy het doodgegaan van die sonde van sy volk. Die priesters in Hosea se tyd het hulle lewensverryking gesoek in dít wat vir die Priester van die Nuwe Verbond die vernietiging van sy lewe sou beteken. Hulle wou lewe van die sonde, waarvoor Christus wou sterf. Waar die priesters deur die offers en ander seremonies van die wet veronderstel was om Christus uit te beeld, was hulle besig om hulle eie maag te vul met die sonde van die volk. Dít was Hosea se vlymskerp kritiek teen die priesters, teen diegene wat die volk tot erkenning van hulle God moes bring.

Broeders ampsdraers, laat ons asseblief nie soos die priesters in Hosea se dae wees nie, maar laat ons die voorbeeld van Jesus Christus volg. Christus leer ons dat die hart van hom wat waarlik priester is, sal bloei oor die sonde van die volk van God; die ware priesterhart sal seerkry oor sondes in die gemeente en hy sal dit nie net daar kan laat nie. Christus het sy siel uitgestort in die dood vir ons sondes, en sou ons dan daarvan eet en ons daarin verlustig? Nee, laat dit vir ons van die grootste belang wees om die kinders van die Here kennis te leer, en om hulle te bring tot erkenning van sy Woord. Laat hierdie volk, hierdie gemeente van Christus, nie te gronde gaan weens ‘n gebrek aan kennis nie. Dit is ons taak in besonder om die gemeente toe te rus met alles wat hulle nodig het om van die sonde weg te vlug en Christus alleen na te volg! Dit is ons taak om die jeug daartoe te bring dat hulle God se openbaring wil beantwoord. Dit is ons taak om daarop toe te sien dat die lidmate alle moontlike geleenthede benut om God beter te leer ken. En dit is ook ons taak om, waar daar ernstige sonde is, lidmate met die Woord te vermaan. Dit is ‘n verantwoordelike opdrag, een waarvan ons eendag rekenskap sal moet gee. Maar laat u dryf deur die selfopoffering van Jesus Christus vir sy skape.

Broers en susters, seuns en dogters, wat doen ons met God se openbaring aan ons? Hoe reageer ons op die feit dat Hy Hom aan ons bekend maak? Konkreet: wat doen ons met die preke? Wat doen ons met die huisbesoeke? Wat doen ons met dit wat ons uit die bybel lees? Wat doen ons met wat ons by die katkisasie leer? Mag die Gees ons lei sodat ons kan kom tot toeëiening van God se openbaring, dat ons in geloof leer sê: dit is vir my! Christus het dit vir my verdien! En dan hoef God oor ons nie meer te kla nie. Dan hoef die oordeel wat God deur Hosea oor volk en priester aangekondig het, nie oor ons voltrek te word nie. Dan word ons lewe slegs op God gerig, soos Openbaring 1:5 en 6 sê: “Aan Hom wat ons liefgehad het en ons van ons sondes gewas het in sy bloed, en ons gemaak het konings en priesters vir sy God en Vader, aan Hom die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid.” Dit, broers en susters, is ware erkenning!

Amen

 

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Votum Ps. 121:1
Seëngroet: Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen. Sing Ps. 87:1, 2, 4 en 5
Sing voor die wet: Skr. 26:1
Wetslesing
Sing na die wet: Skr. 26:10 en 11
Gebed
Lees:  Hosea 4
 Deuteronomium 17:8-13
Sing Ps. 99:3-5
Teks: Hosea 4:1-9
Preek
Amenlied Ps 119:22, 39
Gebed
Kollekte
Slotsang Skr. 41:4-7
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)