Christus lê die Vader-naam op ons lippe

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2009-09-06
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 46
Verwysing: 
HK 46-0 (2009)
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Tot wie bid ons? Tot wie rig ons ons gebede? Dit is geen onbelangrike vraag nie. Ons het immers alreeds vanuit Sondag 45 gesien dat dit een van die vereistes van ‘n gebed is wat God behaag en deur Hom verhoor word, naamlik dat ons slegs die enige ware God moet aanroep, soos wat Hy hom in sy Woord geopenbaar het. Dus, ons moet baie goed bewus wees tot wie ons ons gebede rig. En hier lê dan ook dikwels een van die eerste probleme van baie mense se gebedslewe, naamlik dat hulle nie meer deeglik weet met wie hulle praat nie. Ja, hulle glo dat daar iets daarbo is, ‘n hoër mag wat regeer. Of hulle roep een of ander opperwese aan. Maar in die praktyk van die daaglikse gebed word duidelik dat só ‘n gebed nie werklik suksesvol kan wees nie.

Maar ook by ons kom hierdie probleem voor, broers en susters, miskien meer verfynd, maar tog… Dit kan naamlik gebeur dat God vir ons ‘n dogma word, ‘n leerstuk in ons koppe. God is daar, ons weet van hom – hoe kan dit dan ook anders as jy soveel jaar lank by Johannes Calvyn skool gegaan het, sewe jaar se katkisasie deurloop het en elke dag verskeie kere uit die bybel lees. Natuurlik weet jy wie God is. Maar intussen, wanneer jy saans jou oë toemaak om te bid, voel dit asof jou gebed nie verder kom as die plafon nie. Jy bid, ja, maar jy ontvang niks nie; jy soek, maar jy vind nie; jy klop, maar daar word nie oopgemaak nie. Broers en susters, besef baie goed dat jou gebed reg aan die begin alreeds ‘n mislukking kan wees, dat jou gebed by die eerste woorde alreeds kan platval. Wie nie weet tot wie hy bid nie se gebed beland in ‘n lugleegte. En wie weet, dalk bereik dit êrens ‘n god…

Maar die Skrif leer ons om ons gebede anders te begin. Ons bid nie in ‘n lugleegte nie, ons hoop nie maar net dat ons gebede êrens uitkom nie. Nee, die Here Jesus kom gee aan ons ‘n baie spesifieke gebedsaanspraak; baie bewustelik kom lê Hy die Vader-naam op ons lippe: “Onse Vader wat in die hemel is…” En dit is dan ook die tema vir die verkondiging van die Woord vanaand:

Tema: Christus lê die Vader-naam op ons lippe.
1. Ons moet deur Christus tot die Vader gaan
2. Ons mag met die Vader deur die lewe gaan

1. Broers en susters, die tema is dus dat Christus die Vader-naam op ons lippe lê. Dit kom dus skynbaar nie van onsself af nie… Skynbaar neem ons dit nie self op ons lippe nie… Meer nog: ons mag dit nie eens op ons lippe neem nie. Ja gemeente, laat ons dit maar baie duidelik vir mekaar sê: Ons, ek, het geen reg om vir die God in die hemel “Vader” te noem nie. Ons het immers ons kindskap verbeur, ons het self besluit om ons kindskap in te ruil… vir slawediens. Vrywillig en gewillig – niemand het ons daartoe gedwing nie! – het ons die duiwel ons heer gemaak. En soos die Here Jesus ons leer: ons kan nie twee here dien; ons kan nie van ons Vader in die hemel praat, en intussen ook die vader van die leuen navolg nie.

Wanneer ons dus tog die moed het om as gelowiges God “Vader” te noem, dan moet dit van buite ons af kom, dan moet dit aan ons gegee word, dan moes iemand anders dit op een of ander wyse vir ons moontlik gemaak het. Wanneer ons die vrymoedigheid het om die Almagtige “Ons Vader” te noem, dan beteken dit dat ons op ‘n manier weer kinders geword het, dan beteken dit ook dat iets of iemand God se toorn oor ons sondes moes gedra het.

Gemeente, nou verstaan ons ook waarom ons altyd in die Naam van Jesus Christus tot God bid. Hy, God se eie Kind, is die Een wat die sonde gedra het, daardie ondraaglike las. Ondraaglike las? Ja, ondraaglik vir ons mense, al daardie sondes, keer op keer, elke oomblik: sonde, sonde, sonde; elke keer wat ons op God se hart trap en nog ‘n keer trap, en vir die sekerheid net gou nog ‘n keer trap; en om dit nog erger te maak, word ons ook nog swart van die sonde gebore. Ondraaglike las? Ja, as U o Heer die sonde na reg wou gadeslaan, wie sou een enk’le stonde voor U, o Heer, bestaan? (Ps. 130:2 ber.) Ons bely daarom ook in v/a 14 van die Kategismus dat geen blote skepsel die las van die ewige toorn van God teen die sonde kan dra en ander skepsels daarvan kan verlos nie. En as dit nie daarvoor was dat ons Here Jesus Christus ook God was nie, sou Hy self ook nie hierdie las kon dra nie, ook al was Hy ‘n sondelose mens. En as ons mooi na Markus 14 luister, dan proe ons iets van sy worsteling wat Hy deurgemaak het toe Hy ons ondraaglike las gedra het; kom ons kyk saam…

Die Here Jesus het sopas die laaste pasga saam met sy dissipels gevier; daarin het Hy aan sy dissipels gewys dat sy dood naby was, dat sy liggaam en bloed ter wille van hulle oorgelewer sou word. Ná die maaltyd vertrek Jesus saam met sy dissipels na die Olyfberg. Hierdie wandeling na die Olyfberg bring hulle by ‘n landgoed, genaamd Getsemane. Miskien het hierdie landgoed aan een van Jesus se volgelinge behoort, en het dié persoon aan Jesus toestemming gegee om snags hier oor te bly. Die dissipels het waarskynlik gereken dat hulle nou sou gaan slaap, maar Jesus beveel hulle om te bly sit, terwyl Hy gaan bid. Hy neem vir Petrus, Jakobus en Johannes saam met hom.

En dan maak hierdít ie drie kroongetuies iets mee wat vir ons ‘n idee gee van die las wat Jesus moes dra. Ons lees naamlik in vers 33 dat Petrus, Jakobus en Johannes gesien het hoe Jesus begin ontsteld en benoud word het – in die Grieks word hier baie sterk werkwoorde gebruik. Die eerste werkwoord (ontsteld) dui op ontsetting en verslaenheid oor iets wat jou bo verwagting skok; die tweede werkwoord (benoud) beteken dat iemand sy selfbeheersing verloor. Gemeente, dít word van die Here Jesus gesê! Nêrens anders in die evangelies lees ons dat Jesus geskrik het of sy selfbeheersing verloor het nie, en dit moes die naaste drie dissipels daarom diep getref het om hierdie psigiese verbrokkeling by hulle Meester raak te sien, om te sien hoe die Herder gesidder het voordat Hy geslaan sou word ter wille van die skape (kyk maar na Markus 14:27). En dan betrek Jesus ook nog die drie dissipels by sy ontreddering, Hy bring sy geestelike gesteldheid onder woorde: “My siel is diep bedroef tot die dood toe.” Jesus sterf omtrent van verdriet, en daarom wil Hy ook nie hê dat die drie dissipels Hom alleen moet laat nie: “… bly hier en waak.” Jesus wil hê dat hulle Hom moet bystaan tydens sy gebed, soos wat ‘n mens waak by ‘n sterwende.

Maar wat gebeur met die dissipels? Hulle raak aan die slaap… Hoe gevoelloos van die dissipels; het hulle dan nie omgegee nie, het hulle dan nie besef deur watter worsteling die Here Jesus gegaan het nie? Nee, gemeente, die dissipels raak nie aan die slaap omdat hulle nie omgegee het nie; hulle raak nie aan die slaap omdat hulle net aan hulleself gedink het nie. Nee, hulle kon nie in hierdie uur wakker bly nie. Ons lees in vers 40 dat hulle oë swaar was. Die slaap van die dissipels was nie ‘n normale slaap nie, God het dit oor hulle gebring. En dit verraai die onvermoë van die dissipels om hierdie angste met Jesus te deel; hierdie uur van bloedsweet vra meer as wat ‘n “blote skepsel” kan dra… 

Gemeente, voel u iets van die las? Sien u hoe Jesus hier, by sy naderende dood, dit byna verloor? Sien u wat ons Hom aangedoen het? O, Hy sien so daarteen op om die beker van God se toorn te moet drink, en daarom vra Hy ook dat, as dit moontlik is, hierdie uur by Hom verby mag gaan, dat Hy dit nie hoef te dra nie. Jesus huiwer vir die uur wat gaan kom, omdat agter die geweld van die mense die toorn van God staan. Hy is nie bang vir Judas of vir die Sanhedrin of vir Pilatus nie, maar Hy is bang vir die bitterheid om deur God verlaat te word. Jesus word deur die Vader uitgelewer: Hy moet sterf, Hy moet God se toorn dra! En Hy het dit gedra – Hy het die volle gewig van God se toorn oor ons sonde gedra, want – so lees ons in 2 Kor. 5:21 – God “het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.”

Broers en susters, hieruit blyk dat Jesus Christus Homself een van ons gemaak het, Hy het Homself ons Broer gemaak – Hy het kom deel in dít waardeur ons almal gekenmerk word, deur dit eienskap wat ons van nature besit – die vervloekte sonde. Maar weet u wat is so mooi: Hy het kom deel in die eienskap wat ons van nature besit, sodat die eienskap wat Hy van nature besit, deur die geloof ons s’n mag word. Ek mag nou ‘n kind van God wees, omdat Christus, God se natuurlike Seun, my Broer geword het, omdat Hy in my wêreld kom deel het, meer nog: sonde vir my geword het. En daarom kan Johannes ook in hoofstuk 1:12 van sy evangelie skryf: “almal wat Hom (dit is Jesus Christus) aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo…”

En so, broers en susters, kom lê Jesus Christus vir elkeen wat in Hom glo die Vader-naam op die lippe. Dit is slegs deur Hóm, Hy het dit bewerk dat verlore kinders, net soos die jongste seun van die gelykenis, weer terug mag keer na die Vaderhuis en deur die Vader ingewag en omhels word. En daarom, wanneer jy bid, bid dan in Christus se Naam alleen, gaan deur Jesus Christus tot die Vader. Wanneer jy tot die Vader bid, sien dan as’t ware voor jou geestesoog waar Christus aan sy regterhand sit en vir jou intree; sien hoe Hy vir jou pleit, hoe Hy vir Vader sê: hierdie een is ook u kind. Want, soos die kerkvader Ambrosius sê: “Jesus Christus is ons mond deur wie ons met die Vader praat; Hy is ons oog waardeur ons die Vader sien; Hy is ons regterhand waardeur ons onsself vir die Vader aanbied. As Hy nie vir ons intree nie, het nóg ons, nóg al die heiliges enige omgang met God.”

Glo in Jesus Christus, sien wat Hy vir jou gedra het, en dan hoor jy die wonderlike woorde uit die mond  van die Vader: “My kind!” En dan antwoord ons, almal saam en elkeen afsonderlik: “Onse Vader”.

Kom ons let nou in die tweede plek daarop dat, wanneer Christus die Vader-naam op ons lippe gelê het, dan mag ons met die Vader deur die lewe gaan.

2. Nadat Markus in hoofstuk 14:35 kortliks opgesom het wat Jesus gebid het, volg in vers 36 die direkte woorde van die Here Jesus. En Hy begin, net soos Hy ons geleer het met: “Vader”. Opvallend is dat Markus die Aramese weergawe van vader neergeskryf het: Abba. Hoekom? Wel, ons vind veral in die evangelie volgens Markus meerdere kere die gebruik van die oorspronklike aramese bewoording. So vind ons byvoorbeeld in hoofstuk 5:41 die woorde “talita, koemi”, in hoofstuk 7:34 vind ons die woord “effata”, in hoofstuk 14:36 vind ons dan hierdie gebedsaanspraak “Abba”, en in hoofsqtuk 15:34 vind ons die bekende: “Eloi, Eloi, lamma sabagtani”.

In al hierdie gevalle gaan dit oor emosionele situasies in die bediening van die Here Jesus: die opwekking van ‘n dooie, die genesing van ‘n doofstomme, die worsteling in Getsemane, en die dieptepunt van die stryd op Golgota. Dit is heel goed moontlik dat Petrus, die een wat vir Markus alles vertel het sodat hy dit kon neerskryf, nie slegs kon onthou wat Jesus op daardie tye gesê het nie, maar ook in watter taal Hy dit gesê het. Waarskynlik dat Jesus normaalweg Grieks gepraat het, maar dat Hy veral in tye van emosie oorgeslaan het na sy moedertaal, Aramees. En dit vind ons hier in Markus 14 ook.

Dit is hartroerend om te sien hoe Jesus in die diepte van sy stryd in gebed hier voor die voete van die Vader lê: Abba, Vader! Hy is ontsteld, Hy het byna sy selfbeheersing verloor. Maar nogtans weet ons Heiland na wie Hy moet gaan in sy swaarkry, Hy weet aan Wie Hy verbonde is in hierdie donker uur van beproewing, aan sy Abba, sy Vader! Ook wanneer die beker wat daardie einste Váder vir Hom bestem het, Hom so ontstel dat sy sweetdruppels in bloeddruppels verander, dan nog soek die Seun na geen ander vertroosting nie as die vertroosting van die Vader!

En gemeente, wanneer ons deur Christus die Vader-naam op die lippe kry, dan vra Hy dat ons presies dieselfde sal doen: Gebruik die Vader-naam, soek die Vader op! Dit is nie ‘n vryblywende opsie of ons dit sal gebruik of nie. Christus gee nie maar die Vader-naam om volgens eie diskresie te gebruik nie. Ons Kategismus sê in vraag 120: “Waarom het Christus ons beveel om God as ons Vader aan te spreek?” Dit is nie vryblywend nie, dit is ‘n bevel: “Ek het myself tot in die allerdiepste angs en smart van die hel gewerp, my Vader het My verlaat – en dit alles sodat julle deur die Vader as kinders aangeneem kon word, sodat julle aan die Vader verbonde kan wees, sodat julle Hom ‘Vader’ kan noem.” Doen dit dan ook!

En dit is ‘n onberekenbare skat om aan hierdie Vader verbonde te wees, gemeente, Want Hy – is Hy nie jou Vader wat jou geskape het nie; het Hy jou nie gemaak en jou toeberei nie? – so lees ons in Deut. 32:6, en Jesaja beaam dit in hoofstuk 64:8: “Maar nou, HERE, U is ons Vader; ons is die klei, en U is ons Formeerder, en ons almal is die werk van u hand.” En nadat Hy ons gemaak het? Dan is Hy steeds die Vader wat ons liefgehad en ons geroep het, wat ons leer loop en ons op sy arms geneem het, wat Hom na ons neergebuig en aan ons voedsel gegee het (lees maar Hosea 11). Dit is ons Vader – Hy gee die lewe, Hy onderhou die lewe. Aan Hóm mag ons deur Jesus Christus verbonde wees.

Gemeente, ken daarom hierdie verbondenheid, beoefen hierdie verbondenheid. Ons loop so maklik met ons sorge na ons vriende, ons wend ons so gou tot ‘n geliefde, ons probeer so dikwels self die oplossing soek, maar gemeente, u het ‘n Vader! En nie sommer ‘n vader nie… Nee, gaan lees maar Mattheus 7:11: “As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid.” Ons Vader ken ons, Hy weet waarmee u worstel, Hy weet presies watter nood jy het, Hy ken jou oorwegings as jy ‘n besluit moet maak, Hy weet hoe jy voel as jy sopas slegte nuus gehoor het – ONS VADER. Daar is geen veiliger arms om in vasgehou te word nie, daar is geen beter luisteraar as ons Vader nie, daar is niemand wat beter raad kan gee as Hy nie, daar is niemand beter om u siel tot bedaring te bring as Hy nie.

En daarom, broers en susters, die oproep vanaand vanuit die Woord van die Here: Gaan na Hom toe, gebruik die Vader-naam, beoefen met Hom die innige verbondenheid wat in Christus vir ons ‘n werklikheid geword het.

En die kinderstem wat in geloof roep, bring die Vader in beweging. Hy gaan oor tot aksie, Hy kom op vir ons! En Hy kan dit doen, want Hy is nie die soort vader wat graag wil help, maar wie se hande gebind is deur onvermoë nie. Nee, Hy is die Vader wat in die hemel is – so bid ons mos. En dan bedoel ons met die hemel nie in die eerste plek dié gebied waar God woon nie; God kan immers deur niks ingeperk word nie. Nee, wanneer ons bely dat ons Vader in die hemel is, dan sê ons daarmee: Hy oorstyg die beperkings van hierdie wêreld, Hy is groter as hierdie wêreld, Hy oorsien alles wat in hierdie wêreld gebeur, Hy is magtig om op te tree! Moet daarom ook nooit dink dat u van God die onmoontlike vra nie.

Natuurlik, dit is nie vanselfsprekend dat dít wat jy bid ook noodwendig God se wil is nie. Jesus wys dit ook baie duidelik aan ons in sy gebed. Wanneer Christus daar in Getsemane bid, dan weet Hy, en Hy sê dit ook so, dat vir die Vader alles moontlik is. En daarom gaan dit vir Hom nie daaroor of die Vader kan help of nie kan help nie. Maar dit gaan vir Hom ook oor wat die Vader wil. Wil Hy dat die beker aan Jesus verby gaan? En die Here Jesus besef dit, en daarom onderwerp Hy Homself aan die wil van die Vader. As die Vader wil dat hierdie beker by Hom verby gaan, dan gaan selfs Judas Iskariot met sy hele leërmag Hom nie keer nie. Maar as die Vader wil dat Hy hierdie beker drink, dan sal Hy dit drink, en dan onderwerp Hy Hom aan hierdie wil van die Vader.

Gemeente, hierin lê ‘n baie belangrike basishouding vir wanneer ons begin bid: ons bid nie “Onse Vader” om daarmee God sag te maak of gunstig te stem nie. Nee, ons bid dit, ons bely dit, in die vaste vertroue dat Hy weet wat goed is. En Hy het bewys dat Hy as Vader weet wat goed is vir ons: Hy het dan sy Liefste, sy eie Seun, oorgegee vir ons. As u ooit getwyfel het of God weet wat Hy doen wanneer Hy iets oor jou lewe bring, kyk dan na Getsemane, kyk na Golgota – dít was die manier waarop dinge weer reggekom het tussen God en ons. Ja, Hy weet wat Hy doen, Hy weet wat goed is! En laat hierdie woorde nooit ‘n cliché onder ons word nie; laat dit ‘n geloofsbelydenis wees vir die res van my gebed: wat ek hierna ook al gaan bid, ek weet dat God my, sy kind, innig liefhet deur Jesus Christus, en ek weet dat Hy na my luister, en ek weet dat wat ookal nodig is vir my – dit wil Hy en dit sal Hy gee! Want daar is “geen vader wat, deur smartgevoel bewoë, sy kind aanskou met teerder mededoë as Isr’els HEER dié wat Hom eer en vrees” (Ps. 103:7 ber.).

En, broers en susters, dit is nie slegs ‘n werklikheid vir sekere vaste gebedstye nie; nee, dit is ‘n werklikheid vir my hele lewe. Wie in Jesus Christus glo, mag elke oomblik van sy lewe verseker wees van die teenwoordigheid van die hemelse Vader. Hierdie Vader is daar wanneer jy jou voorlegging by die werk moet doen; Hy is daar wanneer jy besig is met die laaste skooleksamen van jou lewe; Hy is daar wanneer jy ‘n moeilike gesprek moet voer; Hy is daar wanneer jy aandete vir die gesin voorberei. Leef met Hom, broers en susters. Praat met Hom. Daar is niks wat hierdie Vader groter vreugde verskaf as om die stemme van sy kinders te hoor nie.

Amen

Liturgie: 

Aand Liturgie

Groet en afkondigings
Votum Ps. 121:1
Seën: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 93:1 & 4
Gebed
Lees: Markus 14:32-41
Sing Ps. 22:5 & 6
Teks: HK, Sondag 46, lees ook v/a 119
Preek
Amenlied Ps. 103:5-7
Gebed
Belydenis van geloof
Sing Ps. 22:11 & 12
Kollekte
Slotsang Ps. 89:6 & 11
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.