Gebed is die uitstaande kenmerk van die dankbare christen

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2009-08-30
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 45
Verwysing: 
HK 45-1
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

Geliefde gemeente van Jesus Christus,

Hoe gaan dit met jou gebedslewe, broer en suster? Bid jy nog? Kán jy nog bid? Is daar genoeg tyd in jou besige skedule om te bid? En die gebed saam met jou vrou, saam met jou man – gebeur dit nog? En wat van die gebed in die gesin – is dit darem nog meer as net die herhaling van ‘n daaglikse rympie? Miskien was hierdie vrae nog maklik om te beantwoord, maar wat van die volgende vrae: Weet jy nog hoekom jy bid? Weet jy nog hoe om te bid? Weet jy nog waarvoor om te bid? Dis effens moeiliker, nie waar nie? En daar is ‘n rede daarvoor.

Ons is in ons kerklike en persoonlike lewens naamlik so gewoond aan gebed – in elke erediens, by elke vergadering, by elke huisbesoek, by elke bybelstudie en hooplik in elkeen van ons se persoonlike lewens word daar dikwels gebid. Ná ‘pappa’ en ‘mamma’ is ‘amen’ omtrent die eerste woordjies wat ons ons jong kinders aanleer. Ons is so gewoond daaraan om te bid, dat die rede en die betekenis daarvan ons soms kan ontgaan; ons is so gewoond daaraan om dit te doen, dat ons soms vergeet om daaroor na te dink. En daarom is dit so ‘n rykdom dat die kategismus ons dwíng om daaroor na te dink; die kategismus dwing ons om die hoekom en die hoe van ons gebedslewe onder oë te sien. En dit wil ons vanaand doen met behulp van die volgende tema:'

Tema: Gebed is die uitstaande kenmerk van die dankbare christen (só noem dit HK dit)
1. Hierdie gebed is noodsaaklik
2. Hierdie gebed word geheilig
3. Hierdie gebed het groot krag

1. “Waarom is die gebed vir die Christene nodig? Omdat God dit van ons eis!” – so begin die Kategismus die deel oor die gebed. Dit is waarskynlik nie heeltemal wat ons verwag het of wat ons wil hoor nie, of hoe? Gebed as gebod – dit roep by ons weerstand op. Want wat het dan geword van gebed as vrywillige gesprek? Wat het geword van gebed as spontane uiting van ons godsdienstige siele? Ja, dit is hoe daar in baie kringe en deur baie mense vandag na gebed gekyk word: gebed is mos die asem van die siel!? En wat kom natuurliker as asemhaal? Gebed is ‘n natuurlike lewensuiting, net so natuurlik as wat dit is om asem te haal, en net so natuurlik as wat dit is vir voëltjies om te sing en vir my kind om te huil as hy ‘n baksteen op sy toon laat val. As mense het ons mos ‘n innerlike aanleg tot gebed, dit is as’t ware ‘n gegewe deel van ons menslike samestelling. Vanwaar dan nou die geforseerdheid – God eis dit van ons? Natuurlik, almal gee verskillend uiting daaraan en almal bid tot sy eie god, maar nogtans sit dit in ons. En ons het vroeër vanjaar, by die inhuldiging van ons Staatspresident, gesien hoe daar uiting gegee word aan hierdie natuurlike aanleg met sy verskillende variasies – die moslem kan sy gebed bid, die tradisionele Afrika-godsdiensleier kan sy gebed bid, en die christen kry ook nog die geleentheid om te bid.

Ja, in hierdie lig kom die Kategismus inderdaad verouderd en beklemmend voor: God eis gebed van ons. Miskien moet ons dit maar toeskryf aan die 16de eeuse denkwyse waarbinne die Kategismus ontstaan het – daardie tyd van dwang en verpligtinge… gelukkig leef ons nie meer daaronder nie! Maar, broers en susters, kom gebed inderdaad so spontaan en natuurlik? Is ons werklik gebore bidders? Wat dan van die gelowiges – ook hier onder ons! – wat deur tye gaan waarin hulle wanhopig moet bely: “Maar ek kan nie bid nie”? Of wat van Dawid, daardie man van God, waarvan ons in Psalm 32 sing: “Toe ek voor U al worst’lende verstom het, geen boetgebed my uit die hart gekom het…”? Of wat van kerklidmate by wie jy besoek aflê, wat eenvoudig sê: “Ek bid nie eintlik op dié stadium nie”? Nee, gemeente, laat die denkwyse van die 21ste eeu ons nie onder sy dwang kry nie. Want gebed kom nie natuurlik nie. O ja, dat die mens prewel as gevolg van die vrees en die vrae wat hy in sy lewe het – dít kom natuurlik. Dat die mens dit uitskreeu in sy hopeloosheid en radeloosheid – dít gebeur. Maar dít is nog nie gebed nie! Dít is nog nie om God op sy Woord te antwoord nie; dít is nog nie die gesprek met die lewende God nie.

En dit is daardie gesprek waarna God soek, broers en susters. En juis dáárom eis Hy van ons gebed, want dit kom nie natuurlik nie; gebed is nodig vir die Christene, want dit kom nie vanself nie. Gebed is nie ‘n natuurlike asemhaling van gebore bidders nie; nee, gebed is baie eerder ‘n offer van oorgawe aan die Here. Gebed is offerwerk! Ek moet myself verloën, ek moet myself gee. My sondige ‘ek’, waarmee ek van nature God haat, moet sterf en die nuwe mens moet eers in my opstaan voordat ek kan bid. En selfs dan nog het ek voortdurend God se oproep nodig, sy bevel: roep My aan!

En, gemeente, dit is dan ook die rede waarom God in sy nuwe woonplek onder sy volk, in die tabernakel, ‘n sentrale gebedspunt laat oprig het, ‘n soort sigbare gebedsherinnering kan ons maar sê. Ons het daarvan gelees in Exodus 30. Moses kry in hierdie hoofstuk die opdrag om ‘n reukaltaar te laat maak waarop reukwerk gebrand moes word. Hierdie reukaltaar het reg voor die voorhangsel gestaan wat die heilige van die allerheiligste geskei het. Daagliks moes daar reukwerk op hierdie altaar aangesteek word – nege uur soggens, sodat dit die hele dag deur sou bly brand, en drie uur in die middag sodat dit dwarsdeur die nag sou bly brand. Nou, gemeente, die lieflike geur van hierdie brandende reukwerk – ons het in verse 34-38 gelees hoe die reukwerk berei moes word – was ‘n simbool van die gebede van God se volk; hierdie lieflike geur het vanaf die reukaltaar, net voor die voorhangsel, gedwarrel tot agter die voorhangsel waar die ark van die verbond, die troon van God gestaan het; só het die volk se gebede tot voor die Here gekom. Gevolglik kan Dawid in Psalm 141 ook sê: “Laat my gebed soos reukwerk voor u aangesig staan.” En in Openbaring 5:8 lees ons hoe die ouderlinge skale vol reukwerk vashou, “wat die gebede van die heiliges is.”
Dus, die reukaltaar was die sentrale gebedspunt vir sowel die persoonlike as die gemeenskaplike gebede van die volk, en hierdie sentrale gebedspunt moes op bevel van die Here permanent aan die gang bly; 24 uur per dag, 7 dae per week moes die reukwerk bly brand. Daarin sien ons hoe die Ou Testamentiese reukaltaar ‘n skaduagtige verkondiging was met die duidelike opdrag van God: ons moet bid! Ons moet dit doen met die heilige roeping wat God ons oplê. Hier is nie ruimte vir eie keuse nie; ons kan die gebed nie maar net oorslaan as ons die dag nie lus is daarvoor nie; ons kan nie maar net self bepaal of en wanneer ons gaan bid en wanneer nie. Dit is nie vir jou opsioneel of jy jou dag wil begin en wil afsluit met ‘n gebed tot God nie. Nee, die gebed is vir die Christene nodig; God eis dit van ons! En die reukaltaar is daarvan die sigbare simbool!

Nou goed, ons moet dus bid. Maar hoekom? Vanwaar die noodsaak om te moet bid? Wel, gemeente, die Kategismus gee vir ons die rede, en dit is ‘n rede wat uit twee dele bestaan. Twee dele – een wat met ons te make het en een wat met God te make het – wat pragtig vir ons wys waaroor dit werklik in die gebed gaan. Die eerste deel van die rede, wat met ons te make het, is dat dit die vernaamste deel van die dankbaarheid is. Ons bewys dus aan God geen hoër vorm van dankbaarheid as wanneer ons in geloof met Hom in gesprek gaan nie. Die hoogste vorm van dankbaarheid lê dus nie in wat ek alles vir die kerk doen en in watter goeie werke ek alles in die samelewing verrig nie.

Nee, gemeente, ons maak God die blyste wanneer ons nederig na Hom toe gaan en die gesprek voer wat Hy moontlik gemaak het. En dan die tweede deel van die rede, wat met God te make het, is dat Hy sy genade en Heilige Gees slegs aan hulle wil gee wat Hom met hartlike versugtinge sonder ophou daarom bid en daarvoor dank. Ja, dis die gevolg van ons gebede; dit is God se reaksie op ons gebede. En nee, dan gaan dit nie daaroor dat ons met ons gebede God se hand oopforseer nie; ons dwing God nie met ons gebede nie; Hy gee nie sy genade-geskenke vanweë my gebed nie. Maar, let wel, Hy gee dit ook nooit sonder my gebed nie. Dit is nie so dat my gebed iets bewerk nie, en tog bewerk dit alles.

Sien u, broers en susters, hoe God in sy wysheid besluit het om te sorg dat daar omgang tussen my en Hom moet wees – in die opregte gebed vind ek my weg na Hom toe, en vanweë my gebed wil Hy ook na my toe kom. So vind daar ‘n ontmoeting plaas. En ter wille van daardie ontmoeting mag ons nie versuim om te bid nie; ter wille van die lewende omgang met God moet ons bid. Nie ‘n ‘moet’ as dwangbuis nie, maar ‘n ‘moet’ as lewensaar, omdat God weet wat goed is vir ons. En as jy nie kan bid nie, dan kom ek en elke ander broer en suster, en dan bid ons vír jou en namens jou. Maar laat dit net nie stil word in die kerk en in ons persoonlike lewens nie; dit sou dodelik wees. Bid, broers en susters, sodat ons God mag ontmoet in sy genade en Gees wat Hy aan ons skenk!
In die tweede plek let ons daarop dat ons gebede geheilig word.

2. Hoe moet ‘n gebed wees wat God behaag en deur Hom verhoor word? Dit is weer so ‘n vraag wat by ons vreemd kan oorkom. Moet ons dan nou ook nog leer hoe om te bid? As ons as gelowiges geleer het dát ons moet bid, dan kom die res mos outomaties? Wel, gemeente, die blote feit dat die Kategismus hierdie vraag stel, suggereer dat ons verkeerd kan bid. En dit is ‘n volkome bybelse gedagte. Jakobus sê immers in hoofstuk 4:3 van sy brief: “Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid…” En volgens Paulus in Romeine 8 weet ons nie reg wat ons moet bid nie.

Vervolgens wys die Kategismus daarom wat die bestanddele is van ‘n gebed wat God behaag. En kom ons wees eerlik, broers en susters, die prentjie wat die Kategismus hier skilder van die skynbaar ideale gebed, kan ons bang maak – ons moet die enige ware God ken en van harte aanroep, ons moet ons eie nood en ellende reg en grondig ken, ons moet ons voor God verootmoedig… Is dit die bestanddele van jou daaglikse gebed? Is dit werklik die gees en die houding waarmee jy elke keer bid? 

Nee, gemeente, dit is nie hoe ons bid nie. Ons gebede is gebrekkig, sodanig dat dit eintlik nie voor God aanneemlik is nie. Ons kommunikasie met God mis dikwels die doel. Maar beteken dit dan nou dat al my gebrekkige gebede êrens in die lug opgeëindig het? Dat dit daar êrens rondsweef en nog nooit voor die troon van God geland het nie? Voordat ons nou moedeloos word, kom ons luister na die vertroostende antwoord wat Openbaring 8 vir ons gee. Openbaring 8 staan so reg in die middel van die hoofstukke wat gaan oor die opening van die verskillende seëls waarin God se oordeel en toorn oor die aarde geopenbaar word. Ons sien daarin geweldige goddelike kragte wat loskom om die wêreld van ongeloof te straf. Maar te midde van hierdie angsaanjaende verwikkelinge word dit skielik vir ‘n halfuur tjoepstil in die hemel; vir ‘n halfuur lank is daar geen sprake van oordele nie, maar kry ons ‘n kykie in die hemelse liturgie, in die hemelse erediens. Ons sien hoe ‘n engel nader kom, en met ‘n goue wierookbak by die altaar gaan staan – die einste reukaltaar van Exodus 30. Vervolgens word aan hierdie engel baie reukwerk gegee, om dit met die gebede van al die heiliges op die goue altaar voor die troon van God te gaan neerlê.
Wat nou opmerklik is van hierdie beskrywing, broers en susters, is die onderskeid wat daar gemaak word tussen enersyds die reukwerk en andersyds die gebede van die heiliges. Hierdie twee is, in elk geval in hierdie Skrifgedeelte, nie dieselfde nie. Nee, die engel ontvang in die wierookbak eers die gebede van die heiliges om op die goue altaar voor die troon neer te lê. Maar hierdie gebede is op sigself nie aanneemlik voor God wat op die troon sit nie. Iets anders is nodig om die geur van hierdie gebede lieflik te maak. En daarom word aan die engel ook baie reukwerk gegee. Baie reukwerk – om sodoende dít wat gebrekkig is voor God aanneemlik te maak, om dit wat sondig is voor die God lieflik te laat ruik. En let daarop, gemeente, dat God sélf vir die engel hierdie reukwerk gee; Hy verskaf dus sélf die oplossing vir ons gebrekkige gebede. En die resultaat bly gevolglik ook nie uit nie, want – so lees ons – “die rook van die reukwerk het met die gebede van die heiliges uit die hand van die engel opgegaan voor God.” God verskaf self die oplossing, sodat die gebede vervolgens ook deur Homself aanvaar kan word.

En kom ons gaan nou weer vir ‘n oomblik terug na Exodus 30:34 en verder waarin vir ons beskryf word hoe hierdie reukwerk voorberei is en waarvan dit gemaak was. Die vier bestanddele – storaksgom en naeltjies en galbanum en suiwer wierook – moes gemeng word tot ‘n mengsel soos die salfmenger dit maak; ja, dit was ‘n kuns om die regte kombinasie van hierdie verskillende bestanddele te vind. En vervolgens sien ons dat hierdie unieke reukwerk voor die Here suiwer en heilig was, sodanig dat die volk nie toegelaat was om dit as ‘n soort lekkerruik-middel vir hulleself te gebruik nie. Hier het ons te make met ‘n eksklusiewe geur wat bedoel was om die Here te behaag.
Nou, gemeente, hierin sien ons ‘n skaduwee van wat sou kom, ‘n heenwysing na daardie heerlike geur wat Christus se werk aan die kruis aan die Vader in die hemel sou verskaf. En let weereens daarop dat dit ‘n reukmiddel is wat God self verskaf het; Hy het self sy Seun gestuur, sodat ons gebrekkige gebede voor Hom aanneemlik kan wees. Maar onthou dan, hierdie reukmiddel is eksklusief! Daar is geen ander middel nie, daar is geen ander manier waarop ons gebede voor God aanvaarbaar kan wees nie. Nee, Jesus Christus is die enigste geur wat God graag wil ruik wanneer jy tot Hom bid. En daarom is dit so belangrik dat ons ons gebede ook altyd in en deur Christus sal bid. Moenie nalaat om in al jou gebede God se aandag op Jesus Christus te vestig nie; moenie huiwer om jou op sy Naam te beroep nie, en moenie vergeet om in Christus se Naam jou gebed af te sluit nie. Want daar is net een Middelaar tussen God en die mens, en dit is Jesus Christus. Daar is net Een wat die ontmoeting tussen God en mens kan fasiliteer, en dit is Hy. Beroep jou op Hom!

En, broers en susters, as jy dit doen, dan hoef jou gebrekkige gebede jou nie te verhinder om te bid nie; dan hoef jy nie op te hou bid, omdat jy dink dat God jou gebede nie sal wil aansien nie. Natuurlik, jy is reg; geen onheiligheid – en dit is wat ons gebede is! – kan voor die heilige God kom nie. Maar laat jou gebede – hoe gebrekkig en krom ook al – deur Christus geheilig word. Want jy het mos, volgens die Kategismus in antwoord 117, die vaste grond dat God ons gebed, hoewel ons dit nie verdien nie, tog ter wille van die Here Christus sekerlik wil verhoor, soos wat Hy dit vir ons in sy Woord beloof het. Jy mag met volle vrymoedigheid voor die troon van die genade kom. En dan stuur Christus ook nog sy Gees om ons swakhede te hulp te kom, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie. Dus, sowel hier op aarde as in die hemel ontvang ons gebedshulp – hier op aarde het ons die Gees van Christus in ons harte wat die bedoeling van ons gebede reg oorbring, en in die hemel het ons Jesus Christus aan die regterhand van die Vader wat vir ons intree. Hierdie twee werk saam om die verhoring van ons gebede by die Vader te waarborg; daaroor bestaan daar geen onsekerheid nie.

Ten slotte: ons gebede het groot krag.

3. Ons gaan nog ‘n slag terug na Openbaring 8. Ons sien in vers 1 dat wanneer die laaste van die sewe seëls oopgemaak word, daar nie net stilte kom nie, maar dat op daardie oomblik ook sewe basuine aan die sewe engele uitgedeel word. Ja, op dieselfde oomblik van die hemelse erediens, is daar ook voorbereiding vir die hemelse oordeel. En daar staan hulle dan voor die troon van God – die sewe engele, gereed om hulle basuine te blaas. Maar hulle doen dit nog nie; nee, eers volg daar nog daardie stukkie hemelse erediens waarin vir ons vertel word hoe ‘n ander engel die gebede van die heiliges met die reukwerk op die altaar neerlê en hoe dit vervolgens voor God opgaan.

En dan sien ons hoe die engel vervolgens nog iets doen – hy maak die wierookbak vol met vuur van die altaar en hy gooi dit uit op die aarde. Daardie selfde altaarvuur wat gedien het om die gebede aan God te offer, word nou op die aarde uitgegooi. Hierdie omgekeerde wierookbak is die bewys dat God die gebede van die heiliges verhoor het, en dat hy met vuur – dit wil sê, met sy oordele – daarop antwoord! En hierdie oordele word vervolgens konkreet gemaak wanneer in die res van hoofstuk 8 die sewe engele een vir een hulle basuine gaan blaas. En die strawwe wat daaruit voortvloei is baie intenser en baie dreigender as enige van die strawwe wat daaraan voorafgegaan het.

Wat sien ons hier dus gebeur, gemeente? Ons sien hoe die gelowiges bid, ons sien hoe daardie gebede uit genade verhoor word, en dan sien ons hoe God op daardie gebede antwoord! En dit is geen halfhartige antwoord nie; o nee, ons sien hoe die hemelse stilte deurbreek word met stemme en donderslae en weerligte en aardbewing. Dit laat ‘n mens dink aan Exodus 19 waar donderslae en blitse en ‘n bewende berg ook deur basuingeklank begelei is. En presies net soos dáár, vertoon die Here Homself ook hier weer, en Hy wys aan sy volk sy krag. En hierdie krag van God kry hande en voete wanneer die sewe engele hulle basuine blaas en dit ongelooflike rampe en oordele tot gevolg het.
Broers en susters, sien jy wat jou en my gebede uitwerk? Ja, so konkreet moet ons dit maak! Die gebede van die heiliges in Openbaring 8 is jou en my gebede, dit is die gebede van die kerk, ook van die gemeente van Maranata. God wag op die stem van sy kinders, want hierdie stem maak ongelooflike, hemelse kragte los. En daarom moet ons die rampe en oordele van Openbaring 8 nie as iets negatiefs beskou nie. Natuurlik, die onmiddellike effek van hierdie rampe en oordele is ellendig, dit bring trane en hartseer. Maar as ons die groter prentjie in gedagte hou, dan sien ons daarin God aan die werk. Op die gebed van die gelowiges werk God verder aan die uitvoering van sy beloftes. Ja, die gelowiges bid tot God in die hemel, daardie gebede bereik die hemel, en dit werk iets uit op die aarde. Gebed het dus effek. Gevoude hande verander die wêreld!

Ons ken die uitspraak: bid en werk. En dit is maar al te dikwels deel van ons aard om op die tweede aspek te fokus; die werk-aspek. Ons kan mos nie heeldag op ons knieë sit nie; en dit is ook soms maar deel van die manier hoe ons grootgemaak is: ons moet werk! Maar, gemeente, Openbaring 8 vertel vir ons absoluut niks van die dade en die aksies van die gelowiges nie; nee, Openbaring 8 vertel vir ons van die gebéde van die heiliges. Dit vertel vir ons van Gód wat werk omdat die gelowiges op hulle knieë sit; dit vertel vir ons van angsaanjaende reddende kragte omdat ek my hande vou en my oë toemaak.

Laat ons dan nie in ons kamtige wysheid kom en die volgorde gaan omdraai nie. Laat ons nie eers die gemeente se probleme probeer oplos om ten slotte van vermoeidheid op ons knieë neer te val nie; laat ons nie na oplossings vir ons persoonlike probleme soek om eers daarna God se seën te vra nie; gebed is ook nooit ons laaste uitweg vir probleme waarop óns geen oplossing kon vind nie. En moenie dat die wêreldse doen-dit-self gees jou daartoe mislei nie. Nee, broers en susters, die gebed van die regverdige het groot krag. Groot krag omdat dit God in beweging bring ter wille van sy kinders. Gebruik as dankbare christen hierdie middel; gebruik dit omdat jy God liefhet; gebruik dit omdat jy glo in God se krag; gebruik dit omdat jy verlang na die wederkoms van Jesus Christus. En wanneer dan die bome en die groen gras verbrand, en wanneer hael en vuur op die aarde neerval, en ‘n derde van die lewende skepsele in die see sterf, en baie mense sterf en dit donker word hier op aarde, en jy hoor die engele in die Skrif roep: “wee, wee”, weet dan: die einde is naby. Die nuwe en ewige begin is om die draai. God het my gebed verhoor, om Christus wil!

Amen

 

Liturgie (aand)

Groet en afkondigings
Votum Ps. 121:1
Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 135:1, 2 en 8
Lees:  Exodus 30:1-10, 34-38
 Openbaring 8
Sing Ps. 141:1 en 2 (Skrifgedeeltes verwys na reukaltaar en wierook – wys op gebede; sing nou
in voorbereiding op die gebed juis daaroor uit Ps. 141:1 en 2)
Gebed
Teks: HK, Sondag 45
Preek
Amenlied Ps. 27:3, 4 en 6
Gebed
Belydenis van geloof (singende)
Kollekte
Slotsang Ps. 50:4, 7 en 11
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)