Sit jou hart op die Here en sy gebooie!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2009-08-23
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 44
Verwysing: 
HK 44-1
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Die tiende gebod het in die geskiedenis van die kerk al heelwat aandag gekry. Een van die redes hiervoor is dat daar groot verskille bestaan oor waaroor dit nou werklik gaan in die tiende gebod: wat is die kern van die tiende gebod? As óns moet sê waaroor dit in die tiende gebod gaan, sal ons waarskynlik ook uiteenlopende antwoorde kry.

Sommige sien die tiende gebod as blote uitbreiding van die sewende en die agste gebod. Die sewende gebod sê: “Jy mag nie egbreek nie”, en as uitbreiding op hierdie gebod word dan in die tiende gebod gestel: jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie. Die agste gebod lui: “Jy mag nie steel nie”, en as uitbreiding hierop volg: jy mag nie jou naaste se goed begeer nie. Dit is egter ‘n onwaarskynlike verklaring van die tiende gebod – ons het immers reeds by die behandeling van die 7e en 8e gebod die ‘begeerte’ na ‘n ander se vrou en die ‘begeerte’ na ‘n ander se goed ter sprake gebring. Ander weer sien die tiende gebod as samevatting van al die voorafgaande gebooie. Maar hoekom sou die Here dit dan as aparte gebod gegee het? Dat die tiende gebod met al die ander gebooie te make het, kan ons nie betwis nie, maar om die tiende gebod ‘n blote samevatting te noem, is te eenvoudig. Nog weer ander meen dat die tiende gebod bloot betrekking het op die innerlike, op dít wat in die hart leef. Die tiende gebod sou dus slegs dié kwaad verbied wat in die hart skuil – en dit is ‘n kwaad wat deur die owerheid nie bestraf kan word nie, en waaroor die kerk geen tug kan uitoefen nie.

Maar gemeente, nie een van hierdie sienings tref werklik die kern van die tiende gebod nie. En daarom wil ek nou aan u die boodskap van die tiende gebod verkondig, en dit onder die volgende tema probeer saamvat:

Tema: Sit jou hart op die Here en sy gebooie!
1. Heilige begeertes
2. Ernstige voornemens
3. Jou enigste troos wanneer heilige begeertes en ernstige voornemens faal

1. Wanneer ons kyk na die letterlike teks van die tiende gebod, dan kom ons sommer gou agter dat hierdie gebod ons nie slegs teen verkeerde innerlike begeertes waarsku nie. Dit gaan in die tiende gebod nie slegs oor sondige verlangens, hier, in die hart nie. Ons vind naamlik in die tiende gebod ‘n woord wat sowel in Exodus 20 as in Deuteronomium 5 met ‘begeer’ vertaal word, maar wat ons nog beter kan vertaal met “jou hart op iets sit…” U ken mos die uitdrukking: “hy het sy hart daarop gesit om die eerste prys te behaal” of “sy het haar hart daarop gesit om met daardie man te trou.” As ons ons hart op iets sit, dan is dit nie slegs ‘n innerlike begeerte nie, maar dan is ons ook daarop uit om te verkry wat ons begeer. Die begeerte word verbind aan ‘n plan, sodat die begeerte ook ‘n werklikheid kan word.

Die bybel gee vir ons verskeie voorbeelde van die gebruik van hierdie Hebreeuse woord vir ‘begeer’. So lees ons byvoorbeeld in Josua 7:21 die volgende woorde van Agan: “Ek het naamlik een mooi mantel uit Sinear by die buitgoed gesien en … silwer … en goud, en ek het dit begeer en dit geneem.” ‘Begeer’ beteken hier baie konkreet dat Agan sy hande nie van die buitgoed kon afhou nie; dit wat hy begeer het, het hy vervolgens ook gevat. Dieselfde sien ons in Miga 2:2, waar ons lees: “Ja, hulle begeer velde en roof dit.” Weereens is duidelik dat ‘begeer’ nie slegs ‘n innerlike saak is nie, maar saam met die begeerte gaan ook die plan om die begeerde goed in die hande te kry. ‘n Laaste voorbeeld vind ons in Exodus 34:24, waar die Here vir die volk sê: “Want Ek sal nasies voor jou uitdrywe en jou grondgebied uitbrei, sodat niemand jou land sal begeer nie” – niemand sal dus sy hart op die land van Israel sit, en gevolglik probeer om dit in die hande te kry nie. Natuurlik sal die volke soms in hulle hart begeer om die land van Israel te bemagtig – dit is immers ‘n pragtige land wat oorloop van melk en heuning – maar nooit sal hulle met hulle leërs opruk om dit ook daadwerklik in die hande te kry nie. Daarvoor sal die Here sorg.

Broers en susters, samevattend kan ons dus sê: wie sy hart op die huis, die vrou, die personeel of die vee van sy naaste sit, kan sy hande nie tuishou nie. Met voorbedagte rade wil hy daarop toeslaan; hy wil hê wat hy begeer. Die tiende gebod kyk dus na wat agter die daad in die onstuimige hart van die mens gebeur, en na die stappe wat hy daarna neem om sy hartsplanne tot uitvoering te bring.

Nou, gemeente, dit is hierdie verkeerde begeertes en planne waarteen die tiende gebod ons waarsku. Ons moenie – of dalk beter: ons mag nie – ons hart sit op die huis, die vrou, of wat ook al van ons naaste nie. Meer nog: ons mag nie ons hart sit op enige iets wat teen die Here se wil is nie. Die Kategismus sê dit baie treffend: “selfs die geringste begeerte of gedagte teen enige gebod van God mag nooit in ons hart opkom nie. Ons moet altyd en hartgrondig vyande van alle sonde wees…” Hoor u die radikale taal van die Kategismus? Selfs die geringste begeerte of gedagte teen enige gebod van God mag nooit in ons hart opkom nie. Ons moet altyd en hartgrondig vyande van alle sonde wees.

Alle grense word hermeties gesluit; in alle strengheid betrek die Kategismus die wag by die menslike hart met sy sondige begeertes en sy planne. Teen hierdie sondige begeertes met sy gepaardgaande planne moet ons altyd, oral, en met al ons mag stry! Soos wat ons lees in Spreuke 4:23: “Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe.” Bewaak jou hart – 24 uur per dag, 7 dae per week! Ons kan nie vir een oomblik in ons waaksaamheid verslap nie.

Want, broers en susters, as ons dít wel doen, dan bedreig ons die vryheid wat die Here vir ons verwerf het. U onthou mos die aanhef van die wet? “Ek is die Here jou God wat jou Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het.” Of in die taal van die Nuwe Testament: “Ek is die Here jou God wat jou, deur Jesus Christus, uit die slawehuis van die sonde verlos het.” Dit is die taal van die bevryding! En nou is dit die doel van elkeen van God se gebooie om ons by daardie vryheid te bewaar, veral ook die tiende gebod. Oppas daarom om jou vryheid te bedreig deur in jou hart – die sentrum van jou lewe – begeertes te koester en planne te beraam wat verkeerd is. Moenie jou hart sit op wat nie joune is nie; moenie jou naaste se huis, en jou naaste se vrou en sy beroep begeer en planne maak om dit te verkry nie. Want jou eie huis is die beste vir jou, jou eie vrou is die mooiste vir jou, en in jou eie beroep lê die vrugbaarste ontplooiing vir jou, ook al is jou huis kleiner as die ander s’n, ook al is jou vrou minder aantreklik as ander vroue, en ook al bring jou beroep minder geld in as dié van jou vriende of kennisse… Bewaak dus jou hart teen enige begeertes en planne wat teen enige van God se gebooie ingaan.

Maar dan voeg die Kategismus in antwoord 113 ook nog by: “… en ‘n begeerte tot alle geregtigheid hê.” Moet ons dan tóg begeer!? Natuurlik! ‘n Mens sonder begeertes en luste is lusteloos en futloos. God het die mens gemáák om te begeer; die mens is geskape met die heerlikste luste! Al probleem is: in ons versondigde lewe neig ons begeertes en luste na die verkeerde kant toe. Ons begeertes is vervuil en soek na die verkeerde. Maar nou wil God ons begeertes weer annekseer en hulle in die regte rigting stuur. Wanneer God ons bevry uit die slawehuis van die sonde, dan ontneem Hy ons nie ons begeertes nie, maar Hy heilig dit! Hy wil hê jy moet begeer – baie sterk en heftig selfs. Maar Hy wil hê jy moet begeer om volgens God se wil in alle goeie werke te lewe (soos wat ons bely in antwoord 90 van die Kategismus). Laat al jou hartstogte en sielskragte en begeertes daarom gemobiliseer word vir die Koninkryk van God en sy geregtigheid.

En, gemeente, dít leer die digter van Psalm 119 ons op ‘n besondere wyse in die gedeelte wat ons saam gelees het. Die digter vra vir die Here dat Hy hom op sy weg sal hou tot die einde toe. Hy sê in vers 35: “Laat my wandel op die pad van u gebooie, want daarin het ek ‘n behae.” Die behae van die digter is in God se gebooie; hy begeer dit. En daarom vra hy ook in die volgende twee verse: “Neig my hart tot u getuienisse en nie tot winsbejag nie. Wend my oë af, dat hulle geen nietigheid sien nie…” Die digter wil nie die verkeerde dinge begeer nie; hy wil nie sy hart sit op winsbejag of op nietigheid nie. Nee, neig my hart tot u getuienisse! En dan sê hy ten slotte pragtig in vers 40: “Gewis, ek het ‘n begeerte tot u bevele.” Die digter begeer die wette van die Here – nie slegs as ‘n innerlike verlange nie. Nee, in sy begeerte wil hy dit ook uitvoer. Hy begeer dit, en daarmee saam soek hy na weë om dit in praktyk te bring in sy lewe. Die digter wil konkreet soos ‘n kind van die Here lewe.

Gemeente, dít is die begeerte volgens God se wil; dit is nou heilige begeertes! En dit is presies wat van ons gevra word in die tiende gebod: wees heilig, tot in julle hartsbegeertes en –planne toe, want Ek is heilig. Dus, van ons word nie slegs gevra om die regte ding te dóén nie. Nee, om die regte ding te doen, moet gewortel wees in die lus van ons harte. Die Here soek nie slawediens nie, maar kinderlike liefde. Hy wil nie hê dat ons al sugtende sy gebooie nakom nie, maar dat ons dit met lus sal doen. Die Here wil gedien word deur mense wat geleer het om te sê: “Hoe lief het ek u wet; dit is my bepeinsing die hele dag… Gewis, ek het ‘n begeerte tot u bevele.” (Ps. 119:97 en 40).
Vervolgens: ernstige voornemens.

2. “Maar kan dié wat tot God bekeer is, hierdie gebooie volmaak gehoorsaam?” – dit is die volgende vraag van die Kategismus. Dus, kan die gelowiges die eis, naamlik om ‘n begeerte tot alle geregtigheid te hê, nakom? Die antwoord is beskamend: “Nee, want selfs die allerheiligstes het, solank hulle in hierdie lewe is, nog maar ‘n geringe begin van hierdie gehoorsaamheid.” Die allerheiligstes – dit is die reuse en die heldinne in God se koninkryk: Abraham en Moses, Johannes en Paulus, Debora en Maria; manne en vroue wat werklik iets beteken deur hulle geloof en gebed. Hulle is hier in die kerk ook – ons kyk op na hulle, hulle is die steunpilare in die kerk van Christus. Ja, so kyk óns na hulle… Maar hoe kyk God dan na hulle? “Nog maar ‘n geringe begin…” Gemeente, selfs die allerheiligstes is nog onbeholpe en hulle struikel gereeld wanneer dit kom by die gehoorsaamheid aan God se gebooie. ‘n Geringe begin – dit is soos wanneer ons in die lente ‘n klein knoppie op ‘n tak opmerk; jy kan dit skaars raaksien. Van blare of blomme is daar nog nie sprake nie. Net ‘n knoppie so groot soos ‘n speldeknop, niks meer nie… Só is die heiliging van die allerheiligstes.

Nou hoor ek al hoe sommige onder ons sê: “As dit só gaan met die allerheiligstes, moet dan nie te veel van my verwag nie; ek is ook maar net ‘n sondige mens, niks wat ek daaraan kan doen nie.” Maar dan vergeet ons een ding, broers en susters, en dít is dat die allerheiligstes en dié wat tot God bekeer is, allermins tevrede is met hierdie geringe begin waarvan ons sopas gehoor het. Inteendeel, hulle is bedroef oor hierdie geringe begin, hulle kan nie daarmee vrede maak nie. Bekeerdes maak nie vrede met hulle geringe begin nie; nee, hulle roep dit uit: “Ek ellendige mens, wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?” (Rom. 7:24). En hulle gaan ook nog verder. Volgens die Kategismus begin hulle ook met ‘n ernstige voorneme om nie alleen volgens sommige nie maar volgens al die gebooie van God te lewe. Hier is nie sprake van stilstand nie, broers en susters, maar van voortgang in die lewe van die gelowige.

En daardie voortgang soek God by elke gelowige. As iemand vandag nog net so haatdraend, liefdeloos en egoïsties is soos tien jaar gelede, dan moet so iemand homself afvra of hy werklik behoort by die kring van gelowiges wat tot God bekeer is. Want die lewe van die gelowige is nie ‘n stilstaande poel water nie, maar ‘n rivier. ‘n Rivier wat beweeg en verander en vernuwe. Die nuwe lewe staan nooit stil nie; nee, daardie lewe ken die dryfkrag van die ernstige voorneme om volgens al die gebooie van God te lewe.

Die ernstige voorneme – gemeente, dit is pragtige woorde wat die opstellers van die Kategismus hier gekies het; in hierdie woorde hoor ons sowel * ‘n ontdekkende as * ‘n vertroostende element.

Die ontdekkende element is dat die bekeerde lewe, u en my lewe, elke dag opnuut met ‘n ernstige voorneme besiel moet wees. Nie maar net flou voornemens nie; hulle vergaan soos mis voor die son, hulle soos nuwejaarsvoornemens wat mense binne die eerste twee weke van die nuwe jaar alweer vergeet het. Nee, die Kategismus praat van ernstige voornemens, voornemens wat in gebed voor die Here begin. Hoeveel van ons begin nog ons dag met sodanige ernstige gebed? Gebed waarin ons aan die Here voorhou dat ons werklik sy gebooie wil nakom, gebed waarin ons voor die Here bely: die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek” (Rom. 7:19), gebed waarin ons die Here smeek of Hy ons hierdie dag geloofskrag wil gee om gehoorsaam te wees. Wie van ons doen dít nog? Ons begin dikwels ons dag met groot spoed, ons dink nie eens aan die sondes van gister nie, en dan struikel ons vandag maar weer in dieselfde slaggate. ‘n Ernstige voorneme – oefen hierdie voorneme elke dag in gebed voor die Here, broers en susters.

Maar dan is daar ook die vertroostende element in die woorde “ernstige voorneme” – die vetroostende element dat, wat nie altyd uiterlik in ons lewenswandel sigbaar is nie, tog in die hart leef! Ja, God vra ons volmaaktheid, en niks minder nie. En tog ken die Here ons, en daarom vra  Hy dit nie alles op een slag nie. Die aard van die nuwe lewe is juis dat dit geleidelik ontwikkel. Ons maak nie groot bokspronge in die geloofslewe nie – laat niemand daaroor enige illusies hê nie. Ons sit klein treetjies; babatreetjies waarin daar nog baie sondes is, waarin ons soms moedeloos kan word omdat ons nog nie so ver is as wat ons sou wou wees nie. Maar dan mag ons God se wonderlike werk raaksien in die feit dat ons wil! Uiterlik is daar miskien nie soveel sigbaar nie, maar hier in die hart is daar die ernstige voorneme, leef daar die begeerte: ek wil! Ek wil die Here dien, ek wil so bitter graag sy kind wees, ek begeer van harte om sy gebooie te gehoorsaam. En dan is dit ‘n wil wat dikwels met trane gepaard sal gaan, want die goeie wat ek wil, doen ek nie; as ek die goeie wil doen, is die kwaad by my aanwesig. Ja, dit kan frustrerend werk. Maar nogtans is daar die begin, die ernstige voorneme. Gemeente, sien dáárin die werk van die Here, prys Hom daarvoor, en weet dat Hy nie sal laat vaar wat sy hand begin het nie; Hy sal dit voleindig!

Ten slotte: jou enigste troos wanneer heilige begeertes en ernstige voornemens faal.

3. “Waarom laat God die Tien Gebooie dan so streng aan ons voorhou as niemand dit tog in hierdie lewe kan onderhou nie?” Geen onsinnige vraag nie. Is die prediking van die wet nie verspilde moeite nie? Immers, niemand kan dit nakom nie; die onheiliges word net onheiliger, en die allerheiligstes maak slegs ‘n klein begin aan die gehoorsaamheid. Maar dan wys die Kategismus dat dit nie God se doel is om af te breek nie, maar juis om te bou! God wil deur die prediking van die wet sy gemeente opbou! Hoe?

Wel, luister na die antwoord van die Kategismus op hierdie vraag; dit is klassiek. Hoor daarin die driedeling van ellende, verlossing en dankbaarheid: “Ten eerste sodat ons gedurende ons hele lewe ons sondige natuur hoe langer hoe beter kan leer ken (dit is die kennis van ons ellende), en met groter verlange na die vergewing van sondes en na die geregtigheid in Christus kan soek (dit is die kennis van ons verlossing). Ten tweede moet ons ons sonder ophou daarvoor beywer en God om die genade van die Heilige Gees bid sodat ons altyd meer en meer na die ewebeeld van God vernuwe mag word (dit is die kennis van ons dankbaarheid). Ons kom hier dus dieselfde drie dele teë as wat ons reg aan die begin van die Kategismus ook al teëgekom het. Lees maar weer ‘n slag vraag en antwoord 2: Hoeveel dinge moet jy weet om in hierdie troos (die enigste troos van v/a 1) salig te kan lewe en sterwe? En dan volg dieselfde driedeling van ellende, verlossing en dankbaarheid.

God laat die wet dus nie streng aan ons voorhou omdat ons so goed in staat is om dit na te kom nie; God laat dit ook nie doen omdat Hy ons tot die grond toe wil afbreek nie. Nee, God het ‘n ander oogmerk. Die doel van die wetsprediking – dus, die rede waarom ons elke week die wet voorlees en elke jaar weer die tien gebooie in die prediking behandel – is om aan ons die nodige kennis te gee – kennis van onsself, kennis van ons Verlosser, kennis van ons nuwe lewe – juis sodat ons eienaars kan word van die enigste troos in lewe en in sterwe. Want, gemeente, deur die prediking van die wet leer ek myself ken; en wanneer ek myself beter en beter leer ken, vlug ek met groter verlange na Jesus Christus. En wanneer ek ‘n verloste is deur Jesus Christus, dan kry ek van sy Gees al hoe groter krag en begeerte om na die beeld van God vernuwe te word.

Dus, gemeente, wanneer jou heilige begeertes en jou ernstige voornemens faal – en dit gaan gebeur, moontlik selfs dikwels, want ons bereik die volmaaktheid eers ná hierdie lewe – dan dwing dit ons om ons heil te gaan soek by Jesus Christus. Wanneer my mislukkings my bring tot die uitroep: “Ek ellendige mens, wie sal my verlos?”, dan gee God die antwoord: “Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here.” Hy het tydens sy hele lewe op aarde die wet van die Here volmaak volbring. Tot in sy diepste begeertes toe was Christus in ooreenstemming met God se wet; sy begeertes was in alles suiwer soos goud. Hy is die Wetgewer, maar Hy is ook die wetvolbringer. Hy het nie slegs ‘n begin gemaak nie, maar Hy het in sy hoogheiligheid volmaakte gehoorsaamheid bewys. En om dit alles te kroon, het Hy aan die kruis gesterf – vir jou en my onheiligheid.

Vlug na Hom toe, alle heiliges met die geringe begin. Vlug na Hom toe, alle heiliges met die onheilige begeertes. Vind in Hom jou enigste troos. Ons bou nie op ons heilige begeertes of op ons ernstige voornemens nie. Nee, ons bou op Hom, ons lewensrots! En wanneer ons dan die heilige begeertes en die ernstige voornemens in ons lewens begin raaksien, dan prys ons Hóm daarvoor. Dan bely ons dat ons na liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan onsself nie, maar aan ons getroue Verlosser, Jesus Christus behoort. Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos. En Hy verseker my deur sy Heilige Gees van die ewige lewe waarheen ons oppad is.

En, gemeente, wanneer ons eendag daar kom, dan sal die geringe begin uitbot in die mooiste bloeisels, dan sal die boom van ons lewens sy volle drag vertoon, dan sal die volmaaktheid oral om ons heen wees; meer nog: dan sal die volmaaktheid in ons wees. Kom ons maak vandag reeds, met ernstige voornemens, ‘n geringe begin hiermee!

Amen

 

Liturgie (aand)

Groet en afkondigings
Votum Ps. 121:1
Seën: Genade vir julle en vrede van God ons Vader en van ons Here, Jesus Christus.
Sing Ps. 1:1 en 2
Gebed
Lees:  Psalm 119:33-40
 Romeine 7:15-26
Sing Ps. 119:11 en 12
Teks: HK Sondag 44
Preek
Amenlied Ps. 131
Gebed
Belydenis van geloof (staande en singende)
Kollekte
Slotsang Ps. 19:6 en 7
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)