Ons mag selfs die Here se gedagtes lees oor sy vriend Abraham…

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2009-08-23
Teks: 
Génesis 18:17-19
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

Geliefde gemeente van Jesus Christus, ons Here,

Ons het verlede week vanuit Psalm 147 gesien hoe die Here Homself aan Jakob, aan sy volk Israel bekend gemaak het; so het Hy aan geen enkele nasie gedoen nie (Ps. 147:20). Maar, broers en susters, hierdie eksklusiewe openbaring begin nie by Jakob nie. Nee, as ons wil sien waar dit begin, dan moet ons teruggaan na Jakob se oupa. Dít is waar dit begin het! Ons sien naamlik dat God, nadat Hy tot en met Genesis 11 deurgaans met die hele mensdom gewerk het, vanaf Genesis 12 sy aandag spesifiek op een persoon rig – Abraham. Hier vernou die stroom van God se openbaring tot een persoon, en uit hom een volk – Abraham, Isak, Jakob, en uit Jakob die twaalf seuns, en die twaalf seuns word die basis van die twaalf stamme van die volk Israel. So het Hy aan geen enkele nasie gedoen nie.

Maar, gemeente, voordat ons nou verval in een of ander eksklusivistiese Israel-visie, kom ons hou in gedagte dat God se einddoel nooit net een volk was nie. Dit het vir God nooit net oor Israel gegaan nie. Nee, in en deur Israel het God die hele mensdom op die oog gehad. Dít is waaraan Hy begin werk het toe Hy in Genesis 12 Abram geroep het. En God wys dit ook deur kort daarna Abram se naam te verander na Abraham, vader van ‘n menigte van nasies, vader van alle gelowiges uit alle volke, nasies en tale. Deur die geloof het jy en ek daarom ‘n hartlike verbintenis met ons verre voorvader, Abraham. God se omgang met Abraham is vandag nog rigtinggewend vir sy omgang met ons; die Here se openbaring aan hom is ook nog openbaring aan ons. Kom ons luister en leer…'

Tema: ons mag selfs die Here se gedagtes lees oor sy vriend Abraham…
1. Sy openhartigheid teenoor sy vriend
2. Sy ruimhartigheid teenoor sy vriend se nageslag
3. Sy trouhartigheid teenoor sy vriend in die vervulling van sy beloftes

1. Gemeeente, vanaf Genesis 12 sien ons hoe God se intense bemoeienis met Abraham vorm aanneem. God sluit met Abraham ‘n verbond, ‘n diep-geestelike vriendskapsverhouding. ‘n Vriendskap? God en mens vriende? Ja, God openbaar Homself aan Abraham, en Abraham reageer in geloof daarop, en – só lees ons dan in Jakobus 2:23 – “die Skrif is vervul wat sê: En Abraham het in God geglo en dit is hom tot geregtigheid gereken, en hy is ‘n vriend van God genoem.” Nou, gemeente, iets van die diepte van hierdie vriendskap sien ons in ons teksgedeelte in Genesis 18.

Die Here en twee van sy engele het sopas by Abraham ‘n besoek afgelê; ‘n bemoedigingsbesoek. Hulle het saam geëet en God het sy belofte van die koms van Isak oor ‘n jaar bevestig. Ten spyte van Sara se lag… Daarna het Abraham saam met hulle gegaan om hulle weg te bring (vers 16). En dan sien ons vervolgens in vers 17 hoe die Here by Homself te rade gaan, ons kry ‘n kykie in die gedagtes van God. En die eerste wat die Here vir Homself sê, is: “Sal Ek vir Abraham verberg wat Ek gaan doen?” God heg blykbaar soveel waarde aan sy vriendskap met Abraham dat Hy selfs sy planne en sy gedagtes met betrekking tot Sodom en Gomorra aan hom bekend wil maak.

En dan gee die Here in vers 18 ook nog die rede vir hierdie openhartigheid; Hy sê: “Sal Ek vir Abraham verberg wat Ek gaan doen, terwyl Abraham tog sekerlik ‘n groot en magtige nasie sal word en al die nasies van die aarde in hom geseën sal word?” Dit is ‘n opmerklike rede wat die Here hier vir sy openhartigheid gee. En met die eerste oogopslag lyk dit asof die rede in Abraham lê – hy sal ‘n groot en magtige nasie word! Abraham se toekomstige grootheid bring dus die Here tot openhartigheid… of so lyk dit altans. Maar kom ons dink mooi na, broers en susters. Want hoe kom dit dat Abraham ‘n groot en magtige nasie sal word? En wat is die rede daarvoor dat al die nasies van die aarde in hom geseën sal word? Dit is mos vanweë die Here se belofte aan hom! Dit is deur God se genade dat Abraham groot sal wees, die vader van alle gelowiges! Die rede vir God se openhartigheid lê dus nie in Abraham nie, die rede lê in God self! Dit is asof die Here by Homself dink: “Ek het mos vir Abraham belowe dat hy ‘n groot nasie sal word, nou wil Ek ook oop kaarte met hom speel in die realisering van daardie belofte. So maak vriende mos!”

Ja, gemeente, so maak vriende. Die dienskneg, die slaaf, hy weet nie wat sy heer doen nie; hy moet eenvoudig doen wat hom opgedra word sonder om te weet wat die einddoel is. ‘n Vriendskapsverhouding daarenteen word gekenmerk deur openheid en vertroue. Nou, so ‘n verhouding het God met Abraham, en so ‘n verhouding het Jesus – volgens Johannes 15 – ook met sy leerlinge. Hoewel Hy hulle Heer bly, staan hulle nogtans op ‘n vriendskaplike voet met mekaar, en vriende verberg niks vir mekaar nie. En daarom dat Jesus vir sy leerlinge in vertroue alles vertel het wat Hy van die Vader gehoor het; Hy hou niks terug nie. En só word die dissipels ingewy in God se plan en daardeur ook toegerus vir hulle taak as apostels, verkondigers van die blye boodskap.

Maar let wel, gemeente, ons sien weereens dat die rede vir hierdie openhartigheid van Jesus nie in sy dissipels lê nie. Nee, nadat Hy hulle sy vriende genoem het, vervolg Hy deur te sê: “Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies.” Die rede vir Jesus se openhartigheid lê dus enkel en alleen in sy verkiesende liefde – Ek het julle uitverkies! En net soos wat God met Abraham gedoen het, so trek ook Jesus die konsekwensies van hierdie verkiesende liefde teenoor sy dissipels: “As julle my vriende is – ook al is dit uit pure genade! – dan mag julle alles weet.” En pragtig sien ons dan in die evangelies hoe Jesus sy leerlinge, deur die loop van die drie jaar wat hulle saam gewandel het, inlei in die geheimenisse van die Vader. Nee, Jesus maak nie alles in een slag bekend nie, maar Hy maak wel alles bekend. En toegerus met daardie openbaring kon die apostels weer uitgaan om dit aan die hele wêreld te gaan verkondig, sodanig dat die apostel Paulus in Handelinge 20:27 aan die gemeente in Efese kan betuig: “ek het nie nagelaat om aan julle die hele raad van God te verkondig nie.”

Gemeente, ons het verlede week gesien dat dit ‘n wonder is dat ons God mag kén, dat Hy Homself kenbaar máák. Vandag word ons nog ‘n treetjie verder in hierdie wonder ingelei. Want behalwe dat ons God mag ken, sien ons nou verder dat Hy ook niks vir ons terughou nie. In hierdie vriendskap tussen God en ons is daar – vir God in elk geval! – geen geheime nie; nee, God loop spreekwoordelik met sy hart op sy mou teenoor sy vriende. God heg soveel waarde aan die vriendskap tussen Homself en ons, tussen Homself en my, dat Hy sy hele hart voor ons uitstort en met ons al sy geheime deel. Hy maak aan ons sy raad, sy plan met die wêreld en die mensdom bekend. En Hy doen dit nie omdat ons dit verdien nie, omdat ons sulke betroubare vriende is nie. Nee, Hy doen dit eenvoudig omdat Hy in sy liefde besluit het om met ons ‘n vriendskap aan te gaan. En wanneer God so iets besluit, dan doen Hy dit nie halfhartig nie; nee, dan gaan Hy voluit daarvoor! Sien daarom raak wat ons hier in die Skrif ontvang, broers en susters – dít wat die Vader en die Seun en die Heilige Gees van ewigheid af beplan en besluit het, dít wat hulle onderling ooreengekom het, word hierin vir ons geopenbaar. Hierin sien ons God se openhartigheid! Soos ‘n ware vriend vertel Hy vir ons presies wat Hy wil en waarheen Hy oppad is.

Maar, God het dan nie vertel dat ek hierdie siekte sou kry nie… En Hy was nie werklik openhartig oor daardie geliefde wat ek aan die dood moes afstaan nie… En ek lees dan nêrens in die Bybel dat ek my werk sou verloor nie… Nee, dit is waar, en dit kan vrae bring, dit kan twyfels veroorsaak. Maar in hierdie vriendskap tussen God en mens weet God ook wat goed is vir ons. Hy weet wat ons kan dra en wat nie; Hy weet dat dit nie goed vir ons sal wees as ons elke detail van ons lewe of van die geskiedenis sal ken nie. En nogtans kan ons sê dat God niks van ons teruggehou het nie; niks wat nodig is vir ons saligheid nie! Alles wat ons moet weet en glo om gered te kan word, dit het God aan sy vriende bekend gemaak, daarvan het Hy niks teruggehou nie. Sy openhartigheid is werklik tot ons saligheid. Broers en susters, lees daarom in geloof jou bybel en sien daarin God se uitgestrekte hand van vriendskap, dieselfde hand wat ook ons voorvader Abraham kon aangryp.

Hoor ook God se vriendelike woorde. En antwoord dan ook as vriend! Gaan in gebed, daardie vriendskaplike gesprek tussen klein mensies en die lewende God. Beoefen dus die vriendskap, ‘n vriendskap wat nie gewortel is in jou vermoë of verdienste nie – gelukkig nie! – maar in God se verkiesende genade!

In die tweede plek let ons op die Here se ruimhartigheid teenoor sy vriend se nageslag.

2. Ons kry nog ‘n verdere kykie in die Here se gedagtegang; Hy sê in vers 19 vir Homself: “Want Ek het hom verkies, dat hy aan sy kinders en sy huis ná hom bevel sou gee…” Hieruit blyk vir ons dat die Here se vriendskapsverhouding nie slegs tot die individu Abraham beperk word nie. Nee, die Here wil hê dat Abraham dit ook aan sy kinders en aan sy hele huis ná hom sal oordra. En dit is, terloops, die lyn wat ons dwarsdeur God se omgang met Abraham raaksien. Vanaf die begin van die Here se vriendskap met Abraham was dit ‘n vriendskap met hom en sy nageslag! Gaan kyk maar hoe dikwels hierdie woordjie ‘nageslag’ in Genesis 12-17 gebruik word.

Ons sien ook iets hiervan in die gedeelte net voor Genesis 18, waar Abraham, by die instelling van die besnydenis, die opdrag kry om ook die seuntjies van agt dae te besny en daarby ook enige vreemdeling wat met geld gekoop is (dit dui op die slawe in Abraham se huishouding). Die hele huishouding en die hele nageslag word dus by hierdie vriendskapsverhouding betrek. Die Here werk nie plek-plek met individue nie, hier een en daar een. Natuurlik is die Here in staat om individue uit die duister weg te roep na sy wonderbare lig. Maar as reël werk die Here in die lyn van die geslagte. Die geslagsregisters in die bybel is daarom nie droë stof wat ons eintlik maar as onbelangrik kan weggooi nie; nee, dit is monumente van God se omgang met die gelowiges en hulle kinders! Selfs die geskiedenis van ons Here Jesus Christus word sowel in Mattheus 1 as in Lukas 3 met so ‘n geslagsregister begin. Dit is werklik soos wat ons sing in Psalm 105: die verbond met Abraham, sy vrind, bevestig Hy van kind tot kind.

En natuurlik is daar lyne waarmee die Here jare lank gewerk het, wat doodloop; natuurlik is daar geslagte waar die bevestiging van kind tot kind nie verder gaan nie – eenvoudig vanweë die ongeloof van die vaders op die kinders, tot in die derde en vierde geslag. Daarvoor waarsku die Here ook in die tweede gebod. Maar, broers en susters, ons ongeloof en die feit dat sekere lyne doodloop, hef nog nie God se bedoeling op nie; meer nog: ons ongeloof is ook nie in staat om God se bedoeling te stuit nie. Want oral vind Hy weer nuwe weë, nuwe geslagslyne, nuwe openinge vir die volk wat uit Abraham gebore is. Ook hier in Suid-Afrika, ver weg van die grondgebied waar God en Abraham hulle vriendskap beoefen het, vind God steeds op wonderbaarlike wyse sy weg deur die geslagte heen.

En daardie wonder het ons vanoggend weer eerstehands voor ons oë gesien. God se vriendskapsverhouding met broeder en suster Kamphuis, en voor hulle met húlle ours, het Hy nou ook aangegaan met hulle dogter, met Inamarie; sy mag ‘n vriendin van die Here wees. Ook vir haar wil Hy, via haar ouers, Homself bekend maak; ook vir haar wil Hy geen geheime hê nie. Wat ‘n fantastiese vooruitsig vir wanneer hierdie meisie groter word en leer verstaan: sy mag die Here ken!

En dit is dan ook die verantwoordelikheid, die taak, waartoe die Here vir Abraham en elke ouer vandag roep. In ons teks verwoord die Here dit só dat Abraham sy kinders en sy huis moet beveel om die weg van die Here te hou. Ja, hy moet hulle leer om op die weg van vriendskap met die Here te bly wandel, juis omdat die Here se weg met ons een van vriendskap is. En dit is ook presies wat ons vandag ons kinders moet leer en wat ons hulle met groot vreugde mag voorleef. Ons leer hulle nie in die eerste plek om die regte dinge te sê en te doen nie; ons leer hulle nie dogmas en kerklike gewoontes nie. Ons leer hulle heel eerste om die weg van vriendskap met die Here te bewandel. Ons leer hulle kyk met oë van geloof, sodat hulle God se hand van vriendskap in hulle lewens kan raaksien. Ons leer hulle luister, sodat hulle God se vriendelike stem kan hoor wat alles vir ons wil vertel wat ons vir ons saligheid nodig het. En ons leer hulle antwoord in die gesprek van die gebed.

Gemeente, dit is die Here se keuse om in sy verhouding met ons ook ons kinders te betrek; daarin sien ons sy ruimhartigheid. Kom ons maak dan ook die grootste erns daarmee! Abraham se opdrag is steeds ons opdrag; ek skuif dit nie af na die kerk of die skool nie – hoewel ons die Here natuurlik kan dank vir hierdie middele wat Hy gee om ons kinders te láát onderrig. Nee, dit is my opdrag; die Here gaan my vra: het jy vir jou kinders geleer dat hulle uit genade my vriend en my vriendin is? Het jy hulle die weg van vriendskap voorgeleef? Dit vra van ons dat ons baie bewustelik ons kinders sal opvoed – hulle is nie net kinders wat gesien maar nie gehoor mag word nie. Nee! Hulle is vriende en vriendinne van die lewende God! En natuurlik, daarin moet hulle nog baie leer, maar laat ons hulle nie monddood maak tot die dag dat hulle gereed is om belydenis van geloof af te lê nie. Kom ons bemagtig hulle met God se woord; kom ons maak hulle dissipels (volgelinge) van Jesus Christus en leer hulle om alles te onderhou wat Hy beveel het. Laat ons kinders God se ruimhartigheid proe en ervaar, ook al is hulle nog baie klein.

Ten slotte let ons nog op die Here se trouhartigheid in die vervulling van sy beloftes.

3. Abraham moet sy kindes en huis ná hom bevel gee dat hulle die weg van die Here moet hou om geregtigheid en reg te doen. Dit dien gevolglik as voorwaarde “sodat die Here oor Abraham kan bring wat Hy oor Hom gespreek het” (einde van vers 19). Dus, die onderhouding van die weg van die Here in reg en geregtigheid is die voorwaarde vir die vervulling van God se beloftes oor Abraham. Nou moet ons maar onmiddellik en eerlik vir mekaar sê, broers en susters, dat Abraham se nageslag – die uitverkore volk van God! – van hierdie onderhouding van die weg van die Here nie ‘n baie groot sukses gemaak het nie. O ja, die volk was trots op hulle afkoms en op hulle geskiedenis; dink maar net daaraan hoe die leiers van die volk in Jesus se tyd hulleself daarop beroem het dat hulle kinders van Abraham was. Maar die geskiedenis van God se volk was in werklikheid niks om op trots te wees nie, daar was vir die volk geen rede om hulle te beroem in hulle afkoms nie.

Inteendeel, die geskiedenis was een lang herhaling van ontrou, ongehoorsaamheid, afval en afgodediens.

Maar is die geskiedenis van die Nuwe Testamentiese Israel enigsins beter, broers en susters? Is die geskiedenis van God se volk vandag iets om op trots te wees? Kan ons ons beroem in byna sestig jaar VGK-geskiedenis? Laat ons asseblief nie onder daardie illusie verkeer nie. Nee, vandag is dit nog nie beter nie; net soos Israel in die dae van die Ou Testament is ons nog steeds afvallig, nog steeds ongehoorsaam, en gee ons nog steeds die heidene rede om die Naam van die Here te spot en te laster. Die weg van die Here in geregtigheid en reg – laat ons nie te voorbarig daaroor praat nie.

Maar beteken dit nou dat God se beloftes aan Abraham ook nooit vervul sal word nie? Onthou: die onderhouding van die weg van die Here in geregtigheid en reg was die voorwaarde vir die vervulling van die beloftes aan Abraham. Verval dit nou? Is daar niks méér om te sê nie? Nee, daar is! Daar is baie meer! Want ons Here Jesus het gekom! Hy het gekom om die weg van die Here te bewandel. Die weg wat God se volk, wat ek en jy moes gaan in geregtigheid en reg, dit is die weg wat Hy gegaan het. “Kyk, Ek kom om u wil te doen, o God” – só die Here Jesus van Homself in Hebreërs 10. Op dié manier het Hy alle geregtigheid volbring… vir ons! Dít, broeders en susters, is nou vriendediens! Dít is ware vriendskap. Soos Jesus self sê in Johannes 15:13: “Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee” En dit is presies wat Jesus hier op aarde kom doen het: Hy het sy lewe vir sy vriende kom gee. In Hom is al God se beloftes ja en amen! Sien in Jesus Christus God se trou teenoor sy vriend; Hy sorg dat sy beloftes nie verval nie, maar deur Christus vervul word.

En wat moet ons nou doen? Moet ons dieselfde as Hy doen? Was Hy net vir ons die groot voorbeeld hoe ons die weg moet gaan? Nee, gemeente, ons gaan nie dieselfde weg as Hy nie, maar ons gaan wel na Hóm toe. Hy is immers self “die weg”! Só noem Hy Homself in Johannes 14:6: “Ek is die weg, die waarheid en die lewe.” God het sy vriendskapsband met Abraham dus nie verbreek nie, maar Hy het dit in Christus tot vervulling laat kom. Die weg van die Here in geregtigheid en reg – waarvan ons teks praat – daardie weg het ‘n naam, broers en susters! En die Naam is Jesus Christus. Om soos Abraham met God in ‘n ware vriendskapsverhouding te kan lewe, moet ons by hierdie Christus wees. Seuns en dogters, as jy ‘n vriend of vriendin van die Here wil wees, dan moet jy na die Here Jesus tot gaan! Want Hy het, volgens Hebreërs 10 wat ons gelees het, deur sy bloed die nuwe en lewende weg vir ons ingewy. En daardie weg gaan deur die voorhangsel heen tot binne in die heiligdom, tot in die hemelse paleis van die Here! Dáár mag ons met die lewende God vriendskap beoefen!

En die oproep van die Hebreërskrywer is om dit met vrymoedigheid te doen – moenie bang wees nie, moenie huiwer nie, maar let wel… moet dit ook nie op jou eie probeer doen nie. Doen dit met ‘n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van ‘n slegte gewete en die liggaam gewas met rein water. Dus, doen dit in geloof. Deur ware geloof in Jesus Christus, dus wanneer jy jouself werklik en volledig aan Hom oorgee, dan mag jy met groot vrymoedigheid voor God kom. En dít is wat die prediking van elke Sondag wil doen, dít is wat die ampsdraers tydens huisbesoeke behoort te doen, dít is wat die katkisasies beoog, dít is wat elke bybelstudie veronderstel is om te doen – dit wil, en dit is veronderstel, om jou by Jesus Christus te bring, die weg na God toe. Kom ons help mekaar verder op daardie weg. Vriende en vriendinne van God, wees ook vir mekaar vriende en vriendinne wat bereid is tot selfopoffering sodat niemand onder ons afdwaal nie. Laat ons op mekaar ag gee en laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.

Amen

 

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Votum Ps. 121:1
Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 108
Wetslesing + NT-verwerking
Sing Ps. 143:1, 2, 7 en 9
Gebed
Doopsbediening en dankgebed
Sing Ps. 103:7 en 9
Lees:  Genesis 18:9-22
 Johannes 15:12-17
 Hebreërs 10:19-22 (ook verse 23-25)
Sing Ps. 105:4, 23 en 24
Teks: Genesis 18:17-19
Preek
Amenlied Ps. 18:1 en 14
Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 47:3 en 4
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)