God is wél barmhartig, maar Hy is ook regverdig!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2008-07-20
Teks: 
Heidelbergse Kategismus, Sondag 4
Verwysing: 
HK 4-1
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

Geliefde gemeente, broers en susters,

Is dit nou nie tipies die mens nie? Is dit nou nie presies hoe ons is nie, naamlik om die saak waaroor dit eintlik gaan netjies om te draai? Die eintlike vraag – en dit is ‘n vraag wat God daagliks aan ons stel – is: “Doen die mens Gód dan nie onreg aan, omdat hy Hom nie gee wat Hom toekom nie?” Dus, ons is onregverdig teenoor God! – dít is hoe die saak in werklikheid staan. Maar baie slim en vernuftig draai ons die vraag om: “Doen God die méns dan nie onreg aan nie?” Skielik staan God in die beskuldigdebank, skielik is Hy die onregverdige. En wanneer ons hierdie vraag so in die Kategismus lees, knik ons goedkeurend. Ja-nee, dit is nou presies wat ons ook wou gevra het; ons kon dit net nie so goed verwoord nie…

Maar, gemeente, sopas het die Kategismus nog so duidelik óns ellende aan ons voorgehou, nog so duidelik gewys dat ons, in Adam, sélf verantwoordelik is vir ons ellendige toestand, terwyl God ons steeds toerekeningsvatbaar hou. En nou vlug ons skielik in die “ek kan nie”-skuiling, en vra ons: Hoe kan jy van ‘n lamme verwag om te loop, of hoe kan jy van ‘n blinde verwag om ‘n motor te bestuur? Dit is mos nie moontlik nie? Waarom verwag ons dan van die mens dat hy God se eis kan nakom? ‘n Laaste desperate poging om aan die gevolge van ons – jou en my – sonde te ontkom: jammer, ons kan nie…

Maar, gemeente, hoewel dit natuurlik saaklik korrek is dat die mens nie kán nie, is dít nie die groot probleem nie. Die groot probleem is dat ek en jy nie wíl nie! Ons eintlike onmag is ons onwil! En wie tog probeer om van sy onmag ‘n vlugroete te maak, wie tog dink dat hy op dié manier die beskuldigdebank kan ontsnap, kry met Jesus self te doen; hoor wat sê Hy in Mattheus 23:37: “hoe wou Ek julle nie bymekaarmaak nie, soos ‘n hen haar kuikens onder haar vlerke, maar julle wou nie”! Julle wou nie – dít is die regte antwoord! Nou kom ons by die kern van die probleem. Ons kón – só het God ons gemaak – maar ons wóú nie. Ons het, volgens antwoord 9, moedswillig daarvoor gekies om aan God ongehoorsaam te wees. Nee, moenie God in die beskuldigdebank plaas nie; óns is skuldig.

Nou goed, ons is skuldig, ons wou nie doen wat ons kon doen nie. Maar wat nou? Hoe reageer God hierop? Sien u, dit is alreeds ‘n baie beter vraag: Hoe tree God nou op? Wat doen Hy aan ons skuld? In plaas daarvan om te sê wat ons, die skuldiges, van God dink, vra ons eerder wie God is teenoor ons. En so kom ons nader daaraan om God te leer ken vir wie Hy werklik is.

Tema: God is wél barmhartig, maar Hy is ook regverdig!
1. Die twee hande van die een God
2. Die een altaar vir die baie mense

1. In vrae 10 en 11 wil die Kategismus meer weet oor die manier hoe God op ons moedswilligheid reageer. Ons is skuldig, ons kan nie aan hierdie feit ontkom nie. Ons het nog probeer, maar alle vlugroetes is nou toegemaak. Maar wat doen God nou? Hoe reageer Hy op ons skuld? Die antwoorde wat die Kategismus op hierdie vrae gee, bring ons op ‘n besondere manier terug by die wese van God, sy karakter. Wie is God? En die Kategismus se antwoord op hierdie vraag is: God is wel barmhartig, maar Hy is ook regverdig.

Gemeente, die Kategismus kombineer hier eienskappe of deugde wat vir ons mense baie moeilik is om te kombineeer. Vir ons gevoel is barmhartigheid en regverdigheid innerlik teenstrydige eienskappe. Hoe kan ‘n pa of ma terselfdertyd én barmhartig én regverdig teenoor hulle kind wees? Trouens, is dit nie een van ons groot worstelinge as ouers nie, naamlik hoe om hierdie twee met mekaar te versoen?

Ons moet egter onthou, broers en susters, dat ons met ons menslike verstand oor hierdie saak probeer nadink. Ons gebruik twee aparte woorde vir iets wat in God een is; ons gebruik twee woorde om die rykdom wat in God is, uit-een-te-sit. Maar in God is barmhartigheid en regverdigheid ‘n eenheid; in Hom stry die een deug nooit teen die ander deug nie. En daarom is dit ook afgodery – ‘n verandering van wie God werklik is – om, ter wille van ons selfbehoud, by God ‘n beroep te doen teen God; by God se barmhartigheid teen God se regverdigheid; by God as verlosser teen God as regter; by God as die Een wat nie die dood van die sondaar begeer nie, teen God wat die dood eis as straf op die sonde. Dit is onmoontlik om God teen Homself te laat keer, en dit is sondig om Hom teen Homself te probeer uitspeel. God se barmhartigheid en sy regverdigheid verkeer altyd in harmonie met mekaar. Barmhartige regverdigheid en regverdige barmhartigheid – by God is daar geen teenstrydigheid hierin nie.

Ons sien dit in die twee gedeeltes wat ons saam gelees het. En let dan op, broers en susters, dat ons in beide gedeeltes die beeld van “God se hand” teëkom. Kom ons let eers op 2 Samuel 24. Wat presies gebeur in hierdie gedeelte?

Wel, Dawid is deur die Here aangehits om die volk te tel. As rede hiervoor word in vers 1 aangevoer dat die Here se toorn teen Israel ontvlam het; dit wil dus voorkom asof die Here, vanweë die sonde van die vólk, as’t ware aanleiding gesoek het om hulle te straf. En dan gebruik Hy Dawid daarvoor. Ten spyte van Joab se waarskuwing gaan Dawid tog voort om die volk te laat tel, en dit lewer ‘n vleiende resultaat vir die koning op: in Israel agthonderdduisend weerbare manne, in Juda vyfhonderdduisend. Maar dan begin Dawid se gewete hom pla, met die gevolg dat hy sy skuld teenoor die Here bely. Dawid het baie goed aangevoel dat hy hier oortree het, want net die volgende môre word die profeet Gad gestuur om aan hom die straf van die Here bekend te maak; of beter gestel: hy kry ‘n keuse uit drie beskikbare strawwe – sewe jaar lank hongersnood, drie maande lank vlug voor sy teëstanders, of drie dae lank pes.

Ek is seker die meeste van ons het in ons harte gewonder watter keuse ons sou gemaak het as ons in Dawid se skoene was. Miskien sewe jaar lank hongersnood? Ja, hoekom nie? Die koning se huis sal immers altyd voorsien wees van die nodige; self sou die koning die hongersnood nie werklik gevoel het nie. Of wat van drie maande vervolging deur die teëstanders – ja, Dawid moet net goeie voorbereiding tref, dan behoort die drie maande darem nie ondraaglik te wees nie. Of dalk eerder die drie dae pes – die pes klink erg, maar dit is darem net drie dae, vinnig weer verby…

Dawid kyk egter nie so daarna nie; hy gee ‘n opmerklike antwoord op die keuse wat hom gebied word: “Laat ons tog val in die hand van die HERE, want sy barmhartighede is groot, maar laat my in die hand van mense nie val nie.” Sien u, Dawid wil geen keuse maak nie. Maar let wel op, broers en susters, dat Dawid met hierdie uitspraak tog die middelste van die drie keuses uitskakel; hy wil nie in mensehande val nie, so sê hy, en dus wil hy ook nie drie maande lank deur menslike teëstanders agtervolg word nie. Wat die ander twee keuses betref – die hongersnood en die pes – spreek Dawid geen voorkeur uit nie. Dit is vir hom genoeg om homself in die hand van God oor te gee; laat God maar kies! Is dit nie verstommend nie, gemeente? Dawid staar God se straf in die gesig; hy staan op die punt om God se straf aan die lyf te voel, en tog is hy oortuig van God se barmhartighede. Dawid is oortuig daarvan dat, ten spyte van die straf, hy nogtans veilig is in die hand van die Here. In God se hand wil Dawid graag wees, want dáár vind hy barmhartigheid!

Maar, gemeente, aan die ander kant is daar ook nog Hebreërs 10 wat ons saam gelees het. In hierdie gedeelte gaan dit oor diegene wat opsetlik sondig nadat hulle die kennis van die waarheid ontvang het. Ons kan die woord ‘opsetlik’ ook vertaal met ‘moedswillig’ (daar het ons weer daardie selfde woord as in antwoord 9 van die Kategismus). Dus, die sondaar wat die kennis, wat hy opgedoen het, as waar erken, en dan tog moedswillig daarteen ingaan, en in die sonde lewe, moet reken op God se verskriklike straf. Hierdie feit het alreeds gegeld in die Ou Testament, onder die wet van Moses, maar dit is ‘n des te groter realiteit in die nuwe bedeling. Om in die nuwe bedeling moedswillig te sondig, beteken om die Seun van God te vertrap en om die bloed, wat Hy gestort het, as onbelangrik te minag. Sodanige vertrapping en minagting sal deur die Here vergeld word. En dan verwys die Hebreërskrywer hierby na twee tekste uit die Ou Testament: “My kom die wraak toe, Ek sal vergelde, spreek die Here”, en ook: “Die Here sal sy volk oordeel.”

En dit is in hierdie konteks wat ons dan weer die hand van God teëkom: “Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God.” Hierdie woorde in vers 31 is as’t ware die samevatting van alles wat vanaf vers 26 gesê is oor mense wat moedswillig die Here en sy liefde afwys. Vir hulle sal dit, tereg, verskriklik wees. Die Here sal hulle tydelik en ewig met ‘n regverdige oordeel straf. In sy hande is daar vir hierdie mense slegs hulle verdiende loon; verskriklik is dit om op dié manier in God se hande te val.

So sien ons dus, gemeente, die twee hande van die een God. Die een hand vol van barmhartigheid en genade, die ander hand vol van sy regverdige oordeel. En tog is hierdie twee nie onbekend met mekaar nie; dit is nie so dat die een nie van die ander se bedrywighede afweet nie. Nee, God se barmhartigheid en sy regverdigheid is in harmonie met mekaar. Barmhartigheid en regverdigheid, dié twee saam vat hande om God se doel met die wêreld en die mensdom te bereik. Hulle werk voortdurend saam – waar daar veragting van God se barmhartigheid is, is dit ‘n straffende hand wat in heilige woede uitskiet om regverdig te straf; en waar God se regverdigheid in nederigheid en geloof erken word, is dit ‘n liefdevolle hand wat saggies uitgaan om barmhartigheid te bewys.

Maar nooit die een ten koste van die ander nie: waar barmhartigheid bewys word, gaan dit nie ten koste van die regverdigheid nie; dit is altyd ‘n regverdige barmhartigheid, ‘n barmhartigheid waarin die reg nogtans geskied. En waar in regverdigheid gestraf word, is dit altyd ‘n barmhartige regverdigheid, ‘n regverdigheid waaruit die billikheid nie verdwyn het nie.

So, gemeente, leer ons iets van God se karakter ken; leer ons sien hoe dit, wat vir ons mense so moeilik versoenbaar is, in God ‘n eenheid vorm. En nou is dit die kuns van die geloof, om alles wat God van Homself openbaar, te aanvaar. Sy barmhartigheid én sy regverdigheid. Nie die een ten koste van die ander nie, maar sáám – daarin lê vir ons die heil. Ons is dikwels so een-ogig en eensydig in ons kyk op God; terloops, dit is een van die gevolge van die feit dat ons onsself beroof het van die gawes om God reg te kan dien. Ons sien miskien net God se regverdigheid raak, en dit benou ons (soos wat dit Maarten Luther benou het), dit maak ons bang, en dit wek by ons die neiging om uit vrees vir Hom weg te hardloop, sonder om te besef dat daar by God ook barmhartigheid is. Of ons sien dalk net die barmhartigheid van God raak, en dit kan tot gevolg hê dat ons onverskillig met God begin omgaan, omdat ons nie meer raaksien dat Hy ook regverdig is in sy oordeel nie.

Dus, laat ons ons daarop toelê, broers en susters, om God te ken vir wie Hy werklik is, die lewende God. Laat ons ‘teologie’ – ons Godskennis – reg wees! Want waar die Godskennis reg is, daar word dit ook soveel makliker om onsself, soos Dawid, in die hande van hierdie God toevertrou. Maar wat doen ons baie keer? Ons vertrou onsself in die hande van mense toe; immers, ons kan mense manupileer, ons het ‘n greep op hulle – of altans, so dink ons… Maar hoe onbarmhartig en liefdeloos en inkonsekwent is mense nie teenoor mense nie. By God, egter, is ons veilig – dáár weet ons dat die hand wat slaan ook die hand van genade is, en dat die hand van genade tegelykertyd ook konsekwent-regverdig is. Is daar vir die gelowige – in al die benoudhede en die moeites van die lewe – ‘n beter plek om in te val as in die hande van die lewende God?

Vervolgens: die een altaar vir die baie mense.

2. Ons het gesien dat Dawid daarvoor gekies het om in die Here se hand te val, eerder as om in mensehande te val. Hy wou geen keuse maak vir een van die strawwe nie, maar hy kies wel vir die Here. Gevolglik sien ons dat dit dan ook die Here is wat op ‘n straf beslis. Hy stuur ‘n pes onder Israel; in die persoon van die engel gaan die pes rond om verwoesting te saai onder die volk. Van Dan tot Berseba sterf daar uiteindelik sewentigduisend man. Sewentigduisend!? Is dit nou die barmhartighede van die Here? Het Dawid dalk die verkeerde keuse gemaak deur in die Here se hand te val? Nee, tog nie, laat u nie mislei deur die getalle nie. Dawid was tog reg oor God se barmhartighede. Regverdig soos die straf was, het die Here tog genade bewys! Want, lees ons in vers 16, op die oomblik toe die engel sy hand uitgesteek het na Jerusalem om dit te verwoes, het die Here hom beveel om sy hand terug te trek. Die Here het onheil gesien, en op grond daarvan die ramp tydelik opgeskort.

Die engel van die Here was by die dorsvloer van Arauna, die Jebusiet, toe hy opdrag gekry het om sy hand terug te trek. En op daardie selfde dag nog kry Dawid van die profeet Gad die opdrag om by die einste dorsvloer van Arauna ‘n altaar te bou. In die daaropvolgende onderhandelinge met Arauna maak Dawid baie duidelik dat hy die dorsvloer en die bybehore nie net wil kry nie, maar dat hy dit wil koop. Sy doel daarmee is om op daardie plek ‘n altaar vir die Here te bou, sodat – so lees ons in vers 21 – die plaag onder die volk kan ophou.
Dit maak duidelik, gemeente, dat die situasie nie opgelos is op die moment dat die engel sy hand moes terugtrek nie. God se straf is op daardie oomblik tydelik opgeskort, ja, maar sy toorn is nog nie versoen nie. God se regverdige toorn agter die straf, dááraan moes eers nog aandag gegee word. Daarom die altaar en die offers waarvan vers 25 praat: “Toe het Dawid daar vir die Here ‘n altaar gebou en brandoffers en dankoffers gebring; en die Here het Hom oor die land ontferm, en die plaag is van Israel afgewend.” In die altaar op die dorsvloer van Arauna kom God se barmhartigheid en sy regverdigheid bymekaar, daar word betaal, versoening vind plaas deur voldoening – sodat Israel weer kan lewe! God stráf die volk vir hulle sondes, en God réd die volk deurdat Hy die straf nie tot volle ontplooiing laat kom nie. Regverdigheid en barmhartigheid in God se hand.

En dan is dit belangrik om te weet, gemeente, dat op die dorsvloer van Arauna jare later die tempel gebou sou word. Die tempel met die goue altaar, waarop die priesters ontelbare brandoffers en dankoffers namens die volk gebring het, die tempel waar die regverdige God sy barmhartigheid en die barmhartige God sy regverdigheid voor die oë van sy volk ten toon sou stel. Dáár op die altaar is daar betaal vir die sondes van die volk, sodat hulle nie sou sterwe nie. Dáár het versoening deur voldoening plaasgevind.

En dit was alles ‘n voorafskaduwing van die tyd toe God sy eie altaar en sy eie Offerlam voorsien het – Jesus Christus op Golgota. Ja, gemeente, in Christus kom God se barmhartigheid en sy regverdigheid tot volmaakte ontplooiing. As jy wil weet hoe barmhartigheid en regverdigheid met mekaar versoen kan word, kyk dan na Christus! Aan die kruis op Golgota word enersyds God se regverdige toorn stilgemaak, word die sonde wat teen die allerhoogste majesteit van God gedoen is, met die swaarste straf gestraf – die ewige straf aan liggaam en siel. Maar daarmee word andersyds ook die moontlikheid geskep dat sondige mense kan bly lewe. Op Golgota vind ons die een altaar vir baie mense.

God is wél barmhartig, maar Hy is ook regverdig – wat moet ons met hierdie uitspraak maak? Wel, gaan lees weer die evangelie, kom weer onder die indruk van hoe goed Goeie Vrydag in werklikheid was. Jesus Christus, God se barmhartigheid en regverdigheid in een Persoon! Hy sal Juda verlos en Israel veilig laat woon, en sy Naam sal genoem word: DIE HERE ONS GEREGTIGHEID (lees maar Jer. 23:5 en 6)! Deur Hom, ons Here Jesus Christus, is dit werklik die moeite werd om in die hand van die Here te val. Moenie dink dat jy lig daarvan gaan afkom nie, maar weet wel dat jy gaan lewe!

So, gemeente, het ons aan die einde van die eerste deel van die Kategismus gekom, die deel oor ons ellende. Dit het baie duidelik na vore gekom dat ons ellende groot is en dat ons diep in die skuld is by God, terwyl ons niks het om aan Hom te bied nie. Ons kan niks doen om dit reg te maak nie; meer nog: ons wil dit ook nie regmaak nie, ons is van nature heeltemal gelukkig in ons sonde, soos ‘n vark in die modder. Maar reeds in hierdie eerste deel het ook die evangelie deurgeskemer, sodat ons kan weet hoe ons met ons ellende behoort om te gaan. En die boodskap van die evangelie is ‘n tweesnydende boodskap.

Aan die een kant is daar die oproep om nie uit vrees van God af weg te hardloop nie. Gaan, soos Dawid, na Hom toe! Moenie dink dat jou ellende te groot is om versoen te word nie; moenie dink dat ‘n bepaalde sonde in jou lewe nie deur die versekeringspolis van Christus se bloed gedek word nie. Hoe dikwels in die geskiedenis het mense nie al die regverdigheid van God misverstaan nie, sodanig dat hulle in vrees vir Hom gelewe het; dit is Christene, mense wat opreg wil glo, maar wat net nie kan dink dat God húlle, ellendige mense, in barmhartigheid sal aansien nie. Hierdie vrees mag deur die liefde van God uitgedryf word, broers en susters; God se liefde in Christus help ons om met vrymoedigheid na die troon van die genade te gaan om daar barmhartigheid te ontvang. As jy ‘n vreesagtige is, moenie langer wag nie, gaan nou na jou God toe.

Maar aan die ander kant is daar ook diegene wat die regverdigheid van God heeltemal ignoreer, wat dink dat God net een en al liefde en barmhartigheid is. Vrees het in hulle geval al lankal by die agterdeur uit verdwyn, maar daarmee saam ook eerbied en ontsag en besef van die toorn van God. Hulle sondig lustig voort, want ons God is mos ‘n vergewende God? Ons kan mos altyd weer om vergewing bid? Maar vir hierdie persoon is die boodskap, dat wie voortgaan om te sondig, en nie erns maak om met die sonde te breek nie, verseker moet wees dat hy homself gaan vasloop in God se straffende geregtigheid. Jy kan in jou lewe nie maak asof die vreeslike hande van die lewende God nie bestaan nie, en dat jy nooit daarin sal val nie. As jy dalk op so ‘n onverskillige wyse met jou God omgegaan het, moenie langer wag nie, buig jouself met groot eerbied voor God neer en pleit op sy geregtigheid in Christus Jesus.

God is wel barmhartig, maar Hy is ook regverdig – ‘n volmaakte eenheid, wat vra dat ons God sal ken. Broers en susters, wees baie presies in jou teologie, in jou Godskennis. Want jou teologie is bepalend vir jou soteriologie, of anders gestel: jou Godskennis is bepalend vir die kennis van jou verlossing.

Amen

 

Liturgie (aand)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 35:8 en 12
Gebed
Lees: 2 Samuel 24:10-25
 Hebreërs 10:26-31
Kollekte
Sing Ps. 65:3 en 6
Teks: HK, Sondag 4
Preek
Amenlied Ps. 38:1, 3, 13 en 17
Belydenis van geloof (staande en singende)
Gebed
Slotsang Ps. 85
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)