Die Seun van die mens het gekom om van die Sondag ‘n heerlike dag te maak!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2009-07-12
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 38
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

Geliefde gemeente van Jesus Christus, ons Here,

Psalm 92, waarna ons enkele weke gelede in die prediking gekyk het, het as opskrif: “’n Psalm. ‘n Lied vir die sabbatdag.” En dan volg daar onmiddellik daarop ‘n emosionele uiting van lof op die Here: “Dit is goed om die Here te loof, en tot eer van u Naam te psalmsing, o Allerhoogste, om in die môre u goedertierenheid te verkondig en u getrouheid in die nagte.” Lof op die Naam van die Here! En nie sommer a capella nie, nee, daar is die tiensnarige instrument, die harp en die siter wat die digter in sy lofuiting begelei. “Want U het my bly gemaak, Here, deur u dade; ek jubel oor die werke van u hande.” Lof op die werke van die Here. Van die oggend tot die aand wil die digter die Here prys; 24-uur lof op die Naam en werke van die Here! Nooit ontbreek daar vir ons, sy kinders, stof tot lof nie. En daarom is dít die psalm, die lied, wat die digter vir die sabbatdag voorskryf.

Wat is u lied vir die sabbatdag, broeder en suster? Baie konkreet, wat sing of luister u op ‘n sondagmôre? Watter musiek speel in u motor terwyl u kerktoe ry? Is dit in u hart en op u lippe soos psalm 92:1 in die berymde weergawe sê: “Wie sou die HEER nie prys nie, as weer met nuwe gloed ‘n rusdag ons begroet?” En as met nuwe gloed die rusdag, die sondag, u begroet, hoe groet u terug? Het ons ‘n houding wat spreek van ywer om met die gemeente van God saam te kom, soos die Kategismus in antwoord 103 sê? Of dra ons soos arme martelaars aan die laste van die christendom wat ons dwing om stowwerige kerkdienste by te woon en outydse psalms te sing, en wat ons verhinder om voordeel te put uit die genietinge wat die wêreld op ‘n sondag aan ons wil bied?

Kleur die feestelike stemming van Psalm 92 nog ons sondae? Is die sondag nog vir ons ‘n verlustiging soos die Here daarvan praat in Jesaja 58:13? Of het die aantrekkingskrag van die wêreld van die lus ‘n las gemaak? Dalk word jou sportwedstryde deur die kerkdienste onderbreek, of dalk word jou plesier deur pa en ma se sondagsreëls versteur… Ja, moontlik het ons self met ‘n hele reeks moets en moenies die Sondag van sy vreugde beroof? Ons kan hulle almal opnoem, die moets en moenies wat die jonger kinders so frustreer. En as ons ouer word dan maak ons grappies daaroor, net om dit daarna weer in ons eie gesinne toe te pas.
Die wêreldse aanloklikhede en ons eie reëls daargelaat, gemeente, wat is dit wat werklike vreugde aan die Sondag verleen? Wat is dit wat van die Sondag ‘n heerlike dag maak?

Tema: Die Seun van die mens het gekom om van die Sondag ‘n heerlike dag te maak!
1. Die sabbat is gemaak vir die Seun van die mens
2. Die Seun van die mens het gekom om goed te doen

1. Jesus loop op die sabbat saam met sy dissipels deur die gesaaides. Nou, wanneer ons dit hoor, het ons dikwels die beeld van ‘n ontspanne Sondagmiddag-wandeling in ons koppe, nie waar nie? Jesus en sy dissipels het niks gehad om te doen tussen die twee eredienste nie, en toe het hulle maar ‘n entjie gaan wandel… Maar dit is nie die geval nie, broers en susters, letterlik staan daar dat Jesus verbygetrek het deur die gesaaides. Dit wys vir ons dat Jesus op reis was, dat Hy êrens heen oppad was. Maar hoekom deur die gesaaides? Daar was mos makliker paaie om te gebruik? Ja beslis, maar aangesien hierdie reis op die sábbat plaasgevind het, moes Jesus en sy dissipels noodgedwonge óm die dorpe, waarlangs hulle gekom het, heentrek. Hulle kon nie die gewone pad déúr die dorpe volg nie, want dan sou hulle – volgens die sabbatswetgewing – daar moes oorbly, dan sou hulle die sogenaamde ‘rusgebied’ waarbinne hulle gekom het nie meer kon verlaat nie. Eers wanneer hulle hul doel bereik het, kon hulle die dorp binnegaan. Maar tot tyd en wyl hulle nog na daardie doel op reis was, moes hulle maar die paadjies deur die veld en verby die landerye neem.

Nou, broers en susters, dit is in hierdie reis-situasie dat die dissipels, volgens Mattheus se weergawe van die verhaal, honger geraak en van die koring begin pluk het. Ons kan onsself dit só voorstel dat hulle sommer so in die loop die are beetgekry en die graankorrels uitgetrek het. En daarop rig die Fariseërs vervolgens hulle kritiek – want, sê hulle, dit is die dissipels nie geoorloof om op ‘n sabbat ‘n maaltyd voor te berei nie. Die pluk van die are op sigself was nie verbode nie, maar om op ‘n sabbat ‘n maaltyd voor te berei met die doel om jou honger te stil, dit was teen die wet. En dit is presies wat die dissipels gedoen het. Gemeente, ons moet verstaan dat hierdie aanklag nie sommer ‘n versinsel van die Fariseërs was nie; nee, alreeds vanaf die tyd dat die volk manna in die woestyn geëet het, het hierdie wet onder die volk gegeld. Die Fariseërs kom dus nie met onbenullige kritiek nie, maar hulle wil in alle erns by Jesus weet of Hy nie besig is om die mense van die Here se wet af weg te lei nie. En, soos wat ons Jesus ken, hanteer Hy hulle kritiek ook in alle erns.

In sy antwoord op die kritiek tref Jesus ‘n vergelyking tussen hierdie situasie, waarin Hy en sy dissipels hulle bevind het, en die situasie van Dawid in 1 Samuel 21 (ons het dit saam gelees). En daar is inderdaad verskeie punte van ooreenkoms. Dawid en sy manne was óók honger. Die geskiedenis van 1 Samuel 21 speel hom waarskynlik óók af op ‘n sabbatdag, aangesien dít die dag was waarop die toonbrode gewissel is. En Dawid was óók op reis. Hy wek naamlik die indruk teenoor die priester dat hy op bevel van die koning op ‘n belangrike sending is. En dít gee vir die priester die deurslag om aan Dawid en sy manne van die toonbrode te gee – immers, die tempeldiens is daar ter wille van die volk; as die welsyn van die volk dus op die spel staan, dan kan die priesters mos maar afstand doen van hulle reg op die toonbrode, om sodoende die koning en die volk te dien. Die priester maak hier ‘n uitsondering omdat Dawid op reis was om ‘n uitsonderlike táák uit te voer.

Nou, gemeente, hierdie stukkie geskiedenis betrek Jesus op Homself; Hy vergelyk Homself met Dawid en toon aan dat Hy, net soos Dawid, in diens van die Koning (God) moet reis. Sy hoë opdrag, sy uitsonderlike taak tot verlossing van die mensdom, gee daarom aan Hom groter vryhede – net soos in die geval van Dawid. En net soos wat Dawid se reisgenote ook van die toonbrode geëet het wat hulle nie toegekom het nie, net so eet Jesus se leerlinge op ‘n manier wat nie werklik gepas het by die sabbatsreëls van daardie tyd nie. Maar onthou dan: dit was deel van die groter reisopdrag van die Here Jesus.

En as ons dít in die oog hou, gemeente, as ons in gedagte hou dat dit hier gaan oor Jesus se uitvoering van sy Godgegewe taak, dan is die belangrike vraag nie die een wat die Fariseërs gestel het nie: “… waarom doen hulle op die sabbat wat nie geoorloof is nie?” Nee, dan is die belangrike vraag eerder: hoe kyk julle, Fariseërs, na Jesus en na sy groot opdrag? Sien julle Hom vir wie Hy is? Sien julle waarvoor Hy gekom het? En kan julle daarom aanvaar dat die wet aan Hóm, die groot Wetgewer, onderworpe is? Dít is die punt hier, gemeente! Dit gaan hier oor Jesus, en nie oor die sabbat nie!

Jesus werk dit vervolgens uit in verse 27 en 28. In vers 27 sê Hy: “Die sabbat is gemaak vir die mens, nie die mens vir die sabbat nie.” Jesus herinner hier aan die instelling van die sabbat, Hy herinner aan die tyd toe die sabbat gemaak is op die sewende dag. Nadat God naamlik op die sesde dag die mens, man en vrou, gevorm het, het Hy op die sewende dag die sabbat gemaak en saam met die mens op daardie dag gerus. Die sabbat was dus ‘n geskenk aan Adam, nie andersom nie! Dit was nie so dat die sabbat vir Adam en Eva moes opslurp in sy mag nie, dit was nie die bedoeling dat die sabbat ‘n grootheid in sigself sou word waaraan die mens hom moes onderwerp nie. Nee, die sabbat is gemaak vir Adam en Eva, en hulle het vrye gebruiksreg daaroor gehad; die sabbat was volledig húlle s’n om tot eer van God te gebruik.
Maar, gemeente, vanweë die sondeval het hierdie bedoeling van God nie gerealiseer nie. Adam het ‘n gemors van die sabbat gemaak, en gevolglik het hy en sy nakomelinge onder die vele sabbatswette gekom wat daarna ingestel is. Maar, sê Jesus vervolgens in vers 28, moenie moed verloor nie. Want hoewel die mens sy beskikkingsreg oor die sabbat verloor het, het die Seun van die mens, die tweede Adam, nou gekom om weer die Godgegewe beskikkingsreg oor die sabbat uit te oefen. Hy is immers Heer, ook van die sabbat! Jesus is nie soos die knegte wat onder die bepalings van die wet lewe nie. Nee, Hy is die groot seun van Adam wat die mensdom kom bevry. Hy staan as Heer bo die wet, en Hy rig die wette volgens die eise van sy koninkryk. Die rusdag is gemaak vir die mens, vir die Seun van die mens, en Hy – en nie die wet nie! – bepaal wat ons daarmee moet doen. Want méér as die wet is hier!

Gemeente, verstaan u wat Jesus hier wil sê? Sien u waaroor dit vir Hom gaan? Vir Jesus gaan dit hier nie oor die sabbatswetgewing nie. Dit is nie vir Hom ter sake nie. Let wel, Hy relativeer ook nie die wette en reëls met betrekking tot die sabbat nie, maar Hy plaas dit wel ondergeskik aan sy verlossingswerk! Want sy werk staan sentraal, Hy staan sentraal. Hy is Here van die sabbat, die sabbat is gemaak vir Hóm, die Seun van die mens, en daarom ook vir elke mens wat in Hom glo tot verlossing! En dít is wat die Fariseërs moes leer raaksien: wie is Jesus? Nie: wat is die sabbat nie! En dit is ook die vraag aan elkeen van ons: plaas ons Jesus Christus sentraal op die Sondag? Sien ons nog raak dat Hy die Sondag gemaak het wat dit is, en dat die Sondag daarom gemaak is vir Hóm?

Want dit kan so maklik gebeur, broers en susters, dat die rusdag een of ander selfstandige grootheid word: die Sondag! Die Sondag begin sy eie lewe lei, en ons onderwerp onsself gevolglik soos slawe aan hierdie dag – die Sondag bepaal my kleredrag, die Sondag bepaal wat ek eet en drink, die Sondag bepaal hoe ek my tyd invul. En die gevolg is dikwels allerhande interessante reëls: ek moet op ‘n Sondag heeldag my kerkklere aanhou. Hoekom? Want dit is Sondag! Of: ek mag nie fiets ry of swem nie. Hoekom nie? Want dit is Sondag! Of: ma maak nie vandag kos nie. Hoekom nie? Want dit is Sondag! Maar gemeente, die Sondag is nie my heer nie. Jesus Christus is my Heer! En Hy is die Een wat aan ons die vrye gebruiksreg oor die Sondag, wat God by die skepping aan Adam gegee het, kom teruggee het. Hy het die tweede Adam geword, sodat ons weer in Adam se posisie herstel kan word. En só word die rusdag weer ‘n geskenk vir óns om te gebruik; die sondag is myne om te gebruik tot eer van Hom wat Here is, ook van die sabbat! En ons is nie slegs ornamente ter versiering van die rusdag nie!

Daarmee sê ek nie, broers en susters, dat ons in ‘n normlose Sondagsviering kan verval nie; my vrye gebruiksreg van die Sondag is nie normloos nie. Jongmense, julle kan nie op die Sondag net doen wat julle wil nie; daar bly steeds ‘n norm! Maar daardie norm is Jesus Christus en sy eer en sy Koninkryk! En dan vra ek nie meer soos die Fariseërs heel eerste: wat is nie geoorloof om op die sabbat te doen nie? Dit is dikwels ons vertrekpunt, nie waar nie? Maar nee, heel eerste mag ek vra: Hoe kan ek my Here eer? Hoe kan ek sy koninkryk bevorder? Dan sien ek my Sondagsinvulling binne die groter geheel van die uitbreiding van die koninkryk van die hemele hier op aarde. Broers en susters, laat dit asseblief ons eerste prioriteit wees op ‘n Sondag. Die Here van die sabbat het hierdie dag aan ons kom teruggee sodat Hy inderdaad as Here vereer kan word.

En dan word dit mos vanselfsprekend dat ek Sondae heel eerste die eredienste bywoon, dat ek – soos Sondag 38 sê – ywerig met die gemeente van God saamkom om die Woord van God te hoor, die sakramente te gebruik, die Here openlik aan te roep en die Christelike liefdesgawes te gee. Dit is dan heel eerste, want hier in die eredienste ontmoet ek mos Jesus Christus, die Seun van die mens, my Here. En die rusdag is mos gemaak vir Hóm! Dis mos gemaak sodat ek Hóm kan eer. Maar dan kom ook die res van die Sondag en die hele week in daardie lig te staan.

En daarop let ons vervolgens: die Seun van die mens het gekom om goed te doen.

2. Markus 3:1-6 is ‘n opmerklike vervolg op hoofstuk 2. Want net soos aan die einde van hoofstuk 2, bevind ons onsself in hoofstuk 3 weer op ‘n sabbatdag. Of dit dieselfde sabbatdag was, weet ons nie. Maak ook nie saak nie. Die punt is dat die Fariseërs weer daar is om ‘n ogie oor Jesus te hou. Hulle waarskuwing in hoofstuk 2 oor die are-plukkende dissipels gaan nou oor tot ‘n volgende vlak – hulle soek bewyse om Hom te kan aankla.

Die gebeure speel hulle af in die sinagoge, waarskynlik die sinagoge van Kapernaum, Jesus se tuisdorp. Daar is ‘n man met ‘n verlamde hand; dít is vir die Fariseërs, wat geweet het dat Jesus graag mense genees het, ‘n ideale lokval om te sien wat Jesus sou doen: sou Hy die sabbat misbruik om iemand te genees? Jesus, wat Hom nie deur die Fariseërs laat afskrik nie, gebruik hierdie lokval baie bewustelik; Hy plaas die man met die verlamde man in die middel van die kring. En dan rig Hy Hom tot sy vervolgers: “Is dit geoorloof om op die sabbat goed of kwaad te doen, ‘n lewe te red of dood te maak?” Met hierdie woorde sluit Jesus Homself oënskynlik aan by die geldende sabbatsreg. Hy vra naamlik of dit geoorloof is om op ‘n sabbat ‘n lewe te red, en volgens die rabbynse reg van daardie tyd het die redding van ‘n lewe prioriteit geniet bo die sabbat. Dit lyk dus asof Jesus Homself wil regverdig met ‘n beroep op die algemeen-aanvaarde sabbatsopvatting. Maar wat vreemd is, is dat Hy Homself beroep op ‘n wet wat voorsiening gemaak het in gevalle van lewensgevaar – maar by die man met die verlamde hand kan ons nou nie regtig praat van lewensgevaar nie. Dus, wat probeer Jesus presies bereik?

Wel, gemeente, om Jesus se bedoeling reg te verstaan, moet ons mooi lees wat Hy presies sê; sy formulering is merkwaardig. Die rabbyne het hulle naamlik besig gehou met die vraag of ‘n mens op ‘n sabbat ‘n ander persoon, wat in lewensgevaar verkeer, mag red of nie. Jesus stel egter ‘n ander dilemma; sy vraag is eerder: mag ‘n mens op ‘n sabbat ‘n lewe red of doodmaak? En sy ander vraag is: Is dit geoorloof om op die sabbat goed te doen of kwaad? Teenoor die positiewe moontlikheid om goed te doen of ‘n lewe te red, stel Jesus ‘n negatiewe daad (kwaad doen of doodmaak).

Maar – só hoor ons al die Fariseërs se verontwaardigde antwoord – wie stel nou só ‘n vraag; dit spreek mos vanself dat ‘n mens dit nie mag doen nie, en veral nie op ‘n sabbat nie. O ja? Maar wat is julle dan besig om te doen, Fariseërs? Deur hier te kom spioeneer is julle besig om materiaal te versamel om Jesus te kan aankla en doodmaak – en julle doen dit op die sabbat! Julle vra julleself af of Jesus dalk op die sabbat, sonder noodsaak, iemand sou wou genees, maar julle vra dit met die oog op sy dood en omdat julle ‘n aanklag teen Hom wil voorberei! Is dít nou sabbatswerk? Is dít geoorloof: om op die sabbat iemand se onheil te beplan en sy dood voor te berei? Jesus se formulering van die dilemma plaas die Fariseërs inderdaad in ‘n dilemma; hulle soek beskuldigings teen Jesus, maar nou plaas Hy húlle in die beskuldigdebank. En daarom antwoord hulle Hom nie, hulle bly tjoepstil. En daaroor vertoorn Jesus Hom, want dit is ‘n teken van hulle verharding. Hulle is vasbeslote en laat hulle deur Hom nie van hulle bose planne afbring nie.

Maar, broers en susters, net so laat Jesus Hom ook nie van sy plan afbring nie; Hy wyk nie af van die doel waarvoor Hy op aarde gekom het nie. Hy beveel daarom die man met die verdorde hand om sy hand uit te steek. Ja, terwyl die Fariseërs stilbly en van plan is om die hande aan Jesus te slaan, steek hierdie man op bevel van Jesus sy hand uit. En sy hand word wonderbaarlik gesond – eenvoudig deur Jesus te gehoorsaam. Dit is ‘n duidelike teken en ‘n dringende oproep: elkeen wat Jesus gehoorsaam en sy hand na Hom toe uitsteek, ontvang by Hom redding van die lewe. Want vir Jesus gaan dit by die hand ten slotte oor die siel van hierdie mens. Daarvoor het Hy gekom: om te red dié wat verlore is!

Dus, gemeente, teenoor die een moontlikheid van Jesus se dilemma, naamlik om op die sabbat kwaad te doen en dood te maak – en dit is presies wat die Fariseërs gedoen het! – kom maak Jesus nou die ander moontlikheid ‘n realiteit: Hy kom doen goed, Hy kom maak lewend, Hy bewerk die redding van hierdie man. Jesus het op aarde gekom om die lewens van sondaars te red van die dood. En Hy laat Hom nie deur die wette van die sabbat inperk nie; nee, juis op die sabbat kom doen Hy goed!

En só sien ons weereens, gemeente, dat dit hier nie gaan oor die sabbat nie. Jesus skaf die sabbat nie af nie, Hy sê ook nie dat dit normaal is om op die sabbat te genees nie. Hy verander nie die wet vir die volk nie. Maar Hy wys wel dat Hy die vervulling van die wet is. Hier is nie ‘n konfrontasie oor die sabbat nie, maar oor die Messias: mag Hy goed doen, of moet daar kwaad teen Hom gedoen word? Mag Hy lewe bring, of moet Hy sterwe? Wel, broers en susters, uiteindelik doen Hy altwee. Deurdat Jesus hierdie genesing, wat nie lewensnoodsaaklik of spoedeisend was nie, tóg verrig, gee Hy aan sy teenstanders die materiaal wat hulle nodig het om Hom tot die dood te kan veroordeel. En deur te sterwe bring Hy vir ons die lewe! Hy openbaar Homself as die Redder wat Homself aan ‘n regsaak laat onderwerp en Homself aan ‘n kruis laat spyker om mense se lewens te kan red! En uiteindelik staan Hy op die derde dag weer op; Hy oorwin die dood op die eerste dag van die week. En daarom vir ons Sondag, die dag waarop Jesus aan ons goed gedoen het, die dag van sy oorwinning. Want die Seun van die mens het gekom om goed te doen, en die Sondag is daarvan die begin…

Broers en susters, elke Sondag weer wil God in sy Seun aan jou en my goed doen, elke Sondag bewys God aan jou en my sy oorvloedige genade, skenk Hy aan ons lewe in die ontmoeting met Homself en in die verkondiging van sy Woord. Die Seun het dit moontlik gemaak; Hy het gekom om die bande van die wet te kom breek en om ons daarvan te bevry. Hy het die wet kom vervul en tot sy volheid na vore gebring. En daardeur is die Sondag nie ‘n dag van wette en reëls nie, maar ‘n dag van oorvloed en goedheid en van genade! Oorvloed en goedheid en genade van God aan ons, sy kinders. Kom soek dit en vind dit!

En wanneer ons dit leer raaksien en eerstehands beleef, dan kan óns ook weer goed doen, gemeente. Die Seun van die mens het gekom om goed te doen, sodat elkeen wat in Hom glo kan deel in daardie goedheid en self ook goedheid kan bewys. En weet u wat? Dán kry die Sondag weer sy optimale invulling. Dan eindig my Sondag nie met twee (of selfs een) erediens nie, maar dan begin dit daarmee, en dan gaan ek na die eredienste uit en bewys ek goedheid in my gesin wanneer ons saam oor die preek kan praat, dan bewys ek goedheid aan my kinders wanneer ek tyd saam met hulle deurbring, dan bewys ek goedheid aan my broers en susters in die gemeente wanneer ek hulle nooi om te kom kuier, dan bewys ek goedheid aan my medemens wanneer ek besoeke bring en die Woord uitdra.

En dan eindig dit ook nie hier nie – nee, dan werk dit deur na die hele week. Sondagschristene moet Maandagschristene word en Dinsdagschristene, ja, christene vir die hele week. God se oorvloedige goedheid wat Hy in besonder op Sondae hier in die kerk aan my en ons almal bewys, sy goedheid in die Seun van die mens, werk dan deur na die mense van die Seun, na Christus se volgelinge wat vervolgens elke dag sy goedheid mag gaan uitleef – goedheid teenoor my kollegas, goedheid wanneer ek in die ry by die winkel staan, goedheid wanneer ek by die stopstraat stop, goedheid by my buurman. Dan rus ek, soos die Kategismus sê, elke dag van my bose werke en laat ek die Gees in my werk en begin ek die ewige sabbat reeds in hierdie lewe.

Gemeente, kom ons leer weer om in Christus na die Sondag te kyk, en dan word die Sondag ‘n heerlike dag. ‘n Heerlike dag waarin ek goedheid mag ontvang en goedheid mag bewys.

Amen

 

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Votum Ps. 121:1
Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 29:1, 4 en 5
Wetslesing + Mattheus 11:28-30
Sing Ps. 53:2, 3, 6 en 7
Gebed
Lees:  Markus 2:23-3:6
 1 Samuel 21:1-6
Sing Ps. 34:3 en 4
Teks: HK, Sondag 38
Preek
Amenlied Skr. 18:5-8
Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 63:2-4
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)