Dawid se gebed by die fondsinsameling vir die tempel…

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2009-05-24
Teks: 
1 Kronieke 29
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Heelwat onder ons het, na aanleiding van die inisiatief van die kinderfeeskommissie, in die laaste tyd iets saamgevat vir die weeskinders in die omgewing. Seuns en dogters, julle het miskien op julle eie iets saamgebring en in die houers by die ingang gesit. En verlede week is dit toe na die verskillende kinderhuise geneem om daar uit te deel. ‘n Pragtige gebaar! Maar, seuns en dogters, weet julle ook hoekom ons dit gedoen het? Weet julle wat die aanleiding hiervoor was? Dis reg, dit het te make met dankdag.

Miskien onthou julle nog dat ons in November van verlede jaar biddag gehou het – dit was, sê maar, aan die begin van die landbouseisoen. Tydens hierdie biddag het ons die seën van die Here gevra oor die gesaaides en oor ons werk van elke dag – of dit nou werk op die lande was, of in die kantoor, of in die klaslokaal. Ons het daarin ons afhanklikheid van die Here bely vir die daaglikse versorging van ons liggame. Want die Here ag Homself nie te hoog vir die liggaamlike versorging nie. Die Here maak nie, soos wat ons dikwels doen, ‘n skeiding tussen ons siel en ons liggaam nie. Nee, siel én liggaam is vir die Here belangrik. En wys die Here Jesus dit nie pragtig vir ons in die verhaal van Mattheus 9 nie? Vir die verlamde man voor Hom sê Hy eers: “Seun, hou goeie moed, jou sondes is jou vergewe.” En wanneer die skrifgeleerdes Hom dan van godslastering beskuldig, dan sê Hy: “Maar dat julle kan weet dat die Seun van die mens mag het om op aarde sonde te vergewe – toe sê Hy vir die verlamde man: Staan op, neem jou bed op en gaan na jou huis toe.” Siel én liggaam! En dit is uiteindelik siel én liggaam wat by die wederkoms van die Here Jesus vervolmaak sal word. Ook jou liggaam is daarom vir die Here belangrik – dit is vir Hom belangrik wat jy eet en wat jy drink, wat jy aantrek en watter werk jy doen; dit is vir Hom belangrik dat jy jou werk geniet en dat jy lekker mag eet. En daarom het ons dit alles tydens die biddag aan die Here opgedra.

En nou, broers en susters, staan ons ongeveer aan die einde van die landbouseisoen en wil ons die Here dank vir die oes en vir sy versorging van elke dag. Ons wil ons dankbaarheid aan die Here wys vir elke dag se kos, vir die werk wat ons mag hê en mag doen, en vir die liggaamlike versorging wat ons ontvang het, ook in hierdie tye van ekonomiese moeites. En sulke dankdae is ‘n baie goeie gewoonte wat in die kerke ‘n plek gekry het. Só gou staan ons gereed om te bid vir alles en nog wat. Maar om daarna, wanneer ons gekry het waarvoor ons gebid het, ook weer te dank… dit is dikwels ‘n vergete hoofstuk. En selfs al gee die Here in sy wysheid nie altyd waarvoor ons gevra het nie, dan nóg bly daar rede om te dank – vir alles wat ons wél mag hê. U sien, broers en susters, seuns en dogters, dankdag is geen oorbodige luukse nie, dankdag is die geleentheid om weer onder die indruk te kom van God se goeie sorg, elke dag! Dankdag is ‘n geleentheid om weer invulling te gee aan ons dankbaarheid vir elke snytjie brood en vir elke rand en sent wat ons van die Here ontvang. Dit wil ons vandag doen deur te luister na Dawid se gebed in 1 Kronieke 29.

Tema: Dawid se gebed by die fondsinsameling vir die tempel…
1. Hy skets die kontras
2. Hy dank God vir sy gawes
3. Hy bid vir ‘n blywende gesindheid

1. Dawid wou vir die Here ‘n huis bou – dit was een van sy grootste begeertes. In sy liefde vir die Here het hy naamlik aangevoel dat dit vreemd is dat hy in ‘n pragtige paleis bly, terwyl die ark van God in ‘n tent moet woon (2 Sam. 7:2). En u onthou waarskynlik hoe hierdie voorneme toe verder verloop het: aanvanklik kry Dawid die groen lig by die profeet Natan: “Gaan heen, doen alles wat in u hart is, want die HERE is met u.” Maar net die volgende dag moet Natan vir Dawid gaan vertel dat hy eintlik te vinnig gepraat het: Dawid sal nie vir die Here ‘n huis bou nie; inteendeel, die Here sal vir Dawid ‘n huis bou, Hy sal sy troon bevestig tot in ewigheid – lees maar 2 Samuel 7. En wat die bou van die tempel betref, daarvoor het die Here besluit om Salomo te gebruik.

Dawid het hierdie besluit van die Here gelowig aanvaar; hy het aanvaar dat dit nie sy taak was om die huis van die Here te bou nie. Maar dit het egter nie beteken dat Dawid homself gevolglik volledig teruggetrek het van hierdie projek nie. Allermins! Hy kon miskien nie deel wees van die fisiese bou van die tempel nie, maar daar was hope voorbereidings om te tref. En daarin speel Dawid ‘n groot rol. Uit hoofstuk 28:12 en vers 19, byvoorbeeld, kry ons die idee dat die Here aan Dawid – soos destyds aan Moses op die berg – ‘n voorbeeld gegee het van hoe die tempel in al sy besonderhede moes lyk. En dit wil voorkom asof Dawid hierdie voorbeeld soos ‘n kranige argitek opgeteken het en aan Salomo oorgedra het. En verder sien ons in 1 Kronieke 29:1-9 dat Dawid, kort voor sy dood, ook nog fondswerwing gedoen het; baie materiaal was immers nodig om die tempel te kan bou. Hy gee eers self die voorbeeld deur ‘n groot hoeveelheid goud en silwer en edelstene te gee, en daarna roep hy die volk op om self ook vir hierdie doel te offer, iets waaraan die volk gewilliglik en in oorvloed gehoor gee. En dit is teen hierdie agtergrond dat ons Dawid se gebed in 1 Kronieke 29:10-19 moet lees.

Wanneer ons nou vervolgens ons aandag rig op hierdie gebed, dan moet ons raaksien dat Dawid sy gebed voor die volk begin deur ‘n kontras te skets tussen, aan die een kant, die HERE, en aan die ander kant homself en die volk (verse 10-15). Hy verwoord iets van wie die Here is, en daarteenoor stel hy dan die mens. En in die konteks van sy pasafgelope fondsinsameling is dít van die grootste belang. Want ons moet besef dat dít wat Dawid en die volk sopas bymekaar gemaak het, enorm was. Dit was ‘n geweldige skat. Ek het êrens gelees dat iemand dit in vandag se terme bereken het op ongeveer R15 miljoen. Nou, R15 miljoen… ek is seker die meeste van ons sal in vandag se tyd kon doen met so ‘n klomp miljoen. Maar in daardie tyd!? Dit was ‘n volstrek unieke fondsinsameling, dit was ‘n uitsonderlike blyk van ‘n volk se gewilligheid teenoor hulle God – sodanig dat Skrifkritiese ondersoekers vandag sê dat die getalle wat hier genoem word, nie reg kan wees nie; dit is waarskynlik oordrewe getalle, net om te wys hoe baie die volk gegee het – só sê hulle. Maar, gemeente, kom ons aanvaar eenvoudig wat hier staan, en dan sien ons dat hier iets baie besonders plaasgevind het – ‘n volk wat vir hulle God gee soos nog nooit tevore nie.

Maar… só maklik kon die gedagte nou by die volk ontstaan dat hulle iets goeds gedoen het; so maklik kon die volk trots word op hierdie goeie daad van hulle, en kon op dié manier ‘n vrywillige daad sommer gou ontaard in ‘n verdienstelike daad. En juis daarom, broers en susters, is die begin van Dawid se gebed so belangrik. Aan die een kant skets hy die Here aan Wie toekom die grootheid en die mag en die heerlikheid en die roem en die majesteit, die rykdom en eer, ja, alles in hemel en op aarde (kyk maar na verse 11 en 12). En aan die ander kant skets hy homself en die volk: “wie is ek tog, en wat is my volk, dat ons in staat sou wees om sulke vrywillige gawes te skenk?” (vers 14) En dit is nie onbelangrik wat Dawid hier doen nie. Nee, vir Dawid is dit belangrik om teologies – dit wil sê, in God se lig! – na homself en die volk te leer kyk, en nie sosiologies nie, dus nie in die lig van sy tyd en omgewing nie. Sosiologies was daar waarskynlik geen roemryker periode in die geskiedenis van God se volk as juis hierdie tyd nie. Dawid het al sy vyande onderwerp, hy was skatryk, hy was ‘n gesiene koning in die hele Midde-Ooste. Maar in die lig van God se heerlikheid? Ag, in daardie lig erken Dawid in vers 15 dat hulle maar net vreemdelinge en bywoners in die land is, dat hulle dae soos ‘n skaduwee is, en dat hulle geen werklike verwagting het nie. Só skets Dawid die verhouding tussen die Here en die volk, tussen die lofwaardige God en die verganklike mens, as basis en as oorsaak vir die wonder van die oorvloedige fondsinsameling wat sopas plaasgevind het. In die lig van hierdie kontras tussen grote God en die nietige mens word die fortuin van vrywillige gawes begryplik, amper vanselfsprekend. Dit kan mos nie anders nie…?

Dus, gemeente, om te kan gee soos wat die volk hier in 1 Kronieke 29 gegee het, om aan ons dankbaarheid hande en voete te kan gee, is dit van die grootste belang dat ons sal leer sien wie die Here is, en vervolgens dat ons in sy lig sal leer sien wie onsself is. Kennis van God en kennis van onsself behoort hand aan hand te gaan. Terloops, dit is ook die vereistes wat die Kategismus in Sondag 45 stel aan ‘n gebed wat God behaag en deur Hom verhoor word. En waar dít saamgaan – in geloof en met ‘n oop bybel – daar ontdek ons ‘n God wat in woorde nie beskryf kan word nie, so heerlik is Hy; en daar ontdek ons ‘n mens wat ons laat wegdraai van skaamte, so nietig en sondig is hy. Maar dan ontdek ons vervolgens ook ‘n God wat in Jesus Christus genadig is, en skielik ontdek ons dan ook ‘n mens wat verander kan word deur daardie genade. En dít, broers en susters, is die basis van dankbaarheid.

Dankbaarheid sal nooit die regte vorm aanneem as ek God soveel moontlik probeer afbring van sy hoë posisie en myself soveel moontlik probeer verhef nie. Waar ons die afstand tussen God en mens minimaliseer om onsself beter te laat lyk as wat ons is – en dit is tipies wat ons doen! – daar verdwyn die dankbaarheid soos mis voor die son. Weg goud, weg silwer, weg edelstene, weg tiendes… Calvyn sê dit so pragtig: “Solank die mens nie voel dat hy alles aan God verskuldig is … en dat God die Skepper van alle goeie dinge is, sodat hy niks buite Hom moet soek nie, sal die mens hom nooit in vrywillige eerbiedsbetoon aan God onderwerp nie. Ja, as die mens nie sy geluksaligheid in God stel nie, sal hy homself nooit waaragtig en van harte geheel aan Hom gee nie.” Dit is ‘n feit!

Laat ons dus nie die afstand tussen God en mens probeer minimaliseer nie; handhaaf die onmeetlike verskil tussen die sondelose Skepper en sondige skepsels. Maar wat ons wel mag doen, is om die afstand te vul met die kruis van Christus. Deur sy werk hier op aarde het Hy die afstand tussen God en mens oorbrug. Let wel, oorbrug! Nie kleiner gemaak nie. En wie die afstand tussen ons en God vul met die kruis van Christus, raak diep onder die indruk van hoe groot daardie afstand in werklikheid is, en staan verstom oor Christus se werk om daardie afstand te oorbrug. En dít, broer en susters, bring ware dankbaarheid!

En daarom is die belangrikste vraag op hierdie dankdag nie hoe baie jy vir die Here gee nie. Seuns en dogters, die belangrikste vraag is nie wie van julle die grootste pakkie in die houer voor in die kerk gesit het nie. Die belangrikste vraag is: hoe kyk jy na God? Hoe kyk jy na jouself? Ken jy die Here? Verstaan jy wat Dawid sê as hy praat van God se grootheid en mag en heerlikheid en roem en majesteit? Verstaan jy wat die grootste koning in die geskiedenis van Israel bedoel wanneer hy sê: “Ag, wie is ek?” Broer en suster, lê jou daarop toe om hierdie verhouding tussen jou en jou God reg te leer verstaan, en dan kry jy amper vanself die antwoord op die vraag wat ons sing in Psalm 116: Wat sal ek die Heer vir al sy guns vergeld, wat sal ek Hom bring uit dank vir sy genade? Ek sal Hom prys vir sy verlossingsdade – in woord en daad sal ek Hom prys; ek sal Hom prys soveel as wat ek kan!

Vervolgens sien ons hoe Dawid God vir sy gawes dank.

2. Ons lees in vers 9 dat die volk, nadat hulle al hierdie rykdom vir die bou van die tempel geskenk het, bly was oor hulle gewilligheid, en dat koning Dawid ook baie bly was. Nou, hierdie woorde kan maklik die indruk skep dat die volk selfvoldaan was, baie tevrede was oor wat hulle sopas bereik het: Kyk hoe gewillig was ons! Maar Dawid, wannneer hy namens die volk tot die Here bid, smoor onmiddellik hierdie gedagte in die kiem. Die blydskap van vers 9 is geen selftevredenheid nie, maar dit is eerder dankbaarheid dat hulle aan die Here kon teruggee wat aan Hom behoort, maar wat Hy aan hulle geleen het. En dit is hierdie gedagte wat Dawid tot tweemaal toe in sy gebed na vore bring. Eers in vers 14, waar hy sê: “Want dit kom alles van U, en uit u hand het ons dit aan U gegee”, en dan ook weer in vers 16: “HERE onse God, hierdie ganse rykdom wat ons berei het om vir U, vir u heilige Naam, ‘n huis te bou – dit kom uit u hand en dit behoort alles aan U.”

Gemeente, dit is ‘n geweldige gedagte wat Dawid hier verwoord, een wat so teen ons 21ste eeuse ekonomiese grein ingaan. Ons is so deurdronge van die gedagte van eienaarskap en eiendom. Ons kinders groei daarmee op. Wat is een van die eerste dinge wat ons kinders leer om te sê? “Myne!” En hulle bring dit ook in praktyk wanneer hulle ‘n maatjie se speelgoed afvat of nie hulle eie speelgoed met ander wil deel nie. En dit is nie net in die kinderwêreld wat dit so werk nie; ook in die grootmens-wêreld werk dit so. Of eerder: juis in die grootmens-wêreld werk dit so. In ons westerse ekonomiese bestel is daar altyd en alewig sprake van eiendomsreg, altyd gaan dit oor besit. Trouens, ons hele wêreld is in daardie terme ingedeel: enersyds is daar die eerste wêreld (dit is nou dié wat het) en andersyds is daar die sogenaamde derde wêreld (dit is dié wat nie het nie). Ek het my besittings, jy het jou besittings. En wat jy met jou besittings maak, is jou saak; los net myne uit. Die hele versekeringsbedryf is gebaseer op besit.

Maar by die volk Israel, wat daarna gesoek het om vir hulle God ‘n huis te bou, proe ons iets heeltemal anders. Nie een keer hoor ons van myne en joune nie. Die hele tyd hoor ons slegs: dit is U s’n! Ons hoor die ego van Psalm 24:1: “Die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin woon.” En aangesien dít die vertrekpunt van Dawid en die volk is, hoor ons hulle in hulle dankbaarheid nie sente tel nie; ons hoor hulle nie vra hoeveel hulle kan afstaan nie. Ons hoor slegs hoe die goud en die silwer en die edelstene van hande verwissel – uit die hand van God het dit gekom, en uit die hand van die volk gaan dit terug na God toe. En dit is dan ook die gedagteskuif wat ons moet maak, broers en susters. Dankdag vra, net soos wat ek by die eerste punt gesê het, nie hoe baie ons gegee het nie. Seuns en dogters, ons kyk nie wie die meeste gegee het nie. Nee, ons vra eerder: wie is die Eienaar? Wie besit al hierdie dinge? Wie het werklik eiendomsreg? Stel aan jouself dieselfde vraag as wat Paulus aan die Korinthiërs gestel het: “Wat het jy wat jy nie ontvang het nie?” En die antwoord hierop bepaal dan hoe ons gee, of eerder: hoe ons teruggee.

Wanneer ons daarom ons gawes aan die Here gee, besef baie goed dat ons Hom geen guns doen nie; die Here het nie iets van ons nodig nie. Die Here sê immers self in Psalm 50: “Ek hoef uit jou huis geen stier te neem of bokke uit jou krale nie; want al die wilde diere van die bos is myne, die vee op berge by duisende… As Ek honger het, sal Ek jou dit nie sê nie; want die wêreld is myne en sy volheid.” Dit is lagwekkend en ‘n bespotting van God se soewereiniteit as ons dink dat ons tiende ‘n verskil gaan maak aan God se skatkamers. Selfs die fortuin wat die volk in 1 Kronieke 29 aan die Here gegee het, het géén verskil daaraan gemaak nie. Maar ons maak ‘n verskil wanneer ons God erken as Eienaar en aan Hom teruggee wat Hy uit soveel genade aan ons geskenk het. Want dán eer ons Hom! Dán gee ons ware erkenning! Moenie dink dat jy God eer as jy ‘n bepaalde bedrag afstaan vir jou maandelikse bydraes nie. Ook al is dit ‘n klomp geld, dan gaan jy nog steeds uit van die beginsel dat jou geld joune is. En dít moet verander…

Gemeente, laat die Gees daarom hierdie gedagteskuif in ons werk: elke rand en sent wat ek besit, is God s’n. En dan staan ek nie maar net ‘n deeltjie daarvan af nie, nee, dan gee ek terug! Vrywillig en openlik. En wanneer die ampsdraers my oor my tiendes kom uitvra, dan hanteer ek hulle nie met ‘n houding wat sê dat dit niks met hulle te make het nie. Nee, dan sien ek daarin hoe hulle God se eienaarskap op my besittings kom toepas. Wanneer die ampsdraers na jou bydraes vra, wanneer die kerkraad vir ‘n bepaalde doel ‘n verhoging daarin vra, dan is dit nie die kerk wat geld soek, maar dan is dit die Here wat jou hart en erkenning soek. Dit is presies wat Dawid sê in vers 17: “En ek weet, my God, dat U die hart toets en behae het in opregtheid…” As dít is waarin die Here behae het, gee dit dan aan Hom!

En wanneer ons dit doen, dan sien ons vervolgens hoe genadig die Here is. Die Here gee sy gawes aan ons, ons gee dit weer terug aan Hom, en … ja, dan kry ons dit weer terug van die Here. Ons sien dit in 1 Kronieke 29 – nadat Dawid klaar gebid het, word daar fees gevier; daar word offers gebring, en die volk mag met groot blydskap voor die aangesig van die Here eet en drink. So werk dit! Wie vir die Here teruggee wat aan Hom behoort, kom soveel ryker daar uit. Hierdie geestelike transaksie is altyd die moeite werd – gaan probeer dit maar ‘n slag…
Ten slotte: Dawid bid vir ‘n blywende gesindheid.

3. Die laaste deel van Dawid se gebed is ‘n pleidooi dat dít wat die Here tans by homself en by die volk gewerk het, naamlik dat hulle vrywillig aan die Here teruggegee het, dat die Here hierdie gesindheid sal laat voortwerk deur die geslagte. Dawid ken die hart van die mens, ook van die gelowige mens. Hy weet hoe maklik ons weer terugval in ons egoïstiese eiendomsdenke. Hy weet hoe ons redeneer: nadat ons gegee het, het ons dikwels so ‘n houding dat dit vir eers nou weer genoeg was; ons het immers nou ons deel bygedra. En wanneer daar op hierdie punt nie bekering kom nie, broers en susters, word hierdie houding ‘n lewenswyse, een wat ons oordra na ‘n volgende geslag, en so maklik ontstaan daar dan ‘n gierige en vrekkerige generasie. Ja, ook die kerk en die kerkgeskiedenis ken sulke generasies.

En daarom beroep Dawid hom op die God van die generasies, die God van wordende geslagte, tot in ewigheid die Heer. Hy beroep hom op die God van Abraham, Isak en Israel (vers 18), die aartsvaders, wat van die beloofde land van melk en heuning nie ‘n enkele duimbreed besit het nie, en tog bly glo het in Hom wat dit belowe het; die aartsvaders wat geen stad kon vind om in te woon nie, en tog die hemelse stad verwag het met fondamente waarvan God self die boumeester en oprigter sou wees. Dawid beroep homself op God, wat hierdie geloof en verwagting in Abraham, Isak en Jakob gewerk het, om daarmee voort te gaan deur die generasies.

Gemeente, kom ons bid ook gereeld hierdie bede. Kom ons bid gereeld dat die Here, deur sy Gees, ons harte op Hom sal rig, ook in die materiële dinge. Ons lewe in ‘n klein kerkverband met groot uitgawes; uitgawes wat in die toekoms waarskynlik net meer sal word. Die gemeentes in die kerkverband wat hulpbehoewend is, wat nie in staat is om hulle eie predikant te onderhou nie, gaan waarskynlik nie minder word nie, maar meer. Die werk van sending in hierdie land is nimmereindigend en het daarom geld nodig. Benodigde fondse vir teologiese opleiding, vir werk van evangelisasie, vir diakonale werk in ons eie gemeente, vir… ja, noem dit op – dit gaan nie verminder nie, maar vermeerder. En al hierdie werk is deel van die bouwerk aan die tempel, aan God se huis, sy koninkryk. En daarvoor soek God ons harte, daarvoor soek Hy die harte van ons kinders en kleinkinders en agterkleinkinders. Hy soek ‘n vrygewige generasie hier in Suid-Afrika. En dit begin hier by ons. Kom ons leer die volgende geslag om reg na die Here en na hulleself te kyk, en om reg na die materiële dinge te kyk. Kom ons bid dat die Here die regte gesindheid by ons en die nageslag sal werk.

En dan mag ons ook, soos die volk in Salomo se dae, geniet van die resultaat, geniet van die heerlikheid van die Here wat op sy huis neerdaal (lees maar 2 Kronieke 7). Dan mag ons ervaar dat God sy huis met sy heerlikheid volmaak – vandag alreeds, maar eendag in volle glorie. En dan sing ons saam met die volk in 2 Kronieke 7: “God is goed, sy goedertierenheid is tot in ewigheid!”

Amen

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Votum Ps. 121:1
Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 34:1, 5 en 6
Wetslesing
Sing Ps. 141:1-5
Gebed
Lees:  1 Kronieke 29:1-22
 1 Korinthiërs 4:6-8
Sing Ps. 72:8 en 10
Teks: 1 Kronieke 29:10-19
Preek
Kollekte
Amenlied Ps. 147:1, 3, 5, 7
Gebed
Slotsang Ps. 136:1, 3, 19 en 20
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)