Elke goeie werk is ‘n daad van liefde

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2009-05-03
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 33
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

Broers en susters, God is liefde! In Homself. Die Drie-enige God het ‘n volmaakte liefdesband binne die kring van die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Hy het dus nie nodig om liefde êrens anders vandaan te kry nie. En tog was dit God se begeerte dat daar in sy liefde gedeel word, dat iemand anders ook iets kon ervaar van die wonder wat Hy in Homself het. En daarom het Hy uit vrye welbehae as’t ware uit Homself getree – buitentoe – en die wêreld gemaak. Die skepping, gemeente, is dus ‘n liefdesdaad; God wou hê dat daar in sy liefde gedeel word. Maar nog ‘n groter liefdesdaad is God se redding van die wêreld nadat dit deur eie skuld in sonde geval het. God het die wêreld gered deur sy Seun te stuur. En hierdie liefde van God in Jesus Christus gaan bo alle ander vorme van liefde uit, wanneer ons besef dat Christus ter wille van ons verlossing en ons saligheid uit die hemel neergedaal het, die gestalte van ‘n slaaf aangeneem het, sy eie mense liefgehad het tot die einde toe, en in gehoorsaamheid as die een vir almal en as die regverdige vir goddeloses gesterf het.

Maar, broers en susters, hierdie liefde van God word nog verder verdiep wanneer ons vervolgens ook verstaan dat sy liefde altyd ‘n verkiesende liefde is. Immers, waarom roep God vir Jakob en verwerp Hy vir Esau? Hoekom kies Hy die volk Israel wat kleiner is as al die ander volke? Hoekom bly Hy by hierdie hardnekkige volk, en soek Hy nie ander volke soos die Filistyne of die Arameërs op nie? Dieselfde kan ons ook sê van die Nuwe Testamentiese gemeentes van Jesus Christus. Wat vir die wêreld onaansienlik en veragtelik is, het God uitverkies om sy kerk te wees. Wat nie sy volk was nie, word sy volk, en wat nie sy geliefde was nie, word sy geliefde. Ons kan hierdie verkiesende liefde van God nie bevat nie…

Maar ons kan dit wel beantwoord!

En wat is dan ons antwoord op God se liefde, broers en susters? Hoe reageer ons op sy liefde? Baie eenvoudig, sê die Skrif: ons het Hóm lief! Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het (1 Joh. 4:19). Die liefde van God vir ons is die bron van ons liefde vir Hom. God het ons vrygespreek, en daarom is daar niemand wat ons nog kan veroordeel nie. Verdrukking of benoudheid, honger of naaktheid, gevaar of swaard – geeneen van hierdie dinge kan ons skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, ons Here, is nie. En daarom is ons antwoord dat ons – uit liefde! – vir Hom kies as die enigste God in ons lewe. Ja, dit is reg gemeente, liefde beteken om te kies. Ons kies vir God en ons volg Hóm in alles. Ons hele lewe – elke woord, elke daad, en elke gedagte – word op dié manier ‘n daad van toegewyde liefde aan God. En presies dit bring ons dan ook na die saak waarna ons in hierdie preek wil kyk, naamlik die saak van goeie werke. 

Tema: elke goeie werk is ‘n daad van liefde
1. Die bron van hierdie liefde
2. Die maatstaf vir hierdie liefde
3. Die doel van hierdie liefde

1. Elke goeie werk is ‘n daad van liefde… Maar, gemeente, waar kom hierdie liefde vandaan? Waar kry ons dit? Is dit iets wat ons in onsself het? Is ons harte natuurlike opgaartenke van liefde. Miskien dink jy so as jy tans verlief is op ‘n meisie of ‘n kêrel – jou hart is so vol liefde dat dit wil bars. Maar helaas, die Skrif leer ons dat die teenoorgestelde dikwels die geval is. Ons harte is eerder broeiplekke van haat. Dit is miskien nie wat ons wil hoor nie, maar só bely ons dit wel in v/a 5 van die Kategismus: “ek is van nature geneig om God en my naaste te haat”, en kyk dan maar na die Skrifgegewens wat dit ondersteun. Dus, as ons die Skrif getrou navolg, dan beteken dit dat ons die liefde êrens anders sal moet gaan soek, êrens buite ons. Natuurlik is dit so, broers en susters, dat die goeie werke, wat vir God aanneemlik is, uiteindelik wel vanuit die hart moet kom – anders is dit nie meer werklike liefdesdade nie! – maar dit sit nie van nature daar nie. Jou hart is nie van nature ‘n vrugbare bodem vir werke van liefde nie, maar jou hart moet dit wel wórd! En hoe gebeur dít?

Wel, Paulus se gebed in Efesiërs 3 kan ons hierby help. Paulus bid in hierdie gedeelte vir die gelowiges in Efese wat dreig om moedeloos te word onder die druk van geloofsvervolging. En dan vra hy in vers 16 vir God om die gelowiges met krag te versterk in die innerlike mens deur die werk van die Heilige Gees. Nou moet ons raaksien, gemeente, dat hierdie bede as’t ware ‘n bede vanuit God se perspektief is – Paulus vra vir God om, van sy kant af, deur sy Gees krag in die harte van die gelowiges te gee. Maar presies dieselfde kan ook gebid word vanuit die gelowiges se perspektief. En dit doen Paulus dan ook vervolgens in vers 17: “sodat Christus deur die geloof in julle harte kan woon.” Dus, in beide hierdie bedes sê Paulus eintlik presies dieselfde, maar vanuit verskillende perspektiewe – eers vanuit God se perspektief en vervolgens vanuit die gelowiges se perspektief. Die krag waarvoor Paulus in vers 16 bid, is dus nie ‘n soort ysterman-begeerte nie, dit is nie ‘n krag wat gemeet word in spiermassa nie. Nee, die krag wat Paulus die gelowiges toebid, is die krag van die geloof in Jesus Christus! Dit is die oopstelling van die hart sodat Christus daar kan woon, sodat Christus daar ‘n permanente blyplek kan kry. Die geloof in Jesus Christus is God se ongelooflike krag in ons lewens!

En presies dít, gemeente – naamlik die inwoning van Christus en die werk van die Heilige Gees in ons harte – presies dít plaas ‘n beslissende stempel op ons lewens! Want, só lees ons in die tweede deel van vers 17, die inwoning van Christus in ons lewens het die wonderlike effek dat ons lewens daardeur in die liefde gewortel en gegrond is. Soos ‘n boom wat stewig in die grond geplant is, en soos ‘n gebou wat stewig op sy fondamente staan, só is elkeen wat in Christus glo, geanker in die liefde. Die liefde is gevolglik ook die basis van die nuwe bestaan en lewenswyse van die gelowige.

As ons dus nou weer die vraag stel: waar kom die liefde vandaan om goeie werke te kan verrig?, wat is die bron van die liefde in ons lewens?, dan is die antwoord: die geloof in Jesus Christus. Deur die geloof kom maak Hy woning in ons harte, en kom maak Hy liefde ‘n werklikheid in ons lewens. En wanneer die liefde ‘n werklikheid geword het, dan kan ons ook vanuit die liefde gaan lewe in alle goeie werke.

So sien ons dus, broers en susters, dat om goeie werke te doen nie ‘n kwessie van my vermoëns is nie; dit is ook nie ’n kwessie van hoe goed ek in staat is om hier vanuit my eie sondige hart liefde te genereer en dit om te sit in goeie werke nie. Nee, die doen van goeie werke bring my heel eerste by die kern van my geloof: my verhouding met Jesus Christus, sy inwoning in my hart. En daarom is dit ‘n dringende en voortdurende vraag wat aan elkeen gestel word: in hoe ‘n mate is jy nog besig met Jesus Christus in jou lewe? In hoe ‘n mate stel jy jou hart oop vir Hom? Of maak hierdie vraag jou ongemaklik? Klink dit vir jou te veel na ‘n “liewe Jesus”-teologie – Hy klop op die deurtjie van my hart, en ek moet oopmaak? Dit is nie my doel nie, gemeente. Maar dit gaan hier wel oor die wesenlike vraag in hoe ‘n mate ons ontvanklik is, oopstaan, vir Hom wat die weg, die waarheid en die lewe is. Neem jy nog die tyd – stiltetyd! – om na te dink oor jou verhouding met Hom? Wanneer jy die Woord lees, die Woord wat ten slotte getuig van Jesus Christus en sy liefde, is dit met ‘n oop en ontvanklike en gewillige gees om wesenlik daardeur geraak te word? Of verhinder die korslaag van gewoonte en outomatisme dat die Woord van Jesus Christus nog werklik deurprik na die hart van jou mens-wees?

Ja, so maklik beland ons geloof in Jesus Christus in ‘n soort outomatiese piloot-toestand – dit is daar, maar ek dink nie werklik daaraan nie. En eintlik hoef ek ook nie daaraan te dink nie, want… dit is mos daar. Maar onthou: wanneer dit gebeur, en Jesus só ‘n outomatiese onwerklikheid in ons lewens geword het, dan verloor daarmee ons goeie werke elke basis van ware liefde, en dan is hierdie werke gevolglik ook nie meer aanneemlik voor God nie. Want God soek nie jou plig-gedrewe of gewoonte-gedrewe of skuld-gedrewe goeie werke nie; God soek liefde-gedrewe werke, sy liefde-gedrewe werke! Hy wil sy liefde in jou goeie werke terugsien. Ja, broers en susters, Hy wil Homself in jou terugsien! Want wie is goed behalwe God? En watter werke is goed, behalwe dié wat uit God is? En daarom wil Hy in Jesus Christus in jou hart woon!

Doen dus die moeite, broers en susters, om wanneer jy nadink oor die goeie werke in jou lewe, nie onmiddellik te vra of jy jou plig gedoen het en of jy jouself by die algemeen-aanvaarde standaarde gehou het nie. Dit is sinnelose vrae as Christus nie jou lewe beheers nie. Vra heel eerste: hoe staan dit tussen my en Christus? Woon Hy werklik in my hart? Is die werke wat ek doen werklik in sy liefde gewortel en gegrond? Want daar lê ten slotte die bron en die kern van al ons goeie werke: Jesus Christus en sy liefde!

Elke goeie werk is ‘n daad van liefde – dit is die tema. In die eerste plek het ons gelet op die bron van hierdie liefde; in die tweede plek let ons nou op die maatstaf vir hierdie liefde.

2. Maar, gemeente, is die gevaar nou nie dat elkeen van ons sy goeie werke willekeurig en na eie goeddunke begin invul nie? Solank jy maar net in Jesus Christus glo, solank jy maar net in sy liefde bly! En dan moet ons maar nie te veel praat oor wette en reëls nie, want die liefde ken mos sy eie invulling. Inderdaad, so word die liefde dikwels gebruik as dekmantel om die sonde mee toe te maak en selfs weg te steek. En, só word gesê, is dit nie presies wat die Skrif ons in 1 Korinthiërs 13:7 leer nie, waar ons lees: “Die liefde bedek alles”?! As ek dan iemand te na gekom het of verkeerd teen iemand opgetree het, ag, dan moet ons maar nie te veel daarvan maak nie; ons moet dit maar onder die dekmantel van die liefde bedek. Of as ek iets doen wat teen God se wil is, maar ek doen dit met liefde, dan is die liefde uiteindelik genoeg motivering om tog maar daarmee voort te gaan.

En só word die indruk geskep asof die liefde van Christus ‘n normlóse soort liefde is, een wat nie deur die verkramptheid van wette ingeperk word nie, een wat vry is van die wet, vrygelaat om my persoonlike invulling. Solank ons net liefhet! Maar is dit werklik so? Nee, broers en susters! Ons, sondige mense, óns is die skeppers van hierdie gedagtespinsel asof Christus en die wet teenoor mekaar sou staan en nie met mekaar versoen kan word nie. Dit is óns wat moeite het om te verstaan dat ons verlossing van die heerskappy van die wet nie beteken dat daarmee die wet as sulks afgeskaf word nie. Dit is óns wat hierdie valse dilemmas skep! Daarenteen leer die Skrif ons dat Christus nie gekom het om die wet te ontbind nie, maar eerder om die wet te vervul, om dit tot sy volheid en tot sy ware diepte na vore te bring.

Christus self leer dit aan ons in die gedeelte wat ons saam gelees het in Johannes 14. Tot tweemaal toe in hierdie paar verse wys Jesus dat sy liefde altyd ‘n genormeerde liefde is, ‘n liefde wat deur duidelike norme gevul en gerig word: “As julle My liefhet, bewaar my gebooie” (vers 15), en weer in vers 21: “Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet.” Dus, gemeente, óns is nie die invullers van ons eie goeie werke nie, óns is nie die vrye invullers van die liefde van Christus nie. Nee, Hy doen dit! Hy vul ons goeie werke aan die hand van die goeie wet van God wat Hy kom vervul het!

En dit is opmerklik dat die Kategismus die moeite doen om ons spesifiek teen hierdie gevaar te waarsku, die gevaar dat ons self die invullers van ons goeie werke sou wou word. Ons lees naamlik: goeie werke is dié wat volgens die wet van God gedoen word, en nie dié wat op ons goeddunke of op oorgelewerde gebruike van mense gegrond is nie.” Christus ken ons harte, broers en susters, Hy weet hoe gevaarlik dit is wanneer sy liefde aan die willekeur van die mens oorgelaat word. En dit is ‘n gevaar wat homself, volgens die Kategismus, na twee kante toe kan uitwerk – kom ons noem dit ‘n liberale kant en ‘n konserwatiewe kant.

Enersyds is daar die liberale kant. Dit is dié lidmate wat die liefde misbruik om hulleself van die Skriftuurlike riglyne te onthef. Dit is die mense – en hulle is ook hier onder ons – by wie alles moontlik is; mense wat nie meer so graag wil hoor van sonde nie, want dit klink kamtig so hard en liefdeloos; mense wat ‘n weersin ontwikkel in die tug, want waar is dan die liefde? Hierdie mense wil hulleself nie laat bind deur die wet van God nie, maar intussen bind hulle alle ander mense met hulle liefdelose liefde. En dit is nie so vreemd dat hulle hier in ons midde is nie, want dit is immers die gees van die wêreld daarbuite; dit is sekerlik een van die belangrikste boustene van ons tydsgees: liefde en verdraagsaamheid. Maar besef goed, gemeente, hierdie soort liefde is nie werklik liefde nie. Hierdie liefde is uiteindelik selfverterend, want jy mag niemand meer reghelp nie, jy mag geen opbouende kritiek meer lewer nie, jy mag niemand meer waarsku teen die verkeerde pad waarop hy homself bevind nie. So word elkeen gelaat om sy liefde en dade van liefde self in te vul – dit is dodelik vir ‘n gemeente, dit is fataal vir die liggaam van Christus, want elkeen doen dan wat goed is in sy eie oë. Gemeente, laat ons nie val vir hierdie liefde-volgens-eie-goeddunke nie. Dit lyk baie mooi, maar dit is leeg. Ons is nie vanuit onsself in staat om die liefde en ons dade van liefde goed in te vul nie; ons het eenvoudig net nie daardie onderskeidingsvermoë nie. Wanneer jy een van hierdie vrye-liefde-aanhangers is, laat jouself terugbring op die duidelike pad van Christus se liefde, sodat jou werke ook werklik ‘goed’ kan wees.

Andersyds is daar die konserwatiewe kant, die lidmate wat graag die oorgelewerde gebruike van mense volg, selfs al gaan dit ten koste van die gebod van God. Dit is presies waarvoor Jesus waarsku in Mattheus 15. Die Fariseërs kom kla in hierdie gedeelte by Jesus dat sy dissipels die oorlewering van die ou mense oortree; die dissipels het naamlik nie hulle hande gewas voordat hulle brood gaan eet het nie. En dan vra Jesus as’t ware vir hulle: maar besef julle wat julle besig is om te doen? Vir julle het die oorlewering van die ou mense só belangrik geword dat julle daarmee Gód se gebod kragteloos gemaak het. En dit is liefdeloos! Ons kan dus só behoudend wees, broers en susters, dat behoudendheid oorgaan in konserwatisme. Die oue en die bekende moet ten alle koste beskerm word. Goeie werke word dan dié werke word altyd, oral en deur almal binne ‘ons’ kringe – let wel! – so gedoen is. En dan vergeet ons dat die Woord van God ons roep tot voortdurende ondersoek van sy gebooie, sodat ons lewe elke dag opnuut gereformeer kan word. Om gereformeerd te wees, ook in jou goeie werke, beteken nie: “eenmaal goed, altyd goed” nie. Nee, dit beteken om voortdurend weer die oor te plaas by die Woord van die Here, altyd weer te vra of my gebruike en gewoontes werklik goed, werklik met die wil van God ooreenstem. Ons goeie werke vra dus voortdurende selfondersoek – doen ek iets werklik volgens God se wil, of is dit maar ‘n gebruik wat ons oorgelewer gekry het en waarvoor die Skrif dalk ‘n ryker vorm aanbied? Kom ons stel hierdie vrae, kom ons wees bereid om hieroor met mekaar in gesprek te gaan.

Gemeente, na beide kante toe lê daar dus ‘n gevaar – só wys die Kategismus vir ons. En daarom die oproep van die Kategismus, op grond van die Skrif, dat ons goeie werke volgens die wet van God moet wees. Kom ons volg hierdie weg tussen die uiterste van liberalisme en konserwatisme deur. En dit is ‘n dinamiese weg – dit is een van voortdurende Skrifondersoek en van daaglikse selfbevraagtekening. Kom ons help mekaar daarin verder, kom ons laat ons antwoord van liefde bind en bepaal deur God se norm. Genormeerde liefdeswerke – dít is wat die Here van ons vra. Kom ons wees gehoorsaam aan sy roep.

Ons het nou gelet op die bron en maatstaf van die liefde. Ten slotte let ons nog op die doel van die liefde.

3. Ja, hoekom doen ons eintlik goeie werke? Wat is die doel van hierdie liefdesdade? Wel, dit is in elk geval nie om iets daarmee te verdien – so anti-Rooms is ons darem nog. Ja, ons is anti-Rooms in ons belydenis, maar is ons harte ook werklik anti-Rooms? Is dit werklik by ons sola gratia – genade alleen! – soos wat die reformasie weer so pragtig na vore gebring het? Gaan toets dit bietjie in jou lewe… Ek neem aan daar is genoeg onder ons wat nog so nou en dan stilsit en na sy of haar eie lewe kyk. En wat sien ons dan? Wel, soms sien ons baie slegte dinge, sondes, gebreke – en is dit dan nie opmerklik dat ons dikwels juis in sulke tye begin twyfel oor ons uitverkiesing en kind-wees van God nie? Ander kere weer is ons moontlik redelik tevrede met wat ons sien, dan lyk dit vir ons gevoel nie te sleg nie – en is dit nie opmerklik dat ons in sulke tye eintlik nooit oor ons uitverkiesing tob nie? Hoekom sou dit so wees? Gemeente, ons moet bely dat die begeerte om self iets by te dra tog nog maar deel is van ons geloofsmondering, hoe onbewustelik ook al. En dit is nie noodwendig tipies Rooms nie, broers en susters; nee, dit is eerder tipies mens. Dit sit in ons…

En dan is dit belangrik om weer terug te gaan na die inleiding van die preek: God is liefde, in Homself! En dit was sy begeerte om ons in sy liefde te laat deel. En dit het Hy gerealiseer deur middel van die skepping. En toe dít dreig om skipbreuk te lei, het Hy die skip weer op koers gekry deur sy liefdevolle verlossing. Ja, God se werk in skepping en verlossing is een en al liefde. Genadige liefde, verkiesende liefde. En wanneer ons hiervan deurdring word, wanneer Christus deur die Gees ons hiervan deurdring, dan word ons nie in die eerste plek anti-Rooms nie – want daarin kan ook ‘n stuk liefdeloosheid skuil – maar dan word ons heel eerste pro God! Eer aan God in die hoogste hemele, want Hy het vrede op aarde kom bring vanweë sy welbehae, sy liefde, vir mense! Eer aan God!

En, gemeente, hier het ons dan ook presies die doel van ons goeie werke, naamlik die eer van God. Die Here soek nie ‘n houding wat sê: “hier is my deel” nie; nee, Hy soek eerder die vraag van ons af: “hoe kan ek u Naam verheerlik?” Hoe kan ek sodanig lewe dat ander na my kyk, en nie my prys nie, maar die Vader in die hemel verheerlik, soos wat Jesus sê in Mattheus 5:16. Ja, gemeente, wanneer ek van God se liefde deurdronge is, wanneer dit my volledig in beslag geneem het, dan brand dit in my om Hom daarvoor groot te maak in woord en daad, en dan soek ek daarna dat Hy steeds groter word en ek steeds kleiner. En so plaas God se eer my op my regte plek.

En dan begin ek my goeie werke só doen dat my regterhand nie weet wat my linkerhand doen nie – dan rus ek nie in selftevredenheid oor die geld wat ek vir daardie behoeftige gegee het nie, en dan sorg ek nie daarvoor dat mense tog daarvan te hore kom hoe ek ander mense help nie. Nee, dan bly ek tjoepstil, en ek laat my werke vir hulleself spreek. En hulle spréék, gemeente. Nie van my en jou nie, maar van ‘n wonderlike God, ‘n liefdevolle God, ‘n verkiesende God. Ons werke roep dit uit: prys die Naam van onse Heer, hef te saam die lofsang aan. Laat ons ons daarvoor beywer dat ons Christus-bewerkte, liefde-gedrewe, wets-genormeerde goeie werke net een kant toe wys – boontoe! Eer aan God!

Amen

 

Liturgie (aand)

Groet en afkondigings
Votum Ps. 121:1
Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 18:1, 12 en 14
Lees HK v/a 91
Sing Ps. 50:4, 7, 8 en 11
Lees: Johannes 14:12-21
 Efesiërs 3:14-21
Sing Ps. 119:6, 37, 42
Gebed
Preek
Amenlied Ps. 107:3, 10, 15
Gebed
Belydenis van geloof (staande en singende)
Kollekte
Slotsang Skr. 21:1-3, 5
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)