In die Suid-Afrika van 2009 wil ék hoor wat God die HERE spreek!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2009-04-26
Teks: 
Psalm 85:9-14
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

In die afgelope week het ons gaan stem; wel, in elk geval dié van ons wat geregistreer het, en wat die geleentheid gehad het om te gaan stem, en wat daarby die moeite gedoen het om in die ry te gaan staan. Menslik gesproke het ons almal geweet waarheen die uitslag van die verkiesing sou lei; die vraag was net: hoe ver gaan die ANC wen? Nou weet ons…

En hoe nou verder? Gaan ons verder as positiewe, optimistiese burgers, mense wat die voorwoord tot ons land se grondwet heelhartig onderskryf, wat stel dat ons onsself sal beywer “om ‘n samelewing te skep gebaseer op demokratiese waardes, maatskaplike geregtigheid en basiese menseregte; en om die fondament te lê vir ‘n demokratiese en oop samelewing waarin elke burger gelykwaardig beskerm word deur die reg”? Is dit hoe ons verder gaan? Of skaar ons onsself by die immer-pessimistiese deel van ons bevolking, die bittereinders van voor 1994 volgens wie daar ná ’94 nog niks goeds in ons land gebeur het nie? Of vorm ons dalk deel van die apatiese groep: ag, wat maak dit eintlik saak? Ja, hoe gaan lewe ons as kerk in ‘n land waarmee ons so dikwels ‘n liefde-haat verhouding het? Ons is enersyds lief vir hierdie land; Suid-Afrika gaan sit in jou bloed. Andersyds haat ons egter wat dikwels hier gebeur: die misdaad en geweld, die korrupsie, en die agteruitgang van dienste.

Gemeente, ons staan op die drumpel van ‘n nuwe tydperk in ons land se geskiedenis, en hoe gaan ons verder? Wel, ons gaan eenvoudig verder as christene! En christene soek altyd en allereers die Koninkryk van God! Natuurlik soek ons ook die vrede van die stad, die welstand van die land waarin ons leef, soos wat die Here deur die mond van Jeremia die volk in ballingskap oproep (Jer. 29:7), wanneer hy sê: “soek die vrede van die stad waarheen Ek julle in ballingskap weggevoer het, en bid daarvoor tot die HERE; want in die vrede daarvan sal julle vrede hê.” Natuurlik, ons moet dit bly doen! Ons moet bly bid vir ons nuwe regering, vir ons nuwe staatspresident, vir ons land, vir die stad waarin ons woon. Maar ons doen dit altyd met die oog op die stad van God, die hemelse Jerusalem, die koninkryk van die hemele! Dít is ons tuiste, dáár lê ons heil!

En daarom mag ons nie opperste pessimiste wees wat die grondwet van ons land met minagting weggooi nie; maar ons is ook nie ewige optimiste wat die grondwet van ons land met ope arms omhels nie. Nee, as christene volg ons ‘n derde weg. As kerk van Christus in Suid-Afrika omhels ons met hoop en met geloof die grondwet van die hemelse koninkryk. Geen Suid-Afrikaanse ryk van maatskaplike geregtigheid en basiese menseregte nie, maar ‘n hemelse ryk waar goedertierenheid en trou mekaar op die pad ontmoet, waar geregtigheid en vrede mekaar kus, waar trou uit die aarde spruit en geregtigheid uit die hemel neerkyk, soos wat ons so pragtig lees in ons teks vir vandag. Dít is die aanhef tot die grondwet van die koninkryk van die hemel. Ons begeer, soos wat ons net hiervoor in Psalm 72:2 gesing het, na die salige ryk waar enkel vrede oor berge en heuwels sweef, en waar die Vors na Gods geregtighede sal heers oor wat daar leef. Daarbinne mag ons vandag al lewe, en op die vervulling daarvan hoop ons! Dít is dan ook die boodskap wat ons mag uitdra op hierdie post-verkiesing Sondag…

Tema: In die Suid-Afrika van 2009 wil ék hoor wat God die HERE spreek!
1. God sê: Ek is met julle (verse 9-10)
2. God sê: my ryk is soveel mooier (verse 11-14)

1. Psalm 85 word algemeen aanvaar as ‘n psalm van ná die Babiloniese ballingskap. Veral die eerste vier verse gee hiervoor duidelike aanwysings. Let byvoorbeeld op die sterk klem wat daar in verse 3 en 4 geplaas word op die feit dat die Here sy toorn afgewend en die sondes van sy volk bedek het – dit is die sterk taal van vergifnis en versoening wat pas by die erns van die ballingskap. Maar nog belangriker is wat ons lees in vers 2: “die lot van Jakob het U verander.” Die woordjie ‘lot’ beteken letterlik ‘gevangenskap’ – die Here het dus die gevangenskap (of ballingskap) van sy volk verander. Hulle mag nou, op bevel van koning Kores, terugkeer na hulle land om die stad en die tempel te herbou (Esra 1:2 en 3). Sewentig jaar se swaar ballingskap is dus verby, sewentig jaar van die Here se drukkende hand het tot ‘n einde gekom. Kom, volk van God, terug na die beloofde land!

Maar, broers en susters, ná die opgewondenheid en vreugde van die terugkeer en van ‘n nuwe begin, waartydens die teruggekeerde deel van die volk met groot ywer die fondamente van die tempel gelê en begin het om die mure van die stad te herbou, het daar vervolgens ‘n groot ontmoediging en wanhoop op die volk neergedaal. Dit het naamlik nie goed gegaan met die volk nie. En daar was verskeie redes daarvoor: om mee te begin was daar die onrustige politieke situasie in Babilonië wat die Jode ook geraak het. Verder was daar die Samaritane wat hulle voortdurend lastig geval en ‘n struikelblok in hulle werk was. En dan was daar natuurlik die eie lewensonderhoud: die teruggekeerde ballinge moes sorg dat hulle weer ‘n dak bo hulle koppe kry. Dit het ekonomies ook maar gesukkel, want daar was juis in daardie tyd droogte in die land en die oeste was nie ‘n baie groot sukses nie. Ons het hiervan gelees in Haggai 1, wat naastenby in dieselfde periode afgespeel het as Psalm 85. Dus, Psalm 85 en Haggai 1 vertel ons van dieselfde moeites wat die volk kort na hulle terugkeer uit Babilonië moes deurmaak.

En so sien ons, broers en susters, dat die situasie van die volk ‘n 180 grade draai gemaak het – eers, in verse 2-4, was daar die opgewondenheid en jubel oor die feit dat God Jakob se lot gunstig geswaai het. Maar nou, in verse 5-8, klink daar die bede vir ‘n nuwe swaai, en moet die digter opnuut vra dat God sy toorn, wat dus nog steeds óf al weer op die volk gerus het, sal wegneem. Gedagtig aan die genade van die Here, nog nie lank gelede nie, bid die digter dus opnuut vir verandering, bid hy dat God sy volk weer lewend sal maak, bid hy dat God sy goedertierenheid en heil aan sy volk sal vertoon. Dit is ‘n persoonlike en opregte smeking tot God namens ‘n volk wat in groot moeites verkeer.

En as die digter dan klaar gebid het, wat doen hy dan? Gaan hy aan die werk, want ja, die dinge moet intussen wel gedoen word… Nee, gemeente, wanneer die digter klaar gebid het, dan spits hy sy ore om te luister: “Ek wil hoor wat God die HERE spreek” (die eerste woorde van vers 9). Die profeet Habakuk, wat in ‘n soortgelyke situasie as die digter van psalm 85 verkeer het, verwoord hierdie luisterende houding soos volg: “Op my wagtoring wil ek gaan staan en op ‘n skansmuur my stel, en ek wil speur om te sien wat Hy in my sal spreek…” Dít is die regte houding, gemeente. Wanneer ons in tye van moeite en probleme ernstig en opreg tot God smeek, veral in hierdie tyd van politieke onsekerheid en bekommernis oor die toekoms van ons land, dan doen ons goed daaraan om, wanneer ons klaar gebid het, ons ore te spits en fyn te luister – nee, nie vir die toesprake van ‘n aardse mag nie, nie vir die leë beloftes van iemand wat sy mag in elk geval van die Here af kry nie, maar vir die beloftewoord van die Here, Koning van die wêreld! Na Hóm wil ons luister in ‘n tyd waarin ‘n stortvloed van politieke woordewisseling ons oorval het! “Ek wil hoor wat God die HERE spreek”…

En dan spréék die Here ook! Is dit ‘n wonder? Beslis, maar dit is nie onverwags nie. Die Here antwoord gunstig op die digter se gelowige gebed. Dit is duidelik dat Hy weer oppad is na sy volk toe. God belowe in vers 10 dat sy heerlikheid weer by sy volk gaan kom woon; Hy wil dus hoogspersoonlik in al sy glorie weer dáár wees, in hulle midde. En, gemeente, wanneer God in sy heerlikheid by sy volk kom woon, dan bring dit onvermydelik ook vrede vir sy gunsgenote en heil vir dié wat Hom vrees (verse 9 en 10). Wanneer God naby ons wil kom, is dit altyd gunstig, altyd positief. En ons sien dat die profeet Haggai rondom daardie einste tydstip presies dieselfde boodskap aan die teruggekeerde ballinge mag oordra; ons lees naamlik in Haggai 1:13: “Daarop het Haggai, die boodskapper van die HERE, kragtens die boodskap van die HERE, met die volk gespreek en gesê: Ek is met julle, spreek die HERE.”

Ek is met julle! Hoor u dit? God met ons, Immanuel (want dit is wat Immanuel beteken)! Die Here het ons dus nie aan ons eie lot oorgelaat nie, broers en susters. Toe Hy sy Seun – die Immanuel! – na die aarde gestuur het, het Hy naby ons gekom om ons lot vir altyd te verander. Hy het vir ons vrede kom bring, Hy het verlossing gebring. Só besing Sagaria dit in sy lofsang in Lukas 1: “Geloofd sy die Here, die God van Israel, omdat Hy sy volk besoek het en vir hulle verlossing teweeggebring het, … redding van ons vyande en uit die hand van almal wat vir ons haat.” Dít, gemeente, is wat die Immanuel vir die mensdom kom bring het. En weet u wat: Hy is hier! Dít was die boodskap vir die ontredderde volk, dít is die boodskap vir ons vandag. Wat ook al in ons land en in die wêreld aangaan, God is hier by ons!

Besef ons nog wat dit behels, broers en susters? Is dit vir ons nog belangrik, is dit vir ons nog ‘n realiteit, dat God by ons is? Of het ons te besig geraak met die dinge van die dag? Bid ons nog om vervolgens ook stil te word en na God se antwoord op ons gebed te luister? Of luister ons maar met ‘n halwe oor na God omdat ons eintlik die gesprekke van die wêreld wil volg, die wie-is-wie in Suid-Afrikaanse politiek en die wat-gaan-vir-wat in die pasafgelope verkiesing? Dink jy dat daar jou heil en vrede lê – by daardie vriendelike gesig wat vanaf ‘n verkiesingsplakaat vir jou glimlag?

Ek ry afgelope Vrydagoggend in Fratesweg af. En dan sien ‘n mens op die lamppale al die verkiesingsplakkate hang. En toe ek in nabetragting op die verkiesing so na die verkiesingsplakkate kyk, toe lyk Helen Zille skielik nie meer so sprankelend op haar DA-plakkaat nie. En Patricia de Lille se plakkaat hang ook so half vooroor gebuig. Weke en maande se verkiesingsveldtogte hang daar, weke en maande se wedyering om die stem van die volk. En hulle het verloor; hulle is nie deur die volk verkies om hulle te verteenwoordig nie. Wat was die sin van dit alles? Was dit dalk sinneloos? Nee, beslis nie! My doel is nie om te sê dat al die verkiesingsveldtogte sinneloos was nie. Maar ons moet onsself wel afvra: het dit intussen iets verander aan die realiteit dat God nog die hele by sy volk is, by sy kerk? Sonder enige stemmemakery, bo alle verkiesingsveldtog heen, was en is God steeds by ons deur Jesus Christus! Maar het ons werklik na Hóm geluister in al die gepraat?
Terwyl ek verder ry, sien ek kort daarna ‘n plakkaat van die Beeld wat sê dat die ANC alreeds partytjie begin hou het; ja, hulle het gewen! Vir hulle was die verkiesingsveldtog duidelik die moeite werd. Was dit werklik die moeite werd? Is ‘n regerende party sonder God werklik die meerderheidsparty? Is daar ware vrede by die ANC? Kan hulle heil bring? Is Zuma die nuwe Jesus-figuur? Nee, gemeente, ook die sogenaamde ‘wenners’ is nie ons heilbrengers nie; ook hierdie nuwe leiers gaan nie so naby aan die volk kom soos wat God naby aan sy volk is nie!  

Moet daarom nie verblind word deur die bedrieglike skyn van hierdie wêreld nie; moenie ontmoedig word deur dit wat oënskynlik in ons land gebeur nie. As kerk van die Here, Jesus Christus, is ons lidmate van die party wat onsself werklik oorwinnaars kan noem. Want God is by óns, nie by hulle nie! Die heil lê in die kruisdood en opstanding van Christus, en nie in die opstaan van ‘n nuwe leier nie; die vrede is hier onder die Woordverkondiging, en nie onder die staatsrede nie. Hier, op Jesus Christus en op sy Woord van lewe, moet ons fokus wees, ook wanneer ons onsself gee vir die opbou en ontwikkeling van ons land! Hier is God, en nêrens anders nie!

Laat ons maar net nie tot dwaasheid terugkeer nie – ja, gemeente, dit is ‘n belangrike voorwaarde wat in vers 9 gestel word. Laat die kerk maar net nie dink dat haar vrede en haar heil buite Christus lê nie; laat sy net nie vergeet wat aan haar haar bestaansreg gee nie. Solank as wat ons as kerk aan Jesus Christus vashou, is ons die oorwinnaars in hierdie land, hoe klein ons ook mag lyk. Solank as wat God sentraal staan in ons midde, is die heil en die vrede hier, watter kamtige heil en vrede die politici ook al belowe. Solank as wat ons bly vashou aan God se beloftewoord het ons ‘n boodskap vir hierdie land, watter toesprake ons staatspresident ook al mag lewer. En dít, broers en susters, mag ons nie uit die oog verloor nie. Daar is geen groter eer en geen groter realiteit nie as dat God sê: hier wil Ek met my heerlikheid woon.
Vervolgens sê God ook nog: my ryk is soveel mooier!

2. Gemeente, in die geloof gaan dit altyd heel eerste oor God – wie Hy is! – en nie oor dit wat Hy ons kan bied nie. Dit is hoe dit dikwels in die verkiesing gewerk het, nie waar nie? Mense luister na die toesprake, hoor die beloftes wat gemaak word, en dikwels stems hulle dan vir die kandidaat wat aan hulle die beste beloftes kon bied. Watter voordeel kan ek trek, hoe gaan ek wen? – dit is dikwels die soort vrae wat bepalend was. Maar in die geloof is dit anders – om God in ons midde te hê, is nie maar net ‘n manier waarop ons bevoordeel kan word nie. Nee, om God in ons midde te hê, broers en susters, is alles! Want God self is vir ons alles.

Maar, wanneer Hy dan hier woon, dan kom sy seëninge vervolgens ook saam met Hom na ons toe. Ja, die een volg uit die ander. Wanneer God by ons woon, dan mag ons ook deel in sy seëninge. Nou, daardie seëninge word in verse 11-14 deur die digter van Psalm 85 op ‘n baie besondere wyse vir ons beskryf. Wat die digter hier beskryf is die skoonheid en die wonder van die Koninkryk van die hemel, waarbinne ons vandag al mag lewe. Hierdie verse in Psalm 85 is een van die mees treffende beskrywings van die ongelooflike harmonie en vrede wat daar in die Koninkryk van Jesus Christus heers en sal heers, en dit is ‘n harmonie en vrede wat in skrille kontras staan tot wat ons in die wêreld sien.
O ja, dit is ‘n harmonie waarvoor daar hard geveg moes word; die bloed moes vloei om hierdie harmonie te verkry. Want die duiwel hou daarvan om verdeeldheid te saai; hy is die groot onrusstoker, die groot ontwrigter. Hy het disharmonie in die wêreld gebring. Maar Jesus Christus het die duiwel oorwin, en sy koninkryk het gekom om te bly. En in hierdie koninkryk, wat in Psalm 85 vir ons beskryf word, sien ons iets van die goddelike ideaal, naamlik dat God en mens, en dat mense onderling, en dat die mens en die skepping weer in ware harmonie met mekaar kan lewe. Goedertierenheid en trou, geregtigheid en vrede… - getuig dit nie van iets besonders nie? 

En, broers en susters, hierdie harmonie begin uiteraard in God self (daarvoor kan ons maar net na vers 11 kyk). By Hom is hierdie vier eienskappe nooit in konflik met mekaar nie. Sy liefdevolle goedheid teenoor die mens stry nie met sy getrouheid aan die woord dat die mens wat sondig moet sterwe nie; en sy regverdigheid wat eis dat die sonde gestraf moet word, staan nie in konflik met die vrede wat Hy vir die mens soek nie. In en deur die werk van Jesus Christus ontmoet hierdie vier eienskappe mekaar in perfekte harmonie, omhels hulle mekaar, kus hulle mekaar, omdat die een nie teenoor die ander staan nie en omdat elkeen dieselfde doel soek as die ander een, naamlik die redding van mense. In en deur Jesus Christus word hierdie eienskappe van ewigheid af in God geharmonieer.

Maar, gemeente, vervolgens word hierdie harmonie binne-in God deur Hom ook uitgedra na buite. God soek immers daarna om hierdie harmonie te deel; Hy soek vrede tussen hemel en aarde. Die skeiding wat daar deur die sonde gekom het, moet opgehef word. God wil in vrede met die mens lewe. Daarvoor het Christus mens geword en het Hy gesterf, en kyk dan in vers 12 na die resultaat: “Trou spruit uit die aarde, en geregtigheid kyk uit die hemel neer.” Vanuit die hemel kom God se gawe van geregtigheid, regverdigmaking deur Jesus Christus, en in antwoord daarop reageer sy kinders met geloof en getrouheid. God se kinders lewe in getroue gehoorsaamheid aan Hom en gevolglik word hulle ryklik deur Hom geseën, ook op materiële wyse, soos wat ons lees in vers 13: “Ook gee die HERE die goeie, en ons land lewer sy opbrings.”

En uiteindelik, gemeente, in al hierdie werk van harmonie, kom woon God sélf weer hier op aarde. Hy kom wandel tussen sy kinders, en oral waar Hy gaan, daar word Hy omring deur geregtigheid. Soos wat vers 14 sê: “Geregtigheid gaan voor Hom uit, en dit let op die weg van sy voetstappe.”

Gemeente, proe u iets van wat die Koninkryk van Jesus Christus bring? Goedertierenheid en trou, geregtigheid en vrede – ‘n realiteit wat bestaan tussen God en mense en tussen mense onderling. Dít is die grondwet van die hemelse koninkryk waarvan ons burgers mag wees; dit is waaraan jy en ek ons onderwerp: ons sweer trou aan die grondwet van die republiek van Jesus Christus, ook al woon ons in Suid-Afrika. En as jy hierdie grondwet nou vergelyk met die grondwet van ons land – demokratiese waardes, maatskaplike geregtigheid en basiese menseregte. Ag, dit mag miskien mooi klink, maar wie is in staat om hierdie utopia te realiseer? Tog nie Zuma nie? Tog nie die nuwe regering nie? Nee, gemeente, daar is net een plek waar die utopia van goedheid en trou, geregtigheid en vrede werklikheid word: in die Koninkryk van die hemele, deur die werk van Christus, in die krag van die Heilige Gees. En dit begin hier, in die kerk! Hier is goedheid en trou veronderstel om mekaar te ontmoet; hier behoort geregtigheid en vrede mekaar met ‘n kus te begroet; hier behoort trou uit te spruit en te floreer, hier waar Jesus Christus sy woonplek op aarde gemaak, hier in ons midde. Gebeur dit?

Ons kan lank en baie kla oor ‘n land waar die dinge verkeerd loop, waar ons ver moet soek om goedheid raak te loop, maar mense ontrou is in alle fasette van die lewe, waar geregtigheid tot in ons onafhanklike regstelsel nie meer gehandhaaf word nie (ons nuwe staatspresident is ‘n klaarblyklike voorbeeld daarvan), en waar die moord- en misdaadstatistieke van iets totaal anders getuig as van vrede. Ons kan lank hieroor kla. Maar, gemeente, laat ons hier in ons eie midde begin. Immers, hier wil God ‘n begin maak met die realisering van sy ryk. God wil die kerk gebruik as uitvalsbasis van sy oorwinningstog; hier wil God begin om Suid-Afrika te verower. Dan moet ons nie in die eerste plek sê: ons sien dit nêrens meer in ons land nie; nee, dan moet ons heel eerste vra: sien ons dit nog hier? Is die kerk, is hierdie gemeente, nog ‘n plek van goedheid, ‘n plek waar mense goed doen aan mekaar en aan hulle naaste? Is die kerk nog ‘n plek waar ons mekaar kan vertrou? Is die kerk nog die plek waar die geregtigheid deur die geloof verkondig word, en gevolglik ook verwag kan word dat ons regverdig in ons optrede teenoor mekaar sal wees? Is die kerk nog die plek van vrede?

Gemeente, waar ons land op die drumpel staan van ‘n nuwe tyd – ‘n tyd wat ons moontlik mag bekommer en benou – mag ons rustig voortgaan om ‘n tuiste te wees vir die koninkryk van Jesus Christus. Wat ook al in ons land gebeur, die kerk behoort te blink en te straal van hoop en toekoms. En wanneer dít dit geval is, watter hoop en toekoms is daar dan nie vir ons land nie? Dan kán ons verder gaan om hier te woon, dan ís dit moontlik om hier ons werk te doen, dan word ons die klein bietjie suurdeeg wat die hele deeg deursuur; dan word ons die klein bietjie sout wat die hele gereg smaaklik maak; dan word ons die klein liggie, wat die hele vertrek verlig. Gaan lewe só, broers en susters, in harmonie met Jesus Christus, in harmonie met mekaar, en wie weet wat die Here dan nie alles in ons land kan doen nie. En oor vyf jaar? Dan gaan stem ons weer…

Amen

 

Liturgie (aand)

Groet en afkondigings
Votum Ps. 121:1
Seëngroet: Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen. Sing Ps. 97:5-7 (groot wanneer God ons kom groet; vir ongelowiges skrikwekkend, maar vir ons
 verblydend om te weet dat God se vriendelike aangesig oor ons skyn)
Gebed
Lees:  Psalm 85
 Haggai 1
Sing Ps. 72:2-4
Teks: Psalm 85:9-14
Preek
Amenlied Ps. 85:3 en 4
Gebed
Geloofsbelydenis (staande en singende)
Kollekte
Slotsang Skr. 2:4 en 5 + Skr. 3:2 (ons sing van die ryk van vrede, met Immanuel as die Vors/Lig)
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)