Trek mooier en mooier aan vir die Here!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2009-04-19
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 33
Verwysing: 
HK 33-1
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Is dit vir lidmate van die Vrye Gereformeerde Kerke werklik nodig om bekeer te word? Ja, natuurlik, niemand van ons wat hierdie vraag ontkennend sal beantwoord nie. Maar goed, doen jy dit ook nog elke dag? Voeg jy ook die daad by hierdie erkenningswoord? As in die prediking die liefde van Christus jou dring tot die aflegging van die sonde in jou lewe, en jou tot ‘n nuwe, christelike lewenswyse oproep, steur jy jou daaraan, of gaan jy eenvoudig voort in die ou, sondige patroon? In die lyn van: dit was ‘n mooi preek, maar die netto resultaat daarvan is … nul! Of as jy tydens ‘n huisbesoek deur die ampsdraer vermaan word oor iets in jou lewe, haas jy jou om jouself te bekeer en jou lewe te verbeter, of stap jy weg met die houding: wie is hy om vir my te kom sê wat ek moet doen? Die vraag is dus in wese: is daaglikse en ware bekering nog ‘n realiteit by ons, broers en susters? Besef jy nog werklik dat christen-wees ook jou lewe behoort te verander?

Dit is in elk geval wat die Here vir ons leer in sy Woord… Volgens Paulus in Kolossense 3:1-4 het die gelowiges, vandat hulle christene geword het, nou ‘n núwe lewe. Jy is, as gelowige, veronderstel om ‘n nuwe lewe saam met Christus te hê – jy het immers saam met Christus gesterwe (vers 3a), jou lewe is tans saam met Christus verborge in God (vers 3b), en eendag sal jou lewe saam met Christus in heerlikheid geopenbaar word (vers 4). Die verlede, die hede en die toekoms van jou lewe is volledig een met Christus. Christene is dus in hulle lewens volledig op Christus gefokus: “soek die dinge daarbo, bedink die dinge wat daarbo is, dáár waar Christus is, en nie die dinge wat op die aarde is nie!” (verse 1 en 2)

Nou, broers en susters, gesien hierdie nuwe realiteit in die gelowiges se lewens, kan hulle nie meer lewe soos voorheen nie, dit is net nie moontlik nie. Hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid (vers 5), asook toorn, woede, boosheid, laster en skandelike taal (vers 8) – dus, al daardie sondes waarin die Kolossense vroeër gewandel het – dit pas nie meer by hulle nie, dit is soos ou vodde wat uitgetrek moet word. En, volgens Paulus in die tweede deel van vers 9, hét die gelowiges in Kolosse hierdie ou mens met sy werke ook alreeds afgelê; die aflegging is dus alreeds ‘n realiteit in hulle lewens. Hulle moet hulleself daarom ook nie gedra asof hulle nog die ou klere aanhet nie.

Nee, gemeente, want toe die gelowiges die ou klere uitgetrek het, het hulle vervolgens nuwe klere in die plek daarvan aangetrek; hulle het hulself met die nuwe mens beklee (vers 10). En hierdie nuwe klere lyk anders as dié wat die gelowiges voorheen gedra het, en dit sal ook in hulle hele lewenswandel moet blyk. Ons sien op dié manier dat die spreekwoord tog gedeeltelik waar is, wat sê: die klere maak die mens! Bekering, broers en susters, moet dus nie slegs iets van die mond wees nie, maar moet sigbaar en tasbaar gestalte kry in ons lewens. Bekering beteken die uittrek van die ou klere en die aantrek van die nuwe klere, of soos die Kategismus dit stel: die afsterwing van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens. Hoe lyk jou klere? Streef jy daarna om in jou liefde vir Christus ook die kleed van die nuwe mens aan te trek? Of is jy heeltemal tevrede om in jou ou vodde te bly rondloop? Kyk na jou lewe! Want, sê die Kategismus in v/a 87, dié wat hulle nie tot God bekeer nie – dus, dié wat nie die ou klere uittrek en die nuwe klere aantrek nie – kan nie salig word nie…

Daar is egter iets opmerkliks aan Kolossense 3:10 waarop ek u aandag wil vestig. Ons lees daar: “en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe wórd tot kennis na die beeld van sy Skepper…” Die aantrek van die nuwe klere – die nuwe mens – dui dus op die beginpunt van ‘n proses wat daarna voortgaan. Jy begín dus as gelowige deur die ou klere uit te trek en die nuwe klere aan te trek, maar daarna moet daardie klere ook al hoe meer vernuwe wórd! Ja, dit is anders as die klere wat jy elke dag aan jou lyf dra, of hoe? Daardie klere lyk mooi die dag wanneer jy dit koop, maar ‘n paar maande en tien wasse later lyk dit nie meer dieselfde nie; miskien het daar ‘n paar vetkolle bygekom en begin die kleur al effens verbleik.

Maar die nuwe mens wat ons deur die geloof in Christus aantrek, is as mooi klere bedoel om steeds mooier en mooier te word. Deur toename in kennis van my God en Verlosser, word ek as mens steeds mooier en mooier, word ek steeds meer wat ek moet wees, naamlik beeld van die Skepper (kyk maar na vers 10). En dít is nou, volgens die Kategismus, ware bekering: al meer die ou klere uittrek, en al mooier en mooier aantrek vir Christus, my Here.

Tema: trek mooier en mooier aan vir die Here!
1. Die onderkleed
2. Die bokleed

1. Paulus spreek in vers 12 sy lesers op ‘n besondere wyse aan; hy noem hulle ‘uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes”. Paulus gebruik hier taal wat in die Ou Testament op Israel toegepas is (Deut. 7:6 en 7). Wanneer Paulus hierdie liefdestaal gebruik, dan gee dit dus iets weer van die spesiale posisie van die Nuwe Testamentiese gemeente; húlle is nou die geliefde en heilige volk van God. Maar… as hulle so spesiaal is, dan moet hulle ook spesiaal lyk. Hulle moet gekleed gaan in die styl van die Een wat aan hulle hul spesiale posisie gegee het. Daarom gaan Paulus nou daartoe oor om hulle nuwe uitrusting, wat meer en meer vernuwe moet wórd, te beskryf. En hy begin by die onderkleed…

Innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid – dit is volgens Paulus in vers 12 die vyf dinge wat saam die onderkleed van die gelowige se nuwe uitrusting uitmaak. U sal sien dat Paulus in vers 5 vyf slegte eienskappe opgenoem het, en in vers 8 nogmaals vyf slegte eienskappe. Wel, daarteenoor volg nou vyf christelike eienskappe of gesindhede. Kom ons kyk kortliks na elkeen…

• In die eerste plek: innerlike ontferming. Nou, in die bybelse spraakgebruik is die innerlike van die mens – letterlik: sy ingewande – die setel van die gevoelens, in besonder van gevoelens van ontferming en medelye. Wanneer Paulus dus sy tekening van die nuwe mens hiermee begin, dan wys hy daarmee dat die nuwe mens oor meer gaan as slegs die beoefening van ‘n aantal deugde, soos wat die filosowe van sy dae voorgeskryf het. Ons lewens is nie bloot daarop gerig om soos koue masjiene net goeie werke te doen nie, want dan is die gevaar van wettisisme baie reëel. Nee, dit gaan daaroor dat die gelowiges begin lyk soos die Een in wie hulle glo, en dit is baie belangrik dat ons sal besef dat dit in die hart begin! Die diepe ontferming en die hartlike medelye wat hulle by Jesus raakgesien het, behoort tot uitdrukking te kom in hulle houding teenoor mekaar. Om deel van Jesus Christus te wees, raak dus nie net ons optrede nie, maar ook ons gevoelens – tot in die ingewande toe.

En as ons praat van gevoelens, broers en susters, dan bedoel ons daarmee nie die swewende belewenis van ons tyd nie; dit is iets wat maar voortdurend wissel soos wat ons emosies wissel. Nee, dit gaan daaroor dat ons innerlik beweeg word vir mekaar, dat die nood van die ander ons in ons ingewande raak! Dan rus ons nie voordat daardie nood nie verlig is nie.

• In die tweede plek: goedertierenheid. Dit is die bereidheid om goed te doen, om jouself nuttig te maak vir die ander. En dit word gevoed vanuit ‘n opregte sorg vir die gevoelens en begeertes van die ander. Het ons dit nog, daardie bereidheid om goed te doen aan mekaar, gespieël aan die goedheid van die Here? Inderdaad, dit vra dat jy jouself gee, heel eerste vir die Here, en daarmee ook vir jou naaste…

• Vervolgens: nederigheid. Dit is die bereidheid om die ander hoër te ag as jouself. En in ‘n wêreld waar eer en aansien hoog aangeslaan is, en alles moontlik gedoen is om daardie eer en aansien te verkry, was dit ‘n swaar eis wat Paulus hier aan die Kolossense gestel het. En dit geld vir ons tyd nog net so – dit stry teen ons wese om jouself ondergeskik te stel aan die ander een. Vra daarom die Here vir hierdie uitnemende deug, broers en susters, ‘n deug wat ons op so ‘n besondere wyse by ons Here Jesus raaksien. Bid om Hom hierin te kan navolg. Want nederigheid stel ons in staat om die ander een te dien sonder om jou daaroor te bekommer of dit raakgesien word of nie.

• Die vierde eienskap van die christelike onderkleed is sagmoedigheid. Dit wil sê, om nie toornig of opvlieënd te wees nie. Nee, dit beteken nie dat jy alles net hoef te aanvaar nie, maar dit beteken wel dat jy daarna sal soek om nie die ander onnodig seer te maak en te kwes nie. Hierdie eienskap is veral nodig in situasies van konflik – in sulke situasies is dit die kuns om jou kritiek só te laat oorkom dat die ander dit nie as veroordeling ervaar nie, maar as hulp en aanmoediging.

• En dan ten slotte: lankmoedigheid, of anders gesê: geduld. Dit beteken dat jy jouself lank kan inhou voordat jy lug gee aan moontlike gevoelens van toorn en woede.

Dit is die vyf christelike gesindhede wat Paulus opnoem. Vervolgens gaan hy daartoe oor om hierdie vyf gesindhede of deugde konkreet te maak vir ons omgang met mekaar. Hierdie vyf gesindhede moet naamlik hande en voete kry in die verhoudings tussen mense. Ons ontvang hierdie gesindhede immers nie om dit in onsself te koester en vir onsself te hou nie, want dan verloor dit sy funksie en krag, dan dien dit geen doel nie. Nee, ons ontvang hierdie gesindhede om daarmee te woeker, om dit te gebruik, om dit sigbaar te maak teenoor ander. Mense moet my nuwe klere kan sien en voel en ervaar. En dit kan slegs gebeur wanneer mense met mekaar omgaan – wanneer ek met broers en susters hier in die kerk omgaan, of wanneer ek met my naaste by die werk of by die winkel of op die sportveld omgaan. Eers dan word my nuwe klere op die proef gestel, of hulle uit werklik uit Christus is.

En Paulus maak die vyf gesindhede in vers 13 konkreet deur sy lesers op te roep om mekaar te verdra en te vergewe. Deur verdraagsaamheid en vergifnis van diegene wat op een of ander wyse gesondig het, wys ons die innerlike ontferming, die goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid en geduld, waartoe die ware bekering ons bring, waarskynlik die beste. Ja, ons moet rojaal vergewe, soos wat Christus ons vergewe het. As jy van die vergifnis van die Here lewe, sal jy ook bereid wees om die ander se foute en gebreke te vergewe. Wie in geloof die Here Jesus aangetrek het, sal daaraan werk om die onderkleed van verdraagsaamheid en vergifnis aan te trek, en daardie kleed ook mooier en mooier te laat lyk.

Dus, broers en susters, vyf gesindhede, vyf maniere van optrede, wat pas by die nuwe mens. En hierdie vyf staan lynreg teenoor die vyf ondeugde wat Paulus in vers 5 en die vyf ondeugde wat hy in vers 8 genoem het. In hierdie ondeugde mag ons nie meer wandel nie, dit hoort nie meer tuis in die lewe van die gelowige nie. Ou en nuwe klere pas nie saam nie. En tog moet ons bely dat hierdie ondeugde nog in ons lewens voorkom. Die blote feit dat ons in vers 13 opgedra word om mekaar te verdra en mekaar te vergewe, wys dat Christene nog nie perfek is nie en nog steeds sondig. En dit is wat die daaglikse bekering so ‘n dinamiese proses maak – dit beteken om dít wat nie in ons lewens tuishoort nie, meer en meer daaruit te verwyder; en om dít wat wel daar tuishoort ‘n groter en groter plek te gee. Oefen jouself daarom elke dag in hierdie vyf gesindhede van die nuwe mens. Beoefen dit teenoor mekaar; laat die nuwe onderkleed wat ons deur die geloof mag aantrek, steeds mooier en mooier word.

Nou, in die tweede plek, nog die bokleed.

2. Ja, miskien het u al gewonder hoekom ek die onderskeid maak tussen die onderkleed en die bokleed. Wel, die rede hiervoor lê in vers 14, waar ons lees: “En beklee julle bo dit alles…” Bo dit alles – dit kan die indruk skep dat dít wat nou gaan volg in kwaliteit die hoogste is; dus, doen dit en dit, maar belangriker nog, bo dit alles… Hierin is sekerlik waarheid, en tog gee dit nog nie die presiese betekenis van Paulus se woorde weer nie. Ons moet die egte betekenis van hierdie woorde op ‘n meer letterlike vlak soek. Paulus sit naamlik hier die beeld van die nuwe klere voort. Eers moes die Kolossense innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid en lankmoedigheid as onderkleed aantrek, maar vervolgens moet hulle bo-oor dit alles aantrek, as bo-kleed: die liefde!

Nou, broers en susters, die mense van die bybelse tyd het hoofsaaklik twee kledingstukke gehad – die onderkleed en die bokleed. Die onderkleed was ‘n kleed van eenvoudige materiaal wat die hele liggaam van bo tot onder bedek het, effens sakvormig met openinge vir die kop en die arms Nou moet ons dit nie verwar met vandag se onderklere nie; die onderkleed was nie onderklere nie, want dit was nie snaaks vir ‘n Jood om met sy onderkleed in die openbaar te verskyn nie. Die bokleed egter is daar bo-oor gedra en was van baie mooier materiaal en ook duursamer. Ryk mense se bokleed was dikwels van kosbare sy en pragtig versier. Nou, dit is die beeld wat Paulus hier in gedagte het. Eers die onderkleed – innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid – belangrik, maar eenvoudig. En dan, bo-oor dit, die kosbare bokleed – die liefde! – dít waaraan die christen herkenbaar is as draer, as verteenwoordiger, van die nuwe mens.

Broers en susters, die liefde onderskei homself van die vyf gesindhede wat in vers 12 genoem is in dié opsig dat dit die christelike deug en die vrug van die Gees by uitstek is! Reeds in hoofstuk 1:4 en 8 het Paulus die Kolossense geprys vir die getuienis van die liefde wat hulle aan hulle medegelowiges in die wêreld bewys het. Op hierdie plek spoor Paulus hulle egter aan om die bokleed van die liefde steeds weer aan te trek, steeds mooier en mooier te laat lyk. En hierdie aansporing dien om die Kolossense skerp te hou. Die liefde mag nooit roetine word nie; die liefde moet onderhou word, daar moet aan die liefde gewerk word. Want voordat jy weer kyk hou die liefde op om liefde te wees.

En weereens, gemeente, gaan dit hier nie oor die soort liefde soos wat ons dit in die wêreld sien nie, die liefde as emosionele belewing wat wissel soos wat ons buie wissel, daardie soort liefde wat slegs betoon word omdat ek eers liefde ontvang het. Nee, wanneer ons as gelowiges die bo-kleed van die liefde aantrek dan trek ons in werklikheid Christus aan! Immers, Christus is die nuwe mens by uitstek, en wanneer ons Hom aantrek dan word ons ook vernuwe na die beeld van die Skepper.

Wanneer jy daarom die opdrag kry om steeds weer die bokleed van die liefde aan te trek, dan beteken dit dat jy by Christus sal moet bly; om die liefde aan te trek, is om Christus aan te trek. Dit is daarom nie verniet dat Paulus sy lesers in verse 16 en 17 steeds weer na Christus en sy Woord verwys nie – “laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid” (vers 16), en “doen alles in die Naam van die Here Jesus” (vers 17). Liefde genereer jy nie uit jouself nie, liefde kom slegs wanneer jy die Skrif oopmaak, die bybel bestudeer, die eredienste bywoon, tot die Here gaan in gebed, en in dit alles groei in jou verhouding met Jesus Christus. Dit is die enigste manier hoe jy elke dag kan opstaan en die bokleed van die liefde kan aantrek as ‘n werksame en praktiese lewenswyse.

En so word jou verhouding met God gesond, en so word ook die verhoudings met mekaar gesond! Dit is wat Paulus aan die einde van vers 14 sê met nog ‘n laaste klere-beeld. Hy praat daar van die liefde as die band van die volmaaktheid. Ja, ons kan sê dat die liefde, behalwe dat dit die bokleed is wat die mens van God versier, ook die gordel is wat al die klere bymekaar hou. Al die gesindhede wat in vers 12 genoem word, al die los dele, word deur die liefde saamgebind tot een geheel. En so is die liefde die gloed wat ons verhouding met God en met mekaar sal deurtrek. Deur daardie liefde kom al vyf gesindhede van die onderkleed tot hulle reg; daardeur sal ons innerlik bewoë bly oor mekaar, sal ons ‘n oog daarvoor ontwikkel om goed te doen aan mekaar, sal ons in staat wees om die ander te dien in nederigheid, sal ons altyd sag werk met die ander, en sal ons geduldig kan bly met die foute en die gebreke van die ander.

Wie so met God en sy naaste mag lewe, is baie ryk en het rede tot groot dankbaarheid. Met Christus in en om jou mag die vrede van God in ons harte heers en is daar, volgens vers 15, altyd rede tot dankbaarheid.

Gemeente, hier het u iets gesien en geproe van ware, konkrete bekering – die aflegging van die ou mens – die vuil klere – en die groei van die nuwe mens – die nuwe klere. Pragtig, wanneer ‘n mens dít in jou lewe begin raaksien. Let wel: ek sê “begin raaksien”. Ware bekering is nammlik nie ‘n gebeurtenis nie, dit is ‘n proses. ‘n Lewenslange proses – nooit in hierdie bedeling is ons daarmee klaar nie, nooit bereik ons hier die volmaaktheid nie. Dit is hoe God dit in sy wysheid bepaal het. Bekering moet elke dag weer gebeur, dag na dag, treetjie vir treetjie moet jy op hierdie pad vorder.

En kom ons wees eerlik, dit kan ‘n mens soms moedeloos maak. Dit kan jou moedeloos maak as jy wéér moet sien hoe die ou mens een van jou optredes, woorde of gedagtes bepaal het. Dit kan jou laat twyfel as jy bemerk hoe swak die nuwe mens in jou is. Dit kan jou laat wanhoop as jy saam met Paulus moet opmerk: “die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek” (Rom. 7:19).

Maar, gemeente, in hierdie woorde van Paulus lê dan ook ‘n belangrike deel van die antwoord: die goeie wat ek wil, en die kwaad wat ek nie wil nie. Bekering begin in die binneste, dit begin by ‘n wil en ‘n hart wat deur God vernuwe is. En só verwoord die Kategismus dit ook: “Wat is die afsterwing van die ou mens? Dit is ‘n hartlike berou daaroor…”, en “wat is die opstanding van die nuwe mens? Dit is ‘n hartlike vreugde in God deur Christus…” In die hart (hartlik!) broers en susters, dáár begin bekering! Dáár soek God heel eerste die vernuwing. Dus, geen koue pligpleging nie – só doen ons dit nou eenmaal, dit is hoe dit my geleer is, so moet ek dit doen. Nee! Bekering beteken dat ons saam met die digter van Psalm 116 sê: “God het ek lief” En dáárom: “wat kan ek die Heer vir al sy guns vergeld? Wat kan ek Hom bring uit dank vir sy genade?”

Met bekering moet ons dus baie dieper deurvra as net die oppervlakte: wat doen ek reg en wat doen ek verkeerd? Met bekering moet ons elke keer weer die oë rig op Jesus Christus en myself afvra of ek Hom van harte liefhet. Bekering is ‘n lewe saam met Christus, dit is ‘n lewe oorgegee aan Christus, dit is ‘n lewe onder sy sagte juk en sy ligte las. En as dít by jou die geval is, ja, worstel dan maar met die kwaad in jou lewe, stry dan maar die stryd om die goeie te doen. Maar doen dit altyd met die wete: ek behoort aan Jesus Christus, en ek begeer om mooier en mooier te word vir Hóm!

Amen

Liturgie (aand)
Groet en afkondigings
Votum Ps. 121:1
Seën: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 101:1, 2 en 4
Gebed
Lees: Kolossense 3:1-17
Sing Ps. 123
Teks: HK, Sondag 33
Preek
Amenlied Skr. 18:5-8
Gebed
Geloofsbelydenis (staande en singende)
Kollekte
Slotsang Ps. 103:2 en 3
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)