Ons Heiland spreek ‘n lewenswoord in sy sterwensuur!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2009-04-10
Teks: 
Lukas 23:46a
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Die meeste van ons, wat al ‘n geliefde aan die dood afgestaan het, kan waarskynlik nog merkwaardige woorde onthou wat die persoon kort voor sy of haar dood uitgespreek het. Woorde wat ons altyd sal bybly, woorde wat vir ons groot betekenis het. Nou, broers en susters, op ‘n soortgelyke wyse het Jesus se sewe bekende kruiswoorde kort voor sy dood vir christene deur alle eeue heen groot betekenis gekry. Ja, sewe keer tydens daardie ure aan die kruis het Jesus sy mond oopgemaak om te spreek, en al sewe uitsprake het onder gelowiges groot waarde gekry: “Vader, vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie”, “voorwaar, Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die paradys wees”, “vrou, dáár is u seun… daar is jou moeder”, “my God, my God, waarom het U My verlaat?”, “Ek het dors”, “dit is volbring”, en “Vader, in u hande gee Ek my gees oor”.

Hierdie laaste van die sewe kruiswoorde was tewens ook Jesus se heel laaste woorde tydens sy lewe hier op aarde: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor”, en toe was dit verby… Miskien kan u self ook nog daardie heel laaste woorde onthou wat u geliefde kort voor sy of haar dood gespreek het. Hierdie laaste woorde, veral, kry besondere waarde, nie waar nie? ‘n Mens onthou dit, koester dit, herhaal dit oor en oor. Ja, dit is hoe ons mense is – ons hou graag vas aan daardie laaste woorde, daardie afskeidswoorde.

Maar, broers en susters, is dit werklik wat Jesus se laaste woorde was? “Vader, in u hande gee Ek my gees oor” – was dit Jesus se afskeidswoord, sy roerende afskeid van die lewe hier op aarde? Moet ons onsself deur die ervaring van die sterfbeddens van ons dierbares laat lei om Jesus se laaste woorde te help verstaan? Nee, ons moet die Groot Gestorwene nie vanuit ons klein gestorwenes verklaar nie. Wat soek ons immers die Dooie (met ‘n hoofletter) onder die dooies (met ‘n kleinletter), asof hulle op gelyke vlak sou staan? Hy is nie hier nie! Nee, Jesus Christus se laaste woorde moet uit Homsélf verklaar word! Uit Homsélf – en daarom ook vanuit die Skrif wat van Hom getuig! En dit wil ons vandag gaan doen – ons wil Jesus se laaste woorde vanuit die volheid van die Skrif verstaan.

Tema: ons Heiland spreek ‘n lewenswoord in sy sterwensuur!
1. Hierdie lewenswoord is ‘n woord vir die alledaagse lewe
2. Hierdie lewenswoord is ‘n woord vir die opgang na die ewige lewe

1. Broers en susters, die gevaar by die laaste kruiswoord is dat ons een enkele oomblik uit Jesus se lyding en sterwe wil gaan uitlig bo die res, dat hierdie sterwensoomblik so sterk beklemtoon word dat daarmee drie-en-dertig jaar se voorafgaande lewe en lyding vergeet word. So word hierdie sterwensoomblik dan die een en alles. Maar op dié manier gaan ons in teen wat die res van die Skrif, en in besonder die evangelies, ons openbaar, broers en susters. Want Christus se sterwe beteken niks sonder sy sterwensgang nie; ons kan nie sy sterwe verstaan as ons nie die hele weg daarheen, asook die weg daarna, in gedagte hou nie.

En so bely ons dit immers ook, in v/a 37 van die Heidelbergse Kategismus. Daar word die vraag gestel: “Wat verstaan jy onder die woordjie gely?” Dan is die antwoord: “Dat Christus na liggaam en siel tydens sy hele lewe op aarde, maar verál aan die einde daarvan, die toorn van God teen die hele menslike geslag gedra het.” En presies dieselfde woorde vind u ook in v/a 44 oor die neerdaling na die hel: “tydens sy hele lewe op aarde.” Met hierdie woorde wys die Kategismus dus dat as ons Christus se lyding beskou as slegs iets van daardie laaste oomblikke aan die kruis – en intussen vergeet van sy pyn en smart, sy oorgawe en selfopoffering tydens sy héle lewe op aarde, vanaf die begin tot die einde – dan doen ons daarmee te kort aan sy werk. Ons mag nie Christus se sterwensoomblik isoleer van sy lewe daarvoor óf van sy lewe daarna nie! Christus se sterwe vorm een geheel met sy lewe daarvoor, asook met sy verheerliking daarna; sy sterwe is as’t ware slegs ‘n moment, ‘n mylpaal, op die volledige weg van vernedering en verhoging.

En eers wanneer ons dít raaksien, kan ons sy laaste kruiswoord in die regte perspektief plaas. En, broers en susters, die opmerklike is dat Jesus eintlik sélf vir ons wys dat ons sy laaste woorde in ‘n breër perspektief moet plaas as om dit slegs op sy dood te betrek; Jesus sélf wys dat sy laaste woorde nie afskeidswoorde is nie, maar lewenswoorde! Hierdie laaste woorde is naamlik ‘n aanhaling uit Psalm 31:6, wat ons saam gelees het. Daar sê die digter: “In u hand gee ek my gees oor; U het my verlos, HERE, God van trou.” Is dit sterwenswoorde? Klink dit vir u soos afskeidswoorde? Die antwoord op hierdie vrae lyk voor die hand liggend: nee! Maar om ons vermoedens te bevestig, kom ons kyk kortliks na die inhoud van Psalm 31.

Psalm 31 is ‘n psalm van Dawid – in watter omstandighede hy dit presies gedig het, is nie heeltemal duidelik nie. Wat wel duidelik is, is dat daar vyande is wat hom onderdruk het – hy praat naamlik in vers 5 van ‘n net wat hulle vir hom gespan het, en in verse 10-14 beskryf hy in beeldende taal hoe swaar hy onder sy vyande moes ly. Volgens vers 14 het sy vyande selfs beplan om hom dood te maak. Maar, broers en susters, ten spyte hiervan kry ons nêrens die idee dat Dawid besig is om dood te gaan nie, nêrens hoor ons hom sê dat sy einde naby is nie. Inteendeel, hy roep juis tot God in die vaste sekerheid dat dié sy vyande se mag kan verbreek; hy vertrou dat God hom kan beveilig, en sodoende sy lewe kan verleng; hy sê immers in verse 15 en 16: “Maar ék vertrou op U, o HERE! Ek sê: U is my God. My tye is in u hand; red my uit die hand van my vyande en van my vervolgers.” En dan is sy konklusie in vers 22 een van uitbundige lof: “Geloofd sy die HERE, want Hy het sy goedertiernheid aan my wonderbaar gemaak…” En in vers 24: “Die HERE bewaar die getroues…” Ja, broers en susters, Dawid vertrou vas dat hy die guns van die Here sal geniet, en daarom sing hy ‘n lewenslied.

Wanneer Dawid nou in hierdie konteks sy gees in God se hand oorgee, dan is dit mos nie met die oog op sy sterwe wat op hande is nie? Dit kan mos nie wees nie?! Nee, in Psalm 31:6 sien ons ‘n bewuste geloofsdaad van Dawid met die oog op die vóórtsetting van sy lewe en sy lewenswerk. Dawid laat hom nie intimideer deur sy vyande nie; eintlik kan hulle niks aan hom doen nie. Hy lewe eenvoudig verder, en beveel homself aan in God se hande, God se hande wat spreek van mag en krag. En gevolglik kan hy ook in die tweede deel van vers 6 sê: “U het my verlos, HERE, God van trou.” Dawid spreek hierdie woorde dus nie by die eindpaal van sy lewe nie, maar by ‘n mylpaal op sy lewenswég! Dit is geen afskeidswoorde nie, maar gelowige sekerheid dat hy nog verder sál lewe!

Nou, broers en susters, só moet ons ook Jesus se laaste kruiswoord beskou. Wanneer Jesus hierdie laaste woord spreek, dan is dit belangrik om raak te sien dat Hy nie net Dawid se woorde oorneem nie, maar dat Hy ook die gees en die konteks oorneem waarin dit uitgespreek is. Net soos by Dawid is dit ook vir Jesus nie ‘n afskeidswoord nie, maar ‘n lewenswoord, ‘n woord in die volle lewe! Dit is ‘n lewenswoord waarin Hy, tydens een van sy baie take, by een van die vele mylpale in sy lewe, Homself eenvoudig aan God toevertrou.
En daarmee ontken Hy, net soos Dawid, dat die výande mag oor sy lewe het en dat húlle die tye van sy lewe bepaal. Ja, die vyande het gemeen dat hulle die lewe van die Verlosser bepaal het – hulle het Hom immers aan die kruis gespyker. Dáár het Hy gehang, nog enkele oomblikke dan sal Hy dood wees – hulle kon dit as’t ware uitreken. Maar Jesus wys dat Gód sy lewe bepaal! Volgens sy vyande het Jesus die eindpaal bereik, Hy was op die punt om die laaste asem uit te blaas. Maar Jesus steur Hom nie aan hulle nie; vir Hom is sy kruisiging en sterwe slegs ‘n mylpaal op sy pad. En by hierdie mylpaal wil Hy vir ‘n oomblik stilstaan om Homself aan God toe te vertrou: “Here, vir hierdie taak gee Ek my gees oor in u hande.” En as Hy dit gedoen het, dan vervolg Hy as’t ware: “Kom, Vader, nou gaan ons saam verder, want die werk gaan voort!” Sy laaste woorde aan die kruis funksioneer vir Jesus amper soos ‘n aandgebed – terloops, dit is ook hoe Psalm 31 onder die Jode bekend gestaan het. Jesus doen in alle rus sy aandgebed, en dan gaan slaap Hy, tot môre, tot die nuwe dag breek. Vir ‘n oomblik rustig raak, bid, en dan wag vir die dag wat sekerlik sal kom. Want Jesus se tyd – sy Paastyd! – is in God se hand!
Broers en susters, hierdie laaste woorde aan die kruis is daarom nie ‘n beklemtoning van Jesus se sterwe nie, maar ‘n bevestiging dat die lewe ononderbroke voortgaan! Jesus sing Homself nie ‘n sterwenslied toe nie, maar Hy bely die voortgang en die deurtog van die lewe!

Só, broers en susters, word Jesus se sterwe slegs ‘n moment, ‘n oomblik, op sy totale lewenspad. Slegs ‘n moment binne die geheel van sy lewe. En by hierdie moment staan Hy stil met die pragtige woorde: “Ek gee my gees oor in u hande.” Maar hierdie woorde sou Hy in beginsel élke dag van sy lewe kon uitspreek, en Hy hét dit waarskynlik ook by meerdere geleenthede uitgespreek of in sy hart gedink. Hy sou dit kon uitspreek of kon dink elke keer wanneer Hy gaan slaap het, elke keer wanneer Hy ‘n wonder voor die skare moes doen, elke keer wanneer Hy moes preek, elke keer wanneer Hy ‘n diskussie gevoer het, elke keer wanneer Hy voor vervolgers moes wyk omdat sy uur nog nie gekom het nie. Só gewoon was hierdie woord – dus, geen spesifieke sterwenswoord nie, maar ‘n woord vir elke dag waarin Hy met sy Vader gewandel het.

En juis daarom – omdat hierdie woorde vir Jesus nie die afskeidswoorde van ‘n sterwende was nie, maar die alledaagse woorde van Iemand wat lewe – dáárom kon sy volgelinge dit ook spreek. Miskien het Maria of Johannes daardie selfde Vrydagaand, voordat hulle in die bed geklim het, dieselfde woorde gespreek. Waarskynlik het die klein huisgemeentetjie daar in Jerusalem dit tussen Paasfees en Pinkster, en ook daarna, nog dikwels gebid of gesing. En ons mag dit ook doen, ons mag ook hierdie woord vir die alledaagse lewe gebruik! En dan doen ons dit nie slegs op ons sterfbed nie, maar dan doen ons dit ook in ons slaapkamers en in ons kombuise, in ons kantore en in ons studeerkamers, in ons motors en op ons fietse. Ons mag hierdie woorde spreek op elke plek en enige oomblik wanneer ons begeer om onsself in ons God te versterk! Ons mag hierdie woorde in die alledaagse lewe gebruik! Want Christus kies as sy laaste woord nie een wat spesifiek eie is aan Homself en aan sy situasie nie, maar Hy kies ‘n woord wat elke gelowige kan naspreek in elke fase van sy lewe.

Leer daarom, broers en susters, dat Jesus se kruisiging, en in besonder sy laaste woorde aan die kruis, nie slegs vir Goeie Vrydag bedoel is nie. Nee, met hierdie woorde wil Jesus hê dat ons iets moet verstaan van die feit dat die lewe met die Vader een geheel is. Vir Hóm was dit een geheel! Hy het geen ophef gemaak oor sy laaste oomblikke nie. Vir Hóm was dit net nóg ‘n mylpaal in die ononderbroke lewe met God. Só mag ook vir ons die lewe een geheel wees. En op hierdie lewenspad is daar elke aand, elke nuwe dag, geleentheid om my hele lewe aan God toe te vertrou. Vanaand vertrou ek my lewe in God se hande toe vir die nag wat voorlê, môre-oggend wanneer ek opstaan doen ek dit weer vir die dag wat op my wag. Ek lê my lewe in God se hande wanneer ek vir daardie operasie moet gaan, maar ook wanneer ek in my motor klim om êrens heen te gaan. Ja, my hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het – by dag en by nag, by my uitgang en by my ingang mag ek myself aan hierdie Bewaarder toevertrou. Ek mag weet dat Hy my siel sal bewaar, van nou af tot in ewigheid.
Hierop wil ons nou in die tweede plek let: hierdie lewenswoord is nie net ‘n woord vir die alledaagse lewe nie, maar tewens ook ‘n woord vir die opgang na die ewige lewe.

2. Broers en susters, dit is van groot betekenis dat Jesus Christus in sy sterwensuur ‘n lewenswoord uitspreek, ‘n woord wat spreek van hoop en uitsig op werklike lewe saam met die Vader. Want hiermee wys Jesus dat Hy – op die oomblik toe Hy dit uitgespreek het – alreeds verby die dieptepunt van sy vernedering was. Die dieptepunt van sy vernedering was naamlik net hiervoor, tydens die duisternis vanaf die sesde tot die negende toe. Kom ons kyk kortliks wat presies daar gebeur het.

Net voordat die duisternis, waarvan ons in vers 44 lees, oor die land neergedaal het, sien ons in al die evangelies hoe verskillende groepe mense die spot met Jesus dryf. Eerstens is daar die volk, wat by die heuwel Golgota verbygestap het, wat Hom bespot: “As U die Seun van God is, kom af van die kruis.” Vervolgens het die owerpriesters en die skrifgeleerdes hulle stem by dié van die volk gevoeg: “Ander het Hy verlos; laat Hy Homself verlos as Hy die Christus, die uitverkorene van God, is.” En asof hierdie spotterny een of ander aansteeklike siekte is, hoor ons daarna ook nog die soldate: “As U die Koning van die Jode is, verlos Uself.” En ten slotte is daar nog die twee kwaaddoeners aan weerskante van Jesus wat Hom bespot, aanvanklik beide, maar later nog net die een. Jesus was dus die voorwerp van algemene spot; Hy is alleen tussen al hierdie spotters, en daar is niemand wat Hom help nie.

Dit is dan ook teen hierdie agtergrond dat ons die verdwyning van die lig van die son op daardie einste oomblik moet verstaan. Al die mense laat Jesus in die steek en daag Hom uit om nou vir ‘n slag sy goddelike herkoms aan hulle te bewys: “As U die Seun van God is…” En juis op daardie oomblik waarop Hy uitgedaag word om sy goddelike herkoms te bewys, hou die hemel homself doof! Geen engel wat neerdaal nie, geen vuur wat vanuit die hemel neerskiet na die aarde nie, en selfs die genadige lig van die dag word teruggetrek. Die duisternis beklemtoon dat daar geen teken vanuit die hemel kom nie. Jesus bly hang tussen hemel en aarde – gespot deur die mense en verlate van God. Ja, hierdie spot van die mense het gevra vir ‘n daadwerklike reaksie: “Kom, bewys Uself!” Maar die lig verdof en Jesus word gelaat net waar Hy is, in die middelpunt van die spot. “My God, my God, waarom het U My verlaat?” Hier het ons die dieptepunt van Christus se lyding, die drie ure diepe duisternis…

Maar dan, enkele kilometers daarvandaan en waarskynlik presies tydens die uur van die gebed, gebeur daar aan die einde van die drie ure skielik iets merkwaardigs in die tempel. Vir drie ure lank was die hemel stil en moes Jesus stoksielalleen die spot dra. Maar dán word die hemel wakker, en word daar op ‘n besondere wyse vanuit die hemel opgetree. Die binneste voorhangsel van die tempel skeur van bo na onder. God self gee ‘n teken. Die gordyn wat skeiding gemaak het tussen God se heilige troon en sy sondige volk verdwyn. Deur sy Godverlatenheid het Jesus die toorn van God oor die sondes van die mensdom gedra, en sodoende die toegang tot God se binneste heiligdom vir ons ontsluit. Dit is volbring!

Ons sien, broers en susters, hoe Jesus hier alreeds die keerpunt in sy lydensweg bereik het. Hy is deur die dieptepunt heen, en Hy bevind Homself nou in die stygende lyn, terug na God toe. Die weg van toenemende Godverlatenheid is verby, en nou volg die weg na hereniging. Die geskeurde voorhangsel is die bewys hiervan. En, volgens die evangelie van Lukas, is dit op hierdie oomblik van terugkeer en uitsien na God dat Jesus met ‘n groot stem uitroep: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor.” Ja, op sy reis vanuit die hel, terug na die hereniging met God in die hemel, doen Jesus wat enige pelgrim sal doen: Hy versterk Homself in sy God! Hy bely sy vertroue in die God wat Hom veilig tuis sal bring. En daarom, broers en susters, is hierdie laaste kruiswoord nie slegs ‘n woord vir die alledaagse lewe nie, maar ook ‘n woord vir die opgang na die ewige lewe. Hierdie woord laat Jesus uitstrek na die toekoms, na dít wat vir Hom wag saam met die Vader in die hemel!

En só mag ons dit ook gebruik. Ja, Jesus se laaste kruiswoord mag ons versterk in die alledaagse lewe, soos ons in die eerste punt gesien het. Baie gewoon, baie mooi! Maar ons moet nie uit die oog verloor nie dat ons alledaagse lewe – ons lewe by die huis en by die kantoor, oppad en op die sportveld – dat dit deel vorm van die reis na die ewige lewe. Ons is pelgrims op die weg na God toe, ‘n weg wat Christus vir ons oopgemaak het en waarvan God die bewys gelewer het toe Hy die voorhangsel middeldeur geskeur het.
En dit vergeet ons dikwels! Ons gryp graag Christus se woord vir die alledaagse lewe aan, ons put graag krag daaruit, maar besef baie goed, broers en susters: ons kan nie verwag dat ons ons lewens in God se hand kan oorgee en dat ons lewens daar veilig is, wanneer ons lewensrigting êrens anders heen oppad is as na Hom toe nie. Dan het ons die eenheid van die lewe opgebreek, die eenheid van die lewe hier met die lewe eendag by God – hierdie twee hoort saam! En ja, dit is moeilik vir mense met beperkte sig, vir mense wat nie verder as hierdie lewe kan kyk nie, om tog die fokus te hou op die weg na die ewige lewe. Ons sukkel daarmee. Al wat vir ons dikwels belangrik is, is die lewe hier en nou… want dit is hoe ver ons kan sien.

Maar, broers en susters, dit is juis die wonder van wat Christus vir ons kom doen het: Hy het die perspektief op die ewige lewe vir ons kom open. Hy het met sy laaste kruiswoord kom wys dat sy lewe van drie-en-dertig jaar, sy sterwe aan die einde daarvan, sy opstanding daarna, vervolgens sy hemelvaart en sy heerskappy vanaf die troon in die hemel, dat dit alles een geheel is; dit vloei aanmekaar. Só mag ons as gelowiges ook weet en raaksien dat ons lewe – ‘n lewe van miskien tien?, miskien dertig?, miskien tagtig jaar? – en ons sterwe aan die einde daarvan, en vervolgens die ewige lewe daarna, dat dit alles een geheel is. Deur die geloof in Jesus Christus vloei dit in mekaar.

En daarom mag ons Jesus se laaste kruiswoord gebruik vir die alledaagse lewe – heeltemal reg! – maar ons mag en moet dit ook gebruik vir die opgang na die ewige lewe wat vir ons wag! Vir die eenheid van die lewe hier én hierna gee Jesus sy laaste kruiswoord. Dan mag ek as sesjarige kind saans my kindergebedjie opsê: Here, ek gee my gees oor in u hande, my lewe is veilig by U.” En dan mag ek as getroude man of vrou soggens saam met my lewensmaat die dag begin met die woorde: “Here, ons lê ons gees en dié van ons kinders in u hande, daar is dit goed.” En dan mag ek as bejaarde persoon my lewe-in-sy-aandskemering ook in God se hande plaas. En op die oomblik van my sterwe mag ek dit in volle vetroue wéér doen. En ook wanneer ek sterf is my gees by Hom veilig. Geen kompartemente nie: nou lewe ek, nou is ek dood. Nee, ‘n eenheid: nou, tydens my aardse lewe weet ek dat ek veilig is by God; nou, in my sterwensuur vertrou ek my gees aan God toe; nou het ek tuisgekom en is my siel ewig by die Vader.

Broers en susters, kom ons gebruik hierdie kruiswoord van die Here Jesus op dié manier. Kom ons gebruik dit in die gees waarin Dawid dit gebruik het – met ‘n vaste vertroue dat ons lewens voortgaan, in die seker wete dat God ons nie aan die dood sal oorgee nie. “My hart is bly en juigend meld my eer: Sy regterhand sal nooit my val gedoë. Ook sal my vlees, as hier my stryd gestry is, nog veilig woon, omdat die Heer naby is.”

Amen

 

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Votum Ps. 121:1
Seëngroet: Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen. Sing Ps. 93
Gebed
Lees:  Lukas 23:33-49
           Psalm 31
Sing Ps. 143:1, 6, 7 en 8
Teks: Lukas 23:46a
Preek
Amenlied Ps. 31:3 en 4 + direk daarna Skr. 6:6 en 7
Gebed
Sing Geloofsbelydenis
Kollekte
Slotsang Ps. 121:2-4
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)