Die gemeente van Christus word opgeroep om tweede-in-bevel te wees van die koninkryk van die hemele!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2009-04-05
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 31
Verwysing: 
HK 31-0 (2)
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Sondag 30, waarna ons verlede week gekyk het, sluit af met ‘n verwysing na die sleutels van die koninkryk van die hemel. Ons lees daar: “… die Christelike kerk is volgens die bevel van Christus en sy apostels verplig om ongelowiges met die sleutels van die koninkryk van die hemel uit te sluit totdat hulle verbetering van hulle lewe bewys.” In hierdie woorde van die Kategismus vind ons ‘n direkte herinnering aan Jesus se woorde wat Hy in Mattheus 16:19 tot Petrus gerig het: “En Ek sal jou die sleutels van die koninkryk van die hemele gee; en wat jy ook op die aarde mag bind, sal in die hemel gebonde wees, en wat jy ook op die aarde mag ontbind, sal in die hemel ontbonde wees.” Met hierdie woorde het Jesus aan Petrus en die ander apostels ‘n baie belangrike bevoegdheid gegee in die koninkryk van die hemele; Hy het aan hulle die sogenaamde sleutelmag gegee.

Maar, gemeente, waaroor gaan dit by die sleutelmag? Wel, dit is presies wat Sondag 31 vervolgens ook vra: wat is die sleutels van die koninkryk van die hemel? En om ‘n duidelike antwoord hierop te kan gee, moet ons eers weet wat in hierdie konteks met die koninkryk van die hemel bedoel word.

Heel eerste kan ons sê dat die koninkryk van die hemel in hierdie konteks nie dieselfde as die hemel is nie. Immers, aan Petrus en die ander apostels word die sleutels van die koninkryk van die hémele gegee om op die áárde te bind en te ontbind. Dit het effek in die hemel, ja, maar hulle gebruik hierdie sleutels op die áárde. En dit is moontlik om hier op aarde te bind en te ontbind, want in die Persoon en werk van Christus het die koninkryk van die hemel immers weer op die aarde sy plek kom inneem. By die koninkryk van die hemel moet ons hier dus dink aan die ryk van God soos dit op hierdie aarde gevestig word. Dít gesê, moet ons vervolgens waak vir die gevaar om die koninkryk hier op aarde met die kerk te vereenselwig. Ons kan nie eenvoudig ‘n is-gelyk-aan teken plaas tussen die koninkryk en die kerk nie. Natuurlik is daar ‘n nou verband tussen die koninkryk en die kerk – die kerk is as’t ware die strydende leër van God se koninkryk hier op aarde. Maar dit is moontlik dat daar op die rol van die burgers van die koninkryk ‘n naam staan, wat nie voorkom op die register van die kerk nie. Die koninkryk van die hemel hier op aarde is dus ruimer as die grense van die kerk.

Nou ja, op dié manier begin ons vir onsself geleidelik ‘n beeld vorm van wat ons met die koninkryk van die hemel bedoel: dit is God se ryk op aarde, waaroor Christus regeer, en waartoe almal behoort wat Hom as Verlosser en Koning erken.

Nou terug na die sleutels van daardie koninkryk…

Uit die feit dat daar sleutels nodig is, blyk duidelik dat die koninkryk ‘n beslote gebied is. Dit is immers waarvoor sleutels is, naamlik om iets oop en toe te sluit! Die koninkryk ken dus mure en poorte en deure. Die koninkryk is amper soos ‘n sekuriteitskompleks, wat ons vandag maar al te goed ken; nie enige iemand stap sommer daar binne nie. Ja, vir dié wat daar hoort, word die poort met graagte oopgemaak, maar die ongewenste persoon moet ten alle koste buite gehou word. En dit is ook nodig, gemeente, dat die koninkryk so ‘n beslote gebied is. Want hierdie koninkryk is gevestig en word gebou in ‘n vyandige omgewing. Vanweë die sondeval het die aarde die domein van die satan en die hel geword. Vanaf Genesis 3 sien ons op aarde die heerskappy van die poorte van die doderyk. Die poorte van die doderyk is die magtige bastions van die dood wat vanaf die sondeval hier op aarde geheers het. En op allerlei maniere slaag hierdie agressiewe mag daarin om die lewe te beskadig en te oormeester.

Maar in die Persoon en werk van Jesus Christus begin God met sy heroweringswerk, Hy begin om stadig maar seker sy domein terug te wen. Treetjie vir treetjie herower Hy wat syne is. Meer en meer mense onderwerp hulle aan die heerskappy van die Vader van Jesus Christus – kyk maar na die werk van sending wat vanuit hierdie gemeente gedoen word, kyk maar na die uitwerking wat jou getuienis by die werk of by die skool het – mense kom tot geloof! En só, broers en susters, ontstaan daar ’n bevryde gebied op aarde, só ontstaan daar ‘n groeiende sekuriteitskompleks wat deur Christus self bewerk is, en waarvan die voortbestaan deur Hom gewaarborg word. 

Maar gemeente, laat ons goed besef dat, hoewel Christus ‘n bevryde gebied hier op aarde skep, hierdie koninkryk steeds in ‘n uiters vyandige omgewing verkeer; daar is baie gevare wat op ons afkom, die duiwel en sy volgelinge soek daarna om ons te oormeester. Eendag, ja eendag sal die nuwe Jerusalem geen mure ken nie, en sal die poorte van hierdie hemelse stad nooit gesluit word nie. Maar in hierdie bedeling is die mure en poorte nog nodig. Want hier woed die stryd nog, hier probeer die poorte van die doderyk nog om die koninkryk van God te oorweldig. Nie noodwendig met geweld nie; nee, dikwels baie subtiel probeer ongelowige mense en goddelose magte om die koninkryk binne te kom, probeer die satan om deur valse leer en ‘n onheilige lewenswandel die fondamente van die koninkryk te ondergrawe. En hoe ervaar ons dit nie in ons eie lewens nie – ons word immers nie uit hierdie wêreld weggehaal nie. Christus bid in Johannes 17:15 ook dat God ons nie uit hierdie wêreld wegneem nie, maar dat Hy ons van die Bose sal bewaar. Ons staan dus voluit in hierdie vyandige wêreld met sy televisie en sy internet, met sy sportverafgoding en pornografie, met sy Skrifkritiek en goddelose ideologieë, met sy materialisme en genotkultuur. Tot op die dag van Christus se wederkoms sal die sekuriteitskompleks van God se koninkryk onder die spervuur van die Bose bly! Vir geen oomblik hou ons doodsvyande op om die koninkryk aan te val nie.

En presies daarom, broers en susters, is bewaking en beveiliging onontbeerlik. Daar moet gekeer word dat die hemelse koninkryk met die sondige wêreld vermeng, en daar moet gesorg word dat slegs dié tot die koninkryk toegelaat word wat voldoen aan die voorwaardes wat die Koning gestel het. En dáárom is die sleutels van die koninkryk van die hemel nodig…

Uiteraard is dit bo alles Christus self wat sorg vir die bewaking en beveiliging van die koninkryk. As Hy open, kan niemand sluit nie; en as Hy sluit, kan niemand open nie (Openb. 3:7). Maar dit was Christus se wil om die uitvoering van hierdie taak deur mense te laat verrig – in sy Naam. Eers Petrus saam met al die ander apostels, en gevolglik ook die christelike kerk in haar ampsdraers. Ja, gemeente, die christelike kerk was deur alle eeue, en is vandag nog, verplig om wagters op Sion se mure te plaas, die kerk word geroep om die wag te betrek by die mure en die poorte van God se koninkryk. As gemeente het ons die sleutels van die koninkryk uit Christus se hand ontvang om toe te laat almal wat toegelaat moet word, en om te keer almal wat verhinder moet word. Ons, broers en susters, het hierdie sleutelmag!

Nou, in die wêreld van die bybelse tyd was die sleutelmag deel van die amp van ‘die tweede man’ in die paleis of in die ryk, sê maar die tweede-in-bevel. 

Dink maar aan die geval van Josef. Die Farao het Josef, vanweë sy wysheid en verstand – wat hy, terloops, van Gód onvang het – tot tweede in bevel van sy ryk verhoog. Josef kry ‘n regerende en versorgende taak ten behoewe van die volk wat binnekort deur ‘n hongersnood getref sal word, en sy besluite het koninklike regskrag. Niemand kan buite Josef om hulp van die Farao ontvang nie. Soos wat ons lees in Genesis 41:55: “En toe die hele Egipteland honger gely en die volk na Farao geroep het om brood, sê Farao aan die Egiptenaars: Gaan na Josef, doen wat hy julle sê.” En in Psalm 105 word dit soos volg verwoord: “Hy (Farao) het hom (Josef) aangestel as heer oor sy huis en as heerser oor al sy goed; om sy vorste te bind na sy begeerte, en aan sy oudstes moes hy wysheid leer” (verse 21-22). In hierdie verse sien ons die bindende aard van Josef se gesag as tweede-in-bevel.

Dieselfde sien ons ook in Jesaja 22 oor die twee paleisbestuurders, Sebna en Eljakim – ons het dit saam gelees. Sebna was oor die paleis aangestel, en hy was klaarblyklik baie trots op hierdie posisie. Maar, lees ons verder, God sal hom verneder en sy trotse planne verydel. Hy sal weggestoot word uit sy pos. Sy mag sal in Eljakim se hand gegee word, en God sal hóm beklee met die ampsgewaad van sy afgesette voorganger. Hý sal vir die inwoners van Jerusalem en vir die huis van Juda ‘n vader wees – iemand wat deur waaksame sorg na God se volk sal omsien. En dan lees ons vervolgens in Jesaja 22:22: “En Ek sal die sleutel van die huis van Dawid op sy skouer lê…” Eljakim ontvang dus ‘n sleutelposisie; hy word die vertroueling van die koning, iemand wat allerhande vertroulike sake tussen die koning en sy onderdane moes reël. En sy vors staan agter hom en sal sy besluite nooit ongeldig verklaar nie, want – so lees ons - : “hy sal oopmaak, en niemand sal sluit nie; en hy sal sluit, en niemand sal oopmaak nie.”

Gemeente, dít is dus die beeld wat Christus in Mattheus 16 gebruik wanneer Hy aan Petrus en die ander apostels, en in navolging van hulle ook aan die kerk, die sleutels van die koninkryk gee. Die kerk word, in navolging van die apostels, diegene wat die koninkryk en sy inwoners moet versorg en bewaak, die kerk kry as tweede-in-bevel die mag om bindende uitsprake te maak in die Naam van die groot Koning. Die kerk kry volmag in die oop- en toesluit van die sekuriteitskompleks van die hemelse koninkryk.

En wie besef watter heil daar binne daardie koninkryk is, en wie besef watter kwaad daar buite daardie koninkryk is, besef tegelykertyd watter geweldige verantwoordelike taak hier aan die kerk gegee is. Ons kan sê dat by die sleuteldraer die beslissing val oor wat binnekom en wat buite bly… Nie dat elke lidmaat dit een vir een kan of hoef uit te voer nie; nee, die christelike gemeente voer hierdie verantwoordelike taak grotendeels uit deur middel van haar ampsdraers. Maar dit bly uiteindelik die kerk se taak, sy kry die sleutelmag, die volmag om oop- en toe te sluit.

En dit bring ons dan ook by die kern van hierdie Sondag van die Kategismus:

Tema: die gemeente van Christus word opgeroep om tweede-in-bevel te wees van die koninkryk van die hemele!
[Kom ons sing nou eers hiervan uit Psalm 105:10-12]
Hierin kry ons twee opdragte:
1. Ons moet bou op die fondament van die apostels (verkondiging van die evangelie)
2. Ons moet keer dat daar op ‘n ander fondament gebou word (die Christelike tug)

1. Jesus is met sy dissipels in die streke van Cesarea-Filippi, en dáár begin Hy met hulle ‘n leergesprek: “Wie sê die mense dat Ek, die Seun van die mens, is?” Die vraag is hier nie soseer of die mense Jesus kén nie – Hy het Homself immers bekend gemaak: Ek, die Seun van die mens. Nee, die vraag is eerder of die mense Hom erken! Erken hulle Hom ook soos wat Hy Hom bekend gemaak het? Die uitslag van hierdie vraag is negatief: nee, die skare erken Hom nie vir wat Hy Homself aangebied het nie. Hulle sien Hom eerder as ‘n soort voorloper van die Messias – Johannes die Doper, Elia, Jeremia of een van die ander profete… Maar die dissipels dan, erken húlle Hom? Ja, hulle erken Hom! Dit sien ons duidelik in die antwoord van Petrus: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.” En dit is op grond van hierdie belydenis van Petrus dat Jesus aan hom en die ander apostels die sleutels van die koninkryk belowe. Met hierdie belydenis mag hulle in die toekoms die hemelse koninkryk vir ander oopsluit.

Maar let op, gemeente, dit is ‘n belofte vir die toekoms: “Ek sal jou die sleutels van die koninkryk van die hemele gee…” Die apostels kry dus nie onmiddellik die sleutels nie. Hoekom nie? Omdat, hoewel hulle Hom erken het, hulle Hom nog nie goed genoeg geken het nie. Jesus verbied daarom ook die dissipels in vers 20 om met iemand oor die Christus te praat. Hulle moes Hom eers nog beter leer ken, en daarom begin Jesus vervolgens om hulle te onderrig. Ons lees in vers 21: “Van toe af het Jesus begin om sy dissipels te toon dat Hy na Jerusalem moes gaan en veel van die ouderlinge en owerpriesters en skrifgeleerdes moes ly, en gedood en op die derde dag opgewek word.”
In ‘n paar woorde vind ons hier ‘n uitvoerige stuk onderwys; Christus toon vanuit die Skrifte, die Ou Testament dus, dat Hy moes ly, sterf en opstaan. En hierdie onderwys is vir Jesus geweldig belangrik, want in hierdie onderwys reik Hy geleidelik vir sy dissipels die sleutels van die koninkryk aan. Treetjie vir treetjie leer Hy hulle. En hierdie onderwys word eers ná Paasfees voltooi; ons lees naamlik in Lukas 24:45: “Toe open Hy hulle verstand om die Skrifte te verstaan.” Toe eers ken die dissipels Hom soos wat hulle Hom moet ken, toe eers verstaan hulle wat Hy nog die hele tyd aan hulle geleer het, toe eers gryp hulle die beloofde sleutels vas en is hulle gereed om, met wat hulle geleer het, die sleutels te gaan bedien.

Gemeente, dit is baie belangrik om dít te verstaan: die sleutels van die koninkryk is uiteindelik niks anders nie as die boodskap wat Christus met verloop van tyd vir sy apostels geleer het oor sy lyding, sterwe en opstanding. Die sleutels is niks anders nie as die aposteliese leer van Jesus Christus, die gekruisigde, maar wat lewe! En eers wanneer die apostels dít verstaan en aangryp, eers dán is hulle gereed om die koninkryk van die hemele vir ander te gaan oopsluit. Dit is hierdie sleutels wat Petrus en die ander apostels op die Pinksterdag hanteer wanneer hulle vir die skare verkondig hoe Israel deur die lyding en opstanding van die Seun van God gered kan word; dit is ook hierdie sleutels wat dwarsdeur die boek Handelinge in die verkondiging van die evangelie hanteer word. In die verkondiging van die evangelie hanteer die apostels die sleutels van die koninkryk, en sluit hulle vir verlore sondaars die koninkryk oop. En dit is op hierdie fondament, hierdie rots, dat Christus sy gemeente wil bou (Matt. 16:18).

En, broers en susters, van ons word niks anders gevra nie as om eenvoudig op hierdie fondament voort te bou, dus om te bly in die leer van die apostels! Van ons word gevra om hierdie selfde sleutels te hanteer, naamlik die apostoliese leer van Jesus Christus wat gely, gesterf en opgestaan het, tot vergifnis van elkeen wat in Hom glo. Elke Sondag as hier die evangelie verkondig word, elke keer as tydens ‘n huisbesoek, langs ‘n siekbed, by ‘n graf, verkondig word dat Christus die sonde en die dood oorwin het, dan word vir u weer die poorte van die hemelse koninkryk wyd oopgemaak, en word u genooi om in te kom. En wanneer ons dit in geloof aanneem, gaan ons deur die poorte die koninkryk binne; maar wanneer ons dit in ongeloof afwys, gaan die poorte toe en rus die toorn van God en die ewige verdoemenis op ons. Hy wat die genade van die evangelie aangryp, mag ingaan; hy wat daardie genade nie die moeite werd ag nie, bly buite.

Gemeente, so eenvoudig is die hantering van die sleutelmag. Dit vra bloot van ons om die evangelie, die leer van die apostels, in getrouheid te verkondig. En jy mag dit van die ampsdraers eis. Wanneer die ampsdraer op huisbesoek kom en nie vanuit die Woord die koninkryk vir u oopsluit nie, vra hom daarna! Hy het immers nie gekom om u opinie oor die laaste kerklike verwikkelinge te hoor, of om u lys met probleme aan te hoor nie. Hy kom om die sleutels te bedien, om die sekuriteitskompleks van die koninkryk vir u oop te sluit. Wanneer vanaf die kansel nie week na week die oproep klink: “Ons bid julle om Christus wil, laat julle met God versoen” nie, staan dan daarop dat dit verkondig word! Die bedienaar van die Woord mag nie hier staan om sy eie woorde te bedien nie; nee, hy het die taak om vir elkeen wat glo die poorte wyd oop te maak.

As wagters op die mure van Sion word die ampsdraers geroep om elke keer opnuut die koninkryk oop te sluit, sodat elkeen wat glo kan ingaan. Inderdaad, die koninkryk van God verkeer in vyandige gebied, maar hierdie koninkryk wen terrein elke keer wanneer ‘n sondaar op grond van die genade in Christus die poorte binnegaan. Aan elkeen wat glo, verkondig ek daarom dat hy en sy, enkel en alleen deur die bloed van Jesus Christus, welkom is in God se koninkryk! Wie hierdie bloed egter afwys, hy sal val en nie weer opstaan nie. Vir hom is die hemelse koninkryk gesluit.

In die tweede plek moet ons keer dat daar op ‘n ander fondament gebou word.

2. Hierbo het ons dus gesien dat van ons gevra word om eenvoudig voort te bou op die fondament wat reeds gelê is. Maar, broers en susters, so maklik kan dit gebeur dat iemand op ‘n ander fondament begin bou. So maklik kan dit gebeur dat iemand ‘n onchristelike leer begin huldig of homself onchristelik begin gedra – soos wat die Kategismus dit noem. Wat dan? Wel, broers en susters, vir hierdie doel gee Christus aan ons ‘n instrument in ons hande om die aposteliese fondament te kan handhaaf, sodat die koninkryk wat daarop gebou is nie deur ongeloof bedreig word nie. Christus gee vir ons die christelike tug. Met behulp van die tug, soos dit bedien word deur die christelike kerk, waak Christus teen die mag van die sonde wat die koninkryk wil binnedring.

En, gemeente, kom ons sê dit reg vanaf die begin duidelik vir mekaar: die christelike tug is heel eerste ‘n taak van die kérk. So min word dit nog verstaan en nagekom. Ons kan so mooi praat van die weg van Mattheus 18, maar selde word dit beoefen. Wanneer ons iemand ‘n openbare of growwe sonde sien pleeg, is dit die maklikste om dit aan die predikant of ouderlinge te meld. Dit is immers hulle taak om hierdie soort van sake te hanteer. Nee, gemeente, u het die sleutel van die tug uit die hand van Christus ontvang. Daarom lê die eerste verantwoordelikheid by u! Mattheus 18 leer dit baie duidelik: gaan bestraf hom tussen jou en hom alleen. En as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam. En as hy dan nie luister nie, sê dit aan die gemeente. En as hy na die gemeente nie luister nie, laat hom vir jou wees soos die heiden en die tollenaar. Dít is die weg wat Christus ons leer. 

En die doel daarvan? Die behoud van die sondaar! Daaroor het dit immers al in die verse net voor Mattheus 18:15 gegaan: “As iemand honderd skape het en een van hulle verdwaal, sal hy nie die negen-en-negentig laat staan en op die berge die verdwaalde een gaan soek nie? En as hy hom kry, voorwaar Ek sê vir julle dat hy blyer is oor hom as oor die negen-en-negentig wat nie verdwaal het nie. So is dit nie die wil van julle Vader wat in die hemele is, dat een van hierdie kleintjies verlore gaan nie.” Enige herder wil graag die verdwaalde skaap vind en red! En nou, in vers 15, wys Jesus vervolgens op die prosedure om hierdie verdwaalde skaap te red, Hy wys vir ons hoe ons te werk moet gaan. Die tug is dus nie om mense uit die koninkryk weg te jaag nie. Ons is nie uitsmyters by ‘n kroeg wat ongewenste indringers verwyder nie. Nee, ons is die kerk van Christus wat daarna soek om die sondaar te red.

Natuurlik, wanneer die sondaar onbekeerlik is, dan word die geestelike dissipline toegepas. En as hy hom op lang termyn daarteen verset, dan word hy uiteindelik uit die koninkryk uitgesluit. Maar dit is die laaste stap. Eers wanneer ons nie verder met die onbekeerlike sondaar kan gaan nie, eers dán sluit ons toe. Terloops, ons sluit ook nie finaal toe nie; ons gooi nie die sleutel weg nie. Want wie verbetering beloof en bewys, word weer as lede van Christus en sy gemeente aangeneem.

Maar ons begin die christelike tug heel eerste deur oop te sluit! Wanneer jy iemand in die gemeente vermaan oor leer of lewe, dan begin jy mos nie deur aan hom te verkondig dat hy geen deel aan die koninkryk het nie. Nee, jy begin deur hom terug te roep van sy verkeerde weg, en jy verkondig aan hom vergifnis in die sterwe en opstanding van Jesus Christus. Jy sluit vir hom die koninkryk oop! Só sorg ons dat ons almal bly bou op die vaste rots, die apostoliese leer van Jesus, ons Verlosser.

Gemeente, wees getrou in die bediening van die sleutelmag. Dra sorg dat in hierdie gemeente die evangelie getrou verkondig en die christelike tug reg toegepas word. En doen dit met die oog gerig op die Rots, Jesus Christus. Hy is die waarborg dat die koninkryk van die hemel nie deur die poorte van die doderyk oorweldig sal word nie. Daarom kan ons rustige en ontspanne sleuteldraers wees. Ons is immers tweede-in-bevel van ‘n ryk wat nooit sal wankel nie. Ons is tweede-in-bevel van ‘n leër wat seker weet dat die oorwinning behaal is.

Amen

Liturgie (aand)

Groet en afkondigings
Votum: Ps. 121:1
Seën: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 76:1, 5 en 6
Gebed
Lees:  Mattheus 16:13-23
           Mattheus 18:11-18
           Jesaja 22:15-22
Kollekte
Sing Ps. 112:5, 6 en 9
Teks: HK, Sondag 31
Preek
• Na inleiding: Ps. 105:10-12
• Amenlied Skr. 43:1, 2 en 4
Gebed
Belydenis van geloof
Bevestiging van belydenis en slotsang Skr. 44:3-5
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)