In die eed word die Naam van die Here ingeroep om die waarheid te laat seëvier!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2009-06-28
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 37
Verwysing: 
HK 37-1
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Waarheid is ‘n skaars deug in ons wêreld. Ons hoef maar net deur die koerante te blaai en na die nuus te kyk om te sien dat hierdie stelling waar is. Ons sien mense wat lieg en bedrieg om hulle eie posisie in die samelewing of in die politiek te bevorder; ons sien mense wat valse getuienis aflê om skuldiges vry te kry of onskuldiges aan die pen te laat ry; ons sien mense wat belowe om hulle openbare amp in die samelewing getrou uit te voer, maar wat kort voor lank ontmasker word vanweë korrupsie. Dit wil selfs voorkom asof mense wat wel die waarheid na vore wil bring, stil gemaak en uit hulle poste onthef word.

En helaas is dit nie slegs ‘n samelewingsverskynsel nie; nee, ongelukkig kom dit ook in die kerk voor. As daar in die gemeente moeites tussen twee of meerdere partye is, en ‘n mens luister so na die verskillende partye, dan wonder ‘n mens soms: wie praat nou eintlik die waarheid? En selfs in die kerk vind ons dat mense eenvoudig leuens vertel…

Gemeente, in talle opsigte het ons, mense, die kritieke fondament van die waarheid onder ons samelewing – ons ‘saamleef’ met mekaar – uitgetrek. Ja, daar is sekere fondamente onder ons samelewing, daar is sekere pilare waarop ons samelewing rus. Maar as ons daardie fondamente uitruk, dan word ‘n harmonieuse ‘saamleef’ met mekaar baie moeilik, indien nie onmoontlik nie. En die praktyk bewys dit oor en oor – ons sien dit in die politiek, ons sien dit in die besigheidswêreld, ons sien dit in huwelike, ons sien dit in gesinne. Ons weet nie meer hoe om met die waarheid om te gaan nie, ons kry selfs ‘n afsku van die waarheid, en somtyds sak ons so diep weg dat ons nie eens meer die waarheid van die leuen kan onderskei nie, sodat ons soos Pilatus moet vra: wat is waarheid? Broers en susters, laat ons dit maar erken: in ons samelewing word die waarheid vermis – soos Jesaja sê in hoofstuk 59:15 van sy profesie. Die waarheid is weg, en ons weet nie waar om dit te soek nie. Ons het die lig van die waarheid uitgedoof, en nou dwaal ons in die duister rond…

As daar dus enige kans is dat die waarheid weer gevind kan word, as daar enige kans is dat ons weer die fondament van die waarheid onder ons samelewing kan kry, dan het ons hulp van buite af nodig. En, gemeente, dit is nou presies wat die Here in sy genade kom doen. Die Here kom steek ‘n kleinerige liggie in ‘n pikdonker wêreld aan. Hy gee aan ons ‘n middel waardeur ons, op kritieke punte in ons samelewing, tóg ‘n mate van waarheid kan herstel. Hy gee aan ons sy Naam! Ons kan sy Naam inroep, ons kan Hom sélf inroep as die enigste Kenner van die hart om vir die waarheid getuienis te gee en my te straf as ek nie die waarheid praat nie – so bely ons in antwoord 102. Ons kan ‘n eed in sy Naam aflê om mekaar te dwing om in spesifieke gevalle die waarheid te praat. Só wil die Here die waarheid, treetjie vir treetjie, terugbring in ‘n wêreld wat besig is om agter die vader van die leuen aan te loop; só wil die Here deurbreek in ‘n leuenagtige wêreld sodat die waarheid uiteindelik kan seëvier. En daarvan is die eed, waaroor Sondag 37 gaan, ‘n kleinerige ligbaken, waardeur ons mag weet: die volle waarheid is oppad!

Tema: In die eed word die Naam van die Here ingeroep om die waarheid te laat seëvier!
1. Die Here is waarheid
2. Die Here vra waarheid
3. Die Here bevestig die waarheid

1. In 1 Samuel 24, wat ons saam gelees, vind ons een van talle voorbeelde van die voortdurende stryd en konflik wat daar tussen Saul en Dawid geheers het. Of miskien moet ons eerder sê: ons vind hierin een van talle voorbeelde van die voortdurende vyandskap wat Saul jeens Dawid gekoester het. Want dit was nie soseer Dawid wat vyandig teenoor Saul was nie, maar eerder andersom. Om die waarheid te sê: Dawid bewys in hierdie einste hoofstuk 24 juis dat hy Saul goedgesind is. Hy het immers die geleentheid gehad om Saul dood te maak; sy manskappe het dit selfs aangemoedig. Hulle sê in vers 5 vir hom: “Kyk, dit is die dag dat die HERE aan u sê: Nou gee Ek jou vyand in jou hand, en maak met hom soos goed is in jou oë.” Maar Dawid, heilig daarvan bewus dat Saul die gesalfde van die Here is, sny slegs ‘n stukkie van Saul se mantel af, en hy toon dit vervolgens aan Saul om te bewys dat hy hom goedgesind is. Saul erken dan ook in vers 18: “… jy het aan my goed gedoen terwyl ek aan jou kwaad gedoen het.” Saul erken dat hy Dawid vyandig gesind is.

Maar, gemeente, vanwaar hierdie vyandigheid? Het Dawid enige rede daartoe gegee? Nee, die rede het nie by Dawid gelê nie, maar by Saul self. Saul het bedreig gevoel, hy het gevoel dat hy besig was om sy greep op die koningskap te verloor. Dit het alreeds begin nadat Dawid vir Goliat verslaan het en die vroue gesing het: “Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tien duisende (1 Sam. 18:7). Alreeds vanaf daardie dag het Saul bang geword vir Dawid, en was hy  Dawid vyandig gesind; vanaf daardie oomblik sien ons telkens pogings van Saul se kant af om Dawid uit die weg te ruim. Want Saul het pynlik seker geweet dat die Here die koningskap van hom af weggeneem, en dit aan Dawid gegee het.

En dit sê hy dan ook in 1 Samuel 24:21: “En nou, kyk, ek weet jy sal sekerlik koning word, en die koningskap oor Israel sal in jou hand standhou.” Ja, gemeente, in sy woede en afguns wou Saul vir Dawid doodmaak, hom uit die weg ruim, maar in hierdie oomblik van besonnenheid erken hy: “Ek wéét jy sal koning word.” Wanneer Dawid se vyand vir ‘n oomblik nugter nadink, dan besef selfs hý: die Here het dit belowe, Hy sal dit ook doen, daar is niks wat ek daaraan kan verander nie.

Broers en susters, watter duidelike en heerlike bevestiging moes Dawid nie in hierdie woorde van koning Saul gevind het nie. Die Here se belofte van die koningskap het nog steeds vasgestaan! Daaraan het nog niks verander nie! En hoe moes Dawid nie bemoedig gewees het nie. Want ja, die Here het wel die belofte van die koningskap vir Dawid gegee toe Samuel hom gesalf het in 1 Samuel 16, maar sedertdien was daar nie werklik ‘n bevestiging van hierdie belofte nie; Dawid se lewe het nou ook nie dusdanig verloop dat ‘n mens daaruit sou kon aflei dat hy die toekomstige koning is nie. Inteendeel, hy moes voortdurend vir sy lewe vlug, hy moes die land van Israel verlaat, en sy volgelinge was nou ook nie werklik van koninklike gehalte nie. Was dít nou die lewe van die toekomstige koning van Israel? Jy kan waarskynlik verstaan dat Dawid vanweë hierdie omstandighede moontlik kon begin twyfel het.

En dan hierdie woorde uit die mond van sy vyand, Saul: “jy sal sekerlik koning word…” Maar…  kan die woorde van die vyand vir Dawid werklik goddelike bevestiging bring? Is dit nie so dat die karakter van die spreker die kwaliteit van sy boodskap weerspreek nie? Nie noodwendig nie, broers en susters. Dikwels kom die mees vaste versekerings juis van die vyand af. En dit is ook hier die geval vir Dawid. Dit moes vir hom ‘n geweldige bemoediging gewees het dat sélfs sy vyand die sekerheid van die Here se belofte teenoor hom kan bevestig. Ja, as die Here sinvolle dinge kan sê deur die mond van Bileam se esel, dan kan Hy dit sekerlik ook doen deur die mond van ‘n verwarde koning.

Dawid ontvang hier dus bevestiging dat die Here se belofte nog steeds vasstaan. Sy vyand wys vir hom dat die Here se woorde altyd betroubare woorde. Uit die mond van ‘n vyand wat telkemale belowe het om Dawid nie dood te maak nie, maar dan tog weer aan sy eie beloftes verbreek het, mag Dawid nou hoor dat die Here wél getrou is. Die Here se woorde is waarheid! Die Here sélf is waarheid!
En daarom dat Dawid vervolgens, op Saul se versoek, ook met vrymoedigheid kan sweer dat hy die huis van Saul nie sal uitroei nie. Immers, hy hoef nie soos Saul uit vrees en jaloesie die dood van sy vyande te soek nie; sy troon staan mos stewig gegrond op God se waarheid, meer nog: op God self! Ja, gemeente, ons kan werklik op die Here bou, ons kan op Hom staatmaak. Dit is ‘n boodskap wat selfs uit die mond van die vyand tot ons kom.

En hoe nodig het ons hierdie boodskap nie! Ek het in die inleiding reeds genoem dat, vanweë die feit dat ons die waarheid verleer en verloor het, die fondamente onder ons samelewing verdwyn het. En sonder die fondament van die waarheid, gemeente, sak ons net dieper en dieper weg in die dryfsand van die sonde – niemand vertrou mekaar meer nie, daar is geen sekerheid nie, daar is geen vastheid nie. Maar in hierdie stukkie geskiedenis van Dawid en Saul sien ons dat die Here opnuut die fondament onder Dawid se lewe kom bevestig – en daardie fondament is Hy sélf, sy Woord! As dié Waarheid kom die Here na ons toe en kom gee Hy Homself as die vaste grond onder ons voete. “Staan vas, Dawid, moenie bang wees nie, moenie twyfel nie, Ek is betroubaar! Bou op My!”

En, gemeente, hierdie verhaal in 1 Samuel 24 is maar net een van vele voorbeelde van God se waarheid onder ons lewens. Die hele heilsgeskiedenis, soos wat dit in die Skrif opgeteken staan, is een lank en onophoudelike getuienis van God se waarheid en betroubaarheid wat spreek van genade en nuwe lewe; ‘n waarheid wat nie onseker is nie, wat nie gestuit kan word nie, maar wat rotsvas staan en voortgang maak te midde van ‘n leuenagtige wêreld; ‘n waarheid wat uiteindelik die mooiste na vore kom in Jesus Christus – Hy wat die weg, die waarheid, en die lewe is! In Christus sorg God dat die waarheid weer sy volle deurbraak in ons samelewing kan maak; in Hom is al God se beloftes ja en amen! Wie daarom in Hom glo, kry weer vaste grond onder sy voete, hy gaan op ‘n vaste weg, hy het weer rigting in sy lewe.
Dit is dan ook nie verniet dat die fondamente van die nuwe Jerusalem eendag die name sal dra van die twaalf apostels nie (Openb. 21). Immers, dit is op die fondament van die apostels – en wat is dít anders as die ware evangelie van Jesus Christus? – dit is op die fondament van die apostels dat God sy kerk bou. Wanneer ons in ons gemeente saam in Jesus Christus glo, dan staan ons op ‘n vaste fondament, en mag ons weet waarheen ons lewens oppad is. Ons lewens is oppad na die nuwe Jerusalem, die stad van waarheid.

Vervolgens: die Here vrá ook waarheid.

2. Dit is duidelik uit die voorafgaande dat ons lewens nuwe rigting kry wanneer ons weer vaste grond onder ons voete het, wanneer God sy waarheid onder ons lewens kom indruk. ‘n Heerlike wete – die feit dat die vastheid van ons gang nie van ons afhang nie, maar seker is op die fondament van die waarheid. Maar, gemeente, vervolgens vra die Here ook van óns waarheid, betroubaarheid. Dít waarop ons lewens gegrond is, moet nou ook sigbaar word in ons lewenswandel. Weereens sien ons dit in Dawid se omgang met die huis van Saul.

Dawid het met vrymoedigheid gesweer dat hy die huis van Saul nie sou uitroei nie. Maar het hy sy eed ook gestand gedoen? Want daaruit sou blyk of Dawid ook werklik in die praktyk op God se beloftes gebou het, of hy self betroubaar was… Wel, volgens Simeï in 2 Samuel 16 het Dawid nie sy eed gestand gedoen nie. En dit wil met die eerste oogopslag voorkom asof Simeï geweet het waarvan hy praat, aangesien hy self uit die huis van Saul afkomstig was. Ons lees in 2 Samuel 16 hoe Simeï, by Dawid se vlug uit Jerusalem, skielik te voorskyn kom en begin om Dawid met klippe te gooi en hom te vloek: “Weg, weg jou bloedvergieter en jou deugniet. Die HERE het al die bloed van die huis van Saul, in wie se plek jy koning geword het, op jou laat neerkom…” Duidelik was Simeï van mening dat Dawid die brein agter die geleidelike uitroeiing van Saul se huis was. En dit is inderdaad opmerklik dat Saul se huis een vir een uitgeroei word.

Maar tog wys die Skrif vir ons dat Dawid nie die brein hieragter was nie. Inteendeel, die Skrif wys vir ons dat Dawid juis geywer het vir die huis van Saul. Hy het byvoorbeeld die Amalekitiese man, wat Saul van kant gemaak het, laat doodmaak omdat hy hom aan die gesalfde van die Here vergryp het (2 Sam. 1). Verder sien ons dat wanneer twee bendeleiers vir Isboset, Saul se seun, vermoor, hulle op bevel van Dawid doodgemaak en opgehang word (2 Sam. 4). Ons sien ook dat Dawid vir Mefiboset, Saul se kleinseun, in sy huis opneem en van sy tafel laat eet (2 Sam. 9). En ten slotte sien ons ook nog dat Dawid reël dat die einste Simeï, wat hom gevloek het, na sy dood met groot geduld behandel moet word (ons het daarvan gelees in 1 Kon. 2).

Die feite wys dus dat Dawid trou was aan sy eed, en moontlik selfs nog verder gegaan het as wat hy in sy eed belowe het. En daarom dat hy in 2 Samuel 16 ook nie nodig het om homself te verdedig teenoor Simeï nie, hy het nie nodig om na die seun van Seruja te luister wat voorgestel het om Simeï se kop af te kap nie. Nee, Dawid laat hierdie saak by die Here. En hy kán dit ook by die Here laat, want hy het in sy eed teenoor Saul dan juis op die waarheid en betroubaarheid van die Here se beloftes gebou. Dit was juis op grond van die waarheid van die Here se beloftes oor sy koningskap dat Dawid so vrymoedig kon sweer dat hy Saul se huis geen kwaad sou aandoen nie. Dawid het vertrou dat die Here sy koningskap sal bevestig, en daarom het hy nie nódig gehad om Saul se huis enige kwaad aan te doen nie. Hy is só seker van die Here se beloftes dat hy hierdie vyande van hom selfs gunstig kan behandel! Dawid hoef sy vyande nie te vrees nie. Laat die Here maar oordeel of hy, Dawid, getrou was aan sy eed of nie… Dawid het daaroor geen onrustigheid nie.

En, gemeente, dít is die soort betroubaarheid wat die Here van ons vra; Hy verwag van ons dat, wanneer Hy die betroubare fondament van ons lewens is, dat ons dan self ook in alles die waarheid sal liefhê – dat ons met groot vrymoedigheid die waarheid sal spreek en sal doen. Dit is daarom ook ‘n onhoudbare situasie wanneer ons die Here die Rots van ons lewens noem, die grond van ons bestaan, maar intussen jok ons vir mekaar, doen ons ons beloftes nie gestand nie, en verdraai ons die waarheid in ons omgang met mekaar. Dit is ‘n skreiende kontras wanneer ons sê dat ons op die waarheid bou, maar intussen is ons lewe een groot leuen. Die vraag ontstaan dan: bou ons nog werklik op die waarheid?

Broers en susters, wie op die Naam van Jesus Christus bou as die weg en die waarheid, hy en sy word opgeroep om ook vanuit daardie waarheid te lewe. En dit is ‘n baie relevante oproep. Ons het, byvoorbeeld, jongmense wat oor ‘n paar maande belydenis van hulle geloof gaan aflê – jy gaan getuig dat jy op Jesus Christus wil bou, jy gaan ‘ja’ sê op die vrae wat aan jou gestel gaan word; dit vra dan ook ‘n lewe in die waarheid. Dieselfde geld vir diegene wat alreeds ‘ja’ gesê het, miskien jare gelede, en wat binnekort weer aan die nagmaalstafel gaan sit: getuig jou lewe ook van ‘n wandel in die waarheid? Verder gaan ons aan die einde van die jaar weer ampsdraers verkies en bevestig – diegene wat verkies gaan word, gaan belowe om, hetsy as diaken hetsy as ouderling, die gemeente te lei in die waarheid; dan vra die Here ook betroubaarheid daarin. En weereens: dit geld net so goed vir dié ampsdraers wat alreeds in die amp dien. En verder het alle getroudes onder ons in die verlede belowe om trou te wees teenoor mekaar – doen ons daardie belofte gestand, broers en susters? Of is ons op watter wyse dan ook ontrou teenoor man of vrou?

Maar, gemeente, ook vir ons lewens in die algemeen is hierdie oproep relevant: laat Christus sigbaar word in jou lewe! Wie op die fondament van waarheid bou, moet ook in die waarheid lewe. Net soos wat jy op God se Woord staatmaak, so moet mense op jou woord kan staatmaak. En weet u wat is die mooi resulttat daarvan? Dan kan ek ook alle rus hê oor my lewe, dan kan ek rus hê oor die konsekwensies van my handel en wandel. As ek die waarheid spreek, en dit het negatiewe gevolge, laat dit so wees. As ek in enige moeilikheid of vervolging kom omdat ek voor die aangesig van God slegs die waarheid wil spreek, laat dit so wees. Want ek mag seker weet dat God, my ware fondament, ook op sy tyd die waarheid van my woorde en wandel sal bevestig.

Daarop let ons ten slotte: die Here bevestig die waarheid.

3. Koning Dawid moes as vlugteling Jerusalem verlaat; sy seun, Absalom, het sy plek op die troon ingeneem. Maar dit was slegs ‘n tydelike situasie. Die Here het sy belofte aan Dawid gestand gedoen dat sy troon vir ewig sou bestaan. Nadat Dawid se manne dié van Absalom verslaan het, kon Dawid weer na Jerusalem terugkeer. En wie was een van die eerste mense om hom tegemoet te gaan terwyl hy oppad terug was? Hy was nog skaars oor die Jordaan, toe val hierdie persoon al voor die konings se voete neer… Simeï! Ons lees in 2 Samuel 19 dat hy voor die koning neergeval en vir hom gesê het: “My heer moet my die skuld nie toereken en daar nie aan dink hoe u dienaar verkeerd gehandel het nie…”

Dawid laat vir Simeï lewe; volgens 1 Konings 2:8 het hy selfs gesweer dat hy hom nie met die swaard sal doodmaak nie. Daarmee word die straf oor sy gevloekery van Dawid egter nie opgehef nie. Want op sy sterfbed bepaal Dawid dat Simeï op ‘n gepaste wyse gestraf moes word; hy laat dit aan die wysheid van Salomo oor om te bepaal hoe hy dit presies wil doen. En die Here gee dan ook vir Salomo ‘n baie wyse oplossing vir hierdie situasie: Simeï word beveel om ‘n huis in Jerusalem te bou en die grense van Jerusalem nie te verlaat nie – ‘n soort huisarres. Salomo is dus nie haastig om Simeï se vloek oor Dawid te wreek nie; met hierdie reëling wéét Salomo nie eens of hy ooit die kans daartoe sal kry nie, want indien Simeï vir die res van sy lewe homself aan hierdie reëling sou onderwerp, dan was daar hier op aarde geen wraak vir sy vloek nie.

Maar, gemeente, Simeï hou drie jaar vol; aan die einde van die derde jaar besluit hy om op eie houtjie twee weggeloopte slawe in Gat te gaan haal. Dit is ‘n besluit waardeur niemand kwaad aangedoen word nie, en wat verder ook niks beteken nie. En tog word hierdie besluit Simeï se dood. Want, volgens vers 42, het hy met hierdie besluit sy eed teenoor koning Salomo verbreek. Salomo sê dan ook in vers 43: “Waarom het jy dan die eed by die Here en die gebod wat ek jou opgelê het, nie gehou nie?” Vervolgens word Banaja opgedra om Simeï se lewe te beëindig: die het uitgegaan en op hom aangeval, sodat hy gesterf het.

Sien u die ironie in hierdie stuk geskiedenis, gemeente? Dawid kry die vloek van Simeï oor hom heen, maar hy laat dit aan die Here oor om te oordeel. En uiteindelik sterf Dawid. Simeï daarenteen mag bly lewe op grond van sy eed dat hy Jerusalem nie sal verlaat nie. Maar uiteindelik is dit Simeï wat sterf omdat hy die Naam van die Here misbruik het – én deur sy vloek oor Dawid, én deur sy meineed teenoor koning Salomo. Maar Dawid lewe! Dawid lewe? Ja, hoor maar wat sê Salomo in vers 45: “… mag koning Salomo geseënd wees en die troon van Dawid bevestig word voor die aangesig van die HERE tot in ewigheid!” En vers 47: “En die koningskap is bevestig in die hand van Salomo.”

Die Here bewys dus hier dat Hy sy Naam nie laat misbruik nie; Hy bevestig die waarheid waaroor sy Naam ingeroep is. Dawid se troon staan vas … volgens die belofte van die Here (ons gaan net hierna daarvan sing uit Psalm 89)! Simeï daarenteen ontvang sy straf, want Hy het die Naam van die Here misbruik. So gaan die geskiedenis voort op die vaste fondament van God se Naam, sy waarheid! Gemeente, lewe in daardie waarheid. Moenie u self bekommer oor die konsekwensies nie, moenie wakkerlê oor die gevolge van u getrouheid aan die waarheid nie. Bly by die waarheid, bly by Jesus Christus in lewe en in sterwe. Sweer by sy Naam as dit moet, wanneer die owerheid dit van u eis of wanneer die nood dit vereis. En weet dan: God sal, ook al is dit nie nou nie, in elk geval eendag die waarheid bevestig. Salig die wat hier vervolg word en vir reg en waarheid ly, want die koninkryk der heemle is vir hul as loon berei!

Amen.

Liturgie (aand)
Groet en afkondigings
Votum Ps. 121:1
Seën: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 24:1, 4 en 5
Gebed
Lees:  1 Samuel 24:17-23
           2 Samuel 16:5-14
           1 Konings 2:36-47
Sing Ps. 24:2 en 3
Teks: HK, Sondag 37
Preek
Amenlied Ps. 89:10 en 11
Gebed
Belydenis van geloof (staande en singende)
Kollekte
Slotsang Ps. 89:12-14
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)