God sê hoe Hy gedien wil word… Luister na Hom!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2009-06-14
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 35
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Wat is die verskil tussen die eerste en die tweede gebod? Hoe moet ons hierdie twee gebooie van mekaar onderskei? ‘n Antwoord op hierdie vraag is nie so eenvoudig nie. Trouens, sommige sien nie eens ‘n verskil tussen die eerste en tweede gebod nie, met die gevolg dat hulle hierdie twee gebooie saam behandel as een gebod. Dit sien ons in die Rooms-Katolieke en in die Lutherse kerk. Ja, in die Rooms-Katolieke en in die Lutherse kerk staan die eerste twee gebooie saam bekend as die eerste gebod. En om uiteindelik tog by tien gebooie uit te kom, breek hulle die tiende gebod op in twee aparte gebooie.

Maar, gemeente, dit is te duidelik dat daar vir sowel die eerste as die tweede gebod – soos wat ons dit ken – ‘n eie plek is. Tussen beide is daar immers, behalwe vir die samehang, tog ‘n duidelike onderskeid. Maar goed, wat is dan hierdie onderskeid? Wel, nadat in die eerste gebod alle ander gode afgewys is, sodat net die Here alleen oorbly – soos wat ons verlede week gehoor het – word in die tweede gebod afgereken met elke verkeerde vorm waarin ‘n mens nou hierdie Here sou wou vereer. Want as jy jou rug op die afgode draai (soos wat die eerste gebod eis), dan moet jy vervolgens wel op die regte manier voor die God van Israel kniel. Die eerste gebod wys ons dus die ware God, die tweede gebod wys ons die ware Gods-diens; die eerste gebod wys Wie ons moet dien – en Hom alleen! – en die tweede gebod wys hoe Hy gedien wil word, naamlik volgens sy wil.

En, gemeente, in die vervolg sal blyk dat hierdie tweede gebod nie ‘n oorbodige luukse is nie; ons het hierdie gebod baie nodig. Ja, heeltemal reg, die eerste gebod op sigself vra alreeds ons onverdeelde harte aan die Here, maar dit is nog geen waarborg dat ons Hom vervolgens ook reg sal dien nie. Want ook onverdeelde harte bly sondige harte. En daarom is die tweede gebod nodig om die voortdurende dreiging van eiewillige godsdiens in ons lewens uit te roei, en die ware diens aan God te laat blom.

Tema: God sê hoe Hy gedien wil word… Luister na Hom!

Gemeente, ons het saam die geskiedenis van 1 Samuel 15 gelees, van Saul, die Amalekiete en Samuel. En dan is dit belangrik om daarop te let hoe hierdie hoofstuk begin; in vers 1 lees ons: “Toe sê Samuel vir Saul: die Here het my gestuur om jou as koning te salf oor sy volk, oor Israel; luister dan nou na die stem van die woorde van die Here.” Luister dan nou – daarmee begin Samuel hierdie hoofstuk. En daar was goeie rede om só te begin. Want die daaropvolgende opdrag van die Here was geen maklike een om te verstaan en uit te voer nie. Saul moes naamlik die Amalekiete gaan verslaan, en daarby moes hy alles met die banvloek tref; hy moes man en vrou, kind en suigling, bees en kleinvee, kameel en esel, alles om die lewe bring. Wreed? Vir ons gevoel wel, ja; ons sukkel dikwels met hierdie en ander Skrifgedeeltes wat so grafies vir ons skets wat presies met die vyand gedoen moes word. Maar, broers en susters, as ons hierdie opdrag lees in die geheel van die Skrif, dan kom ons agter dat die Here eerder regverdig as wreed is!

Want die Here straf die Amalekiete hier vir wat hulle destyds sy volk aangedoen het, tydens die reis deur die woestyn. Amalek het Israel naamlik aangeval, selfs nog voordat hulle by die Sinai aangekom het. En dit was nie sommer ‘n aanval nie, nee, Moses vertel vir ons in Deuteronomium 25 dat dit ‘n vuil aanval was. Want die Amalekiete het Israel se agterhoede aangeval, daar waar al die swakkes was (die vrouens en die kinders), en hulle het Israel aangeval terwyl die volk moeg en mat was van die lang reis. Dus, daar is – histories gesien – goeie redes om die Amalekiete te straf. Maar behalwe die historiese rede, is daar ook ‘n eietydse rede. Want ook in Saul se eie tyd het die Amalekiete nog nie verander nie; lees maar vers 18, waar die Here sê: “Gaan heen en tref die sondaars, die Amalekiete…” Die sondaars! Driehonderd jaar het verloop sedert die aanval in die woestyn, driehonderd jaar gee die Here geleentheid vir bekering, maar ná al die jare was die Amalekiete nog presies dieselfde. Nog steeds het hulle vroue en kinders aangeval, soos wat Samuel in vers 33 vir Agag sê. Die Here was dus volledig regverdig – volledige in sy reg! – toe Hy aan Saul die opdrag gegee het: “Gaan nou en verslaan Amalek, en julle moet met die banvloek tref alles wat hy het…” ‘n Klinkklare opdrag, met baie goeie gronde!

Maar, gemeente, ten spyte hiervan moet ons in vers 11 die woorde van die Here lees: “Ek het berou gekry dat Ek Saul koning gemaak het, want hy het van My afvallig geword en my woorde nie uitgevoer nie…” God was so duidelik oor die wát en die hóékom, en tog doen Saul dit nie. Die Here het nog so duidelik in vers 3 gesê: “jy mag hom nie verskoon nie” (letterlik: jy mag hom nie spaar nie), en dan lees ons sowaar in vers 9: “Maar Saul en die manskappe het Agag gespaar…” (presies dieselfde Hebreeuse werkwoord as in vers 3!). En die Here het nog so eksplisiet gesê dat die beeste en die kleinvee, die kameel en die esel, almal met die banvloek getref moet word, en dan lees ons nogtans in vers 9 dat Saul en die manskappe die beste van die kleinvee en beeste, en die naas-bestes en die lammers en alles wat van waarde was – dat hulle dit nie met die banvloek wou tref nie! En wanneer ‘n toornige en teleurgestelde Samuel uiteindelik by Saul aankom en hom hieroor uitvra, dan het Saul selfs nog die vermetelheid om met groot oortuiging te sê: “… ek het die woord van die HERE uitgevoer.” En dan sê Samuel: “Nee, Saul, want wat vir ‘n geblêr en ‘n gebulk hoor ek daar? Die kleinvee en die beeste verraai jou, o koning! Jy het nie geluister nie!”

Maar is dit nou nie ‘n bietjie hard nie, broers en susters? Want kyk watter edele motiewe Saul gehad het; hy verduidelik so mooi in vers 15: “die manskappe het die beste kleinvee en beeste gespaar om aan die HERE u God te offer; maar die ander het ons met die banvloek getref.” Dus: “Ons wou iets goeds doen vir die Here, maar vir die res het ons die bevel van die Here volledig gehoorsaam.” En wanneer Samuel in vers 19 vir Saul vra waarom hy dan nie na die stem van die HERE geluister het nie, dan bevestig Saul weereens sy gehoorsaamheid: “Ek hét na die stem van die Here geluister en gegaan op die pad waar die Here my op gestuur het, en Agag, die koning van Amalek, gebring; maar die Amalekiete het ek met die banvloek getref.” Saul is duidelik van mening dat sy optrede voor die Here volledig aanvaarbaar is; hy is nie bewus van enige iets wat hy verkeerd gedoen het nie. Inteendeel, hy wou juis goed doen, sy bedoelings was goed! Hy het selfs meer gedoen as wat die Here van hom gevra het, want hy wou dan ‘n offer bring!

Nou, broers en susters, hierop gaan Samuel vervolgens in verse 22 en 23 in, want hier is meer op die spel as net Saul se goeie bedoelings. Kom ons kyk…

In verse 22 en 23 hervat Samuel weer dieselfde deurlopende tema van ‘luister en gehoorsaam wees’ – dit is die tema waarmee die Here self alreeds in vers 1 ‘n begin gemaak het, en waaroor Samuel en Saul net hiervoor in verse 19 en 20 nog met mekaar gedebateer het. En hieroor sê Samuel dan: “Het die Here behae in brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van die Here? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme.” Nou moet ons nie dink dat Samuel hier besig is om die waarde van offers volledig en absoluut te ontken nie. Nee, dit is glad nie Samuel se bedoeling om die offerdiens af te skaf nie! Maar wat hy wel sê, is dat hierdie formele en uiterlike diens aan die Here nooit ‘n vervanging kan word vir ‘n gehoorsame lewe nie; uiterlike toewyding kan nooit in die plek kom van innerlike onderwerping aan die Here nie. Die Here soek nie maar net die vleis van diere nie, hy soek jou self! Want om offers aan die Here te bring, is nie so moeilik nie; in feite bied jy vir Hom maar net die vreemde vleis van diere aan – ‘n mens kan dit jou hele lewe lank doen sonder om werklik jouself te gee. Maar om na God te luister en Hóm alleen gehoorsaam te wees, beteken dat jy jou eie wil opoffer! Dit beteken dat jy jou eie, sondige wil prysgee om slegs aan God se wil gehoorsaam te wees! Dít is wat die Here van sy kinders vra, en dít is wat Saul nie bereid was om te doen nie!

Saul het selfvoldaan gedink dat hy ‘n baie goeie daad vir die Here gedoen het, maar dan wys Samuel vir hom dat hy in werklikheid opstandig en eiesinnig was. Jy was ‘n rebel, Saul. Jy het jou eie ding gedoen en gedink dat dit goed is! Jy het nie na die stem van die Here geluister nie, jy het nie God se duidelike bevel gehoorsaam nie. Let dus goed op, gemeente, Saul se optrede was nie maar net ‘n persoonlike voorkeur van hoe hy sy God wou dien nie, dit was nie maar net Saul se individuele uitlewing en invulling van sy godsdiens nie. Dít is wat ons tydsgees vir ons sê: elkeen moet sy diens aan God invul op sy eie manier, elkeen doen dit volgens sy eie persoonlikheid en voorkeur. Jy vind aanklank in daardie gemeente, en ek in hierdie; jou persoonlikheid pas meer by ‘n charismatiese soort van aanbidding, en myne pas meer by ‘n gewyde soort van aanbidding; ek is nie iemand om daagliks bybel te lees en te bid nie, jy wel. Maar by dit alles, broers en susters, word verbygegaan aan die waarheidsvraag, aan die vraag na gehoorsaamheid! Wat sê en wat vra die Here?! Nee, gemeente, Saul se optrede was nie slegs persoonlike voorkeur nie, dit was opstand! Dit was arrogant! Dit was afgodery en beeldediens, soos wat Samuel in vers 23 sê. En daarom: “Omdat jy die woord van die Here verwerp het, het Hy jou as koning verwerp.”

Ja, om die Here se woord te verwerp en nie daaraan gehoorsaam te wees nie, beteken om die Here self te verwerp en dit beteken om sy gesag te verwerp. In een woord: jy verwerp sy Koningsheerskappy. En aangesien Saul die Here as Koning oor hom verwerp het, daarom verwerp die Here nou vir Saul as koning oor sy volk. Al die rook en al die vet op Gilgal se altaar kan nie daarvoor opmaak nie; al daardie offers kan nooit die vreugde vervang wat God sou gehad het as Saul maar net aan God die lewende offer van sy wil gebring het nie. As Saul maar net sy wil wou onderwerp aan die wil en die woord van die Here. As Saul maar net geluister het, soos wat die Here hom in vers 1 opgeroep het: “luister dan nou na die stem van die woorde van die Here.”

Luister – so eenvoudig, en tog so bitter moeilik vir ons mense. Ons sukkel so om eenvoudig ons oor by die Skrif te plaas en te luister; ek het soveel moeite daarmee om my weerbarstige en my altyd-maar-weer-na-die-verkeerde-kant-toe-neigende-wil op te offer, om te sê: nie wat ek wil nie, maar wat U wil, o Here. Ons het so dikwels maar weer ons eie, voorafgeprogrammeerde denkbeelde oor hoe ons God wil dien, en ons wil so graag self bepaal hoe ons ons diens aan Hom gaan invul. Ons weet mos hoe… en dan maak dit ons doof vir die stem van die Here. En meestal gaan dit gepaard met goeie bedoelings, dit is ook nie die probleem nie, gemeente. Ons praat hier dus nie van onwilligheid om die Here te dien nie, nee, ons praat van eiewilligheid – ek dien die Here op my eie manier, volgens my eie wil, soos wat dit my pas.

O ja, ek wil graag die Here dien, maar een erediens op ‘n Sondag is genoeg – só pas dit my, sodat ek die res van die Sondag ook nog my eie dinge kan doen. Ek wil die Here dien, maar om my kinders gereformeerde onderrig te gee en hulle daagliks op te voed in die vrees van die Here, soos wat ek by hulle doop belowe het, is opsioneel – só pas dit my, want om elke dag bybel te lees en te bid en met my kinders daaroor te praat, is darem te veel moeite. Ek wil die Here dien, maar om in die gemeente betrokke te wees en my gawes tot nut en saligheid van die ander lede aan te wend, is te veel gevra – só pas dit my, want dan het ek nie nodig om myself vir die ander te gee nie, dan kan ek net kerktoe kom om te ontvang. Sien u, so deel ék die lakens uit in my eie geloofslewe, so is ek uiteindelik die heer en meester van my eie godsdiens.

Klink vreemd, nie waar nie? – héér van my eie gódsdiens… Maar dit is presies wat dit is. Ek sorg dat ek God totaal in my beheer hou! Altans, so dink ons. Want dit wat ons dink ons in ons beheer het, is nie meer God nie, gemeente, dit is nie meer die God van die bybel nie. Nee, wat ons in ons beheer het, is ons eie beeld van God, my tuisgemaakte doen-dit-self beeld van wie God is en hoe ek Hom wil dien. In hierdie soort eiewillige godsdiens werk mense as’t ware met ‘n groot bol klei – elkeen kan hom draai, en druk en vorm presies soos wat hy of sy wil. Maar jy moenie dink dat jy dan nog die God van hemel en aarde, die God van die Skrifte dien nie, want hierdie God laat hom nie draai en druk en vorm nie… Hierdie God kan en mag op geen enkele manier afgebeeld word nie, soos wat ons bely in v/a 96 en 97. Dit is die dwaasheid van eiewillige godsdiens – ons dink ons dien God, maar in werklikheid dien ons slegs onsself en is ons ver van God af…

Nou, gemeente, hiervan het ons daagliks bekering nodig. Ons het elke dag weer nodig om terug te gaan na die Woord, terug na die stem van die Here. Want, so bely ons in antwoord 98, dit is deur die lewende verkondiging van sy Woord dat God sy kinders wil onderrig, en – só sê antwoord 96 – ons mag God op geen ander manier vereer as wat Hy in sy Woord beveel het nie. God laat die diens aan Hom nie aan ons wil oor nie; die Here stel geen vertroue in ons goeddunke nie. Nee, slegs dít wat Hy wil, is goed! En daardie wil moet ons leer om te hoor en daaraan ge-hoor-saam te wees, gemeente.

Ons het dus ore nodig wat kan hoor; ons het nodig dat die Here ons verstopte ore deurboor, dat Hy vir ons ore grawe – soos wat Dawid in Psalm 40 sê. Dawid bely in hierdie Psalm, wat in Hebreërs 10 aangehaal word, dat die Here vir hom ore gegrawe het, sodat hy kan hoor. En met hierdie horende ore kan Dawid nou sy God hoor; en nie net kan hy hoor nie, maar hy kan ook ge-hoor-saam wees. Deur hierdie nuwe ore staan Dawid nou geheel en al ter beskikking van sy God. En gevolglik kan ons sê dat Dawid nie slegs nuwe ore ontvang het om te hoor nie, maar hy het ook nuwe hande ontvang om God in geloof aan te gryp, en ‘n nuwe mond om God se woorde te eet en sy eie te maak, en nuwe oë om God se groot dade te aanskou en daarvoor te buig. Ja, gemeente, Dawid kry, deur God se genade, ‘n volledige nuwe liggaam wat in diens van God staan.

En dit is nou presies in hierdie sin dat die Hebreërskrywer hierdie woorde uit Psalm 40 oorneem en op Jesus Christus van toepassing maak. Volgens die Hebreërskrywer in vers 5 het Jesus, toe Hy in die wêreld gekom het, van Homself gesê: “Slagoffer en spysoffer wou U nie hê, maar U het vir My ‘n liggaam berei.” Dit wat in die sondige mens, Dawid, slegs gedeeltelike vervulling gekry het, vind nou in Dawid se groot Seun – Jesus Christus – volledige vervulling! Hóm het God op alle maniere voorberei om volledige gehoorsaamheid te bewys. God het aan Hom ore gegee, sodat Hy een en al gehoor is; God het vir Hom oë gegee sodat Hy die Godheid van binne en buite kan aanskou en kan ken; God het aan Hom ‘n tong gegee, sodat Hy kan proe en kan smaak dat die Here goedertieren is; Hy het ‘n mond ontvang om God se woorde in Hom op te neem en aan ons oor te dra. Ja, God het Jesus Christus se liggaam vir Hom toeberei. Heeltemal reg, Hy is gebore uit die maagd Maria, en het daarom ‘n ware, menslike liggaam gehad. Máár daarby bely ons ook dat Hy ontvang is van die Heilige Gees, en die Heilige Gees het sy liggaam toeberei tot volmaakte gehoorsaamheid. En omdat Hy tot volmaakte gehoorsaamheid toeberei is en bereid was, daarom kon Hy ook die offer wees waarna God gesoek het, die offer van gehoorsaamheid en van oorgawe aan God se wil. Christus is voorberei as volmaakte offer, en op dié manier het God vir Homself die Offerlam voorsien. Een wat met oortuiging van Homself kon sê: “Kyk, Ek kom om u wil te doen, o God!” Dít is wat nodig was vir ons ongehoorsaamheid en eiewilligheid.

En, gemeente, dit is deur hierdie volmaakte gehoorsaamheid van Jesus Christus – Hy wat een en al ore was vir die wil van sy Vader – dat ons skoon gewas word van ons ongehoorsaamheid. Jy moet by Hom wees om daarvan verskoon te word. En verder kan ons, deur sy gehoorsaamheid, ook self weer gehoorsaam begin word. Deur Hom word ons bevry van hierdie aaklige eiewilligheid wat ons lewens so teister; deur sy Woord en Gees kom grawe Hy vir ons ore wat kan hoor, kom beitel Hy harte wat graag wil luister, en kom open Hy monde wat die heerskappy van God in ons lewens bely.

Deur Hom het ek nie meer nodig om myself te handhaaf nie, maar kan ek myself en my wil só aan God onderwerp, dat nie meer ek nie, maar Hy bepaal hoe Hy gedien wil word. Nou maak ek nie meer my eie, self-uitgedinkte beelde van Hom nie, maar Hy kan nou ‘n beeld van my maak. Nou is Hy nie meer die klei in my hande wat ek deur my eiewilligheid verwoes en misvorm nie, maar ek is nou die klei in sy hande wat Hy deur sy volmaakte wil kan vorm tot die mooiste kunswerk. En dít moet ons leer: ons moet ophou om Pottebakker met God te wil speel, en kom ons wees weer gewillige klei in die hande van ons God. 

En, gemeente, dit is uiteindelik die mooiste uitwerking van Christus se volmaakte gehoorsaanheid, naamlik dat Hy vir Hom ‘n kerk vergader, ‘n kerk waarbinne ons weer ware, Skriftuurlike beelde kry... Ja, dis reg, beelde in die kerk! Of het u gedink dat ons nie beelde in die kerk het of mag hê nie? Natuurlik het ons beelde in die kerk; asseblief, ons moet beelde in die kerk hê! U en ek is die beelde! Ons hoef nie beelde van Gód te maak nie, God het sy eie beelde gemaak – lewende mense, geskape en herskape na die beeld van God! Nee, nie beelde wat vereer moet word nie, maar beelde waarin God Homself kenbaar maak aan die wêreld, beelde waardeur sy Naam verheerlik word. Die gelowige as beeld van God is God se verteenwoordiger, die poort waardeur God sy krag en sy liefde en sy genade hier op aarde wil laat geld. Wanneer ons werklik in alles gehoorsaam is aan die Jesus Christus en aan sy Woord – sodat elke aspek van ons Godsdiens deur Hom bepaal word – dan vind God in ons geskikte werktuie om Homself aan die wêreld kenbaar te maak. Is ons dit, gemeente? Is jy dit, broer en suster? En dis geen vraag wat beantwoord moet word met ‘n klomp goeie werke nie. ‘n Geskikte werktuig is nie een wat self werk nie; ‘n geskikte werktuig is een wat homself laat werk, wat toelaat dat ander met hom die werk kan doen. Om dus ‘n geskikte werktuig in God se hand te wees, vra totale oorgawe, dit vra dat die Here jou lewe mag neem en dit mag gebruik om vir die wêreld te wys wie Hy is: Neem my lewe, laat dit Heer, U gewy wees meer en meer…

Mag dit daarom so wees dat Christus in hierdie gemeente regeer. Sy Naam is bo alle naam verhewe, laat ons aan Hom die volle roem en eer gee, solank daar wêreld is. Laat hierdie gemeente ‘n Koning hê, ‘n Koning wat ons wegruk van die eiewillige godsdiens, en ons lei in die ware Godsdiens. In die eiewillige godsdiens mag ons dalk baie vol wees van onsself en van ons godsdienstigheid. Maar in die ware Godsdiens, volgens die tweede gebod, word ons werklik nuut!

Amen

Liturgie (aand)
Groet en afkondigings
Votum Ps. 121:1
Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 67
Lees: 1 Samuel 15
          Hebreërs 10:1-18
Kollekte
Sing Ps. 50:5-7
Teks: HK, Sondag 35
Gebed
Preek
Amenlied Ps. 40:3 en 4
Gebed
Belydenis van geloof
Slotsang Ps. 43:3-5
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)