Of dit goed gaan of sleg, Vader se bewoënheid oor ons gee altyd rede tot lof!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2009-06-21
Teks: 
Psalm 103:13-18
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

Geliefde gemeente van Jesus Christus, ons Here,

“Loof die HERE, o my siel…” – dit is waartoe Dawid, die digter van Psalm 103, homself oproep. Met hierdie oproep begin hy in vers 1, en daarmee eindig hy ook weer in vers 22. Dit is letterlik die eerste en die laaste woorde van hierdie psalm, en met hierdie kragtige oproep word Psalm 103 as’t ware omarm. Die sentrale posisie van hierdie woorde aan die begin en aan die einde gee daarom ook die toon aan waarmee ons hierdie psalm moet lees en verstaan en in ons eie lewens moet toepas. Ons het hier te make met lofwoorde wat ek, as gelowige, my eie moet maak!

Nou is daar tye in ons lewens, broers en susters, wanneer ons heelhartig aan hierdie oproep gehoor wil gee – tye wanneer dit met ons goed gaan, tye wanneer ons werklik van die lewe geniet en die goedheid van die Here eerstehands ervaar. Tye wanneer ons huwelik blom, wanneer ons kinders gesond is, wanneer ons finansieel geen moeites ken nie en wanneer daar weinig werklike bekommernisse is. Ja, dan kom lof op die Here amper vanself. Meer nog, saam met Dawid wil ons dan selfs die Here loof met álles wat binne-in ons is – nie halfhartig en flouerig nie; nee, dít pas nie wanneer dit goed gaan nie. Wanneer dit met ons goed gaan, pas dit ons om die Here te loof met alles wat binne-in my is. En hiermee verwys Dawid dan na sy hele innerlike – sy hart, sy niere, sy lewer.

Maar, broers en susters, voordat ons nou in een of ander lof-vervoering raak, is dit tog goed om mekaar daaraan te herinner waarom ons die Here wil loof. Wat is die grond van ons lof? Wat is die inhoud van ons lof? Wat is die drakrag van ons lof? Want ons kry in ons tyd soveel leë lofuitinge, soveel lofwoorde wat klinkende metale en luidende simbale geword – dit maak baie geraas, maar dit sê nie so baie nie. En die rede hiervoor is dat hierdie lofuitinge dikwels gebaseer is op omstandighede en op emosies: “dit gaan goed met my, ek voel goed – en daarom kan ek loof!” Maar wat gebeur as die omstandighede verander en die emosies omswaai? Wat gebeur as die goeie tye verander in swaar tye? Ja, dan sien ons skielik hoe die lof stiller en stiller word. Dít wat aanvanklik die lof gedra het, naamlik die goeie omstandighede en die positiewe emosies, is weg. En dan val die lof ook dikwels soos ‘n geflopte koek inmekaar.

En daarom is dit belangrik om te sien, gemeente, dat Dawid in hierdie psalm nie sommer ‘n leë oproep maak nie, dit is geen ongegronde lof waartoe hy homself oproep nie, dit is geen lof wat deur omstandighede of deur emosies gedryf word nie. Nee, in die dade van die Hére – dáárin vind Dawid aanleiding tot lof. Hy roep homself in vers 2 op om nie één van die Here se weldade te vergeet nie. Aan al God se genadige dade wil Dawid homself dus herinner, hy wil dit in sy gedagtes hou, want dáárop grond hy sy lof, dít gee rede om te loof! En dan kies hy in die daaropvolgende verse enkele van die mees kosbare pêrels uit die skatkis van God se dade, en hy ryg dit aan die stringetjie van sy herinnering, en hy hang dit om sy nek, om voortdurend daardeur herinner te word: dít is die grond vir my lof, dít is die rede waarom my siel die Here loof.

Die eerste van God se dade wat Dawid in herinnering roep, is sy genadige vergifnis van ons sondes (vers 3); sonder hierdie daad van God is al sy ander seëninge vir ons in elk geval van geen nut nie. Vervolgens genees God ook ons krankhede (vers 3), verlos Hy ons lewe van die verderf (vers 4), kroon Hy ons met goedertierenheid en barmhartighede (vers 4), en versadig Hy ons siel met die goeie, sodat ons jeug weer nuut word soos dié van ‘n arend (vers 5). Vervolgens behandel Dawid ook nog enkele dade van God in die breër lewe van sy volk – Hy doen geregtigheid en reg aan almal wat verdruk word (vers 6), Hy bewys barmhartigheid en genade, lankmoedigheid en goedertierenheid (vers 8), en sy twis en toorn is nie ewigdurend nie, maar word gestil (vers 9).

Dit is alles dade van God, dade wat wys dat hierdie God ons nie behandel soos wat ons verdien om behandel te word nie. God handel met ons nie na ons sondes, en vergeld ons nie na ons ongeregtighede nie (vers 10). En dit blyk uit elkeen van die dade wat Dawid hier opnoem; uit elkeen van hierdie dade skitter die boodskap: dit is slegs ‘n genadige Vader wat só met sondige en stoflike mense kan omgaan! En dáárom is daar ook elke dag weer nuwe stof tot lof! Die grond van ons lof lê elke dag weer in die genadige optrede van ons Vader in die hemel. Loof die HERE, o my siel – nie omdat dit altyd so goed met my gaan nie, nie omdat ek altyd so voel nie, maar omdat ons ‘n Vader het wat Hom op ‘n permanente basis oor sy kinders ontferm!

Of dit goed gaan of sleg, Vader se bewoënheid oor ons gee altyd rede tot lof!
1. Hierdie Vader weet dat ons stof is
2. Ons weet dat hierdie Vader gevrees wil word

1. Gemeente, God is ons Vader; Hy is dit deur Jesus Christus. Christus is uiteraard, soos wat ons dit bely in Sondag 13 van die Kategismus, God se ewige natuurlike Seun, terwyl ons om sy ontwil uit genade tot God se kinders aangeneem is. Maar daarmee is ons nie minder sy kinders nie, en is Hy nie minder ons Vader nie. My aanneming as kind van God is geen kunsmatige gebaar nie; nee, die Vader-kind verhouding tussen God en myself is ‘n egte verhouding. Nou, broers en susters, soos wat duidelik blyk uit die woorde van die Here Jesus in Lukas 11 soek ‘n vader die beste vir sy kind – aardse vaders doen dit oor die algemeen, hoeveel te meer dan ons volmaakte Vader in die hemel. Hierdie hemelse Vader het ‘n ongelooflike bewoënheid oor ons – dit is wat bedoel word wanneer Psalm 103:13 sê dat die Here Hom oor ons ‘ontferm’; dit beteken Hy is bewoë oor ons, Hy word in sy innerlike beweeg oor ons.

Nou, vervolgens gee vers 14 vir ons die rede waarom die Here so bewoë oor sy kinders is. En die rede is baie eenvoudig – Hy ken ons! Ons vertaling wys baie mooi hoe dit in die Hebreeus staan: “Want Hy – Hy weet…” Beklemtoning van die feit dat Hy die Een is wat ons ken; Hy ken sy maaksel, eenvoudig omdat Hy die Maker daarvan is. Ons Skepper weet watter tipe maaksels sy kinders is, naamlik dat ons stof is. Ons lees dit in Genesis 2:7: “En die Here God het die mens geformeer uit die stof van die aarde…” Die Here, wat ons geskape het, Hy ken ons samestelling, ons bou, dit waarvan ons gemaak is. Maar behalwe hierdie fisiese samestelling, gaan dit hier ook oor ons geestelike samestelling; oor ons swakheid en verganklikheid as gevolg van die sonde in ons lewens. Die Here ken ook hierdie deel van ons mens-wees. Dus, gemeente, Hy wat ons gemaak het, Hy ken ons in al ons broosheid!

En dan teken Dawid vervolgens hierdie broosheid so treffend met die beeld van ‘n veldblom. Hierdie blomme groei pragtig en vinnig nadat die reën die grond deurdrenk het; vir ‘n oomblik boei hulle skoonheid die oog. Maar dan, net so vinnig as wat hulle opgekom het, word hulle deur die droë woestynwind verskroei en gaan dit tot niet. En niemand weet later meer dat op daardie plek ‘n pragtige veldblom gestaan het nie. So is ons lewens, broers en susters, so broos, so kwesbaar – nie net onderworpe aan die liggaamlike dood nie, maar ook aan die mag van die sonde, aan verleidings en versoekings.

En die Here weet dit, Hy is immers die Een wat ons gemaak het. Sou Hy dan nie weet wat ons samestelling is nie? Sou Hy dan nie weet hoe ons inmekaar sit nie? Maar meer nog: Hy is ook die Een wat ons vlees en bloed aangeneem het. Hy het daarvoor gekies om sy Seun na hierdie aarde te stuur om soos ons te word. Jesus Christus het op hierdie einste aarde gelewe; hier het Hy gewandel, gewerk en geworstel. Hy weet watter worstelinge ons deurgaan, Hy ken ons versoekinge, Hy ken die swakhede van die aardse bestaan. Hoewel Hy nooit gesondig het nie, het Hy wel gely onder die gevolge van die sonde. Hy moes God se toorn oor óns sondes, asook die gevolge van die sonde, tydens sy hele lewe op aarde, maar veral aan die einde daarvan, dra. Hy weet wat dit is om verlei te word deur hierdie of daardie sonde; Hy weet wat dit is om versoekings te deurstaan; Hy weet wat dit is om te lei onder die gevolge van die sonde: onder siekte, onder misdaad, onder moord, onder verkragting, onder ongelukke, onder egskeiding, onder natuurrampe, onder oorloë… Hoewel jy nêrens in die evangelies gaan lees dat Jesus, terwyl Hy hier op aarde gelewe het, onder natuurrampe of egskeiding of siekte gely het nie, het Hy tog met sy hele lydesweg al hierdie dinge gedra. Alles – alle ellende, alle sonde, alles wat nie pas by God se goeie skepping nie – dit alles moes Hy dra. Hy weet daarom, broers en susters. Hy weet, beter as enige iemand anders wie jy is en wat jy deurmaak! Ons het, soos die Hebreëskrywer in hoofstuk 4:15 sê, nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde.

En dáárom, gemeente, omdat die Vader ons deur en deur ken in sy Seun, daarom ontferm Hy Hom oor al sy aangenome seuns en dogter, daarom is Hy bewoë oor ons, sy kinders! Hy weet dat ons nie self in staat is om ons lewens te laat slaag nie, en daarom is Hy bewoë oor ons. Hy weet dat ons nie self teen die sonde kan stry nie, en daarom raak dit Hom. Hy weet in watter gevare ons onsself daagliks bevind, en daarom bring dit Hom in beweging. En watter troos is dit nie vir ons nie! As kinders van die Here, mense wat ons eie stoflikheid ken, weet ons dat ons nie ons eie lewensloop kan bepaal nie; ons weet nie wat môre gaan gebeur nie… EN as gelowiges, wat ons eie sondigheid ken, weet ons dat ons weer gaan struikel, weet ons dat ons daardie selfde sonde waarskynlik nog ‘n keer gaan doen. En daarom is dit so ‘n ongelooflike troos om te mag hoor dat die Vader van Jesus Christus, ook ons Vader is!

As Vader van Jesus Christus is Hy begaan oor ons in ons nood en in ons hulpeloosheid; as Vader sorg Hy op liefdevolle wyse vir ons; as Vader weet Hy presies wat goed is vir ons lewens. Hy lei ons, Hy stuur ons; soms gee Hy effens skiet, sodat ons uit ons foute kan leer, net om daarna weer die leisels effens in te trek; wanneer Hy sien dat die gevaar te groot word, dan gryp Hy ons daar weg; Hy straf wanneer dit nodig is; Hy tel ons op sy skoot wanneer ons hartseer is en troos nodig het; Hy deel in ons plesier, maar ook in ons hartseer; wanneer ons self nie meer weet hoe ons verder moet gaan nie, wanneer die lig aan die einde van die tonnel vir ons donker geword het, dan tel Hy ons op om ons verder te dra. En ons, ons voel veilig by Hom, ons voel geborge in sy arms; in tye van vreugde mag ons vir Hom dankie sê, in tye van moeite mag ons ons saak voor Hom neerlê; Hy het vir alles ‘n oplossing, geen saak is vir Hom te swaar nie; in alles is ons veilig by Hom!

Gemeente, dit is die geweldige bemoediging van Psalm 103 – nie dat alles met ons altyd sal goed gaan nie, nie dat ons altyd so goed gaan voel nie. Die omstandighede of ons emosies is nie die bepaler nie. Nee, die bemoediging van Psalm 103 is dat ons, te midde van wisselende omstandighede en wisselende emosies, ‘n Vader het, ‘n Vader wat ons kén! En ons kry Hom nie vandag vir die eerste keer nie; nee, hierdie bemoediging is juis so groot, omdat almal van ons kan getuig dat sy ontferming, sy liefde vir ons, al ons hele lewe lank daar is, nog nooit van ons gewyk het nie, ons nog nooit in die steek gelaat het nie. Nog altyd het Hy met ons stoflikheid rekening gehou, en ons daarom bewaar en genees en verlos van die verderf; nog altyd het Hy ons sondigheid geken, en daarom ons oortredinge so ver verwyder soos wat die ooste verwyderd is van die weste. En daarom mag ons seker weet: Vader ontferm Hom oor ons, Hy laat sy liefdevolle aangesig oor ons skyn.

En daarom, broers en susters: “Loof die HERE, o my siel, en alles wat binne-in my is, sy heilige Naam!” Ons mag, soos wat die Hebreërskrywer ons oproep, met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word. Moenie in jou moeites en sorge wegkruipertjie met God probeer speel nie, moenie die nutsman van jou eie lewe probeer wees nie. Nee, gaan na God toe. Want waar voel ‘n klein seuntjie of dogtertjie die veiligste? Waar voel hulle die meeste geborge? Op die skoot van pa en ma. Gaan na hierdie Vader toe wat sowel die vaderlike as die moederlike eienskappe volmaak in Homself verenig – Hy weet, Hy voel saam, Hy verstaan, en Hy kán en wíl en sál in nood, selfs as ons sidder vir die dood, volkome uitkoms gee.  

Vervolgens: hierdie Vader se goedertierenheid is groot oor dié wat Hom vrees.

2. Gemeente, daar moet nog iets bykom, ons het nog nie alles gesê nie. Dawid maak naamlik duidelik dat ons Vader Hom in besonder ontferm oor sy kinders. Dit is redelik vanselfsprekend. Maar wie is dan hierdie kinders? Nou, om hierop ‘n antwoord te kry, moet ons die vergelyking in vers 13 goed lees: “Soos ‘n Vader Hom ontferm oor die kinders, so ontferm die Here Hom… oor wie? Oor die wat Hom vrees! Sy kinders is dus dié wat Hom vrees. En dit blyk ook duidelik uit vers 17: “Maar die goedertierenheid van die HERE is van ewigheid tot ewigheid oor die wat Hom vrees.” 

Aan God se Vaderliefde is daar dus ‘n voorwaarde – ‘n eis! – verbonde; God se vaderlike liefde vra ‘n kinderlike antwoord. En wat hierdie antwoord presies inhou, lees ons vervolgens in vers 18: “vir die wat sy verbond hou en aan sy bevele dink om dié te doen.” God se bewoënheid en sy goedertierenheid is dus spesifiek bedoel vir dié wat in ‘n egte Vader-kind verhouding met God lewe, vir dié wat die Vader as Vader respekteer en eerbiedig, vir dié wat die reëls van die Vader ken en daarna lewe. Dít is ‘n egte kind, dít is ‘n kind wat dan ook alles van die Vader mag verwag.

Dus, broers en susters, die troos wat ons mag hê dat die Vader Hom oor ons ontferm, dat Hy bewoë is oor ons – daardie troos is nie onvoorwaardelik nie; nee, daardie troos vra van ons dat ons ook met die Vader sal lewe. En daardie lewe geskied aan die hand van die Woord, soos wat ons so pragtig kon lees in Jesaja 40…

God begin hierdie hoofstuk deur sy volk in ballingskap te bemoedig met: “Troos, troos my volk…” Hy gee beloftes van redding en van sy hernude teenwoordigheid onder sy volk. Maar dan stribbel die profeet teë: “Die troos en die beloftes is mooi, maar kyk na die volk – die volk is gras, soos ‘n blom van die veld; die gras verdor, die blom verwelk…” Watter troos is daar nou werklik vir so ‘n kwesbare volk? “Jy’s reg”, sê die Here dan, “die volk ís inderdaad gras, die volk ís inderdaad soos ‘n blom van die veld, maar … die woord van onse God hou stand in ewigheid!” God se beloftewoord is stewig, sy woord is onwrikbaar! En dit is aan die hand van daardie Woord dat ons met God mag lewe. Hy gee immers, volgens vers 18, sy goedertierenheid en sy geregtigheid vir dié wat sy verbond hou en aan sy bevele dink, en van daardie verbond en van daardie bevele lees en leer ons net op een plek – in die Woord. Om met die Vader te kan lewe, begin daarom dáár!

En daarom moet ons onsself daarin oefen, gemeente, om die vrees vir die Vader in ons lewens vorm te laat aanneem. Oefen dit deur die voortdurende lees en bestudering van die Here se Woord, deur gelowig na die prediking te luister, deur in gebed tot God te gaan, deur mekaar in liefde en geduld aan te spreek en op te skerp in die naleef van God se bevele. Ywer daarvoor om jou lewe só vorm te gee dat die Here se bevel en die lewe saam met Hom in die verbond die deurslag gee in al julle besluite, dat ons nie ons eie ding doen nie, maar dat slegs een ons Here is – Vader in die hemel, wat met sy Woord vir ons die rigting wys. Die vrees vir die Here kry ons slegs wanneer ons na sy stem luister.

En dan mag ons werklik God se goedertierenheid oor ons lewens verwag. En dit is nie ‘n goedertierenheid waarvan ons hoef te wonder hoe lank dit gaan uithou nie. Ja, óns, mense – ons ken ‘n einde, en dit is ‘n einde wat enige oomblik kan kom; óns is soos die veldblom wat met een vlaag van die woestynwind uitdroog en verdwyn. Daarvan het ons gelees in Psalm 103:14-16. Maar dan die kontras, die geweldige teenstelling in vers 17: “Maar die goedertierenheid van die HERE is van ewigheid tot ewigheid…” Die Here se goedheid ken geen begin en ook geen einde nie! En hoekom sou dit? Hy is dan Koning in die hemel, sy koninkryk heers oor alles (vers 19) – Hy is in staat om aan sy kinders die goeie dinge te gee wat hulle nodig het; Hy het die mag om, ten spyte van ons swakheid en sondigheid, tog ons lewens in stand te hou. 
En daarom eindig Psalm 103 ook met ‘n oproep tot lof, ‘n allesomvattende oproep. In sy hoogte en in sy diepte, in sy lengte en in sy breedte sluit hierdie oproep alles in. Die engele in die hemel, hulle wat die naaste aan die Vader verkeer, hulle word opgeroep om Hom te loof. Alle skepsele wat op al die plekke van sy heerskappy verkeer – en dit is dus oral in die heelal – hulle almal word opgeroep om Hom te loof. En dan ook ons, elkeen van ons persoonlik, u en ek – ons word opgeroep om Hom te loof. Loof die Vader, wat belowe om Hom oor elkeen van sy kinders te ontferm, loof Hom wat oor ons almal saam sy goedheid wil uitstort, loof Hom wat selfs tot in die nageslag by ons sal bly.

Moet Hom nie slegs loof wanneer alles goed gaan nie, broers en susters, moenie slegs die loflied aanhef wanneer jy goed voel nie. Loof Hom omdat Hy goed is! God is goed te midde van jou trane en jou moeite, God is goed ook al voel jy nie so nie, God is goed ook wanneer die praktyk van jou lewe die teenoorgestelde suggereer. Moenie om jou heen kyk nie, kyk op. Kyk op na God! En roep dan jou siel op om Hom te loof!

Amen

Liturgie (aand)
Groet en afkondigings
Votum en seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Skr. 2:1-3
Gebed
Lees:  Jesaja 40:1-11
          Hebreërs 4:14-16
Sing Ps. 90:3, 6, 8 en 9
Teks: Psalm 103:13-18 (lees hele Ps. 103)
Preek
Amenlied Skr. 22:5-8
Gebed
Geloofsbelydenis (staande en singende)
Kollekte
Slotsang Ps. 27:4-6
Sing net voor die seën Ps. 134:1 en 2
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)