Die viering van die Sondag maak my Geestelik sterk vir die lewe van elke dag…

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2009-06-07
Teks: 
Psalm 92:13-16
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Wie sou die HEER nie prys nie, as weer met nuwe gloed ‘n rusdag ons begroet? – so sing ons graag Psalm 92 op ‘n Sondagmôre, miskien by die huis in ons gesinne, en soms ook hier in die erediens. Dit is bekende klanke in ons ore. ‘n Regte lied vir die Sondag. En so word hierdie Psalm ook genoem in vers 1: “’n lied vir die sabbatdag”. Wie hierdie lied gedig het en vir watter geleentheid dit gedig is, is nie vir ons bekend nie; uit vers 12 kan ons dalk aflei dat hierdie psalm gedig is by ‘n spesifieke oorwinning wat die Here aan die koning en die volk oor hulle vyande geskenk het, en waarskynlik was hierdie lied aanvanklik bedoel vir ‘n baie besondere sabbat kort ná hierdie oorwinning. Maar, gemeente, die blote feit dat vir ons hier geen verdere besonderhede gegee word nie, gee ons die vrymoedigheid om aan hierdie psalm ‘n algemene strekking te gee: ‘n lied vir die sabbatdag, enige sabbatdag. En in die lig van die Nuwe Testament kan ons sê: ‘n lied vir die Sondag, elke Sondag.

Maar, broers en susters, so maklik dreig die gevaar dat Psalm 92 ‘n lied word wat net op die Sondag gebruik word, ‘n lied uitsluitlik vir die rusdag. So maklik word Psalm 92 dan ‘n pynlike simbool van hoe ons lewens as christene dikwels ook werk – op die Sondag gee ons besondere aandag aan die Here en aan ons geloofslewe, op die Sondag wil ons graag die Here dank bewys in stille môrewagte as sy guns ons omring, maar vir die res van die week is dit weer ek en my werk en al my ander bedrywighede. So gou word ons Sondagschristene en bly Psalm 92 eensaam hier in die kerkbanke lê. En dít terwyl hierdie psalm self vir ons iets anders leer! Kyk maar saam met my…
Die digter van Psalm 92 bely in verse 2 en 3 hoe goed dit is om die HERE te loof, om tot eer van sy Naam psalm te sing, en om sy goedertierenheid en getrouheid te verkondig. Maar, gemeente, wat gee vir die digter aanleiding tot hierdie uitbundige geloofsuiting? Wat laat hom sing? Wel, die digter sê in verse 5 en 6 dat die Here hom bly gemaak het deur sy dade, en dat hy wil jubel oor die werke van God se hande. Die digter het dus die groot dade van die Here bestudeer – in die geskiedenis, maar ook in sy eie tyd! Enersyds verwys dit waarskynlik na die Here se werk van skepping en onderhouding van die wêreld – immers, wanneer die digter in vers 2 sê dat dit “goed” is om die Here te loof, dan hoor ons daarin die refrein van Genesis 1: en dit was goed! Andersyds verwys dit egter ook na God se werke tot verlossing van sy volk van hulle vyande, soos wat blyk uit die ondergang van die werkers van ongeregtigheid in verse 8 en 10. Dus, broers en susters, die digter het die Here se werk van skepping en verlossing bestudeer, en dít gee vir hom alle stof tot lof. En gaan lees dan maar op u eie tyd weer ‘n slag die twee weergawes van die vierde gebod in Exodus 20 en Deuteronomium 5, dan sal u sien dat dit presies die twee motiewe is wat die Here gee vir die viering van die sabbat – sy werk van skepping en sy werk van verlossing! Dít is waarmee ons onsself op die Sondag mag besighou; ons mag die werk van God in skepping en verlossing, soos wat dit vir ons in die Skrif beskrywe is en soos wat ons dit in ons eie lewens raaksien, bestudeer en besing. God wil op die Sondag geloof word vir sy werk van skepping en verlossing!

En, gemeente, sien dan vervolgens wat die Here in ons werk wanneer ons onsself op die Sondag met sy groot werke besighou. Die digter van Psalm 92, wat homself op die sabbatdag juis hiermee besig gehou het, bely naamlik in vers 11 dat die Here sy horing verhoog soos van ‘n buffel en hom met vars olie salf. Nou, die horing is in die bybel die teken van krag. Die Here het dus die digter sterk gemaak. Maar hoe? Wel, wanneer die horing van die buffel afgesny en uitgehol is, is dit met geurige olie gevul en gebruik tydens salwingseremonies. En dít is dan ook presies wat die digter vervolgens sê: “… ek is met vars olie gesalf…”, iets wat in die bybel die teken van bekragtiging met die Heilige Gees en toerusting vir ‘n spesifieke taak was. Dus, broers en susters, die digter bely hier dat hy deur die Here sterk gemaak word met sy Gees, dat die Here hom toerus vir sy taak. Ja, nadat die digter homself op die sabbatdag verdiep het in die werke van die Here in skepping en verlossing, mag hy nou gaan lewe met die wete dat die Here by hom is, dat die Here hom sterk maak om as sy kind te kan lewe.
En dít is dan ook die rede waarom Psalm 92 nie in die kerkbank mag bly lê nie; wanneer ons hierdie psalm reg gebruik, dan kán dit nie hier bly lê nie; nee, dan doen dit iets met ons, dan werk dit iets uit in ons lewens van elke dag. Psalm 92 bring mee dat, soos Sondag 38 van die Kategismus dit stel, ek elke dag van my lewe van my bose werke rus en die Here elke dag deur sy Gees in my werk. Wanneer ons werklik die Sondag gebruik om die groot dade van die Here te bestudeer, daarmee besig te wees, dan belowe die Here om my deur sy Gees sterk te maak sodat ek elke dag as christen kan lewe. En wie van ons het nie hierdie krag van die Gees nodig nie? Wie van ons kan nou nog sê dat die eredienste op Sondae nie so belangrik is nie? Kom ons kyk in ons teksgedeelte vir vandag (verse 13-16) wat die Here in ons wil werk...

Tema: die viering van die Sondag maak my Geestelik sterk vir die lewe van elke dag…
1. Ek groei deur God se genade
2. Ek bloei met edele vrugte
3. Ek verstom nie in my lof nie

1. Die digter van Psalm 92 begin ons teksgedeelte deur te wys dat die gelowige iemand is wat, deur die Here se werk, kragtig groei en ook bly groei. Dit staan in kontras met die goddeloses; hulle is – volgens vers 8 – soos plante wat aanvanklik groei en bloei, en wat uiterlik mooi lyk, maar wat ten slotte bestem is om te vergaan. Hulle is soos gras, soos ‘n blom van die veld – die gras verdor, die blom verwelk wanneer die asem van die Here daarin blaas (Jes. 40:6-8). So is dit met die werkers van ongeregtigheid; hulle is daarvoor bestem om die vernietigende oordeel van God te ondergaan.
Die gelowiges, daarenteen, word vergelyk met twee bekende boomsoorte uit die Midde-Ooste, naamlik die palmboom en die sederboom. Beide hierdie bome is simbole van krag en vitaliteit, ware bosreuse wat honderde jare oud kan word. So is die gelowige ook iemand wat altyd bly groei, altyd groter en sterker word. Nee, nie liggaamlik nie. Liggaamlik begin ons almal op ‘n stadium aftakel; praat maar net met ons ouer lidmate om te besef dat in hierdie bedeling ons liggame beslis nie sterker word nie. Maar wat liggaamlik nie gebeur nie, gebeur vir die gelowiges wel geestelik. Geestelik bly die gelowige groei! Dit is soos wat Paulus sê in 2 Korinthiërs 4:16: “al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag ná dag vernuwe.” Dít is waaroor dit hier gaan – dit gaan oor krag in die Here, oor geestelike krag! Daarin neem die gelowige voortdurend toe!

Maar, gemeente, dan wys die digter vervolgens dat die gelowige hierdie geestelike krag slegs ontvang wanneer hy, soos vers 14 sê, geplant is in die huis van die Here, in die voorhowe van onse God. Nou, histories weet ons dat daar sulke bome in die voorhof van die tempelheiligdom in Jerusalem gestaan het. In hierdie heilige grond was sulke bome veilig teen die elemente en teen enige geweld en kon dit welig groei. So is ook die gelowige wat opreg met die Here wandel, en wat in besonder op die rusdag met die Here verkeer in sy huis – hy is kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte (Ef. 6:10)! Sy lewenswortels is op die regte plek geplant. Hy is soos die loot waarvan Jesus in Johannes 15 praat – hierdie loot groei nie op sy eie nie, trouens hy kan niks doen op sy eie nie. Slegs wanneer hy ingeënt is op die wynstok en deel in die lewensappe van die wynstok, kan hy lewe en groei!
Maar, broers en susters, nou moet ons die beeld van Psalm 92 ook nie verder rek as wat die Skrif ons toelaat nie. Die feit dat die boom in die voorhowe van die huis van die Here geplant is, impliseer nie dat die gelowiges daarom ‘n geïsoleerde lewe moet lei nie; dit beteken nie dat ons onsself uit hierdie wêreld moet terugtrek en slegs binne die vier mure van die kerk en die kerkgemeenskap moet bly nie. Christus bid in Johannes 17 nie dat God sy kinders uit hierdie wêreld moet wegneem nie, maar dat Hy hulle van die Bose sal bewaar. En dít is waaroor dit hier gaan: wanneer ek geplant is in die huis van die Here, wanneer ek leef vanuit die weeklikse ontmoeting met God hier in die eredienste, dus, wanneer ek ingeënt is in die kragsentrale van die Here, dán word ek geestelik sterk gemaak sodat ek staande kan bly in my lewe in hierdie wêreld. En, gemeente, dít is wat ons so geweldig nodig het in ons lewe van elke dag, nie waar nie? Jy beweeg in hierdie wêreld rond, jy weet wat in die winkels te koop aangebied word, jy weet watter televisie-programme en internet-beelde daar vertoon word, jy weet watter verleidings daar by die kantoor en by die skool is, jy sien die gevare in die winkelsentrums en op die strate – dit is die daaglikse realiteit waaruit ons nie weggehaal word nie. En as gelowige wonder jy: hoe gaan ek, hoe gaan ons ooit hierteen staande bly?

En, gemeente, dít is dan die krag van die rusdag, hierin sien ons die groeikrag van die erediens! Elke keer wanneer jy in geloof die eredienste bywoon, en jouself tydens die Sondag met die werke van die Here besighou, word jou wortels sterker en sterker veranker in die woonplek van God, kry jy meer en meer weerstand, word jy geestelik meer en meer weerbaar teen alles wat die duiwel, die wêreld en jou eie sondige natuur na jou toe gooi. Deur die geloof in God se werke van skepping en verlossing, wat jy in hierdie einste dag weer mag oordink en bestudeer, word jy elke keer ‘n bietjie sterker. Dít is wat die Here doen: Hy is besig om vir Homself sierlike palmbome en majestieuse sederbome te plant; Hy vorm mense wat geestelik sterk genoeg is om voluit in hierdie wêreld te kan staan en die aanvalle van hierdie wêreld kan weerstaan. En dit begin hier!

Broers en susters, moet daarom nie ‘n geleentheid verby laat gaan om geestelik te groei en sterker te word nie; kom sit hier in die huis van God, kom luister na sy woord en word al hoe sterker. En die teenoorgestelde is natuurlik ook waar: wanneer jy die eredienste begin versuim, sal jy agterkom dat jou wortels losser raak, en dat die winde van die lewe jou al hoe meer rondgooi. En ‘n mens sien dit by diegene wat die eredienste verwaarloos – hulle raak geestelik swakker, hulle weerstand word al hoe minder, en – as God dit nie verhoed nie! – gee hulle uiteindelik boedel oor. Moet dit nie toelaat nie, gemeente. Kom kerk toe, kom ontmoet die Here, en word geestelik sterk!
Vervolgens: ek sal edele vrugte dra.

2. Gemeente, nie slegs sal die gelowiges geestelik sterk wees nie, maar hulle sal ook vrugbaar wees; dus, die gelowige is nie net ‘n boom wat stewig en onbeweeglik op sy plek staan nie, maar hy het ook ‘n invloed om hom heen. Hy dra vrugte wat vir ander tot voordeel strek. Die digter sê naamlik in vers 15 dat die gelowiges tot in die gryse ouderdom nog vrugte sal dra. Nou weet ons dat, van die twee bome wat die digter in vers 13 genoem het, veral die palmboom daarvoor bekend is dat dit baie waarde vir die mens inhou – daar is dadelpalms, kokospalms, sagopalms, oliepalms en nog baie ander palmsoorte wat op allerhande maniere voordelig is vir die mens. Op soortgelyke wyse, broers en susters, is die gelowige ook voordelig vir sy omgewing. Die gelowige, wat geestelike sterk is en wat die vrugte van geloof en gehoorsaamheid in sy lewe vertoon, het ‘n deurwerkende krag – nie slegs onder mede-gelowiges nie, maar ook onder ongelowiges. Die gelowige is soos die bietjie sout wat die hele gereg smaaklik maak; hy is soos die bietjie suurdeeg wat die hele deeg deursuur, hy is soos die klein liggie wat ‘n groot effek het in ‘n donker omgewing.
Maar weereens: dit is slegs die boom wat in gesonde en vrugbare grond geplant is, wat oorvloedig vrugte kan dra. Slegs die loot wat in die ware wynstok ingeënt is, is in staat om druiwe voort te bring. Slegs die gelowige wat werklik in God se voorhof geplant is, kan goeie werke voortbring. En daarom begin die goeie werke hier, gemeente. Die Sondag kry ook op hierdie punt ‘n rimpeleffek na al die ander dae van die week en na alle sfere van die lewe. Wanneer hier die woord klink, die evangelie van Jesus Christus, en jy dit in geloof aanneem, dan behoort dit iets uit te werk in jou lewe. Wanneer God sy stem tydens die eredienste hier laat klink het, en ons daarna uit die kerk uitgaan, dan moet daar inderdaad ook iets van die kerk uitgaan, dan behoort daar iets te gebeur! Die christen van Sondag behoort op Maandag en Dinsdag en al die ander dae vrugte te dra; daardie christen mag ‘n geweldig invloed op sy omgewing uitoefen.

Maar, broers en susters, wanneer ons dit sê, dan moet ons daarmee saam ook bely dat ons dikwels nog so min hiervan sien. Ons hoor die woord op Sondae, ons is onder die indruk van daardie woord, ons glo daardie woord, maar tog… wanneer Maandag kom en ek by die werk geroep word om die regte ding te doen, dan weerhou my skaamte teenoor my kollegas my so dikwels om dit te doen. Of wanneer ek iets by die skool sien gebeur wat verkeerd is, en ek myself eintlik daarvan moet onttrek, dan is die groepsdruk dikwels nog te groot om daardie stap te neem. Of wanneer iemand by die ouetehuis, waar ek woon, siek is en my hulp nodig het, dan sukkel ek maar om die liefde te bewys wat ek weet die Here van my vra. En dit kan ons moedeloos maak, nie waar nie? Dit kan ons laat wonder of ons dan werklik kinders van die Here is, want waar is dan die vrugte? As ek dan werklik in sulke gesonde grond lewe, hoekom sien ek dan niks daarvan in my lewe nie?

Gemeente, daarom het ek ook saam met u uit die Dordtse Leerreëls gelees. So moeilik soos wat hierdie belydenisskrif soms kan wees, so liefderyk en pastoraal kan dit ook wees. Die opstellers hou, in navolging van die Skrif, rekening met die feit dat ons nog nie almal ewe ver op die pad van die geloof en die heiliging gevorder het as wat ons sou wou nie. Ons belydenis spreek hier onder andere mense aan wat die beoefening van die kinderlike gehoorsaamheid nog nie ten volle ervaar nie, of wat begeer om God alleen gehoorsaam te wees, maar wat op die pad van die vroomheid en die geloof nog nie so ver gekom het as wat hulle sou wou nie. Dit gaan hier dus presies waaroor ons sopas gepraat het: gelowiges wat nog nie die vrugte van die geloof in hulle lewens sien nie.
En wat is dan die raad aan hierdie mense? Wat is die Dordtse Leerreëls se raad aan ons wat so sukkel, en wat soms so min van die vrugte in ons lewens sien? Gaan ywerig voort om die middele te gebruik en verlang vurig na die tyd van oorvloediger genade. Gebruik dus die genademiddele! En wat is dit, broers en susters? Die genademiddele is presies wat ons nou hier doen! Die genademiddele is die Woordverkondiging en die gebruik van die sakramente. As jy werklik die vrugte van die geloof in jou lewe wil sien, dan moet jy hier wees. En as jy dit nog nie sien nie, dan moet jy ook hier wees. Elke week weer, elke erediens weer. Hier werk God, hier verbou Hy die mooiste vrugte. Kom Sondag hierheen, en dan bid jy dat jy Maandag en Dinsdag mag toepas wat jy hier geleer het. En die Here wíl dit graag in jou lewe uitwerk, Hy belowe immers in Psalm 92:11 krag en sterkte. Mag Hy daarom jou horing verhoog, en mag Hy jou salf met sy Heilige Gees, sodat jy ‘n boom vol van die mooiste vrugte mag word.
Ten slotte: my lof sal nie verstom nie.

3. Gemeente, in vers 16 sien ons dat Psalm 92 soos ‘n sirkel is, wat op ‘n besondere wyse voltooi word; ‘n pragtige ronde sirkel van lof op die Here. Dit is immers waarmee die digter begin het in vers 2: “Dit is goed om die Here te loof, en tot eer van u Naam te psalmsing, o Allerhoogste.” En dit is dan ook waarmee hy eindig: “om te verkondig dat die HERE reg is, my rots, en in Hom is geen onreg nie.” En, broers en susters, is dit nou nie die sirkel wat elke week van ons lewens behoort te kenmerk nie? Is elke week van ons lewens nie veronderstel om met lof te begin en ook met lof te eindig? Dit is immers waarvoor ons gemaak is! Ons is gemaak om God te prys. So bely ons dit ook in Sondag 3 van die Kategismus, naamlik dat ons na die beeld van God gemaak is, sodat ons Hom reg kon ken, Hom van harte kon liefhê en saam met Hom in die ewige saligheid kon lewe om Hom te loof en te prys. Dit is aanvanklik waarvoor God ons gemaak het. En noudat ons deur Christus vernuwe is en vernuwe word, nou is dit weereens die doel van ons lewens: ons lewe om te loof! En dit begin op Sondae hier in die kerk…

Ons kom op Sondae – die eerste dag van die week – hier bymekaar en dan loof ons die Here op allerhande maniere – in ons sang en lied, in ons gebede, in die gawes wat ons gee. Sondag is ‘n dag van lof! Maar, gemeente, wat word vervolgens van daardie lof? Gaan ons loflied maar net sover as wat die kerklied gaan? Hou ons loflied op wanneer die klanke van die orrel of die klavier wegsterf? En wat van ons getuienis – gaan dit slegs sover soos die Apostoliese Geloofsbelydenis wat ons hier in die kerk sing of opsê? Of het ons nog iets om daarbuite te vertel? Is die boodskap wat ons hier ontvang, werd om daarbuite gedeel te word nie? Natuurlik is dit! Want dit gaan dan oor skepping en verlossing – onthou u nog: dít is God se dade waarin die digter homself verdiep het op die sabbatdag – dit gaan oor waar mense vandaan kom en waarheen hulle oppad is, dit gaan oor hemel en hel, oor verlossing en verdoemenis, dit gaan oor dinge wat alle mense aangaan, of hulle dit nou wil weet of nie.

Gemeente, ons het ‘n boodskap vir die wêreld. Op Sondae word ons self volgemaak met daardie boodskap, word ons self vol gegiet met die water van die lewe. Moenie dat daardie water gedurende die week in jou ‘n stilstaande poel word nie. Nee, laat dit stroom! Bid dat die Gees van jou ook ‘n fontein van lewende water sal maak waardeur ander getrek word. En vertel vir die wêreld dat dit die moeite werd is om op God te bou, maak dit vir hulle konkreet hoekom dit die moeite werd is om Sondae in die kerk te sit in plaas daarvan om in die winkelsentrum rond te loop of langs die sportveld rond te hang. Moenie die wêreld se indruk – naamlik dat ons onsself straf deur kerk toe te gaan en dat dit eintlik so vervelig is om in die kerk te sit – moenie daardie indruk versterk nie; moenie vir hulle vertel dat ons kerk toe gaan omdat ons moet nie. Vertel vir hulle hoe mooi dit hier is, en laat uit jou lewe van elke dag blyk dat dit vir jou ‘n voorreg en ‘n vreugde is om die Here te dien.
En wanneer jou lof soms bietjie stiller word en jy agterkom dat jou getuienis nie is soos wat dit moet wees nie, verlang dan weer na die Sondag. Sien uit daarna om hier in die erediens weer onder die koel en lawende waterval van God se liefde en genade te kom staan. En word op dié manier self weer vol van die boodskap van die evangelie. Plant jouself – soos wat ons net hierna uit Psalm 1 gaan sing – plant jouself by waterstrome en maak seker dat jy nooit sonder water is nie, sodat jou lof nooit hoef te verstom nie.

Gemeente, so sien ons die wonder van die Sondag. Die dag van Christus se opstanding het soveel krag dat dit deurwerk na elke dag van my lewe. Elke dag van my lewe mag ek, saam met Christus, in ‘n nuwe lewe opstaan – mag ek groei in geestelike krag, mag ek bloei met edele vrugte, en mag ek weerklink van lof op my God. Moenie daarom nie die Sondag isoleer van die res van die week nie, maar gebruik dit soos wat ‘n 100 meter-atleet sy wegspringblokke gebruik. Laat die Sondag ons uitvalsbasis wees om in die res van die week alle mense vir Christus te wen en so sy koninkryk te laat groei.
Wat gaan u vandag doen, broers en susters? Jongmense, wat gaan julle doen? Wat daarvan ons gebruik ons tyd om God se groot dade  in skepping en verlossing te oordink?

Amen

Liturgie (oggend)
Groet en afkondigings
Votum Ps. 121:1
Seëngroet: Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen. Sing Ps. 108
Wetslesing (lees aan u wet soos vind in Ex. 20, en daarmee saam lees ek by elke gebod hoe ons
as gemeente van Christus in die Nuwe Testamentiese bedeling daarmee behoort om te gaan)
Sing Ps. 25:4-6
Gebed
Lees:  Psalm 92
           Johannes 15:1-9
           DL, 1,16
Sing Ps. 52:3 en 4
Teks: Psalm 92:13-16
Preek
Amenlied Ps. 1
Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 84:3-6
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)