Die leer en lewe van die gelowige is geheel en al anders!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2009-02-22
Teks: 
1 Timótheüs 6:11-12
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

 

Preek – 1 Timotheus 6:11-12; lees 1 Timotheus 6:3-21

 

Geliefde gemeente van Jesus Christus,

Paulus is besig om sy eerste brief aan Timotheus tot ‘n afsluiting te bring. Alhoewel, as ‘n mens hoofstuk 6 oppervlakkig lees, dan wil dit voorkom asof Paulus hier teen die einde weer ‘n volledige nuwe onderwerp aanraak, naamlik die omgang met geld en rykdom. En gedeeltelik is dit waar; Paulus bestee in hoofstuk 6 inderdaad heelwat aandag aan hierdie onderwerp. Maar as ons mooi lees, kom ons tog agter dat die bespreking van geld en rykdom deel is van ‘n groter geheel. Kyk maar saam met my…  

In vers 3 begin Paulus die afsluiting tot sy brief met ‘n waarskuwing teen dié mense wat “iets anders leer”. Waarskynlik verwys dit dan na mense wat ‘n ander leer huldig as wat Paulus tot dusver in hierdie hele brief uiteengesit het. En die leer wat hierdie mense huldig is nie gesond vir die geloof nie, want – sê Paulus – dit stem nie ooreen met die gesonde woorde van ons Here Jesus Christus en met die leer wat volgens die godsaligheid is nie.

Uit hierdie ongesonde leer spruit vervolgens ook ‘n ongesonde optrede en lewenswandel – ja, dié twee gaan altyd saam: leer en lewe, dit is twee kante van dieselfde muntstuk. Paulus noem daarom in verse 4 en 5 ‘n hele aantal – kom ons noem dit maar – ondeugde, lelike eienskappe wat uit ‘n ongesonde leer voortspruit: verwaandheid, afguns, twis, lasteringe, stryerye, ensovoorts. En die laaste ondeug wat Paulus dan in hierdie rytjie noem, is dat hierdie mense dink dat die godsaligheid winsgewend is; dus, dat ‘n mens kan geldmaak uit die geloof (vers 5). En dit wil voorkom asof hierdie laaste ondeug vir Paulus aanleiding gegee het om die omgang met geld en rykdom en die gevare van geldgierigheid breër te bespreek in verse 6-10.

Dus, verse 3-10 vorm vir die grootste deel as’t ware ‘n soort portret van mense wat in leer én lewe nie aan Christus verbonde is nie, mense wat hulle in leer én lewe soos ongelowiges gedra, soos wat ons nagmaalsformulier dit stel.  

En dán, broers en susters, volg in vers 11 die groot ‘maar’: “Maar jy, man van God…” Dit is duidelik dat hier ‘n skerp kontras gestel word tussen, enersyds, die man van God – letterlik staan daar “mens van God”, en dit sluit uiteindelik dus elke gelowige in – en, andersyds, die mens van hierdie wêreld, ook al kan daardie mens in die kerk sit. Paulus se ‘maar’ in vers 11 maak duidelik dat hierdie twee mense nie dieselfde lyk nie, nie dieselfde mág lyk nie. Ja, nie mág lyk nie – dit is een ding. Maar, gemeente, lyk ons in die praktyk ook werklik anders as die ongelowiges? Verskil jou lewe werklik so baie van dié van jou ongelowige buurman, of van dié van jou ongelowige klasgenoot? Miskien in leer, ja, maar wat van lewenswandel? En wat van die omgang met geld en rykdom waaraan Paulus so baie aandag bestee – verskil ons daarin werklik so baie van die ongelowige wêreld? Gemeente, kom ons kyk vandag hoe die gelowige se leer en lewe anders is en behoort te wees as dié van die ongelowige.

Tema: die leer en lewe van die gelowige is geheel en al anders! Ons sien dit in die manier waarop die gelowige:

 

1.      Vlug2.      Najaag
3.      Stry
4.      Gryp 

 

1. “Maar jy, man van God, vlug van hierdie dinge weg…” – dit is die eerste waartoe Paulus vir Timotheus, en ook vir ons, oproep. Met “hierdie dinge” verwys Paulus dan na dié dinge waarvoor hy sopas in verse 3-10 gewaarsku het. Enersyds waarsku hy dus vir die ongesonde leer wat deur sommige mense voorgestaan word – Paulus het Timotheus alreeds in vers 5 opgeroep om homself aan sulke mense te onttrek. En andersyds waarsku hy vir die ondeugdelike lewenswandel van hierdie mense, spesifiek met betrekking tot geld en goed. Van dit alles sê Paulus nou vir Timotheus: vlug hiervan weg, hardloop weg vir hierdie dinge en vir hierdie mense. Maak dat jy wegkom!

Gemeente, die werklikheid wat Paulus hier beskryf, is wat dikwels genoem word die ‘antitese’ – die vyandskap tussen geloof en ongeloof, tussen die goeie en die kwade, tussen God en satan. Geloof en ongeloof, goed en kwaad, God en satan meng eenvoudig nie met mekaar nie; God het sélf daarvoor gesorg dat dit nie met mekaar kán meng nie; Hy is die Een wat in Genesis 3:15 vyandskap gestel het tussen die vrou en die slang, tussen haar saad en sy saad, tussen die kerk en die goddelose wêreld. Dit is ‘n vyandskap wat vanaf die sondeval bestaan, en wat regdeur – tot die einde van die geskiedenis – sal bly voortbestaan. As die Heilige het God hierdie vyandskap ingestel, en daarom moet ons daaraan gehoor gee: bly weg van die sondige leer en lewe van die ongelowiges, want dit pas nie by jou lewe as geheiligde in Christus Jesus nie.  

Ja, geheiligdes, dit is wat ons is in ons Verlosser… Maar, gemeente, die praktyk van ons lewens is dikwels nog so anders. Dit is soos wat ons in hoofstuk 5 van die Dordtse Leerreëls bely, naamlik dat God ons in hierdie lewe nie heeltemal van ons sondige natuur en bestaan verlos nie, en hieruit ontstaan dan die daaglikse sondes van swakheid. Ons geneigdheid is dus om, ten spyte van ons verlossing en heiliging, steeds maar weer die kwade te doen. Ja, óns weet baie goed wat Paulus bedoel wanneer hy sê: “… die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek” (Rom. 7:19). En juis daarom kán en mág onsself nie in die omgewing van die kwaad begewe nie; juis omdat ons in hierdie lewe nie heeltemal van ons sondige natuur verlos word nie, daarom móét ons wegbly van die sonde: mens van God, vlug van hierdie dinge weg!

Vir die katkisante gebruik ek dikwels die beeld van ‘n diep, loodregte afgrond – dit is gevaarlik wanneer kinders naby die rand van so ‘n afgrond wil speel; dit kan maklik gebeur dat hulle struikel of gly, en daar afval. Toe ek enkele weke gelede tydens katkisasie weereens hierdie beeld gebruik, sê een van die katkisante: “Maar dit is mos simpel om by die rand van die afgrond te wil speel…” Maar natuurlik is dit simpel! Natuurlik is dit uiters dom! En tog doen ons dit, tog sit dit in ons om onsself telkemale maar weer in die invloedsfeer van die sonde te begewe. Die vryheid wat die Here Jesus vir ons aan die kruis verdien het, is ‘n ruim en heerlike vryheid, en tog soek ons so dikwels maar weer die afgrond op.  

En juis daarom is Paulus se oproep aan ons almal so geweldig dringend: vlug van hierdie dinge weg! Hardloop weg! En, broers en susters, dit gaan hier nie oor ‘n lafaard wat weghardloop, en wat nie die moed het om te stry nie. Dit gaan hier oor die gelowige wat weet wat goed is vir hom. Die gelowige hardloop weg van die sonde – weg van die valse leer, weg van die liefde vir geld – en, soos die Dordtse Leerreëls vervolgens in hoofstuk 5 sê, hy neem sy toevlug tot die gekruisigde Christus.

Hierdie laaste is baie belangrik: ons hardloop nie net weg nie! Ons probeer nie net van die sonde af wegkom, net om in die arms van die volgende sonde te beland nie. Ons vlug nooit blindelings nie. Nee, ons vlug het ‘n duidelike doel: na die kruis van Christus. Gaan werp jouself daar neer, want dáár is jy veilig. En, gemeente, konkreet beteken dit dat ons onsself voortdurend met Jesus Christus moet besighou; deur bybesltudie en gebed moet jy jouself telkens weer met Jesus besighou. Of andersom is dalk beter: Hy moet jou besighou; Hy moet jou gedagtes in beslag neem, Hy moet jou woorde en jou dade in beslag neem; Hy moet jou lewe so totaal beheers, dat die sonde geleidelik in die vergetelheid verdwyn. Dit is die enigste vlugroete uit die doolhof van die sonde. Vlug daarom weg van die sonde; rig jou aandag ten volle op jou Verlosser in die hemel!

Hier wil ek net nog ‘n waarskuwing rig aan ons jongmense: op hierdie stadium van julle lewe het die sonde ‘n besondere aantrekkingskrag; ja, die satan weet waar om sy pyle te rig. Die gevare van die seksualiteit vir jong paartjie maar ook vir dié wat nog enkellopend is; die gevare van drank en dwelms, veral onder die druk van die groep; en die gevare van die aanloklikheid van geld – dit kom besonder sterk op julle af. As jongmens wat al hoe meer onder die sorg van ouers uitbeweeg, maar wat tog nog besig is om jou eie opinies en gedagtes te vorm, is julle besonder kwesbaar. En daarom geld die waarskuwing vir julle in besonder: moenie eens die sonde ‘n greintjie kans gee om jou in sy web in te trek nie. Bly ver weg, hardloop weg as dit nodig is, vlug vir die sonde – en julle kan konkreet gaan uitwerk wat dit vir jou in jou omstandighede beteken.  

Ons sien vervolgens dat die lewe van die gelowige anders is in die manier waarop hy najaag.

  2. Soos ek reeds hierbo gesê het, hardloop ons nie net blindelings weg vir die sonde nie, want dan beland ons sommer maklik weer in ‘n ander sonde. En satan gee ook nie werklik om as ons vir die een sonde weghardloop nie, solank daar net ‘n nuwe sonde is om die vorige een te vervang. So kan dit byvoorbeeld gebeur dat ‘n persoon miskien geldgierigheid in sy lewe oorwin het, maar in plaas daarvan word hy nou ‘n verkwister van geld. Of iemand leer miskien om haar tong te beheers, maar in haar hart koester sy steeds trotse en jaloerse gedagtes. Gemeente, ware groei in godsvrug beteken nie slegs om die een sonde vir die ander in te ruil nie, want dan bly die ou mens jou lewe beheers, alhoewel dit miskien elke keer in ‘n ander vorm is. Nee, ware groei in godsvrug beteken dat die nuwe mens al hoe meer moet groei ten koste van die ou mens; dit beteken dat jy ontslae moet raak van die ondeugde en dit met deugde vervang; dit beteken dat jy as christen geleidelik ‘n afgeronde karakter ontwikkel wat jou in staat stel om God op ‘n goeie manier te dien.  

En daarom, broers en susters, sê Paulus nie slegs vir Timotheus om vir die sondes te vlug nie, maar vervolgens sê hy ook vir hom om die goeie na te jaag: “Maar jy, man van God, vlug van hierdie dinge weg, en jaag ná die geregtigheid, godsaligheid, geloof, liefde, lydsaamheid, sagmoedigheid.” In hierdie lysie noem Paulus so ongeveer die belangrikste christelike deugde op; kom ons kyk kortliks daarna…

In die eerste plek geregtigheid – dit gaan daaroor om reg te doen teenoor jou naaste, om jou naaste te behandel in ooreenstemming met die gebod van God. Dit beteken om opreg te wees, om jou verantwoordelikheid by die huis, by die werk, en in die kerk met integriteit na te kom. Godsaligheid en geloof, die volgende twee deugde, gaan oor die band wat die gelowige met God het, dit dui op die houding waarmee die gelowige homself vol toewyding aan God en aan Christus toevertrou. Liefde spreek van die band met God sowel as met die naaste, en dit is die deug wat in byna elke deugdelys van die Nuwe Testament voorkom. Vervolgens lydsaamheid – dit spreek van die christelike uithouvermoë in tye van teenkanting en beproewing. En ten slotte sagmoedigheid, wat iets sê van die christen se milde gemoedstoestand teenoor sy naaste, veral teenoor daardie mense wat ‘n ongesonde leer aanhang en ‘n ongesonde lewe lei.

Dit is die ses deugde wat ons, volgens Paulus, moet najaag. En, gemeente, so aktief soos wat ons moet wegvlug vir die ongesonde leer en lewe, net so aktief moet ons streef na hierdie deugde, na die gesonde lewe voor die Here. Ons moet dit oefen, elke dag maar weer. U onthou mos hoe Paulus vir Timotheus in hoofstuk 4:7 opgeroep het om homself te oefen in die godsaligheid – soos ‘n goeie atleet moet elke christen hard werk om hierdie deugde te bemeester.  

Maar, gemeente, wanneer ons sê dat ons moet oefen, dan beteken dit nie dat dit uit eie krag kom nie; ons jaag nie op ons eie na die deugde van die geloof nie, want dan word dit altyd ‘n gejaag na wind. Onthou wat ons in die eerste punt gesê het: ons vlug, weg van die sonde, is altyd ‘n vlug na Christus toe; ons kan die ou mens slegs afsterf in veiligheid by Hom! Nou ja, presies dáár moet ons dan ook wees vir die vorming van die nuwe mens. Jy moet by Christus wees om die geregtigheid, godsaligheid, geloof, liefde, lydsaamheid en sagmoedigheid te kan ontvang en te kan beoefen – Hy het hierdie deugde immers verdien en Hy deel dit met liefde uit aan diegene wat by Hom skuil. ‘n Najaag van hierdie deugde is daarom altyd ‘n najaag van Jesus Christus self.

En dan is Jesus nie maar net jou groot Voorbeeld wat jy moet navolg nie; dit is nie maar net “What would Jesus do?”, sodat ek dit ook kan gaan doen nie. Nee, dit is heel eerste: wie is Jesus vir my? Wat het Hy vir my gedoen? Wat wil Hy vir my gee? Hoe wil Hy my lewe verander? En, ja, dan is die jaagtog nie meer een wat ek in eie krag moet volbring nie; nou jaag ek nie meer soos diegene wat ryk wil word nie; nou is ek nie meer op ‘n jaagtog na verderf en ondergang, soos wat vers 11 van hierdie mense sê nie. Sien u hoe verskil die lewe van die christen van dié van die ongelowige? Die christen se jaagtog word gedryf deur die krag van Christus, en dit is die Heilige Gees. En in hierdie jaagtog is ek besig om vir my ‘n skat in die hemel weg te lê, ‘n fondament vir die toekoms.

In die derde plek, die lewe van die gelowige is anders in die manier waarop hy stry.

 

3. Vlug en jaag – dit is die eerste twee opdragte wat Paulus vir Timotheus gee. Nou gee hy nog ‘n derde opdrag, naamlik om te veg: “Stry die goeie stryd van die geloof.” Wat bedoel Paulus presies met ‘die geloof’? Gemeente, Paulus verwys hier nie soseer na ons persoonlike geloof nie – alhoewel dit natuurlik nie uitgesluit word nie – maar hy verwys meer na die inhoud van die geloof, die bybelse leer. Dus, waar dit in die vorige twee opdragte spesifiek oor die lewenswandel gegaan het – vlug vir die sonde, en jaag die goeie na – gaan dit hier meer oor die leer, die inhoud van die geloof. En, soos ons reeds gesien het, is hierdie twee onlosmaaklik aan mekaar verbonde.

Ons word dus opgeroep om vir die ware, bybelse leer te stry – die woord wat Paulus hier gebruik, het in die tyd van die Nuwe Testament dikwels verwys na ‘n boks- of ‘n stoeigeveg, en dit gee dus iets weer van die erns van die stryd. Maar beteken dit nou dat ons almal soos strydlustige hoenderhane die geveg moet aangaan met almal wat die bybelse leer aanval of onderdruk? Nee, Paulus het net hiervoor nog gesê dat ons sagmoedigheid moet najaag. Ons moet dus nie strydlustig wees nie – kyk daarom ook na die wyse waaarop en die gees waarin u die stryd aangaan. Maar ons moet wel besef: daar is ‘n stryd om te stry! En ongelukkig was daar sekere persone in Efese, die gemeente waar Timotheus gewerk het, by wie die moed ontbreek het om te veg. Hulle het, volgens verse 10 en 21, van die geloof afgedwaal. In plaas daarvan om vir die inhoud van hulle geloof te stry, het hulle op ‘n dwaalweg beland.  

Maar, broers en susters, vir ons wat glo geld die opdrag om die stryd aan te gaan. En alhoewel dit nie aangenaam is om te veg nie, is hierdie stryd beslis die moeite werd om te stry; die inhoud waarvoor ons stry, is die moeite werd. Die inhoud van die bybelse leer – dus, sake soos die gesag van die Woord van God, die ware natuur van Jesus Christus as God en mens, die geregtigheid van God, die kruisdood van Christus, sy opstanding en hemelvaart, God se genade en uitverkiesing, en alle ander sake waaroor ons belydenis praat – dit alles is strydwaardige sake, omdat dit te make het met jou en my verlossing!

En, gemeente, veral in ‘n tyd van sogenaamde toleransie is hierdie opdrag tot stryd nie ‘n gewilde een nie. U sal ook agterkom dat die wêreld nie verstaan waaroor ons so ernstig is wanneer ons stry vir die dinge wat ek sopas opgenoem het nie. Of Christus nou werklik opgestaan het of nie, of Hy God en mens is, of ons die Bybel werklik so ernstig moet opneem, en of God voor die grondlegging van die wêreld mense uitverkies het – ag, daarin moet ons mekaar maar vrylaat, dit is werklik nie die moeite werd om daaroor uitmekaar te gaan nie, só word gesê. Is dit so? Moet ons mekaar maar vrylaat in die bybelse leer, solank ons mekaar maar net in die liefde kan vind? Is ons dalk bietjie verkramp wanneer ons ‘n ondersoek na die leer wil doen by mense wat aansoek doen om lid van ons gemeente te word? Is dit dalk oudtyds om ons belydeniskatkisante in die leer te ondersoek wanneer hulle belydenis van hulle geloof wil aflê? Is ons te veel gerig op die kennis wanneer ons sê dat die die gebrek aan kennis by sommige van ons lidmate kommerwekkend is? Is ons hoogmoedig wanneer ons ander kerke op hulle leer ondersoek? Nee, gemeente, dit is ons Godgegewe opdrag: stry die goeie stryd vir die inhoud van die geloof. Ook in sy tweede brief aan Timotheus roep Paulus vir Timotheus baie dringend op om te bly in wat hy geleer het en om te bly by wat hy weet vanuit die Skrifte, omdat dit hom wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus (2 Tim. 3:14-15). Dit gaan oor ons saligheid, broers en susters!  

En ja, dan is die futloosheid en onbelangstellendheid oor kernsake van ons geloof, wat by tye opgemerk word, kommerwekkend. Ons kan oor alles en nog wat stry hier in die kerk, maar oor die kernsake van ons geloof is ons soms gevaarlik stil. Ons is soms opmerklik ongeïnteresseerd wanneer daar vanuit die samelewing aanvalle geloods word op die hart van ons geloof. Broers en susters, laat ons daarom die swaard van die Gees opneem waardeur die Gees diep insny om mense te oortuig van sonde, geregtigheid en oordeel (Joh. 16:8); laat ons oortuig wees van dít waarvoor ons staan. Laat ons, soos wat Paulus vir Timotheus oproep in vers 20, die pand bewaar! Ja, dit is so te sê die oproep waarmee Paulus sy brief aan Timotheus afsluit! Bewaar die pand – en die woordjie ‘pand’ dui op iets baie kosbaars wat aan iemand toevertrou is. Die boodskap van die evangelie, soos wat dit in die bybel vervat is, is dus ‘n baie kosbare skat wat aan die kerk toevertrou is – ons word opgeroep om dit op te pas en vrymoedig uit te dra. Jou en my heil is hier op die spel, broer en suster…

Ten slotte nog kortliks: die lewe van die gelowige is anders in die manier waarop hy gryp.

  4. Dan is daar nog die laaste opdrag: gryp na die ewige lewe. Timotheus het uiteraard reeds die belofte van die ewige lewe ontvang toe hy tot geloof in Jesus Christus gekom het. So gaan dit met elke christen. Die ewige lewe is God se gawe – verniet! – vir elkeen wat tot geloof in Christus kom (lees maar 1 Tim. 1:16). En, broers en susters, dit is dikwels iets waaroor daar onder ons onduidelikheid is – ons glo in Jesus Christus, maar as ons gevra word of ons die ewige lewe sal beërwe, dan is ons onseker, dan huiwer ons om onsself duidelik daaroor uit te spreek; ons moet maar wag en kyk… Dit is in werklikheid ‘n vreemde onsekerheid vir mense wat sê dat hulle in Christus glo. Want wie in Christus glo – dus, wie deur God geroep is en die goeie belydenis afgelê het, soos vers 12 sê – daardie persoon hét die ewige lewe!  

Maar, en dit is waar Paulus se opdrag aan Timotheus so belangrik is, hierdie lewe moet wel aangegryp en toegeëien word; jy moet dit jou eie maak. Paulus sê iets soortgelyks van homself in Filippense 3:12: “Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is.” Ja, waar die ongelowiges deur geldgierigheid gegryp is – soos blyk uit vers 10 – daar is die gelowiges deur Jesus Christus gegryp. En slegs om dié rede mag die gelowige na die ewige lewe gryp, mag hy dit homself eie maak, mag hy in geloof sê: dit is myne, vir nou en vir die ewigheid!

Die uitverkiesing is dus maar net iets lydeliks nie – dit oorkom my of dit oorkom my nie, ek moet maar afwag en kyk, niks wat ek daaraan kan doen nie. Nee! Wanneer jy tot geloof in Jesus Christus gekom het, en die vrug daarvan kan raaksien in die feit jy vir die sonde wegvlug en die goeie najaag en die goeie stryd van die geloof stry, moet dan nie die uitverkiesing maar net oor jou laat kom soos wat ‘n griep oor jou kom nie. Nee, wanneer jy hierdie dinge in jou lewe raaksien as die vrug van die Gees van Christus, gryp dan ook die geskenk van die ewige lewe.  

Gemeente, hoe anders is die lewe van die gelowige nie van dié van die ongelowiges nie. Ja, oënskynlik doen ons dieselfde dinge as die ongelowiges: ons vlug net soos hulle, ons jaag ook na, ons stry ook, ons gryp ook. Maar die bron vanwaaruit ons lewe, Jesus Christus, is totaal anders. En omdat die bron anders is, daarom vlug ek van ander dinge af weg as my ongelowige naaste, daarom jaag ek ander dinge as hy na, daarom stry ek vir ‘n beter doel as hy, en daarom gryp ek iets aan waarvan hy maar net kan droom.

 

Amen

 

Liturgie (oggend)

 

Groet en afkondigings

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen. Sing Ps. 67

Wetslesing en genadeverkondiging (1 Joh. 2:1-2)

Sing Ps. 79:5, 6, 8 en 9

Gebed

Lees:    1 Timotheus 6:3-21

            DL, 5,1-2

Kollekte

Sing Ps. 104:8, 9 en 20

Teks: 1 Timotheus 6:11-12

Preek

Amenlied Ps. 73:2, 7 en 10

Gebed

Slotsang Ps. 36:2 en 3

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)