Die Heilige Gees werk die wonder van geloof!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2009-02-08
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 25
Verwysing: 
HK 25-1 (2009)
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

 Preek – HK, Sondag 25; lees 

Geliefde gemeente van Jesus Christus,

Die Kategismus het in Sondag 23 tot die konklusie gekom dat ons slegs deur die geloof geregverdig word. Maar – was die vraag in Sondag 24 – wat dan van ons goeie werke? Ons goeie werke dra tog sekerlik ‘n deel by aan ons verlossing? Maar nee, geen bydrae van ons goeie werke nie, want selfs ons beste werke is onvolmaak en met sondes besmet. Dus, ons word slegs deur die geloof geregverdig… Maar waar kom so ‘n geloof dan vandaan? Dit is asof die opstellers van die Kategismus sê: “Maar as dít is wat ons nodig het, waar kry ons dit dan? Wys ons die pad, hoe bekom ons dit?” En dan is die antwoord: die Heilige Gees werk dit in ons harte. “O, dit moet dus van bo-af kom… Maar dan is daar werklik niks wat ek kan bydra nie.” Inderdaad gemeente, en dit sal nie die eerste keer wees dat die Kategismus ons daaraan herinner nie.

 

Kom, ek lees vir u uit die Dordtse Leerreëls, hoofstuk 3/4 paragraaf 12, waar juis hierdie punt nog duideliker vir ons uitgespel word. Luister mooi hoe aangrypend ons voorvaders hierdie werking van die Gees verwoord het:

“Dit is die wedergeboorte, die nuwe skepping, die opwekking uit die dood en die lewendmaking, waarvan die Skrif so heerlik spreek, wat God sonder ons in ons werk… Dit is ‘n volkome bonatuurlike, baie kragtige en tegelyk baie aangename, wonderlike, verborge en onbeskryflike daad van God. Volgens die getuienis van die Skrif, wat deur Hom, die Outeur van hierdie werking geïnspireer is, is dit deur sy krag, wat nie minder of geringer as die skepping of as die opwekking van die dooies is nie. Die gevolg is dat almal in wie se harte God op hierdie wonderbaarlike wyse werk, sekerlik, onfeilbaar en kragdadig weergebore word en daadwerklik gló.” 

Erken ons hierdie bonatuurlike werking, broers en susters? Ervaar ons dit ook so in ons lewens? Nee, ek vra nie of almal van ons een of ander ingrypende en emosionele bekeringservaring gehad het nie – hoewel dit natuurlik nie onmoontlik is nie. Maar ek vra wel: beleef jy die feit dat jy glo ook werklik as ‘n Godswonder? Of is die geloof vir jou al so ‘n gewone ding, iets waarmee jy van kleins af opgegroei het, dat die besef van die bonatuurlike krag wat nodig was om dit in jou te bewerk, verdwyn het? Wel, gaan lees dan maar weer ‘n slag hierdie paragraaf uit die Dordtse Leerreëls. Want waarmee vergelyk die Leerreëls die wedergeboorte en die geloof? Ons lees daar: dit is deur sy krag nie minder of geringer as die skepping of die opwekking van die dooies nie. Die Dordtse Leerreëls vergelyk jou en my geloof dus met die skepping en die opwekking van die dooies!

Weet u hoeveel mense vandag ontken die skepping? Dit is ontmoontlik, sê hulle, dit kan nie wees dat God slegs gespreek het en dit het ontstaan nie. Nee, Genesis 1 is maar ‘n mite, ‘n primitiewe volk se ongeloofwaardige manier om die ontstaan van die wêreld te verklaar – só sê hierdie mense. En weet u hoeveel mense vandag ontken Jesus se opwekkingswonders? Die opwekking van Jairus se dogtertjie – dit kan tog nie wees nie. Die opwekking van die seun van die weduwee van Nain, en die opwekking van Lasarus nadat hy al vier dae lank dood was – onmoontlik. En wat van die opstanding van die Here Jesus self? Ag, dit is maar die geloofservaring van die verwarde dissipels, maar dit kon nie werklik gebeur het nie.

 

Deur dít te ontken, broers en susters, word ook die moontlikheid tot geloof ontken! Maar u en ek is dan die lewende bewyse dat geloof moontlik is! Die feit dat ons glo, staan vir geen oomblik terug vir hierdie wonders wat ek sopas genoem het nie, in krag staan dit op gelyke vlak daarmee. U en my geloof is ongelooflik… Maar erken ons dit nog? Beleef ons dit nog op dié manier? Beleef ons nog wat die Skrifte ons leer: “Die HEER se woord is skeppingsmagtig, wat lewe uit die dood gebied” (Ps. 33), en Psalm 104: “… as u Gees weer oor hul sweef, dan leef hul en die aarde herleef”, en Skrifberyming 14: “Nuwe harte gee Ek aan julle, en Ek gee ‘n nuwe gees; Ek sal die hart van klip verwyder, aan jul gee ‘n hart van vlees” (Eseg. 36). Broers en susters, sien ons nog die wonder van geloof wat deur die Gees van God gewerk word?

Tema: Die Heilige Gees werk die wonder van geloof! Hy doen dit

1.      Deur middel van die dwaasheid van die prediking2.      Ten spyte van die swakheid van die gemeente3.      Met behulp van ‘n bewende prediker 

1. Gemeente, die boodskap wat Paulus in die Grieks-Romeinse wêreld van sy tyd verkondig het, is algemeen as dwaasheid beskou. Sy evangelie het aanstoot gegee, nie noodwendig omdat Paulus so ‘n swak spreker was of omdat die mense van daardie tyd so onontvanklik vir godsdiens was nie, maar eenvoudig vanweë die inhoud van sy boodskap – die dwaasheid van ‘n gekruisigde redder. Die woord wat in ons teks vertaal is met ‘dwaasheid’ dui op iemand wat traag is, en dit is in die samelewing van daardie tyd ook gekoppel aan fisiese lelikheid en onnoselheid. Dus, die gedagte dat ‘n mens deur ‘n prediker opgeroep word om ‘n gekruisigde Jood te aanbid as goddelike redder was vir die mense van daardie tyd vertraag, onnosel en totaal onaantreklik.

Ja, ek praat nou wel van die mense van daardie tyd, maar is dit in ons tyd soveel anders? Is daar in ons tyd skielik so ‘n geopende oor en wye belangstelling vir die prediking van die kruis? Moenie dink nie, broers en susters. Hoe dikwels hoor ons nie in ons tyd dat Christus se leer oudtyds is, dat ‘n Redder aan ‘n houtkruis ‘n onaanvaarbare voorstelling van die verlossing is, dat God dood is en dat Christus ‘n dwaas was, en dat dit tydmors is om so ‘n primitiewe boodskap te probeer oordra, om nie eens te praat van die feit dat dit verkondig moet word nie. Nee, gemeente, ons tyd is net so min ontvanklik vir die verkondiging van die kruis as Paulus se tyd. Volgens 1 Korinthiërs 1:18 sal hierdie boodskap altyd dwaasheid bly vir dié wat verlore gaan. Ag ja, wat verstaan die ongelowiges van die evangelie…

 

Maar wat dan van ons, broers en susters? Hoe kyk ons na die woord van die kruis? Is ons bereid om, soos Paulus in Romeine 1:16, te sê: “ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek.” Ken ons Paulus se skaamteloosheid, of is ons skaam vir die feit dat ons Sondae hier in die kerk kom sit om na die evangelie te luister? Dink ons ook dat die boodskap van die kruis sy vervaldatum bereik het? Raak ons dalk ook al meer soos die Jode (in vers 24) wat tydens Jesus se lewe op aarde voortdurend van Hom ‘n teken gevra het, terwyl hulle intussen nie sy boodskap wou glo nie? Of het ons dalk ‘n Griekse klap weg deurdat ons met ons verstand voortdurend besig is om die wysheid van ons verlossing hier op aarde na te jaag? Gemeente, het ons verval in ‘n wêreldse wysheid waarbinne die boodskap van die kruis eintlik ‘n verleentheid geword het, of is ons nog steeds bereid om te staan vir die dwaasheid van die prediking van die kruis?

Gemeente, dit is belangrike vrae. Hoe kyk jy en ek na die prediking van die evangelie wat elke Sondag hier plaasvind? Hoe sit jy daar in die kerkbank en kyk jy hier na die kansel? Dink jy by jouself: weer dieselfde verhaal, het ons nie iets beter om te bied nie, kan die dominee hierdie afgesaagde boodskap nie effens verlewendig met ‘n paar hulpmiddels nie? Of kry jy dalk skaam as jy dink wat jou kollegas by die werk of mede-leerlinge by die skool sou gesê het as hulle saam met jou kerktoe gekom het? En behalwe dat dit belangrike vrae is, is dit ook baie sinvolle vrae, want kom ons wees eerlik: wat ons hier doen, is effens vreemd! Vanuit die perspektief van ons tyd, is ons effens apart.

Maar, broers en susters, vir elkeen wat hom nie skaam vir die dwaasheid van die prediking nie, mag ek saam met Paulus in vers 18 die wonderlike versekering gee dat hierdie prediking – dít wat ons hier doen – die krag van God is! God se krag word sigbaar wanneer die evangelie van Jesus Christus verkondig word en mense hierdie boodskap in geloof aanneem. Want die verkondiging van die kruis het die krag om sondaars uit hulle geestelike dood op te wek en aan hulle vernuwing van die lewe te gee. Deur middel van die vernedering en swakheid van so ‘n wrede doodstraf soos die kruisiging, en die daaropvolgende verkondiging daarvan, sorg God daarvoor dat daar nuwe lewe kom – ‘n werk wat in krag niks terugstaan vir die skepping of die opwekking uit die dood nie.

 

En gemeente, wanneer ons hierdie krag begin raaksien – in ons eie lewens, en in die lewe van broers en susters in die gemeente – dan sien ons ook hoe wys God was om hierdie middel te kies. Hy spreek, deur middel van die mond van sy bedienaar, oor kruis en dood – en wonder bo wonder kom daar lewe! Dit is God se wysheid. En skielik is die wysheid van die wêreld nie meer so wys nie; skielik is die soeke na wonders en tekens, die gejaag na aardse wysheid, ‘n totale dwaasheid. Ja, God vernietig die wysheid van die wyse mense, en maak die verstand van die verstandige mense tot niet. Waar bly nou die wyse? Waar bly nou die skrifgeleerde? Waar die redetwister van hierdie eeu? Het God nie die wysheid van hierdie wêreld dwaas gemaak nie? (v. 19 en 20). Ja, lagwekkende dwaasheid!

En daarom, gemeente, kom ons aanvaar dat Gód die weg tot geloof bepaal! En dit is, soos ons bely in antwoord 65, dat die Heilige Gees die geloof in ons harte werk deur die verkondiging van die heilige evangelie. Ja, in óns wysheid sou ons totaal ander middele gekies, en sou ons ‘n totaal ander boodskap verkies het. Maar kom ons lê ons in geloof neer by God se keuse; kom ons wees bly wanneer ons Sondae weer kerktoe mag gaan, kom ons vertel met vrymoedigheid dat daar by ons nog gepreek word. Dwaasheid? Wel, dit is tot ons redding!

Vervolgens: die Gees werk geloof ten spyte van die swakheid van die gemeente.

 

2. ‘n Mens sou jouself kon voorstel dat, aangesien die wysheid van God ver bo dié van die mense uitstyg, hierdie wysheid juis deur die wyses en die aansienlikes van die wêreld aanvaar sal word; dat dit juis die opgevoede en belese mense van die wêreld sal wees wat tot geloof in Jesus Christus kom. ‘n Mens sou kon dink dat hierdie mense meer toeganklik sal wees vir die wysheid van God as die onopgevoedes en dwase. Maar Paulus wys vervolgens vir die gelowiges in Korinthe dat dit nie die geval is nie. God se wysheid en menslike wysheid gaan nie saam nie, God se wysheid hou geen verband met sosiale, ekonomiese of opvoedkundige status nie. God soek in sy wysheid nie diegene op waarvan óns dink dat hulle geskik is nie. Inteendeel, sê Paulus vir die Korinthiërs, let op julle roeping: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie.

Hiermee gee Paulus iets weer van die sosiale, ekonomiese en opvoedkundige samestelling van die gemeente in Korinthe. Wat hulle ook al van hulleself gedink het, volgens wêreldse maatstawwe was hulle niks besonders nie. En, broers en susters, selde in die geskiedenis van die kerk was dit enigsins anders. Ook vir die gemeente hier geld dieselfde – is hier wêreldberoemde mense in ons gemeente, is hier akademiese reuse, of mense wat in die besigheidswêreld die hoogste aansien verwerf het? Natuurlik het ons mense wat ekonomies baie goed gedoen het, en mense met doktersgrade, en mense wat by naam in die samelewing bekend is. Maar is hier werklik iemand onder ons waarna die wêreld luister, iemand wat die rigting van ons tyd noemenswaardig beïnvloed, iemand wat elke tweede dag die nuus haal? Nee, maar dit is ook nie waarop die Here let wanneer Hy die dwaasheid van die prediking laat klink nie.

 

Inteendeel, om die krag van die prediking te bewys, kies die Here juis die dwase in die oë van die wêreld, hulle wat nie werklik saamtel nie, om sodoende die wyse te beskaam. Verder kies God die swakkes in die oë van die wêreld om die sterkes te beskaam, en die onedeles en die wat verag is. Ja, gaan kyk maar na die inhoud van die feessaal in Lukas 14; wie is daar bymekaar? Die armes, die verminktes, die kreupeles en die blindes, en diegene wat langs die paaie gelê het. Húlle mag inkom, húlle maak die huis vol!

Ja, gemeente, God gooi die standaarde van hierdie wêreld volledig deurmekaar, en vir die Koninkryk van Jesus Christus stel Hy nuwe standaarde. God kies uit, wat niks is! Dit is wat vers 28 sê: God kies diegene uit wat niks is nie. Hoor u hierin die taal van die skepping? Net soos wat God by die wêreld geskep het, iets uit niks gemaak het, so skep Hy deur die verkondiging van die evangelie iets uit niks. Mense wat onbelangrik is, wat nooit saamgetel het nie, tel nou by God in Christus Jesus volledig saam! En dit terwyl die aansienlikes van die wêreld onder God se toorn bly.

 

Weereens, broers en susters, word vir ons beklemtoon dat daar in hierdie wêreld absoluut niks is wat ‘n bydrae tot die verlossing kan lewer nie. Geen christen het iets waarop hy kan roem nie, geen christen kan sê dat hy iets bereik het, geen kerk kan bou op prestasie nie. Wanneer God na mense neerdaal om sy volk te versamel en om hulle iets te maak wat in nie is nie, dan sluit Hy alle selfroem by die mense uit. En dit wil voorkom asof dit iets was waarmee die Korinthiërs nogal geworstel het – telkemale in Paulus se briewe aan hierdie gemeente keer dié tema terug. Paulus wil vir hulle wys dat Gód hulle uit die wêreld van duisternis geroep het tot sy wonderbare lig. Dit is alles danksy Christus – Hy is ons geregtigheid, ons heiligmaking en ons verlossing. Daarom: die wat roem, moet in die Here roem.

Gemeente, kom ons leer van Paulus se onderrig aan die Korinthiërs – so maklik kan ons onsself superieur opstel bo ander, so maklik kyk ons met minagting neer op mense wat die Here nie ken nie. En inderdaad, hulle is bejammerenswaardig. Maar daarmee het óns nog nie prysenswaardig geword nie. Inteendeel, God verdien alle lof, wat uit niks iets gemaak het! As mense op ons eie en sonder God, is ons niks nie. Maar in Hom en met mekaar het ons die blyplek van die lewende God geword. Is dit nie ongelooflik nie? Wanneer ons as gemeente daarom in die geloof wil vasstaan, dan moet ons voortgaan met dit wat ons nog altyd gedoen het – verkondig die Woord! Laat die mense maar weet: hier word gepreek! Hier is nie die mens met sy getuienis en sy gawes van die Gees en met sy spreek in tale sentraal nie. Hier luister ons na die sprekende God, want wanneer Hy spreek, dan gebeur daar dinge – en God het gesê: laat daar lig wees! En daar was lig. En God het gesê: Laat die waters hulle op een plek versamel. En dit was so. En God het gesê: laat mense wat in die wêreld niemand is nie, iemand word in my Koninkryk. En dit is so – ook in hierdie gemeente!

Ten slotte: die HG werk die wonder van geloof met behulp van ‘n bewende prediker. 

3. Hoofstuk 2, verse 1-5, behoort eintlik nog by die bespreking van die voorafgaande hoofstuk. En in hierdie laaste gedeelte fokus Paulus nog kortliks op die bedienaar van die Woord. Hy sê vir die Korinthiërs dat die boodskap wat hy aan hulle gebring het, nie verpak was in ‘n verhaal van menslike wysheid nie. Paulus het nie met mooi stories en goeie redekuns gekom nie. Inteendeel, hy sê dat hy in swakheid en in vrees en in veel bewing die boodskap gebring het wat aan hom toevertrou is. Dit is nou vir jou ‘n belydenis uit die mond van een van Christus se apostels! Dit is nou eerlikheid en nederigheid!

En skynbaar was Paulus ook nie ‘n baie indrukwekkende figuur nie, ‘n onaantreklike en korterige mannetjie. Teenoor invloedryke Korinthiërs was Paulus ‘n persoon sonder krag, voorregte of middele. As gevolg van sy werk as tentmaker het hulle hom as weinig meer as ‘n slaaf beskou, en die Jode was voortdurend besig om planne te maak om hom veroordeel te kry voor die regbank. Genoeg rede om aanvaar dat Paulus sy werk in Korinthe met vrees en veel bewing verrig het. En, gemeente, hierin sien ons dat die verkondiger van die dwaasheid van die kruis, in die oë van die wêreld self ook ‘n dwaas is. Die bringer van die boodskap lyk soos die boodskap self – dwaas en lagwekkend.

 

En daarom het die boodskapper ook niks om te bied nie, behalwe sy boodskap self. ‘n Predikant het niks anders om te bring nie, as die boodskap wat aan hom toevertrou is. En daarom sê Paulus ook dat hy homself voorgeneem het om niks anders onder die Korinthiërs te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde. En wanneer dít die inhoud van sy boodskap is, dan is sy prediking ook nie in oorredende woorde van menslike wysheid nie, maar in die betoning van gees en krag!

Gemeente, God het in sy wysheid daarvoor gekies om – soos Calvyn sê – klein mensies uit die stof te laat opstaan om deur hulle mond die Woord te bring. En daarmee moet u rekening hou! Die predikant bly ‘n klein mensie wat sy werk met vrees en bewing verrig. En wanneer ons dit insien, dan raak die wonder van die geloof net nóg groter. Die Gees kom nie met groot vertonings en vuurwerke nie; die Gees gebruik nie die nuutste tegnologie om sy krag te wys nie. Die Gees gebruik nie krag om krag te wys nie; nee, Hy gebruik swakheid om sy krag te wys. En so bestaan u geloof daarom ook nie in wysheid van mense nie, maar in die krag van God.

 

Broers en susters, wat meer wil u hê as bewys dat die geloof ‘n wonder is? Immers, die geloof word gewerk deur ‘n dwase boodskap, dit word gewerk ten spyte van onaansienlike mense, en dit word gewerk met behulp van – of is dalk eerder: ten spyte van? – bewende predikers. Kom ons prys God vir sy krag en vir die wonder van ons geloof! Skepper-Gees, aan U die eer vir ‘n werk wat ons verstand te bowe gaan.

Amen

 Liturgie (aand) Groet en afkondigings

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 101:2-4

GebedKollekte (dink na by wat ons gee)Lees formulier·        Terwyl tafel in gereedheid sing Ps. 139:1 en 6·        Voltooi formulier en dankgebed·        Sing aan tafel Ps. 139:11 en 12Lees:    1 Korinthiërs 1:17-2:5Sing Ps. 111:1, 2 en 5 (oor die wysheid van God)Teks: HK, Sondag 25PreekAmenlied Ps. 75:1, 4-6GebedBelydenis van geloof (Nicea)

Slotsang en bevestiging van geloofsbelydenis Ps. 113

Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)