Die kroon van die lewe behoort aan dié wat deur Christus goeie werke doen!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2009-02-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 24
Verwysing: 
HK 24-0
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – HK, Sondag 24; lees Ex. 28:36-39, Openb. 2:8-11

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

In Sondag 23 het ons bely dat ons slegs deur die geloof geregverdig word. Natuurlik, ons word deur Christus geregverdig, maar die geloof is as’t ware die hand wat daardie verlossing aangryp en ons eie maak. Dus, in die verlossing is daar géén bydrae van ons kant af nie, absoluut niks nie… Ons kan slegs rus in die verdienste van Christus!

Maar, broers en susters, luister nou na wat die Remonstrante in die tyd van die Dordtse sinode hierop te sê gehad het: hulle het gesê dat die leer van die saligheid ‘n kussing vir die sondige natuur is, en skadelik vir die vroomheid, goeie sedes, gebede en ander heilige handelinge. Daarteenoor is dit selfs lofwaardig om aan hierdie leer te twyfel” (VVD 5:6). Die Remonstrante bevraagteken dus die leer van die verlossing deur geloof alleen; hulle meen ook dat dit goed is om soms te twyfel aan ons verlossing, want dit spoor ons juis aan om goeie werke te gaan doen. Twyfel is soos die stok agter die deur wat jou aanpor tot goeie werke. Andersins, as die verlossing deur die geloof ‘n voldonge feit was, ja, dan kan ons mos maar eintlik agteroor sit en ontspan…

 

Die Dordtse sinode het egter met alle mag hierteen gestry. Hulle sê in hoofstuk 5, par. 12, dat dit totaal onmoontlik is dat hierdie sekerheid van die verlossing hoogmoedige en sorgelose mense sou maak. Nee, dit is eerder die wortel waaruit nederigheid, kinderlike vrees, ware godsvrug, geduld, vurige gebede en blywende vreugde in God spruit. Ook is die oordenking van die verlossing vir die gelowiges ‘n aansporing tot ernstige en aanhoudende beoefening van dankbaarheid en goeie werke… Sien u, die verlossing deur Christus en ons geloof daarin is die wortel van die boom! En wanneer die wortel reg is, gesond is, dan is die boom uiteraard ook gesond, en dan volg daar vanselfsprekend die heerlikste en mooiste vrugte!

Dit kan dus nie anders nie: kinders van die Here, ware gelowiges, doen goeie werke! Vir christene is dit selfs noodsaaklik om goeie werke te doen. Let wel, ons goeie werke is nie verdienstelik nie, maar dit is wel noodsaaklik; ons verdien niks daarmee nie, en tog moet ons dit doen! As kinders van die Here behoort ons in ons eie lewens die vrug van ons verlossing te begin raaksien; en ander mense behoort dit ook in ons te begin raaksien. Dit moet sigbaar word in die manier waarop ons met ander mense omgaan; dit behoort sigbaar te word hier in die gemeente, in ons omgang met mede-broers en –susters; dit moet sigbaar word in ons gesinne, ons huwelike, die manier waarop ons ons werk doen, waarop ons ons kar bestuur en ons vrye tyd deurbring. Op elke terrein van ons lewe wil Christus regeer, en dit moet sigbaar word!

Kom ons kyk vandag aan die hand van Sondag 24 na die plek wat goeie werke in ons lewe met die Here behoort in te neem.

Tema: die kroon van die lewe behoort aan dié wat deur Christus goeie werke doen!

  1. Die onheiligheid van die heilige gawes
  2. Die heiligheid van die kroon
  3. Die loon van die kroon

 

1. In Exodus 28 kan ons uitgebreid lees van die kleding wat die Here vir die hoëpriester voorgeskryf het. Vir ‘n groot deel het die hoëpriester dieselfde klere as die priesters gedra, naamlik ‘n rok, ‘n broek, ‘n soort hoed en ‘n gordel. Maar daarby het die hoëpriester ook nog kledingstukke van die Here ontvang wat eie was aan sy spesifieke amp, naamlik die oorkleed, die borstas met die twaalf stene, die skouerkleed en die tulband vir op sy hoof. Kom ons kyk kortliks na hierdie tulband.

Die tulband op sigself was nie so besonders nie – dit was waarskynlik ‘n lang stuk linne wat om die hoof gedraai of gewikkel is, ‘n tulband soos dit vandag nog steeds in oosterse lande gedra word. Dus, ‘n redelik algemene hoofbedekking. Maar wat wel besonder was, is dat daar aan hierdie tulband ‘n goue plaat vasgemaak moes word. Exodus 28 noem dit ‘n ‘plaat’, terwyl Exodus 29:6 daarvan praat as ‘n ‘kroon’. Ons kan ons hierdie tulband en goue kroon die beste só voorstel dat die tulband om die hoof gewikkel is, en daarna die goue kroon, wat van slaap tot slaap gestrek het, met behulp van ‘n pers toutjie teen die voorkop vasgemaak is; die pers toutjie is waarskynlik aan die agterkant van die kop met ‘n strik vasgemaak. Verder het die Here aan Moses bevel gegee dat hy die woorde: “HEILIG AAN DIE HERE” op hierdie kroon, hierdie goue plaat, moes graveer.

 

Gemeente, waarvoor het hierdie tulband met goue kroon nou gedien? Wel, ons lees in Exodus 28:38: “So moet dit dan op die voorhoof van Aaron wees, sodat Aaron die skuld kan dra met betrekking tot die heilige dinge wat die kinders van Israel sal heilig – al hulle heilige gawes. En dit moet gedurigdeur op sy voorhoof wees, dat hulle voor die aangesig van die HERE welgevalle mag vind.” Hierdie kroon het dus ‘n rol gespeel wanneer die Israeliete met hulle gawes na die tabernakel – en later die tempel – gekom het.

Ja, by die huis van die Here was daar ‘n voortdurende beweging van mense wat gekom het om verskillende soorte offers aan die Here te bring. Moontlik het ‘n Israeliet gesondig en moes hy deur middel van ‘n offer vir daardie sonde versoening doen; of miskien het iemand uit die volk ‘n gelofte aan die Here gedoen, en moes hy nou kom om daardie gelofte te betaal; of moontlik het iemand uit dankbaarheid vir wat die Here gegee het vrywillig ‘n offer kom bring.

 

Maar gemeente, watters offers die Israeliete ook al gebring het, dit moes altyd volgens die voorskrifte van die wet geskied. Ja, daar was streng voorskrifte vir die offers, die Here was uiters nougeset wanneer dit oor die bring van offers gegaan het – lees maar ‘n slag die offerwetgewing in Levitikus. En die rede waarom die Here hierdie streng voorskrifte gegee het, was omdat dit offers aan Hóm was, dit was gawes wat sondige mense aan ‘n heilige God kom aanbied het. En daarom moes dit heilige gawes wees, gawes wat gepas het by die heiligheid van die Here. En dit is presies wat ons lees in vers 38: “… met betrekking tot die heilige dinge wat die kinders van Israel sal heilig – al hulle heilige gawes.”  Die offers wat die volk – om watter rede ook al – gebring het, moes werklik heilig wees, afgesonder nét vir die Here! Vandaar die streng voorskrifte…

 

Maar helaas, broers en susters, hoe heilig die gawes ook al was, dit het altyd vanaf sondige mense gekom. Hoe heilig die offergawe in sigself ook al was, hou nougeset die voorskrifte ook al gevolg is, die offeraar was sondig en daardeur is sy gawe ook ontheilig, ongeskik gemaak om met welgevalle deur die Here aanvaar te word. Gevolglik praat vers 38 ook van die skuld wat aan die heilige gawes gekleef het – nie vanweë die gawes nie, maar vanweë die een wat daardie gawes aangebied het. Die Israeliet moes weet en besef dat sy offer, vanweë homself, nie voor die Here aanvaarbaar kon wees nie; hoe goed die offer ook al was, dit was altyd bevlek met die sonde van die offeraar. Daar was dus geen enkele rede vir die Israeliet om te roem in sy offer, sy goeie gawe, nie. Die oomblik as die Israeliet tevrede sou dink: “My offer!”, dan wys die Here: “Ja, jou offer, vol skuld en tekortkominge…!”

 

Broers en susters, kom ons trek dit deur na ons lewe as Nuwe Testamentiese gelowiges…  Ons offer nie meer diere nie, maar dit beteken nie dat ons vandag nie meer offer nie. Ons kan sê dat ons offer aan die Here vandag ons lewe van dankbaarheid is. Dít is die offer wat die Here vandag van u vra: gelowige oorgawe wat uiting vind in dankbaarheid en gehoorsaamheid. Die Nuwe Testamentiese dankoffer wat die Here dus van ons eis, is ons goeie werke. Maar laat daar onder ons nie vir ‘n oomblik die illusie bestaan asof ons met ons werke iets het om aan God te bied nie. En dan is die probleem nie in die eerste plek die werke nie, broers en susters; nee, die werke op sigself is dikwels bewonderenswaardig. Dit gaan oor die werker! Die werke in sigself is dikwels goed, maar die werker daarvan is sondig, die werker besmet die werke, die werker doen afbreuk aan die heilige gawes. U en ek – óns is die oorsaak daarvan dat die heilige gawes, die goeie werke, wat ons voor die aangesig van God aanbied, ontheilig word en daardeur voor Hom verwerplik is. 

 

Moet uself daarom nie te veel blindstaar op die werke nie. As dit enkel en alleen oor die werke gegaan het, dan moes talle ongelowiges in die hemel gekom het, en – helaas – talle gelowiges in die hel. En hoe dikwels dink ons nie op hierdie manier nie: “Maar daardie ongelowige doen sulke goeie dinge, hy gee so baie om vir sy medemens, hy is so ‘n goeie mens!” Ja, miskien, maar die werker van daardie werke is onheilig, sondig, verwerplik. En daarom ook sy werke! Ek ontken nie dat hierdie werke mooi dinge in hierdie wêreld tot gevolg kan hê nie – dink maar aan welsynsorganisasies en natuurbewaringsorganisasie waarvan die oprigters en lede geensins christene is nie, maar wat tog pragtige dinge doen; en dink maar net aan al die nie-christene wat so baie vir hulle naaste doen. Pragtig, maar voor die Here verwerplik!

Broers en susters, gaan luister dan maar weer na antw. 62: die geregtigheid wat voor God se strafgerig kan bestaan, moet heeltemal volmaak wees en in alle opsigte met die Wet van God ooreenstem. Kan ons dit bied? Nee, selfs ons beste werke is in hierdie lewe almal onvolmaak en met sondes besmet – omdat óns onvolmaak en met sondes besmet is, omdat óns deur en deur sondig is.

 

Gemeente, die offeraar in Israel moes hiervan deurdring word – my offer is vanweë myself nie aanvaarbaar nie; my offer kan vanweë myself nie God se heiligheid deurstaan nie! En dan dwing die Here daardie offeraar as’t ware om Aaron voluit in die gesig te kyk en te erken: “Nie ek nie, hoëpriester Aaron, maar jy; jy met die goue kroon op jou voorkop waarop geskrywe staan: HEILIG AAN DIE HERE!”

Kom ons kyk nou vervolgens na die heiligheid van daardie kroon. 

2. Vir die offer om uiteindelik deur die Here aanvaar te word, moes sowel offer as offeraar met God versoen word. Maar hoe was dit moontlik? Wel, gemeente, God het dit moontlik gemaak deurdat Hy beide (offer en offeraar) in Aaron aangesien het, in hom as die draer van die goue kroon met die woorde: HEILIG AAN DIE HERE. Wanneer Aaron as die Hoëpriester vir die Israeliet by God ingetree het, vir hom gepleit het, dan het die Here die kroon op sy voorkop raakgesien, dan het dit Hom as’t ware ‘herinner’ om in genáde na sy volk te kyk. Dan het God hierdie heiligheid aan sowel die offer as die offeraar toegereken, en het Hy aan die sonde wat beide aangekleef het, nie meer gedink nie.

 

Gemeente, vir elke Israeliet wat oortuig was van sy sonde, en van die onmoontlikheid om as sondaar welgevalle in die Here se oë te kan vind, moes dit ‘n ryk troos gewees het om te weet dat die Here hom nie in sy onwaardigheid wil aansien nie, maar dat die Here hom wil aansien in die heiligheid wat op die goue kroon uitgedruk was en waarvan Aaron, as Hoëpriester, die draer was. En daarom moes hierdie kroon – volgens vers 38 – gedurigdeur op Aaron se voorhoof wees, sodat die volk enige oomblik voor die aangesig van die HERE welgevalle kon vind!

En daarby moes dit vir elke Israeliet ook ‘n ryk troos gewees het om te weet dat nie net sy ongeregtigheid nie, maar ook die ongeregtigheid wat aan sy offer gekleef het, deur die Here weggeneem is, waardeur ook die offer voor die aangesig van die Here aanvaarbaar geword het. Want ja, om die Here te kan behaag, dit was tog die sielsbegeerte van elke Israeliet wat die Here liefgehad het? En nou was dit moontlik, nou het die Here dit moontlik gemáák deur die goue kroon – daardeur is alles wat onheilig was, heilig gemaak, aanvaarbaar voor die Here!

 

Broers en susters, so is dit ook met die Israel van die Nuwe Verbond, met die gelowiges van vandag, so is dit met u en my. Ons mag ons geestelike offers aan die Here bring, offers van liefde, lof en dank, offers van goeie werke teenoor God en ons naaste. Maar ons weet en ons erken dat ons sondaars is en bly, en dat as gevolg daarvan selfs ons beste werke in hierdie lewe almal onvolmaak en met sondes besmet is. As God ons goeie werke werklik na waarde moes geweeg het, sou Hy van elkeen daarvan moes gesê het dat dit te lig bevind is, dat dit onaanvaarbaar is. Ons kan met hoeveel goeie werke voor die troon van die Here nader, almal moet afgewys word…

Maar, gemeente, God het die oplossing versorg; Hy het ons Here Jesus Christus as Hoëpriester aan ons gegee. ‘n Hoëpriester wat in alles die wil van God nagekom het, ‘n Hoëpriester wat in sy hele lewe en aan die kruis die volmaakte geregtigheid voor God volbring het, ‘n Hoëpriester wat werklik HEILIG AAN DIE HERE is! Hy hoef nie ‘n goue kroon te dra om dit te demonstreer nie, Hy is dit in Homself! In Hom het die ‘HEILIG AAN DIE HERE’ die hoogste werklikheid bereik.

 

Broer en suster, wanneer jy dan nou met jou goeie werke voor die Here kom om aan Hom jou dankbaarheid te bewys, gryp dan hierdie Hoëpriester aan. Soos wat die Israeliet se offergawes voor die Here aanneemlik was deur die goue kroon op die hoof van Aaron, só is ons werke slegs aanneemlik deur die Heilige, Jesus Christus! Moenie Hom systap nie, moenie verby Hom glip en dink dat jy sonder Hom iets het om aan God te bied nie, moenie vol selfvoldaanheid jou hopie goeie werke voor God gaan neersit nie. Nee, gaan met jou werke deur Christus; meer nog: lewe met jou goeie werke in Hom, gryp Hom aan!

Konkreet beteken dit: glo in Christus, glo dat Hy alles vir jou by God volbring het, lewe elke dag in afhanklikheid van sy heiligende bloed op Gologota. Dán – en slegs dan – is jy mét jou werke HEILIG AAN DIE HERE! Dán mag jy die glimlag op God se gesig sien oor dit wat jy in dankbaarheid en gehoorsaamheid verrig het en vir Hom kom aanbied. Want dan sien God jou en jou werke in Christus aan! Dit is amper soos wat ‘n mens deur gekleurde glas buitentoe kyk en alles daarbuite die kleur van die glas aanneem – net so kyk God deur Christus na jou, en word jou gebrekkige pogings tot goeie werke gekleur deur die rooi van Christus se bloed tot volmaakte werke, werke waaroor die Here so geweldig bly is!

 

Gemeente, gaan daarom voort met goeie werke, hou aan om werke te doen wat by die bekering pas. Ook al bring dit verdrukking, ook al bring dit armoede – soos by die gelowiges in Smirna in Openbaring 2. Maar verrig hierdie werke altyd in Christus! Wanneer jy dit doen, dan sê Hy – die eerste en die laaste, wat dood was maar lewend geword het: “Ek ken jou werke! Hulle is heilig in My.”

Ons let ten slotte op die loon van die kroon.

 

3. In Exodus 28 het God bepaal dat slegs die Hoëpriester hierdie goue kroon sou dra, selfs nie eens die ander priesters of die leviete nie. Nee, slegs die Hoëpriester. En dit was nie omdat die Hoëpriester hierdie geweldige heilige man was nie; ja natuurlik, hy moes in sy ampswerk wel altyd heilig wees, maar hy was ook ‘n gewone mens wat voortdurende heiliging nodig gehad het. Ook hy moes elke keer maar weer opkyk na die kroon op sy eie hoof, ook hy moes daar verlossing en heiliging vind, net soos elke ander Israeliet. Hy het nie die kroon gedra as beloning vir sy heilige lewe nie; nee, hy was eenvoudig ‘n heenwysing na ons groot Hoëpriester, Jesus Christus. By Hom word uiteindelik ons werke volmaak geheilig, by die man wat nie die goue kroon gedra het nie, maar die doringkroon…

 

En die wonder, broers en susters, wat nou aan elke gelowige verkondig word, is dat elkeen wat in Jesus Christus die heiliging van sy lewe soek en vind óók die kroon mag dra waarop staan HEILIG AAN DIE HERE. En dit gebeur vandag reeds! Wie met sy goeie werke by Christus skuil, ontvang vandag reeds hierdie kroon as loon vir sy werke! Loon wat ons verdien? Nee, geensins nie. Maar dit is dan ook die wonder: God beloon nie óns werk nie, Hy beloon Christus se heiligende werk in ons. God beloon uiteindelik sy eie werk, maar Hy doen dit aan ons, ons mag die beloning geniet.

Dit is amper soos ‘n ma wat vir haar jong kind sê: as jy hierdie legkaart klaar bou, gee ek vir jou ‘n roomys. Die jong kind is nog nie eintlik in staat om die legkaart te bou nie, en gevolglik moet die ma hand bysit; uiteindelik is dit sy wat die legkaart bou. Maar die kind kry die roomys! Net so gaan dit in God se verhouding met ons: sou ons uit onsself goeie werke kon verrig, sou ons werke ooit goed kon wees? Nee, God sorg deur die heiligende werk van Christus daarvoor dat ons werke goed is, heilig is, voor God welgevallig is. God doen dit! Maar óns ontvang loon! Loon uit genade… Gemeente, dit is vir ons so onbegryplik – loon ontvang ‘n mens mos as jy iets daarvoor gedoen het? Loon is mos volgens verdienste? Wel, in die koninkryk van die hemele werk dit andersom – in die koninkryk ontvang ons loon uit genade, loon vir wat ons nie gedoen het nie, loon vir wat Christus in ons gewerk het.

As jy daarom God se seën oor jou lewe sien, as jy konkreet ervaar dat dit werklik heilsaam is om, deur die krag van die Heilige Gees, goeie werke te doen, weet dan: dit is genadeloon. Ek ontvang nie na verdienste nie, ék ontvang volgens Christus se werk, sy verdienste. Alles, alles is genade, onverdiende guns alleen.

 

En uiteindelik wag dan vir jou, wat uit dankbaarheid jou lewe aan die Here wy – met alle konsekwensies wat daarmee saamgaan – die kroon van die lewe wat die Here Jesus beloof het aan die gelowiges in Smirna. Die beeld wat hier in Openbaring 2:10 gebruik word, kom uit die Romeinse wêreld; die wenner van die wedloop op die atletiekbaan het ‘n erekrans om sy nek gekry. So kry elkeen wat volhard in die stryd van die geloof die kroon van die lewe as ‘trofee’. Die kroon van die ewige lewe vir arme sondaars… Is dit moontlik? Bedelaars word koninklikes, dooies word lewendiges.

Gemeente, dít is die loon op Christus se werk, dit is die loon vir elkeen wat Christus se werk in geloof aanvaar en in sy eie lewe tot uiting laat kom. Doen daarom goeie werke, en elkeen van ons kan vir onsself gaan invul wat dit behels. Doen werke wat vir die Here behaaglik is, en ontvang Christus se loon – die kroon van die lewe met die woorde: HEILIG AAN DIE HERE!

Amen

 

Liturgie (aand) Groet en afkondigings

Votum Ps. 121:1

Seën: Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van ons Here, Jesus Christus. Amen

Sing Ps. 93

GebedLees:    Exodus 28:36-39            Openbaring 2:8-11Sing Ps. 99:2, 4 en 5Teks: HK, Sondag 24PreekAmenlied Ps. 21:1-4GebedBelydenis van geloofBevestig met Skr. 39:1, 4 en 5Kollekte

Slotsang Ps. 103:2, 3 en 9

Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)