Ons is nie slegs christene teenoor weduwees en ouderlinge in die kerk nie, maar ook teenoor base by die werk!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2009-02-01
Teks: 
1 Timótheüs 6:1-2
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

 

Preek – 1 Timotheus 6:1 en 2; lees Genesis 39:1-9, 2 Konings 5:1-6

 

Geliefde gemeente, broers en susters,

In sy eerste brief aan sy jong kollega, Timotheus, raak Paulus nou in hoofstuk 6 skielik ‘n totaal ander onderwerp aan. Of so voel dit in elk geval vir ons. Eers, in die begin van hoofstuk 5, gaan dit oor die weduwees, vanaf vers 17 van dieselfde hoofstuk gaan dit oor die ouderlinge, en nou skielik gaan dit oor die slawe. Spring Paulus nie ‘n bietjie rond nie; is daar enige samehang in die verskillende onderwerpe?

 

Gemeente, wanneer ons mooi kyk, sien ons dat daar meer samehang as wat ons aanvanklik dalk gedink het. Die deurlopende lyn vanaf hoofstuk 5 is naamlik die omgang met die naaste. Kyk maar na die eerste twee verse van hoofstuk 5: “’n Bejaarde man moet jy nie hard bestraf nie, maar vermaan hom soos ‘n vader, jongeres soos broers, bejaarde vroue soos moeders, jongeres soos susters in alle reinheid.” Hierdie woorde bied as’t ware ‘n algemene inleiding tot ‘n breër gedeelte waarin die gelowiges gewys word hoe om met verskillende soorte mense in en buite die gemeente om te gaan.

Direk op hierdie algemene inleiding volg eers die bespreking oor die omgang met die weduwees, daarna die bespreking oor die omgang met die ouderlinge, en in die paar verse van ons teksgedeelte volg die bespreking oor die omgang met… ja, met die baas by die werk. En wat hierdie drie groepe persone nog verder aan mekaar verbind, is dat van al drie gesê word dat aan hulle ‘eer’ bewys moet word: “eer die weduwees wat waarlik weduwees is” (5:3), “laat die ouderlinge wat goed regeer dubbele eer waardig geag word” (5:17), en “almal wat diensknegte is onder ‘n juk, moet hulle eie here alle eer waardig ag” (6:1). Ons sien dus ‘n deeglike samehang in Paulus se betoog. En binne hierdie samehang kyk ons vandag na hoe christene teenoor hulle base behoort op te tree.

Tema: Ons is nie slegs christene teenoor weduwees en ouderlinge in die kerk nie, maar ook teenoor base by die werk! En daarom moet ons:

1.      die evangelie versier teenoor ongelowige base2.      die diensbaarheid verskerp teenoor gelowige base 

1. “Almal wat diensknegte is…” – so begin Paulus in hoofstuk 6:1. Ons kan ook vertaal met: “almal wat slawe is”. Ja, Paulus skryf sy brief aan Timotheus immers binne die konteks van die Grieks-Romeinse wêreld waar slawerny ‘n belangrike deel van die samelewing was; die Grieks-Romeinse samelewing was eenvoudig ondenkbaar sonder die praktyk van slawerny. Dit is maar goed dat hierdie sisteem intussen afgeskaf is. Maar het hierdie gedeelte dan nog eintlik iets vir ons te sê? – so kan ons moontlik by onsself dink… Nie te vinnig nie, broers en susters. Slawerny afgeskaf? Ja, amptelik, maar in die praktyk? Hoe behandel u die huishulp en die tuinman? Hoe praat u oor hom of haar? Hoe tree jy op teenoor jou personeel, die werkers wat onder jou geplaas is? Iemand het ‘n slag gesê: die enigste verskil tussen die tyd van slawerny en vandag, is dat ons ons slawe meer betaal… Dit laat ‘n mens dink.

 

Maar goed, ons teksgedeelte gaan nie oor hoe ons ons werkers hanteer nie. Paulus spreek hier nie die heer – die werkgewer – aan nie. Nee, hy spreek die dienskneg – die werknemer – aan: hoe moet die dienskneg teenoor sy heer – of in vandag se terme: hoe moet die werknemer teenoor die werkgewer – optree? Dít is waaroor Paulus sy lesers hier aanspreek.

Nou, gemeente, wanneer ons vers 1 en vers 2 met mekaar vergelyk dan wil dit voorkom asof dit in vers 1 spesifiek oor ongelowige here gaan. Immers, in vers 2 gaan dit duidelik oor die teendeel: “En die wat gelowige here het…” Dus, hieruit kan ons aflei dat dit in vers 1 oor ongelowige here gaan. En hierdie vermoede word vervolgens verder versterk wanneer ons in vers 1 lees dat hierdie diensknegte “diensknegte onder ‘n juk” is. Ja, die juk van ‘n ongelowige heer met al sy grille en giere, met alle liefdelose en harde optredes wat so dikwels met die ongeloof gepaard gaan, was iets waaronder ‘n slaaf in Paulus se tyd swaar gebuk kon gaan.

 

Maar, broers en susters, net soos wat baie diensknegte in die antieke wêreld diensknegte “onder ‘n juk” was (6:1), so is baie werknemers dit vandag nog steeds! Baie van ons werk vir ongelowige base en moet dikwels die gevolge van daardie ongeloof in allerhande situasies dra. Uiteraard is daar ongelowige base wat goed vir hulle werkers sorg; werkgewers wat nie in God glo nie, maar wat tog die nodige medemenslikheid en sorg vir hulle werknemers openbaar. Ja, ongelowiges kan ook goed doen! Maar hoe dikwels sien ons nie dat juis die ongeloof tog ruimte maak vir misbruik van werknemers deur hulle werkgewers, vir hardheid en liefdeloosheid, vir openlike en subtiele uitbuiting.

Ons kan byvoorbeeld dink aan werke wat geweldig sieldodend is, dit behels dieselfde roetine dag na dag na dag – min ongelowige base wat hulle oor hierdie verontmensliking bekommer. Sommige werknemers, weer, is oorgelewer aan die genade van hulle bestuurders of aandeelhouers, wat slegs na die werknemers kyk as produsente van wins, robotte wat maar net moet geld maak. Of dit kan miskien gebeur dat een bedryf ‘n ander een oorkoop met die gevolg dat daar ‘n volledige herorganisasie plaasvind; poste word geskrap en mense kry sogenaamde pakkette sonder dat hulle daarvoor gevra het of dit so verkies; hulle word nie werklik ‘n sê in die saak gegee nie. Ander werke bring weer baie spanning mee – dit vereis sulke lang ure of so baie dae uitstedig dat dit moeilik word om ‘n gebalanseerde lewe te lei. Ja, gemeente, baie hedendaagse werknemers – insluitende baie van ons gemeentelede – moet hulleself afsloof om hulle daaglikse werk te verrig; baie hedendaagse werknemers is “diensknegte onder ‘n juk”.

 

Is dit normaal? Is dit hoe dit behoort te wees? Dikwels aanvaar ons dit eenvoudig, dikwels dink ons dat dit maar deel is van die sisteem waarbinne ons lewe? Ja, ons is al so deurdronge van die kapitalistiese sisteem waarbinne ons lewe, dat ons dikwels nie meer van beter weet nie. En die gevolg is dat ons ook so begin redeneer: “Iemand moet mos die donkie-werk doen?” – so sê ons dan wanneer dit gaan oor mense wat elke dag dieselfde sieldodende roetine-werk moet doen. Of: “Besigheid is besigheid – wanneer een maatskappy ‘n ander oorneem, moet iemand seker maar gaan?” Of: “As die besigheid wil oorleef, dan moet almal maar bereid wees om veertien ure per dag in te sit.” Maar, gemeente, dit is nie gewoon nie! Dit is nie hoe die Here dit wil hê nie! En dalk het dit tyd geword dat ons begin om die kapitalistiese sisteem waarbinne ons lewe, en wat dikwels ook in ons lewe, met meer kritiek te beoordeel (lees in dié verband gerus die Kompas wat vandag uitgekom het).

Maar moet daarom nie dink dat die Here hierdie sisteem en hierdie situasie met een swaai van die arm omver gaan gooi en gaan verander nie; die Here soek nie rewolusie nie, maar reformasie. En dit vat soms tyd, dit vat soms eeue – dink maar net aan die sisteem van slawerny wat eers omtrent 1800 jaar na Paulus amptelik afgeskaf is! Maar die vraag ontstaan dan: hoe moet 21ste eeuse “diensknegte onder ‘n juk” intussen met hulle ongelowige base omgaan? Hoe moet jy, as werknemer, teenoor jou ongelowige werkgewer optree? En dit is nie ‘n vraag wat in die lug hang nie; nee, dit is ‘n wesentlike en konkrete vraag vir elkeen wat onder ‘n ongelowige baas sy dagtaak verrig.

 

Wel, Paulus sê dat werknemers hulle ongelowige werkgewers alle eer waardig moet ag. Ja… Dit is een van daardie bybelse opdragte wat ons almal as waar erken, maar waaraan baie van ons maar swaar sluk. Maar, broers en susters, wanneer Paulus dit sê, dan is dit belangrik om daarop te let hoe hy dit sê; hy sê dat diensknegte hulle here alle eer waardig moet ag. Dit laat dus die moontlikheid oop dat iemand se baas nie eintlik daardie eer verdien nie. Hy of sy is moontlik totaal onkundig en onbekwaam – iets wat ons in ons land met die regstellende aksie dikwels teëkom. Hy of sy is miskien immoreel. Hy of sy is moontlik onredelik of oorheersend. Nogtans, só sê die Here deur Paulus, moet hy of sy geag word, beskou word, as iemand wat eer waardig is. En dit is omdat Gód die persoon daar geplaas het. Jy het nie dit nie maar net toevallig sleg getref met hierdie ongelowige baas nie, die noodlot het jou nie maar net ‘n slegte baas toebedeel nie. Nee, Gód het dit so gereël. Om jou baas alle eer waardig te ag, is om God te eer vir sy voorsienigheid! En hierdie opdrag geld nie slegs vir wanneer die baas naby is nie, wanneer hy jou kan sien nie. Nee, moenie slegs oëdiens verrig nie, soos wat Paulus op verskeie plekke in sy briewe sê, maar wees opreg in jou eerbetoon.

 

Gemeente, dít wat Paulus hier vra, kan soms vir ons baie moeilik wees, ‘n swaar opgawe, een wat ons vandag dalk aanhoor, maar waarvan ons in ons harte sê: “Jy kan maklik praat, maar as jy in my situasie was, sou jy ook anders daaroor gedink het.” Maar dan gee Paulus vir ons nog ‘n baie belangrike motivering vir sy oproep; luister mooi! Hy sê: “sodat die Naam van God en die leer nie belaster mag word nie.” Ja, skielik haal dit hierdie hele saak uit die sfeer van my persoonlike gevoelens en moeites; skielik gaan dit nie meer oor my nie, maar gaan dit oor God en oor die evangelie van Jesus Christus!

Nou moet ons bedink, broers en susters, dat juis dít vir die slawe in die vroeë kerk ‘n belangrike saak was. Die Romeine was naamlik baie gou agterdogtig wanneer hulle slawe een of ander nuwe god gedien het. Volgens Cicero, die Romeinse staatsman en filosoof, is algemeen geglo dat slawe wat hulle met vreemde godsdienste besig gehou het, teen hulle meesters sou draai en die sosiale orde omver sou probeer werp. Dus, as christelike slawe geen respek teenoor hulle here sou betoon nie, sou dit die Romeine se agterdog oor die christelike geloof bevestig, en sou God en die evangelie skade ly.

Dieselfde sal waarskynlik gebeur wanneer ‘n christen vandag nie sy baas eer en sy werk na behore doen nie. Want ons moet onthou, elkeen wat homself ‘n christen noem, verteenwoordig Christus in hierdie wêreld. Elke keer wanneer jy as christen ‘n aflewering doen, ‘n projek inhandig, ‘n uitgawe-rekening inhandig, ‘n besluit tydens ‘n vergadering maak, ‘n pasiënt versorg, die vloere mop, ‘n vraestel merk, of besluit dat dit tyd is om op te hou werk en huis toe te gaan, dan sê jy daarmee iets oor Jesus Christus. ‘n Christen wat minder as sy beste insit, plaas Jesus Christus in ‘n slegte daglig. En dit is nie wat van ons gevra word nie.

 

Wat wel van ons gevra word, gemeente, is wat Paulus so pragtig verwoord in Titus 2:10. Hy gee in hierdie gedeelte soortgelyke aanwysings vir diensknegte as wat ons in ons teksgedeelte vind. En verder gee hy ook ‘n rede vir hierdie aanwysings, weereens net soos in ons teksgedeelte. Maar hierdie keer stel hy dit nie in die negatief nie (“sodat die Naam van God en die leer nie belaster mag word nie”), maar hy stel dit in die positief: “sodat hulle die leer van God, ons Verlosser, in alles kan versier.” Ja, gemeente, dít is wat ons behoort te doen! Ons behoort die Naam van God en die evangelie van Christus met ons optrede te versier, mooi te maak. Met ons lewe by die werkplek behoort ons vaardige kunstenaars te wees, mense wat die blye boodskap in ‘n pragtige daglig stel.

Ons vind ‘n besondere voorbeeld hiervan in 2 Konings 5 wat ons saam gelees het. Die voorbeeld van die klein dogtertjie wat uit Israel weggevoer is, en as slavin in die huis van Naaman gedien het. Sy het met verloop van tyd gehoor van die melaatsheid van haar heer. En eendag, terwyl sy met haar take besig was, het sy as’t ware teenoor haar meesteres gesug: “Ag, was my heer maar net by die profeet wat in Samaria is, dan sou hy sy melaatsheid wegneem.” Dit is al! En ons ken die vervolg – nie slegs het God se profeet, Elisa, Naaman genees nie, maar hy het hom ook tot geloof in die lewende God gelei. Dit alles omdat die klein slawe-meisie ‘n getuie by haar werk was. Nee, nie opdringerig nie. Maar op die mees natuurlike wyse, terwyl sy haar daaglike takies verrig het, het sy getuig van God se reddende krag. En God het haar getuienis gebruik om haar meester tot geloof te bring.

Dink ook aan die voorbeeld van Josef wat in diens van Potifar gekom het. Daar het hy so getrou gewerk dat Potifar later alles aan Josef se verantwoordelikheid oorgelaat het. En die dag toe Potifar se vrou hom wou verlei, was sy antwoord: “Kyk, deur my is dit dat my heer geen kennis neem van wat in die huis is nie; en alles wat syne is, het hy aan my oorgegee. Hy is in hierdie huis nie groter as ek nie en het my niks onthou nie behalwe u, omdat u sy vrou is; hoe kan ek dan hierdie groot kwaad doen en sondig teen God?” Ja, vir Josef het dit oor die eer van God gegaan! Met sy optrede teenoor sy ongelowige baas se vrou het Josef die Naam van die Here groot gemaak en versier!

 

Gemeente, ‘n ongelowige baas en ‘n onaangename werksomgewing kan die lewe vir ‘n christen baie moeilik maak. Maar kom ons leer, en kom ons oefen onsself daarin, om in alles wat ons by die werk doen Christus in die oog te hou. Dit gaan oor Hom! Hy het met sy slawe-optrede die evangelie gemáák! Deurdat Hy ‘n dienskneg geword het, dáárom het ons vandag ‘n blye boodskap. Kom ons versier daardie boodskap, kom ons maak dit mooi vir die wêreld om te sien! Kom ons wys vir mense dat ons nie vir onsself werk nie, maar vir die eer van God… en daarom eer ons ook diegene wat God oor ons gestel het. Eer aan God, eer aan my ongelowige baas – dié twee is onlosmaaklik aan mekaar verbonde.

Vervolgens: ons moet die diensbaarheid verskerp teenoor gelowige base.

 

2. Nou, wat daarvan as jou baas alreeds ‘n christen is? Pragtig, nie waar nie? Elkeen wat dit mag beleef, is baie gelukkig. Paulus het egter meer om te sê, en dit het te make met die spesifieke konteks waarin hy sy brief geskryf het. Ons vind naamlik in die vroeë kerk dat sowel here as hulle slawe tot geloof in Jesus Christus gekom het. Dit het beteken dat slawe en here ook sy aan sy God in die erediens aanbid het. In die kerk was slawe en hulle here absoluut gelykwaardig voor God; dink aan wat ons lees in Galasiërs 3:28: “Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus.”

En tóg is hierdie einste slawe in die samelewing nog beskou as ondergeskik aan hulle here, en is hulle nog steeds beskou as die eiendom van hulle here. Hoe nou gemaak: gelyk in die kerk, ongelyk daarbuite… Sonder twyfel was daar slawe wat probeer het om voordeel te trek uit hierdie situasie, en probeer druk het vir gelykheid in alle situasies: “Omdat ons meesters ons broeders is, kan hulle nie meer langer ons meesters wees nie, en is ons nie meer langer hulle slawe nie.” Die koms van die christelike geloof het vir sommige slawe die einde van hulle slawerny geïmpliseer.

 

Gemeente, christene kan baie maklik voor hierdie selfde verleiding swig in hulle werksverhouding met hulle christen-base. Sommige christelike werkers maak sommer maklik misbruik van hulle christelike base. Hulle dink dat hulle op meer voordele geregtig is omdat hulle baas ‘n christen is; hulle vat dikwels ook meer kanse as wat hulle by ‘n sekulêre werkplek sou gevat het, omdat hulle dink dat hulle christelike baas meer vergewingsgesind sal wees. Hierdie soort dinge maak dat die christelike werkplek – wat in feite die beste van alle werkplekke behoort te wees – net so onaangenaam en chaoties kan word soos enige sekulêre werkplek.

 

Nou, dit is teenoor hierdie soort optrede deur christelike slawe en werknemers dat Paulus vervolgens in vers 2 van ons teks sê: “En die wat gelowige here het, moet hulle nie verag omdat hulle broeders is nie, maar moet hulle des te meer dien…” Ja, gelowige werknemers moet teenoor hulle gelowige base en mede-arbeiders juis nie minder nie, maar meer diensbaar wees; christelike werknemers moet aan hulle christelike base méér gee as aan ongelowige base.

En Paulus beklemtoon dit deur ‘n baie interessante woord hier te gebruik, en een wat in ons bybels vertaal is met “des te meer dien”. Hierdie woordjie wat met ‘dien’ vertaal is, word dikwels gebruik as beskrywing van ‘n groot donasie wat ‘n ryk weldoener aan iemand skenk. Dit is opmerklik: werknémers word hier dus met ‘n ryk weldoener vergelyk! Voorwaar, in God se ekonomie word alle rolle omgekeer. Deur nederige en getroue diens word christelike werknemers die vrygewige weldoeners van hulle christelike base. En dit is wat Paulus dan ook sê: “… maar moet hulle des te meer dien, omdat hulle wat die weldade ontvang (dit is dus die christelike base wat deur die getroue diens van hulle christelike werkers weldade ontvang), omdat hulle wat die weldade ontvang, gelowiges en geliefdes is.”

As christelike werker behoort jy dus jou christelike baas en christelike kollegas van harte lief te hê – hulle is immers ook gelowiges, en verder is hulle jou geliefdes. Hulle sit saam met jou in die kerk, hulle vorm saam met jou deel van die een liggaam van Christus. Wys dit dan ook deur aan hulle selfs nog meer diensbaar te wees as wat jy ‘n ongelowige sal dien.

 

Broers en susters, daar is ons gemeente heelwat persone met ‘n eie besigheid, lidmate wat dus die christelike base van ‘n bedryf is. Dikwels het hulle, uit oortuiging en omdat hulle ander wil help, christene in diens geneem. As jy so ‘n persoon is wat vir ‘n christen-baas werk, moenie misbruik daarvan maak nie; inteendeel, lewer jou beste. En ons kan hierdie saak nog wyer trek: as jy christen-kollegas het, moenie minder teenoor hulle optree nie, maar laat jou liefde in besonder na hulle uitgaan. Of wanneer jy as christen-besigheidsman vir ‘n ander christen betaalde arbeid kom verrig – hy vra jou om vir hom ‘n ‘job’ te kom doen – moenie dink dat hy maar met minder tevrede moet wees nie. Of wanneer twee christen-besigheidsmanne saam aan ‘n projek gewerk het, en die een die ander vir iets moet betaal, moenie dink dat ‘n betaling wat ‘n paar maande laat is, nie saakmaak nie. Nee, pas in dit alles die beginsel toe waartoe Paulus in Galasiërs 6:10 oproep: “Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het, aan almal goed doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof.” Hierdie mense saam met jou in die kerk – die huisgenote van die geloof – verdien jou grootste liefde, hulle is jou broeders en jou susters. Laat dit dan ook duidelik blyk, ook in die werksomgewing!

 

Gemeente, ons daaglikse arbeid vat vir baie van ons die grootste deel van ons dag in beslag. Almal van ons begeer daarom om ons werk te geniet – ons praat van werksbevrediging. Dit het ‘n soort mode-woord in ons tyd geword. Maar onthou: moenie hierdie bevrediging los van God verwag nie; moenie ‘n christen-werknemer sonder God probeer wees nie. Nee, ook in jou dagtaak regeer God! Hy is jou Heer, jou baas. Die mees wonderlik baas denkbaar! Jy ontvang van Hom die beste loon – die lewe nou en in ewigheid; sy byvoordele is onvergelykbaar, naamlik alles wat Christus vir ons verdien het; sy werksure is billiker as wat jy op enige ander plek gaan teëkom; Hy ooreis jou nooit nie, inteendeel, Hy haal juis die las van jou skouers af; Hy sorg die beste vir sy diensknegte. En daarom verdien Hy ook jou hele hart, jou hele siel, jou hele verstand en al jou kragte. En wanneer jy daardie fokus het – gerig op God in die hemel – dan help dit jou om teenoor jou ongelowige baas die evangelie te versier, en om teenoor jou gelowige baas die diensbaarheid te verskerp.

Mag die Here ons seën wanneer ons môre weer gaan werk.

Amen

  

Liturgie (oggend)

 

Groet en afkondigings

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 149

Wetslesing en genadeverkondiging (1 Kor. 10:6-13)

Sing Ps. 22:1, 2, 4 en 5

Gebed

Lees:    Titus 2:9-10

2 Konings 5:1-6

Sing Ps. 40:4 en 5

Teks: 1 Timotheus 6:1-2

Preek

Amenlied Ps. 105:10-12 (sing van Josef wat as slaaf sy heer geëer en sy Verlosser verheerlik het)

Gebed

Kollekte

Slotsang Skr. 17:1 en 6

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)