Streef na ‘n ryp oordeel oor mekaar!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2009-01-25
Teks: 
1 Timótheüs 5:24-25
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

 

Preek – 1 Timotheus 5:24-25; lees 1 Timotheus 5:17-25, Jakobus 4:11-12

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Mag ons mekaar oordeel? – een van daardie vrae wat gereeld onder veral kerkmense gestel word. En daarby ‘n vraag wat deur meer en meer mense negatief beantwoord word: “Nee, ons mag mekaar nie oordeel nie!” Hoe dikwels het ek nie al hierdie antwoord onder ons gehoor nie!? En dit is ‘n antwoord wat presies pas binne ons tyd; immers, in ‘n tyd waarin daar geen algemeen-geldende norme en waardes is nie, waarin dit in die vryheid van elke mens lê om sy eie norme en waardes te kies… ja, wie is ek dan om ‘n ander te oordeel? Wat gee my die reg om te sê dat jy verkeerd is, of erger nog: dat jy sonde doen? En dit wil voorkom asof die Skrif hierdie siening steun. Ons het in Jakobus 4 mos gelees hoe die apostel aan sy lesers die retoriese vraag stel: “Maar jy, wie is jy wat ‘n ander oordeel?” As jy hierdie vraag op jouself laat werk, dan moet jy erken: “Ja, wie is ek eintlik om ‘n ander te oordeel?”

Maar, broers en susters, tog moet ons hierdie verse in Jakobus 4 meer genuanseerd lees; dit gaan hier oor ‘n baie spesifieke soort oordeel. In vers 11 spreek Jakobus sy lesers aan oor die sondes van kwaadspreek en oordeel. In vers 12, egter, reageer hy daarop deur te sê dat slegs Gód mag het om te red en te verderf. Hieruit blyk dat die kwaadspreek en oordeel van vers 11 spesifiek te make het met die vraag of iemand gered word of verlore gaan. Dus, Jakobus waarsku hier teen die reg wat sommige mense hulself toegeëien het om oor die ewige saligheid van ander ‘n uitspraak te doen. Wie is jy om dít te doen? Inderdaad, wie is jy? En ek dink dat dit ‘n beginsel is wat onder ons algemeen gedeel word, naamlik dat die oordeel of iemand hemel of hel toe gaan – om dit nou maar so eenvoudig te stel – ons nie toekom nie.

 

Maar beteken dit dan dat ons glad nie mag oordeel nie? Wil die Bybel sê – soos wat so dikwels vandag beweer word – dat ons moet afsien van elke sedelike oordeel, dat ek ‘n ander geensins tereg mag wys oor sy sonde nie, dat ek ook hier in die gemeente niemand mag vermaan nie? Dit kan mos nie wees nie… Indien dit wel die geval sou wees, wat sou dan van ons land se regstelsel word? Immers, wat doen ‘n regter anders as om te oordeel wanneer hy uitspraak in ‘n saak lewer? En verder, wat sou word van die tug wat deur die kerkraad toegepas moet word? Wanneer ook die kerkraad nie meer mag oordeel nie, dan word een van die kenmerke van die ware kerk van Christus weggeneem en kry die sonde vrye teuels hier in ons midde? Dit is mos nie moontlik nie? En indien ons nie mag oordeel nie, wat sou dan word van ouers se dissipline teenoor hulle kinders? Mag ouers dan glad nie meer hulle kinders dissiplineer wanneer hulle ‘verkeerd’ gedoen het nie?

Nee, gemeente, om te sê dat jy nie mag oordeel nie, is ‘n selfverterende stelling; dit is eenvoudig nie houdbaar nie, selfs nie in ‘n wêreld wat sonder God lewe nie. En dit word ook nie deur die Skrif geleer nie. Inteendeel, die Skrif gaan juis uit van die veronderstelling dat ons op ‘n goeie manier en volgens God se wil moet oordeel! In ‘n sondige wêreld waarin God steeds sy goeie wet handhaaf, word sy onderkonings geroep om te oordeel tussen reg en verkeerd, tussen goeie mense en slegte mense. Ek herhaal dit: in ‘n sondige wêreld waarin God steeds sy goeie wet handhaaf, word sy onderkonings geroep om te oordeel tussen reg en verkeerd, tussen goeie mense en slegte mense.

 

Maar kom ons wees eerlik: vir mense wat self sondig is en wat nie in ander se harte kan lees nie, is dit altyd ‘n riskante onderneming om te oordeel. Ons moet dit doen, en tog is dit gevaarlik. Ons kry die taak, en tog is daar baie slaggate. Dit is nie verniet dat Jesus in Mattheus 7 ons leer om eers die balk uit ons eie oog te haal, voordat ons die splinter uit die oog van ons broeder kan haal nie. En om ons te lei in hierdie moeilike opdrag, wil ons vandag na God se Woord luister soos wat ons dit vind in 1 Timotheus 5. Ek verkondig aan u die oproep van die Woord van die Here:

Tema: Streef na ‘n ryp oordeel oor mekaar! 

Gemeente, ons teks vir vandag staan binne ‘n breër konteks, en ons sou nie daaraan regdoen as ons nie daardie breër konteks in ag neem nie. Dit gaan in 1 Timotheus 5 vanaf vers 17 oor die manier waarop daar binne die gemeente teenoor die ouderlinge – en ons kan sê: teenoor die ampsdraers in die algemeen – opgetree behoort te word. Verskeie praktiese aanwysings word in hierdie gedeelte deur Paulus aan Timotheus gegee.

Onder andere ontvang Timotheus in vers 22 die waarskuwing dat hy nie haastig iemand die hande moet oplê nie – nou, handoplegging was in daardie tyd die gebruiklike ritueel by die bevestiging van ampsdraers. Ons vind enkele voorbeelde daarvan in die boek Handelinge, en ons doen dit vandag ook nog wanneer ‘n predikant vir die eerste keer in sy amp bevestig word. Wat Paulus dus met hierdie waarskuwing wil sê, is dat Timotheus nie te vinnig iemand in die amp moet bevestig nie. ‘n Soortgelyke aanwysing vind ons vroeër in hierdie brief waar Paulus die volgende voorwaarde vir die ouderlinge gee: “Hy moet nie ‘n nuweling wees nie, sodat hy nie verwaand word en in dieselfde oordeel as die duiwel val nie” (1 Tim. 3:6). Hierdie waarskuwing is waarskynlik die gevolg van dít wat Paulus net hiervoor in verse 19 en 20 bespreek het, naamlik die moontlikheid dat daar ‘n klag van sonde teen ‘n ouderling ingebring kan word.

Ja, die eise waaraan ampsdraers moet voldoen is hoog, maar nogtans moet daar rekening gehou word met die moontlikheid dat iemand ‘n gegronde klag teen ‘n ampsdraer kan inbring, en dat so iemand dan – volgens vers 20 – bestraf moet word. Teen hierdie agtergrond is dit verstaanbaar dat Paulus in vers 22 sê dat Timotheus nie te vinnig iemand in die amp moet bevestig nie: “Wees versigtig, Timotheus, vergewis jouself deeglik van daardie persone wat in die amp bevestig word; neem die tyd om mense goed deur te kyk, sodat jy tot ‘n goeie oordeel oor hulle kan kom.” Want ja, as iemand te vinnig tot die amp toegelaat word, dan is daar die risiko dat uiteindelik sal blyk dat daardie persoon nie geskik was nie. En dan sou Timotheus mede-skuldig wees as hy aan sekere persone te vinnig ‘n bepaalde funksie in die kerk gegee het. Dus, Timotheus dra op ‘n manier geestelike verantwoordelikheid vir diegene wat hy bevestig.

 

Broers en susters, die beginsel wat die apostel Paulus hier aan Timotheus deurgee, is ‘n baie gesonde een vir wanneer ons weer ampsdraers in die gemeente moet verkies. Dit is enersyds ‘n gesonde beginsel vir die kerkraad wanneer die tal gestel moet word – moenie iemand te vinnig aan die gemeente voorstel nie; laat iemand homself in leer en lewe as’t ware eers ‘bewys’. Maar andersyds is dit ook ‘n gesonde beginsel vir elke gemeentelid – wees versigtig in jou oordeel oor persone, moenie net jou eerste indruk glo nie, gee jouself die tyd om ‘n persoon goed te weeg voordat jy hom voorstel of verkies tot die amp. Immers, dit is ‘n hoë roeping wat die ampsdraers vervul. Daarom moet ons – vir sover dit menslik moontlik is – seker wees aan wie ons hierdie taak toevertrou. Moenie haastig iemand in die amp bevestig nie…

Maar, gemeente, dit wat in besonder geld ten opsigte van die ampsdraers, geld natuurlik ook in die algemeen vir ons omgang met mekaar. Ons mag hierdie reël, wat die Here binne ‘n baie spesifieke konteks gegee het, ook ‘n breër toepassing gee. Dus, ook in die gewone onderlinge omgang is hierdie gesonde reël baie belangrik: wees versigtig in jou oordeel oor ‘n ander, weeg die ander persoon deeglik en oor ‘n langer tydperk. Waak teen ‘n voorbarige en oppervlakkige beoordeling van iemand anders. Streef dus – soos wat ek in die tema reeds gesê het – na ‘n ryp oordeel oor mekaar! En so ‘n ryp beoordeling kom dikwels met tyd en na deeglike ondersoek. Ja, streef na ‘n ryp beoordeling van mekaar – hoekom eintlik? Hoekom is dit so belangrik as die uitslag alreeds klinkklaar is? Hoekom die tyd neem as iemand se sondes so duidelik is, hoekom versigtig wees in jou oordeel as iemand se goeie werke vir almal sigbaar is?

 

Weet jy, sê Paulus in ons teksgedeelte, jy is heeltemal reg; hy sê in vers 24: “Die sondes van sommige mense is baie duidelik en gaan voor hulle uit tot die oordeel…” Daar is dus dié mense wat so openlik en blatant sondig, dat dit vir enige iemand duidelik is. Dit spreek eenvoudig klinkklaar uit hierdie mense se hele houding, hulle taalgebruik, hulle kleredrag, die manier waarop hulle kyk en dinge doen. Dit vat ‘n kind om so iemand uit te ken. Hierdie mense sondig so duidelik dat, voordat hulle self nog by die eindoordeel aangekom het, is hulle sondes alreeds daar – soos Paulus in verse 24 sê: hulle sondes gaan voor hulle uit tot die oordeel.

Aan die ander kant van die munt, so sê Paulus vervolgens in vers 25, is ook die goeie werke van sommige mense baie duidelik. Dit is dié mense wat in die gemeente en in die samelewing eenvoudig uitblink in ware godsvrug – uiteraard nie deur eie krag nie, nee, dit is die Here se genade. Maar nogtans is hulle goeie werke vir almal sigbaar. En Paulus bedoel hierdie uitspraak geensins negatief nie; hy probeer nie sê dat hierdie mense daarop uit is om uit te blink nie. Dit is natuurlik wel die geval wanneer die Here Jesus in Mattheus 6:1 sê: “Pas op dat julle nie jul liefdadigheid voor die mense bewys om deur hulle gesien te word nie” – hier gaan dit wel oor mense wat raakgesien wil word. Maar nee, die mense waarvan Paulus in ons teks praat, is nie mense wat raakgesien wíl word nie; hulle loop nie te kóóp met hulle goeie werke nie. En tog is die gawes wat hulle ontvang het, en die gepaardgaande goeie werke van dien aard dat dit wel deur almal gesien word, en as sodanig ontvang hierdie mense ook erkenning.

 

Ja, gemeente, by sommige mense is hulle sondes en by ander hulle goeie werke duidelik sigbaar; jy kan dit eenvoudig nie mis nie. En daarom is die beoordeling van sulke mense ook relatief eenvoudig. Maar hierdie mense – terloops, in die kerk is hulle beslis in die minderheid – is ook nie die probleem nie, sê Paulus. Die klem van verse 24 en 25 lê nie op hierdie openlike sondaars en hierdie openlike godvrugtiges nie; Paulus wil binne die konteks van hierdie gedeelte nie ‘n punt oor húlle maak nie. Nee, die klem lê op die tweede deel van elkeen van hierdie verse! Kom ons lees weer: “Die sondes van sommige mense is baie duidelik en gaan voor hulle uit tot die oordeel, maar volg ander eers agterna. Net so is ook die goeie werke baie duidelik, en ook die wat anders is, kan nie weggesteek word nie.” Daar is dus mense, broers en susters, wie se sondes minder openlik is, asook diegene wie se goeie werke nie altyd ewe sigbaar is nie – en dit gaan vir Paulus, binne die konteks van hierdie gedeelte, oor húlle! Húlle is die rede waarom ons stadig en versigtig in ons oordeel moet wees!

 

Aan die een kant is daar diegene wie se sondes nie baie openlik is nie. Dit vind ons in besonder in die kerk; in die kerk vind jy normaalweg die mees gesofistikeerde van alle sondaars. Ja, mense kan soms soos goeie christene voorkom, hulle kan die regte woorde sê en vir die oog van mense die regte dinge doen. Ouderlinge wat op huisbesoek gaan, kan soms agterkom as hulle so iemand voor hulle het; somtyds kan jy hoor wanneer lidmate vir jou die antwoord gee wat hulle weet jy wil hoor. Maar uiteindelik sal openbaar word dat hierdie mense nie is wat hulle voorgee om te wees nie. Inderdaad, sommige sondes en ‘n sondige gees vat soms tyd om in die openbaar uit te kom. Maar uiteindelik – wanneer die dinge begin skeef loop, wanneer die vrede in die kerk versteur word, of wanneer daar moeite in die gesin of in die huwelik kom – dan tree hierdie mense se sondes aan die lig. Hierdie mense se sondes loop hulle nie vooruit nie, maar hulle sondes is soos die strepe van ‘n slak, wat hy op sy reis oor die tuinpaadjie agterlaat – jy kan dit nie dadelik sien nie, maar uiteindelik is dit tog onmisbaar.

Aan die ander kant kry ons dié mense wie se goeie werke nie altyd duidelik sigbaar is nie, mense wie se goeie werke in die geheim gedoen word omdat dit nie hulle karakter is om ‘voorgrond-werk’ te doen nie; mense met verborge gawes en deugde. Jy sien hierdie mense nie dadelik raak nie, jy weet dikwels nie wat hulle alles doen nie, en hulle is ook nie daaraan gewoond om op die voorgrond te tree nie. Eers wanneer jy goeie kontak met hulle kry, of wanneer iemand anders jou van hulle vertel, leer jy wat hulle alles doen. Dit kan nie anders nie dat vroeër of later hierdie mense se goeie werke aan die lig moet kom nie – maar hou in gedagte, gemeente, dit vat soms tyd.

 

Opsommend kan ons hierdie vier groepe mense in die kerk met die woorde van die kerkvader Hieronimus soos volg beskryf; hy sê: “Sommige mense sondig so doelbewus en opvallend, dat jy dadelik weet dis ‘n sondaar die oomblik wanneer jy hom ontmoet. Maar die sondes van ander word so slim verberg dat ons hulle slegs via ekstra inligting kan leer ken. Op soortgelyke wyse is die goeie werke van sommige mense openbare besit, terwyl die goeie werke van ander eers geken kan word deur ‘n intieme verhouding met hulle.”

Nou, broers en susters, soos ek reeds gesê het, gaan dit vir Paulus hier nie oor die mense wie se werke – hetsy kwaad, hetsy goed – duidelik gesien kan word nie. Nee, dit gaan vir hom oor dié mense wat nie so maklik beoordeel kan word nie – mense wie se sondes nie duidelik aan die lig tree nie, en mense wie se goeie werke nie altyd vir almal sigbaar is nie. Hierdie realiteit maak dat ons baie versigtig en tydsaam in ons oordeel moet wees. Moenie slegs afgaan op wat jy en almal om jou kan sien nie! Gee die verborgene die tyd om aan die lig te kom. En dit sal! Dit lê in die aard van sowel die kwade as die goeie dat dit nie verborge kan bly nie. Gee dit maar net die nodige tyd.

 

En, gemeente, dit is veral laasgenoemde waarmee ons soms nogal worstel. Ons sukkel om die nodige tyd te gee sodat die verborgene aan die lig kan kom, ons het nie altyd die geduld om tot ‘n ryp oordeel oor mekaar te kom nie. Die oordeel oor mekaar word dikwels nogal vinnig gefel. Vinnige konklusies word getrek, konklusies wat – ongelukkig! – daarna vir ‘n lang tyd, en soms vir altyd, vasstaan. En ons kinders sien dit en hulle groei daarmee op.

Daarom wil ek vandag in besonder ook die kinders waarsku: kyk hoe julle mekaar behandel, veral by die skool. Hoe dikwels gebeur dit nie dat een van die klasgenote negatief beoordeel word deur een of twee, of dalk deur die res van die groep, en vervolgens moet daardie persoon maar met hierdie etiket saamleef – hy is ‘n ‘softie’, sy skinder altyd… Wat hy of sy daarna ook al doen, maak baie min verskil; immers, hy of sy het reeds hulle plakker gekry… Ek kan vir julle mense noem – mense wat baie ouer as julle is – wat vandag nog die gevolge dra van sulke soort behandeling, mense wat vandag nog die etiket dra wat jare gelede op hulle geplak is. Die Here vra van julle dat julle baie versigtig sal wees in julle beoordeling van mekaar. Natuurlik, die sonde moet benoem word, jy mag sê as iets verkeerd is, maar wees baie versigtig. Onthou veral twee dinge: in die eerste plek kan jy nie in die hart lees nie, en daarom moet jy die nodige tyd neem om jou oordeel oor iemand te vorm; in die tweede plek kan mense verander, kan die Hére mense verander, sodat jou aanvanklike oordeel dalk verkeerd is en bygestel moet word. Laat ons dus daarteen waak om op ons Gereformeerde skole met onversigtige oordele ander te beseer of van ons te vervreem. Daarmee doen ons ook die Here ‘n oneer aan.

Andersom is dit natuurlik ook waar: daar is dalk dié kinders oor wie eenmaal positief geoordeel is, en wat daarna altyd gewild en geliefd bly. Ook vir hierdie mense geld dat ons nie in hulle harte kan lees nie; agter die mooi uiterlike skuil daar dalk baie vuil sondes – neem die tyd om dit agter te kom. En ook hierdie mense kan verander – goeie mense, kinders van die Here, kan slegte mense word, volgelinge van die bose – miskien kom jy agter dat jy jou oordeel oor hulle moet verander.

 

En dit wat vir die kinders geld, wil ek ook deurtrek na die jeug – sommige jongmense word nooit deel van ‘die groep’ nie, omdat hulle dit eenvoudig nog nooit was nie, omdat hulle vanaf hulle laerskooldae alreeds uitgesluit is. Wees bereid om die eenmaal-gefelde en onversigtige oordele te hersien. Neem die tyd om iemand eerlik deur te kyk, te ondersoek. En wie weet, dalk ontdek jy in hom of haar ‘n ware broeder of suster in die geloof, iemand wat al die tyd in die verborgene besig was met goeie werke – jy het dit net nooit geweet nie.

En ten slotte wil ek dieselfde beginsel deurtrek na die gemeente – broers en susters, laat ons baie versigtig wees in ons oordeel. Lidmate is nie altyd wat jy dink hulle is nie – soms lê daar agter ‘n mooi uiterlike ‘n kas vol geraamtes; ander kere is daar agter ‘n minder aantreklike uiterlike ‘n blomtuin vol skone werke. Neem daarom die tyd. Soos die apostel Jakobus in hoofstuk 1:19 van sy brief sê: wees gou om te hoor, stadig om te praat. Luister, kyk, ondersoek, oordink in jou hart. Dit is wysheid! En dit is verkiesliker bo die dwaas wat onmiddellik regstaan met sy oordeel, en wat met sy vinnige oordeel dinge stukkend maak in die gemeente.  

 

En, gemeente, hierdie wysheid word slegs verkry en kan slegs toegepas word deur die Gees van die liefde. Die liefde, waarvan ons so pragtig lees in 1 Korinthiërs 13, is nie daarop uit om die ander oppervlakkig en voorbarig ‘n etiket om te hang nie. Hierdie liefde is lankmoedig, hierdie liefde handel nie onwelvoeglik nie, reken die kwaad nie toe nie, is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid. Kom ons waak teen ‘n soort heksejag hier in die gemeente waar jy elke lidmaat onnoukeurig en haastig opsom en sy plakker opplak. Neem asseblief die tyd om tot ‘n ryp oordeel oor mekaar te kom. Laat die liefde van Christus, die liefde wat ons in sy lewe raaksien, jou versigtig maak. Hy, wat in staat is om die harte te lees, het tydens sy lewe op aarde so ongelooflik geduldig met mense omgegaan. Dink aan sy omgang met die Samaritaanse vrou, die vrou wat vyf mans gehad het en wat besig was om met die sesde een saam te leef (Joh. 4) – kom ons wees eerlik, ons sou blitsvinnig haar etiket opgeplak het. Maar Jesus kyk verder, en Hy gee aan hierdie vrou die water van die lewe. Dink aan sy omgang met die vrou wat in sonde gelewe het, en wat die leiers van die volk wou stenig. Teenoor haar spreek Jesus die pragtige woorde: gaan heen en sondig nie meer nie. Die God wat volmaak oordeel, is mild en geduldig. Hoeveel te meer moet ons dit dan nie wees nie?

 

Gemeente, daar is egter een plakker wat jy by elke lidmaat mag en moet raaksien, en dit is die plakker wat Jesus Christus self opgesit het, die plakker van die doop, die teken dat jy aan Jesus Christus behoort. So dikwels sien ons onder die laag met plakkers wat ons in ons onversigtigheid opgeplak het, hierdie plakker nie meer nie. Dit is die plakker wat Lindy ook vanoggend op so ‘n besondere wyse ontvang het – sy behoort nou aan Jesus. As gedooptes behoort ek en jy aan Jesus – dit is ‘n feit wat nie ontken kan word nie. En daarom: met die oordeel van die liefde gaan ons altyd uit van hierdie werklikheid: hy of sy is gedoop, hy of sy het die beloftes van God ontvang. Dit staan vas!

En dan… ja, dan vat dit tyd, soms jare, om agter te kom of die gedoopte ook met sy hart en lewe op daardie doop geantwoord het, of hy die beloftes van God ook met ‘n gelowige hart aanvaar het, of sy lewe ook strook met wat hy sê. En gee dit maar die tyd, moenie te haastig wees nie. Haastige spoed is – in besonder in dié geval – selde goed.

Amen

          

Liturgie (oggend)

 

Groet en afkondigings

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.

Sing Ps. 8:1-4

Wetslesing

Sing Ps. 4:2 en 3

Doopsformulier en –bediening

Sing Ps. 105:5

Formuliergebed

Lees:    1 Timotheus 5:17-25

            Jakobus 4:11-12

Sing Ps. 58:1 en 4

Teks: 1 Timotheus 5:24-25

Preek

Amenlied Skr. 21:4-6

Gebed

Kollekte

Slotsang Skr. 16:1, 3, 5 en 6

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)