Die vrede op aarde kom slegs via stryd!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2008-12-25
Teks: 
Lukas 2:8-14
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

 

Preek – Lukas 2:8-14; lees Lukas 2:1-20

 

Geliefde gemeentes van ons Here, Jesus Christus,

Die meeste van ons ken die verhaal van Christus se geboorte soos wat dit in die kinderbybels vir ons uitgebeeld word: Maria op die donkie met Josef langs haar, oppad na Betlehem. Die half-skemer stal met die diere wat rustig hulle kos staan en vreet, en Maria wat met ‘n sagte glimlag op haar gesig die kindjie in doeke toedraai. Die tevrede herders op ‘n wolkelose aand in die velde van Betlehem. En dan natuurlik die drie wyse manne, mooi in gelid met hul oog gerig op daardie een massiewe ster. Terloops, nêrens lees ons dat daar drie wyse manne was nie, dit is maar ‘n stukkie inligting wat later aan die verhaal toegevoeg is, maar waarvan ons niks in die Skrif lees nie.

Die kinderbybel-prentjies is dikwels die oorsaak daarvan dat die kersverhaal in ons gedagtes en belewenisse ‘n romantiese kleur gekry het – gevoelvol, verbeeldingryk, idillies en half onwerklik. En die wêreld het in hulle Kersfees-vieringe hierdie gees oorgeneem. Kersfees het vir ongelowiges (en selfs vir tradisionele kerkgangers) ‘n tyd geword van liefde en vrede tussen mense. In winkels hoor ons van ‘stille nag’ en ‘kom alle getroues’. Families kom ná lang tye weer bymekaar en groot maaltye word georganiseer; fortuine word bestee op die mooiste geskenke. Minder-bevoorregtes en armes word vir ‘n slag bederf. Dis ‘n tyd van nostalgie en geluk.

 

Maar is dit werklik Kersfees, broers en susters? As ons mooi na Lukas 2 gaan kyk, is dit hoe die geboorte van Christus vir ons vertel word? Ons wil vandag weer by hierdie gedeelte stilstaan, en wanneer ons mooi luister, sal ons ook ‘n ander toon ontdek. Inderdaad is daar die toon van vrede – die wêreld het dit goed aangevoel. Maar daar is ook ‘n ander toon, naamlik van stryd en oorlog. Daarom het ek die tema soos volg geformuleer:

Tema: Die vrede op aarde kom slegs via stryd!1.      Die heerlikheid van God, ‘n bewys van die vrede2.      Die hemelse leërskare, ‘n bewys van die stryd 

1. Oor die geboorte van die Here Jesus is daar baie min opmerklike dinge om te sê. Die geboorte vind plaas op die verwagte tyd en op die normale wyse. Niks ongewoons nie. Wat ons wel kan sê, is dat die geboorte onder nederige omstandighede plaasvind – en dan bedoel ek daarmee nie, soos wat die meeste van ons dit onsself inbeeld, dat daar vir Josef en Maria nie blyplek in Betlehem was nie, en dat hulle daarom maar hulle intrek in die stal moes neem. Immers, nêrens lees ons dat Betlehem oorvol was of dat niemand vir hulle ‘n plekkie wóú gee nie. Nee, ons kan met ‘n geruste hart aanneem dat Josef en Maria rééds in Betlehem aangekom het en rééds daar gehuisves was – moontlik by familie – voordat die kindjie gebore is.

Die probleem van ruimte kom eers na vore by die geboorte: op daardie oomblik is daar vir hulle geen ruimte en privaatheid in hulle gasteverblyf nie. In die huis, waar Jesus gebore is, was die ruimte dus skynbaar so klein én vol, dat Josef en Maria spesifiek vir die geboorte moes uitwyk na die ruimte vir die vee en dat hulle vir die nuweling slegs ‘n rustige plekkie kon kry in die voerbak. Dit alles wys nie op ‘n oorvol Betlehem of op ‘n ongasvrye behandeling van Josef en Maria nie, maar eerder op ‘n klein en armoedige huisie waar Josef en Maria tuisgegaan het – en dít is die nederige omstandighede waarin Jesus gebore word.  

 

En tog, broers en susters, is hierdie nederige geboorte belangrik genoeg om op skitterende wyse aangekondig te word. In die middel van die nag, waarskynlik kort na die geboorte van die Here Jesus, word ‘n hemelse boodskapper met die goeie nuus na die aarde uitgestuur. En sy reis vanaf die hemel bring hom uiteindelik by die herders. Hoekom spesifiek die herders? Wel, hulle was waarskynlik die eerste die beste bereikbare mense in hierdie middernagtelike uur. Hulle was wakker, besig om oor hulle skape die wag te hou. Terloops, die feit dat hulle in die nag oor hulle skape waggehou het, wys dat Jesus nie in die winter gebore is nie, maar in die somerperiode tussen Maart en November.

En skielik staan daar dan ‘n engel van die Here by hierdie wakende herders, en – so lees ons in vers 9 – die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn. Rondom wie? Rondom die herders! Ja, alhoewel die engel, as hemelse boodskapper, sonder twyfel ‘n luisterryke figuur was, val alle lig tog op hierdie oomblik op die herders. Dit gaan nou oor húlle. Húlle word omstraal deur die heerlikheid van God.

 

Broers en susters, wanneer die bybel praat van die heerlikheid van God dan gaan dit, sowel in die Ou as die Nuwe Testament, oor die uitstraling (die gloed) van God se diepste wese, die brandpunt van sy volledige karakter. God se uitstraling, sy heerlikheid, wys dat Hy voorwaar ‘n swaargewig is, Iemand wat die grootste moontlike respek verdien. En wanneer Hy met hierdie heerlikheid by sy volk in die Ou Testament verskyn het, dan was dit vir hulle die wonderlike bewys van sy aanwesigheid by hulle, van die feit dat Hy naby hulle is. Wanneer die volk, op watter wyse dan ook, God se heerlikheid kon waarneem, dan het hulle geweet dat God in hulle midde is, en dat hulle met Hom gemeenskap kon beoefen.

Maar tog, vanweë die sondes van die volk, was hierdie aanwesigheid in die Ou Testament altyd ‘n bedekte aanwesigheid, ‘n afgeskermde heerlikheid. Ons het op verskeie plekke in Exodus daarvan gelees. In Exodus 24 het ons gelees dat die heerlikheid van die Here, onmiddellik toe dit op die berg Sinai neergedaal het, deur ‘n wolk bedek is; en selfs dan nog bly hierdie bedekte verskyning van God se heerlikheid vir die volk ‘n angswekkende gebeurtenis. In Exodus 40 vind ons weereens die wolk wat die heerlikheid van die Here bedek by die geleentheid toe Hy sy intrek in die tabernakel geneem het. Die voorhangsel in die tabernakel, en later in die tempel, het ‘n soortgelyke funksie vervul – dit dien as ‘n skerm tussen God in al sy heerlikheid en die sondige volk. En, ten slotte, in Exodus 33, waar Moses die vrymoedigheid neem om vir die Here te vra om aan hom sy heerlikheid te vertoon, kry Moses maar net ‘n beperkte gedeelte van God se heerlikheid te sien – sê maar die agterkant. Want, sê die Here vir Moses, geen mens kan My sien en bly lewe nie. Ons sien dus voortdurend dat God as’t ware sy heerlikheid inhou, dat Hy dit beperk.

 

Geen wonder dat die herders daar in die velde van Juda deur groot vrees oorweldig is toe hulle met die heerlikheid van die Here omstraal is nie. Hierdie vrees is vir hulle die enigste moontlike reaksie, want onthou wat God gesê het: geen mens kan My sien en bly lewe nie. Die herders moes verseker gedink het dat hulle einde aangebreek het. Maar opmerklik, broers en susters, die engel verklaar hierdie besondere gebeurtenis juis op die teenoorgestelde wyse. Die omstralende lig van God se heerlikheid is in hierdie besondere nag juis nie dodelik vir sondige mens nie – moet daarom nie vrees nie, “want kyk, ek bring julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees” (vers 10).  

Nou is dit belangrik dat ons hierdie woorde van die engel mooi in konteks sal lees. Want wanneer ons in vers 10 hoor van die goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees, dan dink ons waarskynlik onmiddellik dat dit verwys na vers 11 – na die Saligmaker en Christus wat gebore is. Maar dit is nie die beste opsie nie, broers en susters, want die Saligmaker ís reeds gebore (verlede tyd), terwyl die goeie tyding vir die hele volk sál wees (toekomende tyd). Nee, hierdie goeie tyding van groot blydskap dui nie vooruit na vers 11 nie, maar eerder terug na vers 9: die heerlikheid van God, wat rondom die herders geskyn het, dít is die goeie nuus. En daarby is hierdie heerlikheid van God by die herders nie slegs vir húlle bedoel nie. Nee, dit wat hulle hier in die middel van die nag beleef, is slegs ‘n voorproef; wat hier vir ‘n kort oomblik met die herders gebeur, sal in die toekoms vir die héle volk wees! Ja, dít is die goeie tyding van groot blydskap, dat God in al sy onbedekte heerlikheid by sy hele volk wil kom woon! Wat ‘n vreugde wag daar vir die volk; geen dood meer wanneer die onbedekte heerlikheid van God oor hulle straal nie, maar lewe! En die herders is die lewende bewys hiervan, hulle verteenwoordig as’t ware die hele volk wat met verloop van tyd ook almal in hierdie heerlikheid sal deel.

 

In vers 11 hoor ons vervolgens hoe hierdie belofte van vers 10 moontlik is: “Want [dit is hoe ons die eerste woord van vers 11 die beste kan vertaal] want vir julle is vandag in die stad van Dawid gebore ‘n Saligmaker wat Christus, die Here, is.” “Want” – gemeente, hier lê dus die grond van God se belofte dat sy heerlikheid sy hele volk sal omstraal. Deur die geboorte van ‘n redder, ‘n saligmaker, word dit moontlik gemaak dat die hele volk sal deel in die heerlikheid van God. Deur hierdie redder se betaling van die skuld van die volk maak Hy dit moonlik dat God en mens weer in vrede met mekaar kan saamwoon.

Sien u, broers en susters, dit wat dit herders daar op die velde van Judea beleef het, en waaroor hulle hulself morsdood geskrik het, is in werklikheid die begin van die herstel van God se teenwoordigheid by die mens, soos wat Hy dit van die begin af bedoel het. Waar dit na die sondeval, deur die hele tyd van die Ou Testament, altyd só was dat die mens wat God gesien het nie kon bly lewe nie, word dit by die geboorte in Betlehem juis omgedraai. Nou is die mens wat God nie sien nie, en wat nie in sy heerlikheid woon nie, nou is dáárdie mens die een wat nie kan bly lewe nie. Waar die teenwoordigheid van God in die Ou Testament altyd ‘n bedekte voorafskaduwing was, het dit met die geboorte van Christus verander. Nou is die bedekking weggeneem, en die skaduwee het verander in die werklikheid. God het by ons gekom in al sy heerlikheid, en ons mag in daardie heerlikheid lewe! Dít is die goeie nuus van Kersfees: God en ek, God en ons, lewe weer saam, lewe weer in harmonie! En dit alles deur die geboorte van die redder in Betlehem.

 

Die wêreld is dus heeltemal reg wanneer hulle die Kerstyd bestempel as ‘n tyd van vrede en harmonie, maar al probleem is: hulle het die bron en die rede vir die vrede verwyder. Die wêreld het oorgebly met ‘n Christuslose vrede – dít, broers en susters, is geen vrede nie. Want sonder Christus is dit nie moontlik om met God te lewe nie, is dit nie moontlik om met sy heerlikheid omstraal te word nie. Die wêreld se sogenaamde vrede is dus in werklikheid ‘n doodse stilte, weg van die heerlikheid van God, sonder hoop en sonder God.

En ons dan? Wel, deur die geboorte van die redder in Betlehem mag ons lewe binne die ligkring van God se heerlikheid. Deur ‘n persoonlike verhouding met Jesus Christus mag ons met vreugde die belofte ontvang wat die engel aan die herders gemaak het: dít wat julle nou beleef, sal vir die hele volk wees. Daardie belofte is ons s’n. Want ons is God se volk, ons lewe as gelowiges in die lig, God is by ons. Nie net vandag nie, maar elke oomblik van elke dag. Ja, inderdaad, ons lewe in ‘n donker wêreld, en in ‘n soms donker tyd, maar wie in Jesus Christus glo, lewe binne die kollig van God se genade.

Dit is soos ‘n toneelstuk, waar die hele verhoog in duister gehul is, behalwe vir daardie een plek waar die skynwerper sy ligkol laat val. God is daardie skynwerper, en ek en jy mag binne sy ligkol lewe. En waar die lig van God se heerlikheid skyn, daar is lewe en daar word die lewe nuut. Saam met my vrou mag ek in die kollig gaan staan, en dan belowe die Here dat ons huwelik nuut en mooi sal word; saam met my gesin mag ek in die kollig gaan staan en dan word my gesin gesond en mooi; as gemeente mag ons saam in die kollig gaan staan, en bemerk dan die skoonheid van die nuutgemaakte gemeente. Dit, broers en susters, is die genade van God se heerlikheid vir elkeen wat in Jesus Christus glo. Kom en beleef hoe goed dit is wanneer God en mens weer in vrede met mekaar kan lewe!

In die tweede plek: die hemelse leërskare, simbool van die stryd.

 

2. Die engel gee nog vir die herders ‘n teken: julle sal ‘n Kindjie vind wat in doeke toegedraai is en wat in die krip lê (vers 12). Dit is ‘n skreiende kontras: enersyds die glorie van die geboorte-berig, en andersyds die nederigheid van die geboorte self. Teenoor die heerlikheid van God wat die herders omstraal het, moet ons hoor van ‘n onaansienlike geboorte êrens in ‘n stal. Maar, broers en susters, hierdeur word vir ons juis iets gewys van die áárd van die werk van die redder. Vrede tussen God en sy volk sal die resultaat wees van hierdie redder se werk, maar die werk sélf sal nie sonder stryd wees nie; hierdie redder sal as dienskneg in ‘n oorlog betrokke wees. En die Kindjie in die voerbak van die diere is hiervan die teken.

Maar gelukkig, ons word nie veel tyd gegun om by hierdie stryd stil te staan nie, want skielik staan daar saam met die engel ‘n menigte van die hemelse leërskare wat God prys. En ja, dan weet ons wat gaan volg, en in ons koppe begin ons al neurie: “Ere aan God!” Of in die woorde van Gesang 90, wat ons net na die erediens gaan sing: “Herders op die ope velde, het die nag die engle’koor, met die blye evangelie, uit die hemel aangehoor…” Ja, dit is wat ons graag sien – ‘n hemelse koor, kompleet getooi met togas, in netjies rye met soprane, alte, tenore en basse, terwyl hulle die lied van oorwinning sing. Maar, gemeente, nêrens lees ons dat die engele ‘n koor gevorm het wat al singende God geprys het nie. Dit is ‘n persepsie wat ons het, en wat met tyd gegroei het, maar dit is daarby ook ‘n persepsie wat dreig om die ware betekenis van die leërskare uit die hemel te verdoesel.

 

Want ons het hier nie te make met ‘n koor nie, maar met ‘n leërskare, ‘n weermag, ‘n afdeling soldate – ja, dit is wat hierdie woord in die Grieks beteken. En die ooreenstemmende Hebreeuse woord, wat dikwels in die Ou Testament gebruik word, dui op presies dieselfde. Hier word dus duidelik gebruik gemaak van die beeld van oorlogvoering, geestelike oorlogvoering. Die satan en sy leërskare voer oorlog teen die Here en sy leërskare, in besonder tydens Jesus se lewe op aarde. En hier, in ons teksgedeelte, word die toneel van hierdie oorlogvoering vir ons geskets. Kersfees, broers en susters, is die begin van oorlog!

En dit is presies wat Johannes ook in sy eerste brief aan sy lesers sê; hy sê in hoofstuk 3:8: “Vir hierdie doel het die Seun van God verskyn, om die werke van die duiwel te verbreek.” En ons kan maar weet dat die gevoel wedersyds was, want die satan was net so sterk daarop uit om Jesus en sy werk te verwoes; die satan het elke moontlike manier gebruik om Jesus te verhoed om aan die kruis te sterf en so sy taak, wat Hy van die Vader ontvang het, te voltooi. Oorlog tussen Jesus en satan, tussen Jesus se leër en die leër van die satan – dit is die realiteit van daardie eerste Kersnag. En in die evangelies vind ons talle voorbeelde van hierdie stryd.

 

Dink maar net aan Jesus se voortdurende stryd met die demone. Die eerste keer vind ons in Markus 1, waar ons die onreine gees hoor uitroep: “Wat het ons met U te doen, Jesus, Nasarener? U het gekom om ons te verdelg!” Inderdaad! En ‘n besondere voorbeeld van Jesus se stryd met die demone vind ons in Markus 5, die verhaal van die besetene van Gadara. Wanneer Jesus vir die bose gees vra wat sy naam is, is die antwoord ‘Legio is my naam, want ons is baie’ – nou, ‘n legioen was ‘n romeinse afdeling wat oor die algemeen uit 5400 voetsoldate en 120 perderuiters bestaan het. Hierdie arme man van Gadara was dus besete deur ‘n komplete weermag van bose geeste. Maar hierdie weermag word uiteindelik deur Jesus gedoem tot ‘n waterdood wanneer die trop varke van die krans af in die see storm.

Verder, broers en susters, kan ons ook dink aan die talle kere wat die satan probeer het om Jesus dood te maak, in die hoop om Hom te vernietig op enige ander manier as die kruisdood wat God bepaal het. Dink byvoorbeeld aan die bose optrede van Herodes, satan se werktuig, toe hy al die seuntjies van Betlehem van twee jaar en jonger laat doodmaak het met die doel om die nuutgebore koning uit die weg te ruim. Dink aan die versoeking in die woestyn toe die satan Jesus van die dak van die tempel wou laat afspring, ‘n hoogte wat Hom verseker sou laat sterf het. En dink ook in besonder aan Jesus se arrestasie in die tuin van Getsemane, toe Petrus met sy swaard die hoëpriester se dienskneg se oor afgekap het – ons het daarvan gelees in Mattheus 26. Hierdie was nou ‘n ideale geleentheid vir Jesus om aan sy vervolgers te ontkom. Maar daarby sou Hy ook sy roeping versaak, presies wat die satan wou gehad het. Jesus gee egter nie hieraan toe nie en Hy genees die oor van die dienskneg. En baie belangrik is dan wat Jesus vervolgens vir Petrus sê: “Of dink jy dat Ek nie nou my Vader kan bid en Hy vir My meer as twaalf legioene van engele beskikbaar sal stel nie?”

 

Baie belangrike woorde! Want hierdie beskikbaarheid van legioene van engele op Jesus se bevel, dít is die leërskare daar op die velde van Judea in die nag van sy geboorte. Jesus is in hierdie wêreld gebore, en ‘n oorlog het vir Hom gewag, baie veldslae moes geveg word. Satan was daarop uit om enige iets te doen om Jesus te vernietig. Maar reg vanaf die begin, by sy geboorte alreeds, staan die geestelike soldate gereed om Jesus te dien, om oorlog te voer namens die Seun van God. Hulle is gereed om te veg teen die geestelike leërskare van die boosheid wat Jesus wil vernietig.

Die “Ere aan God” is daarom geen koorsang nie, maar ‘n strydkreet. Soos wat soldate leuses uitroep, so klink die veelstemmig strydkreet van die hemelse leër. En die besondere strydkreet van die engele maak duidelik dat hulle volledig seker is van die oorwinning: Eer aan God in die hoogste hemele. Deur die genade van hierdie HERE van die leërskare daal die hemelse vrede op aarde neer, en hierdie vrede bestaan daarin dat God ‘n welbehae in mense het. Dit het alreeds baie duidelik geblyk toe die heerlikheid van die Here die herders in die veld omstraal het, en groot vreugde vir die hele volk belowe is. En die leërskare van engele beaam hierdie boodskap van die eerste engel; saam verheug hulle hul oor die verlossing en die genade wat mense sal ontvang deur die gebore redder.

 

Broers en susters, die hemelse leër bied geen rede tot prentjies van liewe engeltjies met sagte vlerkies nie. Inteendeel, hierdie hemelse leër is vir ons die bewys van Christus se bloedige stryd hier op aarde, ‘n stryd wat uitloop op sy dood aan die kruis. Daar behaal Hy die oorwinning; die oorlog is gewen!

Maar intussen duur die stryd voort. Ons, wat sy volgelinge is, ken daardie stryd, ons voel dit in ons daaglikse lewens. Ons voel dit in die aanvalle van die satan; ja, hy gaan rond soos ‘n brullende leeu; hy weet dat hy verloor het, maar hy soek daarna om so veel as moontlik verloorders saam met hom in die verderf te sleep. Daarom moet ons elke dag die stryd aangaan, moet ons daarvoor veg om staande te bly.

Maar weet, broers en susters, dat ons nie alleen is nie. Net soos wat die Seun van God ‘n hemelse leërskare gehad het om namens Hom te veg, so staan die engele ook gereed tot ons hulp. God stuur hulle uit, en gewillig en met vreugde volbring hulle die taak om God se kinders te dien. Soos wat ons lees in Psalm 91:11: “want Hy sal sy engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou weë.” Nooit is ons alleen nie, daar is geen tree van ons lewenspad wat ons alleen moet deurgaan nie. Altyd is God by ons, altyd sorg Hy deur sy hemelse leër van engele dat ons vorder op die pad totdat ons op sy tyd die bestemming bereik. En ontvang daarom aan die einde van hierdie erediens met vertroue die seën van die Here: Hy sal jou seën en jou behoed, Hy sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, Hy sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Vrede op aarde deur die Kind van Betlehem. Maar… die vrede kom slegs via stryd – mag Hy sy engele stuur om jou te bewaar.

Amen

Liturgie (oggend)

 

Groet en afkondigings

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.

Sing Skr. 4:3-5

Lees Geloofsbelydenis

Sing Ps. 9:1, 4, 5, 7 en 10

Gebed

Lees:    Exodus 24:16-17, 33:18-23, 40:34-38

            Mattheus 26:47-56

            Lukas 2:1-20 (en teks: 2:8-14)

Sing Ps. 138:2-4

Preek

Amenlied Ps. 103:2, 9-11

Gebed

Kollekte

Slotsang Skr. 31

Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)