Die kerk is geen twispunt nie, maar geloofstuk!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2008-12-21
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 21
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – HK, Sondag 21; lees Efesiërs 2, Openbaring 1:9-20

 

Broers en susters, kerk van ons Here Jesus Christus,

Lidmate in die VGK is oor die algemeen baie ernstig oor die kerk; ons kan praat van ‘n duidelike kerkbegrip onder ons lidmate, ‘n kerkbegrip wat jy op baie ander plekke in ons land nie sal vind nie. Ons kinders groei van jongs af hiermee op, hulle word van kindsbeen af blootgestel aan ‘n bepaalde erns met die kerk, aan die kenmerke van die ware kerk, en aan die roeping om jou by die ware kerk te voeg. Die klassieke vraag wanneer een van ons jongmense ‘n kêrel of ‘n meisie kry, is: Is hy of sy lid van die kerk? – wat daar ookal presies hiermee bedoel word… En by ons is daar nie, soos in die Afrikaanse susterkerke, die gewoonte dat die vrou outomaties by die kerk aansluit waar die man ‘n lidmaat is nie; nee, van die egpaar word verwag om hulle by die ware kerk aan te sluit. Nou, gemeente, hierdie erns met die kerk is iets wat gedeeltelik verklaarbaar is vanuit die historiese agtergrond van die VGKSA, en ons mag die Here dankbaar wees dat daar soveel erns met die kerk gemaak word.

Die gevaar, egter, wanneer een aspek van die christelike leer so dominant is, soos wat die kerk onder ons dikwels geword het, is dat ‘n mens tog onbewustelik ‘n bepaalde eensydigheid of ongebalanseerdheid ontwikkel. Byna al die ander aspekte van die leer word dan geplaas binne die raamwerk van ‘die kerk’, en so maklik begin ons onsself beskou as die beskermers van die leer van die kerk. Met die nadelige gevolg dat die kerk onder ons dikwels ‘n voortslepende twispunt word – in die gesinne word daar dan altyd gestry oor die kerk, tydens sosiale kuiertjies onder mekaar is die kerk ‘n voortdurende ‘warm’ onderwerp, en die sinodehandelinge is vol van hartseer hoofstukke waarin gestry is oor die kerk.

 

Vir alle duidelikheid, broers en susters: die kerk sal in hierdie bedeling altyd stryd ken; die kerk in hierdie bedeling is inderdaad ‘n strydende kerk. Maar of daar altyd óór die kérk gestry moet word…?

Hoe heerlik verfrissend is dan Sondag 21 van die Heidelbergse Kategismus. Teenoor die kerk as twispunt, bely die Kategismus die kerk as geloofstuk!  

Tema: Die kerk is geen twispunt nie, maar geloofstuk! En die redes hiervoor is drievoudig:

1.      Jesus Christus en sy werk van kerkbou

2.      Jesus Christus en sy werk van gemeenskapstigting

3.      Jesus Christus en sy werk van vergifnis

 

1. Gemeente, het u al ooit mooi gekyk na die figuur in Openbaring 1, daardie figuur wat vir Johannes lyk soos die Seun van die mens? Johannes het skynbaar heelwat tyd gekry om goed na Hom te kyk, want hy gee vir ons ‘n gedetaileerde beskrywing van hierdie figuur. En daarom sal ons goed daaraan doen om die details in ons op te neem, juis ter wille van ons onderwerp van vandag. Kom ons kyk…

 

Een soos die Seun van die mens – Johannes beskryf hierdie hemelse besoeker vir ons as ‘n gedaante vol skitterende majesteit. Hy het ‘n kleed aan wat tot op die voete hang, net soos die Joodse priesters uit daardie tyd. Hy is verder gegord om die bors met ‘n goue gordel, wat ‘n aanduiding is van koninklike glorie; goud was immers die mees kosbare edelmetaal van daardie tyd. Sy hoof en hare is wit soos wit wol, soos sneeu, en dit dui op veelheid van jare en goddelike wysheid. Sy oë is soos ‘n vuurvlam – dit deurdring alles, sien alles en weet alles; iemand met sulke oë moet verseker ‘n bekwame Regter wees. Sy voete is soos blink koper wat gloei soos in ‘n oond, en dit dui op die brandende heiligheid van hierdie Persoon, sowel as die heiligheid van elke plek waar Hy sy voetstap plaas. Die geluid van sy stem is net so indrukwekkend soos die bruisende golwe rondom die eiland Patmos, waar Johannes op daardie stadium as banneling vertoef het.

Verder hou Hy in sy regterhand sewe sterre, en volgens vers 20 is die sewe sterre ‘n aanduiding van die gesante, die boodskappers, wat met ‘n spesifieke boodskap na elkeen van die sewe gemeentes uitgestuur word. Ook gaan daar ‘n skerp tweesnydende swaard uit sy mond uit, wat dui op sy woord wat in die wêreld uitgaan en die menslike gedagtes blootlê en die skeiding van die geeste openbaar maak. En dan ten slotte nog ‘n samevattende beskrywing: sy aangesig, dus sy hele uiterlike, is soos die son wat skyn in sy krag, een en al majesteit.

 

Gemeente, dit is hierdie menslike figuur met al sy goddelike uitstraling wat aan Johannes op Patmos verskyn. Johannes sien in Hom priesterlike, koninklike en regterlike kenmerke, en hy besef: méér as die keiser is hier (en onthou: dit is deur die keiser se toedoen dat Johannes in ballingskap verkeer het)! En wanneer Johannes dit alles in hom opgeneem het, val hy magteloos, soos ‘n dooie, voor hierdie onbekende figuur neer. Wie kan dit tog wees?

Met ‘n bemoedigende gebaar lê hierdie figuur egter sy regterhand op Johannes: “Moenie vrees nie, Ek is die eerste en die laaste en die lewende; en Ek was dood en kyk, Ek leef tot in alle ewigheid. Amen.” Dit gaan hier oor Jesus Christus, broers en susters, Hy wat dood was, maar wat opgestaan het uit die dood, en nou vir ewig lewe. Hy is die eerste en die laaste – aan die begin is alles in Hom geskape, aan die einde sal alles in Hom voltooi word. Hy is die God wat lewe in Homself het, en as sleuteldraer van die doderyk en van die dood, beskik Hy ook oor die lewe en dood van ander. Hy is die Seun van God, die Lewende. Aan Hom die heerlikheid en die eer tot in alle ewigheid!

 

Baie mooi, maar wat is nou die doel van hierdie uitgebreide beskrywing? Glorie en majesteit en lewe, ja… maar vir wat? Vir wie? Vir die kerk, broers en susters! Vir die gemeente, vir elke gelowige! Immers, hierdie Seun van die mens is die Een wat, volgens hoofstuk 2:1 tussen die sewe goue kandelaars wandel. En die sewe goue kandelaars, so het ons gelees in hoofstuk 1:20, is die sewe gemeentes. Dus, die Seun van die mens staan in al sy glorie – al die glorie wat ons sopas beskryf het – reg in die middel van die kérk. Die Lewende God is die sentrum van die kérk! Die kerk is sýne, die kerk is sý werk, hierdie gemeente is die produk van sý heerlikheid en almag. Elke keer weer, broers en susters, sal ons onsself daaraan moet herinner: Christus is Here van sy kerk! Dit is nie óns gemeente nie, maar die gemeente van Jesus Christus. Dit is nie óns predikant nie, maar die gesant van Jesus Christus, ‘n ster in sy regterhand. Óns hoef nie die kerk te verdedig nie; die kerk het haar eie – meer as bekwame – Beskermheer!

En dit is hierdie perspektief wat ons – veral gesien ons historiese agtergrond van kerkstryd – nooit moet vergeet nie. Dit is hierdie perspektief wat die Kategismus so weergaloos onder ons aandag bring wanneer die vraag gestel word: “Wat glo jy van die heilige, algemene Christelike Kerk?” En die antwoord? Dat ons… Nee, verkeerd! Dat ek… Nee, weer verkeerd! Dat die Seun van God vir Hom ‘n gemeente vergader…” Ja, dit is die antwoord op vraag 54. Die kerk is ‘n geloofstuk, want Jesus Christus bou dit! Dit is die kern van ons belydenisantwoord oor die kerk. Wanneer ons dus praat oor die kerk, dan praat ons altyd oor Jesus Christus, en oor Hom alleen!

 

En gaan kyk maar hoe hierdie kern vervolgens in elke aspek van antwoord 54 uitgewerk word. Die Kategismus laat ons nie toe om onsself uit hierdie kernbelydenis uit te wikkel nie; die Kategismus laat geen ruimte vir ons of vir my bydrae nie. Slegs die Seun van God. Kyk maar saam met my na die verskillende aspekte van antwoord 54…

Heel eerste: dat die Seun van God uit die hele menslike geslag vir Hom ‘n kerk vergader. Dit is baie duidelik dat bloed, ras en bodem, dinge wat vir ons mense so maklik bepalend word wanneer dit gaan oor die grense van ‘ons’ kerk, vir die Seun van God geen rol speel by sy kerk nie. Hy bou sy kerk uit alle volke, nasies en tale. Hy laat Hom nie beperk deur sy mispersepsies van ‘n bepaalde ras nie; sy kerk is nie taalgebonde nie. Want Jesus Christus is die Seun van God, Hy is Gód, Hy staan bó sy kerkvergaderende werk. En daarom: ryk of arm, hooggeplaas of verag, wit of swart, Afrikaans of Sotho, slim of gebreklik… ag, dink ons regtig dat Hy Hom daardeur laat beperk? Let wel, ek sê nie dat Hy hierdie gegewens onbelangrik ag nie, maar dit is vir Hom beslis nie bepalers in sy kerkbou-werk nie.

Vervolgens, dat die Seun van God vir Hom ‘n gemeente vergader wat tot die ewige lewe uitverkies is – weereens, gemeente, blyk hieruit baie duidelik dat die kerk die werk van die ewige Seun van God is. Ons mense, ons rig verenigings op, ons werf lidmaatskap, ons probeer lede op allerhande maniere gelukkig hou. Maar in die kerk van Christus is die aantal lidmate reeds voor die grondlegging van die wêreld vasgestel – 144 000! – en elkeen van hierdie lidmate is met hart en siel deel van die kerk. Kyk maar na die einde van antwoord 54: ek is ‘n lewende lid, en ek sal dit ewig bly!

En verder: die Seun van God vergader vir Hom ‘n gemeente deur sy Gees en Woord in die eenheid van die ware geloof – weereens is duidelik dat die kerk nie mensewerk is nie. Christus se werk van kerkbou is nie soos party-politiek nie. Selfs die sterkste party in die Suid-Afrikaanse politiek het onlangs nog bewys dat waar mense iets probeer bou, daar altyd skeuring en onenigheid sal wees. Maar Christus vergader van bo-af, deur sy Woord en Gees, en die resultaat is altyd ‘n eenheid, ‘n onverbreekbare eenheid. Nog nooit het die kerk geskeur nie, en nooit in die toekoms sal dit die geval wees nie. Dit is die wonder van die eenheid van Christus se kerk.

En die laaste: die Seun van God vergader vir Hom ‘n gemeente van die begin van die wêreld af tot die einde toe – kan sterflike mense dít doen? Nee, slegs Hy, wat die Eerste en die Laaste is, is in staat om iets op te bou wat duursaam is, wat die toets van die tyd deurstaan. Koninkryke kom en gaan; partye maak naam en verdwyn uiteindelik weer in die vergetelheid, mense word beroemd, maar sterf en word vergeet. Niks in hierdie werklikheid bestaan van begin tot einde nie. Nét die werk van God Almagtig, en die kerk is só ‘n werk.

 

Gemeente, sien u uit al hierdie aspekte dat die Kategismus vir jou en my nie ruimte laat nie. O ja, daar is ruimte vir ons in die kerk; deur geloof in Jesus Christus mag ons deel in sy genade. Maar wanneer dit gaan oor die bou van die kerk, dan sê ons: aan U alleen die eer! Wanneer dit gaan oor die gemeente van Maranata, dan sê ons: prys die Lam van God vir sy wonderdade. Geen kerkraad, geen predikant, geen kommissie, geen lidmaat kom hier ter sprake nie. Die Seun van God – Hy vergader, beskerm en onderhou hierdie gemeente. Dít wat jy hier om jou heen sien, dit kom van bo af. O ja, dis gebrekkig, hier word foute gemaak, die dinge loop nie altyd soos wat dit moet nie. Maar dink daaroor na: bloot die feit dat hier ‘n kerk is, dat hierdie gemeente vanaand kerk toe gekom het – dit is ‘n werk van die Seun van God.

En dit maak ons enersyds klein – dít wat in ons gemeente gebeur, is hemelse wonderwerke; as ons dit moes doen, sou dit jammerlike misluk het. Andersyds gee dit ongelooflik rus – die gewig van ons gemeente lê nie op ons skouers nie, want ons is gebou op die fondament van die apostels en die profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is. Op Hom rus ons, in Hom berus ons. Ek glo in Jesus Christus, en dáárom glo ek ‘n heilige, algemene Christelike kerk.

Vervolgens: Jesus Christus en sy werk van gemeenskapstigting.

 

2. Nadat ons bely het: “Ek glo aan ‘n heilige, algemene Christelike kerk”, vervolg die belydenis met die woorde: “die gemeenskap van die heiliges.” En dikwels dink ons dan: goed, die kerk is dus Christus se werk, maar die gemeenskap van die heiliges is sekerlik ons verantwoordelikheid. Maar, gemeente, op dié manier skei ons wat in die belydenis ‘n eenheid is. Die gemeenskap van die heiliges is nie ‘n aparte saak naas die kerk nie; nee, die kerk is die gemeenskap van die heiliges: ek glo ‘n heilige, algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges! Die kerk waaroor ons sopas in die eerste punt gepraat het, is sélf die gemeenskap van die heiliges. En daarom is dit vanselfsprekend dat ook hierdie gemeenskap van heiliges voluit ‘n werk van die Seun van God is.

Die gemeenskap van die heiliges – gemeente, dit sê dus iets oor die karakter van die kerk. Die kerk is nie die gemeenskap van mense wat dieselfde mening het nie. Want dan kon ons sê: kies die mense wat jou pas, soek ‘n predikant wat preek soos jy daarvan hou, en sommer gou-gou is ons klaar: die kerk as gemeenskap van gelykgesindes. Nee! En verder is die kerk ook nie die gemeenskap van enerse ras en kleur nie, want dan was die lyne amper nog makliker. Maar die kerk is nie die gemeenskap van gelykgesindes of van rasgelykheid nie – want dan het die kerk mensewerk geword. Nee, die kerk is die gemeenskap van die heiliges, sondaars wat Christus deur sy bloed terugbring uit die toestand van verdorwenheid na die toestand van heiligheid en waarheid.

 

En, gemeente, hierdie heiliging veronderstel heel eerste ‘n gemeenskap van die heiliggemaakte sondaar met God. Wanneer ons hoor van die gemeenskap van die heiliges, dan dink ons dikwels onmiddellik op ‘n horisontale vlak – die verhouding met mekaar. Maar voor dít skep Christus eers ‘n band met God. So lees ons in Efesiërs 2 dat ons lewend gemaak is saam met Christus en saam met Hom opgewek is en saam met Hom in die hemele sit. Of vanuit ‘n ander hoek beskryf Paulus dit in dieselfde hoofstuk só dat Christus die evangelie van vrede kom verkondig het, en deur Hom het ons toegang deur die Gees tot die Vader.

Ja, daar kom ‘n verhouding met die drie-enige God op gang. En, gemeente, wat is kerk-wees in sy wese anders as dit? Wat is kerk-wees in sy wese anders as om deur die Woord en die Gees ‘n persoonlike verhouding met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus, te hê? Is dit nie wat ons hier aan mekaar verbind nie, naamlik dat ons almal as lede met die Here Christus gemeenskap het? Verstaan ons nog hierdie aspek van ons kerk-wees? Wanneer ons praat van kerk-wees, dan spring ons gedagtes dikwels heel eerste na die kenmerke van die ware kerk – die prediking, die sakramente en die bediening van die tug. En watter skatte van genade het ons nie hierin ontvang nie; moenie dink dat ons daarsonder kan klaarkom nie. Maar moet óók nie ons kerk-wees daarin laat opgaan nie. Suiwer prediking, suiwer bediening van die sakramente en die regte bediening van die tug is nooit ‘n doel in sigself nie. Hierdie kenmerke het altyd ‘n groter doel, naamlik om ons in die geheimenisvolle verbondenheid met Christus te bring – Hy in my en ek in Hom.

 

En eers daarná en daaróm volg ook die gemeenskap met mekaar. Ons het immers in Efesiërs 2 gelees hoe Christus, wat vir ons die toegang tot die Vader verdien het, ook die middelmuur van skeiding afgebreek het tussen Jode en heidene, Hy het die evangelie van vrede kom verkondig aan die wat ver was – die heidene – en aan die wat naby was – die Jode. Jood en heiden, Nederlander en Afrikaner, blank en swart word so deur Christus in een liggaam verenig. Alle heiliges is, deur Christus, almal saam huisgenote van God, een gebou, goed saamgevoeg tot ‘n heilige tempel, ‘n woning van God in die Gees.

Maar onthou: dit is nie deur jou en my toewyding nie; dit is nie ons verdienste of verantwoordelikheid nie. Nee, in Christus, deur sy Woord en sy Gees, gaan sit ek langs die ander en sê ek: “Broerder, suster, kom laat ons saam lewe, saam bid, saam stry.” In Christus, en deur sy Woord en Gees, neem ek gewillig die verpligting op my om my gawes tot nut en saligheid van die ander lede aan te wend.

 

En uit dit alles groei dan ook die diepe belewenis van die gemeenskap – in hierdie volgorde! As die Here eers moes wag vir ons belewenis van die gemeenskap, en dán eers die gemeenskap kon skep, nou ja, dan sou Hy nog lank gewag het. Want die kerk is na sy menslike kant dikwels maar ‘n treurige saak. Maar gelukkig is die gemeenskap van die heiliges daar; die Seun van God skep dit voordat ek dit soek of beleef. En daaruit volg dan ook die belewenis van samehorigheid, daaruit volg die band en die binding aan een Heilige Gees. Daaruit volg die omgee en die sorg en die liefde wat die lede van die een liggaam aan mekaar wil gee.

Ten slotte let ons nog kortliks op Jesus Christus se werk van vergifnis.

 

3. “Ek glo ‘n heilige, algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges” – ja, ons kan heeltemal verstaan hoekom dié twee saam behandel word. Maar hoekom die Kategismus ook nog die vergewing van sondes byvoeg, is vir ons nie heeltemal duidelik nie. Dalk moet dit eerder apart behandel word. En tog voeg ons dit saam. Hoekom? Omdat, broers en susters, die Here van die kerk die sondes vergewe binne die gemeenskap van die kérk! Die feit van die kerkvergadering en die feit van die sondevergifnis gaan altyd saam – so bely ons dit mos ook in artikel 28 van die NGB: buite die kerk is daar geen saligheid nie. Aan sy werk van kerkvergadering verbind Christus die waarborg van die vergifnis van sondes!

Nee, daarmee sê ons nie dat iemand buite die kerk nooit van sy sondes vergewe word nie. In hierdie werk van genade moet ons die Here vrylaat. Maar óns word, vir die vergewing van ons sondes, wél aan die kerk gebind. As die Here dus sê: Ek vergader my kerk, en aan hierdie vergader-aksie verbind ek die gawe van sondevergifnis, dan kan ek nie anders nie as om te sê: “O God, bring my asseblief in die kerk!” En dan kan ek nie anders nie as om te bid dat Egipte, Babel, Filistyn en More, en ook Tirus in die kerk gebring mag word (Ps. 87 berymd), sodat hulle ook vergifnis mag ontvang. Want ons heilsfontein, ons fontein van vergifnis en nuwe lewe, ons heilsfontein – Jesus Christus! – stroom neer uit Sions walle.  

 

Die kerk – strydpunt? Soms, ja. Maar meer dikwels behoort dit ‘n saak van die grootste vreugde te wees. Laat ons as kerke daarom ook iets van die wonderbare skoonheid en vreugde van die werk van Christus met mekaar en met die wêreld deel. Die kerk ken stryd, verseker, maar die kerk is veral ‘n saak van vreugde – kom ons sing nou van daardie vreugde uit Ps. 87.

 

Liturgie (aand)

 

Groet en afkondigings

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.

Sing Geloofsbelydenis

Gebed

Lees:    Efesiërs 2

            Openbaring 1:9-20

Kollekte

Sing Ps. 116:7-10

Teks: HK, Sondag 21

Preek

·        Na 1ste punt: Skr. 8:1 en 2

·        Amenlied: Ps. 87

Gebed

Slotsang Skr. 8:3-5

Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)