God herstel die tuin van die lewe!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2008-12-14
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 20
Verwysing: 
HK 20-1
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 Preek – HK, Sondag 20; lees Hosea 14 

Geliefde gemeente van ons Verlosser, Jesus Christus,

Die lewe van ‘n christen word dikwels ‘n ‘nuwe lewe’ genoem – God gee nuwe lewe vir mense wat in duisternis en sonde gelewe het. Nou, wanneer ons praat van nuwe lewe, dan roep dit uiteraard beelde op van vreugde en skoonheid; die nuwe lewe is iets vars en fris. Die nuwe lewe laat ‘n mens dink aan ‘n stralende lente-oggend – die koue is uit die lug, die natuur begin ontluik, mense en diere voel aan dat ‘n nuwe seisoen oppad is.

Broers en susters, ervaar u die nuwe lewe van die geloof ook op dié manier? U geloof in Jesus Christus – is dit iets wat elke dag ook weer nuwe vreugde verskaf? En julle, jongmense – is die geloof iets wat skoonheid aan julle lewe verleen? Of is die geloof vir jou die ysterketting en -bal aan jou enkel wat jou verhoed om die lente van jou lewe te geniet? So ervaar ons dit dikwels, nie waar nie? Die geloof is vir ons baie belangrik, ons is bly met die nuwe lewe, maar ag, hoe baie dinge moet ons nie daarvoor inboet nie, hoeveel beperkings bring dit nie mee nie. Sondae is nie meer ‘n dag waarop ek my dinge kan doen nie, Vrydagaande kan ek nie kuier soos wat ek wil nie, en gedurende die week moet ek bybelstudie toe gaan terwyl ek eintlik iets anders wou gedoen het. Die nuwe lewe voel nie altyd so nuut en lewendig nie…

 

Maar, gemeente, dit is nie hoe God dit bedoel het nie. Die nuwe lewe is nie bedoel as ‘n beperking van vreugde en genietinge nie; die nuwe lewe is nie ‘n onderdrukking van ons mens-wees nie. Inteendeel, die nuwe lewe in Christus is die pad terug na ware mens-wees, soos wat dit in die paradys, die tuin van Eden, geheers het. Die nuwe lewe is die lewe waarin die Gees alles mooi en nuut maak, die lewe waarin die Gees alles kom herstel! Die nuwe lewe is ‘n lewe deur die Gees! Broers en susters, kom ons luister – na  aanleiding van Sondag 20 – hoe die Here daaroor praat in Hosea 14.

Tema: God herstel die tuin van die lewe!

  1. Die gawe van die dou
  2. Die skoonheid van die lelie
  3. Die krag van die Libanon
  4. Die vrug van die sipres

 

1. Die profeet Hosea was werksaam in die Noorde van Israel, in die tienstammeryk. Hy het geprofeteer in die tyd van Jerobeam II en sy opvolgers, en waarskynlik het hy nog gelewe toe die tienstammeryk ongeveer 70 jaar ná Jerobeam II deur Assirië in ballingskap weggevoer is. Interessant genoeg was die tydperk waarin Hosea opgetree het die hóógtepunt van die mag van die tienstammeryk. Rykdom en weelde het alom geheers. Onder al hierdie voorspoed het Hosea se profesie dus waarskynlik nie ‘n goeie gehoor gevind nie – immers, wie wil na doemprofete luister wanneer dit goed gaan?

Maar die omstandighede het spoedig begin verander – bedreiging van buite-af, sowel as interne verswakking het veroorsaak dat Israel geleidelik sy ondergang tegemoet gegaan het. En uiteindelik in 722 v.C. is hierdie deel van God se volk in ballingskap weggevoer.

 

Hosea het jare voor die tyd al van hierdie onheil geprofeteer. Deur sy hele boek sien ons die komende dreiging en straf van die Here. Kyk maar net na die eerste vers van hoofstuk 14: “Samaria [dit is ‘n ander naam vir Israel of die tienstammeryk] sal daarvoor boet, omdat hy weerspannig was teen sy God; hulle sal val deur die swaard, hulle kinders sal verpletter en hulle swanger vroue oopgesny word.” Verskriklike beelde…

In hoofstuk 14:2 e.v. doen Hosea ‘n laaste oproep tot die volk om na die Here terug te keer. En nie met offediere nie, nee, met woorde – woorde van berou en bekering. Hosea roep die volk op om nie lammers of stiere as offerdiere te bring nie, maar om hulle líppe as offerdiere aan te bied. Hy roep hulle op om eenvoudig voor die Here te bely dat dit verkeerd was om hulle vertroue op mense en wapentuig te stel (op Assirië en op perde) en dat hulle op dié manier vir hulself afgode gemaak het. Hosea wil die volk sover bring dat hulle weer by die Here alleen hulle hulp en krag vind.

 

Nou moet ons onthou, gemeente, dat die skuldbelydenis wat ons hier vind, nie woorde van die volk was nie; dit was ‘n skuldbelydenis wat Hosea vir hulle aangedra het, woorde wat hy as’t ware prematuur in hulle mond gelê het. Maar skaars is Hosea klaar met hierdie woorde van skuldbelydenis of die Here reageer al: “Ek sal hulle afkerigheid genees, hulle vrywillig liefhê, want my toorn is van hulle afgewend.” Sien u, Israel het nog glad nie eens skuldbelydenis gedoen nie, dit is nog maar net ‘n suggestie van Hosea aan ‘n afvallige volk, maar die Here spring al daarop af: Ék sal dit in hulle werk, Ék sal hulle genees, Ék sal vrywillig – sonder toedoen van hulle kant af – hulle liefhê! Die toestand van die volk is op daardie stadium nog haglik, daar is nog niks in hulle optrede wat die Here se reaksie vereis nie. Om die waarheid te sê, die volk is eintlik besig om weg te kwyn. En tog belowe die Here nou alreeds nuwe lewe.

 

Hosea beskryf hierdie nuwe lewe met ‘n baie treffende beeld: dou. Die Here wil sy volk, danksy sy genade, sy dou, weer soos ‘n pragtige tuin maak wat bloei en uitsprei. Nou, broers en susters, vir ons is dou ‘n bekende verskynsel, iets alledaags – dit trek nie werklik ons aandag nie, omdat ons net so goed daarsonder sou kon klaarkom. Maar vir die inwoners van Palestina was die dou geweldig belangrik. Palestina is naamlik ‘n land met ‘n winterreënval. Die somertyd (tussen April en September), wat ook die plant-, groei- en oestyd is, is dus sonder reën. Die enigste bron van vogtigheid gedurende hierdie belangrike groeityd was die dou, wat in sommige gebiede tussen 20 en 40mm per maand kon wees. Vir sommige somergewasse soos mielies, spanspekke en die gras vir dierewyding, was die dou gedurende die droë somermaande onontbeerlik. En ons sien die belang van die dou byvoorbeeld in die aankondiging wat Elia in 1 Konings 17:1 aan koning Agab maak: “… daar sal geen dou of reën in hierdie jare wees nie, behalwe op my woord” – die dou word eerste genoem, en dan eers die reën. Ons sien dit ook wanneer Isak in Genesis 27 vir Jakob seën en vervolgens ook ‘n uitspraak oor Esau maak – in beide uitsprake speel dou ‘n belangrike rol: vir Jakob sal die dou volop wees, maar Esau sal ver wees van die dou van die hemel.

 

Gemeente, met behulp van hierdie beeld wys die Here dat Hy vir sy volk, wat besig is om weg te kwyn, nuwe lewe sal gee – deur sy Heilige Gees. Die Gees van die Here is vir die volk soos die dou – absoluut onontbeerlik, lewensnoodsaaklik, sonder die Gees is daar vir die volk van die Here geen bestaansmoontlikheid nie. Só afhanklik sal die nuwe Israel, die lewendgemaakte volk van God, van die Gees van God wees. Die dou wat van bo-af kom, en wat nuwe lewe en lewenskrag gee, wat vreugde en skoonheid in die lewe van God se kinders gee, hierdie dou sal God se seën vir die nuwe Israel wees.

En ons sien die verwerkliking van hierdie belofte op die Pinksterdag, wanneer die Gees uitgestort word. Net daarvoor het Christus as oorwinnaar na die hemel opgevaar, Hy het die dood oorwin, Hy het die nuwe lewe vir ons verdien. Vervolgens laat Hy die Gees soos dou uit die hemel neerdaal om die nuwe lewe nou ook ‘n werklikheid in menselewens te maak. Op daardie oomblik begin God bou aan sy wêreldwye, alle-eeue-omvattende, alle-volke-omvattende, nuwe Israel! ‘n Israel wat nie daarna soek om sy vertroue te stel op menslike bondgenote nie – soos wat die volk op Assirië vertrou het – of wat staatmaak op menslike middele – soos wat die volk op perde staat gemaak het –, maar wat van die Here alles verwag. ‘n Israel wat, deur die Gees, aan Christus en al sy weldade deel kry. Die Heilige Gees is die lewensbeginsel van hierdie nuwe volk!

 

Gemeente, wanneer ons daarom deel is van hierdie nuwe Israel, wanneer ons deel is van die nuwe paradystuin wat God besig is om aan te lê, dan kán ons nie sonder die dou bestaan nie; ons sal wegkwyn en doodgaan as ons in ons geloofslewe sonder die Gees moet klaarkom. Deur die loop van die geskiedenis was daar in kerke van gereformeerde belydenis altyd ‘n huiwering om te veel klem te plaas op die Gees en sy werk. En daar is inderdaad gevare aan ‘n oorbeklemtoning van die werk van die Gees. Maar gemeente dit beteken nie dat ons op een of ander wyse sonder die Gees kan klaarkom nie! Besef baie goed: om vol te wees van die Gees van Christus, om die lewegewende dou uit die hemel te ontvang vir die tuin van jou lewe, is nie opsioneel nie. Dit is ‘n móét! Jy kan nie sonder die Gees lewe nie!

Soek daarom na hierdie dou! Soek na die Heilige Gees… op die regte plek! Moenie die eredienste versuim nie, want dis hier waar die dou neerdaal – koel en verfrissend. Moenie verslap in jou persoonlike bybelstudie nie, daar waar jy saans voor jy gaan slaap die bybel oopmaak, want dis daar waar die dou neerdaal. Moenie verslap in jou bywoning van die gemeentelike bybelstudies nie, want dis daar waar die dou neerdaal. Jongmense, moenie die jeugverenigings versuim of in die voorstudie verslap nie – want daar, hoe gebrekkig die besprekings ook al mag wees, dáár is die lewe!

Ja, gemeente, deur die Woord ontvang ons die Gees; hierdeur word ons bedou! Is dit skouspelagtig? Nee, dikwels nie. Meestal baie eenvoudig. Die dou daal immers ook nie met groot fanfare uit die hemel neer nie. Nee, saggies, baie stil – as jy soggens opstaan en buitentoe loop, dan is die dou daar. So is dit ook met die Gees – stilweg, sonder groot ophef, eenvoudig deurdat jy by die Woord van die Here lewe, kom maak die Gees woning in jou lewe, kom maak Hy jou lewe nuut. As jy daarom ‘n christen is wat by die geopende Skrif lewe, dan mag jy die Gees verwag, dan mag jy God aanspreek op sy belofte van dou, soos Hy dit hier in Hosea 14 gegee het. En ervaar dan hoe die lewe nuut word!

Daarop wil ons vervolgens let: die skoonheid van die lelie.

 

2. In vers 6 wys Hosea vervolgens op die gevolge van die dou, dit wat die Heilige Gees in ons lewens uitwerk. En die eerste wat hy noem, is die skoonheid van die lelie. Die lelie is in die bybel die beeld van subtiele skoonheid. Ons Heiland het self daarop gewys toe Hy gesê het dat Salomo in al sy heerlikheid nie bekleed was soos die lelies nie (Matt. 6:29). Dus, broers en susters, deur die dou van die Gees begin die christene bloei soos die lelies. En dit is nie ‘n opdringerige skoonheid nie, dit is nie ‘n skoonheid wat bewondering soek nie. Nee, dit is ‘n innerlike skoonheid, dit is ‘n skoonheid van die hart, wat deurwerk na die hele lewe.

Die wedergebore mens, wat aangeraak is deur die hemelse dou, word anders. Hy wat deur Christus geregverdig is, word nou ook geheilig. En dit is belangrik om hierdie twee – regverdiging en heiliging – saam raak te sien, broers en susters. Wie slegs tevrede is met die regverdigmaking, stel homself tevrede met ‘n halwe Christus. Die doel van die genade in Christus is juis dat ons nou ook aan die skoonheid van Christus gelyk word, dat die lelike sonde in ons lewens verdryf word deur die skoonheid van die genade.

 

En die Gees skep daardie skoonheid. Dáár waar Hy self woon, word dit nuut. Daarom is daar in die Skrif ook die voortdurende oproep om nie op die uiterlike te fokus nie. Petrus sê in sy eerste brief vir die vroue: “Julle versiering moet nie uiterlik wees nie: haarvlegtery en omhang van goud en aantrek van klere nie, maar die verborge mens van die hart in die onverganklike versiering van ‘n sagmoedige en stille gees, wat baie kosbaar is voor God.” En in 2 Korinthiërs 5:12 impliseer Paulus dat ons ons nie moet beroem op die uiterlike nie, maar op die hart.

En dit is moeilik in hierdie wêreld. Ons sien om ons heen hoe die mense van hierdie wêreld ander mense se waarde bepaal op grond van die uiterlike, die glans en die vonkel van hierdie lewe. Mense behang hulleself en hulle lewens met alle moontlike versiering en mooi dinge, net om die vuilheid van die hart te verberg. Die christen het nie nodig om dit te doen nie, want die christen se skoonheid kom uit ‘n totaal ander bron, sy skoonheid kom uit die hart, waar die Gees vernuwend werksaam is. En dit is ‘n duursame skoonheid, gemeente, ‘n skoonheid wat ons nie elke tweede jaar hoef te vervang nie, ‘n skoonheid wat nie elke nou en dan oorgedoen moet word nie. Nee, dit is ‘n skoonheid wat die toets van die tyd deurstaan.

Dít wil die Gees in ons lewens bereik, broers en susters, dat ons lewens weer mooi word, dat ons lewens weer dié skoonheid begin vertoon wat daar eertyds in die paradys was. En hier op aarde maak die Gees alreeds ‘n begin daarmee. Ons bombastiese geaardheid maak dan plek vir sagtheid, ons word mild in ons oordele, dit wat ons sê word wys en met sout besprinkel, ons lewenswandel word heilig. Ons begin dan die skoonheid van die goddelike lewe vertoon – in al ons woorde, in al ons dade, en selfs in die gedagtes van die hart word die skoonheid van die paradys sigbaar – hy sal bloei soos ‘n lelie.

Vervolgens sien ons ook die krag van die Libanon

 

3. Hosea voeg nog iets by. Behalwe dat God se volk onder die dou van die Gees begin bloei soos die lelie, sal hy ook sy wortels uitslaan soos die Libanon. Dit is ‘n heeltemal ander beeld wat die profeet hier na vore bring. Eers die tere en beeldskone lelie, en nou die magtige Libanon. Daarmee wil die Here deur sy profeet sê dat die volk, en ook elke gelowige, sy wortels diep sal inslaan in die aarde, net soos die Libanon wat onbeweeglik vasstaan. Gemeente, hierdie aanvulling is pragtig, maar dit is ook noodsaaklik…

Want die lelie is beeldskoon, maar … verwelklik. So is die kerk van die Here egter nie, so is die gelowige ook nie. Die kerk en die christen het die skoonheid van die lelie, maar tegelykertyd ook die onverganklikheid en vastheid van die Libanon. Die skoonheid sal dus gepaard gaan met krag.

 

Gemeente, so maak die Gees dus nie slegs ons lewens mooi en nuut nie, maar ook sterk! Ons is nie soos eenjaarsblommetjies wat vinnig weer verwelk nie, ons word nie deur ‘n enkele storm in ons lewens omver gegooi nie. En die storms gáán kom; die bybel skep geen illusie asof die gelowige nie hewige storms sal deurmaak nie. Nee, natuurlik gaan die storms kom – ons kry almal te make met dood in ons lewens, ons kom in ongelukke, ons word ernstig siek, ons is nie vry van werkloosheid en finansiële nood nie, ook ons kry te make met mense wat ons probeer ondermyn en wat ons naam deur die modder sleep, ook ons jongmense is soms in verhoudings waarin hulle seerkry en verwerp word.

Maar gemeente, sien dan die werk van die Gees in jou lewe, die Gees wat jou stewig plant in vrugbare grond, die Gees wat sorg dat jou wortels na alle kante uitsprei, die Gees wat sorg dat jy deur alle moeites en krisisse heen, vasstaan. Dat óns, te midde van alle onheil en ellende in hierdie wêreld, nie wankel nie, is Goddelike werk: “God is ‘n toevlug in die nood, ‘n rots wat altyd vas bly staan; al dreig die vyand met die dood, ons sal nie beef of rugwaarts gaan!” Die Gees sorg daarvoor dat jy nie jou skoonheid en jou heerlike geur verloor nie. Deur alle trane heen, bly jou prag soos dié van die olyfboom wat heeljaar deur groen bly; in al jou sorge bly jou geur herkenbaar vir die wêreld om jou heen, die vars en heerlike geur van die Libanon.

 

Skoonheid en krag – dit is wat die dou van die Gees werk in die lewe van God se kinders. ‘n Skoonheid en ‘n krag wat heilsaam is vir ons omgewing – kyk maar na vers 8. Mense kom sit onder die skaduwee van die Libanon – daar gaan dus vrede en rus van die kinders van die Here uit, en ander mense kom soek daardie rus. Daar sal weer koring verbou word – dus, mense raak weer besig met opbouende dinge. Hulle self sal bloei soos die wingerdstok – dus, deur die skoonheid van die christene begin ook ander mense bloei. En die roem daarvan sal wees soos die wyn van die Libanon – dus, die invloed van die christene sal meebring dat die mense om hulle heen dieselfde vrugte begin vertoon.

Broers en susters, ons het as christene so ‘n verantwoordelike en pragtige taak in die gemeente en in hierdie wêreld. Die dou van die Gees maak van ons ander mense, nuwe mense – en dit het effek: die sigbaarheid en die geur van die christene werk in hierdie wêreld deur. Die skoonheid en die krag word alom bekend. En ons loof Hom wat al hierdie dinge werk – die Heilige Gees!

Ons let ten slotte nog op die vrug van die sipres.

 

4. In vers 9 spreek die Here vir Efraïm, die tienstammeryk, liefdevol aan. Die Here verseker sy volk dat Hy niks meer met die afgode – waardeur die volk skuldig geword het – te doen het nie, d.w.s. dat Hy nou klaar met hulle daaroor gestry het. Die Here verhoor die gebed van skuldbelydenis wat Hosea die volk in die mond gelê het, en Hy sien die volk aan in sy guns.

Vervolgens gebruik Hosea nog ‘n laaste beeld uit die plantewêreld waarmee hy die Hére beskryf, of eintlik: waarmee die Here Homself beskryf. Die Here sal naamlik wees soos ‘n groen sipres. Nou, die sipres was in Israel volop bekend; dit was deur sy hoë, vertikale groei ‘n monument van skoonheid, en daarby was hierdie bome ook dwars deur die jaar groen. Uit die vervolg blyk egter dat Hosea die beeld van die sipres baie vrylik gebruik, want die Here sê verder in vers 9: “…uit My word jou vrug gevind” – en dít terwyl die sipres nie ‘n boom is wat vrug dra nie.

 

Wat die Here hier deur Hosea vir sy volk wil sê, is dat ons skoonheid en krag, wat ons deur die Heilige Gees ontvang, nie iets is wat kom en gaan nie. As gelowiges wat op Christus bou en deur die Gees gevoed word, is ons nie die eendag daar en die volgende dag nie meer nie. Nee, ons vrug is immers uit die sipres – die sipres wat die hele jaar deur groen is, nooit sy groen blare verloor nie… Dít is die versekering vir God se kinders, wat in hulleself swak en sondig is en bly, naamlik dat die Here immergroen is. Sy Gees, waardeur ons mooi en sterk word, verdwyn nie net skielik nie; die aanwesigheid van sy Gees in ons lewens wissel nie maar saam met die seisoene nie. Daarom stel ons ook die verkeerde vraag wanneer ons sê: “Hoe weet ek dat die Gees nooit van my sal wyk nie?” Onthou, soos wat die sipres immergroen is, so is die Here altyd dieselde; en soos wat die Here altyd dieselfde is, so mag ons weet dat die dou van sy Gees nooit sal ophou nie.

Gemeente, om as christen deur die Gees te lewe, is nie ‘n waagstuk nie: “Kom ons begin maar, en dan kyk ons hoe lank dit hou.” Nee, geen waagstuk nie, maar sekerheid in God se belofte! Ek sal vir Israel wees soos die dou; my Gees sal Ek van Hom nie wegneem nie. Immers, Christus het dit verdien, Christus het daarvoor gesterf. Hy het die reg verwerf om die Gees voortdurend op sy kinders uit te stort. En dit verwoord die Kategismus pragtig wanneer ons lees dat die Gees ewig by my bly. Solank as wat ek op Christus bou, gaan die Gees nooit van my af weg nie; voortdurend is Hy hier in my werksaam, skaaf en beitel Hy aan my skoonheid en krag, maak Hy die skoonheid net nog mooier, en die krag net nog sterker. Die Gees vat my saam na die paradys waar die tuin van my lewe weer volmaak sal wees, waar die skoonheid van die lelie en die krag van die Libanon vir ewig sal bestaan.

Broers en susters, vind jou krag in die dou van God se Gees. Drink daardie dou in, en bemerk dan hoe jou lewe nuut word, bemerk dan hoe die lewe hier in die kerk nuut word, hoe die gemeenskap van die heiliges begin funksioneer. Broers en susters, wees skoon, wees sterk! Heilige Gees, skenk dit aan ons!

Amen

 

Liturgie (oggend)
Groet en afkondigings

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 133

Wetslesing

Sing Skr. 14

Lees: Hosea 14

Kollekte

Sing Ps. 72:8-10

Teks: HK Sondag 20

Gebed

Preek

Amenlied Ps. 92:6 en 7

Gebed

Slotsang Ps. 29:3-5

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

 

Liturgie (aand) 
Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.Sing Ps. 133Lees: Hosea 14KollekteSing Ps. 72:8-10Teks: HK, Sondag 20GebedPreekAmenlied Ps. 92:6 en 7GebedBelydenis van geloof

Bevestiging en slotsang Ps. 29:3-5

Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)