Let op, die hemele het vir ons oopgegaan!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2008-11-30
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 18
Verwysing: 
HK 18-1
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – HK, Sondag 18; lees 1 Johannes 2:1-2, Efesiërs 2:4-7, 2 Korinthiërs 5:1-10

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Dit is opmerklik om te sien hoe baie aandag die Kategismus bestee aan die historiese feitlikheid van Christus se hemelvaart, aan die feit dat die hemelvaart werklik gebeur het en nie maar net iets van die dissipels se verbeelding was nie. En dit sou nie so opvallend gewees het as die Skrif dit ook gedoen het nie. Maar die Skrif doen dit juis nie! Mattheus en Johannes vermeld in hulle evangelies niks van die hemelvaart nie, terwyl Markus en Lukas dit met ‘n enkele sin afmaak. In die boek Handelinge word daar ‘n bietjie meer aandag aan bestee, maar tog ook nie so baie nie. Waarom nou ‘n hele vraag en antwoord wy aan die historiese gebeurtenis van die hemelvaart?

Wel, gemeente, ons kry in die tyd waarin die Kategismus opgestel is, Lutherane (volgelinge van Maarten Luther) wat beweer het dat Christus se liggaam met sy hemelvaart nie letterlik in die hemel opgeneem is nie, maar eerder dat sy liggaam met sy hemelvaart vergoddelik is, met die gevolg dat Christus as mens, liggaamlik, nou oral teenwoordig is. Christus is dus nou sowel in sy Godheid as in sy mensheid alomteenwoordig…

 

En híérteen gaan die Kategismus in, eers deur in v/a 46 die feitlikheid van die hemelvaart weer te gee; Jesus se hemelvaart is geen verhaal nie, maar iets wat werklik gebeur het. Die Kategismus stel dus dat Christus as mens van vlees en bloed werklik van die aarde af weggegaan het, verplaas is, na die hemel toe, voor die oë van sy dissipels. Hy is, na sy mensheid, nie meer hier op aarde nie. Maar vervolgens – in v/a 47 en 48 – gaan die Kategismus verder deur die onderskeid tussen Christus se menslike en goddelike natuur te verduidelik. Wat sy mensheid betref is Hy inderdaad nie meer by ons nie, as mens is Hy nou in die hemel; maar wat sy godheid betref is Hy alomteenwoordig! Wat sy godheid betref is Hy hier by óns, maar is Hy terselfdertyd ook verenig met sy mensheid in die hemel. Die feit dat Hy in sy mensheid in die hemel is, maar in sy godheid alomteenwoordig is, beteken dus nie ‘n skeiding in sy menslike en goddelike natuur nie.

Maar gemeente, laat ons hier nie in dooie teorie verval nie; dit wat ons sopas bespreek het moet nie net ydele spekulasie wees nie. En daarom wil ons, net soos die Kategismus in vraag 49, vervolgens die vraag stel: wat is die nut van dit alles vir ons? Wat help dit jou en my dat Christus op dié manier na die hemel opgevaar het?

Ek verkondig aan u die goeie nuus van Christus se hemelvaart onder die volgende tema:

Tema: Let op, die hemele het vir ons oopgegaan!

  1. Hoor ons Advokaat
  2. Sien ons Borgsom
  3. Ervaar ons Deposito

 [Lees eers 1 Johannes 2:1-2]1. Gemeente, so maklik begin ons die hemelvaart ervaar soos wat die dissipels dit ervaar het, en begin ons voel soos wat hulle daar in Handelinge 1 moes gevoel het – bedroef en alleen en verwese. Jesus het ons alleen agtergelaat, nou moet ons sonder Hom klaarkom. So graag sou ons, soos tydens sy lewe op aarde, Hom by ons wou gehad het. Ten minste kan ons Hom dan sien, ten minste kan ons dan met Hom praat en kan Hy ons vashou en ons Hom. Inderdaad, sou dit nie mooi gewees het nie? Verlang jy ook op dié manier na die Here Jesus?Maar, broers en susters, as ons so redeneer, dan verstaan ons nog nie heeltemal met watter doel Jesus presies na die aarde toe gekom het nie, dan begryp ons nog nie die belang van sy menswording nie. Want Jesus het nie mens geword sodat mens weer met mens kon omgaan nie, sodat vlees en bloed mekaar kon aanraak en vashou nie. Uiteraard dit ook, maar Jesus het heel eerste mens geword sodat die mens weer met Gód kon omgaan. God en mens moes versoen word! Sonder hierdie werk van die Here Jesus sou hemel en aarde vir altyd geskei gebly het, twee aparte wêrelde sonder kontak. Sonder hierdie werk sou God in die hemel en ons op die aarde los van mekaar gebly het – tot vernietiging en tot ondergang, nie van God nie, maar van jou en my. As die hemel geslote gebly het, sou dit op aarde pikdonker gebly het, pikdonker en doodstil, hel op aarde tot in alle ewigheid.  Miskien onthou u nog dat dit in die paradys anders was. Dáár was hemel en aarde oop vir mekaar, dáár was toegang van die een na die ander. God het met die mens gewandel in die tuin in die aandwindjie, en andersom kan ons seker wees dat die mens – op watter wyse dan ook – onverhinderde toegang tot God gehad het. Die tweerigtingverkeer tussen God en mens het geblom in daardie geboorte-uur van die wêreld! Maar die sonde het hierin ‘n abrupte einde gebring. Die hemel het vir die aarde ‘n geslote gebied geword, die mens kon nie meer by God kom nie, ook al het hy dit op lagwekkende wyse probeer doen by die toringbou van Babel.  En, gemeente, dít was dan ook presies die doel van Jesus se menswording – Hy het na die aarde gekom om versoening te bring tussen God en mens; Hy het mens geword om die skeidsmuur van die sonde weg te neem en die hemel weer vir ons oop te maak; Hy het mens geword sodat die omgang met God weer ‘n realiteit kon word, sodat jy en ek weer kan bid. Vir die gelowige is daar dus, deur die werk van Christus, in beginsel alreeds ‘n stukkie hereniging van hemel en aarde! Die groot skeiding is opgehef, die duister is verbreek, ‘n lig het opgegaan, ‘n helder stralebaan skiet deur die donker wolke. Deur die werk van Christus skyn God se vriendelike aangesig weer oor ons. Ons lewe onder ‘n oop hemel! Maar wat van die sondes wat ek nog elke dag doen? Kan ek met my vuil voete op die hemelvloer voor God se troon gaan kniel? Durf ek dit waag om met ‘n onrein hart en met onrein hande sy aangesig op te soek? Sal God se vriendelike aangesig ook vriendelik bly? Ja, ons twyfel soms of ons met ons sondes voor God se aangesig kan verskyn. Immers, die eenmalige offer van Jesus Christus aan die kruis is nou al amper tweeduisend jaar gelede gebring. Gaan hierdie offer nie een of ander sy rakleeftyd bereik nie? Val my sondes van vanoggend en vanmiddag nog binne die vervaldatum? Broers en susters, dit is hier waar ons die eerste soet vrug van Christus se hemelvaart mag smaak. Jesus het immers hemel toe gegaan om daar sy plek aan die regterhand van die Vader in te neem. Hy sit daar – uiteraard as God – maar ook as mens! As mens met ‘n verheerlikte liggaam (Fil. 3:21). Maar hoe lyk daardie verheerlikte liggaam? Wel, dit is ‘n verheerlikte liggaam waarin die tekens van sy versoeningsoffer duidelik sigbaar is – onthou maar hoe Hy sy opstanding, toe Hy alrééds ‘n verheerlikte liggaam gehad het, vir Thomas die geleentheid gegee het om aan die merke in sy hande en sy sy te kom vat, en luister maar hoe praat Johannes in Openbaring 5:6 oor die verheerlikte Christus in die hemel: ‘n Lam asof Hy geslag is. Die verheerlikte liggaam van Christus dra dus tot in ewigheid die tekens van sy versoeningswerk. Ewig sigbaar waar Hy aan die regterhand van die Vader sit.  En gemeente, só gebruik Christus dit ook. Sy verheerlikte-liggaam-vol-met-gate gebruik Hy om die Vader telkens weer te herinner aan sy werk, vir jou en my. Elke keer wanneer jy en ek met ons gebede by die Vader kom, wanneer ons soek na die omgang met die Vader, verdien ons om afgewys te word, verdien ons om skuldig bevind te word in die hemelse hof. Maar elke keer – dink daaraan! – letterlik elke keer wanneer ek in geloof tot God spreek – selfs nog voordat my woorde die hemel bereik het – dan staan die Seun van sy troon af op, draai Hy Homself effens na links na die Vader toe, lig Hy sy hande op en sê: “Vader, hierdie gelowige mag gehoor word, hierdie kind moet verhoor word. Want kyk na my hande, kyk na my sy – híér is die bewyse van sý onskuld, híér is die bewyse van háár geregtigheid voor U.”Ja, gemeente, ons het iemand wat vír ons praat, ‘n Advokaat in die hemelse hof. As iemand gesondig het, ons het ‘n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige – só het ons gelees in 1 Johannes 2. Hierdie Advokaat of Voorspraak het die mees waterdigte regsgrond denkbaar: sy bloed. Hy pleit vir ons op grond van sy offer. Daarom mag ons daarvan verseker wees dat die Vader na ons wil luister. Christus het vir ons die weg na die troon van God gebaan. Meer nog, Hy het vir ons die weg na die Vaderhart gebaan. Gaan daarom met vrymoedigheid na die troon van genade, soos die Hebreërskrywer sê – Jesus is daar, jou Advokaat sal jou saak behartig, gaan praat met die Vader… deur Hom! Vervolgens: sien ons Borgsom.  [Lees Efesiërs 2:4-7 en 2 Korinthiërs 5:1-10]2. Ja, gemeente, deur die sonde was die hemel vir ons geslote. Die mens het nie meer toegang tot God gehad nie. O nee, die probleem was nie dat ons mense was nie, maar eerder dat ons sondige mense was. Die sónde is die groot boosdoener, die sónde is die groot oorsaak van skeiding. En deur die sonde het die aarde, wat eintlik ons woning was, nou ons tronk geword. Ons was, deur die sonde, gevangenes op aarde; geen uitkomkans nie, geen moontlikheid om die hemel binne te gaan nie, gedoem tot ‘n lewe sonder hoop en sonder God in die wêreld. Hoe groot en omvangryk hierdie aarde ook al is, sonder God is die aarde soos ‘n verlate eiland in die uitgestrekte oseaan. En die mens is vasgekeer op hierdie eiland…Maar, soos wat ons reeds gehoor het, Christus het gekom om hierdie Godverlatenheid op te hef. Ons lewe nou weer onder ‘n oop hemel; ons het deur ons gelowige gebede nou weer toegang tot die Vader in die hemel. Maar, broers en susters, kom ons wees eerlik: is dít uiteindelik die hoogste doel? Vind ons toegang tot die Vader in die hemel, nadat daardie toegang weer geopen is, sy hoogste uiting in ons gebede? Is daar nie iets meer en iets beter nie?  Kom ons gebruik weer die beeld van die verlate eiland in die uitgestrekte oseaan as verduideliking: word die man op die verlate eiland, nadat hy uiteindelik gevind is, maar net daar gelaat, met slegs ‘n internetverbinding om eposse te kan stuur? Tog sekerlik nie. Nee, hy word deur die eerste die beste reddingsboot opgelaai en teruggebring na die vasteland waar hy weer van aangesig tot aangesig met sy medemense kan gaan lewe. Nou, is dit nie uiteindelik ook die doel van ons bestaan nie?  Ons leef tans nog deur geloof, en ons kommunikasie met God deur die gebed is ook ‘n geloofsaak, maar verlang ons nie almal na die tyd van aanskouing nie? Is dit nie uiteindelik die doel dat ons God weer van aangesig tot aangesig sal sien nie, dat ons as mense wat na liggaam en gees God se beeld is ook weer Hom sal aanskou nie? Dit is mos wat vir ons belowe word, dit is mos wat ons bely! Luister hoe pragtig praat Job daaroor in hoofstuk 19:26: “En nadat hulle so my vel afgeskeur het, sal ek nogtans uit my vlees God aanskou.” Job het die lewende verwagting gehad dat hy as mens God sal sien. Is dit ook ons verwagting, of is ons tevrede om vir ewig ons hande te vou, ons oë toe te maak en te bly bid? Verstaan my reg, broers en susters: ek sê nie dat gebed minderwaardig is nie, maar ek vra wel: is gebed, in die vorm waarin ons dit vandag ken, die hoogste vorm van omgang met God? Vir nou wel, ja, maar ons sien mos uit na die dag waarin ons oop-oë, met God hier reg voor ons, sal bid! Ons sien uit na die dag waarin ons met ‘n nuwe liggaam op ‘n nuwe wêreld van aangesig tot aangesig met God sal wandel. Ons sien uit na die dag wanneer geloof oorgaan in aanskouing, heerlike en eerstehandse aanskouing van ons God en ons Verlosser!Immers, ons lewe hier op aarde is ‘n tydelike een. In 2 Korinthiërs 5 vergelyk Paulus ons bestaan met dié van ‘n tent – ‘n tent is altyd ‘n tydelike woonplek; nou slaan ons hom op, môre slaan ons hom weer af en trek ons verder. So is ons lewens hier op aarde tydelik, dit is ‘n pegrimstog na iets beters. Soos Paulus in vers 7 sê: tans wandel ons nog deur geloof en nie deur aanskouing nie. En daarom sug ons ook en voel ons beswaard en verlang ons om met ons woning uit die hemel oorklee te word.  Nou, broers en susters, dit is hier waar ons die tweede vrug van Christus se hemelvaart mag smaak. Want toe Christus deur die Vader as ware mens in die hemel opgeneem is as bewys van sy oorwinning oor die sonde en die dood, toe is ons menslike natuur ook weer toegelaat in God se heerlike paleis; wat voorheen verbode terrein was – geslote vir ons – is nou in beginsel weer toeganklik vir die mens. In Christus se menslike natuur daar in die hemel is ons natuur verteenwoordig en ingesluit en toegelaat. Christus se liggaamlike aanwesigheid in die hemel is dus die betroubare waarborg dat Hy eendag ook óns na Hom toe sal neem. So betroubaar is hierdie waarborg wat ons in die hemel het, dat Paulus in Efesiërs 2:6 kan sê dat God die Vader ons saam met Christus opgewek en saam laat sit het in die hemele in Christus Jesus. Asof dit alreeds ‘n werklikheid is, stel Paulus dat ons saam met Christus in die hemel sit. Iets wat dus nog wag op vervulling, word vir ons voorgestel as werklikheid. Dit is ons voorland, broers en susters! Ja, deur die sonde was ons gevangenes hier op aarde, nie omdat die aarde so sleg is nie, maar omdat ons sonder God en sonder hoop was. Maar Christus het opgevaar na die hemel en daar is sy menslike liggaam ons borgsom. Hy het ons borg betaal; ons sál uit die gevangenis kom; vir ons wag die vryheid saam met God! Leef in daardie verwagting – die mens Jesus Christus is in die hemel, Hy sal my binnekort by Hom voeg! Ten slotte: Ervaar ons Deposito. 3. Alles goed en wel, maar intussen moet ons nog hier op aarde lewe. Christus het van ons af weggegaan na die hemel, ons kan Hom nie daar sien nie. Ons Advokaat en ons Borgsom is vir ons oë verborge. Wat is daar hier op aarde, wat het ek nou waardeur ek weet dat dit wat tans alles in die hemel gebeur, ook eendag ‘n werklikheid sal word vir my? Goeie vraag! Net soos in vanoggend se preek geld ook hier dat ons die heil nie slegs na die toekoms kan verskuif nie. Ja, eendag… Maar wat van vandag? Wat van môre? Dít is die realiteit waarbinne u en ek lewe! Wat het ek in hierdie realiteit waardeur ek alreeds iets kan proe van dít wat vir my wag? Wel, gemeente, die Kategismus verwys ons na wat Paulus onder andere skryf in 2 Korinthiërs 5:5, naamlik dat God die Gees as onderpand aan ons gegee het. Die woord ‘pand’ of ‘onderpand’ – in Grieks arraboon kom uit die handels- en die regswêreld. Dit verwys na die betaling van ‘n deposito. So ‘n deposito of pand is gegee as die eerste vooruitbetaling van die volle bedrag. Hierdie deposito was terselfdertyd die versekering dat die volle bedrag wel betaal sal word. In die deposito was die volle som dus inbegrepe; in die deposito het jy reeds begin om die volle som in besit te kry. En ons ken hierdie begrip vandag nog steeds wanneer ons iets groots soos ‘n huis of ‘n motor verkoop – dan soek ons altyd eers ‘n deposito, ‘n versekering dat die res kom.  Nou, gemeente, hier kry ons te make met die derde vrug van Christus se hemelvaart, naamlik dat Hy sy Gees as deposito gestuur het. Die Gees is God se versekering aan ons dat die res van die betaling ook sal volg. Nou ontvang ons van die Gees ‘n voorsmakie, maar eendag sal ons die volle pond ontvang wat God vir ons weggebêre het. En die Gees help ons hiermee deur, volgens antwoord 49, ons te laat soek na wat daar bo is waar Christus aan die regterhand van God sit, en nie wat op die aarde is nie. Die Gees rig dus nie die aandag op Homself nie – ons gebruik mos ook nie die deposito asof dit alreeds die volle bedrag is nie. Nee, die deposito is die herinnering aan dit wat kom. Net so rig die Gees ons aandag op die volle bedrag; Hy rig ons aandag na die hemel, na Jesus Christus. Hy is die volle pond, dit is Hy waarna ons verlang en waarop ons hoop. Gemeente, waak daarom daarteen om te lewe met die oë op die grond, met die gerigtheid op die aarde. Waak daarteen om só te lewe asof hierdie lewe al is wat daar is. Laat die deposito van die Gees jou aandag boontoe rig: Ek lewe vir Jesus Christus. My lewe is nie hier nie, my lewe is daarbo. Kom Here Jesus, kom gou! Broers en susters, is ons eensaam nadat Jesus opgevaar het na die hemel? Sou jy Hom eerder hier by jou wou gehad het? Ja, miskien. Maar sien dan die onmisbare arbeid wat Hy as mens in die hemel vir ons verrig. Hy is daar jou Advokaat om jou te laat lewe van God se genade, en Hy is daar jou Borgsom om vir jou ‘n heerlike toekoms saam met God voor te berei. En verder: as God laat Jesus Christus jou in elk geval nooit alleen nie, want sy Gees woon in jou. Dalk moet ons baie meer maak van die realiteit van die Heilige Gees in ons lewens. Dalk moet ons baie meer besef dat die werklikheid van die Gees in my groter is as die werklikheid van my man of vrou langs my. Vir my, as gelowige, is die Heilige Gees werklik by my. Ek sien Hom, ek ervaar Hom, die deposito het ingekom. En daarom weet ek: die groot toekoms is net om die draai. Amen                Liturgie (aand) Groet en afkondigings

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.

Sing Ps. 46:4 en 6

Teks: HK, Sondag 18Sing Skr. 11:3-6GebedPreekLees:    1 Johannes 2:1-2                        Efesiërs 2:4-7                        2 Korinthiërs 5:1-10Amenlied Ps. 68:8 en 9GebedBelydenis van geloof (staande en singende)Kollekte

Slotsang Ps. 47:3 en 4

Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)