Ons word opgeroep tot ‘n gesonde geestelike lewensstyl…

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2008-11-30
Teks: 
1 Timótheüs 4:6-8
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

 

Preek – 1 Timotheus 4:8; lees 1 Timotheus 4, Esegiël 2:8-3:3

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Die meeste van ons is aangesluit by een of ander mediese fonds, en miskien het u agtergekom dat talle mediese fondse vandag hulle eie tydskrifte publiseer. En opmerklik is die hoeveelheid dekking wat daar in hierdie tydskrifte gegee word aan ‘n gesonde lewensstyl. Bladsye en bladsye word gevul met oefenprogramme en diëte; in-diepte onderhoude word gevoer met mense wat hoog op die maatskaplike leer geklim het om by hulle te verneem hoe om ‘n gesonde lewensstyl te handhaaf te midde van ‘n besige lewe; en verder word lede van die verskillende mediese fondse aangemoedig om by gimnasiums aan te sluit en gesond te lewe.

Nou, wat u ook al hiervan mag dink, dit wil tog voorkom asof hierdie gesondheids- en fiksheidsveldtog ‘n sekere uitwerking het – waarskynlik is die meeste van ons meer gesondheidsbewus as tien of twintig jaar gelede. Die meeste vroue kyk mooi na watter soort kos hulle vir hulleself en hulle gesinne voorberei, en spesiale vetvrye produkte – wat die mark stormgeloop het – word vir hierdie doel aangekoop. En verder probeer talle van ons om tog een of ander vorm van oefening in te kry, hetsy deur vroeg op te staan om te gaan stap of draf, hetsy deur êrens ‘n gimnasium te besoek. Ja, kom ons wees maar eerlik, ons figuur en ons fisiese kondisie speel in ons lewens nie ‘n onbelangrike rol nie…

 

Nou wonder ek: hoe belangrik is ons geestelike figuur en ons spirituele kondisie vir ons? Kry dit dieselfde hoeveelheid aandag as die fisiese? Almal van ons besef dat as jy fisies in ‘n goeie toestand wil bly, dit ‘n sekere hoeveelheid werk en selfopoffering verg. Sou dit met betrekking tot ons geestelike welstand enigsins anders wees? Nee, broers en susters, ‘n gesonde geestelike lewensstyl vra werk en selfopoffering! En dit is presies waartoe Paulus vir Timotheus oproep. Uiteraard praat Paulus met Timotheus as jong bedienaar van die Woord – dit blyk onder andere uit die eerste woorde van vers 6: “As jy hierdie dinge aan die broeders voorhou, sal jy ‘n goeie dienaar van Jesus Christus wees…”, en ook vanaf vers 11 is dit duidelik dat Paulus met ‘n jonger kollega praat. En daarom is hierdie gedeelte baie toepaslik op die ampsdraers, en in besonder op die nuwe ampsdraer wat vandag bevestig word. En tog geld dít wat Paulus vir Timotheus sê uiteindelik vir elke christen. Elke christen word opgeroep tot ‘n gesonde geestelike lewensstyl.

Tema: ons word opgeroep tot ‘n gesonde geestelike lewensstyl…1.       Volg die regte dieet;2.      volg die regte oefenprogram, en3.      dan sal die uitslag van die wedloop volg 

1. Paulus se eerste aanwysing vir ‘n gesonde geestelike lewensstyl is ‘n regte dieet. Hy roep Timotheus in vers 6 op om homself te voed. Ja, gemeente, net soos wat ons liggame kos nodig het, het ons geestelike lewens dit ook nodig. In die woorde van die Here Jesus: “Die mens kan nie van brood alleen lewe nie…” Goed, dit spreek dus vanself, maar wat is nou die regte kos? Wat is gesond vir ons geestelike welsyn, vir jou en my geloofslewe? Immers, net soos wat nie alle kossoorte vir ons liggame goed is nie, net so is nie alles goed vir die gees nie.

Wel, in vers 7 maak Paulus in elk geval duidelik wat nie gesond is nie, naamlik onheilige en oudwyfse fabels. Paulus het Timotheus voorheen al hiervoor gewaarsku. In hoofstuk 1:4 het hy geskryf teen dié mense wat hulleself besig hou met fabels en eindelose geslagsregisters, en in vers 6 van daardie selfde hoofstuk kwalifiseer hy hierdie mense se bedrywighede nader as ‘onsinnige praatjies’. Dus, die fabels in hoofstuk 4:7 verwys hoogswaarskynlik na bygelowige praatjies en geklets; praatjies wat nie op die waarheid berus nie, maar eerder op bygeloof en geskinder. Paulus druk homself hier nie baie vriendelik uit nie, maar sy bedoeling is duidelik. Nuttelose en nie-opbouende gesprekstof – en kom ons voeg maar by: leesstof en kykstof – is vir die geestelike lewe van die christen van weinig waarde; dit voed nie! Dit is soos hierdie sagte soort ‘chips’ vol met lug, wat ons vir ons kinders gee om te eet: jy kan baie daarvan eet, en dit gaan jou waarskynlik ‘n sekere gevoel van versadiging gee, maar die voedingswaarde daarvan is minimaal. En hoe meer jy hiervan eet, hoe meer het jy nodig om enigsins nog ‘n gevoel van versadiging te kry. Die geestelike lewe kan dus nie hiermee gevoed word nie. As jy dít jou stapelvoedsel maak, sal jy nie kan bly lewe nie.

 

Broers en susters, laat ons dus baie goed nagaan waarmee ons – bewustelik of onbewustelik – onsself voed. Wat sit ons in ons geestelike maag? Met watter kos pomp ons ons geestelike gestel vol? En ja, dit vra onderskeidingsvermoë om die regte kos te kies – immers, daar is so baie kossoorte wat op die geestelike mark van hierdie wêreld aangebied word. Baie kossoorte, in aantreklike verpakkings, met treffende advertensies daarby. Maar gaan ondersoek bietjie die fynskrif – wat is die bestanddele, wat is die persentasie ongesonde vette, watter skadelike stowwe sit in hierdie voedsel? Ondersoek op soortgelyke wyse die geestelike voedsel waarmee jy jouself voed. Vra jouself af: Watter bybelse inhoud bevat al hierdie geestelike selfhelp-boekies wat deesdae so gewild is, en wat ook onder ons gelees word? Watter voedingswaarde bied allerhande fiksie oor die dood en die lewe na die dood vir ons geestelike lewe? Watter voedingswaarde bevat die gesprekke wat ons as broeders en susters met mekaar voer? Bevredig dit jou geestelike honger om op ‘n Sondag na die kerkdiens onmiddellik die nuutste modes en karre en sportuitslae te bespreek? Help dit jou om jou geestelike honger te vul deur ‘n aand voor die televisie deur te bring? Gemeente, die voorbeelde is legio! En veral in ons informasie-era word ons gebombardeer met onnoemlike hoeveelhede gemorskos. Wees bedag daarop, beskerm jouself daarteen! Kyk wat jy inneem…

 

Teenoor hierdie nuttelose en afbrekende gemorskos, wys Paulus vir Timotheus die regte voedsel: “voed jouself met die woorde van die geloof en van die goeie leer…” Nou, gemeente, “die woorde van die geloof” dui op daardie woorde waarin die geloof tot uitdrukking gebring word, dus die prediking. En dit is eintlik maar dieselfde as wat Paulus vervolgens “die goeie leer” noem. Op verskeie ander plekke in sy briewe aan Timotheus praat Paulus ook van die ‘gesonde’ leer. Ja, die evangelie is voorwaar ‘n goeie leer wat gesond maak en gesond hou, deurdat dit mense bring tot geloof in Jesus Christus. Dít is nou vir jou gesonde, heilsame kos; dít is nou kos met voedingswaarde; hiervan kan jy lewe! Eet daarom hierdie kos!

Dit is presies hierdie opdrag wat die profeet Esegiël ook ontvang het. Esegiël sien in ‘n visioen ‘n hand, en in die hand ‘n boekrol. Vervolgens word die boekrol voor Esegiël uitgesprei. Hy moet dit lees. Dit is aan beide kante beskrywe met klaagliedere en gesug en wee. En vervolgens? Moet Esegiël dit uit sy kop uit leer en aan die volk oordra? Moet hy dit saamvat en uitrol en voor die oë van sy publiek voorlees? Nee! Hy moet dit eet: “Mensekind, laat jou buik eet, en vul jou ingewande met hierdie rol wat Ek jou gee.” Daardie onverteerbare ding van diervelle of van papirus moet deur die arme profeet verslind word.

Gemeente, dit is nie die enigste keer dat ons hiervan in die Skrif lees nie. Ons lees in Jeremia 15:16: “Toe u woorde gevind is, het ek hulle opgeëet…”, en in Openbaring 10:10: “Toe neem ek die boekie uit die hand van die engel, en eet dit op…” Dit wys dus vir ons dat daar met God se woorde iets besonders moet gebeur. Daardie woorde moet nie slegs gelees word nie, dit moet nie slegs gepreek word nie, ons moet dit nie slegs onder die arm saamdra nie, ons moet dit nie maar net aanhoor nie. Hierdie woorde moet geëet en verslind word!

 

Broers en susters, die evangelie – soos wat dit in die prediking, in die persoonlike en gesamentlike bybelstudies, in die huisbesoeke en katkisasies – na ons toe kom, moet ‘n deel van jou lewe word. Soos wat jy kos eet, en daardie kos in jou bloedstroom opgeneem word en deel van jou sisteem word, so moet die woorde van die geloof en die goeie leer ook in jou geestelike sisteem opgeneem word. Hierdie gesondmakende voedsel moet geëet word, sodat jy krag kan kry en kan lewe! Ons kom daarom nie kerk-toe om net agteroor te sit en luister nie; nee, ons kom om te eet. Dit is ook nie genoeg om na die preek maar net jou opinie daaroor uit te spreek nie. Die Here wil hê dat jy die gepredikte Woord in jou opneem, dit kou, en dit insluk.

En … hierdie woord is soet! Dit is opmerklik dat die boekrol met die boodskap daarop ‘n soet smaak in Esegiël se mond laat – immers, die boodskap was nie baie positief nie, dit was klaagliedere en gesug en wee… En tog was dit soet? Wel, dit is soet omdat die Here daardeur lewe bewerk, selfs wanneer dit ‘n boodskap van oordeel en straf is. Ook deur oordeel en straf maak die Here gesond. En daarom kan selfs die bitter boodskap soet smaak.

Gemeente, let op jou geestelike dieet. Moenie jou geestelike lewe skade berokken deur gemorskos nie, maar bly gesond deur voortdurend die Woord te eet. Dit geld in besonder die ampsdraers: laat die Woord jou lewe deursuur. Slegs op dié manier kan jy dit ook op lewendige wyse aan die gemeentelede oordra.

In die tweede plek: volg die regte oefenprogram.

 

2. Saam met die regte dieet moet ‘n goeie oefenprogram gaan, en dit is dan ook die beeld wat Paulus vervolgens hier gebruik. Hy gebruik die Griekse woord gumnasia wat ons terugvind in die Afrikaanse woorde ‘gimnastiek’ en ‘gimnasium’. Die gelowige is dus soos ‘n atleet wat toegewyd moet oefen. Nadat die atleet eers ‘n goeie dieet binnegekry het, kan hy vervolgens gaan oefen. So werk dit ook met die gelowige – nadat hy homself gevul het met die Woord van God, kan hy van daaruit gaan lewe. En dit is presies waartoe Paulus ook vir Timotheus oproep. Eers: “voed jouself met die woorde van die geloof”, en vervolgens: “en oefen jou in die godsaligheid.” Nou moet u onthou, gemeente, dat Paulus hierdie uitspraak doen in ‘n sportmal Griekeland – sy lesers het hierdie beeld dus baie goed verstaan. Maar nadat hy eers die sportmal Grieke se aandag met hierdie beeld gevang het, voeg Paulus by dat die liggaamlike oefening tot weinig nut is, terwyl die godsaligheid nuttig is vir alles. Laat ons, om enige misverstand te voorkom, net vir ‘n oomblik hierby stilstaan.

 

Paulus sê naamlik nie dat die liggaamlike oefening waardeloos of nutteloos is nie. In reaksie op die sportverafgoding van die Griekse wêreld van destyds – en van vandag! – moet ons nie na die ander uiterste beweeg en sê dat liggaamlike oefening en sport eintlik niks beteken nie. Ook op ons gereformeerde skole mag sport nie, met ‘n beroep op hierdie teks, na die laaste plek op die kurrikulum verskuif word nie; ons mag ons kinders nie ontmoedig om aan sport deel te neem nie. Dit sou eintlik ook vreemd gewees het indien ons Paulus se woorde op dié manier sou verstaan – immers, Paulus kan in sy tweede brief aan Timotheus baie rustig en sonder kritiek praat oor die sportman wat volgens die reëls moet deelneem (2 Tim. 2:5). En ook op ander plekke in sy briewe praat hy op ‘n baie positiewe wyse oor sport. Die bybel is dus op geen enkele wyse negatief oor sport nie. Ja, sportverafgoding – daarteen moet ons waarsku! Maar sport en sportverafgoding is twee verskillende dinge, hoe dikwels hulle ook al met mekaar vereenselwig word; teen sportverafgoding moet ons waak, maar ons moet ons kinders aanmoedig om op ‘n goeie, christelike wyse aan sport deel te neem; dit is beslis nuttig.

Paulus bedoel dus nie dat liggaamlike oefening kwalitatief minderwaardig is nie; inteendeel, hy praat daaroor as iets wat waarde het en positief is. Maar, in verhouding tot die godsaligheid of die godsvrug – dus, in verhouding tot die lewe voor die aangesig van die Here – het die liggaamlike oefening ‘n beperkte waarde. Die liggaamlike oefening het slegs waarde op ‘n beperkte terrein en vir ‘n beperkte tyd. Hierdie uitspraak van Paulus staan dus in ‘n vergelyking: “die liggaamlike oefening is tot weinig nut, maar die godsvrug is nuttig vir álles!” Broers en susters, wie dus die belang van liggaamlike oefening insien en wie besef dat dit belangrik is om die fisiese kondisie op peil te hou, daardie persoon moet des te méér die betekenis van die godsvrug besef. ‘n Positiewe instelling ten opsigte van die eerste, spoor jou aan tot ‘n totale oorgawe aan die tweede.

 

En dit is wat nodig is, gemeente, ‘n totale oorgawe aan die godsaligheid of die godsvrug. Nadat jy die Woord ingeneem en geëet het, moet jy daarna ook volgens daardie Woord gaan lewe. As christen moet jy ‘n lewe lei wat pas by jou dieet. En dit vra oefening! Om volgens God se Woord en wil te lewe, kom nie vanself nie. Niemand is gebore christene nie. Gaan kyk maar na Olimpiese atelete – uiteraard besit die meeste van hulle buitengewone natuurlike talent, maar hulle wy hulle hele lewe ook daaraan om hulle spoed, krag en tegniek te verbeter. Om op die hoogste vlak te kompeteer vereis jare se strawwe daaglikse oefening. As sodanige strawwe oefening nodig is vir die liggaam, waarom sou dit vir die siel enigsins anders wees? Ons moet ons geestelike oefening doen, ons moet onsself daarin oefen om vrugte voort te bring. En, broers en susters, ek bedoel dit letterlik: oefen, doen dit weer en weer.

Te gou is ons tevrede met ons lewenswandel voor die Here, te gou gebruik ons die verskoning dat ons nou eenmaal so is; dit is my karakter en ek kan dit nie verander nie. Dink u dit is wat die paralimpiese atleet, Oscar Pistorius, gesê het: “Ek het nou eenmaal beide bene verloor, niks wat ek daaraan kan doen nie.” Nee! Hy het, ten spyte van sy gebrek, gaan oefen. En waarskynlik het hy talle kere met sy kunsbene geval. Maar hy het weer opgestaan, weer gaan oefen en weer en weer. Sodanig dat hy op die laaste Paralimpiese Spele drie goue medaljes gewen het. Eenvoudig oefening en harde werk!

 

Dít, my broeder en susters, is ook ons voorland in die wedloop van die geloof. Ons is ook gebreklik; ons het ‘n verskriklike gebrek: die sonde. Maar wie sê dat hy nou eenmaal so is en niks daaraan kan verander nie, is soos ‘n atleet wat ophou hardloop en moedeloos langs die baan gaan sit. Maar die Here sê: “Kom, hardloop die wedloop, staan op wanneer jy val, hou die wenstreep in die oog. En Ek is met jou! Ek sal jou nie bo jou kragte versoek nie, Ek sal jou niks te swaar gee om te dra nie.” Met die Here se krag is die uitslag van die wedloop seker, maar ons moet hom nog steeds hardloop. En dit vra oefening: as ek vandag hierdie sonde doen, dan staan ek deur die Here se krag op en oefen myself om dit môre beter te doen. En as ek dit môre nie regkry nie, dan oormôre. Oefen, broers en susters. Oefen jouself in ‘n vroom lewe, oefen jouself om die regte ding te doen, oefen jouself in jou woorde, in jou dade en in jou gedagtes. En word op dié manier fiks in die geloof.

Ten slotte: wanneer jy die regte dieet en oefenprogram volg, dan sal die uitslag van die wedloop ook volg.

 

3. Gemeente, die waarde van liggaamlike oefening is beperk tot ‘n baie klein terrein van hierdie lewe. Daarteenoor, sê Paulus in vers 8, is die oefening in die godsvrug nuttig vir álles, omdat dit die belofte van die teenwoordige en toekomende lewe het. Let wel, beide – die toekoms, maar ook die hede! So dikwels wanneer ons hoor van beloftes, dan verplaas ons die vervulling daarvan êrens na die toekoms. Immers, dit is hoe beloftes onder ons werk: ek belowe om iets te doen, en êrens in die toekoms sal ek dit doen. Eendag sal God se belofte vir ons lewe dus verwerklik word, eendag sal ons die vrug van die godsvrug ervaar. En dan word daardie ‘eendag’ sommer maklik ‘n eendag in die ewigheid.

Maar nee, sê Paulus, die belofte is bedoel vir héde en toekoms – ook jou lewe van vandag val onder die krag van God se beloftes. Ons word nie na die toekoms toe gejaag, asof ons nie nou reeds die beloftes ontvang het nie. Want wat is dan die sin van ons lewe hier? As ons die krag van die godsvrug eers eendag sal beleef, dan beteken dit dat ons vandag hulpeloos en magteloos in hierdie wêreld staan… Maar daarteenoor sê Paulus: wie vandag in gemeenskap met God lewe en stry – dus, wie vandag godvrugtig lewe – daardie persoon se lewe is rééds anders. Die gelowige gemeente se lewe in ‘n gesekulariseerde wêreld is rééds anders! O ja, natuurlik hardloop ons steeds soos atlete om die eindstreep te bereik en die prys te ontvang, maar ons weet ook dat Christus reeds die dood oorwin het en ‘n onverganklike lewe vir ons bewerk het. Die godsvrug en die beoefening daarvan hou ons in die gemeenskap met Christus en met die Vader. In hierdie gemeenskap is daar lewe, vir nou en vir nou-nou. Die Heidelbergse Kategismus sê dit so pragtig in Sondag 22: “aangesien ek nou reeds die begin van die ewige vreugde in my hart ervaar, sal ek ná hierdie lewe volkome saligheid besit.

 

Gemeente, laat 1 Timotheus 4:8 daarom in ons hart geskrywe staan wanneer ons môre weer in hierdie gesekulariseerde wêreld moet gaan lewe. Daar is naamlik die gevaar dat ons as christene sal begin lewe asof ons in ‘n wêreld-sonder-God bestaan, en dat alle vreugde waarvan Sondag 22 praat ons gevolglik ontneem word, en dat ons onsself ook só begin gedra. So maklik word die ewige lewe ‘n heilsbesit vir êrens in die toekoms. En dan is die gevaar baie groot dat ons begin swig voor die gees van die sekularisasie. Teenoor hierdie lewe sónder God het ons dan geen boodskap meer nie, behalwe om goddelose mense te verwys na die verre toekoms: dit kom… En vir die hede… ja, vir die hede staan ons letterlik met ‘n mond vol tande. Vir die hede het ons dan niks om te bely nie, omdat daar vir die hede immers geen belofte is nie. Maar Paulus sê dat die godsvrug nuttig is vir alles! Dit is nuttig vir die lewe by die huis, in die kerk, en in die besigheidswêreld; dit is nuttig vir tye van moeite en tye van voorspoed; dit help die gelowige om met vyande sowel as vriende om te gaan. Die godsvrug lei die gelowige in elke situasie.

Broers en susters, die belofte van die godsvrug – van die lewe met God – is vir die hede! Vandag is daar alreeds die lewe saam met Christus. Dit is nie maar net: eendag sal alles regkom nie… Nee, alles saam met Christus is goed, en daarom is die einde die beste!

 

En na daardie einde is ons oppad. In die wedstryd van die geloof gaan dit ten slotte oor die heerlike prys van die ewige lewe. Soos wat Paulus in hoofstuk 6:12 vir Timotheus sê: “Stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe, waartoe jy ook geroep is…” Hier sien ons hoe die atleet, wat goed gevoed en goed geoefen is, homself uitstrek na die prys. Ons sien voor ons geestesoog die inset van die atleet om die eindstreep te bereik. Ja, daar word in die aardse stryd ‘n totale oorgawe van ons gevra: die einddoel lê daar voor ons.

Maar onthou, gemeente, hierdie totale inset beteken nie vrees en krampagtigheid vanweë onsekerheid of ek dit sal maak nie. Dit is immers altyd die wedloop van die gelóóf. En die geloof ken sy eie rus. Die geloof het sekerheid tydens die wedloop. Dit is nie ‘n arrogante sekerheid wat sê: “Ag, ons sal dit maak” nie. Nee, ons het sekerheid omdat die geloof gerig is op die belofte wat seker is, omdat God en Christus getrou is. “Gryp na die ewige lewe” is daarom ‘n aanmoediging, want ons is geroep tot die ewige lewe!

Amen

          

Liturgie (oggend)

 

Groet en afkondigings

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 145:1-3, 6 en 7 (laat ons dit sing soos wat vers 7 dit sê)

Wetslesing en genadverkondiging (Ps 130)

Sing Ps. 32:1, 3 en 4

Gebed

Lees:    1 Timotheus 4:6-16

            Esegiël 2:8-3:3

Sing Skr. 43:2 en 4

Teks: 1 Timotheus 4:6-8

Preek

Amenlied Ps. 73:10-12

Bevestigingsformulier

Sing Ps. 134:3 en 4

Voltooi formulier

Formulier- en dankgebed

Kollekte

Slotsang Ps. 43:3-5

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)